Die Koning van die Eeue

9/88

Hoofstuk 8—Bywoning van die Pasga

Onder die Jode is die ouderdom van twaalf as die skeidslyn tussen die kinder-en jeugjare beskou. Wanneer hierdie jaar bereik is, was ‘n Hebreeuse seun, ‘n seun van die wet genoem, asook ‘n seun van God. Hy het spesiale geleenthede vir godsdiensonderrig gehad en daar is van hom verwag om aan die heilige feeste en vieringe deel te neem. In ooreenstemming met hierdie gebruik het Jesus as jongeling, Jerusalem tydens die Paasfees besoek. Soos alle godsdienstige Israeliete, het Josef en Maria elke jaar opgegaan om die Paasfees by te woon; en toe Jesus die vereiste ouderdom bereik het, het hulle Hom saamgeneem. DKvDE 55.1

Daar was drie jaarlikse feeste: Die Paasfees, die Pinksterfees en die Huttefees, wanneer al die manne van Israel beveel is om in Jerusalem voor die aangesig van die Here te verskyn. Van hierdie feeste, het die Paasfees die grootste bywoning geniet.Baie het uit alle lande waar die Jode verstrooi was, gekom. Vanuit elke deel van Palestina het die aanbidders in groot getalle aangekom. Die reis van Galiléa het etlike dae geduur en die reisigers het in groot geselskappe bymekaargekom vir geselskap en beskerming. Die vroue en bejaardes het op osse of esels oor die steil en rotsagtige paaie gereis. Die sterker mans en jeug het te voet gereis. Die Paasfees het met die einde van Maart of die begin van April ooreengestem, wanneer die land helder met blomme en vrolik met voëlsang was. Oral langs die pad was daar onvergeetlike plekke van geskiedkundige belang vir Israel en vaders en moeders het aan hul kinders van die wonders wat God in die verlede vir Sy volk gedoen het vertel. Hulle het die reis met sang en musiek verwyl en wanneer die torings van Jerusalem eindelik sigbaar geword het, het almal die triomfantlike lied aangehef: DKvDE 55.2

“Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem!... Mag daar vrede wees in jou skanse, rus in jou paleise!” (Psalm 122:2-7). DKvDE 56.1

Die viering van die Paasfees het met die geboorte van die Hebreeuse nasie ontstaan. Op die laaste nag van hul slawerny in Egipte, toe daar geen teken van hul verlossing blyk te gewees het nie, het God hulle beveel om hulle vir onmiddellike vrylating voor te berei. Hy het Farao gewaarsku oor die finale oordeel oor die Egiptenare en het die Hebreërs beveel om hul gesinne in hul eie wonings te versamel. En nadat hulle die deurposte besprinkel het, moes hulle die lam, gebraai en met ongesuurde brode en bitter kruie eet. “En so moet julle dit eet...” het Hy gesê: “Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. ‘n Pasga van die Here is dit.” (Exodus 12:11). Om middernag is al die eersgeborenes van die Egiptenaars gedood. Toe stuur die koning ‘n boodskap aan Israel: “Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit ... en gaan dien die Here soos julle gespreek het.” (Exodus 12:31) Die Hebreërs het Egipte as ‘n onafhanklike nasie verlaat. Die Here het beveel dat die Pasga jaarliks gevier moes word. “En as julle kinders julle vra...” het Hy gesê, “...wat beteken die diens daar?-dan moet julle sê: Dit is ‘n paasoffer aan die Here, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het.” (Exodus 12:26, 27) Die verhaal van hierdie wonderbaarlike bevryding moes dus van geslag tot geslag herhaal word. DKvDE 56.2

Die Paasfees is deur ‘n sewedaagse fees van ongesuurde brood opgevolg. Op die tweede dag van die fees is die eerste vrugte van die jaar se oes, ‘n gerf gars, voor die Here opgehef. Al die seremonies van die fees was tipes van die werk van Christus.Die bevryding van Israel uit Egipte was ‘n voorwerples van verlossing en die doel van die Pasga was dat dit in herinnering gehou sou word. Die geslagte lam, die ongesuurde brood en die eersteling-gerf het die Verlosser voorgestel. DKvDE 56.3

By die meeste mense in die tyd van Christus het die viering van hierdie fees in formalisme ontaard. Maar hoe betekenisvol was dit nie vir die Seun van God nie! DKvDE 57.1

Vir die eerste keer het die Kind Jesus die tempel aanskou. Hy het die priesters in hul wit gewaad, besig met hul plegtige bediening, gesien. Hy het die bloeiende slagoffer op die brandofferaltaar gesien. Saam met die ander aanbidders het Hy in gebed neergebuig, terwyl die wolk van wierook voor God opgestyg het. Hy was getuie van die indrukwekkende rituele van die Paasdiens. Dag na dag het Hy die betekenis daarvan meer duidelik vir Hom geword. Elke daad het geblyk met Sy eie lewe verband te hou. Nuwe impulse het by Hom opgekom. In stilte en geabsorbeer, het dit gelyk asof hy ‘n groot probleem bestudeer.Die verborgenheid van Sy sending was besig om voor Hom oop te vou. DKvDE 57.2

Verdiep in die oorpeinsing van hierdie tonele, het Hy nie by Sy ouers gebly nie. Hy het die eensaamheid opgesoek. Na afloop van die Paasdienste het Hy langer in die tempelhowe vertoef en toe die aanbidders uit Jerusalem vertrek, is Hy agtergelaat. DKvDE 57.3

Met hierdie besoek aan Jerusalem wou die ouers van Jesus Hom in aanraking met die groot leraars van Israel bring. Hoewel Hy in alle opsigte gehoorsaam aan die Woord van God was, het Hy Hom nie met die rabbynse rituele en gebruike vereenselwig nie. Josef en Maria het gehoop dat Hy tot groter eerbied vir die geleerde rabbi’s gelei kon word en meer noukeurig ag sou slaan op hul voorskrifte. Maar Jesus is in die tempel deur God geleer.Dit wat Hy ontvang het, het Hy dadelik begin oordra. DKvDE 57.4

Destyds is ‘n sekere vertrek wat aan die tempel gekoppel was, aan ‘n heilige skool gewy, volgens die manier van die profete-skole. Hier het leidende rabbi’s met hul leerlinge vergader en Jesus die kind, het ook hierheen gekom. Hy het aan die voete van hierdie sombere, geleerde manne gaan sit en na hulle lering geluister. As iemand wat na wysheid soek, het Hy hierdie leraars ondervra aangaande die profesieë en die huidige gebeure wat op die koms van die Messias gewys het. DKvDE 57.5

Jesus het opgetree soos Een wat dors na ‘n kennis van God.Sy vrae het diep waarhede aangeraak wat vir lank verdoesel was, maar noodsaaklik vir die redding van siele was. Terwyl dit getoon het hoe eng en oppervlakkig die wysheid van die wyses was, het elke vraag ‘n Goddelike les aan hulle voorgehou en die waarheid in ‘n nuwe lig gestel. Die rabbi’s het uitgewei oor die wonderbaarlike hoogtes waartoe die koms van die Messias die Joodse volk sou ophef; maar Jesus het na die profesie van Jesaja verwys en hulle uitgevra oor die betekenis van die tekste wat op die lyding en dood van die Lam van God gewys het. DKvDE 58.1

Die skrifgeleerdes het hulle met vrae na Hom gewend en hulle was verbaas oor Sy antwoord. Met die nederigheid van ‘n kind het Hy die woorde van die Skrif herhaal en ‘n diepte van betekenis daaraan verleen wat hierdie geleerde manne nooit aan gedink het nie. Indien dit gevolg sou word, sou die reëls van waarheid wat Hy uitgewys het, ‘n hervorming in die godsdiens van die dag bewerkstellig het. ‘n Diepe belangstelling in geestelike dinge sou opgewek gewees het en baie sou, toe Jesus met Sy bediening begin het, bereid gewees het om Hom te aan te neem. DKvDE 58.2

Die rabbi’s het geweet dat Jesus nie in hul skole onderrig ontvang het nie; tog het Sy begrip van die profesieë hulle s'n ver oortref. In hierdie peinsende Galilese seun het hulle groot belofte bemerk. Hulle wou Hom graag as student werf, sodat Hy ‘n onderwyser in Israel kon word. Hulle wou toesig oor Sy opvoeding verkry, omdat hulle gevoel het dat so ‘n verstand, so oorspronklik, deur hulle gevorm moet word. DKvDE 58.3

Die woorde van Jesus het hul harte aangeroer soos dit nooit tevore deur menslike woorde aangeroer was nie. God het getrag om lig aan die leiers van Israel te gee en Hy het die enigste wyse waarop hulle bereik kon word gebruik. In hul trots sou hulle met minagting ontken het dat hulle van enigiemand onderrig kon ontvang. As hulle die indruk gekry het dat Jesus hulle probeer leer het, sou hulle verseg het om te luister. Maar hulle het hulself gevlei dat hulle Hom onderrig het, of ten minste Sy kennis van die Skrifte getoets het. Die jeugdige beskeidenheid en beleefdheid van Jesus het hulle van hul vooroordele ontneem. Onbewustelik is hul verstand vir die Woord van God geopen en het die Heilige Gees tot hulle harte gespreek. DKvDE 58.4

Hulle kon nie anders as om raak te sien dat hulle verwagtinge met betrekking tot die Messias nie deur die profesieë ondersteun is nie; maar hulle wou nie van die teorieë wat hul ambisie gevlei het, afsien nie. Hulle sou nie erken dat hulle die Skrif wat hulle beweer het onderrig in te gee, verkeerd verstaan het nie. Van die een na die ander het die vraag ontstaan: Waar kom hierdie seun aan dié kennis, aangesien Hy nooit geleer het nie? Die lig het in die duisternis geskyn en “...die duisternis het dit nie oorweldig nie.” (Johannes 1:5). DKvDE 59.1

Intussen het Josef en Maria in groot verwarring en benoudheid verkeer. Met hul vertrek uit Jerusalem het hulle Jesus uit die oog verloor en nie geweet dat Hy agtergebly het nie. Die land was destyds dig bevolk en die karavane vanuit Galiléa was baie groot. Daar was groot verwarring toe hulle die stad verlaat het. Onderweg het die genot om saam met vriende en kennisse te reis hulle aandag afgetrek en hulle het nie Sy afwesigheid opgemerk voordat dit begin donker word het nie. Maar toe hulle stilhou om te rus, het hulle die handige hand van hul Kind gemis. Onder die indruk dat Hy wel êrens in die reisgeselskap was, was hulle nie angstig nie. So jonk soos Hy was, het hulle Hom implisiet vertrou en verwag dat Hy, wanneer dit nodig was, gereed sou wees om hulle te help en bewus van hulle behoeftes sou wees, soos Hy nog altyd was. Maar nou het hulle onrustig geraak. Hulle het die reisgeselskap deurgesoek, maar tevergeefs. Sidderend het hulle onthou hoe Herodes in Sy kleuterjare probeer het om Hom te vernietig. Donker voorbodes het hul harte gevul en hulle het hulself bitterlik verwyt. DKvDE 59.2

Hulle het na Jerusalem teruggekeer en die soektog voortgesit. Die volgende dag, terwyl hulle tussen die aanbidders in die tempel beweeg het, het ‘n bekende stem hulle aandag getrek. Hulle kon hulle nie daarmee vergis nie; geen ander stem was soos Syne, so ernstig, maar tog so melodieus nie. DKvDE 60.1

Hulle het Jesus in die skool van die rabbi’s gevind. So bly soos hulle was, kon hulle hul angs en hartseer nie vergeet nie. Toe Hy weer by hulle was, het sy moeder in woorde wat ‘n teregwysing impliseer, gesê: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek.” DKvDE 60.2

“Waarom het u My gesoek?” het Jesus geantwoord. “Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?” En omdat dit wou voorkom asof hulle Sy woorde nie verstaan het nie, het Hy opwaarts gewys. Op sy gelaat was ‘n lig waaroor hulle hul verwonder het. Goddelikheid het deur die mensheid geflits.Toe hulle Hom in die tempel gevind het, het hulle die gesprek tussen Hom en die rabbi’s gehoor en hulle was verbaas oor sy vrae en antwoorde. Sy woorde het ‘n gedagtegang ontketen wat nooit vergeet sou word nie. DKvDE 60.3

En Sy vraag aan hulle het ‘n les bevat: “Het u nie geweet...” het Hy gesê, “...dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?” Jesus was besig met die werk waarvoor Hy na hierdie wêreld gekom het; maar Josef en Maria het hul taak verwaarloos. God het ‘n groot eer aan hulle bewys deur Sy Seun aan hulle toe te vertrou. Heilige engele het Josef se voetstappe gerig om die lewe van Jesus te bewaar. Maar vir ‘n hele dag het hulle Hom, van Wie hulle vir geen oomblik moes vergeet nie, uit die oog verloor. En toe hulle besorgdheid afgeneem het, het hulle nie hulself veroordeel nie, maar die skuld op Hom gewerp. DKvDE 60.4

Dit was natuurlik vir die ouers van Jesus om Hom as hul eie kind te beskou. Hy was daagliks by hulle, Sy lewe was in baie opsigte soos dié van ander kinders en dit was vir hulle moeilik om te aanvaar dat Hy die Seun van God was. Hulle het gevaar geloop om die seën wat hulle in die teenwoordigheid van die Verlosser van die wêreld ontvang het, nie te waardeer nie. Die hartseer van hulle skeiding van Hom en die sagte teregwysing wat Sy woorde oorgedra het, is bereken om die heiligheid van hul pand by hulle in te skerp. DKvDE 60.5

In Sy antwoord aan Sy moeder het Jesus vir die eerste keer getoon dat Hy Sy verhouding met God verstaan. Voor Sy geboorte het die engel aan Maria gesê: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid.” (Lukas 1:32,33). Maria het hierdie woorde in haar hart oorpeins; maar hoewel sy geglo het dat haar Kind die Messias van Israel sou wees, het sy nie Sy sending begryp nie. Nou het sy nie Sy woorde verstaan nie, maar sy het geweet dat Hy Sy verwantskap met Josef ontken en Sy verwantskap as die Seun van God verklaar het. DKvDE 61.1

Jesus het nie Sy verhouding met Sy aardse ouers verontagsaam nie. Hy het saam met hulle van Jerusalem teruggekeer huis toe en hulle in hul daaglikse pligte bygestaan. Hy het die verborgenheid van Sy sending in Sy eie hart weggebêre en gedwee gewag op die vasgestelde tyd dat Hy met Sy werk sou begin. Vir agttien jaar nadat Hy besef het dat Hy die Seun van God is, het Hy die bande wat Hom aan Sy ouerhuis in Nasaret verbind het erken en het Hy sy pligte as seun, broer, vriend en burger nagekom. DKvDE 61.2

Toe Sy sending in die tempel vir Jesus oopgegaan het, het Hy teruggedeins van kontak met die menigtes. Hy wou in stilte uit Jerusalem saam met diegene wat die geheim van Sy lewe geken het, terugkeer. Deur die Paasdiens wou God Sy volk van hul wêreldse sorge wegroep en hulle aan Sy wonderbaarlike werk vir hul bevryding uit Egipte herinner. Deur hierdie daad was Sy bedoeling dat hulle die belofte van die verlossing van sonde moes sien. Soos die bloed van die geslagte lam die huise van Israel beskut het, so moes die bloed van Christus hulle siele red; maar hulle kon alleen deur Christus gered word, indien hulle in geloof, Sy lewe hul eie sou maak. Daar was slegs deug in die simboliese diens as dit die aanbidders na Christus as hul persoonlike Verlosser, gelei het. God het verlang dat hulle tot ‘n biddende ondersoek en oordenking met betrekking tot die sending van Christus gelei moes word. Maar toe die menigtes Jerusalem verlaat het, het die opgewondenheid van die reis en sosiale omgang te dikwels hul aandag in beslag geneem en die diens wat hulle bygewoon het, vergete. Die Heiland was nie aangetrokke tot hulle geselskap nie. DKvDE 61.3

Waar Jesus nou alleen met Josef en Maria uit Jerusalem teruggekeer het, het Hy gehoop om hulle aandag op die profesieë van die lydende Verlosser te vestig. Op Golgota sou Hy probeer om Sy moeder se leed te versag. Hy het nou aan haar gedink. Maria sou Sy laaste foltering aanskou en Jesus wou hê dat sy Sy sending moes verstaan sodat sy versterk kon word om te volhard wanneer die swaard deur haar siel sou gaan. Net soos Jesus van haar geskei was en sy met hartseer drie dae lank na Hom gesoek het, so sou Hy weer vir drie dae, vir die sondes van die wêreld vir haar verlore wees. En wanneer Hy uit die graf sou opstaan, sou haar droefheid weer in vreugde verander. Maar hoeveel beter sou sy die angs van Sy dood kon verduur het as sy die Skrifte, waarop Hy nou probeer het om haar aandag te vestig, verstaan het! DKvDE 62.1

As Josef en Maria hul gedagtes deur middel van bepeinsing en gebed by God bepaal het, sou hulle die heiligheid van hul vertroue besef het en sou hulle Jesus nie uit die oog verloor het nie. Deur een dag se nalatigheid het hulle die Verlosser verloor; maar dit het hulle drie dae gekos om Hom te vind. So gaan dit ook met ons; deur ydel praatjies, kwaadpratery of verwaarlosing van gebed, kan ons op een dag die Verlosser se teenwoordigheid verloor en dit kan baie dae se droewige soeke neem om Hom weer te vind en die vrede wat ons verloor het te herwin. DKvDE 62.2

In ons omgang met mekaar, moet ons daarteen waak dat ons Jesus nie vergeet nie en sonder om te besef dat Hy nie by ons is nie, voortgaan. As ons so in wêreldse dinge verdiep raak dat ons nie aan Hom, waarin ons hoop op die ewige lewe gesentreer is dink nie, skei ons onsself van Jesus en die hemelse engele af. Hierdie heilige wesens kan nie bly waar die Verlosser se teenwoordigheid nie verlang word en Sy afwesigheid nie opgemerk word nie. Dit is die rede waarom moedeloosheid so dikwels onder die belydende volgelinge van Christus bestaan. DKvDE 62.3

Baie woon godsdienstige dienste by en word deur die Woord van God verkwik en vertroos; maar deur die verwaarlosing van oordenking, waaksaamheid en gebed, verloor hulle die seën en bevind hulself meer behoeftig as voordat hulle dit ontvang het. Dikwels voel hulle dat God hardvogtig teenoor hulle opgetree het. Hulle besef nie dat dit hul eie skuld is nie. Deur hulself van Jesus te skei, het hulle die lig van Sy teenwoordigheid uitgesluit. DKvDE 63.1

Dit sal goed vir ons wees om elke dag ‘n uur aan die bepeinsing van die lewe van Christus te bestee. Ons moet dit punt vir punt verwerk en die verbeelding toelaat om elke toneel te begryp, veral die slottoneel. As ons op hierdie wyse stilstaan by Sy groot offer vir ons, sal ons vertroue in Hom meer standvastig wees, ons liefde opvlam en ons sal dieper met Sy gees deurdring word. As ons uiteindelik gered wil word, moet ons die les van boetvaardigheid en ootmoed aan die voet van die kruis leer. DKvDE 63.2

In ons omgang met mekaar kan ons mekaar tot seën wees. As ons aan Christus behoort, sal ons soetste gedagtes oor Hom gaan. Ons sal graag van Hom praat; en as ons met mekaar oor Sy liefde praat, sal Goddelike invloede ons harte week maak. Deur die skoonheid van Sy karakter te aanskou, sal ons “...van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid.” (2 Korinthiërs 3:18). DKvDE 63.3