Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 65 *—Die Tempel Weer Gereinig
Aan die begin van Sy bediening, het Christus diegene wat die tempel met hul onheilige verkeer besoedel het, verdryf en Sy streng en Goddelike houding het vrees by die geslepe handelaars ingeboesem. Aan die einde van Sy sending het Hy weer na die tempel gekom en dit steeds so ontheilig soos voorheen gevind. Die toestand was selfs erger as die vorige keer. Die buitenste voorhof was soos ‘n groot vendusiekraal. Tussen die lawaai van vee en die geklingel van muntstukke, is die geraas van die heftige gekibbel van handelaars gehoor en tussen hulle was die stemme van heilige ampsdraers. Die waardigheidsbekleërs van die tempel was self besig om handel te dryf en geld te verwissel. Hulle was so volkome deur hul geldgierigheid beheer, dat hulle voor God niks beter as diewe was nie. DKvDE 638.1
Die priesters en owerstes het min besef van die plegtigheid van die werk wat hulle moes verrig, gehad. Met elke Pasga en Loofhuttefees is duisende diere geslag en hul bloed deur die priesters opgevang en oor die altaar uitgegiet. Die Jode het gewoond aan die offer van bloed geraak en het feitlik uit die oog verloor dat dit as gevolg van sonde was wat al hierdie bloedvergieting genoodsaak was. Hulle het nie besef dat dit ‘n voorstelling van die bloed van God se geliefde Seun, wat vir die lewe van die wêreld gestort sou word was nie en dat hierdie offerandes hul gedagtes op ‘n gekruisigde Verlosser moes vestig nie. DKvDE 638.2
Jesus het na die onskuldige slagoffers gekyk en gesien hoe die Jode hierdie groot byeenkomste in tonele van bloedvergieting en wreedheid omskep het. In die plek van nederige berou oor sonde, het hulle die offer van diere vermenigvuldig, asof God deur so ‘n hartelose diens vereer kon word. Die priesters en owerstes het hul harte deur selfsug en gierigheid verhard. Selfs die simbole wat op die Lam van God wys, het hulle vir eie gewin gebruik. So is, in die oë van die volk, die gewydheid van die offerdiens gevolglik tot ‘n groot mate vernietig. Die verontwaardiging van Jesus is ontketen; Hy het geweet dat Sy bloed, wat binnekort vir die sondes van die wêreld gestort sou word, net so min soos die bloed van die diere wat voortdurend deur hulle vergiet is, deur die priesters en ouderlinge gewaardeer sou word. DKvDE 638.3
Teen hierdie praktyke het Christus deur die profete gespreek. Samuel het gesê: “Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees, is beter as slagoffer; om te luister beter as die vet van ramme.” (1 Samuel 15:22). En Jesaja, wat in ‘n profetiese visioen die afvalligheid van die Jode gesien het, het hulle as heersers van Sodom en Gomorra aangespreek: “Hoor die woord van die HERE, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra! Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die HERE. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie. As julle kom om voor My aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis-om my voorhowe te vertrap?” (Jesaja 1:10-12). “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.” (Jesaja 1:16,17). DKvDE 639.1
Hy, wat self hierdie profesieë gegee het, het die waarskuwing nou vir die laaste keer herhaal. Ter vervulling van die profesie het die volk Jesus tot koning van Israel uitgeroep. Hy het hul hulde ontvang en die koningskap aanvaar. Hy moes as sodanig optree. Hy het geweet dat Sy pogings om ‘n korrupte priesterdom te hervorm tevergeefs sou wees; nietemin moes Sy werk gedoen word; die getuienis van Sy Goddelike sending moes aan ‘n ongelowige volk gelewer word. DKvDE 639.2
Weereens het die deurdringende blik van Jesus oor die ontheiligde voorhof van die tempel gegaan. Alle oë was op Hom gerig. Priester en owerste, Fariseër en heiden, het met verbasing en ontsag na Hom, wat voor hulle met die majesteit van die Koning van die hemel gestaan het, gekyk. Goddelikheid het deur die mensheid geflits en aan Christus ‘n waardigheid en heerlikheid verleen wat Hy nog nooit tevore geopenbaar het nie. Diegene wat die naaste aan Hom was, het so ver padgegee as wat die skare wou toelaat. Met uitsondering van enkele van Sy dissipels, het die Verlosser alleen gestaan. Elke geluid het stil geraak. Die diep stilte het geblyk ondraaglik te word. Christus het met ‘n krag, wat die skare soos ‘n stormwind getref het, gespreek: “Daar is geskrywe: My huis moet ‘n huis van gebed genoem word. Maar julle het dit ‘n rowerspelonk gemaak.” Sy stem het soos ‘n trompet deur die tempel weerklink. Die misnoeë op Sy aangesig was soos ‘n verterende vuur. Met gesag het Hy beveel: “Neem daardie dinge hier weg.” (Johannes 2:16). DKvDE 640.1
Drie jaar vantevore was die owerstes van die tempel beskaamd oor hul vlug voor die bevel van Jesus. Hulle het sedertdien oor hul eie vrese en hul onbetwisbare gehoorsaamheid aan ‘n enkele nederige man gewonder. Hulle was oortuig dat dit onmoontlik sou wees om hul onwaardige oorgawe te herhaal. Maar nou was hulle meer bevrees as voorheen en het hulle hul gehaas om Sy opdrag te gehoorsaam. Daar was niemand wat dit gewaag het om Sy gesag te bevraagteken nie. Priesters en handelaars het voor Sy aangesig weggevlug en hul diere voor hulle uitgedryf. DKvDE 640.2
Op pad van die tempel af het hulle ‘n skare, wat met hul siekes na die Groot Geneesheer kom vra het, teëgekom. Die verslag wat hulle van die vlugtende mense ontvang het, het veroorsaak dat sommige van hulle teruggedraai het. Hulle was bang om so ‘n magtige Mens, wat die priesters en owerstes met ‘n blote blik voor Sy aangesig verdryf het, te ontmoet. Maar ‘n groot aantal het deur die vlugtende skare gedring, gretig om Hom, wat hul enigste hoop was, te bereik. Toe die skare van die tempel af gevlug het, het baie agtergebly. Die nuwe aankomelinge het nou by hulle aangesluit. Die tempelvoorhof was weer met siekes en sterwendes gevul en Jesus het hulle weereens bedien. DKvDE 640.3
Na ‘n tyd het die priesters en owerstes dit gewaag om na die tempel terug te keer. Nadat hul paniek afgeneem het, was hulle angstig om te weet wat Jesus se volgende beweging gaan wees. Hulle het verwag dat Hy die troon van Dawid sou bestyg. Nadat hulle stilweg na die tempel teruggekeer het, het hulle die stemme van mans, vroue en kinders wat God loof, gehoor. Toe hulle binnekom, het hulle vasgevang voor die aangrypende toneel gaan staan. Hulle het gesien hoe siekes gesond word, blindes sien, dowes hoor en kreupeles van vreugde huppel. Veral die kinders het vreugdevol gejuig. Jesus het hul siektes genees; Hy het hulle in Sy arms geneem, hul soene van dankbare liefde ontvang en sommige het teen Sy bors aan die slaap geraak terwyl Hy die volk onderrig het. Nou het die kinders Hom met blye stemme geloof. Hulle het die hosannas van die vorige dag herhaal en palmtakke triomfantelik voor die Heiland gewaai. Die tempel het van hul herhaaldelike lof weerklink: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die HERE!” (Psalm 118:26). “Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy!” (Sagaria 9:9). DKvDE 641.1
Die geluid van hierdie vrolike, ongebreidelde stemme, was ‘n aanstoot vir die owerstes van die tempel. Hulle het gepoog om ‘n einde aan hierdie demonstrasies te maak. Hulle het aan die volk voorgestel dat die huis van God deur die voete van kinders en die gejubel ontheilig is. Toe hulle sien dat hul besware geen indruk op die skare maak nie, het hulle ‘n beroep op Christus gedoen: “Hoor U wat hulle daar sê? En Jesus antwoord hulle: Ja, het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?” Die profesie het voorspel dat Christus as koning uitgeroep sou word en dat die woord vervul moes word. Die priesters en owerstes van Israel het geweier om Sy heerlikheid te verkondig en God het die kinders beweeg om Sy getuies te wees. As die stemme van die kinders stil was, sou die pilare van die tempel die Heiland se lof verkondig het. DKvDE 641.2
Die Fariseërs was onthuts en oorbluf. Een wat hulle nie kon intimideer nie, was in bevel. Jesus het Sy posisie as Bewaker van die tempel ingeneem. Nog nooit tevore het Hy sulke koninklike gesag aan die dag gelê nie. Sy werke en woorde het nog nooit soveel krag gehad nie. Hy het wonderbaarlike werke in Jerusalem verrig, maar nooit tevore op so ‘n plegtige en indrukwekkende wyse nie. In die teenwoordigheid van die mense wat Sy wonderwerke aanskou het, kon die priesters en owerstes dit nie waag om openlike vyandigheid teenoor Hom te betoon nie. Al was hulle woedend en oorbluf oor Sy antwoord, kon hulle op daardie dag niks verder uitrig nie. DKvDE 642.1
Die volgende oggend het die Sanhedrin weer beraadslaag oor watter weg hulle teen Jesus moes volg. Drie jaar tevore het hulle ‘n teken van Sy Messiasskap geëis. Sedertdien het Hy magtige werke in die hele land verrig. Hy het siekes genees, duisende mense wonderbaarlik gevoed, op die golwe geloop en kalmte oor die onrustige see uitgespreek. Hy het die harte van mense herhaaldelik soos ‘n oop boek gelees; Hy het demone uitgedryf en dooies opgewek. Die owerstes het die getuienisse van Sy Messiasskap voor hulle gehad. Hulle het besluit om geen teken van Sy gesag te eis nie, maar om een of ander erkenning of verklaring uit te lok waardeur Hy veroordeel kon word. DKvDE 642.2
Hulle het na die tempel, waar Hy besig was om te onderrig gegaan en Hom gevra: “Vertel ons deur watter gesag U hierdie dinge doen, of wie dit is wat U hierdie gesag gegee het?” Hulle het verwag dat Hy sou beweer dat Sy gesag van God kom. So ‘n bewering sou hulle ontken. Maar Jesus het hulle met ‘n teenvraag geantwoord wat klaarblyklik met ‘n ander onderwerp verband hou en Hy het ‘n voorwaarde vir Sy antwoord aan hulle gestel, dat hulle hierdie vraag sou beantwoord. “Die doop van Johannes...” het Hy gevra, “...was dit uit die hemel of uit mense?” DKvDE 642.3
Die priesters het besef dat hulle in ‘n dilemma verkeer waaruit geen drogredenasies hulle kon help nie. Indien hulle sou sê dat Johannes se doop uit die hemel was, sou hul teenstrydigheid opsigtelik wees. Christus sou sê: Waarom het julle dan nie in hom geglo nie? Johannes het van Christus getuig: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Johannes 1:29). As die priesters Johannes se getuienis geglo het, hoe kon hulle dan die Messiasskap van Christus ontken? As hulle hul ware mening bely het, dat Johannes se bediening uit die mense was, sou hulle ‘n storm van verontwaardiging oor hulleself bring; want die volk het geglo dat Johannes ‘n profeet was. DKvDE 643.1
Met intense belangstelling het die skare op die beslissing gewag. Hulle het geweet dat die priesters beweer het dat hulle die bediening van Johannes aanvaar het en hulle het verwag dat hulle sonder twyfel sou erken dat hy deur God gestuur is. Maar nadat die priesters heimlik met mekaar beraadslaag het, het hulle besluit om hulle nie te verbind nie. Hulle het onkunde geveins en gesê: “Ons weet nie.” “Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” DKvDE 643.2
Skrifgeleerdes, priesters en owerstes is almal die swye opgelê. Verydel en teleurgesteld het hulle hul ooglede laat sak en dit nie gewaag om verdere vrae aan Christus te stel nie. Deur hul lafhartigheid en besluiteloosheid, het hulle die respek van die mense tot ‘n groot mate verbeur, wat nou, geamuseerd om hierdie trotse, eiegeregtige mans verslaan te sien, nader gestaan het. DKvDE 643.3
Al hierdie woorde, doen en late van Christus was belangrik en die invloed daarvan sou na Sy kruisiging en Hemelvaart in ‘n toenemende mate ervaar word. Baie van diegene wat die uitslag van die ondervraging met belangstelling afgewag het en op daardie veelbewoë dag deur Sy woorde na Hom toe getrek was, sou uiteindelik Sy dissipels word. Die toneel in die voorhof van die tempel sou onuitwisbaar in hul geheue vassteek. Die kontras tussen Jesus en die hoëpriester terwyl hulle in gesprek verkeer het, was duidelik. Die trotse hoogwaardigheidsbekleër van die tempel, was weelderig aangetrek. Op sy hoof was ‘n glinsterende tiara. Sy houding was majestueus, sy hare en sy lang baard was silwer van ouderdom. Sy voorkoms het die aanwesiges met ontsag gevul. Voor hierdie verhewe persoonlikheid, het die Majesteit van die hemel, sonder versiersels of vertoon gestaan. Sy klere was reisbevlek; Sy gelaat was bleek, met ‘n uitdrukking van geduldige hartseer; tog was daar waardigheid en welwillendheid daarop afgeteken, wat ‘n vreemde kontras met die trotse, selfversekerde en aggressiewe houding van die hoëpriester gevorm het. Baie van diegene wat die woorde en dade van Jesus in die tempel meegemaak het, het Hom vanaf daardie dag in hul harte as ‘n profeet van God weggesluit. Maar namate die gewilde gevoel in Sy guns gedraai het, het die haat van die priesters jeens Jesus toegeneem. Die wysheid waarmee Hy die strikke wat hulle vir hom gestel het vrygespring het en Sy Goddelikheid opnuut bewys het, het hulle toorn aangevuur. DKvDE 643.4
In Sy stryd met die rabbi’s, was dit nie Christus se doel om Sy opponente te verneder nie. Dit het Hom nie geval om hulle in ‘n moeilike posisie te sien nie. Hy het ‘n belangrike les gehad om hulle te leer. Hy het Sy vyande beskaamd gemaak deur toe te laat dat hulle in die net wat hulle vir Hom gespan het, verstrengel te raak. Hulle erkende onkunde met betrekking tot die aard van Johannes se doop, het aan Hom die geleentheid gebied om te praat en Hy het die geleentheid benut deur hulle ware posisie aan hulle voor te lê en nog ‘n waarskuwing by die vele wat Hy reeds gegee het, te voeg. DKvDE 644.1
“Wat dink julle?” het Hy gevra. “‘n Man het twee kinders gehad en hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd. En hy antwoord en sê: Ek wil nie; maar later het hy berou gekry en gegaan. Toe het hy na die tweede gegaan en vir hom net so gesê; en hy antwoord en sê: Ja, heer. En hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het die wil van die vader gedoen?” DKvDE 645.1
Hierdie skielike vraag het Sy toehoorders onverhoeds betrap. Hulle het aandagtig na die gelykenis geluister en dadelik geantwoord: “Die eerste.” Jesus het hulle stip in die oë gekyk en streng en plegtig geantwoord: “Voorwaar, Ek sê vir julle, die tollenaars en hoere gaan julle voor in die koninkryk van God. Want Johannes het na julle gekom in die weg van geregtigheid en julle het hom nie geglo nie; maar die tollenaars en hoere het hom geglo. En julle het dit gesien en tog nie later berou gekry om hom te glo nie.” DKvDE 645.2
Die priesters en owerstes kon nie anders as om ‘n korrekte antwoord op Christus se vraag te gee nie en sodoende het Hy hul mening ten gunste van die eerste seun verkry. Hierdie seun het die tollenaars verteenwoordig, diegene wat deur die Fariseërs verag en gehaat is. Die tollenaars was erg sedeloos. Hulle was inderdaad oortreders van die wet van God en het in hul lewens ‘n absolute weerstand teen Sy vereistes getoon. Hulle was ondankbaar en onheilig; toe hulle aangesê was om in die Here se wingerd te gaan werk, het hulle minagtend geweier. Maar toe Johannes kom en bekering en die doop verkondig, het die tollenaars die boodskap aangeneem en hulle laat doop. DKvDE 645.3
Die tweede seun het die leiers van die Joodse volk verteenwoordig. Sommige van die Fariseërs het berou gehad en die doop van Johannes ontvang; maar die leiers wou nie erken dat hy deur God gestuur is nie. Sy waarskuwings en veroordelings het hulle nie tot hervorming beweeg nie. Hulle “...het die raad van God aangaande hulle verwerp deur hulle nie deur hom te laat doop nie.” (Lukas 7:30). Hulle het sy boodskap met minagting bejeën. Soos die tweede seun wat gesê het: “Ja, heer...” toe hy geroep is, maar nie gegaan het nie, het die priesters en owerstes gehoorsaamheid bely, maar ongehoorsaam opgetree. Hulle het ‘n groot vertoon van vroomheid gelewer en beweer dat hulle die wet van God gehoorsaam, maar dit was ‘n valse gehoorsaamheid. Die tollenaars is deur die Fariseërs as ongelowiges veroordeel en vervloek; maar hulle het deur hul geloof en werke getoon dat hulle die koninkryk van die hemele voor daardie eiegeregtige manne wat groot lig ontvang het, maar wie se werke nie met hul geveinsde godsaligheid ooreenstem nie, sal binnegaan. DKvDE 645.4
Die priesters en owerstes was nie bereid om hierdie ondersoekende waarhede te verduur nie; hulle het egter stilgebly en gehoop dat Jesus iets sou sê wat hulle teen Hom kon draai; maar daar het meer op hulle gewag. DKvDE 646.1
“Luister na ‘n ander gelykenis.” het Christus gesê: “Daar was ‘n sekere huisheer wat ‘n wingerd geplant het; en hy het ‘n heining daarom gesit en ‘n parskuip daarin gegrawe en ‘n wagtoring gebou en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang. Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander gestenig. Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak. Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem. En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak. Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen?” DKvDE 646.2
Jesus het al die aanwesiges toegespreek, maar die priesters en owerstes het geantwoord: “Hy sal hulle ‘n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee.” Die sprekers het aanvanklik nie die toepassing van die gelykenis raakgesien nie, maar hulle het nou besef dat hulle hulself veroordeel het. In die gelykenis het die huisheer God verteenwoordig, die wingerd die Joodse volk en die heining, die Goddelike wet wat hulle beskerming was. Die toring was ‘n simbool van die tempel. Die heer van die wingerd het alles wat nodig vir sy welvaart was gedoen. “Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie?” (Jesaja 5:4). So is God se onvermoeide sorg vir Israel voorgestel. En soos die landbouers aan die heer van die wingerd sy aandeel van die opbrengs van die wingerd moes lewer, moes God se volk Hom met ‘n lewe ooreenkomstig hul heilige voorregte vereer. Maar net soos die landbouers die diensknegte wat die heer van die wingerd na hulle vir die opbrengs gestuur het doodgemaak het, het die Jode die profete wat God gestuur het om hulle tot bekering te roep, doodgemaak. Boodskapper na boodskapper is doodgemaak. Sover kon die toepassing van die gelykenis nie betwyfel word nie en deur wat daarop gevolg het, was dit nog meer duidelik. In die geliefde seun wat die heer van die wingerd uiteindelik na sy ongehoorsame diensknegte gestuur het en wat hulle gegryp en gedood het, het die priesters en owerstes ‘n duidelike beeld van Jesus en Sy naderende lot gesien. Hulle het reeds planne beraam om Hom, wat die Vader as ‘n laaste beroep na hulle gestuur het, dood te maak. In die vergelding wat die ondankbare landbouers toegedien is, is die lot van hulle wat Christus sou doodmaak, uitgebeeld. DKvDE 646.3
Die Heiland het hulle bejammerend aangekyk en voortgegaan: “Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë? Daarom sê Ek vir julle: die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra. En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.” DKvDE 647.1
Hierdie profesie is dikwels deur die Jode in die sinagoges herhaal en op die komende Messias toegepas. Christus was die Hoeksteen van die Joodse godsdiens en die hele verlossingsplan. Hierdie is die Hoeksteen wat die Joodse bouers, die priesters en owerstes van Israel, verwerp het. Die Heiland het hul aandag op die profesieë, wat hulle op hul gevaar wys, gevestig. Met al die mag wat Hy tot Sy beskikking gehad het, het Hy probeer om die aard van die daad wat hulle op die punt was om te pleeg, duidelik te maak. DKvDE 648.1
Sy woorde het ook ‘n ander doel gehad. Toe Hy vra: “Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen?” het Christus beoog dat die Fariseërs moes antwoord soos hulle gedoen het. Dit was Sy doel dat hulle ‘n oordeel oor hulself moes uitspreek. Sy waarskuwings sou, omdat dit hulle nie tot bekering kon beweeg nie, hulle lot verseël en Hy wou hê hulle moes besef dat hulle hul eie ondergang bewerkstellig het. Hy wou aan hulle die geregtigheid van God, om hulle van hul voorregte as volk te ontneem toon, wat reeds begin het en wat nie slegs in die verwoesting van hul tempel en stad sou eindig nie, maar in die verstrooiing van die volk. DKvDE 648.2
Die aanwesiges het die waarskuwing herken. Maar ondanks die vonnis wat hulle oor hulleself uitgespreek het, was die priesters en owerstes gereed om die beeld te voltooi deur te sê: “Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak.” “En hulle het probeer om Hom in hulle mag te kry, maar was bang vir die skare...” want die openbare gevoel was in Christus se guns. DKvDE 648.3
Die profesie van die verwerpte hoeksteen wat Christus aangehaal het, het na ‘n werklike gebeurtenis in die geskiedenis van Israel verwys. Die voorval hou verband met die bou van die eerste tempel. Hoewel dit ‘n spesiale toepassing op die eerste koms van Christus gehad het en die Jode kragtig moes aangespreek het, hou dit ook vir ons ‘n les in. Toe die tempel van Salomo opgerig is, is die ontsaglike stene vir die mure en fondasie geheel en al in die steengroef voorberei; nadat dit na die bouperseel gebring is, moes daar geen instrument daarop gebruik word nie; die werkers moes dit slegs in posisie plaas. Een steen van ongewone grootte en eienaardige fatsoen was vir gebruik in die fondasie na die terrein gebring; maar die werkers kon geen plek daarvoor vind nie en wou dit nie aanvaar nie. Dit was vir hulle ‘n oorlas omdat dit ongebruik in hulle pad gelê het. Dit het vir lank ‘n verwerpte steen gebly. Maar toe die bouers by die hoeksteenlegging kom, het hulle lank na ‘n klip van die regte grootte en sterkte en met die regte fatsoen gesoek om daardie spesifieke plek te vul en die groot gewig wat daarop sou rus sou kon dra. Indien hulle ‘n onverstandige keuse vir hierdie belangrike posisie sou maak, sou die veiligheid van die hele gebou in gevaar gestel word. Hulle moes ‘n steen vind wat die elemente kon trotseer. Verskeie stene is op verskillende tye gekies, maar onder die geweldige druk van die gewig wat daarop gerus het, het hulle verbrokkel. Ander kon die toets van skielike atmosferiese veranderings nie weerstaan nie. Maar uiteindelik is die aandag op die steen, wat vir so lank verwerp was, gevestig. Dit was aan die atmosfeer, son en storm blootgestel sonder om die geringste krakie te toon. Die bouers het die steen ondersoek. Dit het elke toets behalwe een deurstaan. As dit die toets van geweldige druk kon trotseer, het hulle besluit, sou hulle dit as hoeksteen gebruik. Die toets is uitgevoer. Die steen is aanvaar, na sy aangewese posisie gebring en gevind dat dit presies pas. In ‘n profetiese visioen is daar aan Jesaja getoon dat hierdie steen ‘n simbool van Christus was. Hy sê: DKvDE 648.4
“Die Here van die leërskare-Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees! Dan sal Hy vir julle ‘n heiligdom wees, maar ‘n klip waar ‘n mens teen stamp en ‘n rots waar ‘n mens oor struikel, vir die twee huise van Israel, ‘n vangnet en ‘n strik vir die inwoners van Jerusalem. En baie onder hulle sal struikel en val en verbreek en verstrik en gevang word.” (Jesaja 8:13-15). Die profeet is in die profetiese visioen tot by die eerste Advent geneem en is getoon dat Christus beproewinge en toetse moes dra, waarvan die behandeling van die belangrikste hoeksteen in die tempel van Salomo ‘n simbool was. “Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek Iê in Sion ‘n grondsteen, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie.” (Jesaja 28:16). DKvDE 649.1
Met oneindige wysheid het God die hoeksteen uitgekies en dit self gelê. Hy het gesê dit is “...vas gegrondves.” Die hele wêreld kan hul laste en leed daarop Iê; dit sal hulle almal kan verduur. Hulle kan in volkome veiligheid daarop voortbou. Christus is “...'n beproefde steen.” Diegene wat op Hom vertrou, stel Hy nooit teleur nie. Hy het elke toets afgelê. Hy het die druk van Adam se skuld en die skuld van Sy nakomelinge verduur en was meer as Oorwinnaar oor die magte van die bose. Hy het die laste van elke boetvaardige sondaar wat op Hom geplaas is, gedra. In Christus het die skuldige hart verligting gevind. Hy is die vaste Fondament. Almal wat Hom hul afhanklikheid maak, rus in volkome veiligheid. DKvDE 650.1
In Jesaja se profesie word Christus as ‘n vaste Fondament, sowel as ‘n Rots van struikeling verklaar. Die apostel Petrus, wat onder inspirasie van die Heilige Gees geskryf het, toon duidelik aan vir wie Christus ‘n Fondasiesteen is en vir wie ‘n Steen des aanstoot. DKvDE 650.2
“As julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is. Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Daarom staan dit ook in die Skrif : Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar, maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling-vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is.” (1 Petrus 2:3-8). DKvDE 650.3
Vir diegene wat glo, is Christus die vaste Fondasie. Dit is hulle wat op die Rots val en gebreek word. Onderdanigheid aan Christus en geloof in Hom word hier verteenwoordig. Om op die Rots te val en te breek, is om ons eiegeregtigheid prys te gee en met die nederigheid van ‘n kind na Christus te kom, berou oor ons oortredings te betoon en in Sy vergewensgesinde liefde te glo. En so is dit ook deur geloof en gehoorsaamheid dat ons op Christus as ons Fondasie bou. DKvDE 651.1
Op hierdie lewende Steen kan Jode sowel as heidene bou. Dit is die enigste Fondasie waarop ons veilig kan bou. Dit is breed genoeg vir almal en sterk genoeg om die gewig en las van die hele wêreld te dra. En deur verbintenis met Christus, die lewende Steen, word almal wat op hierdie Fondasie bou, lewende stene. Baie mense word volgens hul eie werk uitgekap, gepoleer en versier; maar hulle kan nie “...lewende stene...” word nie omdat hulle nie met Christus verbind is nie. Sonder hierdie verband kan geen mens gered word nie. Sonder die lewe van Christus in ons, kan ons nie die storms van versoeking weerstaan nie. Ons ewige veiligheid hang af van ons bou op die vaste fondasie. Menigtes bou vandag op fondasies wat nie beproef is nie. As die reën val en die storms woed en die vloedwaters kom, sal hulle huis val , want dit is nie op die ewige Rots gegrond nie, die belangrikste Hoeksteen, Christus Jesus. DKvDE 651.2
“Vir die wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is...” is Christus ‘n Steen des aanstoot. Maar “...die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword.” Soos die verwerpte steen, is Christus in Sy aardse sending verwerp en mishandel. “Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n Man van smarte en bekend met krankheid; ... Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.” (Jesaja 53:3). Maar die tyd was naby dat Hy verheerlik sou word. Deur die opstanding uit die dood sou Hy “...met krag verklaar [word] as die Seun van God.” (Romeine 1:4). Met Sy wederkoms sal Hy geopenbaar word as die Here van hemel en aarde. Hulle wat nou op die punt gestaan het om Hom te kruisig, sou Sy grootheid erken. Voor die heelal sou die verwerpte Steen die Hoeksteen word. DKvDE 651.3
“Maar elkeen op wie Hy val, die sal Hy vermorsel.” Die mense wat Christus verwerp het, sou binnekort sien hoe hul stad en volk verwoes word. Hulle heerlikheid sal verbreek en soos stof voor die wind gestrooi word. En wat het die Jode vernietig? Dit was die Rots wat, as hulle daarop gebou het, hul veiligheid sou wees. Dit was die goedheid van God wat verag is, die geregtigheid wat verwerp is, die genade wat geminag is. Die mens het in opstand teen God gekom en alles wat tot hul redding moes dien, het hul vernietiging geword. Alles wat God vir die lewe bestem het, het vir hulle tot die dood gelei. Die kruisiging van Christus deur die Jode, was in die vernietiging van Jerusalem betrokke. Die bloed wat op Golgota gestort was, was die gewig wat hulle in vernietiging vir hierdie wêreld en vir die toekomstige wêreld laat sink het. So sal dit op die laaste groot dag wees, wanneer die oordele oor die wat die genade van God verwerp het, sal val. Christus, hulle Steen des aanstoot, sal dan vir hulle soos ‘n Berg van wraakneming wees. Die heerlikheid van Sy aangesig, wat lewe vir die regverdiges is, sal vir die goddeloses ‘n verterende vuur wees. As gevolg van die liefde wat verwerp word en die genade wat geminag word, sal die sondaar vernietig word. DKvDE 652.1
Jesus het deur baie gelykenisse en herhaalde waarskuwings getoon wat die gevolge vir die Jode sou wees indien hulle die Seun van God verwerp. In hierdie woorde spreek Hy tot almal deur al die eeue heen, wat weier om Hom as hul Verlosser aan te neem. Elke waarskuwing is vir hulle. Die ontheiligde tempel, die ongehoorsame seun, die valse landbouers, die minagtende bouers, het hul eweknie in die ervaring van elke sondaar. Tensy hy tot inkeer kom, sal die oordeel wat dit voorafgeskadu het, syne wees. DKvDE 652.2