Die Koning van die Eeue

65/88

Hoofstuk 64—'n Gedoemde Volk *

Die triomfantelike intog van Christus in Jerusalem was ‘n dowwe voorafskaduwing van Sy koms op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid, te midde van die triomf van engele en die vreugde van die heiliges. Dan sal die woorde van Christus aan die priesters en Fariseërs vervul word: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Mattheus 23:39). In ‘n profetiese gesig is die dag van die finale oorwinning aan Sagaria getoon; en hy het ook die verdoemenis van diegene wat Christus met Sy eerste koms verwerp het, gesien: “Hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind.” (Sagaria 12:10). Hierdie toneel het Christus vooruit gesien toe Hy die stad aanskou en daaroor geween het. In die verwoesting van Jerusalem het Hy ook die finale vernietiging van hierdie volk, wat hulle aan die bloed van die Seun van God skuldig gemaak het, gesien . DKvDE 629.1

Die dissipels het die haat van die Jode jeens Christus gesien, maar het nog nie besef waartoe dit sou lei nie. Hulle het nie die ware toestand van Israel besef nie en ook nie die vergelding wat oor Jerusalem sou kom, begryp nie. Dit het Christus deur ‘n betekenisvolle voorwerples aan hulle geopenbaar. DKvDE 629.2

Die laaste beroep op Jerusalem was tevergeefs. Die priesters en owerstes het die profetiese stem van die verlede by monde van die skare in antwoord op hul vraag hoor weerklink: “Wie is hierdie man?” maar hulle het dit nie as die stem van Inspirasie aanvaar nie. In woede en verbasing het hulle die mense probeer stilmaak. Daar was Romeinse offisiere onder die skare en Jesus se vyande het Hom aan hulle as die leier van ‘n rebellie aangekla. Hulle het te kenne gegee dat Hy op die punt was om die tempel in te neem en as koning in Jerusalem te regeer. DKvDE 629.3

Maar die kalm stem van Jesus het die oproerige skare vir ‘n oomblik laat bedaar toe Hy weer verklaar dat Hy nie gekom het om ‘n wêreldse regering op te rig nie; Hy sou binnekort na Sy Vader opvaar en Sy beskuldigers sou Hom nie meer sien voordat Hy in weer in heerlikheid sou terugkeer nie. Dan, wanneer dit te laat vir hul verlossing was, sou hulle Hom erken. Jesus het hierdie woorde met droefheid en ongekende krag geuiter. Die Romeinse offisiere het bedees en stil geraak. Hoewel die Goddelike invloed vir hulle iets vreemds was, was hul harte, soos nog nooit tevore nie, ontroer. In die kalme, ernstige gelaat van Jesus het hulle liefde, goedhartigheid en ‘n stille waardigheid gelees. Hulle is deur ‘n simpatie, wat hulle nie kon begryp nie, ontroer. In plaas daarvan om Jesus in hegtenis te neem, was hulle meer geneig om aan Hom hulde te bring. Hulle het hulle na die priesters en owerstes gewend en hulle daarvan beskuldig dat hulle die onrus veroorsaak het. Vererg en verneder het hierdie leiers hulle na die volk met hul klagtes gewend en heftig onder mekaar geredekawel. DKvDE 630.1

Intussen het Jesus ongemerk die tempel bereik. Daar was alles stil, want die toneel op die Olyfberg het die volk weggelok. Vir ‘n kort rukkie het Jesus in die tempel vertoef en dit met hartseer oë aanskou. Toe het Hy saam met Sy dissipels vertrek en na Betanië teruggekeer. Toe die volk Hom soek om Hom op die troon te plaas, was Hy nêrens te vind nie. DKvDE 630.2

Jesus het die hele nag in gebed deurgebring en die oggend weer na die tempel gegaan. Onderweg het Hy by ‘n vyeboord verbygegaan. Hy was honger en “...toe Hy op ‘n afstand ‘n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.” DKvDE 630.3

Dit was nie die seisoen vir ryp vye nie, behalwe op sekere plekke; en op die hoogland rondom Jerusalem kon tereg gesê word: “Dit was nie die tyd van vye nie.” Maar in die boord waar Christus gekom het, was een boom blykbaar vroeër as die ander. Dit was reeds met blare bedek. Dit is ‘n eienskap van die vyeboom dat die jong vrugte verskyn voordat die blare oopgaan. Daarom het hierdie boom in sy volle blaredos die belofte van goed ontwikkelde ryp vrugte ingehou. Maar die voorkoms daarvan was bedrieglik. Toe Jesus sy takke van die laagste tot die hoogste tak deursoek, het Hy “...niks as blare...” gevind nie. Dit was niks meer as net ‘n pronkerige vertoon van blare nie. DKvDE 631.1

Christus het ‘n vernietigende vloek oor die boom uitgespreek: “Laat niemand ooit in der ewigheid van jou vrug eet nie!” Die volgende oggend, toe die Verlosser en Sy dissipels weer op pad na die stad was, het die uitgedroogde takke en verwelkte blare hul aandag getrek. “Rabbi...” het Petrus gesê “...kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.” DKvDE 631.2

Christus se daad om die vyeboom te vervloek, het die dissipels verbaas. Dit was vir hulle nie in ooreenstemming met Sy gewone weë en werke nie. Hulle het Hom dikwels hoor verklaar dat Hy nie gekom het om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered sou kon word. Hulle het Sy woorde onthou: “Die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red.” (Lukas 9:56). Sy wonderwerke was uitgevoer om te herstel, nooit om te vernietig nie. Die dissipels het Hom slegs as die Hersteller, die Geneser, geken. Hierdie daad het apart gestaan. Wat was die doel daarvan? het hulle gevra. DKvDE 631.3

God het ‘n “...welbehae in goedertierenheid...” (Miga 7:18). “So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie.” (Esegiël 33:11). Vir Hom is die werk van vernietiging en veroordeling “...vreemd...” (Jesaja 28:21). Maar dit is in genade en liefde dat Hy die sluier van die toekoms lig en aan die mens die gevolge van die weg van sonde openbaar. DKvDE 631.4

Die vervloeking van die vyeboom was ‘n aktiewe gelykenis. Daardie verdorde boom wat met sy vertoon van blare voor die aangesig van Jesus gepronk het, was ‘n simbool van die Joodse volk. Die Heiland wou graag die oorsaak en sekerheid van die ondergang van Israel aan sy dissipels duidelik maak. Vir hierdie doel het Hy die boom met morele eienskappe geïnvesteer en dit die blootlegger van Goddelike waarheid gemaak. Die Jode het hulle van alle ander volke onderskei en hul trou aan God bely. Hulle is deur Hom begunstig en hulle het aanspraak op geregtigheid bo alle ander volke gemaak. Maar hulle is deur die liefde vir die wêreld en hebsug verdorwe. Hulle het op hul kennis geroem, maar was onkundig aangaande die vereistes van God en vol geveinsdheid. Soos die kaal vyeboom, het hulle hul pretensieuse takke omhoog uitgesprei, weelderig van voorkoms en mooi vir die oog, maar hulle het “...niks [anders] as blare...” gedra nie. Die Joodse godsdiens, met sy manjifieke tempel, heilige altare, priesters met hul hoofbedekkings en indrukwekkende seremonies, was inderdaad ‘n mooi uiterlike vertoon, maar nederigheid, liefde en welwillendheid het ontbreek. DKvDE 632.1

Al die bome in die vyeboord was sonder vrugte; maar die blaarlose bome het geen verwagting gewek en geen teleurstelling veroorsaak nie. Hierdie bome het die heidene verteenwoordig. Hulle was net so bankrot aan Godsaligheid as die Jode; maar hulle het nie voorgegee dat hulle God dien nie. Hulle het geen grootpraterige goedhartigheid voorgegee nie. Hulle was blind vir die werke en weë van God. By hulle het die seisoen vir vye nog nie aangebreek nie. Hulle het nog op ‘n dag wat vir hulle lig en hoop sou bring gewag. Die Jode, wat groter seëninge van God ontvang het, is verantwoordelik gehou vir hul misbruik van hierdie gawes. Die voorregte waaroor hulle geroem het, het hulle skuld net verhoog. DKvDE 632.2

Jesus het honger na die vyeboom gekom om iets te ete te vind. So het Hy na Israel met ‘n honger om die vrugte van geregtigheid daarin te vind gekom. Hy het Sy gawes oorvloediglik aan hulle geskenk, sodat hulle vrugte tot seën vir die wêreld kon dra. Elke geleentheid en voorreg is aan hulle gegun en in ruil daarvoor, het Hy hul meegevoel en samewerking in Sy werk van barmhartigheid verlang. Hy het verlang om selfopoffering en medelye, ywer vir God en ‘n diepe hunkering na die redding van siele vir hul medemens by hulle te vind. Indien hulle die wet van God onderhou het, sou hulle dieselfde onbaatsugtige werk as Christus verrig het. Maar hul liefde vir God en mens is deur trots en selfgenoegsaamheid verduister. Hulle het hul eie ondergang bewerkstellig deur te weier om ander te dien. Hulle het nie die skatte van die waarheid wat God aan hulle toevertrou het, aan die wêreld deurgegee nie. In die onvrugbare vyeboom kon hulle hul sonde en die gevolglike straf daarvan lees. Verdor onder die vloek van die Heiland, met sy takke uitgedroog en verskrompel; van die wortels af opgedroog, het die vyeboom getoon wat die Joodse volk se lot sou wees indien die genade van God van hulle onttrek word. Indien hulle geweier het om hul seëninge uit te deel, sou hulle dit nie langer ontvang nie. “Dit is jou verderf, o Israel...” sê die Here, “...dat jy teen My, jou helper, is.” (Hosea 13:9). DKvDE 633.1

Die waarskuwing geld vir alle tye. Christus se daad om die boom, wat deur Sy eie krag geskep is te vervloek, is ‘n waarskuwing aan alle kerke en Christene. Niemand kan die wet van God uitleef sonder om andere te bedien nie. Maar daar is baie wat nie Christus se barmhartige, onselfsugtige lewe uitleef nie. Sommige mense wat van mening is dat hulle uitmuntende Christene is, verstaan nie wat diens aan God beteken nie. Hulle beplan en lê hulle daarop toe om hulself te behaag. Hulle tree slegs in eiebelang op. Die tyd is slegs vir hulle van waarde om vir hulself op te gaar. Dit is hulle oogmerk ten opsigte van alle aspekte van die lewe. Hulle werk vir hulself; nie vir ander nie. God het hulle geskape om in ‘n wêreld te leef waar onbaatsugtige diens verrig moet word. Hy het hulle ontwerp om hul medemense op alle moontlike maniere behulpsaam te wees. Maar die self is so opgeblase dat hulle niks anders kan sien nie. Hulle is nie in voeling met die mensdom nie. Diegene wat so vir hulself leef, is soos die vyeboom wat ‘n swierige vertoon gelewer het maar vrugteloos was. Hulle beoefen vormgodsdiens, sonder berou of geloof. Hulle beroep hulle daarop dat hulle die wet van God eerbiedig, maar gehoorsaamheid ontbreek. Hulle sê, maar doen nie. In die vonnis wat Hy oor die vyeboom uitgespreek het, toon Christus hoe haatlik hierdie ydele voorgee in Sy oë is. Hy verklaar dat die openlike sondaar minder skuldig is as hy wat beweer dat Hy God dien, maar wat geen vrugte tot Sy verheerliking dra nie. DKvDE 633.2

Die gelykenis van die vyeboom wat Christus voor sy besoek aan Jerusalem gegee het, het ‘n regstreekse verband met die les wat Hy in die vervloeking van die onvrugbare vyeboom geleer het, gehad. Vir die dorre boom van die gelykenis het die tuinier gepleit: Laat dit nog hierdie jaar staan totdat ek daarom gespit en mis gegooi het; en as dit dan vrugte dra, goed en wel; maar indien nie, moet u dit uitkap. Daar moes meer sorg aan die onvrugbare boom bestee word. Dit moes elke voordeel gegun word. Maar indien dit vrugteloos bly, kon niks dit van vernietiging red nie. In die gelykenis is die resultaat van die tuinier se pogings nie genoem nie. Dit het van die mense tot wie Christus Hom gerig het afgehang. Hulle is deur die vrugtelose boom verteenwoordig en dit het by hulle berus om hul eie lot te bepaal. Elke voordeel wat die hemel hulle kon gee, is aan hulle gegee, maar hulle het nie voordeel uit hul verhoogde seëninge getrek nie. Deur Christus se daad om die dorre vyeboom te vervloek, het Hy die gevolge getoon. Hulle het hul eie ondergang bewerkstellig. DKvDE 634.1

Vir meer as ‘n duisend jaar het die Joodse volk die genade van God misbruik en Sy oordele uitgelok. Hulle het Sy waarskuwings verwerp en Sy profete gedood. Vir hierdie sondes het die mens van Christus se tyd hulself verantwoordelik gemaak deur dieselfde weg te volg. Die skuld van hierdie geslag het in die verwerping van hul huidige genade en waarskuwings gelê. Met die boeie wat die volk eeue lank gesmee het, het die mense in die tyd van Christus hulself geboei. DKvDE 634.2

In elke eeu word die mens sy dag van lig en voorreg gegun, ‘n proeftydperk waarin hulle met God versoen kan raak. Maar daar is ‘n perk aan hierdie genade. Genade kan vir jare pleit en geminag en verwerp word; maar daar kom ‘n tyd wanneer barmhartigheid die laaste pleidooi lewer. Die hart raak so verhard dat dit nie langer op die Gees van God reageer nie. Dan pleit die soete, oorredende stem nie langer met die sondaar nie en die bestraffings en waarskuwings hou op. DKvDE 635.1

Daardie dag het vir Jerusalem aangebreek. Jesus het in sieleangs oor die gedoemde stad geween, maar Hy kon dit nie verlos nie. Hy het elke hulpbron uitgeput. Deur die waarskuwings van die Gees van God te verwerp, het Israel die enigste hulpmiddel verwerp. Daar was geen ander mag waardeur hulle verlos kon word nie. DKvDE 635.2

Die Joodse nasie was ‘n simbool van die mense van alle eeue wat die smekinge van Oneindige Liefde minag. Die trane van Christus wat Hy oor Jerusalem gestort het, was vir die sondes van alle tye. In die oordele wat oor Israel uitgespreek is, kan diegene wat die teregwysings en waarskuwings van die Heilige Gees van God verwerp, hul eie veroordeling lees. DKvDE 635.3

In hierdie geslag is daar baie wat dieselfde paadjie as die ongelowige Jode bewandel. Hulle het die manifestasie van die krag van God gesien; die Heilige Gees het tot hul harte gespreek; maar hulle bly aan hul ongeloof en verset vaskleef. God stuur aan hulle vermanings en teregwysings, maar hulle is nie bereid om hul sondes te bely nie en hulle verwerp Sy boodskap en Sy boodskapper. Die einste middel wat Hy vir hul redding aanwend, word vir hulle ‘n steen des aanstoots. DKvDE 635.4

Die profete van God is deur die afvallige Israel gehaat omdat hulle verborge sondes deur hulle aan die lig gebring is. Agab het Elia as sy vyand beskou omdat die profeet getrou was om die geheime ongeregtighede van die koning te bestraf. So word die dienaar van Christus vandag, die bestraffer van sonde, met hoon en afjakke bejeën. Die Bybelse waarheid, die godsdiens van Christus, stry teen ‘n sterk gety van sedelike onreinheid. Vooroordeel is tans selfs sterker in menseharte as in Christus se tyd. Christus het nie aan die mens se verwagtinge voldoen nie; Sy lewe was ‘n bestraffing van hul sondes en hulle het Hom verwerp. Die waarheid van die Woord van God stem nie met die mense se praktyke en natuurlike neigings ooreen nie en duisende verwerp die lig daarvan. Mense wat deur Satan aangespoor word, betwyfel God se woord en kies om hul onafhanklike oordeel uit te oefen. Hulle kies duisternis eerder as lig, maar hulle doen dit teen lewensgevaar. Diegene wat met die woorde van Christus fout gesoek het, het al hoe meer rede vir foutvindery gevind, totdat hulle die Waarheid en die Lewe verwerp het. So is dit tans. God is nie van plan om alle besware wat die vleeslike hart teen Sy waarheid mag opper, uit die weg te ruim nie. Vir diegene wat die kosbare ligstrale wat die duisternis sou verlig weier, bly die verborgenhede van God vir ewig so. Die waarheid is vir hulle verborge. Hulle loop blindelings en weet nie van die verderf voor hulle nie. DKvDE 636.1

Van die kruin van die Olyfberg af het Christus oor die wêreld en alle eeue heen gekyk; en Sy woorde is van toepassing op elke siel wat die smeekbede van Goddelike genade gering ag. Spotter van Sy liefde, Hy spreek jou vandag aan. Dit is jy, “...ja ook in hierdie dag van jou...” wat moet weet watter dinge tot jou vrede dien. Christus stort bittere trane vir jou wat geen trane het om vir jouself te stort nie. Die noodlottige hardvogtigheid wat die Fariseërs vernietig het, is duidelik in jou. Elke bewys van die genade van God, elke Goddelike ligstraal, sal die siel laat smelt en onderwerp, of dit in hopelose onboetvaardigheid bevestig. DKvDE 636.2

Christus het vooruit geweet dat Jerusalem hardkoppig en onboetvaardig sou bly; tog het al die skuldgevoelens, al die gevolge van verwerpte genade, voor haar eie deur gelê. So sal dit met elke siel wat dieselfde weg volg, wees. Die Here sê: “Dit is jou verderf, o Israel, dat jy teen My, jou Helper, is.” (Hosea 13:9). “Hoor, aarde! Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na My woorde het hulle nie geluister nie en My wet, dié het hulle verwerp.” (Jeremia 6:19). DKvDE 637.1