Die Koning van die Eeue

64/88

Hoofstuk 63—“Jou Koning Kom” *

“Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel-op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin” (Sagaria 9:9). DKvDE 617.1

Vyfhonderd jaar voor die geboorte van Christus het die profeet Sagaria die koms van die Koning van Israel so voorspel. Hierdie profesie moes nou vervul word. Hy wat so lank koninklike eerbewyse geweier het, het nou ou na Jerusalem as die beloofde Erfgenaam van die troon van Dawid gekom. DKvDE 617.2

Dit was op die eerste dag van die week dat Christus Sy triomfantlike intog in Jerusalem gemaak het. Menigtes wat saamgestroom het om hom in Betanië te sien, het Hom nou vergesel, gretig om Sy ontvangs te sien. Baie mense wat na die stad onderweg was om die Pasga te vier, het hulle by die skare om Jesus gevoeg. Dit was asof die hele natuur saam gejuig het. Die bome was met groen oordek en hul bloeisels het die lug met hul delikate geur gevul. Die skare is met nuwe lewensvreugde besiel. Die hoop op die nuwe koninkryk het weer opgevlam. DKvDE 617.3

Met die doel om Jerusalem binne te ry, het Jesus twee van Sy dissipels gestuur om ‘n eselin en haar vul na Hom te bring. Met Sy geboorte was die Verlosser van die gasvryheid van vreemdelinge afhanklik. Die krip waarin Hy gelê het, was ‘n geleende rusplek. En nou, alhoewel al die veë van ‘n duisend heuwels aan Hom behoort het, was Hy van die goedhartigheid van ‘n vreemdeling afhanklik vir ‘n dier waarop Hy Jerusalem kon binnegaan. Maar Sy Goddelikheid is weereens, selfs in die geringe aanwysings wat Hy aan Sy dissipels vir hierdie opdrag gegee het, geopenbaar. Soos Hy voorspel het, is die versoek: “Die Here het hulle nodig...” geredelik toegestaan. Jesus het vir Sy gebruik, ‘n vul gekies waarop niemand nog gesit het nie. Die dissipels het met blye geesdrif hul klere oor die dier uitgesprei en hul Meester daarop laat sit. Tot dusver het Jesus nog altyd te voet gereis en die dissipels was aanvanklik verbaas dat Hy nou verkies het om te ry. Maar die hoop het in hul harte opgevlam met die vreugdevolle gedagte dat Hy op die punt was om die hoofstad binne te ry, Homself as Koning te verklaar en Sy koninklike mag te laat geld. Terwyl hulle besig was om hul opdrag uit te voer, het hulle hul blye verwagtinge aan die vriende van Jesus meegedeel en die opgewondenheid het wyd en syd versprei en die verwagtinge van die mense het ‘n hoogtepunt bereik. DKvDE 617.4

Christus het die Joodse gewoonte vir die koninklike intog gevolg. Die dier waarop Hy gery het, was dieselfde as waarop die konings van Israel gery het en die profesieë het voorspel dat die Messias op hierdie wyse Sy koninkryk so sou binnekom. Hy was skaars op die vul, of ‘n luide kreet van triomf het die lug geskeur. Die skares het Hom as die Messias, hulle koning, gehuldig. Hierdie keer het Jesus die huldeblyke wat Hy tot dusver nie wou toelaat nie, aanvaar en die dissipels het dit as ‘n bewys dat hulle blye verwagting om Hom op die troon gevestig te sien, nou vervul sou word, beskou. Die skare was oortuig dat die uur van hul bevryding ophande was. In hulle verbeelding kon hulle sien hoe die Romeinse leërs uit Jerusalem verdryf en Israel weer ‘n onafhanklike nasie word. Almal was verheug en opgewonde; die volk het met mekaar gewedywer om hulde aan Hom te bewys. Hulle kon nie uiterlike prag en praal aan die dag lê nie, maar het aan Hom die aanbidding van hul vreugdevolle harte gebied. Hulle kon Hom nie met kosbare geskenke oorlaai nie, maar het hul buite-kleed as ‘n tapyt om op te ry voor Hom oopgesprei en het olyf-en palmtakke voor Hom gestrooi. Hulle kon nie die triomftog met koninklike vaandels lei nie, maar hulle het die palmtakke, die embleem van die oorwinning van die natuur, afgekap en dit met luide toejuigings en hosannas omhoog gewuif. DKvDE 618.1

Namate die optog voortbeweeg het, het die skare voortdurend deur diegene wat van die koms van Jesus gehoor en hulle gehaas het om by die optog aan te sluit, in getal toegeneem. Toeskouers het gedurig met die skare gemeng en gevra: “Wie is dit? Wat beteken al die oproer?” Hulle het almal van Jesus gehoor en verwag dat Hy na Jerusalem sou gaan; maar hulle het geweet dat Hy tot dusver alle pogings om Hom op die troon te plaas, ontmoedig het en hulle was baie verbaas om te verneem dat dit Hy was. Hulle het gewonder wat hierdie verandering in Hom, wat verklaar het dat Sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie, teweeg gebring het. DKvDE 619.1

Hul vrae is deur ‘n kreet van triomf stilgemaak. Oor en oor is dit deur die geesdriftige skare herhaal; dit is deur die mense van ver af opgeneem en het vanaf die omliggende berge en valleie weergalm. Toe het die skares uit Jerusalem by die optog aangesluit. Van die menigtes wat bymekaargekom het om die Pasga te vier, het duisende mense Jesus tegemoetgegaan om Hom te verwelkom. Hulle het Hom met die wuif van palmtakke en ‘n uitbarsting van gewyde sang begroet. Die priesters in die tempel het die basuin vir die aanddiens geblaas, maar weiniges het daaraan gehoor gegee en die owerstes het bekommerd vir mekaar gesê: “Die hele wêreld loop agter Hom aan.” DKvDE 619.2

Nooit voorheen in Sy aardse lewe het Jesus so ‘n ophef toegelaat nie. Hy het die gevolg daarvan duidelik voorsien. Dit sou Hom na die kruis bring. Maar dit was Sy doel om Homself op hierdie wyse as die Verlosser aan te bied. Hy wou die aandag op die offer, wat Sy sending na ‘n gevalle wêreld sou bekroon, vestig. Terwyl die mense in Jerusalem bymekaar was om die Pasga te vier, het Hy, die antitipiese Lam, Homself vrywillig as soenoffer afgesonder. Dit sou vir Sy kerk in al die daaropvolgende eeue nodig wees om Sy dood vir die sondes van die wêreld, ‘n onderwerp vir diepe nadenke en grondige studie te maak. Elke feit wat daarmee gepaard gaan, moet ongetwyfeld bevestig word. Dit was dus nodig dat die oë van alle mense nou op Hom gevestig moes wees; die gebeure wat Sy groot offer voorafgegaan het, moes sodanig wees, dat die aandag op die offer self gevestig sou word. Na ‘n demonstrasie soos wat deur Sy intog in Jerusalem gekenmerk is, sou alle oë Sy spoedige vordering na die finale toneel volg. DKvDE 619.3

Die gebeurtenisse wat verband hou met hierdie triomftog, sou die onderwerp van bespreking op elke tong wees en sou Jesus voorop in die gedagtes van almal bring. Na Sy kruisiging sou baie hierdie gebeure in verband met sy verhoor en dood in herinnering roep. Hulle sou gelei word om die profesieë te ondersoek en oortuig wees dat Jesus die Messias was; en in alle lande sou bekeerlinge tot die geloof toeneem. DKvDE 620.1

In hierdie een triomfantelike toneel van Sy aardse lewe, kon die Verlosser moontlik, deur hemelse engele begelei, verskyn het en met die basuin van God aangekondig gewees het, maar so ‘n demonstrasie sou strydig met die doel van Sy sending gewees het en in stryd met die wet wat Sy lewe beheer het. Hy het getrou aan die nederige lot wat Hy aanvaar het, gebly. Hy moes die las van die mensdom dra totdat Sy lewe vir die lewe van die wêreld gegee was. DKvDE 620.2

Hierdie dag, wat vir die dissipels na die kroningsdag van hul lewe gelyk het, sou vir hulle met donker wolke versluier gewees het indien hulle geweet het dat hierdie toneel van blydskap slegs ‘n voorspel tot die lyding en dood van hul Meester was. Hoewel Hy hulle herhaaldelik van Sy gewisse offer vertel het, het hulle in die blye triomf van die oomblik Sy droewige woorde vergeet en uitgesien na Sy voorspoedige regering op die troon van Dawid. DKvDE 620.3

Daar was voortdurend nuwe toetredes tot die optog en op enkele uitsonderings na, is almal deur die besieling van die uur aangegryp en het bygedra om die hosannas van heuwel tot heuwel en van vallei tot vallei te laat weerklink. Die uitroepe het onafgebroke opgegaan: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” DKvDE 620.4

Die wêreld het nog nooit so ‘n triomftog beleef nie. Dit was nie soos dié van die wêreld se beroemde veroweraars nie. Geen optog van gevangenes in rou, as trofeë van koninklike dapperheid, het daardie toneel gekenmerk nie. Maar rondom die Heiland was die glorieryke trofeë van Sy arbeid van liefde vir die sondige mens. Daar was die gevangenes wat Hy uit die mag van Satan gered het en God vir hul verlossing geprys het. Die blindes wat Hy laat sien het, het die voortou geneem. Die stommes wie se tonge Hy losgemaak het, het die luidste hosannas uitgeroep. Die kreupeles wat Hy genees het, het gespring van vreugde en was die aktiefste om die palmtakke af te breek en voor die Heiland te wuif. Weduwees en wese het die Naam van Jesus vir Sy werke van barmhartigheid onder hulle, verhoog. Die melaatses wat Hy gereinig het, het hul onbesmette kledingstukke op Sy pad voor Hom uitgestrooi en Hom as Koning van Heerlikheid geprys. Diegene wat deur Sy stem uit die slaap van die dood gewek is, was in daardie skare. Lasarus, wie se liggaam reeds in die graf begin ontbind het, maar wat hom nou in die fleur van sy lewe verheug het, het die dier waarop die Verlosser gery het, gelei. DKvDE 621.1

Baie Fariseërs het die toneel aanskou en, brandend van afguns en kwaadwilligheid, probeer om die stroom van openbare gevoel te keer. Hulle het met al hulle gesag gepoog om die volk stil te maak; maar hul oproepe en dreigemente het slegs die geesdrif aangeblaas. Hulle was bevrees dat hierdie menigte met hul getalsterkte Jesus koning sou maak. As laaste uitweg, het hulle deur die skare gebeur na waar die Verlosser was en Hom berispe en met dreigende woorde aangespreek: “Meester, bestraf u dissipels!” Hulle het verklaar dat sulke luidrugtige betogings onwettig was en dat die owerhede dit nie sou toelaat nie. Maar hulle is deur Jesus se antwoord die swye opgelê: “Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.” Daardie toneel van triomf was die beskikking van God self. Dit is deur die profeet voorspel en die mens was magteloos om die doel van God te verydel. As die mense versuim het om Sy plan uit te voer, sou Hy ‘n stem aan die lewelose klippe gegee het en sou hulle Sy Seun met uitroepe van lofprysing geloof het. Toe die swyende Fariseërs hulle onttrek, is die woorde van Sagaria deur honderde stemme opgeneem: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel, die vul van ‘n eselin.” DKvDE 621.2

Toe die optog die kruin van die heuwel bereik het en na die stad wou afdaal, het Jesus en die skare saam met Hom gaan stilstaan. Voor Hom het Jerusalem in al sy heerlikheid uitgestrek gelê, gebaai in die lig van die ondergaande son. Alle oë was op die tempel gerig. In statige grootsheid het dit bo alles uitgetroon en hemelwaarts verrys, asof dit die volk na die enigste ware en lewende God wou wys. Die tempel was lank die trots en glorie van die Joodse nasie. Die Romeine was ook trots op die grootsheid daarvan. ‘n Koning wat deur die Romeine aangestel was, het met die Jode verenig om dit weer op te bou en te versier en die keiser van Rome het dit met sy geskenke verryk. Sy sterkte, rykdom en luisterrykheid, het dit een van die wonders van die wêreld gemaak. DKvDE 622.1

Terwyl die laatmiddag son die hemele getint en verguld het, het dit die glansende suiwer wit marmer van die tempelmure weerkaats en op die goudbedekte suile geskitter. Van die kruin van die heuwel af waar Jesus en sy volgelinge gestaan het, het dit die voorkoms van ‘n massiewe sneeustruktuur met goue torinkies gehad. By die ingang van die tempel was ‘n wingerdstok van goud en silwer, met groen blare en massiewe druiwetrosse, wat deur die mees kundigste kunstenaars uitgevoer is. Hierdie motief het Israel as ‘n vrugbare wingerdstok voorgestel. Die goud, silwer en lewendige groen, is met sonderlinge smaak en voortreflike vakmanskap gekombineer; soos dit sierlik om die wit en glinsterende pilare, wat met glinsterende ranke aan hul goue ornamente kleef, gedraai het, het die glans van die ondergaande son daarop weerkaats asof met ‘n heerlikheid uit die hemel ontleen. DKvDE 622.2

Jesus het die toneel aanskou en die hele groot menigte het stil geraak, verruk deur hierdie plotselinge visioen van skoonheid. Alle oë was op die Verlosser gerig, met die verwagting om dieselfde bewondering as wat hulle ervaar, op Sy gelaat te gewaar. Maar in plaas hiervan, het hulle ‘n wolk van droefheid gesien. Hulle was verbaas en teleurgesteld om te sien hoe Sy oë met trane vul en Sy liggaam heen en weer wieg, terwyl ‘n weeklaag van foltering oor Sy bewende lippe losbars, asof uit die diepte van ‘n gebroke hart. Wat ‘n gesig was dit vir engele om te aanskou! Hul geliefde Bevelvoerder in droefheid en trane! Wat ‘n gesig was dit vir hierdie blye skare wat Hom met triomfantlike uitroepe en die gewuif van palmtakke na die glorieryke stad begelei het, waar hulle hoopvol verwag het dat Hy nou gaan regeer! Jesus het by die graf van Lasarus geween, maar dit was ‘n Goddelike droefheid uit meegevoel met menslike wee. Maar hierdie skielike droefheid was soos ‘n klaagnoot in ‘n groot triomfkoor. Te midde van ‘n toneel van vreugde, waar almal aan Hom hulde betoon, was die Koning van Israel in trane; nie stille trane van blydskap nie, maar trane en kreungeluide van leed wat nie onderdruk kon word nie. ‘n Skielike somberheid het die skare aangegryp. Hul juigkrete het stil geraak. Baie het saam, uit meegevoel met ‘n leed wat hulle nie kon begryp nie, geween. DKvDE 623.1

Die trane van Jesus was nie oor die vooruitsig van Sy eie lyding nie. Net voor Hom was Getsémané, waar die verskrikking van ‘n groot duisternis Hom weldra sou oorskadu. Die Skaappoort, waardeur die offerdiere eeue lank gelei is, was ook in sig. Hierdie poort sou binnekort vir Hom oopgaan, die groot Antitipe, na Wie se offer vir die sondes van die wêreld al hierdie offers gewys het. Golgota, die toneel van Sy naderende foltering, was daar naby. Tog was dit nie as gevolg van hierdie getuienisse van Sy wrede dood dat die Verlosser geween en in sieleangs geweeklaag het nie. Sy leed was geen selfsugtige leed nie. Die gedagte aan sy eie foltering het nie daardie edele, selfopofferende Siel geïntimideer nie. Dit was die gesig van Jerusalem wat die hart van Jesus deurboor het-Jerusalem wat die Seun van God verwerp en Sy liefde versmaai het, wat geweier het om deur Sy magtige wonderwerke oortuig te word en op die punt was om Sy lewe te neem. Hy het Jerusalem in haar skuld om haar Verlosser te verwerp gesien en wat sy sou gewees het as sy Hom, wat alleen haar wond kon genees, aangeneem het. Hy het gekom om haar te red; hoe kon Hy haar prysgee? DKvDE 623.2

Israel was ‘n begunstigde volk; God het hulle tempel Sy woning gemaak; dit was “...skoon deur Sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde.” (Psalm 48:3). Die rekord van meer as ‘n duisend jaar van Christus se beskermende liefde en sorg, soos die van ‘n vader vir sy eie kind, het daarin opgesluit gelê. In daardie tempel het die profete hul plegtige waarskuwings uitgespreek. Daar is die wierookbakke gewaai terwyl wierook, met die gebede van die aanbidders gemeng, na God opgestyg het. Daar het die bloed van diere gevloei as ‘n tipe van die bloed van Christus. Daar het Jehova Sy heerlikheid bo die versoendeksel geopenbaar. Daar het die priesters diens verrig en het die prag van simboliek en seremonie eeue lank voortgeduur. Maar dit sou alles tot ‘n einde kom. DKvDE 624.1

Jesus het Sy hand, wat die siekes en lydendes so dikwels geseën het, gelig en terwyl Hy dit na die gedoemde stad swaai, in gebroke woorde van droefheid uitgeroep: “As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien!” Hiermee het die Heiland volstaan en nie gesê wat Jerusalem se toestand sou gewees het as sy die hulp wat God graag wou gee aanvaar het nie-die gawe van Sy geliefde Seun. As Jerusalem geweet het wat haar voorreg was om te weet en ag geslaan het op die lig wat uit die hemel aan haar gestuur is, sou sy dalk in die trots van voorspoed opgestaan het, die koningin van die koninkryke, vry in die krag van haar Godgegewe mag. Daar sou geen gewapende soldate voor haar poorte gestaan het nie, geen Romeinse baniere van haar mure gewapper het nie. Die heerlike bestemming waarmee Jerusalem geseën kon gewees het as sy haar Verlosser aanvaar het, het voor die Seun van God verrys. Hy het gesien dat sy deur Hom van haar dodelike kwaal genees kon word, van slawerny bevry en as die magtige hoofstad van die aarde gevestig kon word. Van haar mure af sou die duif van vrede na al die nasies uitgegaan het. Sy sou die wêreld se kroon van heerlikheid gewees het. DKvDE 624.2

Maar die beeld van wat Jerusalem kon gewees het, het voor die Heiland se geestesoog vervaag. Hy het besef wat sy nou onder die Romeinse juk was, wat die misnoeë van God dra, gedoem tot Sy vergeldende oordeel. Toe vervolg Hy Sy onderbroke klaaglied: “Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom, dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.” DKvDE 625.1

Christus het gekom om Jerusalem met haar kinders te red; maar die trots van die Fariseërs, geveinsdheid, jaloesie en kwaadwilligheid, het Hom verhinder om Sy doel te verwesenlik. Jesus het die verskriklike vergelding wat die gedoemde stad sou besoek geken. Hy het gesien hoe Jerusalem, met leërs omsingel word, die beleërde inwoners tot honger en dood gedryf word, hoe moeders hulself met die lyke van hul eie kinders voed en hoe beide ouers en kinders die laaste brokkie voedsel voor mekaar wegraap, terwyl natuurlike liefde deur knaende hongerpyne vernietig word. Hy het gesien dat die koppigheid van die Jode, soos blyk uit hul verwerping van Sy verlossing, daartoe sou lei dat hulle weier om hulle aan die invallende leërs te onderwerp. Hy het gesien hoe Golgota, waarop Hy opgehef sou word, vol kruise so dig soos ‘n woud staan. Hy het gesien hoe die ellendige inwoners op die pynbank en aan die kruis gemartel word, met die pragtige paleise verwoes, die tempel in puin gelê en van die massiewe mure nie een klip op die ander oorgebly het nie, terwyl die stad soos ‘n landery omgeploeg word. Tereg kon die Heiland met sieleangs by die aanskouing van hierdie vreesaanjaende toneel ween. DKvDE 625.2

Jerusalem was die kind van Sy sorg en soos ‘n tere vader oor ‘n eiesinnige seun treur, so het Jesus oor die geliefde stad getreur. Hoe kan Ek van jou afsien? Hoe kan Ek jou, aan verwoesting oorgegee, aanskou? Moet Ek jou toelaat om die beker van jou ongeregtigheid vol te maak? Een siel is so waardevol dat, in vergelyking daarmee, wêrelde in onbeduidendheid wegsink; maar hier sou ‘n hele volk verlore gaan. Wanneer die vinnig-ondergaande son uit die hemel sou verdwyn, sou Jerusalem se dag van genade beëindig word. Terwyl die optog op die kruin van die Olyfberg getalm het, was dit nog nie te laat vir Jerusalem om tot inkeer te kom nie. Die engel van genade het sy vlerke gevou om van die goue troon af te klim om plek vir geregtigheid en ‘n spoedige oordeel te maak. Maar Christus se groot, liefdevolle hart het steeds vir Jerusalem, wat Sy genade versmaai het, Sy waarskuwings geminag het en op die punt was om haar hande met Sy bloed te bevlek, gepleit. As Jerusalem tog maar tot inkeer wou kom, was dit nog nie te laat nie. Terwyl die laaste strale van die ondergaande son op die tempel, torings en kruin gehuiwer het, kon daar nie een of ander engel haar na die liefde van die Verlosser lei en haar ondergang afwend nie? Pragtige en onheilige stad, wat die profete gestenig het, wat die Seun van God verwerp het, wat haarself deur haar onboetvaardigheid in slawerny geboei het-haar dag van genade was byna verby! DKvDE 626.1

Die Gees van God het weereens tot Jerusalem gespreek. Voordat die dag verby was, is daar weer vir Christus getuig. Die stem van ‘n getuie wat op die oproep uit ‘n profetiese verlede reageer het, het verrys. Indien Jerusalem gehoor aan die roepstem sou gee en indien sy die Verlosser, wat nou deur haar poorte gaan sou ontvang, kon sy nog gered word. DKvDE 627.1

Berigte het die owerstes in Jerusalem bereik dat Jesus die stad met ‘n groot menigte nader. Maar hulle het geen verwelkoming vir die Seun van God gehad nie. Uit vrees het hulle Hom tegemoetgegaan in die hoop om die skare uiteen te jaag. Terwyl die optog op die punt was om van die Olyfberg af te daal, is dit deur die owerstes onderskep. Hulle het na die oorsaak van die dawerende gejuig verneem. Toe hulle vra: “Wie is hierdie man?”, het die dissipels, gevul met die Gees van Inspirasie, die vraag beantwoord. In welsprekende geesdrif het hulle die profesieë aangaande Christus herhaal: DKvDE 627.2

Adam sal vir julle sê: Dit is die Saad van die vrou wat die kop van die slang sou vermorsel. DKvDE 627.3

Vra Abraham, en hy sal vir julle sê: Dit is “...Melgisédek, die koning van Salem...” die Vredevors. (Genesis 14:18). DKvDE 627.4

Jakob sal vir julle vertel: Hy is Silo uit die stam van Juda. DKvDE 627.5

Jesaja sal vir julle sê: “Immanuel ... Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.” (Jesaja 7:14;9:5). DKvDE 627.6

Jeremia sal vir julle sê: Die Spruit van Dawid, “...die Here ons geregtigheid.” (Jeremia 23:6). DKvDE 627.7

Daniël sal vir julle sê: Hy is die Messias. DKvDE 627.8

Hosea sal vir julle sê: Hy is “...Here God van die leërskare, Here is Sy gedenknaam.” (Hosea 12:6). DKvDE 627.9

Johannes die Doper sal vir julle sê: “Die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Johannes 1:29). DKvDE 628.1

Die grote Jehova het van Sy troon af verklaar: “Dit is my geliefde Seun, in wie Ek ‘n welbehae het.” (Mattheus 3:17). DKvDE 628.2

Ons, Sy dissipels, verklaar: Dit is Jesus, die Messias, die Vors van die Lewe, die Verlosser van die wêreld. DKvDE 628.3

En die vors van die magte van die duisternis erken Hom en sê: “Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!” (Markus 1:24). DKvDE 628.4