Die Koning van die Eeue

63/88

Hoofstuk 62—Die Feesmaal in Simon se huis *

Simon van Betanië was as ‘n dissipel van Jesus beskou. Hy was een van die min Fariseërs wat openlik by Jesus se volgelinge aangesluit het. Hy het Jesus as ‘n leraar erken en het gehoop dat Hy moontlik die Messias sou wees, maar het Hom nie as Verlosser aangeneem nie. Sy karakter was nie vernuwe nie; sy beginsels was onveranderd. DKvDE 603.1

Simon is van melaatsheid genees en dit het hom na Jesus aangetrek het. Hy wou graag sy dankbaarheid betoon en met Christus se laaste besoek aan Betanië het hy ‘n feesmaal vir die Verlosser en Sy dissipels voorberei. Hierdie fees het baie van die Jode byeengebring. Daar het in hierdie tyd baie opgewondenheid in Jerusalem geheers. Christus en Sy sending het groter aandag as ooit tevore getrek. Diegene wat na die fees gekom het, het Sy bewegings fyn dopgehou, sommige met onvriendelike oë. DKvDE 603.2

Die Verlosser het Betanië slegs ses dae voor die Pasga bereik en volgens Sy gebruik, het hy na rus in die huis van Lasarus gesoek. Die menigte reisigers wat deur die stad beweeg het, het die tyding dat Hy op pad na Jerusalem was, versprei en dat Hy gedurende die Sabbat in Betanië sou rus. Groot geesdrif het onder die mense geheers. Baie het na Betanië gestroom, sommige uit meegevoel met Jesus en ander uit nuuskierigheid om iemand wat uit die dood opgewek is te sien. DKvDE 603.3

Baie het verwag om van Lasarus ‘n wonderlike weergawe van tonele wat na sy dood gesien is, te verneem. Hulle was verbaas dat hy hulle niks vertel het nie. Hy het niks hieroor te sê gehad nie. Die Bybel sê: “Die dooies weet glad niks nie... Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn.” (Prediker 9:5,6). Maar Lasarus het wel ‘n getuienis aangaande die werk van Christus gehad. Vir hierdie doel was hy uit die dood opgewek. Met sekerheid en krag het hy verklaar dat Jesus die Seun van God was. DKvDE 603.4

Die verslae wat deur die besoekers aan Betanië na Jerusalem teruggeneem is, het die opwinding verhoog. Die mense was gretig om Jesus te sien en te hoor. Daar was ‘n algemene vraag of Lasarus Hom na Jerusalem sou vergesel en of die Profeet tydens die Pasga tot koning gekroon sou word. Die priesters en owerstes het gesien dat hul houvas op die volk steeds verswak en hulle woede teen Jesus het al hoe meer toegeneem. Hulle kon skaars wag op ‘n geleentheid om vir goed van Hom ontslae te raak. Met verloop van tyd het hulle begin vrees dat Hy moontlik nie na Jerusalem sou kom nie. Hulle het onthou hoe dikwels Hy hul moorddadige planne verydel het en hulle het begin vrees dat Hy nou van hul voornemens teen Hom bewus was en sou wegbly. Hulle kon skaars hul angs verberg en het onder mekaar gevra: “Wat dink julle, sal Hy nie na die fees kom nie?” DKvDE 604.1

'n Raadsvergadering van die priesters en Fariseërs is byeengeroep. Sedert die opwekking van Lasarus het die volk hulle so volkome aan die kant van Christus geskaar, dat dit gevaarlik sou wees om Hom openlik gevange te neem. Daarom het die owerhede besluit om Hom heimlik te arresteer en die verhoor so stil moontlik af te handel. Hulle het gehoop dat wanneer die veroordeling bekend geword het, die wispelturige gety van die openbare mening in hul guns sou swaai. DKvDE 604.2

So het hulle hul voorgeneem om Jesus te vernietig. Maar solank Lasarus gelewe het, het die priesters en die rabbi’s geweet dat hulle nie veilig was nie. Die bestaan van ‘n man wat vier dae in die graf was en wat deur ‘n woord van Jesus uit die dood opgewek is, sou vroeër of later reaksie uitlok. Die volk sou hulle op hul leiers wreek omdat hulle Een gedood het wat so ‘n wonderwerk kon verrig. Die Sanhedrin het dus besluit dat Lasarus ook moet sterf. Die haat en ongeloof van die Joodse leiers het tot so mate toegeneem, dat hulle selfs die lewe van iemand wat deur Oneindige Mag uit die dood opgewek is, sou neem. DKvDE 604.3

Terwyl hierdie sameswering in Jerusalem aan die gang was, is Jesus en Sy vriende na Simon se feesmaal genooi. Aan tafel het die Verlosser met Simon, wat Hy van ‘n afskuwelike siekte genees het aan sy een kant gesit en Lasarus, wat Hy uit die dode opgewek het aan die ander kant. Martha het die gaste bedien, maar Maria het ernstig na elke woord wat oor die lippe van Jesus gekom het, geluister. In Sy genade het Jesus haar sondes vergewe. Hy het haar geliefde broer uit die graf uit opgeroep en Maria se hart was met dankbaarheid gevul. Sy het Jesus van Sy naderende dood hoor praat en in haar innige liefde en hartseer, wou sy Hom graag vereer. Teen groot persoonlike opoffering het sy ‘n albastefles met “...kosbare nardussalf...” gekoop om Sy liggaam mee te salf. Maar nou het baie mense verklaar dat Hy op die punt was om tot koning gekroon te word. Haar hartseer het in vreugde verander en sy was gretig om eerste te wees om haar Heer te vereer. Toe breek sy die fles salf, gooi die inhoud daarvan op die hoof en voete van Jesus uit; en terwyl sy huilend neergekniel het, het sy dit met haar trane afgewas en Sy voete met haar lang, loshangende hare drooggemaak. DKvDE 605.1

Sy het gepoog om dit ongemerk te doen en haar bewegings sou moontlik ongesiens verbygegaan het, maar die salf het die vertrek met sy geur gevul en haar optrede aan die aanwesiges verraai. Judas het hierdie daad met misnoeë aanskou. In plaas daarvan om te wag en te hoor wat Jesus oor die saak sou sê, het hy in ‘n fluisterstem sy misnoeë aan die mense naaste aan hom te kenne gegee en Christus verwyt omdat Hy sulke verkwisting toegelaat het. Listig het hy dinge geïnsinueer wat ontevredenheid kon veroorsaak. DKvDE 605.2

Judas was die dissipels se tesourier en van die klein hoeveelheid fondse wat hulle gehad het, het hy heimlik vir sy eie gebruik aangewend en sodoende hul hulpbronne tot ‘n skamele bedraggie verminder. Hy was gretig om alles wat hy kon in die beurs te sit. Die geld in die beurs was dikwels aangewend om die armes te help; en wanneer daar iets gekoop was wat as oorbodig deur Judas beskou was, sou hy sê: Waarom hierdie verkwisting? Waarom is die geld daarvoor nie in die beurs wat ek vir die armes dra geplaas nie? Maria se daad was in so ‘n duidelike kontras met sy selfsug, dat hy beskaamd gestaan het; en soos oudergewoonte, moes hy ‘n waardige motief vir sy beswaar teen haar geskenk voorhou. Hy het hom tot die dissipels gewend en gevra: “Waarom is hierdie salf nie vir driehonderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee nie? En dit het hy gesê, nie omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy ‘n dief was en die beurs gehad het en die bydraes geneem het.” Judas het geen medelye met die armes gehad nie. Indien Maria se salf verkoop sou word en die geld in sy besit sou kom, sou die armes geen baat daarby gevind het nie. DKvDE 606.1

Judas het ‘n hoë dunk van sy eie bestuursvernuf gehad. As finansier het hy homself grootliks meerderwaardig bo sy mededissipels beskou en hulle beïnvloed om hom in dieselfde lig te sien. Hy het hul vertroue gewen en ‘n sterk invloed oor hulle uitgeoefen. Sy geveinsde meegevoel vir die armes het hulle mislei en sy listige insinuasie het veroorsaak dat hulle Maria se toewyding met wantroue bejeën het. Rondom die tafel is gemurmureer: “Waarvoor is hierdie verkwisting? Want hierdie salf kon duur verkoop en die geld aan die armes gegee gewees het.” DKvDE 606.2

Maria het die woorde van kritiek gehoor. Haar hart het innerlik gebewe. Sy was bang dat haar suster haar oor die oordadigheid sou aanspreek. Die Meester kon moontlik ook dink dat sy spandabelrig is. Sonder verweer of verskoning, was sy op die punt om weg te sluip, toe die stem van haar Here gehoor is: “Laat haar staan, waarom val julle haar lastig?” Hy het gesien dat sy verleë en ontsteld was. Hy het geweet dat sy deur hierdie daad, haar dankbaarheid vir die vergifnis van haar sondes betoon het en Hy het haar gerusgestel. Toe verhef Hy Sy stem bo die gemompel van kritiek en sê: “Sy het ‘n goeie werk aan My gedoen. Want die armes het julle altyd by julle en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen; maar My het julle nie altyd nie. Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al My liggaam vir die begrafnis gesalf.” DKvDE 606.3

Die geurige geskenk wat Maria op die dooie liggaam van die Heiland wou uitstort, het sy nou op Sy lewende liggaam uitgestort. By die begrafnis sou die soet geur slegs die graf deurtrek het; nou het dit Sy hart met die versekering van haar geloof en liefde verbly. Josef van Arimathea en Nikodemus het nie hul geskenk van liefde aan Jesus gedurende Sy lewe aangebied nie. Met bittere trane het hulle hul duur speserye vir Sy koue, onbewuste liggaam gebring. Die vroue wat hul speserye na die graf gebring het, het dit tevergeefs gedoen, want Hy het opgestaan. Maar Maria het haar liefde op die Heiland uitgestort terwyl Hy van haar toewyding bewus was en sy het Hom vir die begrafnis gesalf. En toe Hy in die duisternis van Sy groot beproewing neergedaal het, het Hy die herinnering aan hierdie daad saamgeneem; die erns van die liefde wat Hy vir ewig van Sy verlostes sou ontvang. DKvDE 607.1

Daar is baie wat hul kosbare geskenke vir die dode bring. Terwyl hulle om die koue stil vorm staan, word woorde van liefde vrylik uitgespreek. Teerheid, waardering, toewyding, alles word op iemand wat nie kan sien of hoor nie, uitgestort. As hierdie woorde uitgespreek was toe die vermoeide gees dit so nodig gehad het, toe die oor kon hoor en die hart kon voel, hoe kosbaar sou hul geur nie gewees het nie! DKvDE 607.2

Maria het die volle betekenis van haar liefdesdaad nie besef nie. Sy kon haar beskuldigers nie antwoord nie. Sy kon nie verduidelik waarom sy hierdie geleentheid gekies het om Jesus te salf nie. Die Heilige Gees het haar gelei en sy het Sy versoeke gehoorsaam. Inspirasie bied geen redes nie. Dit is ‘n Onsigbare Teenwoordigheid wat die verstand, hart en siel beweeg om, deur Sy eie regverdiging, tot aksie oor te gaan. DKvDE 607.3

Christus het aan Maria die betekenis van haar daad meegedeel en hierdeur het Hy aan haar meer gegee as wat Hy ontvang het. “Toe sy hierdie salf op My liggaam uitgegooi het...” het Hy gesê, “...het sy dit gedoen met die oog op My begrafnis.” Soos die albastefles gebreek is en die hele huis met sy geur gevul het, so sou Christus sterf en Sy liggaam gebreek word; maar Hy sou uit die graf uit opstaan en die geur van Sy lewe sou die aarde vul. Christus het ons liefgehad en Hom vir ons oorgegee “...as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur.” (Efesiërs 5:2). DKvDE 608.1

“Voorwaar Ek sê vir julle...” het Christus gesê, “...oral waar hierdie evangelie oor die hele wêreld verkondig word, daar sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot ‘n gedagtenis aan haar.” Met ‘n blik op die toekoms, het die Heiland met sekerheid van Sy evangelie gepraat. Dit moes regoor die wêreld verkondig word. En sover as wat die evangelie sou uitbrei, sou die geskenk van Maria sy geur versprei en sou harte deur haar spontane daad geseën word. Koninkryke sou verrys en val; die name van vorste en veroweraars sou vergeet word; maar die daad van hierdie vrou sou op die bladsye van die heilige geskiedenis verewig word. Totdat tyd nie meer sou bestaan nie, sou daardie gebreekte albastefles die verhaal van die oorvloedige liefde van God vir ‘n gevalle ras vertel. DKvDE 608.2

Maria se daad het ‘n duidelike kontras met wat Judas op die punt was om te doen, gevorm. Wat ‘n skerp les kon Christus hom, wat die saad van kritiek en bose gedagtes by die dissipels gesaai het, gegee het! Hoe tereg kon die beskuldiger nie beskuldig word nie! Hy wat die motiewe van elke hart lees en elke optrede verstaan, kon moontlik aan die feesgangers donker hoofstukke in die lewe van Judas blootlê. Die hol voorgee waarop die verraaier sy woorde gebaseer het, kon aan die kaak gestel gewees het; want in plaas van meegevoel met die armes, het hy hulle van die geld wat vir hulle verligting bedoel was, beroof. Verontwaardiging kon teen hom opgewek gewees het oor sy onderdrukking van die weduwees, die wese en die dagloners. Maar indien Christus Judas sou ontmasker het, sou dit as ‘n rede vir die verraad aangespoor gewees het. En al was hy as ‘n dief beskuldig, sou Judas simpatie ontvang het, selfs onder die dissipels. Die Heiland het hom nie verwyt nie en sodoende vermy dat hy enige verskoning vir sy verraad kon bied. DKvDE 608.3

Maar die blik wat Jesus op Judas gewerp het, het hom oortuig dat die Heiland sy skynheiligheid deurgrond het en sy gemene, veragtelike karakter gelees het. En in Sy lof vir Maria se optrede wat so hewig veroordeel is, het Christus Judas bestraf. Voorheen het die Heiland hom nog nooit regstreeks bestraf nie. Nou het die teregwysing in sy hart geskryn. Hy het besluit om hom te wreek. Vanaf die eettafel het hy direk na die paleis van die hoëpriester gegaan, waar hy die raad byeen gevind het en aangebied om Jesus in hulle hande te verraai. DKvDE 609.1

Die priesters was verheug. Hierdie leiers van Israel het die voorreg gehad om Christus as hul Verlosser te ontvang, sonder geld en sonder prys. Maar hulle het die kosbare geskenk, wat aan hulle in die teerste gees van dwingende liefde gebied is, geweier. Hulle het geweier om die verlossing wat meer as goud werd is, te aanvaar en hulle Heer vir dertig silwerstukke gekoop. DKvDE 609.2

Judas het aan sy hebsug toegegee, totdat dit elke goeie eienskap in sy karakter oorrompel het. Hy het die offer aan Jesus misgun. Sy hart het gebrand van afguns omdat die Heiland ‘n geskenk, wat vir die vorste van die aarde geskik was, ontvang het. Vir ‘n bedrag wat veel minder as die nardussalf was, het hy sy Heer verraai. DKvDE 609.3

Die dissipels was nie soos Judas nie. Hulle het die Verlosser liefgehad. Maar hulle het Sy verhewe karakter nie na regte waardeer nie. Indien hulle besef het wat Hy vir hulle gedoen het, sou hulle gevoel het dat niks wat aan Hom gegee was, verkwis was nie. Die wyse manne uit die Ooste, wat so min van Jesus geweet het, het ‘n beter waardering vir die eer wat Hom toekom getoon. Hulle het kosbare geskenke vir die Verlosser gebring en met huldebetuigings voor Hom neergebuig toe Hy nog ‘n babatjie in ‘n krip was. DKvDE 610.1

Christus waardeer dade van opregte hoflikheid. Wanneer iemand aan Hom ‘n guns bewys het, het Hy die dader met hemelse beleefdheid geseën. Hy het nie die eenvoudigste blom wat deur die hand van ‘n kind gepluk en in liefde aan Hom gebied is, geweier nie. Hy het die offers van kinders aangeneem en die gewers geseën deur hul name in die boek van die lewe te skryf. In die Skrif word genoem dat Maria se salwing van Jesus, haar van die ander Marias onderskei het. Dade van liefde en eerbied vir Jesus, is ‘n bewys van geloof in Hom as die Seun van God. En die Heilige Gees noem, as bewys van die vrou se lojaliteit teenoor Christus, dat sy “...die voete van die heiliges gewas het, verdruktes gehelp en elke goeie werk nagestreef het.” (1 Timotheus 5:10). DKvDE 610.2

Christus het Hom in Maria se verlange om die wil van haar Here te doen, verheug. Hy het die rykdom van suiwer liefde, wat sy dissipels nie kon verstaan nie, aanvaar. Die begeerte van Maria om hierdie diens aan haar Heer te bewys, was vir Christus van meer waarde as al die kosbare salf in die wêreld, omdat dit uitdrukking aan haar waardering vir die Verlosser van die wêreld gegee het. Dit was die liefde van Christus wat haar gedring het. Die weergalose uitnemendheid van die karakter van Christus het haar wese gevul. Daardie salf was ‘n simbool van die hart van die gewer. Dit was die uiterlike betoning van ‘n liefde wat deur hemelse strome gevoed is totdat dit oorgeloop het. DKvDE 610.3

Maria se daad was net die les wat die dissipels nodig gehad het om aan hulle te toon dat Christus die uitdrukking van hul liefde vir Hom sal waardeer. Hy was alles vir hulle en hulle het nie besef dat hulle binnekort van Sy teenwoordigheid ontneem sou word nie en dat hulle dan geen dankbaarheid aan Hom sou kon betoon vir Sy groot liefde nie. Die eensaamheid van Christus, geskei van die hemelse howe en in Sy menswees, was nooit werklik deur die dissipels verstaan of waardeer soos dit moes gewees het nie. Hy was dikwels bedroef omdat Sy dissipels nie aan Hom gegee het wat Hy van hulle moes ontvang nie. Hy het geweet dat indien hulle onder die invloed van die hemelse engele wat Hom vergesel het was, hulle ook geen offer as waardevol genoeg sou geag het om die geestelike liefde van die hart te betoon nie. DKvDE 611.1

Hulle na-kennis het hulle ‘n ware besef gegee van die baie dinge wat hulle moontlik vir Jesus kon gedoen het, wat uitdrukking aan die liefde en dankbaarheid van hulle harte kon gee terwyl hulle naby Hom was. Toe Jesus nie langer by hulle was nie en hulle inderdaad soos skape sonder ‘n herder gevoel het, het hulle begin insien hoe hulle klein gebare, wat vreugde in Sy hart sou gebring het, vir Hom kon verrig het. Hulle het nie langer vir Maria kwalik geneem nie, maar hulleself. Ag, as hulle tog net hul kritiek, wat die armes as meer verdienstelik vir die geskenk as vir Christus beskou het, kon terugtrek! Hulle het die teregwysing skerp ervaar toe hulle die gekneusde liggaam van hul Here van die kruis afhaal. DKvDE 611.2

Dieselfde leemte bestaan vandag in ons wêreld. Baie min mense waardeer alles wat Christus vir hulle beteken. As hulle dit besef het, sou hulle die groot liefde van Maria betoon het en sou die salwing vrylik geskenk gewees het. Die duur salf sou nie ‘n verkwisting genoem gewees het nie. Niks sou as te duur beskou word om aan Christus te skenk nie en geen selfverloëning of selfopoffering te groot om ter wille van Hom verduur te word nie. DKvDE 611.3

Die woorde van verontwaardiging: “Waarvoor is hierdie verkwisting?” het die grootste offer wat ooit gemaak is, lewendig voor Christus gebring-die gawe van Homself as die versoening vir ‘n verlore wêreld. Die Here sou so milddadig teenoor die mensdom wees, dat daar nie van Hom gesê sou kon word dat Hy meer kon gedoen het nie. In die gawe van Jesus het God die ganse hemel gegee. Vanuit ‘n menslike oogpunt, was so ‘n opoffering roekelose verkwisting. Menslik gesproke is die hele verlossingsplan ‘n verkwisting van genade en hulpbronne. Oral kom ons selfverloëning en heelhartige opoffering teë. Die hemelse leërskare kan wel verbaas na die mensdom kyk wat weier om met die oneindige liefde wat in Christus tot uitdrukking kom, opgehef en verryk te word. Hulle sou wel kon uitroep: Waarvoor hierdie groot verkwisting? DKvDE 612.1

Maar die versoening vir ‘n verlore wêreld sou volledig, oorvloedig en volkome wees. Die offer van Christus was buitengewoon oorvloedig om elke siel wat God geskape het, te bereik. Dit kon nie beperk word dat dit nie die aantal wat die groot geskenk sou aanvaar, sou oorskry nie. Nie alle mense word gered nie; tog is die verlossingsplan nie ‘n verkwisting omdat dit nie alles waarvoor oorvloediglik voorsiening gemaak is, bereik nie. Dit moet oorvloedig wees. DKvDE 612.2

Simon, die gasheer, is deur Judas se kritiek op Maria se geskenk beïnvloed en hy was verbaas oor Jesus se optrede. Sy Farisese trots was gekrenk. Hy het geweet dat baie van sy gaste met wantroue en misnoeë na Christus gekyk het. Simon het in sy hart vir homself gesê: “Hy, as Hy ‘n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ‘n sondares.” DKvDE 612.3

Deur Simon van melaatsheid te genees, het Christus hom van ‘n lewende dood gered. Maar nou het Simon getwyfel of die Heiland ‘n profeet was. Omdat Christus toegelaat het dat die vrou Hom nader, omdat Hy haar nie met verontwaardiging berispe het as een wie se sondes te groot was om vergewe te word nie, omdat Hy nie getoon het dat Hy besef het sy was ‘n gevalle vrou nie, was Simon in die versoeking om te dink dat Hy nie ‘n profeet was nie. Jesus het niks van hierdie vrou, wat so vrypostig was, geweet nie, het hy gedink, of Hy sou nie toegelaat het dat sy aan Hom raak nie. DKvDE 612.4

Maar dit was Simon se onkunde aangaande God en Christus wat hom laat dink het soos hy gedink het. Hy het nie besef dat die Seun van God soos God, met medelye, teerheid en barmhartigheid, moet optree nie. Simon se houding was om geen notisie van Maria se boetvaardige diens te neem nie. Haar daad om Christus se voete te soen en te salf, het hom omgekrap. Hy het gedink dat, as Christus ‘n profeet was, Hy sondaars sou herken en bestraf het. DKvDE 613.1

Op hierdie onuitgesproke gedagtes het die Verlosser geantwoord: “Simon, Ek het iets om jou te sê ... ‘n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig; en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan al twee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê? En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel die een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel.” DKvDE 613.2

Soos Natan met Dawid gedoen het, het Christus sy teregwysing onder die dekmantel van ‘n gelykenis verberg. Hy het dit aan sy gasheer oorgelaat om oor homself te oordeel. Simon het die vrou wat hy nou geminag het, in sonde verlei. Sy was diep deur hom veronreg. Simon en die vrou het die twee skuldenaars verteenwoordig. Dit was nie Jesus se bedoeling dat verskillende grade van verpligting deur die twee persone ervaar moes word nie, want elkeen was dank verskuldig wat nooit terugbetaal kon word nie. Maar Simon het homself meer regverdig as Maria geag en Jesus wou hê hy moes sien hoe groot sy skuld werklik was. Hy sou aan hom toon dat sy skuld groter as hare was, soveel groter as wat ‘n skuld van vyfhonderd pennings teenoor ‘n skuld van vyftig pennings is. DKvDE 613.3

Simon het homself nou in ‘n nuwe lig begin sien. Hy het gesien hoe Maria deur Een wat meer as ‘n profeet was, bejeën word. Hy het gesien dat Christus haar hart van liefde en toewyding met ‘n skerp profetiese oog gelees het. Hy het skaam geword en besef dat hy in die teenwoordigheid was van Een wat bo hom verhewe was. DKvDE 614.1

“Ek het in jou huis gekom...” het Christus voortgegaan, “...water het jy nie vir my voete gegee nie; maar Maria het, met trane van berou, deur liefde gedring, My voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog. ‘n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy [wat jy verag] het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie.” Christus het Simon op die geleenthede wat hy gehad het om sy liefde vir sy Heer te betoon gewys, asook sy waardering vir wat Hy vir hom gedoen het. Duidelik, maar met fyn beleefdheid, het die Redder sy dissipels laat verstaan dat Sy hart bedroef is wanneer Sy kinders versuim om hul dank teenoor Hom deur woorde en dade van liefde te betoon. DKvDE 614.2

Die Ondersoeker van Harte het die motief deurvors wat gelei het tot Maria se optrede en Hy het ook die gees wat Simon se woorde aangespoor het, gesien: “Sien jy hierdie vrou?” het Hy vir hom gesê, sy is ‘n sondares. “Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.” DKvDE 614.3

Simon se kilheid en versuim teenoor die Heiland het getoon hoe weinig hy die genade wat hy ontvang het, gewaardeer het. Hy het gedink dat hy Jesus eer deur Hom na sy huis te nooi. Maar nou het hy homself gesien soos hy werklik was. Waar hy gedink het hy sien deur sy Gas, was dit sy Gas wat deur hom gesien het. Hy het besef hoe korrek Christus se oordeel oor hom was. Sy godsdiens was ‘n kleed van Fariseïsme. Hy het die medelye van Jesus geminag. Hy het Hom nie as die Verteenwoordiger van God herken nie. Terwyl Maria se sondes vergewe was, was hy ‘n sondaar wat nie vergifnis ontvang het nie. Die rigiede reël van geregtigheid wat hy op haar wou toepas, het hom veroordeel. DKvDE 614.4

Simon is deur die goedhartigheid van Jesus aangeraak, omdat Hy hom nie openlik voor die gaste berispe het nie. Hy het nie die behandeling wat hy vir Maria begeer het, ontvang nie. Hy het gesien dat Jesus nie sy skuld voor ander aan die kaak wou stel nie, maar probeer het om hom met ‘n opregte uiteensetting van die saak te oortuig en sy hart met deernisvolle goedhartigheid te wen. Streng veroordeling sou Simon teen berou verhard het, maar ‘n geduldige vermaning het hom van sy dwaling oortuig. Hy het die omvang van die skuld wat hy aan sy Heer verskuldig was, besef. Sy trots is verneder, hy het berou getoon en die trotse Fariseër het ‘n nederige, selfopofferende dissipel geword. DKvDE 615.1

Maria was as ‘n groot sondaar beskou, maar Christus het die omstandighede wat haar lewe gevorm het, geken. Hy kon elke vonkie hoop in haar siel geblus het, maar Hy het nie. Dit was Hy wat haar uit haar wanhoop en ondergang opgehef het. Sy het sewe keer gehoor hoe Hy die demone bestraf wat haar hart en verstand beheer het. Sy het Sy sterk oproep tot die Vader namens haar gehoor. Sy het geweet hoe afstootlik die sonde vir Sy vlekkelose reinheid was en in Sy krag het sy oorwin. DKvDE 615.2

Toe haar geval, menslik gesproke, hopeloos voorgekom het, het Christus die goeie hoedanighede in haar raakgesien. Hy het die beter eienskappe van haar karakter raakgesien. Die verlossingsplan het groot moontlikhede in die mensdom belê en in Maria sou hierdie moontlikhede verwesenlik word. Deur Sy genade het sy die Goddelike natuur deelagtig geword. Die een wat geval het en wie se gees die woonplek van duiwels geword het, is baie na aan die Verlosser in gemeenskap en diens gebring. Dit was Maria wat aan Sy voete gesit en van Hom geleer het. Dit was Maria wat die kosbare olie op Sy hoof uitgegiet het en Sy voete met haar trane gewas het. Maria het langs die kruis gestaan en Hom na die graf gevolg. Maria was die eerste by die graf na Sy opstanding. Dit was Maria wat eerste die opgestane Verlosser aangekondig het. DKvDE 615.3

Jesus ken die omstandighede van elke siel. Jy mag sê: Ek is sondig, baie sondig. Miskien is jy; maar hoe sondiger jy is, hoe meer het jy Jesus nodig. Hy wys geen wenende, berouvolle siel weg nie. Hy vertel nie aan ander alles wat Hy bekend kan maak nie, maar Hy bemoedig elke bewende siel. Hy sal almal wat na Hom toe kom vir vergifnis en herstel, vryelik vergewe. DKvDE 616.1

Christus kan die engele van die hemel beveel om die skale van Sy toorn oor die wêreld uit te stort en almal wat met haat teenoor God vervul is, te verdelg. Hy kan hierdie donker kol uit Sy heelal uitwis. Maar Hy doen dit nie. Hy staan vandag by die wierookaltaar en bied aan God die gebede van diegene wat Sy hulp verlang. DKvDE 616.2

Jesus verhef die siele wat hulle tot Hom wend vir skuiling en lig hulle uit, bo die beskuldigings en getwis van tonge. Geen mens of bose engel kan hierdie siele beskuldig nie. Christus verenig hulle met Sy eie Goddelik-menslike natuur. Hulle staan langs die groot Sondedraer, in die lig wat van die troon van God uitgaan. “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” (Romeine 8:33, 34). DKvDE 616.3