Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 59—Priesterlike Komplotte *
Betanië was so naby aan Jerusalem, dat die tyding van Lasarus se opwekking uit die dood, spoedig na die stad uitgebrei het. Deur middel van spioene wat die wonderwerk aanskou het, was die Joodse owerstes spoedig in besit van die feite. ‘n Vergadering van die Sanhedrin is dadelik belê om te besluit wat gedoen moet word. Christus het Sy mag oor die dood en die graf nou ten volle geopenbaar. Hierdie magtige wonderwerk was die kroon-getuienis wat God aan die mens gebied het dat Hy Sy Seun na die wêreld gestuur het, vir hul redding. Dit was ‘n demonstrasie van Goddelike mag wat voldoende was om elke verstand wat onder die beheer van rede en ‘n verligte gewete was, te oortuig. Baie wat ‘n getuie van die opstanding van Lasarus was, is gelei om in Jesus te glo. Maar die haat van die priesters vir hom het toegeneem. Hulle het alle geringer bewyse van Sy Goddelikheid verwerp en hulle was verwoed oor hierdie nuwe wonderwerk. Die dooie is in volle daglig en voor ‘n skare getuies opgewek. Geen listigheid kon sulke getuienis wegredeneer nie. En juis om hierdie rede het die vyandigheid van die priesters dodeliker geword. Hulle was meer as ooit vasbeslote om ‘n einde aan Christus se werk te maak. DKvDE 583.1
Hoewel die Sadduseërs Christus nie goedgesind was nie, was hulle nie so kwaadwillig teenoor Hom soos die Fariseërs nie. Hulle haat was nie so bitter nie. Maar nou was hulle deeglik onthuts. Hulle het nie in die opstanding van die dooies geglo nie. Met sogenaamde wetenskaplike redenasies het hulle beweer dat dit onmoontlik was om ‘n dooie liggaam weer lewend te maak. Maar met ‘n paar woorde het Christus hulle teorie omvergewerp. Hulle onkunde in beide die Skrif en die krag van God is aan die kaak gestel. Hulle kon geen moontlikheid sien om die indruk wat deur die wonderwerk op die mense gemaak is, ongedaan te maak nie. Hoe kan mense van Hom, wat die graf van sy dode beroof, weggelok word? Vals berigte is in omloop gebring, maar die wonderwerk kon nie ontken word nie en hulle het nie geweet hoe om die effek daarvan teë te werk nie. Tot dusvêr het die Sadduseërs die plan om Christus om die lewe te bring, nie gesteun nie. Maar na die opstanding van Lasarus het hulle besluit dat Sy vreeslose veroordelings teen hulle slegs deur sy dood stilgemaak kon word. DKvDE 583.2
Die Fariseërs het in die opstanding geglo en hulle kon nie anders as om in hierdie wonderwerk ‘n bewys te sien dat die Messias onder hulle was nie. Maar hulle het Christus se werk altyd teëgestaan. Hulle het Hom uit die staanspoor gehaat omdat Hy hul skynheilige voorgee aan die lig gebring het. Hy het die mantel van streng rituele wat hul morele gebrek verberg het, oopgeskeur. Die suiwer godsdiens wat Hy geleer het, het hul hol bewerings van vroomheid veroordeel. Hulle het na wraak gesmag oor Sy skerp teregwysings. Hulle het probeer om Hom uit te lok om iets te sê of te doen wat hulle die geleentheid sou gee om Hom te veroordeel. Hulle het verskeie kere probeer om Hom te stenig, maar Hy het Hom stilweg onttrek en hulle het Hom uit die oog verloor. DKvDE 584.1
Die wonderwerke wat Hy op die Sabbat verrig het, was almal ter verligting van die geteisterdes, maar die Fariseërs het probeer om Hom as Sabbatskender te veroordeel. Hulle het probeer om die Herodiane teen Hom op te stook. Hulle het aangevoer dat Hy ‘n mededingende koninkryk wou oprig en met hulle beraadslaag oor hoe om Hom om die lewe te bring. Om die Romeine teen Hom aan te hits, het hulle beweer dat Hy hul gesag probeer ondermyn. Hulle het elke voorwendsel aangewend om Hom te verhinder om die mense te beïnvloed. Maar tot dusver was hul pogings verydel. Die skare wat Sy werke van barmhartigheid gesien het en Sy suiwer en heilige leringe gehoor het, het geweet dat dit nie die dade en woorde van ‘n Sabbatskender of godslasteraar was nie. Selfs die offisiere wat deur die Fariseërs gestuur is, was so deur Sy woorde beïndruk, dat hulle nie die hande op Hom kon lê nie. In desperaatheid het die Jode ‘n bevel uitgevaardig dat enigiemand wat geloof in Jesus bely, uit die sinagoge verban sou word. DKvDE 584.2
Toe die priesters, die owerstes en die ouderlinge dus vir konsultasie byeengekom het, was dit hul vaste voorneme om Hom, wat sulke wonderwerke wat almal verstom het, verrig het, stil te maak. Die Fariseërs en Sadduseërs was nou meer as ooit tevore verenig. Hoewel hulle tot dusver verdeeld was, het hulle nou in hulle teëstand teen Christus verenig. Nikodemus en Josef het die veroordeling van Jesus in voormalige raadsvergaderings verhoed en daarom was hulle nie hierdie keer ontbied nie. Daar was ander invloedryke mans op die raad wat in Jesus geglo het, maar hulle invloed kon nie teen dié van die kwaadwillige Fariseërs standhou nie. DKvDE 585.1
Tog was die lede van die raad dit nie almal eens nie. Die Sanhedrin was op hierdie stadium nie ‘n wettige vergadering nie. Dit het slegs deur verdraagsaamheid ontstaan. Sommige van die lede het die wysheid om Christus dood te maak bevraagteken. Hulle was bang dat dit ‘n opstand onder die volk sou ontketen wat die Romeine sou beweeg om verdere gunste van die priesterdom te weerhou en om die mag wat hulle tans besit van hulle weg te neem. Die Sadduseërs was nou in hul haat teenoor Christus verenig, maar tog was hulle geneig om versigtig te wees, uit vrees dat die Romeine hulle van hul hoë aansien sou ontneem. DKvDE 585.2
In hierdie raad, wat vergader het om die dood van Christus te beplan, was die Getuie wat die verwaande woorde van Nebukadnesar gehoor het teenwoordig ; wat ‘n getuie van die afgodiese fees van Belsasar was; wat teenwoordig was toe Christus Homself in Nasaret as die Gesalfde verklaar het. Hierdie Getuie het die owerstes nou onder die besef van die werk waarmee hulle besig was gebring. Gebeurtenisse in die lewe van Christus het nou met ‘n helderheid, wat hulle ontstel het, voor hulle opgedoem. Hulle het die voorval in die tempel onthou toe Jesus, destyds nog maar ‘n seun van twaalf, voor die skrifgeleerdes gestaan en hulle vrae gevra het wat hulle verwonderd gelaat het. Die wonderwerk wat so pas verrig is, het getuig dat Jesus niemand minder as die Seun van God was nie. In hul ware betekenis, het die geskrifte van die Ou Testament wat na Christus verwys het, deur hulle gedagtes geflits . Verward en bekommerd het die owerstes gevra: “Wat sal ons doen?” Daar was verdeeldheid in die raad. Onder die invloed van die Heilige Gees kon die priesters en owerstes nie die oortuiging dat hulle teen God stry verdryf nie. DKvDE 585.3
Toe die vergadering die hoogtepunt van radeloosheid bereik het, het Kajafas, die hoëpriester, opgestaan. Kajafas was ‘n trotse en wrede man, aanmatigend en onverdraagsaam. Onder sy familiebande was Sadduseërs, trots, onverskrokke, roekeloos, vol ambisie en wreedheid, wat hulle onder ‘n dekmantel van vroomheid verberg het. Kajafas het die profesieë bestudeer en hoewel hy onkundig oor die ware betekenis daarvan was, het hy met gesag en selfversekerdheid gepraat: “Julle weet niks nie en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie.” Al was Jesus onskuldig, het die hoëpriester geredeneer, moet Hy uit die weg geruim word. Hy was lastig, het die volk na Homself getrek en die gesag van die owerstes ondermyn. Hy was net een; dit is beter dat Hy sterf as dat die gesag van die owerstes verswak word. Indien die volk vertroue in hul owerstes sou verloor, sal die nasionale mag vernietig word. Kajafas het daarop aangedring dat die volgelinge van Jesus waarskynlik ná hierdie wonderwerk, in opstand sal kom. Die Romeine sal dan kom, het hy gesê en ons tempel sluit, ons wette afskaf en ons as volk vernietig. Wat is die lewe van hierdie Galileër werd, vergeleke met die lewe van die volk? As Hy in die weg van Israel se welsyn staan, is dit dan nie ‘n diens aan God om Hom te verwyder nie? Dit is beter dat een man omkom as dat die hele volk vernietig word. DKvDE 586.1
In sy verklaring dat een man vir die volk moet sterf, het Kajafas aangedui dat hy ‘n mate van kennis van die profesieë gehad het, hoewel dit baie beperk was. Maar Johannes, in sy verslag van die toneel, het hierdie profesie opgeneem en die breë en dieper betekenis daarvan aangetoon. Hy het verklaar: “En nie alleen vir die volk nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot ‘n eenheid saam te voeg.” Hoe blindelings het die hoogmoedige Kajafas die sending van die Heiland erken! DKvDE 587.1
Op die lippe van Kajafas is die mees kosbare waarheid in ‘n leuen verander. Die beleid wat hy voorgestaan het, het op ‘n beginsel, van die heidendom ontleen, berus. Onder die heidene het die vae besef dat een vir die mensdom sou sterf, gelei tot die offer van menslike offers. So het Kajafas voorgestel om, deur die offer van Jesus, die skuldige nasie te red, nie ván oortreding nie, maar in oortreding, sodat hulle in sonde kon voortgaan. En deur hierdie redenasie het hy gedink om die betogings van diegene wat dit sou waag om te sê dat daar steeds niks wat die dood regverdig het in Jesus gevind is nie, stil te maak. DKvDE 587.2
Deur hierdie raad was die vyande van Christus diep oortuig. Die Heilige Gees het hulle gedagtes beïndruk, maar Satan het gepoog om beheer oor hulle te kry. Hy het hulle aandag op die griewe wat hulle as gevolg van Christus gely het gevestig. Hoe min Hy hul geregtigheid eerbiedig het. Hy het ‘n veel groter geregtigheid aangebied wat almal wat kinders van God wou wees, moes besit. Hy het hul vormgodsdiens en seremonies verontagsaam en sondaars aangemoedig om regstreeks na God as ‘n barmhartige Vader te gaan en hul behoeftes aan Hom bekend te maak. Dus, volgens hulle mening, het Hy die priesterskap ter syde gestel. Hy het geweier om die teologie van die rabbynse skole te erken. Hy het die bose praktyke van die priesters ontbloot en hul invloed onherstelbare skade berokken. Hy het die effek van hul grondbeginsels en tradisies ondermyn deur te verklaar dat hoewel hulle die rituele wette streng toegepas het, hulle die wet van God kragteloos gemaak het. Al hierdie dinge het Satan nou onder hul aandag gebring. DKvDE 587.3
Satan het hulle wysgemaak dat, om hulle gesag te handhaaf, hulle Jesus om die lewe moes bring. Hierdie raad het hulle gevolg. Die feit dat hulle die gesag wat hulle besit het kon verloor was, volgens hulle, voldoende rede om tot ‘n besluit te kom. Die Sanhedrin het die woorde van Kajafas as die woorde van God aanvaar, met die uitsondering van ‘n paar wat dit nie gewaag het om hul menings te lug nie. Verligting het oor die raad gekom; die onmin het opgehou. Hulle het besluit om Christus met die eerste gunstige geleentheid om die lewe te bring. Deur die bewys van die Godheid van Jesus te verwerp, het die priesters en owerstes hulleself in ‘n ondeurdringbare duisternis opgesluit. Hulle het volkome onder die beheer van Satan gekom, om deur hom oor die rand van die ewige afgrond gestort te word. Maar hul misleiding was van so aard dat hulle baie ingenome met hulleself was. Hulle het hulself as patriotte, wat die volk se heil nagestreef het, beskou. DKvDE 588.1
Die Sanhedrin was egter versigtig om oorhaastige maatreëls teen Jesus te tref, sodat die volk nie ontstoke sou raak en die geweld wat hulle teenoor Hom beoog het, teen hulleself gedraai word nie. Daarom het die raad die uitvoering van die vonnis wat hulle teen Hom uitgespreek het, uitgestel. Die Heiland was bewus van die sameswering van die priesters. Hy het geweet dat hulle verlang om van Hom ontslae te raak en dat hulle doel binnekort bereik sou word. Maar dit was nie Sy plek om die krisis te verhaas nie en Hy het Hom uit daardie streek onttrek en Sy dissipels saamgeneem. So het Jesus weer, deur Sy eie voorbeeld, die opdrag wat Hy aan die dissipels gegee het, afgedwing: “...wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe...” (Mattheus 10:23). Daar was ‘n wye veld om vir die redding van siele te werk; en tensy lojaliteit aan Hom dit vereis, moes die Here se knegte nie hul lewens in gevaar stel nie. DKvDE 588.2
Jesus het nou drie jaar van openbare diens aan die wêreld gelewer. Sy voorbeeld van selfverloëning en onbaatsugtige weldadigheid was voor hulle. Sy lewe van reinheid, Sy lyding en toewyding, was aan almal bekend. Tog was hierdie kort tydperk van drie jaar so lank as wat die wêreld die teenwoordigheid van Sy Verlosser kon verduur. DKvDE 589.1
Sy lewe was een van vervolging en belediging. Deur ‘n jaloerse koning uit Betlehem verdryf, deur Sy eie mense in Nasaret verwerp, sonder oorsaak in Jerusalem tot die dood veroordeel, het Jesus met Sy paar getroue volgelinge, ‘n tydelike toevlug in ‘n vreemde stad gevind. Hy wat altyd deur menslike wee aangeraak is, wat die siekes genees het, blindes laat sien het, die dowes laat hoor het en die stommes laat praat het, wat die hongeriges gevoed en die treurendes vertroos het, is van die mense vir wie se redding Hy gewerk het, verdryf. Hy, wat op die deinende golwe geloop het en hul woeste gedruis met ‘n bevel stilgemaak het, wat duiwels, wat Hom as die Seun van God erken het, uitgedryf het, wat die dooies uit hul slaap opgewek het en duisende met Sy woorde van wysheid in vervoering gehad het, was nie by magte om die harte van diegene wat deur vooroordeel en haat verblind was en wat die lig hardnekkig verwerp het, te bereik nie. DKvDE 589.2