Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 60—Die Wet van die Nuwe Koninkryk *
Die tyd van die Pasga was ophande en Jesus het Hom weer na Jerusalem gewend. In Sy hart was die vrede van volkome eenheid met die wil van die Vader en met gretige treë het Hy Hom na die plek van offerandes gewend. Maar ‘n gevoel van geheimsinnigheid, twyfel en vrees het oor die dissipels gekom. Die Heiland “...het voor hulle uit gegaan en hulle was verbaas; en terwyl hulle volg, het hulle gevrees.” DKvDE 590.1
Weer het Christus die Twaalf na Hom geroep en met groter duidelikheid as ooit tevore, het Hy die verraad teen Hom en Sy lyding aan hulle verduidelik. “Kyk...” het Hy gesê, “...ons gaan op na Jerusalem en alles wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die mens vervul word. Want Hy sal oorgelewer word aan die heidene en bespot en mishandel word en op Hom sal gespuug word en nadat hulle Hom gegésel het, sal hulle Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan. Maar hulle het niks hiervan begryp nie en hierdie woord was vir hulle bedek en hulle het nie verstaan wat gesê is nie.” DKvDE 590.2
Het hulle nie pas tevore oral verkondig: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom...” nie? Het Christus dan nie self belowe dat baie saam met Abraham, Isak en Jakob in die koninkryk van God sal aansit nie? Het Hy nie almal wat in hierdie lewe iets ter wille van Hom opgeoffer het, honderdvoudig ‘n aandeel in die koninkryk van God belowe nie? En het Hy nie aan die twaalf die spesiale belofte van hoë ereposte in Sy koninkryk gegee nie-om op trone te sit en die twaalf stamme van Israel te oordeel nie? Selfs nou het Hy gesê dat alles wat deur die profete aangaande Hom geskryf is, vervul sal word. En het die profete nie die heerlikheid van die Messias se ryk voorspel nie? In die lig van hierdie gedagtes het Sy woorde oor verraad, vervolging en die dood vir hulle vaag en skaduagtig geklink. Ongeag watter moeilikhede mag opduik, het hulle geglo dat die koninkryk binnekort gevestig gaan word. DKvDE 590.3
Johannes, die seun van Sebedeus, was een van die eerste twee dissipels wat Jesus gevolg het. Hy en sy broer Jakobus was onder die eerste groep wat alles vir Sy diens verlaat het. Hulle het huis en vriende blymoedig agtergelaat om by Hom te wees; hulle het met Hom gewandel en gepraat; hulle was saam met Hom in die privaatheid van ‘n huis en op openbare byeenkomste. Hy het hul vrese gestil, hulle uit gevare gered, hulle lyding verlig, hulle in hul hartseer vertroos en hulle met geduld en sagmoedigheid geleer, totdat hul harte aan Syne verknog was en in die ywer van hul liefde, wou hulle graag die naaste aan Hom in Sy koninkryk wees. By elke moontlike geleentheid het Johannes sy plek langs die Verlosser ingeneem en Jakobus wou graag met dieselfde noue verbintenis met Hom vereer word. DKvDE 591.1
Hul moeder was ‘n volgeling van Christus en het Hom vryelik met wat sy tot haar beskikking gehad het, bedien. Met ‘n moeder se liefde en ambisie vir haar seuns, het sy vir hulle die mees geërde plekke in die nuwe koninkryk begeer. Sy het hulle aangemoedig om hiervoor te vra. DKvDE 591.2
Saam het die moeder en haar seuns na Jesus gegaan en Hom gevra om die versoek van hul harte toe te staan. DKvDE 591.3
“Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” het Hy gevra. DKvDE 591.4
Die moeder het geantwoord: “Sê dat hierdie twee seuns van my in U koninkryk mag sit, een aan u regter-en een aan U linkerhand.” DKvDE 591.5
Jesus het met deernis teenoor hulle opgetree en hulle nie oor hul selfsug vir voorkeur bo hul broeders, bestraf nie. Hy het hulle harte gelees en die diepte van hulle gehegtheid aan Hom geken. Hul liefde was nie blote menslike geneentheid nie; hoewel dit deur die aardsheid van die menslike kanaal besoedel was, was dit ‘n uitvloeisel uit die fontein van Sy eie verlossende liefde. Hy het nie tereggewys nie, maar verdiep en gesuiwer. Toe sê Hy: “Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word?” Hulle het Sy geheimsinnige woorde, wat op beproewing en lyding dui onthou en tog met selfvertroue geantwoord: “Ons kan.” Hulle sal dit as die hoogste eer beskou om hul lojaliteit te bewys, deur in alles wat hulle Here mag tref te deel. DKvDE 591.6
“Die beker wat Ek drink, sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word...” het Hy gesê. Voor Hom het ‘n kruis in plaas van ‘n troon gewag, met twee misdadigers as Sy metgeselle aan Sy linker-en regterkant. Johannes en Jakobs sou in hul Meester se lyding deel; die een, die eerste van die broers wat deur die swaard sou omkom, die ander, as die een wat die langste ‘n geswoeg, smaad en vervolging sou verduur. DKvDE 592.1
“Maar om te sit aan My regter-en aan My linkerhand...” het Hy voortgegaan, “...berus nie by My om te gee nie, maar dit is vir hulle vir wie dit deur My Vader berei is.” In die koninkryk van God word posisie nie deur bevoordeling verkry nie. Dit word nie verdien nie en ook nie deur ‘n willekeurige skenking nie. Dit word deur karakter bepaal. Die kroon en die troon is die teken van ‘n toestand wat bereik is; dit is die teken van oorwinning oor self deur onse Here Jesus Christus. DKvDE 592.2
Lank daarna, toe die dissipel deur gemeenskap met Sy lyding in meegevoel met Christus gebring is, het die Here aan Johannes geopenbaar wat die voorwaarde vir nabyheid in Sy koninkryk is. “Aan hom wat oorwin...” het Christus gesê, “...sal Ek gee om saam met My te sit op My troon, soos Ek ook oorwin het en saam met My Vader op Sy troon gaan sit het.” (Openbaring 3:21). “Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van My God maak en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe ... en My nuwe Naam.” (Openbaring 3:12). Paulus, die apostel het geskryf: “Want ek word alreeds as drankoffer uitgegiet en die tyd van my heengaan is naby. Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee.” (2 Timotheus 4:6-8). DKvDE 592.3
Die een wat die naaste aan Christus sal staan, sal die een wees wat op aarde die diepste van die gees van sy selfopofferende liefde gedrink het-liefde wat nie groot praat nie, nie opgeblase is nie, nie onwelvoeglik handel nie, nie sy eie belang soek nie, nie verbitterd word nie, die kwaad nie toereken nie (sien 1 Korinthiërs 13:4,5)-liefde wat die dissipel beweeg het, soos dit ons Here beweeg het om alles te gee, om te lewe en te werk en te offer, tot die dood toe, tot redding van die mensdom. Hierdie gees is in die lewe van Paulus geopenbaar. Hy het gesê: “Vir my is die lewe Christus...” want sy lewe het Christus aan die mense geopenbaar “...en die sterwe wins...” (Filippense 1:21)-wins vir Christus; die dood self sou die krag van Sy genade openbaar en siele vir Hom insamel. “Dat Christus ... groot gemaak sal word in my liggaam...” het hy gesê, “...of dit deur die lewe of deur die dood is.” (Filippense 1:20). DKvDE 593.1
Toe die ander tien van die versoek van Jakobus en Johannes hoor, was hulle baie ontevrede. Die hoogste plek in die koninkryk was presies wat elkeen vir homself gesoek het en hulle was kwaad omdat hierdie twee dissipels skynbaar ‘n voordeel bo hulle verkry het. DKvDE 593.2
Weereens het die geskil oor wie die grootste behoort te wees opgeduik, toe Jesus hulle na Hom roep en vir die verontwaardigde dissipels se: “Julle weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor hulle heers en hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit onder julle nie wees nie.” DKvDE 593.3
In die koninkryke van die wêreld was posisie ‘n toonbeeld van selfverheffing. Die mense was veronderstel om tot voordeel van die regerende klasse te lewe. Invloed, rykdom, opvoeding was van die vele middele om beheer oor die massas vir die gebruik van die leiers te verkry. Die hoër klasse moes dink, besluit, geniet en regeer; die laer klasse moes gehoorsaam en dien. Godsdiens, net soos alle ander dinge, was ‘n saak van gesag. Daar was van die mense verwag om te glo en op te tree soos aan hulle voorgeskryf is. Die reg van die mens om vir homself te dink en op te tree, was hoegenaamd nie erken nie. DKvDE 594.1
Christus was besig om ‘n koninkryk op ander beginsels te vestig. Hy het mense nie geroep om gesag uit te oefen nie, maar om te dien en die sterkes om die gebreke van die swakkes te dra. Mag, posisie, talent, opvoeding, het die bekleër daarvan onder ‘n groter verpligting geplaas om sy medemens te dien. Aan selfs die geringste van Christus se dissipels word gesê: “Dit is alles om julle ontwil.” (2 Korinthiërs 4:15). DKvDE 594.2
“Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” Onder Sy dissipels was Christus in alle opsigte ‘n Bewaarder, ‘n Lasdraer. Hy het in hul armoede gedeel, selfverloëning namens hulle toegepas, Hy het voor hulle uitgegaan om moeilikhede uit te stryk en binnekort sou Hy Sy werk op aarde volbring deur Sy lewe neer te lê. Die beginsel waarop Christus opgetree het, was om die lede van die kerk, wat Sy liggaam is, te aktiveer. Die plan en grondslag van verlossing is liefde. In die koninkryk van Christus is hulle wat Sy voorbeeld volg en wat as herders vir Sy kudde optree, die grootste. DKvDE 594.3
Die woorde van Paulus openbaar die ware waardigheid en eer van die Christelike lewe: “Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan hulle almal diensbaar gemaak.” (1 Korinthiërs 9:19). Ek soek nie my eie voordeel nie, “...maar dié van baie, sodat hulle gered kan word.” (1 Korinthiërs 10:33). DKvDE 595.1
Aangaande die gewete, moet die siel onbelemmerd gelaat word. Niemand mag ‘n ander se gedagte beheer, of namens ‘n ander oordeel of sy plig aan hom voorskryf nie. God gee aan elke siel vryheid om te dink en sy eie oortuigings te volg. “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.” (Romeine 14:12). Niemand het die reg om sy eie individualiteit met ‘n ander s'n saam te smelt nie. In alle aangeleenthede waarby beginsel betrokke is, moet “...elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.” (Romeine 14:5). In die koninkryk van Christus is daar geen heerssugtige onderdrukking en geen dwang nie. Die engele van die hemel kom nie na die aarde om te regeer en om aanbidding af te dwing nie, maar as boodskappers van barmhartigheid, om saam ter opheffing van die mensdom te werk. DKvDE 595.2
Die beginsels en die woorde van die Heiland se lering, was in al hul Goddelike skoonheid, in die geheue van die geliefde dissipel gesetel. Tot aan die einde van sy dae was die las van Johannes se getuienis aan die gemeentes: “Dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê.” (1 Johannes 3:11). “Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy Sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê.” (1 Johannes 3:16). DKvDE 595.3
Dit was die gees wat die vroeë kerk deurdring het. Na die uitstorting van die Heilige Gees, was die menigte wat gelowig geword het, “...een van hart en siel en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie.” (Handelinge 4:32). “Want niemand onder hulle was behoeftig nie.” (Handelinge4:34). “En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus en groot genade was oor hulle almal.” (Handelinge 4:33). DKvDE 595.4