Die Koning van die Eeue

59/88

Hoofstuk 58—“Lasarus, Kom Uit!” *

Van die mees standvastigste van Christus se volgelinge, was Lasarus van Betanië. Vanaf hul eerste ontmoeting, het hy ‘n vaste geloof in Christus gehad; sy liefde vir Hom was diep gesetel en die Verlosser het hom innig liefgehad. Dit was vir Lasarus dat die grootste van Christus se wonderwerke verrig is. Die Verlosser het almal wat Sy hulp gesoek het, geseën; Hy het die hele mensdom lief, maar aan sommige is Hy met besondere tere assosiasies geheg. Sy hart was met ‘n sterk band van liefde aan die gesin in Betanië verbind en vir een van hulle is Sy aangrypendste wonderwerke verrig. DKvDE 568.1

Jesus het dikwels rus aan huis van Lasarus gevind. Die Heiland het self geen tuiste gehad nie; Hy was afhanklik van die gasvryheid van sy vriende en dissipels en dikwels, wanneer Hy moeg was en na gemeenskap met mense verlang het, was Hy bly om na hierdie vreedsame huishouding te onttrek, weg van die argwaan en jaloesie van die kwaadwillige Fariseërs. Hier is Hy met opregtheid verwelkom en het Hy suiwer, heilige vriendskap gevind. Hier kon Hy met eenvoud en volmaakte vryheid gesels, wetende dat Sy woorde verstaan en gekoester sou word. DKvDE 568.2

Ons Verlosser het ‘n stil huis en belangstellende luisteraars waardeer. Hy het verlang na teerheid, hoflikheid en omgee van mense. Diegene wat die hemelse opdragte wat Hy altyd bereid was om te gee, ontvang het, het groot seën ontvang. Terwyl die skare Christus deur die oop velde gevolg het, het Hy die skoonheid van die natuur vir hulle ontvou. Hy het gepoog om die oë van hulle begrip te open sodat hulle kon sien hoe die hand van God die wêreld onderhou. Hy het die aandag van Sy toehoorders op die dou wat geval het, op die sagte reënbuie en die helder sonskyn gevestig, ten einde ‘n waardering vir God se goedheid en welwillendheid teenoor die goeies en die slegtes, aan te wakker. Hy wou hê dat mense ‘n beter begrip moes hê van die sorg waarmee God die mense wat Hy geskape het, bejeën. Maar die skares was traag van begrip en in die huis in Betanië het Christus rus gevind van die vermoeiende stryd van die openbare lewe. Hier het Hy aan ‘n waarderende gehoor die volheid van Voorsienigheid oopgestel. In hierdie private onderhoude kon Hy aan sy luisteraars sê wat Hy nie aan die gemengde menigtes kon sê nie. Dit was nie vir Hom nodig om deur middel van gelykenisse met Sy vriende te praat nie. DKvDE 568.3

Terwyl Christus Sy wonderlike lesse gegee het, het Maria by Sy voete gaan sit, ‘n eerbiedige en toegewyde luisteraar. Met een geleentheid het Martha, oorwerk deur die voorbereiding van die maaltyd, na Christus gekom en gesê: “Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help.” Dit was tydens Christus se eerste besoek aan Betanië. Die Heiland en Sy dissipels het pas die moeisame reis vanaf Jerigo onderneem. Martha was besorg oor hul gerief en in haar gretigheid het sy die hoflikheid wat haar Gas toekom, vergeet. Jesus het haar sag en geduldig geantwoord: “Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.” Maria het haar gedagtes met die kosbare woorde uit die Redder se mond gevul, woorde wat vir haar kosbaarder as die duurste juwele van die aarde was. DKvDE 569.1

Die “een ding” wat Martha nodig gehad het, was ‘n kalm, toegewyde gees, ‘n diepe begeerte vir kennis aangaande die toekoms, die onsterflike lewe en die genade wat vir geestelike vooruitgang nodig is. Sy moes minder besorg oor die verganklike dinge en meer besorg oor die ewige dinge gewees het. Jesus wou sy kinders leer om elke geleentheid aan te gryp, om die kennis wat hulle die wysheid tot saligheid sal gee, op te doen. Nougesette, ywerige werkers is vir die saak van Christus nodig. Daar is ‘n wye veld vir die Martha’s, met hul ywer vir aktiewe godsdienstige werk. Maar laat hulle eers saam met Maria aan die voete van Jesus sit. Laat toegewydheid, stiptelikheid en ywer deur die genade van Christus geheilig word; dan sal die lewe ‘n onoorwinlike krag ten goede wees. DKvDE 569.2

Droefheid het na hierdie vreedsame huis waar Jesus gerus het gekom. Lasarus het skielik siek geword en sy susters het ‘n boodskap na die Heiland gestuur: “Here, hy vir wie U liefhet, is siek.” Hulle het gesien met watter geweld die siekte hul broer aangetas het, maar het geweet dat Christus Homself bewys het; dat Hy in staat was om enige siekte te genees. Hulle het geglo dat Hy meegevoel met hulle in hul nood sou hê; daarom het hulle nie aangedring dat Hy dadelik moes kom nie, maar slegs die tyding gestuur: “Hy vir wie U liefhet, is siek.” Hulle het gedink dat Hy onmiddellik op hul boodskap sou reageer en by hulle sou wees sodra Hy Betanië kon bereik. DKvDE 570.1

Hulle het angstig op tyding van Jesus gewag. Solank daar nog ‘n vonk van lewe in hul broer was, het hulle gebid en gewaak op die koms van Jesus. Maar die boodskapper het sonder Hom teruggekeer. Tog het hy die boodskap gebring: “Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie...” en hulle het aan die hoop dat Lasarus sou lewe, vasgehou. Hulle het teer probeer om hoop en bemoediging tot die bewustelose lyer te spreek. Toe Lasarus sterf, was hulle bitter teleurgesteld; maar hulle het die ondersteunende genade van Christus ervaar en dit het hulle daarvan weerhou om die Verlosser te verwyt. DKvDE 570.2

Toe Christus die boodskap hoor, het die dissipels gedink Hy was onaangeraak daardeur. Hy het nie die hartseer geopenbaar wat hulle van Hom verwag het nie. Toe Hy na hulle opkyk, sê Hy: “Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie; maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” Hy het nog twee dae op die plek waar Hy was gebly. Hierdie vertraging was vir die dissipels onverstaanbaar. Wat ‘n vertroosting sou Sy teenwoordigheid tog vir die geteisterde huisgesin gewees het, het hulle gedink! Sy sterk geneentheid vir die gesin in Betanië was onder die dissipels bekend en hulle was verbaas dat Hy nie op die hartseer boodskap gereageer het nie: “Hy vir wie U liefhet, is siek.” DKvDE 570.3

Gedurende daardie twee dae het dit gelyk asof Christus die boodskap uit Sy gedagtes verban het, want Hy het nie van Lasarus gepraat nie. Die dissipels het aan Johannes die Doper, die voorloper van Jesus gedink. Hulle het gewonder waarom Jesus, met die mag om wonderwerke te verrig, toegelaat het dat Johannes in die tronk wegkwyn en daarna ‘n gewelddadige dood gesterf het. Waarom het Christus, met sulke mag, nie Johannes se lewe gered nie? Hierdie vraag was dikwels deur die Fariseërs gevra, wat dit as onteenseglike bewys teen Christus se aanspraak dat Hy die Seun van God is, voorgehou het. Die Heiland het sy dissipels teen beproewings, verliese en vervolging gewaarsku. Sou Hy hulle in beproewing in die steek laat? Sommige het gewonder of hulle verkeerd was aangaande Sy sending. Almal was diep bekommerd. DKvDE 571.1

Nadat Hy twee dae gewag het, het Jesus vir die dissipels gesê: “Laat ons weer na Judea gaan.” Die dissipels het gewonder waarom Jesus, as Hy van plan was om na Judea te gaan, twee dae gewag het. Maar besorgdheid vir Christus en vir hulleself het nou swaarder by hulle geweeg. Hulle kon niks anders as gevaar in die weg wat Hy nou sou volg, sien nie. “Rabbi...” het hulle gesê, “...die Jode het onlangs probeer om U te stenig en gaan U weer daarnatoe?” Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf ure in die dag nie?” “Ek staan onder die leiding van My Vader; solank Ek Sy wil doen, is My lewe veilig. Die twaalf ure van My dag is nog nie verby nie. Ek betree die laaste deeltjie van My dag; maar solank dit nog duur, is Ek veilig.” DKvDE 571.2

“As iemand in die dag wandel...” het Hy gesê, “...stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien.” Wie die wil van God doen, wat die weg volg wat God vir hom uitgewys het, kan nie struikel en val nie. Die lig van God se leidende Gees gee aan hom ‘n duidelike persepsie van sy plig en lei hom tot aan die einde van sy taak. “Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie.” Wie sy eie weg inslaan, waar God hom nie geroep het nie, sal struikel. Vir hom word die dag nag en waar hy hom ook al bevind, is hy nie veilig nie. DKvDE 571.3

“Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak.” “Lasarus, ons vriend, slaap...” Hoe aangrypend was hierdie woorde nie! Hoe vol simpatie! Met hul gedagtes vol van die gevare waarin hul Meester Hom gaan begeef deur na Jerusalem te gaan, het die dissipels byna van die bedroefde familie in Betanië vergeet. Maar nie so met Christus nie. Die dissipels het die teregwysing gevoel. Eers was hulle teleurgesteld omdat Hy nie vinniger op die boodskap gereageer het nie. Hulle was in die versoeking om te dink dat Hy nie die tere liefde vir Lasarus en sy susters gehad het soos wat hulle gedink het nie, of dat Hy Hom saam met die boodskapper sou terug haas. Maar die woorde: “Lasarus, ons vriend, slaap...” het die regte gevoelens in hul gedagtes aangewakker. Hulle was oortuig dat Christus nie Sy lydende vriende vergeet het nie. DKvDE 572.1

“Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word. Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek.” Christus stel die dood as ‘n slaap aan sy gelowige kinders voor. Hulle lewe is saam met Christus in God geborge en tot met die klank van die laaste basuin sal dié wat gesterf het, in Hom slaap. DKvDE 572.2

“Toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood. En Ek is bly om julle ontwil dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar laat ons na hom toe gaan.” Thomas kon niks anders as die dood vir sy Meester in die vooruitsig sien as Hy na Judea sou gaan nie, maar hy het sy moed bymekaargeskraap en vir die ander dissipels gesê: “Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe.” Hy het die haat van die Jode teenoor Christus geken. Dit was hulle doel om Hom om die lewe te bring; maar hulle kon nog nie hierin slaag nie, omdat Sy tyd nog nie verstreke was nie. Gedurende hierdie tyd het Jesus die beskerming van die hemelse engele gehad; en selfs in die streke van Judea, waar die rabbi’s beraadslaag het om Hom gevange te neem en dood te maak, kon geen kwaad Hom bereik nie. DKvDE 572.3

Die dissipels was verbaas oor die woorde van Christus toe Hy sê: “Lasarus is dood. En Ek is bly ... dat Ek nie daar was nie.” Het die Heiland opsetlik die huis van sy geteisterde vriende vermy? Oënskynlik is Maria en Martha en die sterwende Lasarus alleen gelaat. Maar hulle was nie alleen nie. Christus het die hele toneel aanskou en na die dood van Lasarus is sy bedroefde susters deur Sy genade ondersteun. Jesus het die droefheid van hul gebroke harte gadegeslaan terwyl hul broer met sy meedoënlose vyand, die dood, geworstel het. Hy het elke deurpriemende foltering ervaar toe Hy vir sy dissipels sê: “Lasarus is dood.” Maar vir Christus was daar nie slegs die geliefdes in Betanië om aan te dink nie; Hy moes ook die opleiding van Sy dissipels oorweeg. Hulle sou Sy verteenwoordigers op aarde wees, sodat die seën van die Vader almal kon omvou. Ter wille van hulle het Hy Lasarus toegelaat om te sterf. As Hy hom van sy siekte genees het, sou die wonderwerk wat die mees positiewe bewys van Sy Goddelike karakter was, nie verrig gewees het nie. DKvDE 573.1

As Christus in die siekekamer was, sou Lasarus nie gesterf het nie; want Satan sou dan geen mag oor hom gehad het nie. Die dood sou nie sy pyl op Lasarus in die teenwoordigheid van die Gewer van die lewe kon rig nie. Daarom het Christus weggebly. Hy het die vyand toegelaat om sy mag uit te oefen, sodat Hy hom as verslane vyand kon terugdryf. Hy het Lasarus toegelaat om onder die heerskappy van die dood kom; en die bedroefde susters het gesien hoe hul broer in die graf gelê word. Christus het geweet dat wanneer hulle die lewelose gelaat van hul broer aanskou, hul geloof in hul Verlosser hewiglik beproef sou word. Maar Hy het geweet dat, as gevolg van die stryd waardeur hulle nou moes worstel, hul geloof met veel groter krag sou skyn. Hy het elke skerp pyn van smart wat hulle verduur het, gely. Hy het hulle nie minder liefgehad omdat Hy vertoef het nie; maar Hy het geweet dat daar ‘n oorwinning vir hulle, vir Lasarus, vir Homself en vir Sy dissipels sou wees. DKvDE 573.2

“Om julle ontwil ... sodat julle kan glo.” Vir almal wat die hand na die leidende Hand van God uitstrek, is die tyd van die diepste duisternis, die tyd wanneer Goddelike hulp die naaste is. Hulle sal met dankbaarheid op die donkerste deel van hul pad terugkyk. “Die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos.” (2 Petrus 2:9). Uit elke versoeking en elke beproewing sal Hy hulle met ‘n sterker geloof en ryker ervaring voortbring. DKvDE 574.1

Deur Sy vertraging om na Lasarus te kom, het Christus ‘n doel van genade teenoor diegene wat Hom nie ontvang het nie, gehad. Hy het getalm, sodat Hy, deur Lasarus uit die dood op te wek, sy hardkoppige, ongelowige volk nog ‘n bewys kon gee dat Hy inderdaad “...die opstanding en die lewe...” was. Hy was nie bereid om alle hoop vir die volk, die arme, dwalende skape van die huis van Israel, te laat vaar nie. Sy hart was gebreek vanweë hul onboetvaardigheid. In Sy genade wou Hy aan hulle nog een bewys lewer dat Hy die Hersteller was, die Een wat alleen die lewe en onsterflikheid aan die lig kon bring. Dit sou ‘n bewys wees wat die priesters nie verkeerd sou kon vertolk nie. Dit was die rede vir Sy vertraging om na Betanië te gaan. Hierdie kroon-wonderwerk, die opwekking van Lasarus, sou die seël van God op Sy werk en Sy aanspraak op Goddelikheid plaas. DKvDE 574.2

Op sy reis na Betanië het Jesus, soos sy gewoonte was, die siekes en behoeftiges bedien. Toe Hy die stad bereik, het Hy ‘n boodskapper na die susters met die tyding van Sy aankoms, gestuur. Christus het nie dadelik die huis binnegegaan nie, maar het op ‘n stil plek langs die pad vertoef. Die groot uiterlike vertoon van die Jode met die dood van vriende of familielede, was nie in harmonie met die gees van Christus nie. Hy het die geweeklaag van die gehuurde roubeklaers gehoor en wou nie die susters op die verwarrende toneel ontmoet nie. Onder die simpatiseerders was familielede van die gesin, van wie sommige hoë en verantwoordelike poste in Jerusalem beklee het. Sommige van Christus se bitterste vyande was onder hulle. Christus was bekend met hul oogmerke en daarom het Hy Homself nie dadelik bekend gemaak nie. DKvDE 574.3

Die boodskap is so onopsigtelik aan Martha gegee, dat die ander in die vertrek dit nie gehoor het nie. Vasgevang in haar hartseer, het Maria dit nie gehoor nie. Martha het dadelik opgestaan en haar Heer tegemoetgegaan, maar omdat Maria gedink het dat sy na die plek waar Lasarus begrawe is gaan, het sy steeds in haar hartseer bly sit en nie uitgeroep nie. DKvDE 575.1

Martha het haar gehaas om Jesus te ontmoet, haar hart onstuimig met botsende emosies. In Sy uitdrukkingsvolle gelaat het sy dieselfde teerheid en liefde wat nog altyd daar was, gelees. Haar vertroue in Hom was onwankelbaar, maar sy het aan haar geliefde broer gedink, vir wie Jesus ook lief was. Met opwellende hartseer in haar hart omdat Christus nie vroeër gekom het nie, maar tog met die hoop dat Hy selfs nou iets sou doen om hulle te troos, het sy gesê: “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.” Te midde van die lawaai van die roubeklaers, het die susters hierdie woorde telkens herhaal. DKvDE 575.2

Met menslike en Goddelike ontferming het Jesus in haar hartseer, afgematte gelaat gekyk. Martha het geen geneigdheid gehad om die tragiese gebeure te herhaal nie; sy het al haar gevoelens in dié patetiese woorde uitgedruk: “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.” Maar toe sy in Sy liefdevolle gelaat kyk, voeg sy by: “Maar selfs nou weet ek dat alles wat U van God vra, God U sal gee.” DKvDE 575.3

Jesus het haar in haar geloof aangemoedig en gesê: “Jou broer sal opstaan.” Sy antwoord was nie bedoel om hoop vir ‘n onmiddellike verandering te wek nie. Hy het Martha se gedagtes verder as die huidige herstel van haar broer gevoer en dit op die opstanding van die regverdiges gevestig. Dit het Hy gedoen, sodat sy, in die opstanding van Lasarus, ‘n belofte van die opstanding val al die regverdige afgestorwenes kon sien en ‘n versekering dat dit deur die krag van die Verlosser sou geskied. DKvDE 576.1

Martha het geantwoord: “Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.” DKvDE 576.2

Steeds met die begeerte om ware rigting aan haar geloof te gee, het Jesus gesê: “Ek is die opstanding en die lewe.” In Christus is die lewe-oorspronklik, onontleen. “Hy wat die Seun het, het die lewe.” (1 Johannes 5:12). Die Godheid van Christus is die gelowige se versekering van die ewige lewe. “Wie in My glo...” het Jesus gesê, “...sal lewe al het hy ook gesterwe. En elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?” Hier het Christus vooruit na Sy wederkoms gekyk. Dan sal die regverdige dode in onverganklikheid opgewek word en die lewende regverdiges in die hemel opgeneem word sonder om die dood te sien. Die wonderwerk wat Christus op die punt was om te verrig, sou die opstanding van die regverdige afgestorwenes verteenwoordig. Deur Sy woord en Sy werke het Hy Homself as die Outeur van die opstanding verklaar. Hy, wat binnekort self aan die kruis sou sterf, het met die sleutels van die dood as oorwinnaar oor die graf gestaan, wat Sy reg en mag om die ewige lewe te gee, bevestig het. DKvDE 576.3

Op die Heiland se vraag: “Glo jy dit?” het Martha geantwoord: “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.” Sy het nie die volle betekenis van Christus se woorde begryp nie, maar het haar geloof in sy Goddelikheid bely, met die vertroue dat Hy in staat is om te doen wat Hom behaag. DKvDE 576.4

“En nadat sy dit gesê het, gaan sy en roep Maria, haar suster, stilletjies en sê: Die Meester is hier en Hy roep jou.” Sy het die boodskap so stil moontlik oorgedra; want die priesters en owerstes was gereed om Jesus met die eerste geleentheid te arresteer. Die geweeklaag van die roubeklaers het verhoed dat haar woorde gehoor word. DKvDE 577.1

Toe Maria die boodskap hoor, het sy haastig opgestaan en met ‘n gretige uitdrukking die vertrek verlaat. Met die idee dat sy na die graf gaan, het die roubeklaers haar gevolg. Toe sy die plek waar Jesus gewag het bereik, het sy aan Sy voete gekniel en met bewende lippe gesê: “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.” Die geweeklaag van die roubeklaers was vir haar pynlik; want sy het na ‘n paar stil woorde alleen met Jesus verlang. Maar sy het geweet van die afguns en jaloesie wat in die harte van sommige van die aanwesiges teenoor Christus gekoester is en het haarself daarvan weerhou om ten volle uiting aan haar hartseer te gee. DKvDE 577.2

“Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in Sy gees en Hom ontstel.” Hy het die harte van al die aanwesiges gelees. Hy het gesien dat baie wat hartseer voorgekom het, slegs droefheid geveins het. Hy het geweet dat sommige in die geselskap, wat nou skynheilige hartseer openbaar, binnekort die dood, nie net van die Wonderwerker nie, maar ook die een wat uit die dood opgewek sou word, sou beplan. Christus kon hul kleed van geveinsde droefheid van hulle verwyder het, maar Hy het Sy geregverdigde verontwaardiging beteuel. Die woorde wat Hy in alle waarheid kon uiter, het Hy nie geuiter nie, omdat Hy die gevoelens van die geliefde wat met hartseer aan Sy voete gekniel het en waarlik in Hom geglo het, in ag geneem het. DKvDE 577.3

“Waar het julle hom neergelê?” het Hy gevra. “Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk.” Saam het hulle na die graf gegaan. Dit was ‘n droewige toneel. Lasarus was baie geliefd en sy susters het met gebreekte harte oor hom geween, terwyl diegene wat sy vriende was se trane met dié van die bedroefde susters gemeng het. In die lig van al hierdie menslike nood en die feit dat die bedroefde vriende oor die afgestorwene getreur het terwyl die Verlosser van die wêreld by hulle staan, het Jesus geween. Al was Hy die Seun van God, het Hy tog die menslike natuur aangeneem en is Hy deur menslike hartseer ontroer. Sy tere, deernisvolle hart word altyd tot meegevoel vir lyding gewek. Hy huil saam met die wat huil en is bly saam met die wat bly is. DKvDE 578.1

Maar dit was nie net as gevolg van Sy menslike medelye met Maria en Martha dat Hy geween het nie. In Sy trane was daar ‘n hartseer so hoog bo die menslike, soos wat die hemel hoër as die aarde is. Christus het nie oor Lasarus geween nie; want Hy sou hom uit die graf roep. Hy het geween omdat baie van die wat nou oor Lasarus getreur het, binnekort die dood van Hom wat die opstanding en die lewe is, sou beplan. Maar hoe onbevoeg was die ongelowige Jode om sy trane reg te vertolk! Sommige, wat niks anders as die uiterlike omstandighede van die toneel voor Hom as rede vir Sy verdiet kon sien nie, het saggies gesê: “Kyk, hoe lief het Hy hom gehad.” Ander, wat probeer het om die saad van ongeloof in die harte van die aanwesiges te saai, het spottend gesê: “Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie?” As dit in Christus se mag was om Lasarus te red, waarom het Hy hom dan laat sterf? DKvDE 578.2

Met profetiese oog het Christus die vyandigheid van die Fariseërs en die Sadduseërs gesien. Hy het geweet dat hulle Sy dood vooraf beplan het. Hy het geweet dat sommige van diegene wat nou skynbaar so simpatiek is, binnekort die deur van hoop en die poorte van die Godstad teen hulleself sou sluit. ‘n Toneel was op die punt om, in Sy vernedering en kruisiging plaas te vind, wat tot die vernietiging van Jerusalem sou lei en dan sou niemand oor die dooies rou nie. Die vergelding wat oor Jerusalem gaan kom, is duidelik voor Hom uitgebeeld. Hy het Jerusalem deur Romeinse legioene omsingel gesien. Hy het geweet dat baie mense wat nou oor Lasarus ween, in die beleg van die stad sou sterf en dat daar geen hoop in hulle dood sou wees nie. DKvDE 578.3

Dit was nie net as gevolg van die toneel voor Hom dat Christus getreur het nie. Die gewig van die verdriet van eeue was op Hom. Hy het die verskriklike gevolge van die oortreding van die wet van God gesien. Hy het gesien hoedat die konflik tussen goed en kwaad in die geskiedenis van die wêreld, met die dood van Abel begin het en onafgebroke voortgeduur het. In ‘n toekomsblik het Hy die lyding en leed, trane en dood wat die lot van die mens sou wees gesien. Sy hart was deurboor met die pyn van die mensdom deur al die eeue heen en in alle lande. Die ellende van die sondige ras het swaar op Sy siel gedruk en die fontein van Sy trane het in sy verlange om al hul nood te verlig, oopgebreek. DKvDE 579.1

“En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom.” Lasarus is in ‘n spelonk neergelê en ‘n massiewe steen is voor die ingang geplaas. “Neem die steen weg,” het Christus beveel. Met die gedagte dat Hy net na die afgestorwene wou kyk, het Martha beswaar gemaak en gesê dat die liggaam reeds vier dae lank begrawe is en dat verderf reeds ingetree het. Hierdie stelling wat voor die opwekking van Lasarus gemaak is, het geen ruimte gelaat vir Christus se vyande om te sê dat dit bedrog was nie. In die verlede het die Fariseërs valse uitsprake ten opsigte van die wonderbaarlike manifestasies van die mag van God versprei. Toe Christus die dogter van Jaïrus opgewek het, het Hy gesê: “Die kind is nie dood nie, maar slaap” (Markus 5:39). Omdat sy net vir ‘n kort tyd siek was en onmiddellik na haar dood opgewek is, het die Fariseërs verklaar dat die kind nie dood was nie; dat Christus self gesê het dat sy net slaap. Hulle het die skyn probeer wek dat Christus nie siektes kon genees nie en dat Sy wonderwerke bedrog was. Maar in hierdie geval kon niemand ontken dat Lasarus dood was nie. DKvDE 579.2

Wanneer die Here op die punt staan om ‘n werk te doen, beweeg Satan altyd iemand om beswaar te maak. “Neem die steen weg...” het Christus gesê. Berei, vir sover moontlik, die weg voor vir My werk. Maar Martha se positiewe en ambisieuse aard het homself laat geld. Sy was nie bereid om die ontbindende liggaam te ontbloot nie. Die menslike hart is traag om die woorde van Christus te verstaan en Martha se geloof het die ware betekenis van Sy belofte nie begryp nie. DKvDE 580.1

Christus het Martha tereggewys, maar Sy woorde is met die grootste teerheid uitgespreek: “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?” Waarom twyfel jy aangaande My krag? Waarom teenstrydig met My vereistes redeneer? Jy het My woord. As jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien. Wat van nature onmoontlik is, kan nie die werk van die Almagtige verhinder nie. Skeptisisme en ongeloof is nie nederigheid nie. Onwrikbare geloof in die woord van Christus is ware nederigheid, ware selfoorgawe. DKvDE 580.2

Neem die steen weg.” Christus kon die steen beveel het om self weg te rol en dit sou Sy stem gehoorsaam het. Hy kon die engele wat aan Sy sy was, beveel het om dit te doen. Op Sy bevel sou onsigbare hande die steen verwyder het. Maar dit moes deur mensehande verwyder word. So sou Christus toon dat die mens met die Godheid moet saamwerk. Wat die mens self kan vermag, word nie deur Goddelike mag uitgevoer nie. God skuif nie die hulp van die mens opsy nie. Hy versterk hom en werk saam met hom, terwyl die mens van die krag en vermoëns wat aan hom gegee is gebruik maak. DKvDE 580.3

Die bevel is gehoorsaam. Die steen is weggerol. Alles was openlik en doelbewus gedoen. Almal is die kans gegun om te sien dat geen bedrog plaasgevind het nie. Die liggaam van Lasarus het daar in die rotsgraf gelê, koud en stil in die dood. Die geween van die roubeklaers het stil geword. Verbaas en afwagtend het die geselskap om die graf gestaan om te sien wat gaan volg. DKvDE 581.1

Bedaard het Christus voor die graf gestaan. ‘n Gewyde plegtigheid het op almal neergedaal. Christus het nader aan die graf getree. Toe het Hy Sy oë na die hemel opgehef en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het...” Nie lank tevore nie het Christus se vyande Hom van godslastering beskuldig en klippe opgetel om Hom te stenig omdat Hy beweer het dat Hy die Seun van God is. Hulle het Hom daarvan beskuldig dat Hy wonderwerke deur die mag van Satan verrig. Maar hier maak Christus aanspraak op God as Sy Vader en verklaar Hy met volkome vertroue dat Hy die Seun van God is. DKvDE 581.2

In alles wat Hy gedoen het, het Christus met Sy Vader saamgewerk. Hy was altyd versigtig om duidelik te kenne te gee dat Hy nie onafhanklik werk nie; Hy het Sy wonderwerke deur geloof en gebed verrig. Christus wou hê dat almal Sy verhouding met sy Vader moes ken. “Vader...” het Hy gesê, “...Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” Hier sou aan die dissipels en die skare die oortuigendste getuienis gelewer word aangaande die verhouding tussen Christus en God. Daar moes aan hulle getoon word dat Christus se aanspraak nie misleiding was nie. DKvDE 581.3

“En nadat Hy dit gesê het, het Hy met ‘n groot stem geroep: Lasarus, kom uit!” Sy stem, helder en deurdringend, het deurgedring tot die ore van die dooie. Terwyl Hy gepraat het, het die Goddelikheid deur Sy menslikheid geflits. Op Sy aangesig, wat deur die heerlikheid van God verlig was, het die aanwesiges die versekering van Sy krag gesien. Elke oog was op die ingang van die grot vasgenael. Elke oor was gespits om die geringste geluid op te vang. Met intense en pynlike belangstelling het almal op die toets van Christus se Goddelikheid gewag, die getuienis wat Sy aanspraak as die Seun van God sou staaf, of om die hoop vir ewig uit te doof. DKvDE 581.4

Daar het ‘n roering in die stil graf gekom en hy wat dood was, het voor die ingang van die graf gestaan. Sy bewegings is deur die grafdoeke waarin hy weggelê was belemmer en Christus het vir die verbaasde toeskouers gesê “Maak hom los en laat hom gaan.” Weer is aan hulle getoon dat die menslike werker met God moet saamwerk. Die mens moet vir die mensdom werk. Lasarus is bevry en het voor die geselskap gestaan, nie soos een wat deur siekte verswak is nie en nie met swak, wankelende ledemate nie, maar soos ‘n man in die fleur van sy lewe en in die krag van edele manlikheid. Sy oë het van intelligensie en met liefde vir sy Verlosser gestraal. Hy het homself in aanbidding voor die voete van Jesus neergewerp. DKvDE 582.1

Die toeskouers was eers spraakloos van verbasing. Toe volg daar ‘n onuitspreeklike toneel van vreugde en danksegging. Die susters het hul broer weer as ‘n geskenk van God terugontvang en met vreugdevolle trane het hulle hul dank aan die Verlosser betuig. Maar terwyl broer, susters en vriende hulle saam in hierdie hereniging verheug het, het Jesus hom van die toneel onttrek. Toe hulle na die Lewegewer soek, was Hy nêrens te vinde nie. DKvDE 582.2