Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 57—“Een Ding Kom Jy Kort” *
“En toe Hy op die pad uitgaan, hardloop daar een na Hom toe en val voor Hom op die knieë en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” DKvDE 562.1
Die jongman wat die vraag gevra het, was ‘n owerste. Hy het baie besittings gehad en ‘n verantwoordelike posisie beklee. Hy het gesien met watter liefde Christus die kinders wat na Hom gebring is, bejeën het; hy het gesien hoe teer Hy hulle ontvang en in Sy arms geneem het en in sy hart het ‘n liefde vir die Heiland opgevlam. Hy het ‘n begeerte gehad om Sy dissipel te wees. Hy was so diep ontroer, dat hy, terwyl Christus aanbeweeg het, agter Hom aangehardloop het en voor Sy voete neergekniel het en met opregtheid en erns die vraag wat so belangrik vir sy siel en die siel van elke mens was, gevra: “Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” DKvDE 562.2
“Waarom noem jy My goed?” het Christus gevra, “...niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God.” Jesus wou die opregtheid van die owerste toets en die rede waarom hy Hom as goed beskou, uit hom trek. Het hy besef dat die Een met wie hy gepraat het, die Seun van God was? Wat was die ware beweegrede van sy hart? DKvDE 562.3
Hierdie owerste het ‘n hoë skatting van sy eie geregtigheid gehad. Hy het nie werklik gedink dat hy in enigiets ontbreek het nie, maar tog was hy nie heeltemal tevrede nie. Hy het ‘n behoefte aan iets wat hy nie besit het nie, gehad. Kon Jesus hom nie seën soos Hy die kindertjies geseën het en die behoefte van sy siel bevredig nie? DKvDE 562.4
In antwoord op hierdie vraag het Jesus vir hom gesê dat gehoorsaamheid aan die gebooie van God nodig is as hy die ewige lewe wou verkry; en Hy het verskeie van die gebooie aangaande die mens teenoor sy medemens aangehaal. Die owerste het positief geantwoord: “Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. Wat kom ek nog kort? DKvDE 563.1
Christus het in die oë van die jongman gekyk asof Hy sy lewe lees en sy karakter deurvors. Hy het hom liefgehad en het verlang om hom die vrede en genade en vreugde te gee wat sy karakter wesenlik sou verander. “Een ding kom jy kort...” het Hy gesê, “...gaan verkoop alles wat jy het en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My.” DKvDE 563.2
Christus was aangetrokke tot hierdie jong man. Hy het geweet dat hy opreg in sy bewering was: “Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af.” Die Verlosser het innig begeer om die onderskeidingsvermoë in hom te skep, wat hom in staat sou stel om die noodsaaklikheid van ‘n toegewyde hart en Christelike goedheid te sien. Hy wou graag in hom ‘n nederige en berouvolle hart sien, bewus van die hoogste liefde wat aan God gegee moet word en om die gebrek daaraan in die volmaaktheid van Christus te verberg. DKvDE 563.3
Jesus het in hierdie owerste die presiese hulp wat hy nodig gehad het, indien die jongman ‘n medewerker in die verlossingswerk met Hom sou word, gesien. As hy homself aan Christus se leiding sou onderwerp, sou hy ‘n krag ten goede wees. Hy sou ‘n opvallende verteenwoordiger van Christus kon wees; want hy het oor kwalifikasies beskik wat, indien hy met die Verlosser sou verenig, hom in staat sou stel om ‘n Goddelike invloed onder die mense te word. Christus, wat sy karakter gesien het, het hom liefgekry. Liefde vir Christus het ook in die hart van die owerste ontwaak; want liefde verwek liefde. Jesus het verlang om hom as medewerker saam met Hom te sien. Hy het verlang om hom soos Hyself te maak, ‘n spieël waarin die beeld van God weerspieël sou word. Hy wou graag die voortreflikheid van sy karakter ontwikkel en dit vir die Meester se gebruik heilig. As die owerste hom aan Christus onderwerp het, sou hy in die atmosfeer van Sy teenwoordigheid ontluik het. Hoe anders sou sy toekoms nie gewees het as hy hierdie keuse gemaak het nie! DKvDE 563.4
“Een ding kom jy kort...” het Jesus gesê. “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes en jy sal ‘n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.” Christus het die owerste se hart deurvors. Slegs een ding het hy ontbreek, maar dit was ‘n belangrike beginsel. Hy het die liefde van God in sy siel nodig gehad. Hierdie gebrek, tensy dit aangevul word, sou noodlottig vir hom wees; sy hele natuur sou verdorwe raak. Selfbevrediging sou selfsug versterk. Om die liefde van God te ontvang, moet die oorheersende liefde vir self oorgegee word. DKvDE 564.1
Christus het hierdie man op die proef gestel. Hy het ‘n beroep op hom gedoen om tussen die hemelse skat en wêreldse grootheid te kies. Die hemelse skat sou verseker gewees het as hy Christus sou volg. Maar hy sou die eie-ek moes onderwerp en sy wil aan die beheer van Christus oorgee. Die heiligheid van God is aan die jong owerste gebied. Hy het die voorreg gehad om ‘n seun van God en ‘n mede-erfgenaam met Christus van die hemelse rykdom te word. Maar hy moes sy kruis opneem en die Heiland op die weg van selfverloëning volg. DKvDE 564.2
Christus se woorde was voorwaar ‘n uitnodiging aan die heerser: “Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien.” (Josua 24:15). Die keuse het by hom berus. Jesus het na sy bekering gehunker. Hy het hom die plaag in sy karakter getoon en met watter belangstelling het Hy die jongman nie dopgehou terwyl hy die saak oorweeg het nie! Indien hy besluit het om Christus te volg, moes hy Hom in alles gehoorsaam. Hy moes van sy ambisieuse projekte afsien. Met watter ernstige, angstige verlange, watter sielehonger, het die Verlosser na die jongman gekyk in die hoop dat hy aan die uitnodiging van die Gees van God sou toegee! DKvDE 564.3
Christus het aan hierdie owerste die enigste voorwaardes gestel wat dit vir hom moontlik sou maak om ‘n Christelike karakter te vervolmaak. Sy woorde was woorde van wysheid, hoewel dit moeilik en veeleisend geklink het. Die enigste hoop op redding vir die heerser was die aanvaarding daarvan en gehoorsaamheid daaraan. Sy verhewe posisie en sy besittings het ‘n subtiele invloed ten kwade op sy karakter uitgeoefen. Indien dit gekoester sou word, sou dit God in sy hart vervang. Om min of baie van God te terug te hou, was om dít te behou wat sy morele krag en doeltreffendheid sou verswak; want as die dinge van die wêreld gekoester word, hoe onseker en onwaardig dit ook is, sal dit allesoorheersend word. DKvDE 565.1
Die owerste het dadelik besef wat Christus se woorde alles inhou en hy het hartseer geword. As hy die waarde van die aangebode gawe besef het, sou hy dadelik een van Christus se volgelinge geword het. Maar hy was ‘n lid van die geëerde raad van die Jode en Satan het hom met vleiende vooruitsigte vir die toekoms versoek. Hy wou die hemelse skat hê, maar ook die tydelike voordele wat sy rykdom hom sou besorg. Hy was jammer dat daar sulke voorwaardes moes wees; hy wou die ewige lewe hê, maar was nie bereid om die offer te bring nie. Die koste vir die ewige lewe het vir hom te duur geklink en hy het bedroef weggegaan, “...want hy het baie besittings gehad.” DKvDE 565.2
Sy bewering dat hy die wet van God onderhou het, was ‘n misleiding. Hy het getoon dat rykdom sy afgod was. Hy kon nie die gebooie van God onderhou terwyl die wêreld sy eerste liefde was nie. Hy het die gawes van God meer lief as die Gewer gehad. Christus het die jongman gemeenskap met Homself aangebied. “Volg My...” het Hy gesê. Maar die Heiland het vir hom nie soveel as sy aansien onder die mense, of sy besittings beteken nie. Om sy aardse skatte wat tasbaar is, te verruil vir die onsigbare hemelse, was te veel van ‘n risiko. Hy het die aanbod van die ewige lewe geweier en het weggegaan om die wêreld vir ewig te dien. Duisende gaan deur hierdie beproewing en weeg Christus teen die wêreld op en baie verkies die wêreld. Soos hierdie jong owerste, draai hulle van die Verlosser af weg en sê in hul harte: Ek wil nie hierdie Man as my Leier hê nie. DKvDE 565.3
Christus se omgang met die jong man word as ‘n objekles aangebied. God het ons die gedragsreël wat elkeen van Sy dienaars moet volg, gegee. Dit is gehoorsaamheid aan Sy wet, nie slegs ‘n wettiese gehoorsaamheid nie, maar ‘n gehoorsaamheid wat die lewe deurtrek en in die karakter geïllustreer word. God het Sy eie standaard van karakter vir almal wat onderdane van Sy koninkryk wou word, gegee. Slegs diegene wat medewerkers met Christus wil word en wat sê: Here alles wat ek het en alles wat ek is behoort aan U, sal as seuns en dogters van God erken word. Almal moet nadink oor wat dit beteken om na die hemel te verlang, maar tog, as gevolg van vasgestelde voorwaardes weg te draai. Dink aan wat dit beteken om vir Christus nee te sê. Die owerste het gesê: Nee, ek kan nie alles aan U oorgee nie. Sê ons dieselfde? Die Verlosser bied aan om die werk wat God aan ons opgedra het, met ons te deel. Hy bied aan om die middele wat God vir ons voorsien het, te gebruik om Sy werk in die wêreld te bevorder. Alleen op hierdie wyse kan Hy ons red. DKvDE 566.1
Die owerste se besittings is aan hom toevertrou sodat hy homself as ‘n getroue rentmeester kon bewys; hy moes hierdie middele gebruik tot seën vir die behoeftiges. So vertrou God ook tans middele, talente en geleenthede aan mense toe, sodat hulle sy verteenwoordigers kan wees om die armes en lydendes behulpsaam te wees. Hy wat sy toevertroude gawes aanwend soos God beplan het, word ‘n medewerker van die Verlosser. Hy wen siele vir Christus omdat hy ‘n verteenwoordiger van Sy karakter is. DKvDE 566.2
Vir diegene wat, soos die jong owerste, in hoë vertrouensposisies verkeer en oor baie besitting beskik, kan dit na ‘n te groot opoffering lyk om alles prys te gee om Christus te volg. Maar dit is die gedragsreël vir almal wat Sy dissipels wil word. Niks minder as gehoorsaamheid is aanvaarbaar nie. Selfoorgawe is die kern van die leer van Christus. Dikwels word dit aangebied en in ‘n taal vervat wat gesaghebbend klink, omdat daar geen ander manier is om die mens te red as om die dinge van hom weg te neem wat, indien gekoester, die hele lewe sal demoraliseer nie. DKvDE 567.1
Wanneer die volgelinge van Christus aan die Here teruggee wat aan Hom behoort, versamel hulle ‘n skat wat aan hulle gegee sal word wanneer hulle die woorde hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, ... Gaan in in die vreugde van jou Heer...” (Mattheus 25:23) “...wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.” (Hebreërs 12:2). Die vreugde om verloste siele te sien, siele vir ewig gered, is die beloning van almal wat hulle voetstappe in die spore van Hom plaas wat gesê het: “Volg My.” DKvDE 567.2