Die Koning van die Eeue

8/88

Hoofstuk 7—As Kind *

Die kinderjare en jeug van Jesus is in ‘n klein bergdorpie deurgebring. Daar was geen plek op aarde wat nie deur Sy teenwoordigheid vereer sou word nie. Die paleise van konings sou bevoorreg gewees het om Hom as gas te ontvang. Maar Hy het die wonings van die rykes, die howe van koninklikes en die bekende setels van geleerdheid verontagsaam om Hom in die obskure en veragte Nasaret te gaan vestig. DKvDE 47.1

Wonderlik in die betekenis daarvan, is die kort verslag van Sy vroeë lewe: “En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom.” In die sonlig van Sy Vader se aangesig het Jesus “...toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.” (Lukas 2:52). Sy verstand was aktief en deurtasted, met bedagsaamheid en wysheid ver bo Sy jare. Tog het Hy ‘n mooi en ewewigtige karakter gehad. Die krag van gees en liggaam het geleidelik, in ooreenstemming met die wette van die jeug ontwikkel. DKvDE 47.2

As kind het Jesus ‘n besondere lieflike geaardheid geopenbaar. Sy gewillige hande was altyd gereed om ander te dien. Hy het geduld, wat deur niks verstoor kon word nie, gehad en ‘n ingesteldheid vir die waarheid wat nooit Sy integriteit sou opoffer nie. In beginsel, so vas soos ‘n rots, het Sy lewe die grasie van onselfsugtige hoflikheid geopenbaar. DKvDE 47.3

Die moeder van Jesus het met diepte erns die ontplooiing van Sy kragte en die stempel van volmaaktheid in Sy karakter gadegeslaan. Met vreugde het sy gepoog om daardie helder, ontvanklike gemoed aan te moedig. Deur die Heilige Gees het sy wysheid ontvang om saam met hemelse agentskappe aan die ontwikkeling van hierdie Kind, wat slegs God as Sy Vader kon opeis, gewerk. DKvDE 47.4

Van die vroegste tye af het die gelowiges in Israel baie aandag aan die opvoeding van die jeug bestee. Die Here het opdrag gegee dat die kinders selfs van kleins af in Sy goedheid en grootheid onderrig moes word, veral soos in Sy wet geopenbaar is en in die geskiedenis van Israel getoon is. Sang en gebed en lesse uit die Skrif moes by die ontwikkeling van die verstand aangepas word. Vaders en moeders moes hul kinders leer dat die wet van God ‘n openbaring van Sy karakter is en namate hulle die beginsels van die wet in hul harte ontvang het, sou die beeld van God op hart en siel afgedruk word. Die onderrig was in ‘n groot mate mondeling, maar die jeug het ook geleer om die Hebreeuse geskrifte te lees; en die perkamentrolle van die Ou Testamentiese Geskrifte was oop vir hulle om te bestudeer. DKvDE 48.1

In die dae van Christus was die dorp of stad wat nie voorsiening vir die godsdiensonderrig van die jeug gemaak het nie, as onder die vloek van God beskou. Tog het die onderrig ‘n blote formaliteit geword. Tradisie het die Skrif tot ‘n groot mate vervang. Ware onderrig sou die jeug gelei het “...sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind.” (Handelinge 17:27). Maar die Joodse leraars het hulle op die seremonies toegespits. Die verstand is met kennis wat waardeloos vir die leerling was gevul en wat nie in die hoërskool van die hemelse howe erken sou word nie. Die ervaring wat deur ‘n persoonlike aanvaarding van die woord van God verkry sou word, het geen plek in die onderwysstelsel gehad nie. Vasgevang in ‘n kringloop van uiterlike dinge, het die studente geen stiltetyd gehad om met God deur te bring nie. Hulle het nie Sy stem tot die hart hoor spreek nie. In hul soeke na kennis het hulle van die Bron van wysheid afgedwaal. Die essensiële dinge aangaande die diens van God is verwaarloos en die beginsels van die wet is vertroebel. Dit wat as voortreflike opleiding beskou was, was die grootste struikelblok vir ware ontwikkeling. Onder die leiding van die rabbi’s is die vermoëns van die jeug onderdruk en hulle denke het eng en bekrompe geword. DKvDE 48.2

Die kind Jesus het nie onderrig in die sinagoge-skole ontvang nie. Sy moeder was sy eerste aardse onderwyseres. Van haar lippe en uit die boekrolle van die profete het Hy van hemelse dinge geleer. Selfs die woorde wat Hyself tot Moses vir Israel gespreek het, het Hy nou aan moedersknie geleer. Soos Hy van kindsbeen tot jeugdige gevorder het, het Hy nie die skole van die rabbi’s besoek nie. Hy het nie die onderwys uit sulke bronne nodig gehad nie; want God was sy Instrukteur. DKvDE 49.1

Die vraag wat tydens die Verlosser se bediening gevra is: “Hoe kom Hy aan die geleerdheid terwyl Hy geen onderwys ontvang het nie?” (Johannes 7:15) het nie aangedui dat Jesus onbelese was nie, maar bloot dat Hy geen rabbynse opleiding ontvang het nie. Aangesien Hy op dieselfde wyse as ons kennis opgedoen het, toon Sy grondige kennis van die Skrifte hoe ywerig Hy Sy jeugjare aan die studie van die Woord van God gewy het. En voor Hom uitgesprei was die groot biblioteek van God se geskape werke.Hy wat alle dinge gemaak het, het dieselfde lesse bestudeer wat in Sy eie hand op aarde, in die see en lug geskryf is. Afgesien van die onheilige weë van die wêreld, het Hy groot wetenskaplike kennis uit die natuur versamel. Hy het die lewe van plante en diere en die lewe van die mens bestudeer. Van sy vroegste jare af het Hy een doel gehad: Hy het geleef om ander te seën. Hiervoor het Hy hulpbronne in die natuur gevind; nuwe idees, metodes en middele het in Sy gedagtes opgeskiet terwyl Hy die plant-en dierelewe bestudeer het. Hy was voortdurend op soek na illustrasies waarmee die lewende woorde van God beskryf kon word. Die gelykenisse waarmee Hy graag tydens Sy bediening die lesse van waarheid geleer het, het gewys hoe ontvanklik Sy gees vir die invloede van die natuur was en hoe Hy geestelike lesse uit die alledaagse omgewing geput het. DKvDE 49.2

So is aan Jesus die betekenis van die woord en werke van God ontvou namate Hy getrag het om die rede vir dinge te verstaan. Hemelse wesens het Hom bygestaan en Syne was die kultuur van heilige gedagtes en gemeenskap. Vanaf die eerste ontwikkeling van Sy intellek het Hy voortdurend in geestelike genade en kennis van die waarheid toegeneem. DKvDE 49.3

Elke kind kan kennis opdoen soos wat Jesus gedoen het. Namate ons streef om ons hemelse Vader deur Sy Woord te leer ken, sal engele nader kom, ons gedagtes sal versterk word en ons karaters verhef en verfyn word. Ons sal meer soos ons Verlosser word. En terwyl ons die prag en grootsheid van die natuur aanskou, sal ons liefde na God uitgaan. Terwyl die gees in verwondering staan, word die siel deur kontak met die Oneindige in sy werke versterk. Gemeenskap met God deur gebed, ontwikkel die geestelike en sedelike vermoëns en geestelike kragte neem toe terwyl ons gedagtes geestelike dinge aankweek. DKvDE 50.1

Die lewe van Jesus was ‘n lewe in harmonie met God. Terwyl Hy ‘n kind was, het Hy soos ‘n kind gedink en gepraat; maar geen sweem van sonde het die beeld van God in Hom geskend nie. Tog was Hy nie teen versoeking gevrywaar nie. Die inwoners van Nasaret was bekend vir hul goddeloosheid. Die algemene lae skatting aangaande hulle, blyk uit Natanael se vraag: “Kan daar uit Nasaret iets goeds wees?” (Johannes 1:47). Jesus is geplaas waar Sy karakter getoets sou word. Dit was noodsaaklik dat Hy voortdurend gewaak het om Sy reinheid te bewaar. Hy was onderworpe aan dieselfde konflikte wat ons moes trotseer, sodat Hy ‘n voorbeeld vir ons in ons kinderjare, jeug en volwassenheid sou wees. DKvDE 50.2

Satan het onvermoeid met sy pogings om die Kind van Nasaret te oorwin voortgegaan. Van sy vroegste jare af is Jesus deur engele beskerm, maar Sy lewe was een lang stryd teen die magte van duisternis. Die feit dat daar een lewe op aarde sou wees sonder die besoedeling van die bose, was vir die vors van die duisternis ‘n aanstoot en ‘n verleentheid. Hy het geen steen onaangeroer gelaat om Jesus te verstrik nie. Geen mensekind sal ooit geroep word om soos ons Verlosser, te midde van so hewige stryd teen versoeking, ‘n heilige lewe te lei nie. DKvDE 50.3

Jesus se ouers was arm en afhanklik van hul daaglikse arbeid. Hy was bekend met armoede, selfverloëning en ontbering.Dit was Sy beskerming. In Sy vlytige lewe was daar geen ledige oomblikke om in versoeking te kom nie. Geen doellose ure het die weg vir verderflike omgang oopgelaat nie. Sover moontlik het Hy die deur vir die versoeker gesluit. Geen wins of plesier, applous of bestraffing, kon Hom oorreed om ‘n verkeerde daad te pleeg nie. Hy was wys om die sonde te onderskei en sterk om dit te weerstaan. DKvDE 51.1

Christus was die enigste sondelose mens wat ooit op aarde gewoon het; tog het Hy byna dertig jaar lank onder die goddelose inwoners van Nasaret gewoon. Hierdie feit is ‘n teregwysing vir diegene wat meen dat hulle van hul omgewing, geluk of voorspoed afhanklik is om ‘n onberispelike lewe te lei. Versoeking, armoede en teëspoed is die dissipline wat nodig is om reinheid en standvastigheid te ontwikkel. DKvDE 51.2

Jesus het in ‘n arm huis gewoon en Hy het getrou en opgeruimd sy deel gedoen om die laste van die huishouding te dra. Hy was die hemelse Gesagvoerder en die engele het Sy bevele met genoeë uitgevoer; maar nou was Hy ‘n dienswillige Dienaar, ‘n liefdevolle, gehoorsame Seun. Hy het ‘n ambag geleer en met Sy eie hande saam met Josef in ‘n skrynwerkerswinkel gewerk. In die eenvoudige drag van ‘n gewone arbeider het Hy deur die strate van die klein dorpie geloop op pad na sy nederige werk en terug. Hy het nie Sy Goddelike mag gebruik om Sy laste te verminder of sy arbeid makliker te maak nie. DKvDE 51.3

Soos Jesus in Sy kinderjare en jeug gewerk het, is Sy liggaam en verstand ontwikkel. Hy het nie sy liggaamskragte onverskillig gebruik nie, maar ‘n gesonde lewenswyse gehandhaaf, sodat Hy op elke gebied Sy beste kon lewer. Hy was nie bereid om af te skeep nie, selfs in die hantering van gereedskap. As arbeider was Hy volmaak, want Hy was volmaak in karakter. Hy het met Sy eie voorbeeld geleer dat dit ons plig is om vlytig te wees, dat ons ons werk met akkuraatheid en deeglikheid moet verrig en dat sulke arbeid eerbaar is. Die oefening wat die hande leer om nuttig te wees en die jeug op te lei om hul deel van die lewenslaste te dra, verskaf fisiese krag en ontwikkel elke fakulteit. Almal behoort iets te vind om te doen wat voordelig vir hulleself en tot nut vir ander sal wees. God het werk as ‘n seën ingestel en slegs die ywerige werker vind ware heerlikheid en lewensvreugde. Die goedkeuring van God rus met liefdevolle sekerheid op kinders en jeugdiges wat hul deel van die huishoudelike pligte met blymoedigheid verrig en die laste van die vader en moeder deel. Sulke kinders sal die ouerhuis as nuttige lede van die samelewing verlaat. DKvDE 51.4

Gedurende Sy lewe op aarde was Jesus ‘n ernstige en bestendige werker. Hy het baie verwag en daarom het Hy baie aangepak. Nadat Hy Sy bediening begin het, het Hy gesê: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, solank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie.” (Johannes 9:4) Jesus het nie probeer om sorgsaamheid en verantwoordelikheid te ontduik soos so baie mense wat beweer dat hulle Sy volgelinge is, doen nie. Dit is omdat hulle probeer om hierdie dissipline te ontduik dat so baie van hulle swak en ondoeltreffend is. Hulle besit moontlik kosbare en prysenswaardige hoedanighede, maar hulle is onstandvastig en byna nutteloos wanneer probleme of struikelblokke oorkom moet word. Die positiwiteit en energie, die standvastigheid en sterkte van karakter wat in Christus geopenbaar word, moet deur dieselfde dissipline wat Hy verduur het, in ons ontwikkel word. En die genade wat Hy ontvang het, is ook tot ons beskikking. DKvDE 52.1

Vir so lank as wat Hy onder mense gewoon het, het ons Verlosser die lot van die armes gedeel. Uit ondervinding het Hy hulle sorge en ontberinge geken en Hy kon alle nederige werkers vertroos en bemoedig. Diegene wat ‘n ware begrip van die lesse van Sy lewe het, sal nooit voel dat daar onderskeid tussen klasse getref moet word en dat die rykes bo die waardige armes vereer moet word nie. DKvDE 52.2

Jesus was opgeruimd en taktvol in Sy werk. Dit verg baie geduld en geestelikheid om Bybelse Godsdiens in die huislike lewe en in die werkswinkel in te bring, om die spanning van wêreldse aangeleenthede te dra en steeds die oog enkel op die heerlikheid van God te hou. Hierin was Christus ‘n Helper. Die sorge van die lewe het Sy aandag nooit so in beslag geneem dat Hy nie tyd of aandag aan die hemelse dinge kon bestee nie. Dikwels het Hy uiting aan die vreugde van sy hart gegee deur psalms en geestelike liedere te sing. Die inwoners van Nasaret het dikwels gehoor hoe Sy stem in lofsang en danksegging tot God verhef word. Deur sang het Hy gemeenskap met die hemel gehad; en wanneer Sy metgeselle oor moegheid van arbeid gekla het, is hulle deur die soet melodieë uit Sy mond opgebeur. Sy lofliedere het blykbaar die bose engele verdryf en, soos wierook, die werkplek met welriekendheid gevul. Die gedagtes van diegene wat Hom gehoor het, is vanuit hul aardse ballingskap weggevoer na die hemelse tuiste. DKvDE 53.1

Jesus was die Fontein van helende genade vir die wêreld; en deur al die afgesonderde jare in Nasaret het Sy lewe in strome van meegevoel en deernis gevloei. Die bejaardes, die bedroefdes en die wat met sonde belas was, die kinders wat in hul onskuldige vreugde speel, die klein diertjies van die veld en die geduldige lasdiere-almal was gelukkiger in Sy teenwoordigheid.Hy, Wie se kragtige woord die wêrelde in stand gehou het, het neergebuig om ‘n beseerde voëltjie te versorg. Niks was te gering vir Sy aandag nie, niks was benede Sy diens nie. DKvDE 53.2

Soos Hy in wysheid en gestalte gegroei het, het Jesus in guns by God en die mense toegeneem. Hy het die goedgesindheid van alle harte verseker deur te toon dat Hy in staat was om meegevoel met almal te betoon. Die atmosfeer van hoop en moed wat Hom omring het, het Hom ‘n seën in elke huis gemaak. En dikwels is Hy op die Sabbatdag in die sinagoge gevra om die les uit die profete voor te lees en is die harte van sy toehoorders deur ‘n nuwe lig wat uit die bekende woorde van die Heilige Skrifte gestraal het, ontroer. DKvDE 53.3

Tog het Jesus vertoon vermy. Gedurende al die jare van Sy verblyf in Nasaret, het Hy geen vertoon van Sy wonderwerkende krag gelewer nie. Hy het na geen hoë posisie gesoek en geen titels aanvaar nie. Sy stil en eenvoudige lewe en selfs die stilswye van die Skrifte aangaande Sy vroeë jare, leer ons ‘n belangrike les. Hoe stiller en eenvoudiger die lewe van die kind-hoe meer vry van kunsmatige opwinding en hoe meer in harmonie met die natuur-hoe gunstiger is dit vir sy liggaamlike, verstandelike en geestelike krag. DKvDE 54.1

Jesus is ons voorbeeld. Daar is baie wat met belangstelling talm oor die tydperk van Sy openbare bediening, terwyl hulle onbewustelik die kennis van Sy vroeë jare oor die hoof sien. Maar dit is in Sy huislike lewe dat Hy die patroon vir alle kinders en jongmense is. Die Verlosser het Hom armoede laat welgeval, sodat Hy ons kon leer hoe naby ons in ‘n nederige lewenswyse met God kan wandel. Hy het geleef om Sy Vader in die alledaagse lewe te behaag, te vereer en te verheerlik. Sy werk het met die heiliging van die nederige ambag van vakmanne wat vir hul daaglikse brood swoeg begin. Hy het net soveel in die diens van God gestaan wanneer hy by die skrynwerkersbank gewerk het, as wanneer Hy wonderwerke vir die menigte gedoen het. En elke jeugdige wat Christus se voorbeeld van getrouheid en gehoorsaamheid in sy nederige huis volg, kan aanspraak maak op die woorde wat die Vader deur die Heilige Gees van Hom gesê het: “Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het.” (Jesaja 42:1). DKvDE 54.2