Die Koning van die Eeue

57/88

Hoofstuk 56—Jesus Seën die Kinders *

Jesus was altyd lief vir kinders. Hy het hul kinderlike ontvanklikheid en hul openhartige, ongeveinsde liefde verwelkom. Die dankbare lof van hul onskuldige lippe was musiek in Sy ore en het Sy gees verkwik wanneer sluwe, skynheilige manne Hom terneergedruk het. Oral waar die Verlosser Hom begeef het, het die goedigheid op Sy gelaat en Sy sagte, vriendelike houding die liefde en vertroue van kinders gewen. DKvDE 555.1

Onder die Jode was dit gebruiklik dat kinders na ‘n rabbi gebring word, sodat hy hulle die hande kon oplê om hulle te seën; maar die Heiland se dissipels het Sy werk te belangrik geag om op hierdie wyse onderbreek te word. Toe die moeders met hul kindertjies na Hom toe kom, het die dissipels dit met onguns bejeën. Hulle was van mening dat hierdie kinders te klein was om deur ‘n besoek aan Jesus bevoordeel te word en het tot die gevolgtrekking gekom dat Hy ontevrede met hulle teenwoordigheid sou wees. Maar dit was die dissipels met wie Hy ontevrede was. Die Heiland het die sorge en laste van die moeders, wat hul kinders volgens die Woord van God wou opvoed, verstaan. Hy het hul versoeke gehoor. Hy het hulle self in Sy teenwoordigheid ingetrek. DKvDE 555.2

Een moeder het met haar kind die huis verlaat om Jesus te vind. Langs die pad het sy ‘n buurvrou van haar voorneme vertel en die buurvrou het verlang dat Jesus haar kinders ook moes seën. So het verskeie moeders met hul kinders bymekaargekom. Sommige van die kinders was reeds verby hul suigelingsjare, op pad na hul kleuter-en jeugjare. Toe die moeders hul begeerte bekend gemaak het, het Jesus met deernis na hul skugter versoek geluister. Maar Hy het gewag om te sien hoe die dissipels teenoor hulle sou optree. Toe Hy sien dat hulle die moeders wegstuur, onder die indruk dat hulle Hom ‘n guns bewys, het Hy hulle op hul fout gewys en gesê: “Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.” Hy het die kinders in Sy arms geneem, hulle die hande opgelê en die verlangde seën oor hulle uitgespreek. DKvDE 555.3

Die moeders was getroos. Hulle het versterk en geseën deur die woorde van Christus, na hul huise teruggekeer. Hulle was aangemoedig om met blydskap hul las op te neem en met nuwe hoop vir hul kinders te werk. Die moeders van vandag moet Sy woorde met dieselfde geloof aanneem. Christus is waarlik vandag steeds dieselfde persoonlike Verlosser soos toe Hy op aarde tussen die mense geleef het. Hy is vandag steeds dieselfde Helper van moeders soos wat Hy was toe Hy die kinders in Judea in Sy arms geneem het. Die kinders om ons kaggelvure is net soveel die aankope van Sy bloed soos die kinders van lank gelede. DKvDE 556.1

Jesus ken die las van elke moeder se hart. Hy, wat self ‘n moeder gehad het wat met armoede en ontbering geworstel het, het medelye met elke moeder in haar arbeid. Hy wat ver gereis het om die angstige hart van ‘n Kanaänitiese moeder te verlig, sal dieselfde vir vandag se moeders doen. Hy wat aan die weduwee van Nain haar enigste seun aan haar teruggegee het en wat in Sy foltering aan die kruis aan Sy eie moeder gedink het, word vandag steeds deur elke moeder se leed aangeraak. In elke hartseer en elke behoefte sal Hy vertroosting en hulp verleen. DKvDE 556.2

Laat moeders met hul probleme na Jesus kom. Hulle sal voldoende genade vind om hulle met die opvoeding van hul kinders by te staan. Die poorte is oop vir elke moeder wat haar laste aan die Heiland se voete wil neerlê. Hy wat gesê het: “Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie...” nooi die moeders steeds uit om hul kinders op te voed om deur Hom geseën te word. Selfs ‘n baba in sy moeder se arms kan deur die geloof van ‘n biddende moeder in die skaduwee van die Almagtige skuil. Johannes die Doper was van sy geboorte af met die Heilige Gees vervul. As ons in gemeenskap met God leef, kan ons ook verwag dat die Gees van God ons kinders, selfs van hul vroegste oomblikke af, sal vorm. DKvDE 556.3

In die kinders wat na Hom gebring is, het Jesus die manne en vroue gesien wat erfgename van Sy genade en burgers van Sy koninkryk sou word en sommige wat om Sy ontwil martelare sou word. Hy het geweet dat hierdie kinders veel meer geredelik na Hom sou luister en Hom sou aanneem, as enige volwassenes waarvan baie wêreldwys en hardvogtig was. In Sy lering het Hy tot hulle vlak gedaal. Hy, die Majesteit van die Hemel, het dit nie benede Hom geag om hul vrae te beantwoord nie en Sy belangrike lesse te vereenvoudig om aan hul kinderlike begrip te voldoen nie. Hy het die saad van die waarheid in hul gedagtes geplant, wat jare later sou opkom en vrugte tot die ewige lewe dra. DKvDE 557.1

Dit is steeds waar dat kinders die vatbaarste vir die evangelie is; hul harte is ontvanklik vir Goddelike invloede en bevoeg om die lesse wat hulle ontvang het te onthou. Die klein kindertjies mag Christene wees, met ondervinding wat met hul jare ooreenstem. Hulle moet in geestelike dinge opgelei word en ouers moet hulle elke geleentheid bied om hul karakter na die gelykenis van die karakter van Christus te ontwikkel. DKvDE 557.2

Vaders en moeders moet hul kinders, wat aan hulle toevertrou is om vir die hemel opgelei te word, as jonger lede van die Here se familie bejeën. Die lesse wat ons self van Christus leer, moet ons aan ons kinders deurgee, namate die jong verstand dit kan ontvang en sodoende bietjie vir bietjie die skoonheid van die hemelse beginsels vir hulle oopmaak. So word die Christelike huis ‘n skool waar die ouers as onderwysers dien, terwyl Christus self die Hoofinstrukteur is. DKvDE 557.3

In ons pogings om ons kinders tot bekering te bring, moet ons nie heftige emosies as noodsaaklike bewys van die oortuiging van sonde sien nie. Dit is ook nie nodig om te weet presies wanneer hulle tot bekering kom nie. Ons moet hulle leer om hul sondes na Jesus te bring, Hom om vergifnis te vra en te glo dat Hy hulle vergewe en ontvang soos Hy die kinders ontvang het toe Hy persoonlik op aarde was. DKvDE 558.1

Soos die moeder haar kinders leer om haar te gehoorsaam omdat hulle haar liefhet, leer sy hulle die eerste lesse van die Christelike lewe. Die liefde van die moeder verteenwoordig die liefde van Christus vir die kind en die kinders wat hul moeder vertrou en gehoorsaam, leer om die Verlosser te vertrou en te gehoorsaam. DKvDE 558.2

Jesus was die kinders se model en ook die voorbeeld van die vader. Hy het gepraat soos Een met gesag en Sy woord was kragtig; tog het Hy in al Sy omgang met onbeskofte en gewelddadige mans, nooit ‘n onvriendelike of onbeleefde woord geuiter nie. Die genade van Christus in die hart sal ‘n hemelse waardigheid en welvoeglikheid meebring. Dit sal versag wat kras is en alles wat grof en onvriendelik is onderwerp. Dit sal daartoe lei dat vaders en moeders hul kinders as intelligente wesens behandel, soos hulle self graag behandel wil word. DKvDE 558.3

Ouers, vir die opleiding van julle kinders, moet julle die lesse wat God in die natuur voorsien het, bestudeer. As julle ‘n angelier, of roos, of lelie sou kweek, hoe sou julle dit doen? Vra die tuinier watter proses hy gebruik om elke tak en blaar so mooi te laat floreer en dit so mooi en simmetries te laat ontwikkel. Hy sal julle meedeel dat dit nie deur ruwe behandeling of geweld geskied het nie, want dit sou net die tenger stingels breek. Dit geskied deur ‘n klein bietjie aandag wat gereeld herhaal word. Hy het die grond bevogtig en die groeiende plante teen hewige rukwinde en skroeiende son beskerm en God het dit laat floreer en in skoonheid laat ontluik. Volg die tuinier se metode in die omgang met julle kinders. Deur ‘n sagte aanraking en liefdevolle aandag, moet julle probeer om hul karakters na die karakter van Christus te skoei. DKvDE 558.4

Moedig liefde tot God en tot mekaar aan. Die rede waarom daar so baie hardvogtige manne en vroue in die wêreld is, is omdat ware liefde as swakheid beskou word en ontmoedig en onderdruk word. Die beter natuur van hierdie persone is in hul kinderjare doodgesmoor; en tensy die lig van die Goddelike hul kille selfsug versmelt, sal hul geluk vir ewig verwoes wees. As ons verlang dat ons kinders die tere gees van Jesus moet besit en die simpatie waarmee die engele ons bejeën, moet ons die vrygewige, liefdevolle impulse van die kinderjare aanmoedig. DKvDE 559.1

Leer die kinders om Christus in die natuur te sien. Neem hulle uit in die buitelug, onder die groot bome in die tuin; en leer hulle om ‘n uitdrukking van Sy liefde, in al die wonderbare werke van die skepping te sien. Leer hulle dat Hy die wette gemaak het wat alle lewende dinge beheer, dat Hy wette vir ons gemaak het en dat hierdie wette tot ons geluk en vreugde dien. Moet hulle nie met lang gebede en vervelige vermanings vermoei nie, maar leer hulle gehoorsaamheid aan die wet van God, deur die natuur se aanskouingslesse. DKvDE 559.2

As julle hul vertroue in julle as volgelinge van Christus wen, sal dit maklik wees om hulle van die groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het te leer. Engele sal julle in jul pogings bystaan om die waarhede van verlossing aan hulle te verduidelik en om hulle na Christus as hul persoonlike Verlosser te wys. Die Here sal aan ouers die genade skenk om hul kinders se belangstelling in die Kind van Betlehem te wek, wat inderdaad die hoop van die wêreld is. DKvDE 559.3

Toe Jesus vir die dissipels gesê het om nie die kinders te belet om na Hom te kom nie, het Hy met Sy volgelinge deur al die eeue heen gepraat-ampsdraers van die kerk, predikante, helpers en alle Christene. Jesus trek die kinders na Hom en Hy beveel ons om hulle toe te laat om na Hom te kom; asof Hy wou sê: Hulle sal kom as julle hulle nie verhinder nie. DKvDE 560.1

Moenie dat jou onchristelike karakter Jesus in ‘n valse lig stel nie. Moenie die kleintjies van Hom af weghou deur jou kilheid en onvriendelikheid nie. Laat hulle nooit voel dat die hemel, met jou daar, nie vir hulle ‘n aangename plek sal wees nie. Moenie van godsdiens praat asof dit iets is wat kinders nie kan verstaan nie, of optree asof daar nie van kinders verwag word om Christus aan te neem nie. Moet hulle nie onder die wanindruk bring dat die godsdiens van Christus ‘n sombere godsdiens is nie en dat hulle alles wat vreugde in die lewe verskaf moet versaak om na hul Verlosser te kom nie. DKvDE 560.2

Werk saam met die Heilige Gees soos Hy die harte van kinders beweeg. Leer hulle dat die Verlosser hulle roep, dat niks Hom groter vreugde verskaf as dat hulle hulself aan Hom in die fleur en frisheid van hul jeug oorgee nie. DKvDE 560.3

Die Verlosser beskou die siele wat Hy met Sy eie bloed gekoop het, met oneindige teerheid. Sy liefde maak aanspraak op hulle. Hy kyk na hulle met onuitspreeklike verlange. Sy hart is nie net op die voorbeeldigste kinders gerig nie, maar ook op diegene wat deur oorerwing onaanvaarbare karaktertrekke besit. Baie ouers besef nie tot watter mate hulle vir hierdie karaktertrekke in hul kinders verantwoordelik is nie. Hulle het nie die teerheid en wysheid om die ongehoorsame kinders, waarvoor hulle self verantwoordelik is, te behartig nie. Maar Jesus kyk hierdie kinders met ontferming aan. Hy speur na van oorsaak tot gevolg. DKvDE 560.4

Die Christen-werker kan moontlik die verteenwoordiger van Christus wees om hierdie kinders na die Verlosser te trek. Deur wysheid en takt kan hy hulle hoop en moed gee en deur die genade van Christus kan hy hulle in karakter sien verander, sodat daar van hulle gesê kan word: “Aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.” DKvDE 560.5