Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 55—“Nie Met Sigbare Tekens Nie” *
Sommige Fariseërs het na Jesus gekom en gevra “...wanneer die koninkryk van God sal kom.” Meer as drie jaar het verloop sedert Johannes die Doper die boodskap soos trompetgeskal deur die land verkondig het: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Mattheus 3:2). En tot dusver het die Fariseërs geen aanduiding van die totstandkoming van die koninkryk gesien nie. Baie van diegene wat Johannes verwerp het en Jesus met elke stap teëgestaan het, het geïnsinueer dat Sy sending misluk het. DKvDE 549.1
Jesus het geantwoord: “Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.” Die koninkryk van God begin in die hart. Moenie hier of daar na manifestasies van aardse mag as teken van Sy koms soek nie. DKvDE 549.2
“Daar sal dae kom...” het Hy aan sy dissipels gesê, “...wanneer julle sal begeer om een van die dae van die Seun van die mens te sien en julle sal dit nie sien nie.” Omdat dit nie met wêreldse vertoon gepaard gaan nie, loop julle gevaar om nie die heerlikheid van My sending te onderskei nie. Julle besef nie hoe groot jul voorreg tans is om onder julle, al is Hy met mensheid geklee, Hom te hê wat die lewe en die lig van die mense is nie. Die dae sal kom wanneer julle met verlange sal terugkyk na die geleenthede wat julle nou geniet om saam met die Seun van God te verkeer. DKvDE 549.3
As gevolg van hul selfsug en wêreldsheid, kon selfs die dissipels van Jesus nie die geestelike heerlikheid wat Hy aan hulle wou openbaar, begryp nie. Eers na Christus se Hemelvaart na sy Vader en die uitstorting van die Heilige Gees op die gelowiges, het die dissipels die Heiland se karakter en sending ten volle waardeer. Nadat hulle die doop van die Heilige Gees ontvang het, het hulle begin besef dat hulle in die teenwoordigheid van die Here van heerlikheid was. Soos die woorde van Christus in hul gedagtes opgekom het, is hulle verstand geopen om die profesieë te begryp en die wonderwerke wat Hy verrig het, te verstaan. Die wonders van Sy lewe het voor hulle afgespeel en hulle was soos mense wat uit ‘n droom ontwaak. Hulle het besef: “Die Woord het vlees geword en onder ons gewoon-ons het Sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom-vol van genade en waarheid.” (Johannes 1:14). Christus het in der waarheid van God af na ‘n sondige wêreld gekom om die gevalle seuns en dogters van Adam te red. Die dissipels het nou vir hulleself veel meer onbelangrik voorgekom as voordat hulle dit besef het. Hulle het nooit moeg geword om Sy woorde en werke te herhaal nie. Sy lesse, wat hulle maar dofweg verstaan het, was nou vir hulle ‘n vars openbaring. Die Skrif het vir hulle ‘n nuwe boek geword. DKvDE 549.4
Namate die dissipels die profesieë wat van Christus getuig ondersoek het, is hulle in gemeenskap met die Godheid gebring en het hulle van Hom wat na die hemel opgevaar het om die werk wat Hy op aarde begin het te voltooi, geleer. Hulle het besef dat Hy oor kennis beskik het wat geen mens sonder Goddelike gesag kon begryp nie. Hulle het die hulp van Hom aangaande Wie konings, profete en regverdige mense geprofeteer het, nodig gehad. Met verbasing het hulle die profetiese beskrywings van Sy karakter en werk gelees en herlees. Hoe swak was hulle begrip van die profetiese geskrifte! Hoe traag was hulle om die groot waarhede wat van Christus getuig het, in te neem! Toe hulle Hom in sy vernedering aanskou het waar Hy as ‘n mens tussen die mense gewandel het, het hulle nie die verborgenheid van sy vleeswording, die dubbele aard van Sy natuur verstaan nie. Hul oë was verblind, sodat hulle nie die Goddelikheid in die menslikheid ten volle herken het nie. Maar nadat hulle deur die Heilige Gees verlig is, hoe het hulle nie daarna verlang om Hom weer te sien en om by Sy voete plaas te neem nie. Hoe het hulle gewens dat hulle na Hom kon kom sodat Hy die skrifgedeeltes wat hulle nie kon verstaan aan hulle uit te lê nie! Hoe aandagtig sou hulle nie na Sy woorde luister nie! Wat het Christus bedoel toe Hy gesê het: “Nog baie dinge het Ek om vir julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie.” (Johannes 16:12). Hoe gretig was hulle om dit alles te weet! Hulle was bedroef dat hul geloof so swak was, dat hul idees so ver van die merk af was, dat hulle die werklikheid so min begryp het. DKvDE 550.1
'n Boodskapper van God is gestuur om die koms van Christus te verkondig en die aandag van die Joodse volk en die wêreld op Sy sending te vestig, sodat die mense hulle op Sy koms kon voorberei. Die wonderbare Een wat Johannes aangekondig het, was al meer as dertig jaar onder hulle en hulle het Hom nie werklik geken as die Een wat van God gestuur is nie. Berou het die dissipels beetgepak omdat hulle die heersende ongeloof toegelaat het om hulle sienswyse te deursuur hul begrip te benewel. Die Lig van hierdie donker wêreld het te midde van die duisternis geskyn en hulle kon nie verstaan waar sy strale vandaan kom nie. Hulle het hulself afgevra waarom hulle op so ‘n wyse opgetree het dat dit vir Christus nodig was om hulle te bestraf. Hulle het gereeld Sy gesprekke herhaal en hulself afgevra: Waarom het ons toegelaat dat wêreldse oorwegings en die verset van die priesters en rabbi’s ons sintuie verwar het, sodat ons nie begryp het dat Een groter as Moses onder ons was nie; dat Een, wyser as Salomo, ons onderrig het nie? Hoe verstop was ons ore! Hoe swak ons verstand! DKvDE 551.1
Thomas sou nie glo voordat hy sy vinger in die wond wat deur die Romeinse soldate toegedien is, gesteek het nie. Petrus het Hom in sy vernedering en verwerping verloën. Hierdie pynlike herinneringe het hulle nou helder voor die gees geroep. Hulle was by Hom, maar het Hom nie geken of waardeer nie. Maar hoe het hierdie dinge nou hulle harte geroer toe hulle hul ongeloof besef! DKvDE 551.2
Terwyl die priesters en owerstes teen hulle saamgesweer het en hulle voor hul rade gebring en in die gevangenis gewerp is, was die volgelinge van Christus verheug “...dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly.” (Handelinge 5:41). Hulle was verheug om voor mense en engele te getuig dat hulle die heerlikheid van Christus herken het en gekies het om Hom, ten koste van alle dinge, te volg. DKvDE 552.1
Dit is tans nog net so waar soos in die dae van die apostels dat die mensdom, sonder die verligting van die Heilige Gees, nie die heerlikheid van Christus kan onderskei nie. Die waarheid en die werk van God word nie deur ‘n wêreld-liefhebbende en toegeeflike Christendom waardeer nie. Die volgelinge van die Meester word nie op die weë van gemak, wêreldse eer of gelykvormigheid aan die wêreld gevind nie. Hulle is ver vooruit op die paaie van arbeid, vernedering en smaad, voor in die stryd teen die “...owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Efesiërs 6:12). En nou, soos in Christus se tyd, word hulle verkeerd verstaan en deur die priesters en Fariseërs van hulle tyd verwyt en onderdruk. DKvDE 552.2
Die koninkryk van God kom nie met uiterlike vertoon nie. Die evangelie van die genade van God, met sy gees van selfverloëning, kan nooit in harmonie met die gees van die wêreld wees nie. Die twee beginsels is teenstrydig met mekaar. “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” (1 Korinthiërs 2:14). DKvDE 552.3
Maar vandag is daar in die godsdienstige wêreld menigtes wat, soos wat hulle glo, hulle vir die vestiging van die koninkryk van Christus as ‘n aardse en tydelike bewind beywer. Hulle wil ons Here die Heerser van die koninkryke van hierdie wêreld maak, die Heerser in die howe en kampe, die wetgewende liggame, paleise en markte. Hulle verwag dat Hy deur wettige bepalings wat deur menslike gesag afgedwing is, sal regeer. Aangesien Christus nie tans persoonlik hier is nie, sal hulle self onderneem om namens Hom op te tree en die wette van Sy koninkryk uit te voer. Die totstandkoming van so ‘n koninkryk, is wat die Jode in die dae van Christus begeer het. Hulle sou Jesus aanvaar het as Hy bereid was om ‘n tydelike heerskappy te vestig om, wat hulle as die wette van God beskou het, af te dwing en om hulle die vertolkers van Sy wil en die uitvoerders van Sy gesag te maak. Maar Hy het gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.” (Johannes 18:36). Hy sou nie ‘n aardse troon aanvaar nie. DKvDE 552.4
Die regering tydens Jesus se leeftyd, was korrup en onderdrukkend; oral was daar skreiende wanpraktyke van afpersing, onverdraagsaamheid en wreedheid. Tog het die Heiland nie probeer om enige burgerlike hervormings aan te bring nie. Hy het geen nasionale misbruike aangeval en ook nie die nasionale vyande veroordeel nie. Hy het nie met die gesag of administrasie van maghebbers ingemeng nie. Hy, wat ons voorbeeld was, het afsydig teenoor aardse regerings gestaan. Nie omdat hy onverskillig teenoor die ellende van die mense was nie, maar omdat die oplossing nie bloot in menslike en uiterlike maatreëls gelê het nie. Om doeltreffend te wees, moet genesing die mense individueel bereik en die hart vernuwe. DKvDE 553.1
Nie deur die besluite van howe of rade of wetgewende liggame nie, nie deur die begunstiging van die wêreld se aansienlikes, word die koninkryk van Christus tot stand gebring nie, maar deur die inplanting van Christus se natuur in die mens, deur die werk van die Heilige Gees. “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.” (Johannes 1:12,13). Hier is die enigste mag wat die mensdom kan ophef. En die mens se rol in die uitvoering van hierdie werk, is die onderrig en uitoefening van die Woord van God. DKvDE 553.2
Toe die apostel Paulus sy bediening in Korinte begin het, daardie groot, ryk en goddelose stad, wat deur naamlose euwels van die heidendom besoedel was, het hy gesê: “Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus en Hom as gekruisigde.” (1 Korinthiërs 2:2). Daarna het hy aan sommige van diegene wat voorheen deur die laagste sondes verdorwe was, geskryf en gesê: “Maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (1 Korinthiërs 6:11). “Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus gegee is” (1 Korinthiërs 1:4). DKvDE 554.1
Tans, soos in die dae van Christus, berus die werk van die koninkryk van God nie by diegene wat strewe na erkenning en steun van aardse heersers en menslike wette nie, maar by diegene wat in Sy Naam aan die mense daardie geestelike waarhede verklaar, wat die ervaring van Paulus in die ontvangers sal bewerk: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” (Galasiërs 2:20). Dan sal hulle werk soos Paulus gedoen het, ten behoewe van die mense. Hy het gesê: “Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.” (2 Korinthiërs 5:20). DKvDE 554.2