Die Koning van die Eeue

55/88

Hoofstuk 54—Die Barmhartige Samaritaan *

In die verhaal van die barmhartige Samaritaan illustreer Christus die aard van ware godsdiens. Hy toon dat dit nie uit stelsels, leerstellings of rituele bestaan nie, maar om ware goedheid, liefdevolle dade te beoefen om die heel beste vir ander te bewerkstellig. DKvDE 540.1

Terwyl Christus die volk onderrig het, “...het ‘n sekere wetgeleerde opgestaan wat Hom versoek het deur te sê: Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” Met ingehoue asem het die groot skare op die antwoord gewag. Die priesters en rabbi’s het gehoop om Christus met hierdie vraag van die wetgeleerde te verstrik. Maar die Heiland het Hom by geen geskille laat betrek nie. Hy het die vraag met ‘n teenvraag beantwoord: “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” Die Jode het Jesus steeds daarvan beskuldig dat Hy die wet wat vanaf Sinai af gegee is, geringgeskat het; maar Hy het die vraag van redding op die onderhouding van God se gebooie gerig. DKvDE 540.2

Die wetgeleerde het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” Toe sê Jesus: “Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe.” DKvDE 540.3

Die wetgeleerde was nie tevrede met die posisie en werke van die Fariseërs nie. Hy het die Skrif bestudeer met die begeerte om die ware betekenis daarvan te leer ken. Hy het ‘n wesenlike belang daarby gehad en het opreg gevra: “Wat moet ek doen?” In sy antwoord oor die vereistes van die wet het hy die hele reeks seremoniële en rituele voorskrifte verontagsaam. Hy het geen waarde daaraan geheg nie, maar hy het die twee groot beginsels waaraan die hele wet en die profete hang, voorgelê. Hierdie antwoord, wat deur Christus aangeprys is, het aan die Verlosser ‘n voorsprong op die rabbi’s gegee. Hulle kon Hom nie veroordeel omdat Hy dit wat deur ‘n wetsgeleerde voorgehou is, goedgekeur het nie. DKvDE 540.4

“Doen dit, en jy sal lewe...” het Jesus gesê. Hy het die wet as ‘n Goddelike eenheid aangebied en het met hierdie les geleer dat dit nie moontlik is om een gebod te onderhou en ‘n ander te verbreek nie; want dieselfde beginsel loop regdeur almal. Die mens se bestemming sal deur sy gehoorsaamheid aan die hele wet bepaal word. Die hoogste liefde vir God en onpartydige liefde vir die mens is die beginsels wat in die lewe gehandhaaf moet word. DKvDE 541.1

Die wetgeleerde het besef dat hy ‘n wetsoortreder was. Die deurtastende woorde van Christus het hom veroordeel. Hy het die geregtigheid van die wet, wat hy beweer het hy verstaan, nie nagekom nie. Hy het nie liefde teenoor sy medemens geopenbaar nie. Bekering was nodig, maar in plaas daarvan om berou te toon, het hy probeer om homself te regverdig. Eerder as om die waarheid te erken, het hy probeer aantoon hoe moeilik dit is om die gebod te onderhou. Sodoende het hy gehoop om beide die oortuiging af te weer en ook om homself in die oë van die mense te regverdig. Die woorde van die Heiland het getoon dat sy vraag oorbodig was, aangesien hy dit self kon beantwoord. Tog het hy ‘n verdere vraag gestel: “Wie is my naaste?” DKvDE 541.2

Onder die Jode het hierdie vraag tot eindelose geskille gelei. Hulle het geen twyfel gehad oor die heidene en die Samaritane nie; hulle was vreemdelinge en vyande. Maar waar moes die onderskeid tussen hul eie volksgenote en die verskillende groepe van die samelewing getref word? Wie moes die priester, die rabbi en die owerste as sy naaste beskou? Hulle het hul lewens in ‘n reeks seremonies om hulself te reinig deurgebring. Hulle het geleer dat kontak met die onkundige en onverskillige menigte, onreinheid sou meebring wat moeisame inspanning sou verg om te verwyder. Moes hulle die “onreine” as hul naastes beskou? DKvDE 541.3

Weer het Jesus geweier om in ‘n geskil betrokke te raak. Hy het nie die dweepsug van diegene wat Hom wou veroordeel, veroordeel nie. Maar deur ‘n eenvoudige verhaal het Hy vir sy toehoorders so ‘n beeld van die uitvloeiing van hemelse liefde voorgehou, dat dit alle harte aangeraak het en ‘n belydenis van die waarheid van die wetgeleerde ontlok het. DKvDE 542.1

Die enigste wyse waarop duisternis verdryf kan word, is om lig in te laat. Die beste manier om dwaling te hanteer, is om die waarheid aan te bied. Dit is die openbaring van God se liefde wat die gebrekkigheid en sonde van die selfgesentreerde hart openbaar. DKvDE 542.2

“'n Sekere man...” het Jesus gesê, “...het afgegaan van Jerusalem na Jerigo en onder rowers verval en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom halfdood lê. En bygeval het ‘n priester met daardie pad afgekom en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby. En net so ook het ‘n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en anderkant verbygegaan.” Dit was geen denkbeeldige verhaal nie, maar ‘n werklike gebeurtenis wat, presies soos dit voorgelê is, bekend was. Die priester en die Leviet wat aan die anderkant verbygegaan het, was in die geselskap wat na Christus se woorde geluister het. DKvDE 542.3

Die reisiger moes, van Jerusalem na Jerigo, deur ‘n gedeelte van die woestyn van Judea reis. Die pad het deur ‘n wilde, rotsagtige kloof, wat van rowers gewemel het gelei en was dikwels die toneel van geweld. Dit was hier waar die reisiger aangeval was, van alles wat waardevol was beroof is en gewond, gekneus en halfdood langs die pad gelaat is. Terwyl hy so daar gelê het, het ‘n priester daar verbygekom, maar hy het slegs vlugtig na die gewonde man gekyk. Toe verskyn die Leviet. Hy was nuuskierig en het gaan stilstaan om na die gewonde man te kyk. Hy het skuldig gevoel oor wat hom te doen staan, maar dit was nie ‘n aangename plig nie. Hy het gewens dat hy nie hierlangs gereis het nie, sodat hy die gewonde nie sou raaksien nie. Hy het homself oortuig dat die saak hom nie aangaan nie. DKvDE 542.4

Albei hierdie mans was in die heilige bediening, wat beweer het dat hulle die Skrif uiteensit. Hulle het aan die klas behoort wat spesifiek uitgekies was om verteenwoordigers van God vir die volk te wees. Hulle moes medelye “...met die onwetendes en dwalendes...” (Hebreërs 5:2) hê, sodat hulle die mense kon lei om God se groot liefde vir die mensdom te begryp. Die werk waartoe hulle geroep was, was dieselfde as wat Jesus as Sy eie beskryf het, toe Hy gesê het: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes die herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur.” (Lukas 4:18,19). DKvDE 543.1

Die engele in die hemel aanskou die nood van God se familie op aarde en is bereid om met mense saam te werk om onderdrukking en lyding te verlig. God het in Sy voorsiening, die priester en die Leviet langs die pad waar die gewonde gelê het gebring, sodat hulle sy behoefte aan barmhartigheid en hulp sou sien. Die ganse hemel het gewag om te sien of die harte van hierdie manne met meegevoel vir die mensdom se wee aangeraak sou word. Die Verlosser was die Een wat die Hebreërs in die woestyn onderrig het; uit die wolk-en vuurkolom het Hy hulle ‘n heel ander les geleer as wat die volk tans van hul priesters en rabbi’s ontvang het. Die barmhartige bepalings van die wet het selfs tot die laagste diere, wat nie hul behoefte en lyding in woorde kon uitdruk nie, gestrek. Opdragte hiervoor is aan Moses vir die kinders van Israel gegee: “As jy jou vyand se bees of esel teëkom wat ronddwaal, moet jy dit sekerlik vir hom terugbring. As jy jou vyand se esel onder sy pak sien lê, moet jy dit nie onverskillig aan hom oorlaat nie; jy moet dit sekerlik saam met hom aflaai” (Exodus 23:4,5). Maar in die man wat deur die rowers gewond is, het Jesus die geval van ‘n broer in lyding voorgehou. Hoeveel te meer moes hulle harte nie met ontferming vir hom, as vir ‘n lasdier, aangeraak gewees het nie! Die boodskap is deur Moses aan hulle meegedeel dat die Here hulle God is “...die grote, magtige en gedugte God... ” wat “...reg verskaf aan die wees en die weduwee en die vreemdeling liefhet...” (Deuteronomium 10:18). Daarom het Hy beveel, “...moet julle die vreemdeling liefhê...” (Deuteronomium 10:19). “Jy moet hom liefhê soos jouself.” (Levitikus 19:34). DKvDE 543.2

Job het gesê: “Die vreemdeling het nie buitekant vernag nie; my deure het ek oopgemaak na die pad toe!” (Job 31:32). En toe die twee engele in die gedaante van mense na Sodom gekom het, het Lot hom met sy aangesig na die aarde neergebuig en gesê: “Kyk tog, my here, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die nag oor.” (Genesis 19:2). Die priester en die Leviet was met al hierdie lesse bekend, maar hulle het dit nie in hul praktiese lewe toegepas nie. Hulle is in die skool van nasionale bekrompenheid opgelei en het selfsugtig, eng en eksklusief geword. Toe hulle na die gewonde man kyk, kon hulle nie onderskei of hy ‘n volksgenoot was of nie. Hulle het gedink dat hy moontlik ‘n Samaritaan kon wees en het weggedraai. DKvDE 544.1

In hul optrede, soos Christus dit beskryf het, het die wetgeleerde niks gesien wat teenstrydig met die vereistes van die wet was, soos hy geleer is nie. Maar nou was ‘n ander toneel aan hom voorgehou: DKvDE 544.2

'n Samaritaan wat op reis was, het by die plek gekom waar die gewonde man was en hom innig jammer gekry. Hy het nie bevraagteken of die vreemdeling ‘n Jood of ‘n heiden was nie. Indien hy ‘n Jood was, het die Samaritaan goed besef, dat indien die situasie omgeruil was, die man in sy gesig sou gespuug het en met minagting by hom verbygestap het. Maar hy het nie as gevolg hiervan gehuiwer nie. Hy het nie daaraan gedink dat hy self in gevaar op hierdie pad van geweld verkeer het nie. Vir hom was dit genoeg dat hier ‘n mens voor hom in nood en lyding verkeer het. Hy het sy eie kleed uitgetrek en hom daarmee bedek. Hy het die olie en die wyn wat hy vir sy reis saamgebring het, aangewend om die gewonde man te genees en te verkwik. Hy het hom op sy eie esel gelig en met ‘n egalige pas, stadig met hom voortbeweeg, sodat die vreemdeling nie gestamp word en toenemende pyn ly nie. Hy het hom na ‘n herberg gebring en hom gedurende die nag versorg en met deernis dopgehou. Die volgende oggend, toe die gewonde beter was, het die Samaritaan besluit om sy reis voort te sit. Maar voordat hy vertrek het, het hy hom in die sorg van die herbergier geplaas, die koste betaal en ‘n voorskot tot sy voordeel voorsien; en selfs nie hiermee tevrede nie, het hy voorsiening vir enige verdere behoeftes gemaak en vir die herbergier gesê: “Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom.” DKvDE 544.3

Aan die einde van die verhaal, het Jesus sy oë, met ‘n blik wat gelyk het asof dit tot in sy siel kyk, op hom gerig en gesê: “Wie van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?” DKvDE 545.1

Die wetgeleerde wou selfs nou nie die naam ‘Samaritaan’ op sy lippe neem nie en het geantwoord: “Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het.” Toe het Jesus gesê: “Gaan en doen jy net so.” DKvDE 545.2

Sodoende is die vraag: “Wie is my naaste?” vir altyd beantwoord. Christus het getoon dat ons naaste nie net iemand van die kerk of geloof waaraan ons behoort is nie. Dit hou geen verband met ras, kleur of klasse-onderskeid nie. Ons naaste is elke persoon wat ons hulp benodig. Ons naaste is elke siel wat deur die teëstander gewond en gekneus word. Ons naaste is elkeen wat die eiendom van God is. DKvDE 545.3

In die verhaal van die barmhartige Samaritaan het Jesus ‘n beeld van Homself en van Sy sending gegee. Die mens is deur Satan mislei, gekneus, beroof en geruïneer en oorgelaat om te vergaan; maar die Heiland het medelye met ons hulpelose toestand gehad. Hy het Sy heerlikheid verlaat om tot ons redding te kom. Hy het ons sterwend gevind en het vir ons ingetree. Hy het ons wonde genees. Hy het ons met Sy kleed van geregtigheid bedek. Hy het vir ons ‘n toevlug na veiligheid op Sy koste oopgemaak en volkome voorsiening vir ons gemaak. Hy het gesterf om ons te verlos. Hy het na Sy eie voorbeeld verwys en aan Sy volgelinge gesê: “Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê.” (Johannes 15:17). “Soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” (Johannes 13:34). DKvDE 546.1

Die vraag van die wetgeleerde aan Jesus was: “Wat moet ek doen?” en Jesus wat die liefde teenoor God en die mens as die som van geregtigheid erken het, het gesê: “Doen dit, en jy sal lewe.” Die Samaritaan het die voorskrifte van ‘n vriendelike en liefdevolle hart gehoorsaam en hierdeur bewys dat hy die wet nakom. Christus het aan die wetgeleerde gesê: “Gaan en doen jy net so.” Daar word van die kinders van God verwag om te doen en nie bloot te sê nie. “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1 Johannes 2:6). DKvDE 546.2

Hierdie les is vandag nie minder van toepassing as toe dit oor die lippe van Jesus gekom het nie. Selfsug en koue formaliteit het die vuur van liefde byna geblus en die grasie wat geur aan die karakter moes gee, byna verdryf. Baie wat Sy Naam bely, het die feit dat Christene Christus moet verteenwoordig, uit die oog verloor. Tensy daar praktiese selfopoffering vir die beswil van ander, in die familiekring, in die omgewing, in die kerk en waar ons ook al mag wees is, is ons nie, ongeag ons belydenis, Christene nie. DKvDE 546.3

Christus het sy belange aan die van die mensdom gekoppel en Hy vra ons om een met Hom vir die redding van die mensdom te word. “Julle het dit verniet ontvang...” het Hy gesê, “...verniet moet julle dit gee.” (Mattheus 10:8). Sonde is die grootste van alle euwels en dit is vir ons om ons oor die sondaar te ontferm en te help. Daar is baie wat dwaal en bewus is van hul skande en dwaasheid. Hulle is uitgehonger na woorde van bemoediging. Hulle kyk na hul foute en dwalings totdat hulle amper tot desperaatheid gedryf word. Ons moet hierdie siele nie verwaarloos nie. As ons Christene is, sal ons nie aan die anderkant verbygaan en ons sover moontlik weghou van diegene wat ons hulp die nodigste het nie. As ons mense in nood sien, hetsy deur swaarkry of sonde, sal ons nooit sê: Dit gaan my nie aan nie. DKvDE 547.1

“Julle wat geestelik is, [moet] so een reghelp met die gees van sagmoedigheid.” (Galasiërs 6:1). Deur geloof en gebed moet die mag van die vyand gestuit word. Uiter woorde van geloof en moed wat soos genesende balsem vir die gekneusde en gewonde is. Menige het moeg en moedeloos in die groot stryd van die lewe geword, terwyl net een vriendelike, opbeurende woord hulle krag sou gegee het om te oorwin. Ons moet nooit by een gefolterde siel verbygaan sonder om die vertroosting waarmee ons deur God vertroos word, met hom te deel nie. DKvDE 547.2

Dit alles is maar net ‘n vervulling van die beginsel van die wet-die beginsel wat in die verhaal van die barmhartige Samaritaan geïllustreer word en in die lewe van Jesus geopenbaar word. Sy karakter openbaar die ware betekenis van die wet en toon wat dit beteken om jou naaste soos jouself lief te hê. En wanneer die kinders van God genade, goedhartigheid en liefde teenoor alle mense betoon, getuig hulle ook van die karakter van die insettinge van die hemel. Hulle getuig: “Die wet van die Here is volmaak: dit verkwik die siel.” (Psalm 19:8). En wie versuim om hierdie liefde te openbaar, verbreek die wet wat hy beweer om te eerbiedig. Want die gees wat ons teenoor ons naaste openbaar, verklaar hoedanig ons verhouding met God is. Die liefde van God in die hart is die enigste bron van liefde teenoor ons naaste. “As iemand sê: Ek het God lief-en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?” (1 Johannes 4:20). “As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het Sy liefde in ons volmaak geword” (1 Johannes 4:12). DKvDE 547.3