Die Koning van die Eeue

54/88

Hoofstuk 53—Die Laaste Reis Uit Galiléa *

Namate die einde van Sy bediening nadergekom het, het ‘n verandering in die wyse waarop Christus gewerk het ingetree. Tot dusver het Hy opwinding en publisiteit probeer vermy. Hy het huldeblyke van die volk geweier en het vinnig van plek tot plek beweeg sodra gewilde geesdrif in Sy guns geblyk het buite beheer te raak. Hy het telkens beveel dat niemand Hom as die Christus moes verklaar nie. DKvDE 527.1

Ten tye van die Huttefees het Hy Sy reis na Jerusalem vinnig en in die geheim afgelê. Toe Sy broers by Hom aangedring het om Homself in die openbaar as die Messias te verklaar, was Sy antwoord: “My tyd is nog nie daar nie.” (Johannes 7:6). Hy het ongemerk Sy weg na Jerusalem gebaan en onaangekondig en sonder erkenning van die skare die stad binnegegaan. Maar nie so met Sy laaste reis nie. Hy het Jerusalem ‘n tyd lank verlaat weens die kwaadwilligheid van die priesters en rabbi’s. Maar Hy het nou besluit om op die mees openbare wyse op ‘n sirkelroete terug te keer en voorafgegaan deur ‘n aankondiging van Sy koms soos wat Hy nog nooit tevore gemaak het nie. Hy was op pad na die toneel van Sy groot offer en die aandag van die mense moes hierop gevestig word. DKvDE 527.2

“Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word.” (Johannes 3:14). Soos die oë van Israel op die verhoogde slang as die simbool van hul genesing gevestig was, so moes alle oë op Christus gevestig word, die offer wat verlossing vir ‘n verlore wêreld moes bring. DKvDE 527.3

Dit was ‘n wanopvatting van die werk van die Messias en ‘n gebrek aan vertroue in die Goddelike karakter van Jesus, wat daartoe gelei het dat Sy broers by Hom aangedring het om tydens die Huttefees, Homself in die openbaar aan die mense bekend te stel. Nou, in ‘n soortgelyke gees, sou die dissipels Hom verhinder om die reis na Jerusalem te onderneem. Hulle het Sy woorde oor wat Hom daar sou tref onthou en die dodelike vyandigheid van die godsdiensleiers geken en hulle wou hul Meester daarvan weerhou om daarheen te gaan. DKvDE 527.4

In die hart van Christus was dit ‘n bitter taak om op Sy weg voort te beur, teen die vrees, teleurstelling en ongeloof van Sy geliefde dissipels. Dit was moeilik om hulle voort te lei na die angs en wanhoop wat in Jerusalem op hulle gewag het. En Satan was byderhand om die Seun van die mens te versoek. Waarom sou Hy nou na Jerusalem ‘n gewisse dood tegemoetgaan? Rondom Hom het siele na die Brood van die lewe gesmag. Aan alle kante was lydendes wat op Sy woord van genesing gewag het. Die werk wat deur die evangelie van Sy genade verrig moes word, het maar pas ‘n aanvang geneem. En Hy was in die krag en fleur van Sy lewe. Waarom nie na die uitgestrekte lande van die wêreld met die woorde van Sy genade en die aanraking van Sy genesende krag gaan nie? Waarom nie die vreugde om lig en blydskap aan die treurende miljoene in hul duisternis te bring, vir Homself neem nie? Waarom Sy dissipels, so swak in geloof, so swaar van begrip, so onwillig om op te tree, met die insameling van Sy oes vertrou? Waarom nou die dood tegemoet gaan en die werk in sy kinderskoene laat? Die vyand wat Christus in die woestyn gekonfronteer het, het Hom nou met fel en subtiele versoekings aangeval. As Jesus ‘n oomblik sou toegee, as Hy Sy koers in die geringste opsig verander het om Homself te red, sou Satan se magte geseëvier het en sou die wêreld verlore gewees het. DKvDE 528.1

Maar Jesus het “...Sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis.” Die een wet van Sy lewe was die wil van sy Vader. Met Sy besoek aan die tempel gedurende Sy kinderjare, het Hy aan Maria gesê: “Het u nie geweet dat Ek in die dinge van My Vader moet wees nie?” (Lukas 2:49). Toe Maria in Kanaän verlang het dat Hy sy wonderwerkende krag moet openbaar, het Hy geantwoord: “My uur het nog nie gekom nie.” (Johannes 2:4). Dieselfde antwoord het Hy aan sy broers gegee toe hulle by Hom aangedring het om na die fees te gaan. Maar die uur wanneer Hy Homself vir die sondes van die mens sou offer was in God se groot plan vasgestel en daardie uur het nou aangebreek. Hy sou nie faal of wankel nie. Sy voetstappe het na Jerusalem gedraai, waar sy vyande al lank beplan het om Sy lewe te neem; Hy sou dit nou neerlê. Hy het Sy aangesig onwrikbaar na vervolging, verloëning, verwerping, veroordeling en die dood gedraai. DKvDE 528.2

En Hy het “...boodskappers voor Hom uitgestuur; en hulle het vertrek en in ‘n dorp van die Samaritane gekom om vir Hom klarigheid te maak.” Maar die inwoners het geweier om Hom te ontvang, omdat Hy op pad na Jerusalem was. Hulle het dit vertolk as teken dat Christus die Jode, wat hulle met intense bitterheid gehaat het, verkies het. Sou Hy gekom het om die tempel en aanbidding op die berg Gerisim te herstel, sou hulle Hom met graagte ontvang het; maar Hy was op pad na Jerusalem en hulle sou geen gasvryheid aan Hom betoon nie. Min het hulle besef dat hulle die beste geskenk van die hemel voor hul deure weggewys het. Jesus het mense genooi om Hom te ontvang en Hy het hulle om gunste gevra, sodat Hy die rykste seëninge aan hulle kon skenk. Vir elke guns wat aan Hom bewys is, het Hy met kosbaarder genade vergoed. Maar die Samaritane het alles weens hul vooroordeel en bekrompenheid verloor. DKvDE 529.1

Jakobus en Johannes, Christus se boodskappers, was erg verontwaardig oor die belediging wat teenoor hul Meester betoon is. Hulle was vertoornd omdat Hy so onbeleef deur die Samaritane, wat Hy met Sy teenwoordigheid vereer het, behandel is. Hulle was kort gelede nog saam met Hom op die berg van verheerliking en het gesien hoe Hy deur God verheerlik en deur Moses en Elia vereer is. Hierdie duidelike oneer van die Samaritane moes, volgens hulle, nie ongestraf gelaat word nie. DKvDE 529.2

Hulle het die inwoners se woorde aan Christus kom berig en Hom meegedeel dat hulle Hom selfs herberg vir die nag geweier het. Hulle het gemeen ‘n groot onreg is Hom aangedoen en toe hulle die berg Karmel in die verte sien waar Elia die valse profete gedood het, het hulle gesê: “Wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elia ook gedoen het?” Hulle was verbaas om te sien dat hul voorstel Jesus gekwets het en nog meer verbaas toe Sy bestraffing op hulle ore val: “Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red.” En Hy het na ‘n ander dorp gegaan. DKvDE 530.1

Dit is nie deel van Christus se sending om mense te dwing om Hom te ontvang nie. Dit is Satan en mense wat deur sy gees besiel word, wat die gewete wil dwing. Onder die voorwendsel van ‘n ywer vir geregtigheid bring mense, wat met bose engele saamwerk, lyding oor hul medemense om hulle tot hul eie godsdienstige idees te bekeer; maar Christus betoon altyd genade en poog om hulle deur die openbaring van Sy liefde te oorreed. Hy kan geen mededinger in die siel toelaat of gedeeltelike diens aanvaar nie; maar Hy verlang slegs vrywillige diens, die gewillige oorgawe van die hart onder die aansporing van liefde. Daar kan nie méér afdoende bewys wees dat ons die gees van Satan koester, as die ingesteldheid om diegene wat nie ons werk waardeer, of wat in stryd met ons idees is, seer te maak en te vernietig nie. DKvDE 530.2

Elke mens, in liggaam, siel en gees, is die eiendom van God. Christus het gesterf om almal te verlos. Niks kan ‘n groter gruwel vir God wees as mense wat as gevolg van godsdienstige dweepsug, lyding oor diegene bring wat met die Heiland se bloed gekoop is nie. DKvDE 530.3

“En Hy het opgestaan en daarvandaan deur die oorkant van die Jordaan na die gebied van Judea gegaan; en weer het ‘n skare by Hom vergader; en soos Hy gewoond was, het Hy hulle weer geleer.” (Markus 10:1). DKvDE 531.1

'n Aansienlike gedeelte van die laaste maande van Christus se bediening is in Perea, die provinsie “...oorkant die Jordaan...” van Judea deurgebring. Hier het die skare Sy voetstappe verdring, soos in Sy vroeëre bediening in Galiléa en baie van Sy vorige leringe is herhaal. DKvDE 531.2

Soos Hy die twaalf uitgestuur het, so het Hy “...weer sewentig ander aangestel en hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom.” (Lukas 10:1). Hierdie dissipels was ‘n geruime tyd saam met Hom en is vir hul werk opgelei. Toe die twaalf op hul eerste afsonderlike sending uitgestuur is, het ander dissipels Jesus op sy reis deur Galiléa vergesel. Hulle het dus die voorreg gehad om in noue voeling met Hom te verkeer en het regstreekse persoonlike onderrig ontvang. Nou sou hierdie groter getal ook op ‘n afsonderlike sending vertrek. DKvDE 531.3

Die opdragte aan die sewentig het ooreengestem met dit wat aan die twaalf gegee is; maar die bevel aan die twaalf om nie na stede van die heidene of Samaritane te gaan nie, is nie aan die sewentig gegee nie. Hoewel Christus pas deur die Samaritane verstoot was, was Sy liefde vir hulle onveranderd. Toe die sewentig in Sy Naam vertrek het, was hulle eerste besoek aan die stede van Samaria. DKvDE 531.4

Die Heiland se eie besoek aan Samaria en later Sy lof vir die barmhartige Samaritaan en die dankbare vreugde van die Samaritaanse melaatse wat die enigste van die tien was wat teruggekeer het om Christus te bedank, was vir Sy dissipels vol betekenis. Hulle het die les diep ter harte geneem. In Sy laaste opdrag aan hulle, net voor sy Hemelvaart, het Jesus Samaria saam met Jerusalem en Judea genoem as die plekke waar hulle eerste die evangelie moes gaan verkondig. Sy lering het hulle vir die vervulling van hierdie opdrag voorberei. Toe hulle in die Naam van hul Meester na Samaria gegaan het, het hulle gevind dat die mense gereed was om hulle te ontvang. Die Samaritane het van Jesus se woorde van lof en Sy werke van genade vir hul volksgenote gehoor. Hulle het besef dat ondanks hulle onhoflike houding teenoor Hom, Hy net gedagtes van liefde vir hulle gekoester het en hul harte was verower. Na sy Hemelvaart het hulle die Heiland se boodskappers verwelkom en die dissipels het ‘n kosbare oes onder diegene wat eers hul bitterste vyande was ingesamel. “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring.” (Jesaja 42:3). “En op Sy Naam sal die heidene hoop.” (Mattheus 12:21). DKvDE 531.5

Toe Jesus die sewentig uitgestuur het, het Hy hulle beveel, net soos Hy die twaalf beveel het, om nie hul teenwoordigheid op te dring waar hulle nie welkom was nie. “In watter stad julle ook al mag ingaan, en hulle jul nie ontvang nie...” het Jesus gesê, “...gaan uit op die strate en sê: Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af; maar tog moet julle dit weet dat die koninkryk van God naby julle gekom het.” Hulle moes dit nie met motiewe van wrewel of as gevolg gekwetste trots doen nie, maar om te toon hoe ernstig dit was om die boodskap van die Here of Sy boodskappers te verwerp. Om die Here se dienaars te verwerp is om Christus self te verwerp. DKvDE 532.1

“Ek sê vir julle...” het Jesus bygevoeg, “...vir Sodom sal dit verdraagliker wees in dié dag as vir daardie stad.” Toe keer Sy gedagtes terug na die Galilese stede waar soveel van Sy bediening plaasgevind het. Diep bedroef het Hy uitgeroep: “Wee jou, Gorasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel verdraagliker wees as vir julle. En jy, Kapérnaum, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word.” DKvDE 532.2

Aan daardie bedrywige stede rondom die See van Galiléa is die rykste seëninge van die hemel gebied. Dag na dag het die Vors van die lewe tussen hulle beweeg. Die heerlikheid van God, wat profete en konings begeer het om te sien, het op die skares geskyn wat agter die Heiland saamgedrom het. Tog het hulle die hemelse Geskenk geweier. DKvDE 533.1

Met ‘n groot vertoon van wysheid het die rabbi’s die bevolking teen die nuwe leerstellings wat deur hierdie nuwe leraar verkondig word gewaarsku; want Sy teorieë en praktyke was in stryd met die leerstellings van die vaders. Die volk het kredietwaardigheid aan die lering van die priesters en Fariseërs geskenk, in plaas daarvan om die woord van God self te probeer verstaan. Hulle het die priesters en owerstes vereer in plaas van God te eer en het die waarheid verwerp sodat hulle hul eie tradisies kon onderhou. Baie was beïndruk en byna oortuig; maar hulle het nie volgens hul oortuigings opgetree nie en is nie aan die kant van Christus gereken nie. Satan het sy versoekings aangebied totdat die lig na duisternis gelyk het. So het baie die waarheid wat as redding vir hulle siel kon gedien het, verwerp. DKvDE 533.2

Die waaragtige Getuie sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.” (Openbaring 3:20). Elke waarskuwing, elke teregwysing en smeking in die Woord van God, of deur middel van Sy boodskappers, is ‘n klop aan die deur van die hart. Dit is die stem van Jesus wat vra om in te kom. Met elke klop wat verontagsaam word, neem die ingesteldheid om oop te maak af. As die indrukke van die Heilige Gees vandag verontagsaam word, sal dit more nie meer so sterk wees nie. Die hart word minder vatbaar vir indrukke en verval in ‘n gevaarlike onverskilligheid teenoor die kortstondigheid van die lewe en van die groot ewigheid agterna. Ons veroordeling op die Oordeelsdag sal nie spruit uit die feit dat ons gedwaal het nie, maar omdat ons ons Godgegewe geleenthede om die waarheid te leer ken afgeskeep het. DKvDE 533.3

Soos die apostels, het die sewentig bonatuurlike gawes ontvang as ‘n seël op hul sending. Toe hulle werk voltooi was, het hulle met vreugde teruggekeer en gesê: “Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in U Naam.” Jesus het geantwoord: “Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val.” (Lukas 10:17,18). DKvDE 534.1

Die tonele van die verlede en die toekoms het in Jesus se gedagtes afgespeel. Hy het Lucifer gesien toe hy die eerste keer uit die hemel gewerp is. Hy het vooruit gekyk na die tonele van Sy eie foltering, wanneer die karakter van die bedrieër voor die heelal onthul sou word. Hy het die uitroep gehoor: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30), ‘n aankondiging dat die verlossing van die verlore mensdom vir ewig verseker is, dat die hemel vir ewig teen die beskuldigings gevrywaar is, die misleidings, die aanmatigings wat Satan sou aanhits. DKvDE 534.2

Verby die kruis van Golgota met sy angs en skande, het Jesus die laaste groot dag vooruitgesien, wanneer die vors van die bose magte in die lug, op die aarde, wat hy so lank deur sy opstand geskend het vernietig sal word. Jesus het gesien hoe die werk van die bose vir ewig beëindig word en die vrede van God hemel en aarde vul. DKvDE 534.3

Voortaan moes die volgelinge van Christus die Satan as ‘n verslane vyand beskou. Aan die kruis sou Jesus die oorwinning vir hulle behaal; Hy wou hê dat hulle daardie oorwinning as hul eie moes aanvaar. “Kyk...” het Hy gesê, “...Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.” (Lukas 10:19) DKvDE 534.4

Die almagtige krag van die Heilige Gees is die beskutting van elke berouvolle siel. Christus sal nie toelaat dat een wat in ootmoed en geloof Sy beskerming eis, onder die mag van die vyand beland nie. Die Verlosser is aan die kant van Sy versoekte en beproefde kinders. By Hom kan daar nie so iets soos mislukking, verlies, onmoontlikheid of nederlaag bestaan nie; ons kan alles vermag deur Hom wat ons krag gee. As beproewings en versoekings kom, moenie wag om eers al die moeilikhede uit die weg te ruim nie, maar kyk op na Jesus, ons Helper. DKvDE 534.5

Daar is Christene wat te veel oor die mag van Satan dink en praat. Hulle dink aan die teëstander, hulle bid oor hom en praat oor hom en hy doem al hoe groter in hul verbeelding op. Dit is waar dat Satan ‘n magtige wese is; maar dank God, dat ons ‘n magtige Redder het wat die Bose uit die hemel gewerp het. Satan is verheug as ons sy mag groot maak. Waarom nie van Jesus praat nie? Waarom nie Sy mag en liefde groot maak nie? DKvDE 535.1

Die reënboog van die belofte wat die hemelse troon omring, is ‘n ewige getuienis dat: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3: 16). Dit getuig voor die heelal dat God nooit Sy kinders in hul stryd teen die Bose sal verlaat nie. Dit is vir ons ‘n versekering van krag en beskerming vir solank as wat die troon self sal bestaan. DKvDE 535.2

Jesus het bygevoeg: “Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.” Moenie julle in die besit van mag verbly nie, sodat julle nie dalk jul afhanklikheid van God uit die oog verloor nie. Pas op dat selfgenoegsaamheid nie intree en julle in jul eie krag begin optree in plaas van in die gees en krag van jul Meester nie. Die self is altyd gereed om die krediet te aanvaar wanneer enige mate van sukses behaal word. Die self word gevlei en verhef en die indruk word nie by ander geskep dat God alles in alles is nie. Die apostel Paulus sê: “As ek swak is, dan is ek sterk.” (2 Korinthiërs 12:10). As ons ons swakheid besef, leer ons om van ‘n nie-inherente mag afhanklik te wees. Niks kan so ‘n sterk houvas op die hart kry as die blywende besef van ons verantwoordelikheid teenoor God nie. Niks reik so volledig tot die diepste beweegredes soos ‘n ervaring van die vergewende liefde van Christus nie. Ons moet in voeling met God kom, dan sal ons met sy Heilige Gees vervul word, wat ons in staat stel om in voeling met ons medemens te kom. Verbly jou dan dat jy deur Christus met God verbind is, lede is van die hemelse gesin. Terwyl jy hoër as jouself kyk, sal jy ‘n voortdurende besef van die menslike swakheid hê. Hoe minder jy jouself koester, hoe duideliker en voller sal jou begrip van die uitnemendheid van jou Verlosser wees. Hoe nouer jy jouself met die Bron van lig en krag verbind, hoe groter sal die lig wees wat jy sal ontvang en hoe groter die krag om vir die Here te werk. Verbly jou omdat jy een met God is, een met Christus en met die hele hemelse gesin. DKvDE 535.3

Terwyl die sewentig na die woorde van Christus geluister het, het die Heilige Gees hulle gedagtes met die lewende realiteit beïndruk en die waarheid op die tafels van die siel geskryf. Hoewel menigtes hulle omring het, was dit asof hulle alleen saam met God opgesluit was. DKvDE 536.1

Omdat Hy geweet het dat hulle die inspirasie van die uur aangegryp het, het “...Jesus Hom in die gees verheug en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit U welbehae. Alles is aan My oorgegee deur My Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lukas 10:21,22). DKvDE 536.2

Die geëerde manne van die wêreld, die sogenaamde groot en wyse manne, met al hul gewaande wysheid, kon nie die karakter van Christus verstaan nie. Hulle het Hom aan die uiterlike geoordeel, aan die vernedering wat Hy as mens ondergaan het. Maar aan vissers en tollenaars is dit gegee om die Onsienlike te sien. Selfs die dissipels kon nie alles verstaan wat Jesus graag aan hulle wou openbaar nie; maar van tyd tot tyd is hul denke verlig namate hulle hul aan die mag van die Heilige Gees onderwerp het. Hulle het besef dat die magtige God, geklee in die kleed van menslikheid, onder hulle was. Jesus was verheug dat hierdie kennis, hoewel dit nie deur die verstandiges en wyses besit word nie, aan hierdie nederige manne geopenbaar is. Dikwels wanneer Hy die Ou Testamentiese Geskrifte aangebied het en die toepassing daarvan op Homself en Sy werk van versoening getoon het, is hulle deur Sy Gees opgewek en tot ‘n hemelse sfeer verhef. Hulle het ‘n beter begrip as die oorspronklike skrywers self van die geestelike waarhede wat die profete verkondig het gehad. Hierna sou hulle die Ou Testamentiese Geskrifte lees, nie as leerstellings van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, nie as die uitsprake van wyse manne wat dood was nie, maar as ‘n nuwe openbaring van God. Hulle het Hom aanskou “...wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.” (Johannes 14:17). DKvDE 536.3

Die enigste wyse waarop ons ‘n meer perfekte begrip van die waarheid kan verkry, is om deur die Gees van Christus, die hart sag en onderdanig te hou. Die siel moet van ydelheid en trots gereinig word en van alles wat dit beset het geledig word en Christus moet innerlik op die troon geplaas word. Die menslike wetenskap is té beperk om die versoening te verstaan. Die verlossingsplan is so ingrypend dat die filosofie dit nie kan verklaar nie. Dit sal vir altyd ‘n verborgenheid bly wat die grondigste redenasie nie kan deurvors nie. Die wetenskap van die verlossing kan nie verklaar word nie; maar dit kan deur ervaring geken word. Slegs hy wat sy eie sondigheid sien, kan die kosbaarheid van die Heiland besef. DKvDE 537.1

Die lesse wat Christus geleer het, terwyl Hy stadig van Galilea na Jerusalem op pad was, was vol instruksie. Die mense het gretig na Hom geluister. In Perea, net soos in Galiléa was die volk minder onder die beheer van die Joodse dweepsug as in Judea en Sy leer het ‘n reaksie in hul harte uitgelok. DKvDE 537.2

Gedurende hierdie laaste maande van Sy bediening het Jesus baie van sy gelykenisse vertel. Die priesters en rabbi’s het Hom met toenemende bitterheid agtervolg en Hy het Sy waarskuwings aan hulle in simbole bedek. Hulle kon hulle nie met die betekenis misgis nie, maar tog kon hulle niks in Sy woorde vind om ‘n beskuldiging teen Hom te bring nie. In die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar, het die selfvoldane gebed, “...o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie...” (Lukas 18:11), ‘n skerp kontras met die smeking van die boetvaardige “...o God, wees my, sondaar, genadig...” gevorm. (Lukas 18:13). So het Christus die geveinsdheid van die Jode bestraf. En deur die simbole van die onvrugbare vyeboom en die groot maaltyd het Hy die onheil wat oor die onboetvaardige volk sou kom, voorspel. Diegene wat die uitnodiging na die evangelie-fees met minagting verwerp het, het Sy woorde van waarskuwing gehoor: “Ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie.” (Lukas 14:24). DKvDE 538.1

Die opdrag aan die dissipels was baie kosbaar. Die gelykenis van die opdringerige weduwee en die vriend wat om middernag om brood gevra het, het nuwe krag aan Sy woorde verleen: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” (Lukas 11:9). En dikwels is hul wankelende geloof versterk deur die herinnering aan Christus se woorde: “Sal God dan nie reg doen aan Sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen.” (Lukas 18:7,8). DKvDE 538.2

Christus het die pragtige gelykenis van die verlore skaap herhaal. En Hy het die les nog verder gevoer toe Hy van die verlore penning en die verlore seun vertel het. Die dissipels kon die krag van hierdie lesse nie op daardie stadium ten volle begryp nie; maar na die uitstorting van die Heilige Gees, toe hulle die insameling van die heidene gadegeslaan het en die afgunstige woede van die Jode, het hulle die les van die verlore seun beter begryp en kon hulle hul in die woorde van Christus verheug: “Ons moet tog vrolik en bly wees...” (Lukas 15:32), “...want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind.” (Lukas 15:24). En terwyl hulle in die Naam van hul Meester uitgegaan en smaad, armoede en vervolging in die gesig gestaar het, is hulle harte dikwels deur die opdrag wat Hy op Sy laaste reis gegee het versterk, deur te herhaal: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee. Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ‘n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” (Lukas 12:32-34). DKvDE 538.3