Die Koning van die Eeue

53/88

Hoofstuk 52—Die Goddelike Herder *

“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” “Ek is die goeie herder, en Ek ken My eie en word deur My eie geken. Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê My lewe af vir die skape.” DKvDE 519.1

Weer het Jesus deur bekende assosiasies, toegang tot die gedagtes van Sy gehoor bereik. Hy het die invloed van die Gees met koel, verkwikkende water vergelyk. Hy het Homself as die Lig voorgestel, die Bron van lewe en vreugde vir die mens en die natuur. Nou beskryf Hy in ‘n pragtige herdersbeeld, die verhouding tussen Hom en Sy gelowiges. Geen beskrywing was vir Sy hoorders meer bekend as dit nie en Christus se woorde het dit vir ewig aan Homself gekoppel. Die dissipels sou nooit weer na die herders wat oor hulle kleinvee waak kyk, sonder om aan die les van die Heiland herinner te word nie. Hulle sou Christus in elke getroue herder sien. Hulle sou hulself in elke hulpelose en afhanklike kudde sien. DKvDE 519.2

Die profeet Jesaja het hierdie beeld op die sending van die Messias, met hierdie vertroostende woorde toegepas: “O Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ‘n hoë berg! O Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! sê aan die stede van Juda: Hier is julle God... Hy sal Sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in Sy arm vergader en aan Sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.” (Jesaja 40:9-11). Dawid het gesing: “Die Here is my Herder; niks sal my ontbreek nie.” (Psalm 23:1). En deur Esegiël verklaar die Heilige Gees: “Ek sal een enkele Herder oor hulle verwek, en Hy sal hulle laat wei.” (Esegiël 34:23). “Die wat verlore is, sal Ek soek en wat weggedryf is, sal Ek terug bring en die wat gewond is, sal Ek verbind en die siekes sal Ek versterk.” (Esegiël 34:16). “Ek sal ‘n verbond van vrede met hulle sluit.” (Esegiël34:25). “En hulle sal nie meer ‘n prooi vir die nasies wees nie ... maar hulle sal veilig woon sonder dat iemand hulle verskrik.” (Esegiël 34:28). DKvDE 519.3

Christus het hierdie profesieë op Homself toegepas en Hy het die kontras tussen Sy eie karakter en dié van die leiers van Israel getoon. Die Fariseërs het pas een uit die kraal verdryf omdat hy van die krag van Christus getuig het. Hulle het ‘n siel wat die ware Herder na Homself getrek het verdryf. Hierdeur het hulle hulself onkundig aangaande die werk wat aan hulle toegewy was en onwaardig van die vertroue as herders vir die kudde getoon. Jesus het nou die kontras tussen hulle en die Goeie Helder voor hulle gestel en na Homself verwys as die ware Herder van die Here se kudde. Alvorens Hy dit gedoen het, het Hy deur middel van ‘n ander beeld na Homself verwys. DKvDE 520.1

Hy het gesê: “Wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim, hy is ‘n dief en rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is ‘n herder van die skape.” Die Fariseërs het nie onderskei dat hierdie woorde teen hulle gemik was nie. Terwyl hulle nog in hul harte oor die betekenis daarvan geredeneer het, het Jesus duidelik gesê: “Ek is die Deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” DKvDE 520.2

Christus is die Deur na die kraal van God. Al Sy kinders het van die vroegste tye af toegang deur hierdie Deur gevind. In Jesus, soos in tipes getoon, soos in simbole getipeer, soos deur die profete geopenbaar, soos in die lesse wat Hy aan Sy dissipels gegee het en in die wonderwerke wat Hy vir die mensekinders gedoen het, het hulle “...die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem...” (Johannes 1:29) gesien en deur Hom word hulle in die kraal van Sy genade gelei. Baie het ander voorwerpe vir die geloof van die wêreld kom aanbied; seremonies en stelsels waardeur die mens gehoop het om regverdiging en vrede van God te ontvang is beding, om sodoende toegang tot Sy kraal te vind. Maar die enigste Deur is Christus en almal wat met enigiets tussenbeide getree het om die plek van Christus in te neem, almal wat op ‘n ander wyse toegang tot die kraal probeer verkry het, was diewe en rowers. DKvDE 520.3

Die Fariseërs het nie by die Deur ingekom nie. Hulle het op ‘n ander wyse as deur Christus in die kraal gekom en hulle het nie die werk van ‘n ware herder vervul nie. Die priesters en owerstes, die skrifgeleerdes en Fariseërs het die lewende weivelde vernietig en die fonteine van die water van die lewe verontreinig. Die Woorde van Inspirasie beskryf die valse herders getrou soos volg: “Julle versterk die swakkes nie en maak die siekes nie gesond nie en die wat gewond is, verbind julle nie en wat weggedryf is, bring julle nie terug nie ... maar met strengheid heers julle oor hulle en met hardheid.” (Esegiël 34:4). DKvDE 521.1

Deur al die eeue het filosowe en onderwysers die wêreldse teorieë aangebied om die siel se behoefte te bevredig. Elke heidense nasie het sy groot leermeesters en godsdienstige stelsels gehad wat ‘n ander wyse van verlossing as deur Christus aangebied het en die oë van die mense van die aangesig van die Vader weggedraai het en hul harte met vrees vir Hom, wat hulle slegs geseën het, gevul. Hulle werk het geneig om God van dit wat aan Hom behoort te beroof, beide deur die skepping en deur die verlossing. En hierdie valse leraars beroof ook die mens. Miljoene mense is onder bande van valse godsdienste, in slawerny van vrees, in gevoellose onverskilligheid, swoeg soos lasdiere, sonder hoop of vreugde of strewe, met slegs ‘n vae vrees vir die hiernamaals. Dit is die evangelie van die genade van God alleen wat die siel kan ophef. Nadenke oor die liefde van God wat in sy Seun geopenbaar word, sal die hart ontroer en die kragte van die siel wek soos niks anders kan nie. Christus het gekom om die beeld van God in die mens te herskep; en elkeen wat die mense van Christus wegkeer, keer hulle weg van die bron van ware ontwikkeling; hy bedrieg hulle uit die hoop en doel en heerlikheid van die lewe. Hy is ‘n dief en ‘n rower. DKvDE 521.2

“Hy wat by die Deur ingaan, is ‘n herder van die skape.” Christus is beide die Deur en die Herder. Hy tree deur Homself na binne. Dit is deur Sy eie offer dat Hy die Herder van die skape word. “Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.” DKvDE 522.1

Van alle wesens is die skaap een van die skugterste en hulpeloosste en in die Ooste sorg die herder onvermoeid en onophoudelik vir sy kudde. In die antieke tyd, soos tans, was daar weinig veiligheid buite die ommuurde stede. Plunderaars van die swerwende grens-stamme of roofdiere uit hul skuilplekke in die rotse, het gelê en wag om die kuddes te plunder. Die herder het oor sy kuddes gewaak, wetende dat dit gevaar vir sy eie lewe ingehou het. Jakob, wat die kuddes van Laban in die weivelde van Haran bewaak het, het sy eie onvermoeide sorg soos volg beskryf: “Ek was ‘n man wat bedags deur die hitte verteer is en snags deur die koue en my slaap het gevlug van my oë.” (Genesis 31:40). En dit was terwyl hy sy vader se skape opgepas het dat die seun Dawid, die leeu en die beer eiehandig aangedurf en die gesteelde lam uit hul kake gered het. DKvDE 522.2

Terwyl die herder sy kudde oor die rotsagtige heuwels lei, deur bos en wilde klowe, na graskolle langs die rivier; terwyl hy hulle deur die eensame nag op die berge bewaak, hulle teen rowers beskerm, die siekes en swakkes met teerheid versorg, word sy lewe een met hulle s'n. ‘n Sterk en teer verbintenis verenig hom met die kudde in sy sorg. Hoe groot die kudde ook al is, die herder ken elke skaap. Elkeen het sy naam en reageer op daardie naam as die herder roep. DKvDE 522.3

Soos die aardse herder sy skape ken, so ken die Goddelike Herder Sy kudde wat oor die hele wêreld versprei is. “Julle is My skape, die skape van My weide; julle is mense. Ek is julle God, spreek die Here HERE.” (Esegiël 34:31). Jesus sê: “Ek het jou by jou naam geroep; jy is Myne.” (Jesaja 43:1). “Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer.” (Jesaja 49:16). DKvDE 523.1

Jesus ken elkeen van ons afsonderlik en het medelye met ons swakhede. Hy ken ons almal op die naam. Hy ken die huis waarin ons woon, die naam van elke inwoner. Hy het soms aan Sy diensknegte opdrag gegee om na ‘n sekere straat in ‘n sekere stad, na so en so ‘n huis te gaan, om een van sy skape te vind. DKvDE 523.2

Elke siel is so volledig aan Jesus bekend, asof hy die enigste is vir wie die Verlosser gesterf het. Die nood van elkeen raak Sy hart aan. Die hulpgeroep bereik Sy oor. Hy het gekom om alle mense na Hom toe te trek. Hy sê: “Volg My...” en Sy Gees beweeg hul harte en trek hulle na Hom. Baie weier om getrek te word. Jesus weet wie hulle is. Hy weet ook wie graag Sy roepstem hoor en gereed is om onder Sy herderlike sorg te kom. Hy sê: “My skape luister na my stem en Ek ken hulle en hulle volg My.” Hy sorg vir elkeen asof daar niemand anders op die ganse aarde is nie. DKvDE 523.3

“Hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit ... en die skape volg Hom, omdat hulle Sy stem ken.” Die Oosterse herder het nie sy skape aangedryf nie. Hy het nie gebruik van dwang of vrees gemaak nie, maar voor hulle uitgegaan en hulle geroep hulle. Hulle het sy stem geken en gehoorsaam. So doen die Verlosser-Herder met sy skape. Die Skrif sê: “U het U volk soos skape gelei deur die hand van Moses en Aaron.” (Psalm 77:21). Deur die profeet verklaar Jesus: “Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.” (Jeremia 31:3). Hy dwing niemand om Hom te volg nie. “Met koorde van liefde...” sê Hy, “...het Ek hulle getrek” (Hosea 11:4). DKvDE 523.4

Dit is nie vrees vir straf, of die hoop op ‘n ewige beloning, wat Christus se dissipels gelei het om Hom te volg nie. Hulle het die Verlosser se weergalose liefde, wat gedurende Sy pelgrimstog op aarde, vanaf die krip van Betlehem tot die kruis van Golgota geopenbaar is, aanskou en hierdie aanskoue trek, versag en onderwerp die siel. Liefde ontwaak in die hart van die aanskouers daarvan. Hulle hoor Sy stem en hulle volg Hom. DKvDE 524.1

Soos die herder voor sy skape uitgaan en self eers die gevare langs die weg trotseer, so doen Jesus ook met Sy mense. “Wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit.” Die weg na die hemel is deur die Heiland se spore geheilig. Die paadjie is miskien steil en ruig, maar Jesus het daarlangs gereis; Sy voete het die wrede dorings platgetrap om die pad vir ons makliker te maak. Elke las wat ons geroep word om self te dra, het Hy gedra. DKvDE 524.2

Hoewel Hy nou na die teenwoordigheid van God opgevaar het en die troon van die heelal deel, het Jesus niks van Sy medelydende aard verloor nie. Dieselfde tere, meelewende hart is vandag oop vir al die ellende van die mensdom. Die hand wat deurboor was, word vandag uitgesteek om Sy volk wat in die wêreld is meer oorvloediglik te seën. “En hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit My hand ruk nie.” Die siel wat homself aan Christus oorgegee het, is in Sy oë kosbaarder as die hele wêreld. Die Verlosser sou steeds die foltering van Golgota ondergaan het, indien slegs net een persoon vir sy koninkryk gered kon word. Hy sal nooit iemand vir wie Hy gesterf het, versaak nie. Tensy Sy volgelinge verkies om Hom te verlaat, sal Hy hulle vashou. DKvDE 524.3

Deur al ons beproewinge het ons ‘n onfeilbare Helper. Hy laat ons nie aan onsself oor om met versoeking te worstel, om die bose te beveg en uiteindelik deur laste en leed vernietig te word nie. Hoewel Hy nou vir sterflike oë verborge is, kan die oor van geloof Sy stem hoor sê: Moenie vrees nie; Ek is met jou. “Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid.” (Openbaring 1:18). Ek het jou smarte verduur, jou stryd ervaar, jou versoekings teëgekom. Ek ken jou trane; Ek het ook gehuil. Die smarte wat te diep lê om aan ‘n mens mee te deel, ken Ek. Moenie dink jy is alleen en verlate nie. Al raak jou pyn geen menslike hart op aarde nie, kyk na My en lewe. “Berge mag wyk en heuwels wankel, maar My goedertierenheid sal van jou nie wyk en My vredesverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer.” (Jesaja 54:10). DKvDE 524.4

Hoe lief ‘n herder sy skape ook al mag hê, hy het sy seuns en dogters meer lief. Jesus is nie net ons Herder nie; Hy is ons “ewige Vader.” En Hy sê: “Ek ken My eie en word deur My eie geken. Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader” (Johannes 10:14,15). Wat ‘n verklaring!-die eniggebore Seun, Hy wat in die boesem van die Vader is, Hy wat God “...My Metgesel...” (Sagaria 13:7) verklaar het-die gemeenskap tussen Hom en die ewige God word gesien as verteenwoordiging van die gemeenskap tussen Christus en Sy kinders op aarde! DKvDE 525.1

Omdat ons die geskenk van Sy Vader is en die beloning van Sy werk, het Jesus ons lief. Hy het ons as Sy kinders lief. Leser, Hy is lief vir jou. Die hemel self kan niks groters en niks beter skenk nie. Vertrou dus. DKvDE 525.2

Jesus het aan die siele oor die hele aarde gedink wat deur valse herders mislei is. Diegene wat Hy graag as die skape van Sy weide bymekaar wou bring, was onder die wolwe verstrooi en Hy het gesê: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei en hulle sal na my stem luister en dit sal wees een kudde, een Herder.” DKvDE 525.3

“Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem.” Dit wil sê: My Vader het julle so liefgehad dat Hy My selfs meer liefhet omdat Ek My lewe afgelê het om julle te verlos. Deur julle Plaasvervanger en Borg te word, deur My lewe af te lê, deur julle laste en julle oortredings op My te neem, het Ek dierbaar vir My Vader geword. DKvDE 525.4

“Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem.” Hoewel Hy as mens sterflik was, was Hy as God, die Bron van die lewe vir die wêreld. Hy kon die naderende dood weerstaan het en geweier het om Hom aan die mag van die dood te onderwerp; maar Hy het Sy lewe vrywilliglik afgelê, sodat Hy lewe en onsterflikheid kon bring. Hy het die sonde van die wêreld gedra, die vloek daarvan verduur, Sy lewe as offer gegee, sodat die mens nie vir ewig sou sterf nie. “Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte-dié het Hy gedra ... Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” (Jesaja 53:4-6). DKvDE 526.1