Die Koning van die Eeue

52/88

Hoofstuk 51—“Die Lig van die Lewe” *

“En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” DKvDE 502.1

Toe Hy hierdie woorde gespreek het, was Jesus in die voorhof van die tempel, spesifiek gekoppel aan die dienste van die huttefees. In die middel van hierdie voorhof was twee hoë lampstanders wat groot lampe ondersteun het. Na die aandoffer is al die lampe aangesteek wat hulle lig oor Jerusalem laat skyn het. Hierdie seremonie was ter herdenking van die vuurkolom wat Israel in die woestyn gelei het en was ook as ‘n simbool van die koms van die Messias beskou. Saans, wanneer die lampe aangesteek is, was die voorhof ‘n toneel van groot vreugde. Grysaards, die priesters van die tempel en die owerstes van die volk het in feestelike danse verenig, met die klank van instrumentale musiek en die gesange van die Leviete. DKvDE 502.2

In die beligting van Jerusalem het die volk hul hoop vir die koms van die Messias om Sy lig oor Israel te werp, uitgedruk Maar vir Jesus het die toneel ‘n wyer betekenis gehad. Soos die helder lampe van die tempel alles om hulle verlig het, so verlig Christus, die Bron van geestelike lig, die duisternis van die wêreld. Tog was die simbool onvolmaak. Die groot lig wat deur Sy eie hand in die hemele geplaas is, was ‘n getrouer verteenwoordiging van die heerlikheid van Sy sending. DKvDE 502.3

Dit was oggend; die son het pas oor die Olyfberg opgekom en die strale daarvan het met skitterende helderheid op die marmerpaleise geval en die goud van die tempelmure verhelder toe Jesus daarna verwys en sê: “Ek is die Lig van die wêreld.” DKvDE 502.4

Vir iemand wat na hierdie woorde geluister het, het dit lank daarna in hierdie verhewe gedeelte weerklink: “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie.” (Johannes 1:4,5). “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.” (Johannes 1:9). En lank nadat Jesus na die hemel opgevaar het, het Petrus ook, verlig deur die Heilige Gees, die simbool wat Christus gebruik het, onthou: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die mórester opgaan in julle harte.” (2 Petrus 1:19). DKvDE 503.1

In die openbaring van God aan Sy volk was lig altyd ‘n simbool van Sy teenwoordigheid. Aan die begin het Sy skeppende Woord lig uit die duisternis laat skyn. Lig was bedags in die wolkkolom gehul en die vuurkolom in die nag, wat die uitgestrekte leërmag van Israel gelei het. Lig het oor die Here op die berg Sinai met ontsagwekkende majesteit gevlam. Lig het oor die versoendeksel in die tabernakel gerus. Lig het die tempel van Salomo toe dit ingewy was, gevul. Lig het op die heuwels van Betlehem geskyn toe die engele die boodskap van verlossing aan die wakende herders verkondig het. DKvDE 503.2

God is lig; en in die woorde: “Ek is die lig van die wêreld... ” het Christus Sy eenheid met God en Sy verhouding tot die hele menslike geslag verklaar. Dit was Hy wat aan die begin gesê het dat “...uit duisternis lig moet skyn.” (2 Korinthiërs 4:6). Hy is die Lig van son, maan en ster. Hy was die geestelike Lig wat in simbool en tipe en profesie oor Israel geskyn het. Maar die lig is nie net aan die Joodse volk gegee nie. Soos die sonstrale tot aan die uithoeke van die aarde deurdring, skyn die lig van die Son van Geregtigheid oor elke siel. DKvDE 503.3

“Die waaragtige Lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.” Die wêreld het sy groot leermeesters gehad, manne van reuse intellek en deeglike navorsing, manne wie se uitsprake die denke gestimuleer het en groot velde van kennis oopgestel het; en hierdie manne is as leiers en weldoeners van hul ras vereer. Maar daar is Een wat hoër as hulle staan. “Almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word.” (Johannes 1:12). “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.” (Johannes 1:18). Ons kan die lyn van die wêreld se grootste leermeesters, vir sover as wat menslike rekords strek, naspeur; maar die Lig was voor hulle. Soos die maan en die sterre van die sonnestelsel, deur die weerkaatste lig van die son skyn, weerspieël die wêreld se groot denkers die strale van die Son van Geregtigheid vir sover hulle leer waar is. Elke juweel, elke gedagte van die intellek, kom van die Lig van die Wêreld. Onder Sy hoorders was baie deur geloof tot Hom aangetrokke. Ons hoor tans baie van “hoër onderwys.” Die ware “hoër onderwys” is van Hom afkomstig “...in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.” (Kolossense 2:3). “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.” (Johannes 1:4). “Wie My volg...” het Jesus gesê, “...sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” DKvDE 503.4

In die woorde: “Ek is die Lig van die wêreld...” het Jesus Homself as die Messias verklaar. In die tempel waar Christus tans onderrig het, het die bejaarde Simeon van Hom gepraat as “...'n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van U volk Israel.” (Lukas 2:32). In hierdie woorde het hy ‘n profesie wat aan die hele Israel bekend was, op Hom toegepas. Deur die profeet Jesaja het die Heilige Gees verklaar: “Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om My heil te wees tot aan die einde van die aarde.” (Jesaja 49:6). Hierdie profesie is oor die algemeen verstaan as ‘n verwysing na die Messias en toe Jesus sê: “Ek is die Lig van die wêreld...” kon die volk nie anders as om Sy aanspraak dat Hy die Beloofde Een is, te erken nie. DKvDE 504.1

Vir die Fariseërs en owerstes was hierdie aanspraak ‘n arrogante aanname. Hulle kon dit nie duld dat ‘n man net soos hulle, sulke aannames maak nie. Oënskynlik het hulle Sy woorde geïgnoreer en gevra: “Wie is U dan?” Hulle was daarop ingestel om Hom te dwing om Homself as die Christus te verklaar. Sy voorkoms en werk was só in stryd met die verwagtinge van die volk, dat, soos Sy slinkse vyande geglo het, ‘n direkte aankondiging van Homself as die Messias sou veroorsaak dat Hy as ‘n bedrieër verwerp word. DKvDE 505.1

Maar op hul vraag: “Wie is U dan?” het Jesus geantwoord: “Net dit wat Ek vir julle sê.” Dit wat in Sy woorde geopenbaar was, was ook in Sy karakter geopenbaar. Hy was die vergestalting van die waarhede wat Hy geleer het. “Uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek. En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is.” Hy het nie Sy Messiaanse aanspraak probeer bewys nie, maar Sy eenheid met God getoon. As hulle harte oop vir God se liefde was, sou hulle Jesus aangeneem het. DKvDE 505.2

Baie uit Sy gehoor het in geloof tot Hom aangetrokke gevoel en Hy het aan hulle gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” DKvDE 505.3

Hierdie woorde het die Fariseërs aanstoot gegee. Hulle het die land se lang uitgerekte onderwerping aan ‘n vreemde juk verontagsaam en het woedend uitgeroep: “Ons is die geslag van Abraham en het nog nooit vir iemand slawediens verrig nie; hoe sê U dan: Julle sal vry word?” Jesus het hierdie manne, slawe van kwaadwilligheid, wie se gedagtes tot wraak geneig was, aangekyk en droewig geantwoord: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is.” Hulle was onder die ergste soort slawerny-onder die heerskappy van die bose. DKvDE 505.4

Elke siel wat weier om homself aan God te onderwerp, is onder die beheer van ‘n ander mag. Hy behoort nie aan homself nie. Hy praat miskien van vryheid, maar verkeer onder die ergste slawerny. Hy word nie toegelaat om die reinheid van die waarheid raak te sien nie, want sy gees is onder die beheer van Satan. Terwyl hy homself wysmaak dat hy die voorskrifte van sy eie oordeel volg, gehoorsaam hy die wil van die vors van die duisternis. Christus het gekom om die boeie van die slawerny van sonde te verbreek. “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Johannes 8:36). “Die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus...” maak ons vry “...van die wet van die sonde en die dood.” (Romeine 8:2). DKvDE 506.1

In die verlossingswerk is daar geen dwang nie. Geen eksterne mag word ingespan nie. Onder die invloed van die Gees van God staan dit die mens vry om te kies wie hy wil dien. In die verandering wat plaasvind wanneer die siel hom aan Christus oorgee, is daar die hoogste ervaring van vryheid. Die verwerping van sonde is die taak van die siel self. Dit is waar dat ons geen mag het om ons van Satan se beheer te bevry nie; maar as ons verlang om van sonde bevry te word en in ons groot behoefte uitroep na krag van bo en buite onsself, word die kragte van die siel met die Goddelike krag van die Heilige Gees deurdrenk en hulle gehoorsaam die voorskrifte van die wil in die vervulling van die wil van God. DKvDE 506.2

Die enigste voorwaarde waarop die vryheid van die mens moontlik is, is om een met Christus te word. “Die waarheid sal julle vrymaak;” en Christus is die waarheid. Sonde kan slegs seëvier deur die verstand te verswelg en die vryheid van die siel te vernietig. Onderwerping aan God is die herstel van jouself tot die ware glorie en waardigheid van die mens. Die Goddelike wet waaraan ons onderwerp word, is “...die wet van vryheid.” (Jakobus 2:12). DKvDE 506.3

Die Fariseërs het hulself as die kinders van Abraham verklaar. Jesus het vir hulle gesê dat hierdie aanspraak slegs deur die werke van Abraham te doen, bevestig kan word. Die ware kinders van Abraham sou, soos Hy, ‘n lewe van gehoorsaamheid aan God leef. Hulle sou nie probeer om iemand, wat die waarheid wat deur God aan Hom gegee is spreek, dood te maak nie. Deur die sameswering teen Christus, het die rabbi’s nie die werke van Abraham gedoen nie. Om bloot ‘n regstreekse afstammeling van Abraham te wees, was van geen waarde nie. Sonder ‘n geestelike verbintenis met hom, wat in dieselfde gees en dieselfde werke gemanifesteer sou word, was hulle nie sy kinders nie. DKvDE 507.1

Hierdie beginsel geld in gelyke mate vir ‘n vraag wat die Christelike wêreld al lank hinder-die vraag van apostoliese opvolging. Afkoms van Abraham word nie deur die naam en geslag bewys nie, maar deur ‘n soortgelyke karakter. Die apostoliese opvolging berus dus nie op die oordrag van kerklike gesag nie, maar op ‘n geestelike verhouding. ‘n Lewe wat deur die gees van die apostels, die geloof en lering van die waarheid wat hulle geleer het, geaktiveer word, is die ware bewys van apostoliese opvolging. Dit is wat mense die opvolgers van die eerste leraars van die evangelie maak. DKvDE 507.2

Jesus het ontken dat die Jode kinders van Abraham was. Hy het gesê: “Julle doen die werke van jul vader.” Spottend het hulle geantwoord: “Ons is nie uit ontug gebore nie; ons het een Vader, naamlik God.” Hierdie woorde, met verwysing na die omstandighede van Sy geboorte, was as ‘n steek teen Christus in die teenwoordigheid van diegene wat in Hom begin glo het bedoel. Jesus het nie ag op hierdie lae insinuasie geslaan nie, maar gesê: “As God julle vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom.” DKvDE 507.3

Hulle werke het van hul verhouding met hom wat ‘n leuenaar en moordenaar is getuig. “Julle het die duiwel as vader...” het Jesus gesê “...en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie... Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie.” (Johannes 8:44,45). Die feit dat Jesus die waarheid gepraat het en dit met sekerheid, was die rede waarom Hy nie deur die Joodse leiers ontvang is nie. Dit was die waarheid wat hierdie eiegeregtige mense aanstoot gegee het. Die waarheid het hul dwaling ontbloot; dit het hul onderrig en praktyk veroordeel en dit was onwelkom. Hulle sou eerder hul oë vir die waarheid sluit as om hulself te verootmoedig en te bely dat hulle verkeerd was. Hulle het nie die waarheid liefgehad nie. Hulle het dit nie begeer nie, al was dit die waarheid. DKvDE 508.1

“Wie van julle oortuig My van sonde? En as Ek die waarheid spreek, waarom glo julle My nie?” Dag vir dag, drie jaar lank, het Christus se vyande Hom agtervolg en probeer om ‘n vlek in Sy karakter te vind. Satan en die hele konfederasie van die bose het gepoog om Hom te oorwin; maar hulle kon niks aan Hom vind waaruit hulle voordeel kon trek nie. Selfs die duiwels moes noodgedwonge bely: “U is die Heilige van God.” (Markus 1:24). Jesus het die wet voor die hemel, ten aanskoue van die ongevalle wêrelde en voor die sondige mense uitgeleef. Voor engele, mense en demone het Hy, onbetwis, woorde uitgespreek wat uit enige ander mond godslasterlik sou wees: “...omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is.” DKvDE 508.2

Die feit dat, hoewel hulle geen sonde in Christus kon vind nie, die Jode Hom nie wou ontvang nie, het bewys dat hulle self geen verbintenis met God gehad het nie. Hulle het nie Sy stem in die boodskap van sy Seun herken nie. Hulle het gedink dat hulle ‘n oordeel oor Christus vel; maar deur Hom te verwerp, het hulle ‘n vonnis oor hulself uitgespreek. “Die wat uit God is...” het Hy gesê, “...luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.” DKvDE 508.3

Hierdie les geld vir alle tye. Baie mense wat graag twis, kritiseer en na iets soek om die Woord van God te bevraagteken, dink dat hy daardeur ‘n bewys van onafhanklike denke en geestelike skerpsinnigheid openbaar. Hy meen dat hy in oordeel oor die Bybel sit, terwyl hy homself in der waarheid veroordeel. Hy laat blyk dat hy nie in staat is om waarhede wat hul oorsprong in die hemel het en die ewigheid omvat, te waardeer nie. Hy staan sonder ontsag voor die berg van God se geregtigheid. Hy is besig om stokkies en strooitjies na te jaag en verraai so ‘n enge en wêreldse natuur en ‘n hart wat vinnig besig is om sy vermoë om God te begryp verloor. Hy wie se hart op die Goddelike aanraking gereageer het, sal daarna streef om sy kennis van God te vermeerder en die karakter te louter en te verhef. Soos die blom na die son draai, sodat die helder strale dit met tinte van skoonheid kan aanraak, so sal die siel hom na die Son van Geregtigheid draai, sodat die hemelse lig die karakter, met die genade van die karakter van Christus kan versier. DKvDE 509.1

Jesus het voortgegaan en ‘n skerp kontras tussen die posisie van die Jode en dié van Abraham getoon: “Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly.” DKvDE 509.2

Abraham het sterk begeer om die beloofde Verlosser te sien. Hy het ernstig gebid dat hy die Messias voor sy dood mag aanskou. En hy het Christus gesien. Bonatuurlike lig is aan hom gegee en hy het die Goddelike aard van Christus herken. Hy het sy dag gesien en was bly. Hy het ‘n blik op die Goddelike offer vir die sonde gekry. Hy het ‘n illustrasie van hierdie offer in sy eie ervaring gehad. Die bevel het tot hom gekom: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak ... en offer hom daar as brandoffer.” (Genesis 22:2). Op die offeraltaar het hy die seun van die belofte, die seun op wie al sy hoop gevestig was, neergelê. Toe hy langs die altaar met die mes omhoog gewag het om God te gehoorsaam, het hy ‘n stem uit die hemel hoor sê: “Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” (Genesis 22:12). Abraham is aan hierdie verskriklike toets onderwerp sodat hy die dag van Christus kon sien en kon besef watter groot liefde God vir die wêreld het, so groot dat Hy Sy eniggebore Seun aan die skandelikste dood sou oorgee om die wêreld uit sy ontaarding uit te lig. DKvDE 509.3

Abraham het van God die grootste les wat ooit aan enige sterfling gegee is, geleer. Sy gebed om Christus voor sy dood te sien, is verhoor. Hy het Christus gesien; hy het alles gesien wat ‘n sterfling kan sien en bly lewe. Deur ‘n volkome oorgawe te maak, kon hy die visioen van Christus wat aan hom gegee is, verstaan. Daar is aan hom getoon dat God, deur Sy eniggebore Seun te gee om sondaars van ewige ondergang te red, ‘n groter en wonderbaarliker offer gebring is as wat die mens ooit sou kon bring. DKvDE 510.1

Abraham se ondervinding het die vraag beantwoord: “Waarmee sal ek die Here tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoet gaan met brandoffers, met jaaroud-kalwers? Sal die Here ‘n welbehae hê in duisende ramme en tienduisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel?” (Miga 6:6, 7). In die woorde van Abraham: “God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun... ” (Genesis 22:8) en in God se voorsiening van ‘n offer in die plek van Isak, is daar verklaar dat niemand vir homself versoening kan doen nie. Die heidense offerstelsel was vir God totaal onaanvaarbaar. Geen vader mag sy seun of dogter as ‘n sondoffer gebied het nie. Die Seun van God alleen kan die skuld van die wêreld dra. DKvDE 510.2

Deur sy eie lyding was Abraham in staat gestel om die Heiland se sending van opoffering te aanskou. Maar Israel sou nie verstaan wat vir hul trotse harte so onwelkom was nie. Christus se woorde aangaande Abraham het geen dieper betekenis vir Sy hoorders ingehou nie. Die Fariseërs het daarin bloot nuwe gronde vir ‘n geskil gesien. Hulle het smalend, asof hulle kon bewys dat Jesus besete was, teruggekap: “U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien?” DKvDE 511.1

Jesus het plegtig en waardig geantwoord: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, IS EK.” DKvDE 511.2

Stilte het oor die groot vergadering gedaal. Die Naam van God, wat aan Moses gegee is om die konsep van die ewige teenwoordigheid uit te druk, is deur hierdie Galilese Rabbi vir Homself toegeëien. Hy het Homself as die Selfbestaande aangekondig, dat Hy die Een is wat aan Israel belowe was, Wie se “...uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.” (Miga 5:1). DKvDE 511.3

Weer het die priesters en rabbi’s uitgeroep dat Jesus ‘n godslasteraar is. Sy aanspraak dat Hy een met God is het hulle vroeër reeds aangevuur om sy lewe te neem en enkele maande later het hulle duidelik geantwoord: “Dit is nie oor ‘n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering en omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak.” (Johannes 10:33). Omdat Hy die Seun van God was en dit beaam het, was hulle daarop ingestel om Hom te vernietig. En baie van die mense wat hulle aan die kant van die priesters en rabbi’s geskaar het, het klippe opgetel om Hom te stenig. “Maar Jesus het stilletjies uit die tempel gegaan en tussen hulle deurgeloop; en so het Hy vertrek.” DKvDE 511.4

Lig het in die duisternis geskyn “...en die duisternis het dit nie oorweldig nie.” (Johannes 1:5). DKvDE 511.5

“En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af. En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word... En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Siloam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom.” DKvDE 511.6

Die Jode het in die algemeen geglo dat sonde in hierdie lewe gestraf word. Elke kwaal is as straf vir een of ander oortreding van die lydende self of van sy ouers beskou. Dit is waar dat alle lyding die gevolg van die oortreding van God se wet is, maar hierdie waarheid was verdraai. Satan, die outeur van die sonde en al die gevolge daarvan, het die mense daartoe gelei om te glo dat siekte en dood van God afkomstig was, as willekeurige straf vir sonde. Gevolglik het iemand wat swaar deur een of ander groot ellende of onheil geteister is, boonop ook die ekstra las om as ‘n groot sondaar beskou te word, gedra. DKvDE 512.1

So is die weg vir die Jode voorberei om Jesus te verwerp. Hy wat al “...óns krankhede op Hom geneem [het], en óns smarte...” is deur die Jode as iemand beskou wat “...deur God geslaan en verdruk was...” (Jesaja 53:4,3) en hulle het hul aangesigte vir Hom verberg. DKvDE 512.2

God het ‘n les gegee wat bereken was om hierdie dwaling te voorkom. Die geskiedenis van Job het getoon dat lyding deur Satan toegedien word en dat dit deur God uit genade tot niet gemaak word. Dieselfde fout waaroor God die vriende van Job bestraf het, is deur die Jode in hul verwerping van Christus herhaal. DKvDE 512.3

Christus se dissipels het dieselfde geloof as die Jode met betrekking tot sonde en lyding gehuldig. Hoewel Jesus hul dwaling reggestel het, het Hy nie die oorsaak van die man se lyding verduidelik nie, maar vir hulle gesê wat die gevolg sou wees. Die werk van God sou daardeur geopenbaar word. “Solank as Ek in die wêreld is...” het Hy gesê, “...is Ek die lig van die wêreld.” En nadat Hy die oë van die blinde man gesalf het, het hy hom gestuur om hom in die bad van Siloam te gaan was en die man se sig is herstel. So het Jesus die vraag van die dissipels op ‘n praktiese wyse beantwoord, soos Hy gewoonlik vrae wat uit nuuskierigheid aan Hom gestel is beantwoord het. Die dissipels was nie gevra om die vraag oor wie gesondig of nie gesondig het te bespreek nie, maar om die krag en genade van God, wat blindes laat sien, te verstaan. Dit was duidelik dat daar geen genesende deug in die klei of in die poel was waarin die blinde hom moes gaan was nie, maar dat die deug in Christus was. DKvDE 512.4

Die Fariseërs kon nie anders as om verbaas oor die genesing te wees nie. Tog was hulle meer as ooit met haat vervul; want die wonderwerk het op die Sabbatdag plaasgevind. DKvDE 513.1

Die jongman se bure en diegene wat hom vroeër in sy blindheid geken het, het gevra: “Is hy nie die een wat gesit en bedel het nie?” Hulle het hom onseker aangekyk; want toe sy oë geopen is, het sy aangesig verander en verhelder en het hy soos ‘n ander mens gelyk. Die vraag het van die een na die ander gegaan. Sommige het gesê: “Dit is hy!” andere: “Hy lyk na hom.” Maar hy wat hierdie groot seën ontvang het, het die vraag besleg en gesê: “Dit is ek...” het hy geantwoord. Toe vertel hy hulle van Jesus en op watter wyse hy genees is en hulle vra toe: “Waar is Hy?” Hy het geantwoord: “Ek weet nie.” DKvDE 513.2

Toe het hulle hom voor die raad van die Fariseërs gebring. Weer is hy gevra hoe hy sy sig teruggekry het. “Hy antwoord hulle: Hy het klei op my oë gesit, en ek het my gewas en ek sien. En sommige van die Fariseërs sê: Hierdie man kom nie van God nie, omdat hy die Sabbat nie hou nie.” Die Fariseërs het gehoop om Jesus as ‘n sondaar voor te hou en daarom dus nie die Messias is nie. Hulle het nie geweet dat dit Hy was, wat die Sabbat gemaak het en al die verpligtinge daarvan geken het, wat die blinde genees het nie. Hulle was vol ywer vir die onderhouding van die Sabbat, maar het op dieselfde dag moord beplan. Maar baie was diep ontroer toe hulle van die wonderwerk gehoor het en was oortuig dat Hy, wat die oë van die blinde geopen het, meer as ‘n gewone mens was. In antwoord op die beskuldiging dat Jesus ‘n sondaar was omdat Hy nie die Sabbat onderhou het nie, het hulle geantwoord: “Hoe kan ‘n sondige mens sulke tekens doen?” DKvDE 513.3

Die rabbi’s wou weer van die blinde weet: “Jy, wat sê jy van Hom, aangesien Hy jou oë geopen het? En hy antwoord: Hy is ‘n profeet.” Die Fariseërs het toe beweer dat hy nie blind gebore was en dat sy sig herstel is nie. Hulle het sy ouers ontbied en vir hulle gevra: “Is dit julle seun van wie julle sê dat hy blind gebore is?” DKvDE 514.1

Daar was die man homself wat verklaar het dat hy blind was en dat sy sig herstel is; maar die Fariseërs wou eerder die getuienis van hul eie sintuie ontken as om hul dwaling te erken. Vooroordeel is só magtig en die Farisese geregtigheid só verwronge. DKvDE 514.2

Die Fariseërs het nog een hoop oorgehad en dit was om die man se ouers te intimideer. Met oënskynlike opregtheid het hulle gevra: “Hoe sien hy dan nou?” Die ouers was bang om hulle te kompromitteer; want daar is verklaar dat almal wat Jesus as die Christus bely “...uit die sinagoge geban sou word...” dit wil sê, dat hulle vir dertig dae nie in die sinagoge sou mag kom nie. Gedurende hierdie periode kon geen kind besny of dood in die huis van die oortreder betreur word nie. Hierdie vonnis was as ‘n groot ramp beskou; en as dit nie tot bekering kon lei nie, het ‘n baie swaarder straf gevolg. Die wonderwerk wat vir hulle seun verrig is, het die ouers oortuig, maar tog het hulle geantwoord: “Ons weet dat dit ons seun is en dat hy blind gebore is; maar hoe hy nou sien, weet ons nie; of wie sy oë geopen het, weet ons nie. Hy is self oud genoeg, vra hom; hy sal vir homself praat.” Sodoende het hulle alle verantwoordelikheid op hul seun oorgedra; want hulle het nie durf waag om Christus te bely nie. DKvDE 514.3

Die dilemma waarin die Fariseërs verkeer het, hul twyfel en vooroordeel, hul ongeloof in die feite, het die oë van die volk, veral die gewone mense, geopen. Jesus het gereeld Sy wonderwerke in die oop straat verrig en Sy werk was altyd van ‘n aard om lyding te verlig. Die vraag in baie se gedagtes was: Sou God sulke magtige werke deur ‘n bedrieër, soos die Fariseërs beweer Jesus is, verrig het? Die geskil het aan beide kante ernstige begin raak. DKvDE 515.1

Die Fariseërs het besef dat hulle publisiteit aan die werk van Jesus verleen. Hulle kon die wonderwerk nie ontken nie. Die blinde man was met vreugde en dankbaarheid gevul; hy het die wonderlike dinge van die natuur aanskou en was verheug oor die skoonheid van hemel en aarde. Hy het spontaan van sy ervaring vertel en weer het hulle hom probeer stilmaak deur te sê: “Gee aan God die eer; ons weet dat hierdie man ‘n sondaar is.” Met ander woorde, moenie weer sê dat hierdie man jou sig aan jou gegee het nie; dit is God wat dit gedoen het. DKvDE 515.2

Die blinde man het geantwoord: “Of Hy ‘n sondaar is, weet ek nie. Een ding weet ek: dat ek blind was en nou sien.” DKvDE 515.3

Toe vra hulle weer: “Wat het Hy vir jou gedoen? Hoe het Hy jou oë geopen?” Hulle het hom met baie woorde probeer verwar, sodat hy sou dink dat hy mislei is. Satan en sy bose engele was aan die Fariseërs se kant en het al hul energie en lis teen die man se rede ingespan om die invloed van Christus teë te werk. Hulle het die oortuigings wat in baie se gedagtes posgevat het afgestomp. Maar die engele van God was ook daar om die man wie se sig herstel is, te versterk. DKvDE 515.4

Die Fariseërs het nie besef dat hulle met meer as die ongeletterde man wat blind gebore was te doen gehad het nie; hulle het Hom nie geken met wie hulle eintlik in omstredenheid verkeer het nie. Goddelike lig het in die kamers van die blinde se siel geskyn. Terwyl hierdie huigelaars probeer het om hom te laat twyfel, het God hom gehelp om met positiewe en gepaste antwoorde te toon dat hy nie verstrik sou word nie. Hy het geantwoord: “‘Ek het julle dit alreeds gesê, en julle het nie geluister nie. Waarom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook sy dissipels word nie?’ Hulle skel hom toe uit en sê: ‘Jy is ‘n dissipel van daardie man, maar ons is dissipels van Moses. Ons weet dat God met Moses gespreek het; maar wat Hom betref, ons weet nie vanwaar Hy is nie.’” DKvDE 515.5

Die Here Jesus het die beproewing waardeur die man gegaan het geken en Hy het aan hom genade en woorde gegee, sodat hy ‘n getuie vir Christus kon word. Hy het die Fariseërs met woorde geantwoord wat vir sy ondervraers ‘n ernstige bestraffing was. Hulle het beweer dat hulle die vertolkers van die Skrif is, die godsdienstige leiers van die volk; en tog was hier Een wat wonderwerke verrig het en hulle was onteenseglik onkundig oor die Bron van Sy krag en oor Sy karakter en aansprake. “Hierin is tog iets wonderliks...” het die man geantwoord, “...dat julle nie weet vanwaar Hy is nie, en Hy het my oë geopen! En ons weet dat God nie sondaars verhoor nie; maar as iemand godvresend is en Sy wil doen, dié verhoor Hy. Van ouds af is dit nie gehoor dat iemand die oë van ‘n blindgebore mens geopen het nie. As Hy nie van God was nie, sou Hy niks kan doen nie.” DKvDE 516.1

Die man het sy ondervraers op hul eie terrein ontmoet. Sy redenasie was onbeantwoordbaar. Die Fariseërs was verbaas en het geswyg, stomgeslaan voor sy direkte, vasberade woorde. Daar was ‘n rukkie stilte. Toe het die ontevrede priesters en rabbi’s hul gewade om hulle gevou asof hulle vir besoedeling deur kontak met hom gevrees het, die stof van hul voete afgeskud en die beskuldiging teen hom geslinger: “Jy is heeltemal in sondes gebore, en leer jy ons? En hulle het hom uitgeban.” DKvDE 516.2

Jesus het gehoor wat gebeur het en toe Hy hom kort daarna vind, vra Hy: “Glo jy in die Seun van God?” DKvDE 517.1

Vir die eerste keer het die blinde man die aangesig van die Een wat sy sig herstel het, gesien. Voor die raad het hy gesien dat sy ouers bekommerd en verward was; hy het die fronsende gesigte van die rabbi’s gesien; nou het sy oë op die liefdevolle, vreedsame gelaat van Jesus gerus. Hy het Hom reeds teen ‘n duur prys as ‘n Afgevaardigde van Goddelike mag erken; nou is ‘n groter openbaring aan hom verleen. DKvDE 517.2

Op die vraag van die Heiland: “Glo jy in die Seun van God?” het die blinde geantwoord deur te vra: “Wie is Hy, Here, dat ek in Hom kan glo?” Toe antwoord Jesus “Jy het Hom gesien; en Hy wat met jou spreek, dit is Hy.” Die man het homself voor die Heiland se voete in aanbidding neergewerp. Nie alleen is sy natuurlike sig herstel nie, maar die oë van sy begrip is geopen. Christus is aan sy siel geopenbaar en hy het Hom as die Gestuurde van God ontvang. DKvDE 517.3

'n Groep Fariseërs het nadergekom en toe Jesus hulle sien, het Sy gedagtes oor die kontras wat Sy woorde en werke voortdurend uitgelok het, gegaan. “Tot ‘n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom...” het Jesus gesê, “...sodat die wat nie sien nie, mag sien en die wat sien, blind mag word.” Christus het gekom om die oë van die blindes te open, om lig aan diegene wat in duisternis verkeer te gee. Hy het Homself as die Lig van die wêreld verklaar en die wonderwerk wat Hy pas verrig het, het van Sy sending getuig. Diegene wat die Heiland tydens Sy koms aanskou het, was met ‘n vollediger openbaring van die Goddelike teenwoordigheid bevoordeel, as wat die wêreld ooit tevore gehad het. Die kennis van God is meer volmaak geopenbaar. Maar juis in hierdie openbaring is die oordeel op mense geplaas. Hul karakter is getoets en hul lot is bepaal. DKvDE 517.4

Die manifestasie van Goddelike krag wat aan die blinde man, beide natuurlike en geestelike sig gegee het, het die Fariseërs in nog dieper duisternis gelaat. Sommige van Sy toehoorders wat gevoel het dat Christus se woorde op hulle van toepassing was, het gevra: “Is ons dan ook blind?” Jesus het geantwoord: “As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie.” As God dit vir julle onmoontlik gemaak het om die waarheid te sien, sou jul onkunde julle geen skuld ingehou het nie. “Maar nou sê julle: Ons sien!” Julle glo dat julle kan sien en verwerp die enigste wyse waardeur julle jul sig kan bekom. Christus het almal wat hul behoefte besef het, met oneindige hulp tegemoet gekom. Maar die Fariseërs wou geen behoefte bely nie; hulle het geweier om na Christus te kom; gevolglik is hulle blind gelaat-'n blindheid waaraan hulle hulself skuldig gemaak het. Jesus het gesê: “Daarom bly julle sonde.” DKvDE 518.1