Die Koning van die Eeue

51/88

Hoofstuk 50—Tussen Valstrikke *

Jesus is voortdurend terwyl Hy by die fees in Jerusalem was, deur spioene agtervolg. Dag na dag is nuwe planne om Hom die swye op te lê, beraam. Die priesters en owerstes het Hom dopgehou om Hom in ‘n lokval te lei. Hulle wou Hom met geweld keer. Maar dit was nie al nie. Hulle wou hierdie Galilese rabbi voor die volk verneder. DKvDE 491.1

Op die eerste dag van Sy aanwesigheid by die fees, het die owerstes na Hom gekom en van Hom geëis met watter gesag Hy onderrig het. Hulle wou die aandag weg van Hom na die vraag of Hy die reg het om te onderrig en dus na hul eie belangrikheid en gesag, lei. DKvDE 491.2

“My leer is nie myne nie...” het Jesus gesê, “...maar van Hom wat My gestuur het. As iemand gewillig is om Sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is en of Ek uit Myself spreek.” Jesus het nie die vraag van hierdie twisgieriges beantwoord deur hul twisvraag te beantwoord nie, maar deur die waarheid, wat noodsaaklik vir die redding van die siel was, voor hulle oop te stel. Die begrip en waardering van die waarheid het Hy gesê, hang meer af van die hart as van die verstand. Die waarheid moet in die siel ontvang word; dit vereis die onderwerping van die eie wil. Indien die waarheid slegs aan die rede onderwerp kon word, sou hoogmoed nie ‘n struikelblok vir die aanvaarding daarvan wees nie. Maar dit moet deur die werk van genade in die hart ontvang word; die aanvaarding daarvan hang van die verloëning van elke sonde wat die Gees van God openbaar, af. Die mens se voorreg om ‘n kennis van die waarheid op te doen, hoe groot dit ook al mag wees, sal hom niks baat nie, tensy die hart ontvanklik vir die waarheid is en daar ‘n doelbewuste oorgawe van elke gewoonte en gebruik is wat in stryd met die beginsels daarvan is. Aan diegene wat hulself aldus aan God onderwerp, met ‘n eerlike begeerte om Sy wil te ken en te doen, word die waarheid as die krag van God tot hul redding geopenbaar. Hulle sal tussen die een wat namens God praat en die een wat bloot namens homself praat, kan onderskei. Die Fariseërs het nie hul wil aan die wil van God onderwerp nie. Hulle was nie opsoek na die waarheid nie, maar na verskonings om dit te ontduik; Christus het getoon dat dit die rede was waarom hulle Sy leer nie verstaan het nie. DKvDE 491.3

Toe het Hy ‘n toets voorgelê waardeur die ware leraar van die bedrieër onderskei kon word: “Hy wat uit homself spreek, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van dié Een wat Hom gestuur het, Hy is waaragtig en daar is geen ongeregtigheid in Hom nie.” Wie sy eie eer soek, spreek net uit homself. Die gees van selfverheerliking verraai sy oorsprong. Maar Christus het die verheerliking van God nagestreef. Hy het die woorde van God gespreek. Dit was die bewys van Sy gesag as ‘n Leermeester van die waarheid. DKvDE 492.1

Jesus het aan die rabbi’s ‘n bewys van sy Goddelikheid gelewer deur te toon dat Hy hul harte gelees het. Hulle was besig om, sedert die genesing by Betesda, sy dood te beplan. So het hulle self die wet, wat hulle beweer het te verdedig, verbreek. “Het Moses julle nie die wet gegee nie?” het Hy gevra, “...en niemand van julle hou die wet nie. Waarom wil julle My om die lewe bring?” DKvDE 492.2

Soos ‘n ligflits het hierdie woorde aan die rabbi’s die put van verwoesting, waarin hulle op die punt was om neer te stort, getoon. Vir ‘n oomblik was hulle vreesbevange. Hulle het geweet dat hulle in konflik met ‘n Oneindige Mag was. Maar hulle wou hulle nie laat waarsku nie. Om hulle invloed onder die volk te handhaaf, moes hul moordgedagtes verberg word. Hulle het Jesus se vraag ontwyk en uitgeroep: “U is van die duiwel besete; wie wil U om die lewe bring?” Hulle het geïnsinueer dat die wonderwerke van Jesus deur ‘n bose gees geïnspireer word. DKvDE 492.3

Op hierdie insinuasie het Christus glad nie gereageer nie. Hy het verder getoon dat Sy genesingswerk by Betesda in harmonie met die Sabbatswet was en dat dit deur die vertolking wat die Jode self aan die wet geheg het, geregverdig was. Hy het gesê: “Daarom het Moses julle die besnydenis gegee ... en op die Sabbat besny julle ‘n mens.” Volgens die wet moes elke kind op die agtste dag besny word. En indien dit op ‘n Sabbat geval het, moes die ritueel steeds uitgevoer word. Hoeveel te meer moet dit in harmonie met die gees van die wet wees om “...'n mens op die Sabbat heeltemal gesond... ” te maak? En Hy het hulle vermaan: “Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ‘n regverdige oordeel.” DKvDE 493.1

Die owerstes is die swye opgelê en baie mense het uitgeroep: “Is dit nie Hy wat hulle soek om dood te maak nie? En kyk, Hy spreek openlik en hulle sê vir Hom niks nie! Sou die owerstes dan waarlik weet dat Hy werklik die Christus is?” DKvDE 493.2

Baie van dié wat in Jerusalem gewoon en Christus gehoor het, was nie onbewus van die sameswerings teen Hom nie en het met ‘n onweerstaanbare mag aangetrokke tot Hom gevoel. Die oortuiging het oor hulle gekom dat Hy die Seun van God is. Maar Satan was gereed om twyfel te saai en hiervoor is die weg deur hul eie verdraaide idees van die Messias en Sy koms voorberei. Daar was algemeen geglo dat Christus in Betlehem gebore sou word, maar dat Hy na ‘n tyd sou verdwyn en met Sy tweede koms sou niemand weet waar Hy vandaan kom nie. Etlikes was van mening dat die Messias geen natuurlike verwantskap met die mens sou hê nie. En omdat Jesus van Nasaret nie aan hierdie gewilde opvatting van die heerlikheid van die Messias voldoen het nie, het baie mense gehoor aan die voorstel gegee: “Hierdie man-ons weet vanwaar Hy is; maar die Christus, wanneer Hy kom, weet niemand vanwaar Hy is nie.” DKvDE 493.3

Terwyl hulle so tussen twyfel en geloof gewankel het, het Jesus hul gedagtes gelees en geantwoord: “Julle ken My en julle weet ook vanwaar Ek is; tog het Ek nie uit Myself gekom nie; maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig, vir Wie julle nie ken nie.” Hulle het beweer dat hulle geweet het wat die oorsprong van Christus sou wees, maar hulle was totaal onkundig daaroor. As hulle volgens die wil van God geleef het, sou hulle Sy Seun herken het toe Hy aan hulle geopenbaar is. DKvDE 494.1

Die gehoor kon nie anders as om Christus se woorde te verstaan nie. Dit was duidelik dat dit ‘n herhaling was van die aanspraak wat Hy maande tevore voor die Sanhedrin gemaak het, toe Hy verklaar het dat Hy die Seun van God is. Soos die owerstes toe probeer het om Sy lewe te neem, het hulle nou weer probeer om dit te doen, maar hulle is deur ‘n onsigbare Mag, wat hul woede ingeperk het, teëgehou en wat vir hulle gesê het: Tot sover sal julle gaan en nie verder nie. DKvDE 494.2

Baie van die mense het in Hom geglo en gevra: “Wanneer die Christus kom, sal Hy meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het?” Die leiers van die Fariseërs, wat die verloop van gebeure angstig dopgehou het, was bewus van die skare se simpatieke gesindheid. Hulle het hulle na die owerpriesters gehaas en planne beraam om Hom gevange te neem. Hulle het egter ooreengekom om Hom gevange te neem sodra Hy alleen was; want hulle kon dit nie waag om Hom voor die volk te neem nie. Jesus het weer duidelik laat blyk dat Hy van hul voornemens bewus was. “Nog ‘n klein tydjie is Ek by julle...” het Hy gesê, “...en Ek gaan na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie.” Binnekort sal Hy ‘n toevlug buite die bereik van hul gespot en haat vind. Hy sal na die Vader opvaar, om weer deur die engele aanbid te word; en daarheen kon sy moordenaars Hom nooit volg nie. DKvDE 494.3

Smalend het die rabbi’s gesê: “Waar wil Hy heengaan, dat ons Hom nie sal vind nie? Hy wil tog nie na die verstrooides onder die Grieke gaan en die Grieke leer nie?” Weinig het hierdie twisgieriges gedroom dat hulle spottende woorde die sending van Christus uitgebeeld het! DKvDE 495.1

Hy het Sy hande die hele dag na ‘n ongehoorsame en wederstrewige volk uitgesteek; maar tog sou Hy deur diegene wat Hom nie gesoek het nie, gevind word; onder ‘n volk wat Sy naam nie aangeroep het nie, sou Hy sigbaar wees. (Sien Romeine 10:20,21). DKvDE 495.2

Baie wat oortuig geraak het dat Jesus die Seun van God was, is deur die valse redenasies van die priesters en die rabbi’s mislei. Hierdie leraars het die profesieë aangaande die Messias met groot welslae herhaal, dat Hy “...sal regeer op die berg Sion en in Jerusalem...” (Jesaja 24:23) en dat Hy “...sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” (Psalm 72:8). Toe het hulle minagtende vergelykings tussen die glorie wat hier uitgebeeld word en die nederige voorkoms van Jesus getref. Die woorde van die profesieë was so verdraai, dat dit die dwaling gesteun het. As die mense die Woord in opregtheid self bestudeer het, sou hulle nie mislei gewees het nie. Hoofstuk een-en-sestig van Jesaja getuig dat Christus juis die werk waarmee Hy besig was, moes doen. In hoofstuk drie-en-vyftig word Sy verwerping en lyding in die wêreld uiteengesit en hoofstuk nege-en-vyftig beskryf die karakter van die priesters en rabbi’s. DKvDE 495.3

God dwing mense nie om van hulle ongeloof af te sien nie. Voor hulle is lig en duisternis, waarheid en dwaling. Hulle moet vir hulleself besluit wat hulle wil aanvaar. Die menslike verstand is met mag bedeel om te onderskei tussen reg en verkeerd. God het beplan dat mense nie impulsief besluit nie, maar die getuienis opweeg en skrif met skrif vergelyk. As die Jode hul vooroordeel ter syde gestel het en die profesieë met die feite aangaande die lewe van Jesus vergelyk het, sou hulle ‘n treffende harmonie tussen die profesieë en die vervulling in die lewe en bediening van die nederige Galileër gesien het. DKvDE 495.4

Menige word vandag op dieselfde wyse as die Jode mislei. Godsdienstige leraars lees die Bybel in die lig van hul eie begrip en tradisies; en die volk ondersoek die Skrif nie self nie en oordeel nie self wat waarheid is nie; maar vertrou hul oordeel en hul siele aan hul leiers toe. Die prediking en onderrig van Sy Woord is een van die middele wat God vir die verspreiding van die lig bepaal het; maar ons moet die lering van elke mens aan die Skrif toets. Elkeen wat die Bybel biddend bestudeer, met ‘n begeerte om die waarheid te ken en te gehoorsaam, sal Goddelike lig ontvang. Hy sal die Skrif verstaan. “As iemand gewillig is om Sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet.” (Johannes 7:17) DKvDE 496.1

Op die laaste dag van die fees het die offisiere wat deur die priesters en owerstes gestuur is om Jesus gevange te neem, sonder Hom teruggekeer. Woedend is hulle gevra: “Waarom het julle Hom nie gebring nie?” Hulle het plegtig geantwoord: “Nooit het ‘n mens so gespreek soos hierdie mens nie.” DKvDE 496.2

Hulle verharde harte is deur Sy woorde versmelt. Terwyl Hy in die tempelhof gepraat het, het hulle naby Hom gebly om iets op te vang wat hulle teen Hom kon gebruik. Maar namate hulle geluister het, was die doel waarvoor hulle gestuur is, vergete. Hulle het in verrukking daar gestaan. Christus het Homself aan hul siele geopenbaar. Hulle het gesien wat die priesters en owerstes nie wou sien nie-die menslikheid met die heerlikheid Goddelikheid omvou. Hulle het teruggekeer, so vervul met hierdie gedagte, so beïndruk deur Sy woorde, dat hulle op die vraag: “Waarom het julle Hom nie gebring nie?” slegs kon antwoord: “Nooit het ‘n mens so gespreek soos hierdie mens nie.” DKvDE 496.3

Die priesters en owerstes het dieselfde oortuiging ervaar toe hulle vir die eerste keer in die teenwoordigheid van Christus gekom het. Hulle harte was diep ontroer en die gedagte het tot hulle deurgedring: “Nooit het ‘n mens so gespreek soos hierdie mens nie.” Maar hulle het die oortuiging van die Heilige Gees onderdruk. Nou, woedend omdat selfs die dienaars van die wet hulle deur die gehate Galileër laat beïnvloed het, het hulle uitgeroep: “Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Maar hierdie skare wat die wet nie ken nie, is vervloek!” DKvDE 497.1

Diegene aan wie die boodskap van die waarheid verkondig word vra selde: “Is dit waar?” maar, “Deur wie word dit bepleit?” Menige oordeel volgens die getalle wat dit aanvaar; en die vraag word steeds gevra: “Het enige van die geleerdes of godsdienstige leiers geglo?” Mense is tans nie méér ten gunste van ware godsaligheid as in die dae van Christus nie. Hulle soek steeds net so naarstiglik na wêreldse dinge, tot verwaarlosing van die ewige rykdom; en dit is geen argument teen die waarheid dat groot getalle nie bereid is om dit te aanvaar, of dat dit nie deur die wêreld se grotes, of selfs deur die godsdienstige leiers, aanvaar word nie. DKvDE 497.2

Weer het die priesters en owerstes planne beraam om Jesus in hegtenis te neem. Daar is aangedring dat indien Hy langer op vrye voet sou verkeer, Hy die volk van die erkende leiers sou weglok en die enigste veilige weg was om Hom sonder versuim stil te maak. In die volle gety van hul bespreking, is hulle skielik onderbreek. Nikodemus het gevra: “Oordeel ons wet die mens sonder om Hom eers te hoor en te weet wat hy doen?” Stilte het oor die vergadering gedaal. Die woorde van Nikodemus het hul gewetens aangespreek. Hulle kon ‘n man nie sonder ‘n verhoor veroordeel nie. Maar dit was nie slegs om hierdie rede dat hierdie hoogmoedige owerstes stil geraak het en die man wat gewaag het om ten gunste van geregtigheid te praat aan te kyk nie. Hulle was onthuts en ontstoke dat een uit hul eie geledere tot so ‘n mate met die karakter van Jesus beïndruk was, dat hy vir Hom in die bresse sou tree. Toe hulle weer tot verhaal kom, het hulle Nikodemus sarkasties toegesnou: “Jy is tog nie ook uit Galiléa nie? Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galiléa opgestaan het nie.” DKvDE 497.3

Tog het hierdie beswaar daartoe gelei dat die raad se verrigtinge opgeskort is. Die owerstes kon nie hul plan uitvoer om Jesus sonder verhoor te veroordeel nie. Met hulle planne voorlopig verydel, het elkeen na sy eie huis gegaan. “Maar Jesus het na die Olyfberg gegaan.” DKvDE 498.1

Jesus het van die opwinding en verwarring van die stad, van die gretige skares en die verraderlike rabbi’s, na die stilte van die olyfboorde weggedraai, waar Hy alleen met God kon wees. Maar vroeg in die oggend het Hy na die tempel teruggekeer en terwyl die volk om Hom vergader, het Hy gaan sit en hulle geleer. DKvDE 498.2

Hy is gou onderbreek. ‘n Groep Fariseërs en skrifgeleerdes het Hom genader met ‘n vreesbevange vrou wat hulle na Hom toe gesleep het en met harde, gretige stemme daarvan beskuldig het dat sy die sewende gebod oortree het. Nadat hulle haar in die teenwoordigheid van Jesus gebring het, het hulle met ‘n skynheilige vertoon van respek vir Hom gesê: “Moses het ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig; maar U, wat sê U?” DKvDE 498.3

Agter geveinsde eerbied het hulle ‘n diepgaande komplot vir Sy ondergang verberg. Hulle het hierdie geleentheid aangegryp om sy veroordeling te verseker en gedink dat die besluit wat Hy sou neem, die geleentheid aan hulle sou bied om Hom te beskuldig. Sou hy die vrou vryspreek, kon Hy daarvan aangekla word dat Hy die wet van Moses geminag het. Sou Hy verklaar dat sy die dood verdien, kon hy deur die Romeine beskuldig word as iemand wat die gesag waaroor slegs hulle beskik, ondermyn. DKvDE 498.4

Jesus het vir ‘n oomblik na die toneel gekyk-die bewende slagoffer in haar skande, die hardvogtige hooggeplaastes, van alle menslike meegevoel ontneem. Sy gees van vlekkelose reinheid het van hierdie spektakel teruggedeins. Hy het geweet om watter rede hierdie geval na Hom gebring is. Hy het die hart, die karakter en die lewensgeskiedenis van elkeen in Sy teenwoordigheid geken. Hierdie sogenaamde bewakers van die geregtigheid het self die slagoffer tot sonde verlei sodat hulle ‘n strik vir Jesus kon stel. Sonder enige aanduiding dat Hy hul vraag gehoor het, het Hy gebuk, sy oë voor Hom op die grond gevestig en in die stof begin skryf. DKvDE 499.1

Ongeduldig oor Sy traagheid en skynbare onverskilligheid, het die beskuldigers nader gekom om die saak onder Sy aandag af te dwing. Maar toe hulle oë, soos dié van Jesus, op die sypaadjie voor sy voete val, het hulle van voorkoms verander. Daar, voor hulle, was die skuldige geheime van hul eie lewens neergeskryf. Die mense wat die toneel aanskou het, het gesien hoe hulle gelaat skielik verander het en het vorentoe gebeur om vas te stel wat dit was wat die beskuldigers met soveel verbasing en skaamte gadegeslaan het. DKvDE 499.2

Ondanks hul bewerings van eerbied vir die wet, het hierdie rabbi’s die bepalings daarvan, deur hierdie beskuldiging teen die vrou in te bring, oortree. Dit was haar man se plig om teen haar op te tree en beide die skuldige partye moes gelyke straf ontvang. Die optrede van die aanklaers was totaal ongeoorloof. Jesus het hulle egter op hul eie terrein ontmoet. Die wet het bepaal dat die getuies in die saak die eerste moes wees om klippe te gooi in geval van steniging. Toe staan Jesus op, Sy oë op die sameswerende ouderlinge gevestig en sê: “Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste klip op haar gooi.” Toe het Hy neergebuig en verder op die grond geskryf. DKvDE 499.3

Hy het nie Moses se wet verontagsaam, of die gesag van Rome oortree nie. Die beskuldigers was verslaan. Hulle gewaad van gewaande heiligheid is van hulle afgeskeur en hulle het skuldig en veroordeel voor die Oneindige Reinheid gestaan. Hulle het gesidder by die gedagte dat die verborge ongeregtighede van hul lewens voor die skare oopgevlek sou word; en een vir een, met geboë hoofde en neergeslane oë, het hulle stil letjies weggesluip en hul slagoffer by die medelydende Verlosser gelaat. DKvDE 500.1

Toe staan Jesus op, kyk na die vrou en sê: “Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.” DKvDE 500.2

Die vrou het, kromgetrek van vrees, voor Jesus gestaan. Sy woorde: “Laat die een van julle wat sonder sonde is, die eerste klip op haar gooi...” was vir haar soos ‘n doodsvonnis. Sy het nie durf die Heiland in die oë te kyk nie, maar het stil op haar oordeel gewag. Verbaas het sy haar beskuldigers, sprakeloos en verslae sien weggaan; toe val die woorde van hoop op haar ore: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.” Haar hart het gesmelt en sy het haarself voor die voete van Jesus neergewerp, haar dankbare liefde uitgesnik en haar sondes met bittere trane bely. DKvDE 500.3

Dit was die begin van ‘n nuwe lewe vir haar, ‘n lewe van reinheid en vrede, gewy aan die diens van God. In die opheffing van hierdie gevalle siel het Jesus ‘n groter wonderwerk verrig as om die ernstigste fisiese siekte te genees; Hy het ‘n geestelike kwaal wat tot die ewige dood lei, genees. Hierdie boetvaardige vrou het een van sy getrouste volgelinge geword. Sy het Sy vergewende genade met self-opofferende liefde en toewyding vergeld. DKvDE 500.4

Deur Sy daad om hierdie vrou te vergewe en haar aan te moedig om ‘n beter lewe te lei, het die karakter van Jesus in die skoonheid van volmaakte geregtigheid geskyn. Hoewel Hy sonde nie verontskuldig en ook nie skuldgevoelens verminder nie, wil Hy nie veroordeel nie, maar red. Die wêreld het vir hierdie gevalle vrou net minagting en hoon gehad; maar Jesus praat woorde van vertroosting en hoop. Die Sondelose ontferm Hom oor die swakheid van die sondaar en reik ‘n helpende hand uit na haar. Terwyl die geveinsde Fariseërs veroordeel, sê Jesus vir haar: “Gaan heen en sondig nie meer nie.” DKvDE 500.5

Iemand wat met afgewende oë van die dwalendes wegdraai en hulle toelaat om ongehinderd die afwaartse weg te volg, is nie ‘n volgeling van Jesus nie. Diegene wat vinnig is om ander te beskuldig en ywerig is om hulle voor die gereg te bring, is dikwels in hulle eie lewens meer skuldig. Mense haat die sondaar, terwyl hulle die sonde liefhet. Christus haat die sonde, maar het die sondaar lief. Dit sal die gees wees van almal wat Hom volg. Christelike liefde is traag om te veroordeel, vinnig om boetvaardigheid raak te sien, gereed om te vergewe, aan te moedig en die dwalende op die pad van heiligheid te plaas en sy voete daarop te hou. DKvDE 501.1