Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 49—By die Huttefees *
Drie keer per jaar moes die Jode vir godsdienstige doeleindes in Jerusalem vergader. In die wolkkolom gehul, het Israel se onsigbare Leier die opdragte aangaande hierdie byeenkomste gegee. Gedurende die ballingskap van die Jode kon dit nie waargeneem word nie; maar toe die volk in hul eie land herstel is, is die nakoming van hierdie gedenkfeeste hervat. God het hiermee beoog dat, met hierdie feeste, die volk Hom in herinnering sou roep. Maar met uitsonderings na, het die priesters en leiers van die land hierdie doel uit die oog verloor. Hy wat hierdie volksfeeste georden het en die betekenis daarvan begryp het, moes die wantoepassing daarvan aanskou. DKvDE 482.1
Die Huttefees was die slotbyeenkoms van die jaar. God se doel hiermee was dat die volk gedurende hierdie tyd oor Sy goedheid en barmhartigheid moes nadink. Die hele land was onder Sy leiding en het Sy seën ontvang. Sy waaksame oog het dag en nag oor hulle gewaak. Die son en reën het gesorg dat die aarde sy vrugte voortbring. Uit die valleie en vlaktes van Palestina was die oes ingesamel. Die olywe was gepluk en hul kosbare olie in kruike geberg. Die palm het sy voorraad gelewer. Die pers druiwetrosse was in die parskuip getrap. DKvDE 482.2
Die fees het sewe dae geduur en vir die viering daarvan, het die inwoners van Palestina, saam met talle uit ander lande, hul huise verlaat en na Jerusalem gekom. Van heinde en ver het mense opgedaag met ‘n simbool van vreugde in hul hande. Oud en jonk, ryk en arm, het almal een of ander geskenk as dankbetuiging aan Hom, wat die jaar met Sy goedheid bekroon het en wat Sy spore van vettigheid op hulle laat drup het, gebring. Alles wat die oog behaag het en wat uiting aan die universele vreugde kon gee, is uit die woude gebring; die stad het soos ‘n pragtige woud gelyk. DKvDE 482.3
Die fees was nie slegs ‘n danksegging vir die oes nie, maar ook ‘n herinnering aan die beskerming van God oor Israel in die woestyn. Ter herdenking aan hul tentlewe, het die Israeliete tydens die Huttefees in hutte van groen takke gewoon. Dit was in die strate, in die voorhowe van die tempel en op die dakke van huise opgerig. Die heuwels en valleie rondom Jerusalem was ook besaai met hierdie tak-wonings en het gewemel van mense. DKvDE 483.1
Met gewyde sang en danksegging het die aanbidders hierdie geleentheid gevier. Kort voor die fees het die versoendag plaasgevind, wanneer die volk hul sondes bely het en vrede met die Hemel verklaar is. So is die weg vir die vreugde van die fees voorberei. “Loof die Here, want Hy is goed, want Sy goedertierenheid is tot in ewigheid...” (Psalm 106:1), het triomfantelik opgestyg, terwyl allerhande musiekinstrumente, gemeng met uitroepe van hosanna, die samesang begelei het. Die tempel was die middelpunt van universele vreugde. Hier was die prag van die offer-seremonies te sien. Hier, aan weerskante van die wit marmer trappe van die heilige tempel, het die koor van die Leviete die sangdiens gelei. Die menigte aanbidders het met palm-en mirtetakke gewuif, die noot opgeneem en die refrein laat weerklink; en weer is die melodie opgeneem deur stemme naby en ver, totdat die omliggende heuwels met lof weergalm het. DKvDE 483.2
Snags is die tempel en die voorhof met kunsmatige lig opgehelder. Die musiek, die wuiwende palmtakke, die blye hosannas, die groot gedrang van mense oor wie die lig uit hanglampe geskyn het, die verskeidenheid van priesters en die prag en praal van die seremonies, het ‘n toneel geskep wat ‘n diep indruk op die toeskouers gemaak het. Maar die mees indrukwekkendste seremonie van die fees, wat die grootste vreugde ontlok het, was die herdenking van die gebeurtenis gedurende die verblyf in die woestyn. DKvDE 483.3
Met die eerste dagbreek, het die priesters lank en skril op hul silwer trompette geblaas en die beantwoording van die basuine en blye uitroepe van die volk uit hul hutte wat oor die berge en dale weerklink het, het die feestyd verwelkom. Dan het die priester ‘n fles met water wat uit die Kedron vloei volgemaak, dit hoog opgelig terwyl die trompette weerklink, die breë trappe van die tempel op maat van die musiek, met ‘n stadige en afgemete tred bestyg, terwyl hy singend uiter: “Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem!” (Psalm 122:2). DKvDE 484.1
Hy het die fles dan na die altaar, wat in die middel van die voorhof van die priesters gestaan het, gedra. Hier was twee silwer komme, met ‘n priester by elk. Die fles is in die een uitgegiet en ‘n fles wyn in die ander; en die inhoud van albei het met ‘n pyp na die Kedron gevloei, vanwaar dit in die Dooie See geloop het. Hierdie vertoning van gewyde water het die fontein, wat op bevel van God uit die rots gestroom het om die dors van die kinders van Israel te les, voorgestel. Dan het die jubelende stemme weer in sang opgeklink: “Die Here Here is my krag en my psalm... Julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.” (Jesaja 12:2,3). DKvDE 484.2
Toe die seuns van Josef voorbereidings getref het om die Huttefees by te woon, het hulle gesien dat Christus geen poging aanwend om te toon dat Hy van voorneme was om te gaan nie. Hulle het Hom angstig dopgehou. Sedert die genesing van die man by Betesda, het Hy nie die nasionale byeenkomste bygewoon nie. Om nuttelose konflik met die leiers in Jerusalem te vermy, het Hy Sy arbeid tot Galiléa beperk. Sy oënskynlike onverskilligheid teenoor die groot godsdienstige byeenkomste en die vyandigheid waarmee die priesters en rabbi’s Hom bejeën het, was ‘n bron van kommer vir die mense om Hom en selfs vir Sy eie dissipels en familie. In sy leringe het Hy klem gelê op die seëninge van gehoorsaamheid aan die wet van God en tog was Hy self skynbaar onverskillig teenoor die dienste wat Goddelik ingestel is. Sy omgang met tollenaars en ander berugte karakters, sy miskenning van die rabbynse insettinge en die gemak waarmee Hy die tradisionele vereistes rakende die Sabbat ter syde gestel het, het alles geblyk Hom in teenstelling met die godsdienstige owerhede te plaas, wat baie vrae uitgelok het. Sy broers was van mening dat dit ‘n fout was vir Hom, om die groot en geleerde mense van die land, te vervreem. Hulle was van mening dat hierdie manne gelyk gehad het en dat Jesus ‘n fout begaan om hul antagonisme uit te lok. Maar hulle was getuie van Sy vlekkelose lewe en hoewel hulle hulself nie by Sy dissipels getel het nie, was hulle diep onder die indruk van Sy werke. Sy gewildheid in Galiléa het hul ywer gestreel; hulle het steeds gehoop dat Hy Sy krag so sou openbaar, dat die Fariseërs sou besef dat Hy is wie Hy gesê het Hy is. Sê nou Hy wás die Messias, die Vors van Israel! Hulle het hierdie gedagte met trotse tevredenheid gekoester. DKvDE 484.3
Hulle was so angstig hieroor, dat hulle by Christus aangedring het om na Jerusalem te gaan. “Vertrek hiervandaan en gaan na Judea, sodat U dissipels ook U werke kan sien wat U doen...” het hulle gesê, “...want niemand doen iets in die geheim, en soek tegelykertyd om in iedereen se mond te wees nie. As U hierdie dinge doen, vertoon Uself aan die wêreld.” Hierdie “as” het twyfel en ongeloof te uitgespreek. Hulle het lafhartigheid en swakheid aan Hom toegeskryf. As Hy geweet het dat Hy die Messias is, waarom hierdie vreemde teruggetrokkenheid en onaktiwiteit? As Hy werklik oor sulke mag beskik, waarom nie met vrymoedigheid na Jerusalem gaan en Sy eise laat geld nie? Waarom nie in Jerusalem die wonderwerke uitvoer wat in Galiléa van Hom vertel word nie? Moenie in afgeleë uithoeke wegkruip en U magtige werke op onkundige arbeiders en vissermanne verkwis nie, het hulle gesê. Gaan betoon Uself in die hoofstad, wen die steun van die priesters en owerstes en verenig die volk in die vestiging van die nuwe koninkryk! DKvDE 485.1
Hierdie broers van Jesus het volgens die selfsugtige beweegrede wat so dikwels in die harte van diegene wat ywerig vir vertoon is gevind word, aangevoer. Hierdie gees was die heersende gees van die wêreld. Hulle het aanstoot geneem omdat Christus Homself as die Brood van die Lewe verklaar het, in plaas van ‘n wêreldse troon op te eis. Hulle was diep teleurgesteld toe so baie van Sy dissipels Hom verlaat het. Hulle het self van Hom weggedraai om die kruis van te erken wat Sy werke openbaar het, dat Hy die Gestuurde van God was, te vermy. DKvDE 486.1
“Toe sê Jesus vir hulle: My tyd is nog nie daar nie. Maar julle tyd is altyd daar. Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is. Gaan julle op na hierdie fees. Ek gaan nog nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie daar is nie. En nadat Hy dit aan hulle gesê het, het Hy in Galiléa gebly.” Sy broers het Hom met ‘n toon van gesag aangespreek en aan hom voorgeskryf wat Hy behoort te doen. Hy het hulle teregwysing na hulle teruggewerp en hulle nie met Sy selfverloënende dissipels geklassifiseer nie, maar met die wêreld. “Die wêreld kan julle nie haat nie...” het Hy gesê, “...maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is.” Die wêreld haat nie diegene wat dieselfde gees koester nie, maar het hulle lief soos sy eie. DKvDE 486.2
Die wêreld vir Christus was nie ‘n plek van gemak en selfverheffing nie. Hy het nie geleentheid om die mag en glorie aan te gryp, gesoek nie. Dit het geen beloning van hierdie aard vir Hom ingehou nie. Dit was die plek waarheen Sy Vader Hom gestuur het. Hy is vir die lewe van die wêreld gegee om die groot verlossingsplan uit te voer. Hy was besig om Sy werk vir die gevalle ras te volbring. Maar Hy moes nie aanmatigend wees en Hom onnodig aan gevaar blootstel of die krisis verhaas nie. Elke gebeurtenis in Sy werk het sy vasgestelde uur gehad. Hy moes geduldig wag. Hy het geweet dat die wêreld Hom sou haat; Hy het geweet dat Sy werk tot sy dood sou lei; maar om Homself voortydig bloot te stel, sou nie die wil van Sy vader wees nie. DKvDE 486.3
Vanuit Jerusalem het die verslag van Christus se wonderwerke oral waar die Jode verstrooi was versprei; en hoewel Hy vir baie maande van die feeste afwesig was, het belangstelling in Hom nie afgeneem nie. Uit alle dele van die wêreld het mense na die Loofhuttefees gekom in die hoop om Hom te sien. Met die aanvang van die fees was daar baie navrae aangaande Hom gedoen. Die Fariseërs en owerstes wou gehad het Hy moes kom, in die hoop op ‘n geleentheid om Hom te veroordeel. Hulle het angstig verneem: “Waar is Hy?” maar niemand het geweet nie. Hy was oorheersend in almal se gedagtes. Uit vrees vir die priesters en owerstes het niemand dit gewaag om Hom as die Messias te erken nie, maar oral was daar stil, dog ernstige besprekings oor Hom. Baie het Hom as die Een wat van God gestuur is verdedig, terwyl ander Hom as ‘n bedrieër van die volk veroordeel het. DKvDE 487.1
Intussen het Jesus stilweg in Jerusalem aangekom. Hy het ‘n minder besige roete gekies om die reisigers wat uit alle oorde na Jerusalem op pad was, te vermy. As Hy by een van die karavane wat na die fees opgegaan het aangesluit het, sou Hy die aandag met Sy aankoms in die stad getrek het en enige gewilde demonstrasie in Sy guns, sou die owerhede teen Hom opgewek het. Om dit te voorkom, het Hy verkies om die reis alleen te onderneem. DKvDE 487.2
Te midde van die fees, toe die opgewondenheid oor Hom ‘n hoogtepunt bereik het, het Hy die voorhof van die tempel in die teenwoordigheid van die skare betree. Vanweë Sy afwesigheid van die fees was daar bewerings dat Hy dit nie kon waag om Homself in die mag van die priesters en owerstes te plaas nie. Almal was verbaas oor Sy teenwoordigheid. Elke stem was stil. Almal was verwonderd oor die waardigheid en moed wat Hy aan die dag gelê het te midde van magtige vyande wat na Sy lewe dors. DKvDE 487.3
Terwyl Hy daar voor die groot skare gestaan het, die middelpunt van belangstelling, het Jesus hulle toegespreek soos niemand nog ooit voorheen gedoen het nie. Sy woorde het ‘n kennis van die wette en insettinge van Israel, van die offerdienste en die leerstellings van die profete geopenbaar, wat dié van die priesters en rabbi’s ver oortref het. Hy het die mure van formalisme en oorlewering afgebreek. Die tonele van die toekomstige lewe het geblyk voor Hom oopgesprei te wees. Soos Een wat die Onsienlike sien, het Hy met onmiskenbare gesag oor die aardse en die hemelse, die menslike en die Goddelike gepraat. Sy woorde was duidelik en oortuigend; en weereens, soos in Kapérnaum, was die volk verbaas oor Sy leer; “...want Sy woord was met gesag.” (Lukas 4:32). Deur ‘n verskeidenheid van vertoë, het Hy Sy toehoorders teen die ramp, wat op almal wat die seëninge wat Hy vir hulle gebring het verwerp het, gewag het, gewaarsku. Hy het aan hulle alle moontlike bewyse gelewer dat Hy van God gekom het en het alles in Sy vermoë gedoen om hulle tot bekering te bring. Hy sou nie deur Sy eie volk verwerp en vermoor word as Hy hulle van die skuld van so ‘n daad kon red nie. DKvDE 488.1
Almal was verwonderd oor Sy kennis van die wet en die profesieë en hulle het mekaar afgevra: “Hoe kom Hy aan die geleerdheid terwyl Hy geen onderwys ontvang het nie?” Niemand was bevoeg geag om ‘n godsdiensleraar te wees as hy nie in die rabbynse skole gestudeer het nie en sowel Jesus as Johannes die Doper was as onkundig voorgehou omdat hulle nie hierdie opleiding gehad het nie. Diegene wat hulle gehoor praat het, was verbaas oor hulle kennis van die Skrif, aangesien hulle “...geen onderwys ontvang het nie.” Hulle het gewis nie van mense geleer nie; maar die God van die hemel was hul Leermeester en van Hom het hulle die hoogste wysheid ontvang. DKvDE 488.2
Terwyl Jesus in die tempelvoorhof gepraat het, was die mense vasgenael. Selfs die mense wat die hewigste teen Hom gekant was, het besef dat hulle magteloos was om Hom skade aan te doen. Vir ‘n tyd was alle ander belange vergete. DKvDE 489.1
Dag na dag het Hy die volk geleer, totdat die laaste “...groot dag van die fees...” eindelik aangebreek het. Die skare was teen daardie oggend al moeg van die langdurige feestelikheid. Skielik het Jesus Sy stem verhef in ‘n toon wat deur die voorhowe van die tempel weerklink het: DKvDE 489.2
“As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” In hulle toestand het hierdie uitnodiging die volk met krag getref. Hulle het die een toneel van vertoon en feestelikheid na die ander beleef, hulle oë was met lig en kleur verblind en hulle ore was versadig met die mees opheffende musiek; maar daar was niks in al hierdie seremonies om aan die behoeftes van die gees te voldoen nie, niks om die dors van die siel na die onverganklike te bevredig nie. Jesus het hulle genooi om uit die Fontein van lewe, die water te kom drink wat tot die ewige lewe sal opwel. DKvDE 489.3
Die priester het daardie oggend die seremonie wat die slaan van die rots in die woestyn herdenk het uitgevoer. Daardie rots was ‘n simbool van Hom wat deur Sy dood sou veroorsaak dat lewende strome van verlossing na almal wat dors het sal stroom. Christus se woorde was die water van lewe. Daar, in die teenwoordigheid van die menigte, het Hy Homself afgesonder om geslaan te word, sodat die water van lewe na die wêreld kon vloei. Deur Christus te verslaan, het Satan gedink om die Vors van die lewe te vernietig; maar uit die geslaande Rots het daar lewende water gevloei. Terwyl Jesus so met hierdie volk gepraat het, is die harte van die volk met ‘n vreemde ontsag gevul en baie was gereed om soos die Samaritaanse vrou uit te roep: “Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry ... nie.” (Johannes 4:15). DKvDE 489.4
Jesus het die behoeftes van die siel geken. Prag en praal, rykdom en eer kan die hart nie bevredig nie. “As iemand dors het, laat hom na My toe kom.” Ryk en arm, vernaam en gering, is almal ewe welkom. Hy het belowe om die vermoeide gees te verlig, die bedroefde te vertroos en aan die moedelose hoop te verleen. Baie van diegene wat Jesus gehoor het, het oor teleurgestelde hoop gerou, baie het ‘n geheime droefheid gekoester, baie het gepoog om hul rustelose verlange na die dinge van die wêreld en die lof van mense te bevredig; maar nadat hulle dit alles verkry het, het hulle gevind dat hulle slegs geswoeg het om ‘n gebreekte kom te verkry, waaruit hulle nie hul dors kon les nie. Te midde van die glans van die vreugdevolle toneel, was hulle ontevrede en hartseer. Daardie skielike uitroep: “As iemand dors het...” het hulle uit hul droefgeestige mymeringe wakker geskud en terwyl hulle na die woorde wat daarop gevolg het geluister het, is hulle met nuwe hoop vervul. Die Heilige Gees het die simbool voor hulle aangebied totdat hulle daarin die aanbod van die onskatbare gawe van verlossing gesien het. DKvDE 490.1
Hierdie roepstem van Christus tot die dorstige siel gaan steeds voort en dit spreek tot ons met nog groter krag as diegene wat dit op die laaste dag van die fees in die tempel gehoor het. Die fontein is oop vir almal. Vermoeide en uitgeputte mense word die verkwikkende teug van die ewige lewe aangebied. Jesus roep steeds: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink.” “Laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” (Openbaring 22:17). “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14) DKvDE 490.2