Die Koning van die Eeue

49/88

Hoofstuk 48—“Wie is die Grootste?” *

Met Sy terugkeer na Kapernaum, het Jesus nie weer na die bekende oorde gegaan waar Hy die mense geleer het nie, maar saam met Sy dissipels het Hy stilweg die huis opgesoek waar Sy tydelike verblyf sou wees. Gedurende die res van Sy verblyf in Galiléa was dit Sy doel om die dissipels te onderrig, eerder as om onder die skare te werk. DKvDE 468.1

Op die reis deur Galiléa, het Christus weer gepoog om Sy dissipels voor te berei op wat vir Hom gewag het. Hy het vir hulle gesê dat Hy na Jerusalem gaan optrek om gedood te word en weer uit die dood op te staan. En Hy het die vreemde, plegtige aankondiging bygevoeg, dat Hy in die hande van Sy vyande verraai sou word. Die dissipels het Sy woorde steeds nie begryp nie. Hoewel die skaduwee van ‘n groot hartseer oor hulle gekom het, het ‘n gees van wedywering ‘n plek in hul harte gevind. Hulle het onder mekaar getwis oor wie die grootste in die koninkryk sou wees. Hulle het gedink om hierdie getwis vir Jesus te verberg en het nie soos gewoonlik digby Hom gebly nie, maar agter Hom gesloer, sodat Hy hulle vooruit was toe hulle Kapernaum binnegaan. Jesus het hul gedagtes gelees en wou hulle graag raad gee en onderrig. Maar Hy het hiervoor op ‘n stil uur gewag, wanneer hul harte oop sou wees om Sy woorde te ontvang. DKvDE 468.2

Kort nadat hulle die stad bereik het, het die invorderaar van die tempelbelasting met die vraag na Petrus gekom: “Betaal julle Meester nie die tempelbelasting nie?” Hierdie bydrae was nie ‘n siviele belasting nie, maar ‘n godsdienstige bydrae wat elke Jood jaarliks vir die onderhoud van die tempel moes betaal. ‘n Weiering om hierdie bydrae te maak is as ontrouheid aan die tempel beskou en volgens die mening van die rabbi’s, ‘n ernstige sonde. Die houding van die Heiland teenoor die rabbynse wette en Sy duidelike teregwysings aan die verdedigers van tradisie, het aan hulle ‘n voorwendsel vir die aanklag, dat Hy die tempeldiens omver wou werp, gegee. Sy vyande het hierin ‘n geleentheid gesien om Hom in diskrediet te bring. In die invorderaar van die tempelbelasting het hulle ‘n gewillige bondgenoot gevind. DKvDE 468.3

Petrus het in die vraag van die invorderaar ‘n insinuasie, wat die lojaliteit van Christus teenoor die tempel geraak het, raakgesien. Ywerig vir die eer van sy Meester, het hy haastig, sonder om Hom te raadpleeg, geantwoord dat Jesus sou betaal. DKvDE 469.1

Maar Petrus het die doel van sy ondervraer net gedeeltelik begryp. Daar was enkele klasse wat van die betaling van die belasting vrygestel was. In die tyd van Moses, toe die Leviete vir diens in die heiligdom afgesonder was, was daar geen erfdeel onder die volk aan hulle toegeken nie. Die Here het gesê: “Daarom het Levi geen deel of erfenis saam met sy broers nie; die Here is sy erfdeel.” (Deuteronomium 10:9). In die dae van Christus was die priesters en Leviete steeds beskou as dat hulle spesifiek aan die tempel gewy was en daar was nie van hulle verwag om die jaarlikse bydrae vir die ondersteuning daarvan te lewer nie. Profete was ook van hierdie belasting vrygestel. Deur ‘n bydrae van Jesus te eis, het die rabbi’s Sy aanspraak as profeet of leraar verontagsaam en het hulle Hom soos enige alledaagse mens behandel. ‘n Weiering van Sy kant om die belasting te betaal, sou beskou word as ontrouheid aan die tempel; terwyl die betaling daarvan daarenteen, as ‘n regverdiging van hul verwerping van Hom as profeet beskou sou word. DKvDE 469.2

Slegs ‘n kort rukkie tevore, het Petrus Jesus as die Seun van God erken; maar nou het hy ‘n geleentheid laat verbygaan om die aard van sy Meester se sending te verduidelik. Deur sy antwoord aan die ontvanger dat Jesus die belasting sou betaal, het hy die valse opvatting van Hom, waaraan die priesters en die heersers probeer geldigheid verleen het, feitlik goedgekeur. DKvDE 469.3

Toe Petrus die huis binnegaan, het die Heiland geen verwysing na die gebeure gemaak nie, maar het gevra: “Wat dink jy, Simon? Van wie neem die konings van die aarde tol of belasting-van hulle seuns, of van die vreemdelinge?” Petrus het geantwoord: “Van die vreemdelinge...” waarop Jesus geantwoord het: “Dan is die seuns vry.” Hoewel die volk van ‘n land vir die onderhoud van hul koning belas word, word die kinders van die monarg vrygestel. So moes Israel, die verklaarde volk van God, Sy diens onderhou; maar Jesus, die Seun van God, was onder geen so ‘n verpligting nie. As priesters en Leviete vrygestel was vanweë hul verbintenis met die tempel, hoeveel te meer Hy, Wie se tempel die huis van Sy Vader was! DKvDE 470.1

As Jesus die belasting sonder protes betaal het, sou Hy feitlik die geregtigheid van hul bewering erken het en sodoende Sy Goddelikheid ontken het. Maar hoewel Hy dit goed geag het om aan die eise te voldoen, het Hy die eis waarop dit gegrond was, ontken. In die betaling van die belasting het Hy bewys van Sy Goddelike karakter gelewer. Dit is duidelik gemanifesteer dat Hy een met God was en dat Hy dus nie as ‘n gewone onderdaan van die koninkryk belasbaar was nie. DKvDE 470.2

“Gaan na die see toe...” het Hy Petrus beveel, “...gooi ‘n hoek uit en neem die eerste vis wat opkom; en as jy sy bek oopmaak, sal jy ‘n stater kry; neem dit en gee dit aan hulle vir My en vir jou.” DKvDE 470.3

Hoewel Hy Sy Godheid met mensheid beklee het, het Hy deur hierdie wonderwerk Sy heerlikheid geopenbaar. Dit was duidelik dat dit Hy was, wat deur Dawid verklaar het: “Die wilde diere van die bos is Myne, die vee op berge by duisende. Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld is van My. As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is Myne en sy volheid.” (Psalm 50:10-12). DKvDE 470.4

Hoewel Jesus dit duidelik gemaak het dat Hy nie verplig was om belasting te betaal nie, het Hy nie met die Jode oor die saak geredekawel nie; want hulle sou Sy woorde tog verkeerd vertolk en teen Hom aangewend het. Om nie aanstoot te gee deur te weier om die belasting te betaal nie, het Hy gedoen wat nie na regte van Hom vereis kon word nie. Hierdie les sou van groot waarde vir Sy dissipels wees. Merkbare veranderinge sou binnekort in hul verhouding tot die tempeldiens plaasvind en Christus het hulle geleer om hulself nie onnodig in opposisie teenoor die gevestigde orde te plaas nie. Sover moontlik moes hulle dit vermy om ‘n geleentheid te skep vir hul geloof om verkeerd vertolk te word. Hoewel Christene nie een enkele beginsel van die waarheid moet prysgee nie, moet hulle sover moontlik geskille vermy. DKvDE 471.1

Toe Christus en die dissipels alleen in die huis was terwyl Petrus na die meer gegaan het, het Jesus die ander na Hom geroep en gevra: “Wat het julle op die pad met mekaar geredeneer?” Die teenwoordigheid van Jesus en Sy vraag, het die saak in ‘n heel ander lig gestel as toe hulle met mekaar langs die pad gestry het. Skaamte en selfveroordeling het hulle laat swyg. Jesus het aan hulle gesê dat Hy namens hulle sou sterf en hul selfsugtige ambisie was in pynlike teenstelling met Sy onselfsugtige liefde. DKvDE 471.2

Toe Jesus vir hulle gesê het dat Hy gedood sou word en weer sou opstaan, het Hy probeer om hulle in ‘n gesprek vir die toets van hulle geloof te betrek. As hulle gereed was om te ontvang wat Hy aan hulle bekend wou maak, sou hulle bittere foltering en wanhoop gespaar gewees het. Sy woorde sou in die uur van verlies en teleurstelling vertroosting gebring het. Maar hoewel Hy so duidelik te kenne gegee het wat op Hom wag, het sy aankondiging dat Hy binnekort weer na Jerusalem sou gaan, hulle hoop weer laat opvlam dat die koninkryk op die punt was om opgerig te word. Dit het tot die vraag gelei oor wie die hoogste ampte sou beklee. Met die terugkeer van Petrus van die meer, het die dissipels hom van die vraag van die Heiland vertel en uiteindelik het hulle dit gewaag om vir Jesus te vra: “Wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele?” DKvDE 471.3

Die Heiland het sy dissipels om Hom vergader en gesê: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees.” In hierdie woorde was daar ‘n plegtigheid en indrukwekkendheid verskuil wat ver bo die begrip van die dissipels was. Dit wat Christus onderskei het, kon hulle nie raaksien nie. Hulle het nie die aard van Christus se koninkryk verstaan nie en hierdie onkunde was die skynbare oorsaak van hulle geskil. Maar die werklike oorsaak het dieper gelê. Deur die aard van die koninkryk te verklaar, sou Christus hul geskil dalk voorlopig beëindig het; maar dit sou nie die onderliggende oorsaak aangeraak het nie. Selfs nadat hulle die volste kennis opgedoen het, sou enige vraag na voorrang die probleme opnuut laat herleef het. Sodoende sou ‘n ramp, nadat Christus die wêreld verlaat het, in die kerk ingekom het. Die wedywering vir die hoogste posisie was die uitwerking van dieselfde gees wat die groot stryd in die hemel ontketen het en wat veroorsaak het dat Christus die hemel verlaat het om op aarde te kom sterf. Daar het ‘n visioen van Lucifer, die “...seun van die dageraad...” wie se heerlikheid dié van al die engele om die troon oortref het en wat met die nouste bande met die Seun van God verbind was, voor Hom opgedoem. Lucifer het gesê: “Ek wil ... my gelykstel met die Allerhoogste;” (Jesaja 14:12,14) en die begeerte vir selfverheffing het ‘n stryd in die hemelse howe ontketen en tot die verbanning van ‘n menigte van die hemelse leërskare gelei. Indien Lucifer werklik begeer het om soos die Allerhoogste te wees, sou hy nooit sy aangewese plek in die hemel versaak het nie; want die gees van die Allerhoogste word in onselfsugtige diens geopenbaar. Lucifer het die mag van God begeer, maar nie Sy karakter nie. Hy het die hoogste posisie vir homself begeer en elke wese wat deur sy gees besiel word, sal dieselfde doen. Dus sal vervreemding, onenigheid en twis onvermydelik wees. Heerskappy word die prys van die sterkste. Die koninkryk van Satan is ‘n koninkryk van geweld; elke individu beskou die ander as ‘n struikelblok in die pad van sy eie vooruitgang, of iemand op wie hy kan trap om hoër te klim. DKvDE 472.1

Terwyl Lucifer gelykheid met God beskou het as iets om na te strewe, het Christus, die Verhewene, “...Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Filippense 2:7,8). Die kruis was nou voor Hom en Sy eie dissipels was so selfbehep-die beginsel van die koninkryk van Satan-dat hulle nie met hul Here kon saamvoel of Hom selfs kon verstaan as Hy van Sy vernedering namens hulle praat nie. DKvDE 473.1

Baie teer, maar met ernstige nadruk, het Jesus die kwaad probeer regstel. Hy het getoon wat die beginsel is wat in die koninkryk van die hemel heers en waaruit ware grootheid, soos deur die standaard van die hemelse howe vasgestel, bestaan. Diegene wat deur trots en liefde vir onderskeid aangespoor is, het aan hulself gedink en aan die beloning wat hulle sou ontvang, eerder as om die gawes wat hulle ontvang het aan God terug te gee. Vir hulle sal daar geen plek in die koninkryk van die hemele wees nie, want hulle word by die geledere van Satan getel. DKvDE 473.2

Nederigheid kom voor eerbetoon. Om ‘n hoë pos voor die mense te vul, kies die Hemel die werker wat, soos Johannes die Doper, ‘n nederige plek voor God inneem. Die mees kinderlike dissipel is die doeltreffendste vir die werk van God. Die hemelse wesens kan saam met hom, wat nie homself wil verhef nie, maar siele wil red, werk. Hy wat die sterkste behoefte aan hulp van bo ervaar, sal daarvoor pleit; en die Heilige Gees sal aan hom ‘n blik op Jesus, wat die siel sal versterk en opbou, gee. As gevolg van sy gemeenskap met Christus, sal hy vir diegene wat in hul sondes vergaan, gaan werk. Hy is vir sy sending gesalf en hy sal slaag waar baie van die geleerdes en intellekte sal faal. DKvDE 473.3

Maar wanneer mense hulself verhef en dink dat hulle onontbeerlik vir die sukses van God se groot plan is, skuif die Here hulle opsy. Dit is duidelik dat die Here nie van hulle afhanklik is nie. Die werk word nie as gevolg van hulle ontheffing daarvan gestaak nie, maar gaan met groter krag voort. DKvDE 474.1

Dit was nie genoeg vir die dissipels om slegs inligting aangaande die aard van Sy koninkryk te ontvang nie. Wat hulle nodig gehad het, was ‘n hartsverandering om hulle in harmonie met die beginsels daarvan te bring. Jesus roep toe ‘n kindjie na Hom toe en laat hom tussen hulle sit; toe vou Hy Sy arms teer om die kleintjie en sê: “As julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!” Die eenvoud, die selfverontagsaming en die vertroulike liefde van ‘n klein kindjie is die eienskappe wat die Hemel waardeer. Dit is die kenmerke van ware grootsheid. DKvDE 474.2

Weereens het Jesus aan die dissipels verduidelik dat Sy koninkryk nie deur aardse waardigheid en vertoon gekenmerk word nie. Aan die voete van Jesus word al hierdie skeidslyne vergeet. Die rykes en die armes, die geleerdes en die onkundiges, ontmoet mekaar sonder enige gedagte aan klas of wêreldse voorrang. Almal ontmoet mekaar as siele wat met bloed gekoop is in gelyke afhanklikheid van die Een wat hulle vir God losgekoop het. DKvDE 474.3

Die opregte, berouvolle siel is kosbaar voor God. Hy plaas Sy eie seël op mense, nie volgens hulle rang of rykdom, nie na gelang van hul intellektuele grootheid nie, maar deur hul eenheid met Christus. Die Heer van die heerlikheid is tevrede met die diegene wat sagmoedig en nederig van hart is. “Ook het U my die skild van u uitredding gegee...” sê Dawid “...en U neerbuigende goedheid het my groot gemaak.” (Psalm 18:36). DKvDE 474.4

“Elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang...” het Jesus gesê, “...ontvang My. En elkeen wat My ontvang, ontvang nie My nie, maar Hom wat My gestuur het.” “So sê die Here: Die hemel is My troon en die aarde die voetbank van my voete... Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees en wat bewe vir my woord.” (Jesaja 66:1,2) DKvDE 475.1

Die woorde van die Heiland het wantroue in hulleself by die dissipels ontketen. Niemand is spesifiek deur Sy antwoord uitgewys nie; maar dit het Johannes beweeg om te vra of sy optrede in ‘n sekere geval korrek was. In die gees van ‘n kind het hy die saak aan Jesus voorgelê: “Meester...” het hy gesê, “...ons het iemand gesien wat in U Naam duiwels uitdryf en wat ons nie volg nie; en ons het hom belet, omdat hy ons nie volg nie.” DKvDE 475.2

Jakobus en Johannes het gedink dat hulle hierdie man verbied het, met die oog op die eer van hul Here; nou het hulle begin insien dat hulle jaloers vir hul eie was. Hulle het hul dwaling erken en Jesus se teregwysing ter harte geneem: “Moet hom nie belet nie, want daar is niemand wat ‘n krag in my Naam sal doen en gou van My sal kan kwaadspreek nie.” Niemand wat hulself op enige wyse ten gunste van Jesus betoon het, moes weggestoot word nie. Daar was baie wat diep deur die karakter en werk van Christus geraak was en wie se harte in geloof vir Hom oopgegaan het en die dissipels, wat nie motiewe kan onderskei nie, moes versigtig wees om hierdie siele nie te ontmoedig nie. Wanneer Jesus nie langer persoonlik by hulle teenwoordig was nie en die werk in hulle hande oorgelaat is, moes hulle nie ‘n eng, eksklusiewe gees koester nie, maar dieselfde verreikende deernis wat hulle in hul Meester gesien het, openbaar. DKvDE 475.3

Dat feit dat iemand nie aan ons persoonlike idees of menings voldoen nie, is geen regverdiging om hom te verbied om vir God te werk nie. Christus is die Groot Leermeester; ons moenie oordeel of beveel nie, maar in nederigheid moet elkeen aan die voete van Jesus sit en van Hom leer. Elke siel wie God bereidwillig gemaak het, is ‘n kanaal waardeur Christus Sy vergewende liefde sal openbaar. Hoe versigtig moet ons nie wees om nie een van God se ligdraers te ontmoedig en sodoende die strale wat Hy in die wêreld wou laat skyn te onderskep nie. DKvDE 475.4

Hardvogtigheid of kilheid wat ‘n dissipel teenoor iemand wat deur Christus getrek is betoon-soos die daad van Johannes om iemand te verbied om in Christus se naam wonderwerke te doen-kan daartoe lei dat die voete op die pad van die vyand wegdraai en die verlies van ‘n siel tot gevolg hê. Vir iemand wat dit doen, het Jesus gesê, is dit “...beter vir hom as ‘n meulsteen om sy nek gehang en hy in die see gegooi word.” Toe het Hy bygevoeg: “As jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur... En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om kreupel die lewe in te gaan, as om twee voete te hê en in die hel gewerp te word.” (Markus 9:43-45). DKvDE 476.1

Waarom hierdie ernstige woorde? “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” Sal sy dissipels dan minder ag gee op die siele van hul medemense as wat die Majesteit van die hemel getoon het? Elke siel is teen ‘n onberekenbare prys gekoop en hoe verskriklik is die sonde om een siel van Christus weg te keer, sodat die Verlosser se liefde en vernedering en pyn vir hom tevergeefs sou wees! DKvDE 476.2

“Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom.” (Mattheus 18:7). Die wêreld, deur Satan geïnspireer, sal die volgelinge van Christus sekerlik teëstaan en probeer om hulle geloof te vernietig; maar wee hom wat die naam van Christus aangeneem het en dieselfde doen. Ons Here word beskaamd deur diegene wat beweer dat hulle Hom dien, maar wat ‘n wanvoorstelling van Sy karakter gegee het en menigtes mislei en op valse paaie gelei het. DKvDE 476.3

Enige gewoonte of gebruik wat tot sonde lei en oneer oor Christus bring, moet versaak word, ongeag die offer wat dit verg. Dit wat God oneer aandoen, kan die siel nie bevoordeel nie. Die hemelse seën kan nie op iemand rus wat die ewige beginsels van geregtigheid oortree nie. En een gekoesterde sonde is voldoende om die agteruitgang van die karakter te bewerkstellig en ander te mislei. As die voet of die hand afgekap sou word, of selfs die oog uitgepluk word om die liggaam van die dood te red, hoeveel te meer moet ons dan nie doen om die sonde, wat die dood van die siel veroorsaak, te verdryf nie. DKvDE 477.1

In die seremoniële dienste is sout by elke offer gevoeg. Dit, net soos die wierookoffer het aangedui dat slegs die geregtigheid van Christus die diens vir God aanvaarbaar kon maak. Met verwysing na hierdie gebruik het Jesus gesê: “Elke offerande sal met sout gesout word.” “Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar.” Almal wat hulself as ‘n “...lewendige, heilige en aan God welgevallige offer... ” (Romeine 12:1) wil bied, moet die reddende sout, die geregtigheid van ons Heiland, ontvang. Dan word hulle “...die sout van die aarde... ” wat die boosheid van mense in bedwang hou soos sout van korrupsie bewaar. (Mattheus 5:13). Maar as die sout sy smaak verloor het, as daar net ‘n voorgee van godsaligheid is, sonder die liefde van Christus, is daar geen krag ten goede nie. So ‘n lewe kan geen reddende invloed op die wêreld uitoefen nie. Julle energie en doeltreffendheid in die opbouing van My koninkryk, sê Jesus, hang af of julle My Gees ontvang. Julle moet deel aan My genade hê, om ‘n geur van die lewe tot lewe te kan wees. Dan sal daar geen wedywering wees nie, geen soeke na selfverheffing nie, geen strewe na die hoogste posisie nie. Julle sal die liefde besit wat nie na sy eie belang soek nie, maar ‘n ander se welsyn. DKvDE 477.2

Laat die berouvolle sondaar sy oë op “...die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem...” (Johannes 1:29) vestig; en deur te aanskou, word hy verander. Sy vrees word verander in vreugde, sy twyfel in hoop. Dankbaarheid ontstaan. Die hart van klip word gebreek. ‘n Gloed van liefde deurvloei die siel. Christus is in hom ‘n fontein van water wat ontspring tot die ewige lewe. Wanneer ons Jesus, ‘n Man van Smarte en vertroud met hartseer, wat werk vir die wat verlore, geminag, verag en bespot is en van stad tot stad verdryf word totdat Sy sending voleindig is, sien; wanneer ons Hom in Getsémané, met groot druppels bloed en sweet aanskou en aan die kruis in angs sien sterf, sal ons nie meer aandring op erkenning nie. As ons na Jesus kyk, sal ons skaam wees oor ons kilheid, ons traagheid en ons soeke na selfverheffing. Ons sal bereid wees om enigiets of niks te wees nie, sodat ons die Meester van harte kan dien. Ons sal met blydskap die kruis agter Jesus aan dra en om ter wille van Hom beproewing, skande, of vervolging te verduur. DKvDE 478.1

“En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie en nie onsself te behaag nie.” (Romeine 15:1). Geen siel wat in Christus glo, al is sy geloof swak en sy voetstappe wankelend soos die van ‘n klein kindjie, moet gering geag word nie. Alles waarmee ons bo ander bevoordeel is-hetsy opleiding en verfyndheid, ‘n edele karakter, Christelike opleiding, of Godsdienstige ervaring-is ons aan die minderbevoorregtes verskuldig en sover dit in ons vermoë is, moet ons hulle bedien. As ons sterk is, moet ons die arms van die swakkes ondersteun. Glorieryke engele, wat heeltyd die aangesig van die Vader in die hemel aanskou, vind vreugde daarin om Sy kleintjies te bedien. Bewende siele met baie afstootlike karaktertrekke, word spesiaal aan hulle opgedra. Engele is altyd teenwoordig waar hulle die nodigste is, by diegene wat in die hewigste stryd met hulself verkeer en wie se omgewing die ontmoedigendste is. En Christus se ware volgelinge sal in hierdie bediening saamwerk. DKvDE 478.2

As een van hierdie kleintjies oorwin word en ‘n onreg teen jou begaan, is dit jou werk om vir sy herstel te strewe. Moenie op hom wag om die eerste poging tot versoening aan te wend nie. “Wat dink julle?” het Jesus gevra, “As iemand honderd skape het en een van hulle verdwaal, sal hy nie die nege-en-negentig laat staan en op die berge die verdwaalde een gaan soek nie? En as hy hom kry, voorwaar Ek sê vir julle dat hy blyer is oor hom as oor die nege-en-negentig wat nie verdwaal het nie. So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.” DKvDE 479.1

In die Gees van sagmoedigheid, “...terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie...” (Galasiërs 6:1), gaan na die een wat gesondig het en “...bestraf hom tussen jou en hom alleen.” Moet hom nie beskaamd maak deur sy fout voor ander bloot te lê nie en bring geen oneer oor Christus deur die sonde of dwaling van iemand wat Sy naam dra, bekend te maak nie. Dikwels moet die waarheid duidelik aan die dwalende gestel word; hy moet gelei word om sy dwaling in te sien, sodat hy hom kan hervorm. Maar jy mag nie oordeel of veroordeel nie. Wend geen poging tot selfregverdiging aan nie. Span alles in vir sy herstel. In die behandeling van die wonde van die siel is die fynste aanraking en die grootste gevoeligheid nodig. Slegs die liefde wat van die Lydende van Golgota vloei, kan hier aangewend word. Laat broer teenoor broer met medelydende teerheid optree, wetende dat indien jy slaag, jy “...'n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.” (Jakobus 5:20). DKvDE 479.2

Maar selfs hierdie poging mag tevergeefs wees. Jesus het gesê: “Neem nog een of twee met jou saam.” Dit mag wees dat hul gesamentlike invloed sal slaag waar die eerste nie suksesvol was nie. Omdat hulle nie by die moeilikheid betrokke is nie, is dit meer waarskynlik dat hulle onpartydig sal optree en hierdie feit sal veroorsaak dat hul raad groter gewig by die dwalende dra. DKvDE 479.3

Slegs dan, indien hy ook nie aan hulle gehoor gee nie, moet die saak aan die hele gemeente voorgelê word. Laat die lede van die gemeente, as verteenwoordigers van Christus, in gebed en liefdevolle smeking verenig vir die oortreder se herstel. Die Heilige Gees sal deur Sy diensknegte spreek en by die dwalende pleit om na God terug te keer. Onder ingewing het Paulus, die apostel, verklaar: “Ons tree dan op ... asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.” (2 Korinthiërs 5:20). Hy wat hierdie gesamentlike toenadering verwerp, het die band wat hom aan Christus verbind verbreek en hom sodoende van die gemeenskap van die kerk geskei. “Laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar...” het Jesus gesê. Maar hy moenie as afgesny van die genade van God beskou word nie. Laat hom nie deur sy voormalige broers verag of verwaarloos word nie, maar behandel hom met teerheid en medelye soos een van die verlore skape wat Christus nog steeds in Sy kraal wil terugbring. DKvDE 480.1

Christus se voorskrif vir die behandeling van dwalendes word in ‘n meer spesifieke vorm in die lering wat deur Moses aan Israel gegee is, herhaal. “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie.” (Levitikus 19:17). Dit wil sê, as ‘n mens die plig, soos deur Christus beveel, om diegene wat gedwaal en gesondig het te probeer terugwen nalaat, word hy deel van die sonde. Ons is net so verantwoordelik vir die euwels wat ons moontlik kon gekeer het, asof ons self aan daardie dade skuldig was. DKvDE 480.2

Maar dit is die oortreder self aan wie ons die verkeerde optrede moet voorhou. Ons moet dit nie onder mekaar ‘n saak van kommentaar en kritiek maak nie; en selfs nie nadat dit aan die gemeente bekend gemaak is, staan dit ons vry om dit aan ander oor te vertel nie. ‘n Kennis van die foute van Christene dien slegs as ‘n struikelblok vir die ongelowige wêreld; en om oor hierdie dinge te tob kan ons slegs skade aan onsself berokken; want deur te aanskou, word ons verander. Terwyl ons probeer om die foute van ‘n broer reg te stel, sal die Gees van Christus ons lei om hom, sover moontlik, teen die kritiek van selfs sy eie broer en hoeveel te meer, teen die sensuur van die ongelowige wêreld, te beskerm. Ons dwaal self en het Christus se meegevoel en vergifnis nodig en net soos ons verlang dat Hy met ons omgaan, gebied Hy ons om met mekaar om te gaan. DKvDE 480.3

“Alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” Julle moet optree as gesante van die hemel en die gevolge van jul werk is ewig. DKvDE 481.1

Maar ons moet hierdie groot verantwoordelikheid nie alleen dra nie. Waar Sy woord ook al met ‘n opregte hart gehoorsaam word, daar woon Christus. Hy is nie net in die byeenkomste van die kerk teenwoordig nie, maar oral waar Sy dissipels, hoe min ook al, in Sy Naam vergader, daar sal Hy ook wees. En Hy sê: “As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is.” DKvDE 481.2

Jesus sê: “My Vader wat in die hemele is... ” en herinner Sy dissipels daaraan dat, terwyl Hy in Sy menslikheid aan hulle verbonde is, ‘n deelgenoot in hul beproewings is en medelye met hul lyding het, Hy in Sy Goddelikheid met die troon van die Oneindige verbind is. Wonderbare versekering! Die hemelse wesens verenig met die mens in meegevoel en werk vir die redding van verlorenes. En al die krag van die hemel smelt saam met menslike vermoëns om siele na Christus te trek. DKvDE 481.3