Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 6—“Ons Het Sy Ster Gesien” *
“En toe Jesus te Betlehem in Judea gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.” DKvDE 38.1
Die wyse manne uit die Ooste was filosowe. Hulle het aan ‘n groot en invloedryke stand behoort wat mense van adellike geboorte ingesluit het en oor ‘n groot deel van die rykdom en geleerdheid van hul volk beskik het. Onder hulle was daar baie wat die liggelowigheid van die volk uitgebuit het. Andere was opregte manne wat die openbarings van die Voorsienigheid in die natuur bestudeer het en wat vir hul integriteit en wysheid geëer was. Dit was die karakter van die wyse manne wat na Jesus gekom het. DKvDE 38.2
Die lig van God skyn immer te midde die duisternis van die heidendom. Toe hierdie wyse manne die sterrehemel bestudeer en die verborgenhede in hul verligte bane probeer deurgrond het, het hulle die heerlikheid van die Skepper aanskou. Op soek na meer duidelike kennis het hulle hul tot die Hebreeuse Skrifte gewend. In hul eie land was kosbare profetiese geskrifte wat die koms van ‘n Goddelike leraar voorspel het. Bileam was ‘n towenaar, hoewel hy eens op ‘n tyd ‘n profeet van God was; deur die Heilige Gees het hy die voorspoed van Israel en die koms van die Messias voorspel; en sy profesieë is volgens tradisie, eeu na eeu oorgelewer. Maar in die Ou Testament is die koms van die Heiland duideliker geopenbaar. Die wyse manne het met blydskap verneem dat Sy koms naby was en dat die hele wêreld met ‘n kennis van die heerlikheid van die Here vervul sou word. DKvDE 38.3
Die nag toe die heerlikheid van God die berge van Betlehem verlig het, het die wyse manne ‘n geheimsinnige lig aan die hemel gewaar. Soos die lig vervaag het, het daar ‘n helder ster geskyn wat in die lug getalm het. Dit was nie ‘n bekende ster of planeet nie en die verskynsel het groot belangstelling gewek. Die ster was ‘n groep blink engele in die verte, maar die wyse manne was onkundig hieroor. Tog was hulle onder die indruk dat die ster van besondere betekenis vir hulle was. Hulle het priesters en filosowe geraadpleeg en die boekrolle van die antieke verslae deursoek. Die profesie van Bileam het gelui: “‘n Ster kom te voorskyn uit Jakob en ‘n septer kom uit Israel op.” (Numeri 24:17). Is hierdie vreemde ster dalk gestuur as voorloper van die Beloofde? Die wyse manne het die lig van die hemelse waarheid verwelkom; nou is dit met helder strale oor hulle uitgestort. Deur drome is aan hulle opdrag gegee om na die pasgebore Prins te gaan soek. DKvDE 39.1
Soos Abraham deur geloof op die roepstem van God uitgegaan het “...sonder om te weet waar hy sou kom...” (Hebreërs 11:8); soos Israel die wolkkolom na die beloofde land gevolg het, so het hierdie heidene uitgegaan om die beloofde Verlosser te vind. Hierdie Oosterse land was ryk aan kosbaarhede en die wyse manne het nie met leë hande vertrek nie. Dit was gebruiklik om geskenke as ‘n huldeblyk aan vorste of ander hoogwaardiges te bied en die rykste skatte wat die land gebied het is as ‘n offergawe na Hom, in Wie al die geslagte van die aarde geseën sou word, gebring. Dit was nodig om snags te reis om die ster in die oog te hou; maar die reisigers het die tyd verwyl deur tradisionele woorde en profetiese uitsprake oor die Een na Wie hulle gesoek het, te herhaal. Elke keer wat hulle gerus het, het hulle die profesieë bestudeer en het die oortuiging dat hulle Goddelik gelei word, al hoe meer verdiep. Terwyl hulle die ster as uiterlike teken voor hulle gehad het, het hulle ook die innerlike oortuiging van die Heilige Gees gehad, wat hulle harte met hoop geïnspireer het. En die reis, hoewel lank, was ‘n aangename reis. DKvDE 39.2
Hulle het die land van Israel bereik en toe hulle met die Olyfberg afgaan, met Jerusalem in sig, het die ster wat hulle die hele pad gelei het, bo die tempel gaan stilstaan en toe uit hulle sig verdwyn. Met gretige tred het hulle verder gegaan, oortuig dat die blye tyding van die Messias se geboorte op alle lippe sou wees. Maar hulle navrae was tevergeefs. Toe hulle die heilige stad binnegaan, is hulle direk na die tempel. Tot hul verbasing het hulle niemand teëgekom wat enige kennis van die pasgebore Koning gedra het nie. Hul vrae het ook geen vreugde ontlok nie, maar eerder verbasing en vrees en selfs minagting. DKvDE 40.1
Die priesters het tradisies beoefen. Hulle het hul eie godsdiens en vroomheid aangeprys en die Grieke en Romeine as heidene en die grootste sondaars uitgemaak. Die wyse manne was nie afgodedienaars nie en voor die aangesig van God was hulle veel hoër aangeskryf as hulle, Sy beweerde aanbidders; tog het die Jode hulle as heidene beskou. Selfs onder die aangewese voogde van die Heilige Orakels, het hulle gretige navrae geen simpatieke akkoord aangeraak nie. DKvDE 40.2
Die tyding van die aankoms van die wyse manne het vinnig deur Jerusalem versprei. Hul vreemde sending het ‘n opgewondenheid onder die volk ontketen, wat tot in die paleis van koning Herodes deurgedring het. Hierdie sluwe Edomiet was dadelik attent op die moontlikheid van ‘n mededinger. Sy weg na die troon was deur tallose moorde bevlek. Omdat hy van uitheemse bloed was, is hy deur die volk oor wie hy regeer het, gehaat. Sy enigste veiligheid was die guns van Rome. Maar hierdie nuwe Vors het ‘n hoër aanspraak gehad. Hy is tot die koninkryk gebore. DKvDE 40.3
Herodes het die priesters daarvan verdink dat hulle met die vreemdelinge saamgesweer het om onrus op te wek en hom van die troon te onthef. Hy het egter sy agterdog weggesteek, maar was vasbeslote om hul planne met uitermate sluheid te stuit. Hy het die owerpriesters en skrifgeleerdes ontbied en hulle aangaande die lering in hul heilige geskrifte met betrekking tot die geboorteplek van die Messias ondervra. DKvDE 40.4
Hierdie navraag van die indringer tot die troon en op versoek van vreemdelinge, het die trots van die Joodse leraars gekwets.Die onverskillige wyse waarop hulle hul na die profetiese skrifte gewend het, het die jaloerse tiran gebelg. Hy het gedink hulle probeer om hul kennis van die saak vir hom te verberg. Met ‘n gesag wat hulle nie durf verontagsaam nie, het hy hulle beveel om noukeurige ondersoek in te stel en die geboorteplek van hul verwagte Koning te verklaar. “En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judea, want so is daar deur die profeet geskrywe: DKvDE 41.1
“En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.” DKvDE 41.2
Toe het Herodes die wyse manne vir ‘n private onderhoud uitgenooi. ‘n Storm van woede en vrees het in sy hart gewoed, maar hy het ‘n kalme uiterlike bewaar en die vreemdelinge met hoflikheid ontvang. Hy het hulle uitgevra oor wanneer die ster verskyn het en voorgegee dat hy die tyding van die geboorte van Christus met blydskap verwelkom. Hy het sy besoekers gebied: “Gaan doen noukeurige ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys.” Met hierdie woorde het hy hulle toegelaat om na Bethlehem te vertrek. DKvDE 41.3
Die priesters en ouderlinge van Jerusalem was nie so onkundig aangaande die geboorte van Christus as wat hulle voorgegee het nie. Die berig van die engele se besoek aan die herders het Jerusalem bereik, maar die rabbi’s het dit met minagting bejeën. Hulle sou miskien self vir Jesus kon gevind het en in staat gewees het om die wyse manne na Sy geboorteplek te lei, maar in plaas daarvan was dit die wyse manne wat hul aandag op die geboorte van die Messias gevestig het. “Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is?” het hulle gevra; “...want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.” DKvDE 41.4
Trots en afguns het nou die deur van lig vir hulle gesluit. Indien daar krediet aan die berigte van die herders en die wyse manne gegee was, sou dit die priesters en die rabbi’s in ‘n baie onbenydenswaardige posisie plaas en die feit dat hulle die eksponente van die waarheid van God is, weerlê. Hierdie geleerde leraars sou hulle nie neerbuig om deur diegene wat hulle heidene genoem het, onderrig te word nie. Dit kon nie wees dat God hulle oor die hoof gesien het om met onkundige herders of onbesnede heidene te kommunikeer nie. Hulle was vasbeslote om die berigte wat koning Herodes en die hele Jerusalem met opgewondenheid gevul het, met minagting te bejeën. Hulle sou nie eers verwerdig om na Betlehem gaan om vas te stel of hierdie dinge wel so was nie. En hulle het die mense oorreed om die belangstelling in Jesus as fanatieke opwinding te beskou. Dit was die begin van die verwerping van Christus deur die priesters en rabbi’s. Van hierdie punt af het hul trots en hardkoppigheid gegroei tot ‘n onverbiddelike haat vir die Verlosser. Terwyl God die deur vir die heidene oopgemaak het, het die Joodse leiers die deur vir hulself gesluit. DKvDE 42.1
Die wyse manne het alleen uit Jerusalem vertrek. Die skaduwees van die nag het neergedaal toe hulle die poorte verlaat, maar tot hul groot vreugde het hulle weer die ster, wat hulle na Betlehem gelei het, gesien. Hulle het nie ‘n aanduiding van die nederige geboorte van Jesus, soos aan die herders gegee is, ontvang nie. Na hul lang reis was hulle teleurgesteld in die onverskilligheid van die Joodse leiers en is hulle minder selfversekerd uit Jerusalem weg as toe hulle daar aangekom het.By Betlehem het hulle geen koninklike wag gevind om die pasgebore Koning te beskerm nie. Nie een van die wêreld se geëerde mense was teenwoordig nie. Jesus het in ‘n krip gelê. Sy ouers, uit die ongeletterde boerestand, was sy enigste voogde.Kon dit Hy wees van wie geskryf is “...om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel ... dat Hy ‘n lig vir die nasies sou wees om die saligheid te bring ... tot aan die einde van die aarde?” (Jesaja 49:6) DKvDE 42.2
“Hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, Sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys.” In die nederige gedaante van Jesus het hulle die teenwoordigheid van die Godheid herken. Hulle het hul harte aan Hom as hul Verlosser oorgegee en toe het hulle hul geskenke aangebied: “...goud en wierook en mirre.” Watter geloof het hulle nie gehad nie! Van die wyse manne uit die Ooste kon gesê word, soos agterna van die Romeinse hoofman oor honderd gesê is: “Selfs in Israel het Ek so ‘n groot geloof nie gevind nie.” (Mattheus 8:10). DKvDE 43.1
Die wyse manne het nie Herodes se plan met Jesus deurgrond nie. Toe die doel van hul reis bereik was, het hulle gereed gemaak om na Jerusalem terug te keer en hom van hul sukses te verwittig. Maar in ‘n droom het hulle ‘n Goddelike boodskap ontvang om geen verdere kommunikasie met hom te hê nie.Hulle het Jerusalem vermy en met ‘n ander roete na hul eie land vertrek. DKvDE 43.2
Net so het Josef ook ‘n waarskuwing ontvang om met Maria en die Kind na Egipte te vlug. Die engel het gesê: “Bly daar totdat ek jou sal sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.” Josef het sonder versuim gehoorsaam en vir groter veiligheid, in die nag vertrek. DKvDE 43.3
Deur die wyse manne het God die aandag van die Joodse volk op die geboorte van Sy Seun gevestig. Hul navrae in Jerusalem, die algemene belangstelling wat opgewek is en selfs die jaloesie van Herodes, wat die aandag van die priesters en rabbi’s aangewakker het, het die aandag op die profesieë aangaande die Messias en op die groot gebeurtenis wat pas plaasgevind het, gevestig. DKvDE 43.4
Satan was daarop ingestel om die Goddelike lig van die wêreld af te sluit en het die uiterste sluheid aangewend om die Verlosser te vernietig. Maar Hy, wat nooit sluimer of slaap nie, het oor Sy geliefde Seun gewaak. Hy wat die manna uit die hemel oor Israel laat reën het en Elia in die tyd van hongersnood gevoed het, het ‘n toevlugsoord in ‘n heidense land vir Maria en die Kind Jesus voorsien. En deur die geskenke van die wyse manne uit ‘n heidense land het die Here die middele vir die reis na Egipte en hulle verblyf as vreemdelinge in ‘n vreemde land voorsien. DKvDE 43.5
Die wyse manne was van die eerstes om die Verlosser te verwelkom. Hul geskenke was die eerste wat aan Sy voete neergelê is. En watter voorreg tot diens het daardie geskenke hulle nie besorg nie! Die offer uit ‘n liefdevolle hart word graag deur God vereer en word met die hoogste doeltreffendheid vir Sy diens aangewend. As ons ons harte aan Jesus gegee het, sal ons ook ons geskenke aan Hom bring. Ons goud en silwer, ons kosbaarste aardse besittings, ons hoogste intellektuele en geestelike gawes sal vryelik aan Hom, wat ons liefgehad en Homself vir ons gegee het, gewy word. DKvDE 44.1
In Jerusalem het Herodes ongeduldig op die terugkeer van die wyse manne gewag. Toe hulle met verloop van tyd nie hul opwagting maak nie, het hy agterdogtig geraak. Die onwilligheid van die rabbi’s om die geboorteplek van die Messias aan te dui, het skynbaar aangedui dat hulle deur sy planne gesien het en dat die wyse manne hom doelbewus vermy het. Hierdie besef het hom woedend gemaak. Sy sluheid het misluk, maar daar was die opsie om van geweld gebruik te maak. Hy sou ‘n voorbeeld van hierdie Koningskind maak. Die hovaardige Jode moes sien wat hulle van hul pogings om ‘n vors op die troon probeer plaas kon verwag. DKvDE 44.2
Soldate is dadelik na Betlehem gestuur met die opdrag om al die kinders van twee jaar en jonger dood te maak. Die stil wonings van die stad van Dawid was getuie van die afgryslike tonele wat seshonderd jaar tevore aan die profeet geopenbaar is: “‘n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.” DKvDE 44.3
Hierdie ramp het die Jode oor hulleself gebring. Indien hulle getrou en met nederigheid voor God gewandel het, sou Hy die toorn van die koning vir hulle skadeloos gemaak het. Maar deur hul sondes het hulle hul van God geskei en die Heilige Gees wat hul enigste skild was verwerp. Hulle het nie die Skrifte met die doel om aan die wil van God te voldoen bestudeer nie. Hulle het na profesieë gesoek wat geïnterpreteer kon word om hulleself te verhef en om aan te toon hoe God ander nasies verag het. Hulle het met verwaandheid gespog dat die Messias as koning sou kom, Sy vyande sou oorwin en die heidene in Sy toorn sou vertrap. So het hulle die haat van hul heersers laat opvlam. Deur hul foutiewe vertolking van Christus se sending was Satan van plan om die Heiland om die lewe te bring; maar in plaas daarvan het dit op hul eie hoofde neergekom. DKvDE 45.1
Hierdie wrede daad van Herodes was een van die laastes wat sy bewind verduister het. Kort na die slagting van die onskuldige kindertjies, was hy self genoodsaak om aan die vernietiging wat niemand kan vryspring nie, oor te gee. Hy het ‘n vreesagtige dood gesterf. DKvDE 45.2
Josef, wat nog in Egipte was, is nou deur ‘n engel van die Here beveel om na die land van Israel terug te keer. Omdat hy Jesus as die opvolger van die troon van Dawid beskou het, wou Josef sy tuiste in Betlehem maak, maar toe hy verneem dat Archelaus in Judea in die plek van sy vader regeer, was hy bevrees dat die seun sy vader se planne teen Christus sou uitvoer. Van al die seuns van Herodes het Archelaus die meeste na hom geaard. Sy opvolging tot die troon was reeds deur oproerigheid in Jerusalem en die slagting van duisende Jode deur die Romeinse soldate, gekenmerk. DKvDE 45.3
Weer is Josef na ‘n plek van veiligheid gelei. Hy het na Nasaret, sy vorige tuiste, teruggekeer en hier het Jesus byna dertig jaar lank gewoon, “...sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is dat Hy Nasarener genoem sou word.” Galiléa was onder die beheer van ‘n seun van Herodes, maar dit het ‘n veel groter vermenging van buitelanders as Judea gehad. Daar was dus minder belangstelling in sake wat veral met die Jode verband gehou het en die aansprake van Jesus sou minder geneig wees om die jaloesie van die maghebbers op te wek. DKvDE 45.4
Dit was die Heiland se ontvangs toe Hy na die aarde toe gekom het. Dit het geblyk of daar geen plek van rus of veiligheid vir die Verlosser was nie. God kon nie Sy geliefde Seun aan mense toevertrou nie, selfs nie toe Hy Sy werk vir hul redding onderneem het nie. Hy het engele opdrag gegee om Jesus te bedien en Hom te beskerm, totdat Hy Sy missie op aarde sou volbring en deur die hande van diegene wat Hy kom red het, gedood sou word. DKvDE 46.1