Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 47—Die Bediening *
Hulle het die hele nag op die berg deurgebring en toe die son opkom, het Jesus en sy dissipels na die vlakte neergedaal. Die dissipels was diep in gedagte, stil en met ontsag gevul. Selfs Petrus het nie ‘n woord geuiter nie. Hulle sou met vreugde in daardie heilige plek, wat met die lig van die hemel aangeraak is en waar die Seun van God Sy heerlikheid geopenbaar het kon vertoef, maar daar was werk wat vir die mense, wat reeds naby en ver na Jesus gesoek het, gedoen moes word. DKvDE 461.1
Aan die voet van die berg het ‘n groot groep vergader, wat deur die dissipels wat agtergebly het en geweet het waar Jesus Hom bevind het, daarheen gelei is. Toe die Heiland nader kom, het Hy die drie dissipels beveel om te swyg oor wat hulle gesien het en gesê: “Julle moet vir niemand iets van die gesig sê voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie.” Die openbaring aan die dissipels, moes hulle in hul eie harte oordink en nie rugbaar maak nie. Om dit aan die menigtes oor te vertel sou net bespotting of ydele nuuskierigheid uitgelok het. En selfs die ander nege apostels sou die toneel eers verstaan nadat Christus uit die dood opgestaan het. Hoe traag selfs die drie bevoorregte dissipels was om dit te verstaan, blyk uit die feit dat, ondanks alles wat Christus hulle vertel het van wat vir Hom voorlê, hulle mekaar steeds uitgevra het oor wat die opstanding uit die dood beteken. Tog het hulle geen verduideliking van Jesus gevra nie. Sy woorde oor die toekoms het hulle met hartseer gevul; hulle wou geen verdere openbaring hoor aangaande iets wat hulle verkies het om te glo nooit sou gebeur nie. DKvDE 461.2
Toe die mense op die vlakte Jesus gewaar, het hulle Hom tegemoet gehardloop en Hom met eerbied en vreugde begroet. Tog het Sy opmerksame oog dadelik gesien dat hulle erg onthuts was. Sy dissipels het ontsteld voorgekom. Iets het so pas voorgeval wat vir hulle bitter teleurstelling en vernedering veroorsaak het. DKvDE 462.1
Terwyl hulle aan die voet van die berg gewag het, het ‘n vader sy seun na hulle gebring om van ‘n stom gees wat hom geteister het verlos te word. Die mag om onreine geeste uit te dryf, is aan die dissipels verleen toe Jesus die twaalf uitgestuur het om met die boodskap deur Galiléa te gaan. Terwyl hulle kragtig in geloof uitgegaan het, het die bose geeste hulle woord gehoorsaam. Hierdie keer het hulle weer in die Naam van Christus die teisterende gees beveel om sy slagoffer te verlaat; maar die demoon het slegs met hulle gespot deur ‘n vars vertoon van sy mag. Die dissipels, wat nie hierdie nederlaag kon verklaar nie, het gevoel dat hulle hul Meester oneer aangedoen het. En in die skare was daar skrifgeleerdes wat van hierdie geleentheid gebruik gemaak het om hulle te verneder. Hulle het om die dissipels saamgedrom, hulle met vrae bestook en gepoog om te bewys dat die dissipels en hul Meester bedrieërs was. Hier, het die rabbi’s triomfantelik verklaar, was ‘n bose gees wat nie die dissipels, of selfs Christus sou kon oorwin nie. Die volk het geneig om hulle aan die kant van die skrifgeleerdes te skaar en ‘n gevoel van minagting en bespotting het hulle oorval. DKvDE 462.2
Maar skielik het die beskuldigings opgehou. Jesus en die drie dissipels wat nadergekom het is opgemerk en met ‘n skielike verandering van gesindheid het die mense omgedraai en hulle tegemoetgekom. Die nag van gemeenskap met die hemelse heerlikheid het sy spoor op die Heiland en Sy metgeselle gelaat. Daar was ‘n lig op hul gelaat wat die aanskouers met ontsag gevul het. Die skrifgeleerdes het met vrees onttrek, terwyl die mense Jesus verwelkom het. DKvDE 462.3
Asof Hy ‘n getuie van alles wat gebeur het was, het die Verlosser na die toneel van konflik gekom, die skrifgeleerdes aangekyk en gevra: “Waarom redetwis julle met hulle?” DKvDE 463.1
Maar die stemme wat pas vantevore so dapper en uittartend was, was nou stil. Die hele groep het stil geword. Die ontstelde vader het deur die skare beweeg, voor die voete van Jesus neergeval en die verhaal van sy ellende en teleurstelling uitgestort. DKvDE 463.2
“Meester...” het hy gesê, “...ek het my seun wat ‘n stomme gees het, na U gebring; en waar hy hom ook aangryp, skeur hy hom ... en ek het U dissipels gevra om hom uit te dryf en hulle kon nie.” DKvDE 463.3
Jesus het om Hom na die ontsag-vervulde skare, die foutvinderige skrifgeleerdes en die verbysterde dissipels gewend. Hy het die ongeloof in elke hart gelees; en met ‘n stem gevul met hartseer, het Hy uitgeroep: ‘“O ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra?” Toe sê Hy aan die ontstelde vader: “Bring jou seun hier!” DKvDE 463.4
Die seun is gebring en toe die Heiland se oë op hom rus, het die bose gees hom met stuiptrekkings van pyn teen die grond geslinger. Daar het hy met skuim om die mond en ‘n onaardse gegil rondgerol. DKvDE 463.5
Weereens het die Vors van die lewe en die vors van die magte van die duisternis mekaar op die gevegsfront ontmoet-Christus ter vervulling van Sy sending om “...aan die gevangenes vrylating te verkondig ... om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur...” (Lukas 4:19) en Satan wat poog om sy slagoffer onder sy beheer te hou. Onsigbare engele van lig en die leërmag van bose engele het nadergekom om die konflik te aanskou. Jesus het die bose gees ‘n oomblik toegelaat om sy krag te openbaar sodat die aanskouers die verlossing wat op die punt was om plaas te vind, sou begryp. DKvDE 463.6
Die skare het met opgehoue asem na die vader wat tussen angs en hoop verkeer het, gekyk. Toe het Jesus gevra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorgekom het?” Die vader het die verhaal van lang jare van lyding vertel en toe, asof hy dit nie langer kan verduur nie, het hy uitgeroep: “As U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.” “As U iets kan doen”! Selfs nou het die vader steeds aan die mag van Christus getwyfel. DKvDE 464.1
Jesus het geantwoord: “As jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.” Daar is geen gebrek aan krag by Christus nie; die genesing van die seun hang van die vader se geloof af. Die vader het in trane uitgebars toe hy sy eie swakheid besef en hom op die genade van Christus gewerp met die uitroep: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” DKvDE 464.2
Jesus het Hom na die lydende gedraai en gesê: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.” Daar was ‘n uitroep en ‘n angsvolle worsteling. Dit het voorgekom asof die gees met sy vertrek die lewe uit sy slagoffer wou skeur. Die seun het roerloos bly lê, blykbaar leweloos. Die skare het gefluister: “Hy is dood.” Maar Jesus het hom aan die hand geneem en hom opgelig, volkome in verstand en liggaam genees en hom aan sy vader gegee. Vader en seun het die Naam van hul Verlosser geloof. Die skare was “...verslae oor die majesteit van God...” terwyl die skrifgeleerdes, verslaan en kop-onderstebo, nors weggedraai het. DKvDE 464.3
“As U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.” Hoeveel siele, belas met sonde, het hierdie gebed herhaal. En vir almal is die deernisvolle antwoord van die Heiland: “As jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.” Dit is die geloof wat ons met die hemel verbind en ons krag gee om die magte van die duisternis te oorwin. In Christus het God die middele voorsien om elke sondige neiging te onderwerp en elke versoeking, hoe kragtig ook al, te weerstaan. Maar baie voel dat hulle nie geloof het nie en daarom bly hulle weg van Christus af. Hierdie siele moet hulle, in hul hulpelose onwaardigheid op die genade van ‘n medelydende Verlosser werp. Moenie na jouself kyk nie, kyk na Christus. Hy wat siekes genees en duiwels uitgedryf het toe Hy onder die mense gewandel het, is vandag steeds dieselfde magtige Verlosser. Geloof kom deur die Woord van God. Gryp dan Sy belofte aan: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Johannes 6:37). Werp jouself voor Sy voete neer met die uitroep: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” Jy kan nooit vergaan terwyl jy dit doen, nie-nooit nie! DKvDE 464.4
Die begunstigde dissipels het binne ‘n kort periode die uiterste glorie en vernedering aanskou. Hulle het gesien hoe die menslikheid in die beeld van God getransformeer word en hoe menslikheid tot die beeld van Satan verlaag is. Vanaf die berg waar Hy met die hemelse boodskappers gepraat het en deur die stem uit die stralende Heerlikheid as die Seun van God verkondig is, het hulle gesien hoe Jesus neerdaal om hierdie mees ontstellende en weersinwekkende skouspel, die besetene, met sy verwronge gelaat en sy tande in pynlike spasmas opmekaar gepers, wat geen menslike krag kon verlig nie, tegemoetkom. En hierdie magtige Verlosser, wat enkele ure tevore verheerlik voor Sy verwonderde dissipels gestaan het, het gebuk om die slagoffer van Satan op te tel van die aarde af waar hy rondgerol het, hom na liggaam en gees herstel het en aan sy vader terugbesorg het. DKvDE 465.1
Dit was ‘n voorwerples van verlossing-die Goddelike Een uit die Vader se heerlikheid, wat neergebuig het om die verlorene te red. Dit het ook die sending van die dissipels verteenwoordig. Die lewe van Christus se diensknegte moes nie slegs op die bergtop saam met Jesus in ure van geestelike verligting bestee word nie. Daar was ook werk vir hulle op die vlakte. Siele wat deur Satan verslaaf is, wag op die woord van geloof en gebed om hulle te bevry. DKvDE 465.2
Die nege dissipels het nog oor die bittere feit van hul eie mislukking nagedink; en toe Jesus weereens alleen met hulle was, het hulle gevra: “Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?” “Deur julle ongeloof...” het Jesus geantwoord, “...want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad, sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie. Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.” Hulle ongeloof wat hulle daarvan weerhou het om in nouer voeling met Christus te verkeer en die onverskilligheid waarmee hulle die heilige werk wat aan hulle toevertrou is bejeën het, het veroorsaak dat hulle, in konflik met die magte van die duisternis, misluk het. DKvDE 466.1
Die woorde van Christus wat op Sy dood gewys het, het hartseer en twyfel meegebring. En die keuse van die drie dissipels om Jesus na die berg te vergesel, het die jaloesie van die nege opgewek. In plaas daarvan om hulle geloof te versterk deur gebed en oordenking van die woorde van Christus, het hulle by hul ontmoedigings en persoonlike griewe stilgestaan. In hierdie toestand van duisternis het hulle die konflik met Satan onderneem. DKvDE 466.2
Om in so ‘n konflik te slaag, moes hulle die taak in ‘n ander gees benader. Hul geloof moes deur vurige gebed en vas en met nederigheid van hart versterk gewees het. Hulle moes van hulself geledig en met die Gees en krag van God gevul gewees het. Alleen ernstige, volhardende smeking tot God in geloof-geloof wat tot volkome afhanklikheid van God en onvoorwaardelike toewyding aan Sy werk lei-kan die hulp van die Heilige Gees, in die stryd teen die owerhede en magte en heersers van die duisternis van hierdie eeu en bose geeste in die lug, verseker. DKvDE 466.3
“As julle geloof het soos ‘n mosterdsaad...” het Jesus gesê, “...sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan.” Hoewel die mosterdsaadjie so klein is, bevat hy dieselfde geheimsinnige lewensbeginsel wat groeikrag aan die hoogste boom gee. Wanneer die mosterdsaad in die grond geplant word, gryp die klein saadjie elke element wat God vir sy voeding voorsien het aan en ontwikkel dit vinnig in ‘n stewige groeiproses. As jy so ‘n geloof besit, sal jy die Woord van God en al die hulpmiddels wat Hy voorsien het aangryp. Sodoende sal jou geloof versterk en die krag van die hemel tot jou beskikking gestel word. Die struikelblokke wat Satan oor jou pad bring, hoewel dit so onoorkomelik soos die ewige berge lyk, sal voor die eise van geloof wyk. “Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” DKvDE 466.4