Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 46—Die Verheerliking *
Die skemer het aangebreek toe Jesus drie van Sy dissipels, Petrus, Jakobus en Johannes, na Hom toe roep en hulle oor die velde lei en ver op ‘n ruwe pad teen ‘n berghang op na ‘n eensame plek lei. Die Heiland en Sy dissipels het die hele dag gereis en onderrig gegee en die opklim teen die berghang het tot hul moegheid bygedra. Christus het die laste van liggaam en gees van baie lydendes verlig; Hy het die tinteling van nuwe lewe deur hul verswakte liggame gestuur; maar Hy was ook met menslikheid omvou en net soos Sy dissipels, het die klimmery Hom uitgeput. DKvDE 455.1
Die lig van die ondergaande son het steeds oor die bergtop getalm en het die pad waarop hulle was met ‘n vergulde, kwynende glorie verlig. Maar die lig het spoedig van die heuwel, sowel as die vallei agter die westelike horison verdwyn en die alleenreisigers met donkerte omvou. Die somberheid van hul omgewing was in harmonie met die hartseer in hul lewe, waaroor die wolke besig was om dig saam te pak. DKvDE 455.2
Die dissipels het dit nie gewaag om vir Christus te vra waarheen Hy op pad was of vir watter doel nie. Hy het dikwels hele nagte in gebed in die berge deurgebring. Hy, wie se hand berg en vallei gevorm het, was tuis in die natuur en het die stilte daarvan geniet. Die dissipels het gevolg waar Christus die weg gelei het; tog het hulle gewonder waarom hul Meester hulle met hierdie moeisame bergpaadjie op lei, terwyl hulle reeds moeg was en Hy ook rus nodig gehad het . DKvDE 455.3
Uiteindelik het Jesus vir hulle gesê dat hulle ver genoeg gegaan het. Hy het ‘n klein entjie van hulle af wegbeweeg en toe het die Man van Smarte Sy smeekbede met hartseer en trane uitgestort. Hy het gebid vir krag om die toets ten behoewe van die mensdom te verduur. Hy moes self opnuut ‘n greep op die Almagtige kry, want alleenlik op hierdie wyse kon Hy die toekoms in die gesig staar. En Hy het Sy hart se verlange vir die dissipels uitgestort, dat hulle geloof in die uur van die mag van die duisternis nie sal wankel nie. Sy geboë liggaam was nat van die dou, maar Hy het nie daarop gelet nie. Die skaduwees van die nag was dig om Hom maar Hy het nie die somberheid daarvan raakgesien nie. So het die ure stadig verbygegaan. Aanvanklik het die dissipels hulself in opregte gebede met Hom verenig, maar die moegheid het hulle na ‘n tyd oorval en selfs terwyl hulle hul belangstelling in die toneel probeer behou het, het hulle aan die slaap geraak. Jesus het hulle van Sy lyding vertel; Hy het hulle saamgebring sodat hulle met Hom in gebed kon verenig; Hy was selfs nou besig om vir hulle te bid. Die Verlosser het die somberheid van Sy dissipels opgemerk en daarna verlang om hul hartseer te verlig met die versekering dat hul geloof nie tevergeefs was nie. Nie almal onder die twaalf, sou die openbaring wat Hy wou gee kon verduur nie. Slegs die drie wat Sy angs in Getsémané sou aanskou, was gekies om saam met Hom op die berg te wees. Die las van Sy gebed was nou, dat aan hulle ‘n manifestasie van die heerlikheid wat Hy voor die wêreld by die Vader gehad het gegee sou word, dat Sy koninkryk aan mense-oë geopenbaar sou word en dat Sy dissipels versterk moes word om dit te kan aanskou. Hy het gepleit dat hulle ‘n manifestasie van Sy Goddelikheid, wat hulle in die uur van Sy grootste lyding sal vertroos, sal sien, met die wete dat Hy verseker die Seun van God is en dat Sy skandelike dood deel van die verlossingsplan is. DKvDE 455.4
Sy gebed is verhoor. Terwyl Hy op die klipperige grond in nederigheid neergebuig het, het die hemel skielik oopgegaan, die goue poorte van die stad van God is wyd oopgegooi en ‘n heilige glans wat die gestalte van die Heiland omhul het, het op die berg neergedaal. Goddelikheid van binne het deur Sy menslikheid geflits en die heerlikheid wat van Bo gekom het, ontmoet. Christus het uit Sy neergeboë posisie orent gekom en daar in Goddelike majesteit gestaan. Die sieleangs was weg. Sy gelaat was “...blink soos die son... ” en Sy klere was wit “...soos die lig.” DKvDE 456.1
Die dissipels wat wakker geword het, het die gloed van heerlikheid wat die berg verlig het, gesien. Met vrees en verbasing het hulle die stralende vorm van hul Meester aanskou. Namate hulle in staat was om die wonderbaarlike lig te verduur, het hulle gesien dat Jesus nie alleen was nie. Langs Hom was daar twee hemelse wesens in ernstige gesprek met Hom. Dit was Moses, wat op die berg Sinai met God gepraat het; en Elia, wat die besondere voorreg gehad het om nooit die mag van die dood te ervaar nie, ‘n voorreg wat slegs aan een van die seuns van Adam vergun is. DKvDE 457.1
Op die berg Pisga, vyftien eeue tevore, het Moses gestaan en die Beloofde Land aanskou. Maar weens sy sonde by Meriba, was dit hom nie gegun om dit binne te gaan nie. Die vreugde om die volk van Israel na die erfdeel van hul vaders te lei, was nie vir hom beskore nie. Sy bedroefde smeekbede, “Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Libanon...” (Deuteronomium 3:25) is hom geweier. Die hoop, wat die duisternis van veertig jaar van dwaling in die woestyn verlig het, is hom ontsê. ‘n Graf in die wildernis was die eindbestemming van al die jare se geswoeg en ‘n hart, belas met sorge. Maar Hy “...wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink...” (Efesiërs 3:20) het met hierdie optrede, Sy dienskneg se gebede verhoor. Moses het die heerskappy van die dood ervaar, maar hy sou nie in die graf bly nie. Christus Self het hom opgewek. Satan, die versoeker, het die liggaam van Moses weens sy sonde opgeëis; maar Christus, die Verlosser, het hom uit die graf voortgebring. (Sien Judas 9) DKvDE 457.2
Op die berg van verheerliking was Moses ‘n getuie van Christus se oorwinning oor sonde en dood. Hy het diegene wat met die opstanding van die regverdiges uit die grafte sal opstaan, verteenwoordig. Elia, wat in die hemel opgeneem was sonder om te sterwe, het diegene verteenwoordig wat met die wederkoms van Christus, nog op die aarde sal lewe en wat “...in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin...” verander sal word, wanneer “...hierdie sterflike ... met onsterflikheid beklee word...” en “...hierdie verganklike ... met onverganklikheid beklee word.” (1 Korinthiërs 15:52-53). Jesus was met die lig van die hemel beklee, soos Hy ook sal verskyn wanneer Hy “...vir die tweede maal sonder sonde verskyn ... tot saligheid.” (Hebreërs 9:28). Want Hy sal kom “...in die heerlikheid van Sy Vader met die heilige engele.” (Markus 8:38). Die Heiland se belofte aan die dissipels was nou vervul. Die toekomstige koninkryk van heerlikheid was hier op die berg in miniatuur voorgestel-Christus die Koning, Moses, ‘n verteenwoordiger van die opgestane heiliges en Elia, van die wat “...in ‘n oogwink...” verander sal word. DKvDE 458.1
Die dissipels het die toneel nog nie werklik nie begryp nie; maar hulle was verheug dat die geduldige Leraar, die sagmoedige en nederige Een wat soos ‘n hulpelose vreemdeling heen en weer rondgeswerf het, deur die begunstigde van die hemel vereer is. Hulle het geglo dat Elia gekom het om die Messias se regering aan te kondig en dat die koninkryk van Christus op die punt was om op aarde opgerig te word. Hulle sou vir ewig die herinnering aan hul vrees en teleurstelling verdryf. Hulle het verlang om hier, waar die heerlikheid van God geopenbaar was, te vertoef. Petrus het uitgeroep: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons dan drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en vir Elia een.” Die dissipels was vol vertroue dat Moses en Elia gestuur is om hul Meester te beskerm en om Sy gesag as koning te vestig. DKvDE 458.2
Maar voor die kroon, moes die kruis eers kom. Dit was nie die inhuldiging van Christus as koning nie, maar die dood wat in Jerusalem op Hom gewag het, wat die onderwerp van hul bespreking met Jesus was. Belas met die swakheid van menswees, hartseer en sonde, het Jesus alleen tussen die mense gewandel. Namate die duisternis van die komende beproewing Hom neergedruk het, het Hy in eensaamheid van gees, in ‘n wêreld wat Hom nie geken het nie, verkeer. Selfs sy geliefde dissipels, opgeneem in hul eie twyfel en hartseer en ambisieuse verwagtings, het nie die misterie van Sy sending begryp nie. Hy het te midde van die liefde en gemeenskap van die hemel gewoon; maar in die wêreld wat Hy geskape het, het Hy in eensaamheid verkeer. Maar nou het die hemel sy boodskappers na Jesus gestuur; nie engele nie, maar mense wat self lyding en smart verduur het en wat met die Heiland in die beproewing van Sy aardse lewe meegevoel kon betoon. Moses en Elia was medearbeiders saam met Christus. Hulle het Sy verlange vir die verlossing van mense gedeel. Moses het vir Israel gepleit: “Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit U boek wat U geskryf het!” (Exodus 32:32). Elia het die eensaamheid van gees geken, want hy het vir drie en ‘n halwe jaar van hongersnood, die las van die nasie se haat en die wee daarvan gedra. Hy het alleen op die berg Karmel vir God gestaan. Alleen het hy in angs en wanhoop na die woestyn gevlug. Hierdie manne, wat bo elke engel om die troon uitgekies is, het gekom om met Jesus oor die toneel van Sy komende lyding te praat en Hom met die versekering van die simpatie van die hemel te vertroos. Die hoop van die wêreld, die redding van elke mens, was die las van hul onderhoud. DKvDE 459.1
Deur slaap oorval, het die dissipels weinig gehoor van wat tussen Christus en die hemelse boodskappers bespreek is. Deur nie te waak en te bid nie, het die dissipels nie ontvang wat God aan hulle wou gee nie, naamlik ‘n kennis van die lyding van Christus en die heerlikheid wat sou volg. Hulle het die seën wat hulle, deur in die opoffering van Homself te deel, verbeur. Hierdie dissipels was traag van hart om te glo, met min waardering vir die skat waarmee die hemel hulle wou verryk. DKvDE 459.2
Tog het hulle groot lig ontvang. Hulle is verseker dat die ganse hemel van die sonde van die Joodse nasie, deur Christus te verwerp, bewus was. Aan hulle is duideliker insae in die werk van die Verlosser gegee. Hulle het met hul oë gesien en met hul ore dinge gehoor wat bo menslike begrip was. Hulle was “...aanskouers van sy majesteit...” (2 Petrus 1:16) en hulle het besef dat Jesus inderdaad die Messias was van wie die patriarge en profete getuig het en dat Hy as sodanig deur die heelal erken word. DKvDE 460.1
Terwyl hulle die toneel op die berg gadeslaan het, “...oordek ‘n helderverligte wolk hulle meteens, en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” Terwyl hulle die wolk van heerlikheid, helderder as wat voor die stamme van Israel in die woestyn gegaan het aanskou het en toe hulle die stem van God in vreeswekkende majesteit, wat die berg laat bewe het, hoor spreek, het die dissipels op die grond neergeval. Hulle het platgelê, hul aangesigte verberg, totdat Jesus nadergekom en hulle aangeraak het en hulle vrees met Sy bekende stem verdryf het: “Staan op en moenie vrees nie.” Nadat hulle dit gewaag het om hulle oë oop te maak, sien hulle dat die hemelse heerlikheid weg was en die gestaltes van Moses en Elia verdwyn het. Hulle was alleen op die berg, saam met Jesus. DKvDE 460.2