Die Koning van die Eeue

44/88

Hoofstuk 43—Skeidsmure afgebreek *

Na die ontmoeting met die Fariseërs het Jesus Kapérnaum verlaat, deur Galiléa gegaan en Hom na die bergstreek op die grense van Fenicië begewe. In die weste kon Hy die ou stede van Tirus en Sidon, met hul heidense tempels, manjifieke paleise en markte en die hawens vol skepe uitgesprei op die vlakte benede sien lê. Daaragter was die blou uitgestrektheid van die Middellandse See, waaroor die boodskappers van die evangelie Sy blye boodskap na die sentrums van die wêreld se groot ryke moes dra. Maar die tyd was nog nie geskik nie. Sy taak op hande was om nou Sy dissipels op hul sending voor te berei. Toe Hy na hierdie streek gekom het, het hy gehoop om die afsondering te vind wat Hy nie in Betsáida kon kry nie. Maar dit was nie die enigste doel waarom Hy hierdie reis onderneem het nie. DKvDE 428.1

“En ‘n Kananese vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete.” Die inwoners van hierdie distrik was afstammelinge van die ou Kanaäniete. Hulle was afgodedienaars en is deur die Jode verag en gehaat. Die vrou wat nou na Jesus gekom het, het tot hierdie klas behoort. Sy was ‘n heiden en was dus van die daaglikse voordele wat die Jode geniet het, uitgesluit. Daar het baie Jode onder die Feniciërs gewoon en die tyding van die werk van Christus het tot hierdie streek deurgedring. Sommige van die inwoners het na Sy woorde geluister en Sy wonderwerke aanskou. Hierdie vrou het van die profeet gehoor wat, volgens berigte, allerlei siektes genees het. Toe sy van Sy mag verneem, het hoop in haar opgevlam. Geïnspireer deur moederliefde, het sy haar voorgeneem om die geval van haar dogter aan Hom voor te lê. Dit was haar vaste voorneme om met haar beproewing na Jesus te kom. Hy moet haar kind genees. Sy het hulp by die heidense gode gesoek, maar geen verligting gekry nie. En soms was sy in die versoeking om te dink: Wat kan hierdie Joodse Leraar vir my doen? Maar die woord het gekom: Hy genees allerlei siektes, ongeag of diegene wat na Hom vir hulp kom ryk of arm is. Sy was vasbeslote om nie haar enigste hoop te verydel nie. DKvDE 428.2

Christus het hierdie vrou se situasie geken. Hy het geweet dat sy daarna verlang om Hom te sien en Hy het Homself oor haar pad gebring. Deur haar in haar leed te bedien, kon Hy ‘n lewendige voorbeeld aanbied van die les wat Hy beplan het. Om hierdie rede het Hy Sy dissipels na hierdie streek gebring. Hy wou hê dat hulle die onkunde in die stede en dorpe naby die land van Israel moes sien. Die mense, wat elke geleentheid gegun was om die waarheid te verstaan, was sonder kennis aangaande die behoeftes van die mense rondom hulle. Geen poging is aangewend om siele in duisternis te help nie. Die skeidsmuur wat deur Joodse trots opgerig is, het selfs die dissipels vir die behoefte van die heidense wêreld afgesluit. Maar hierdie hindernisse sou afgebreek word. DKvDE 429.1

Christus het nie onmiddellik op die vrou se versoek geantwoord nie. Hy het hierdie verteenwoordiger van ‘n veragtelike ras behandel soos die Jode sou gedoen het. Sy doel hiermee was om die dissipels onder die indruk te bring van die koue en hartelose wyse waarop die Jode hierdie saak, soos geblyk het uit Sy ontvangs van die vrou, sou hanteer het en die medelydende wyse, soos deur Sy daaropvolgende toegewing aan haar versoek gemanifesteer is, waarop Hy wou hê hulle in sulke omstandighede moes optree. DKvDE 429.2

Maar hoewel Jesus nie geantwoord het nie, het die vrou nie moed verloor nie. Terwyl Hy verder gegaan het, asof Hy haar nie gehoor het nie, het sy Hom gevolg en voortgegaan met haar smekinge. Die dissipels was geïrriteerd met haar vermetelheid en het Jesus gevra om haar weg te stuur. Hulle het gesien hoe onverskillig hul Meester teenoor haar optree en was onder die indruk dat die vooroordeel van die Jode teenoor die Kanaäniete Hom welgevallig was. Maar dit was ‘n deernisvolle Verlosser tot wie die vrou haar versoek gerig het en Jesus, in antwoord op die versoek van die dissipels, het gesê: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.” Alhoewel die antwoord geblyk het in ooreenstemming met die vooroordeel van die Jode te wees, was dit ‘n geïmpliseerde teregwysing aan die dissipels, wat hulle agterna verstaan het as ‘n herinnering aan hulle, dat Hy na die wêreld gekom het om almal te red wat Hom sou aanneem. DKvDE 429.3

Die vrou het haar saak met toenemende erns bepleit, voor Christus se voete neergebuig en uitgeroep: “Here, help my!” Jesus wat steeds voorgegee dat Hy haar smeekbede verwerp het, soos die gevoellose, bevooroordeelde Jode, het geantwoord: “Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie.” Die woorde het feitlik daarop neergekom dat dit nie reg was om die seëninge wat die uitverkore volk van God toekom op vreemdelinge te verkwis nie. Hierdie antwoord sou ‘n minder opregte persoon totaal ontmoedig het. Maar die vrou het besef dat haar geleentheid aangebreek het. Agter die skynbare weiering van Jesus het sy medelye gewaar wat Hy nie kon verberg nie. “Ja, Here...” het sy gesê, “...maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.” Terwyl die kinders van die huishouding aan hul vader se tafel geëet het, was selfs die honde nie honger gelaat nie. Hulle het reg op die krummels wat oorvloedig van die tafel af gekom het gehad. Aangesien daar so baie seëninge vir Israel was, was daar dan nie ook vir haar ‘n seën nie? Sy is vir ‘n hond aangesien en het die hond nie ‘n aanspraak op die krummels van Sy oorvloed nie? DKvDE 430.1

Jesus het pas vanuit Sy arbeidsveld vertrek omdat die skrifgeleerdes en Fariseërs probeer het om Sy lewe te neem. Hulle het gemurmureer en gekla. Hulle het ongeloof en bitterheid aan die dag gelê en die verlossing wat hulle so vryelik aangebied is, geweier. En hier ontmoet Christus iemand van ‘n ongelukkige en veragte ras wat nie met die lig van die Woord van God begunstig is nie; tog onderwerp sy haar dadelik aan die Goddelike invloed van Christus en het sy ‘n onwrikbare geloof in Sy vermoë om aan haar die guns te betoon waarvoor sy gevra het. Sy bedel vir die krummels wat van die Meester se tafel af kom. As sy die voorreg van ‘n hond kon geniet, kon sy maar ‘n hond genoem word. Sy het geen nasionale of godsdienstige vooroordeel of trots om haar optrede te beïnvloed nie en sy het Jesus dadelik as die Verlosser, wat in staat is om alles te doen wat sy Hom vra, erken. DKvDE 430.2

Die Heiland was tevrede. Hy het haar geloof in Hom getoets. Deur Sy omgang met haar, het Hy getoon dat sy, wat as ‘n uitgeworpene uit Israel beskou is, nie meer ‘n vreemdeling was nie, maar ‘n kind in God se huishouding. As ‘n kind was dit haar voorreg om in die gawes van die Vader te deel. Toe gee Christus aan haar versoek toe en voltooi die les aan die dissipels. Hy het, met ‘n blik van medelye en liefde, aan haar gesê: “O Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê.” Van daardie uur af het haar dogter gesond geword. Die bose gees het haar nie verder gepla nie. Die vrou het vertrek, haar Verlosser erken en gelukkig in die toegee aan haar bede. DKvDE 431.1

Dit was die enigste wonderwerk wat Jesus op hierdie reis gedoen het. Dit was ter wille van hierdie daad dat Hy na die grense van Tirus en Sidon gegaan het. Hy wou die geteisterde vrou help en ook ‘n voorbeeld van Sy werk van genade, teenoor iemand uit ‘n veragte volk, vir sy dissipels nalaat wanneer Hy nie meer by hulle sou wees nie. Hy wou hulle uit hul Joodse eksklusiwiteit lei om ‘n belang om vir ander, buiten hul eie mense te werk, te koester. DKvDE 431.2

Jesus het verlang om die diep verborgenhede van die waarheid wat al eeue lank weggesteek was, te ontvou, sodat die heidene mede-erfgename saam met die Jode moes wees en “...mede-deelgenote aan Sy belofte in Christus deur die evangelie.” (Efesiërs 3:6). Die dissipels was traag om hierdie waarheid te leer en die Goddelike Leraar het hulle les op les gegee. Deur die geloof van die hoofman oor honderd in Kapérnaum te beloon en die evangelie aan die inwoners van Sigar te verkondig, het Hy reeds bewys gelewer dat Hy nie in die onverdraagsaamheid van die Jode deel nie. Maar die Samaritane het ‘n mate van kennis van God gehad; en die hoofman oor honderd het aan Israel goedertierenheid bewys. Nou het Jesus die dissipels in aanraking met ‘n heidense vrou gebring wat, volgens hulle, geen aanspraak bo enige van haar volk gehad het om ‘n guns van Hom te verwag nie. Hy wou ‘n voorbeeld stel van hoe so ‘n mens behandel moet word. Die dissipels het gemeen dat Hy te vrygewig met Sy genadegawes was. Hy wou hulle wys dat Sy liefde nie tot ras of volk beperk is nie. DKvDE 431.3

Toe Hy gesê het: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel...” het Hy slegs die waarheid gepraat en in Sy werk vir die Kanaänitiese vrou, het Hy Sy opdrag uitgevoer. Hierdie vrou was een van die verlore skape wat deur Israel gered moes gewees het. Dit was hul aangewese taak, die werk wat hulle verwaarloos het, wat Christus gedoen het. DKvDE 432.1

Hierdie daad het die dissipels ‘n duideliker begrip van die werk wat vir hulle onder die heidene voorgelê het gegee. Hulle het gesien dat daar ‘n uitgestrekte arbeidsveld buite die grense van Judea was. Hulle het siele in smart gesien, wat iets was wat onbekend onder die begunstigdes was. Onder diegene wat hulle geleer is om te verag, was siele wat na hulp van die magtige Geneesheer gehunker het, wat gehonger het na die lig van die waarheid wat so mildelik aan die Jode geskenk is. DKvDE 432.2

Agterna, toe die Jode met nog meer volharding van die dissipels weggedraai het omdat hulle Jesus as die Verlosser van die wêreld verklaar het en toe die skeidsmuur tussen Jood en heiden deur die dood van Christus afgebreek is, het hierdie en soortgelyke lesse, wat na die evangeliewerk wat onbeperk deur gewoonte of nasionaliteit was gewys het, ‘n kragtige invloed op die verteenwoordigers van Christus gehad om hul arbeid te rig. DKvDE 432.3

Die Heiland se besoek aan Fenicië en die wonderwerk wat Hy daar verrig het, het nog ‘n wyer doel gehad. Hierdie werk was nie alleen vir die geteisterde vrou nie en selfs nie vir Sy dissipels en diegene vir wie hulle sou werk volbring nie; maar ook “...dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in Sy Naam.” (Johannes 20:31). Dieselfde magte wat mense agtien honderd jaar gelede van Christus weggehou het, is vandag aan die werk. Die gees wat ‘n skeidsmuur tussen Jood en heiden opgerig het, is steeds aan die werk. Hoogmoed en vooroordeel het sterk skeidsmure tussen verskillende klasse mense opgerig. Christus en Sy sending is valslik voorgestel en menigtes voel dat hulle feitlik uit die bediening van die evangelie uitgesluit word. Maar laat hulle nie voel dat hulle van Christus afgesny is nie. Daar is geen versperrings wat die mens of Satan kan oprig waardeur die geloof nie kan dring nie. DKvDE 433.1

In geloof het die Feniciese vrou haar teen die skeidsmuur wat tussen Jood en heiden opgestapel was gewerp. Teen ontmoediging en ongeag alle skyn wat haar kon laat twyfel het, het sy op die Heiland se liefde vertrou. Dit is hoe Christus begeer dat ons op Hom moet vertrou. Die seëninge van verlossing is vir elke siel. Niks behalwe ‘n mens se eie keuse kan verhinder dat iemand die belofte in Christus deur die evangelie deelagtig word nie. DKvDE 433.2

Klasse-skeiding is haatlik vir God. Hy verontagsaam alles van hierdie aard. In Sy oë is die siele van alle mense van gelyke waarde. “Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie.” (Handelinge 17:26,27). Sonder onderskeid tussen ouderdom, rang of nasionaliteit, of godsdienstige voorreg, word almal uitgenooi om na Hom te kom en te lewe. “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie. Want daar is geen onderskeid ... nie.” (Romeine 10:10,11). “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie.” (Galasiërs 3:28). “Rykes en armes ontmoet mekaar, die Here het hulle almal gemaak.” (Spreuke 22:2). “Dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep. Want: Elkeen, wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Romeine 10:12,13). DKvDE 433.3