Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 44—Die Ware Teken *
“En Hy het weer uit die gebied van Tirus en Sidon vertrek en na die see van Galiléa gegaan, deur die gebied van Dekapolis.” DKvDE 435.1
Dit was in die omgewing van Dekapolis dat die besetenes van Gádara genees is. Hier het die mense, ontsteld oor die vernietiging van die varke, Jesus gedwing om van hulle weg te gaan. Maar hulle het na die boodskappers wat Hy agtergelaat het geluister en ‘n begeerte is opgewek om Hom weer te sien. Toe Hy weer in daardie streek kom, het ‘n skare om Hom vergader en ‘n dowe, stotterende man is na Hom gebring. Jesus het, volgens Sy gewoonte, die man nie slegs met ‘n woord genees nie. Hy het hom van die skare afgesonder, Sy vingers in sy ore gesit en sy tong aangeraak; terwyl Hy na die hemel opgekyk het, het Hy gesug by die gedagte aan die ore wat nie vir die waarheid oop sal wees nie en die tonge wat die Verlosser nie wil erken nie. Met die woorde: “Gaan oop!” is die man se spraak herstel en ondanks die opdrag om dit aan niemand te vertel nie, het hy die verhaal van sy genesing oral oor verkondig. DKvDE 435.2
Jesus het in ‘n berg opgegaan en daar het die skare na Hom toe gestroom, hulle siekes en verlamdes gebring en voor Sy voete neergelê. Hy het hulle almal gesond gemaak; en die volk, heidens soos hulle was, het die God van Israel verheerlik. Drie dae lank het hulle om die Heiland saamgedrom, terwyl hulle snags in die buitelug geslaap het en bedags gretiglik saamgedrom het om die woorde van Christus te hoor en Sy werke te aanskou. Na drie dae was hul voedsel uitgeput. Jesus wou hulle nie honger wegstuur nie en het Sy dissipels versoek om aan hulle voedsel te gee. Weer het die dissipels hulle ongeloof aan die dag gelê. In Betsáida het hulle gesien hoe ‘n geringe hoeveelheid, met die seën van Christus, aangewend kon word om die menigte te voed; nogtans het hulle nie alles wat hulle gehad het te voorskyn gebring en op Sy mag vertrou om dit vir die honger skare te vermenigvuldig nie. Diegene wat Hy in Betsáida gevoed het, was boonop Jode; hierdie mense was heidene. Die Joodse vooroordeel was steeds sterk in die harte van die dissipels aanwesig en hulle het geantwoord: “Waar sal ons in die woestyn soveel brode vandaan kry om so ‘n groot skare te versadig?” Maar gehoorsaam aan Sy woord het hulle vir Hom gebring wat hulle gehad het-sewe brode en twee visse. Die skare is gevoed en daar het nog sewe groot mandjies met fragmente het oorgebly. Vierduisend mans, afgesien van vroue en kinders, is op hierdie wyse versadig en Jesus het hulle met blye en dankbare harte weggestuur. DKvDE 435.3
Toe klim Hy saam met Sy dissipels in ‘n boot en vaar oor die meer na Magdala, aan die suidelike punt van die vlakte van Gennésaret. Op die grens van Tirus en Sidon is Sy gees deur die geloof van die Siro-Feniciese vrou verkwik. Die heidense bevolking van Dekapolis het Hom met blydskap ontvang. Maar noudat Hy in weer in Galiléa aangekom het, waar Sy krag op die treffendste wyse geopenbaar was, waar die meeste van Sy barmhartigheidswerk verrig was en Hy onderrig gegee het, is Hy met minagtende ongeloof begroet. DKvDE 436.1
Die verteenwoordigers van die ryk en heerssugtige Sadduseërs, die party van die priesters, die skeptici en aristokrasie van die land, het hulle by ‘n afvaardiging van Fariseërs gevoeg. Hierdie twee sektes was bitter vyande. Die Sadduseërs het guns by die regerende mag gesoek om hul eie posisie en gesag te handhaaf. Die Fariseërs daarenteen, het die volk se haat teen die Romeine aangeblaas en na die dag verlang wanneer hulle die juk van die oorwinnaar sou kon afgooi. Maar nou het Fariseër en Sadduseër teen Christus verenig. Soort soek soort; en die kwaad, waar dit ook al bestaan, span saam met die bose vir die vernietiging van die goeie. DKvDE 436.2
Die Fariseërs en Sadduseërs het nou na Christus gekom en vir ‘n teken uit die hemel gevra. Toe Israel in die dae van Josua teen die Kanaäniete by Bet-Horon geveg het, het die son op bevel van die leier gaan stilstaan totdat die oorwinning behaal is; en baie soortgelyke wonderwerke is in hul geskiedenis verrig. ‘n Soortgelyke teken is nou van Jesus geëis. Maar hierdie tekens was nie wat die Jode nodig gehad het nie. Geen blote uiterlike teken kon hulle bevoordeel nie. Wat hulle nodig gehad het was nie intellektuele verligting nie, maar geestelike vernuwing. DKvDE 437.1
“Geveinsdes...” het Jesus gesê, “...julle weet wel om die voorkoms van die lug te onderskei...” Deur die lug te bestudeer kon hulle die weer voorspel “...en kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie?” Christus se eie woorde, gespreek in die krag van die Heilige Gees wat hulle van sonde oortuig het, was die teken wat God vir hulle redding gegee het. En tekens is regstreeks uit die hemel gegee om van die sending van Christus te getuig. Die lied van die engele aan die herders, die ster wat die wyse-manne gelei het, die duif en die stem uit die hemel tydens Sy doop, het alles van Hom getuig. DKvDE 437.2
“Toe sug Hy swaar in Sy gees en sê: Waarom begeer hierdie geslag ‘n teken?” “Geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona, die profeet.” Soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die vis was, sou Christus vir dieselfde tydperk “...in die hart van die aarde...” wees. En soos die prediking van Jona ‘n teken vir Nineve was, so is die prediking van Christus ‘n teken vir Sy generasie. Maar wat ‘n kontras in die ontvangs van die woord! Die bevolking van die groot heidense stad het gesidder toe hulle die waarskuwing van God hoor. Konings en edeles het hulself verootmoedig; die vername en die nederige het saam die God van die hemel aangeroep en Hy het hulle begenadig. “Die manne van Nineve sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel...” het Christus gesê, “...want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer en-meer as Jona is hier.” (Mattheus 12:41). DKvDE 437.3
Elke wonderwerk wat Christus verrig het, was ‘n teken van Sy Goddelikheid. Hy het die werk wat van die Messias voorspel is, verrig; maar hierdie werke van barmhartigheid was vir die Fariseërs ‘n besliste oortreding. Die Joodse leiers het met hartelose onverskilligheid na menslike lyding gekyk. In baie gevalle was dit hulle selfsug en onderdrukking wat die ellende, wat Christus verlig het, veroorsaak het. Sy wonderwerke was dus ‘n aanklag teen hulle. DKvDE 438.1
Dit wat daartoe gelei het dat die Jode die Verlosser se werk verwerp, was die hoogste bewys van Sy Goddelike karakter. Die grootste betekenis van Sy wonderwerke kan gesien word in die feit dat dit tot seën van die mensdom was. Die hoogste bewys dat Hy van God gekom het, was dat Sy lewe die karakter van God geopenbaar het. Hy het die werke gedoen en die woorde van God gespreek. ‘n Lewe soos hierdie is die grootste van alle wonderwerke. DKvDE 438.2
Wanneer die boodskap van waarheid in ons dag aangebied word, is daar baie wat, soos die Jode uitroep: Gee ons ‘n teken! Doen vir ons ‘n wonderwerk! Christus het geen wonderwerk op versoek van die Fariseërs gedoen nie. Hy het geen wonderwerk in die woestyn in antwoord op Satan se insinuasies gedoen nie. Hy gee nie aan ons die mag om onsself te bemagtig of om aan die eise van ongeloof en trots te voldoen nie. Maar die evangelie is nie sonder ‘n teken van die Goddelike oorsprong daarvan nie. Is dit nie ‘n wonderwerk dat ons uit die slawehuis van Satan kan wegbreek nie? Vyandskap teen Satan is nie natuurlik vir die hart van die mense nie; dit word deur die genade van God ingeplant. Wanneer iemand, wat deur ‘n hardkoppige, weerspannige wil beheer word, bevry word en homself heelhartig aan die aantrekking van God se hemelse magte onderwerp, word ‘n wonderwerk verrig; so ook wanneer ‘n mens, wat onder sterk dwaling verkeer het, die morele waarheid begryp. Elke keer wanneer ‘n siel tot bekering kom en leer om God lief te kry en Sy gebooie te onderhou, word die belofte van God vervul: “Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee.” (Esegiël36:26). Die verandering in die harte van mense en die transformasie van die karakters van mense, is ‘n wonderwerk wat ‘n onsterflike Verlosser, wat werk om siele te red, openbaar. ‘n Bestendige lewe in Christus is ‘n groot wonderwerk. In die prediking van die Woord van God, is die teken wat nou en altyd sigbaar moet wees, die teenwoordigheid van die Heilige Gees om die woord ‘n herskeppende krag te maak vir diegene wat dit hoor. Dit is God se getuienis aan die wêreld van die Goddelike sending van Sy seun. DKvDE 438.3
Diegene wat ‘n teken van Jesus verlang het, het hul harte só in ongeloof verhard, dat hulle nie die beeld van God in Sy karakter kon sien nie. Hulle wou nie insien dat Sy sending ‘n vervulling van die Skrif was nie. In die gelykenis van die ryk man en Lasarus het Jesus vir die Fariseërs gesê: “As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (Lukas 16:31). Geen teken wat in hemel of op die aarde gegee kon word, sou hulle bevoordeel nie. DKvDE 439.1
Jesus het “...swaar in sy gees...” gesug, van die groep haarklowers weggedraai en saam met Sy dissipels in die boot geklim. Hartseer en stil het hulle die meer oorgesteek. Hulle het egter nie na die plek wat hulle verlaat het teruggekeer nie, maar het in die rigting van Betsáida gevaar, naby die plek waar die vyfduisend gevoed was. Toe hulle die ander kant bereik, sê Jesus: “Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs.” Dit was die gebruik van die Jode sedert die dae van Moses, om tydens die Pasga alle suurdeeg uit hul huise te verwyder en hulle het dus geleer om dit as ‘n soort sonde te beskou. Tog het die dissipels Jesus nie verstaan nie. Met hul skielike vertrek uit Magdala het hulle vergeet om brood te neem en het hulle net een brood by hulle gehad. Hulle was onder die indruk dat Christus hierna verwys het en hulle gewaarsku het om nie brood van ‘n Fariseër of Sadduseër te koop nie. Hulle gebrek aan geloof en geestelike insig het hulle dikwels tot soortgelyke wanopvattings van Sy woorde gelei. Toe het Jesus hulle bestraf omdat hulle gedink het dat Hy, wat duisende met ‘n paar visse en garsbrode gevoed het, met daardie plegtige waarskuwing bloot na gewone voedsel kon verwys. Daar was die gevaar dat die listige redenasies van die Fariseërs en Sadduseërs Sy dissipels met ongeloof kon deurtrek en veroorsaak dat hulle die werke van Christus ligtelik opneem. DKvDE 439.2
Die dissipels was geneig om te dink dat hul Meester aan die vereiste van ‘n teken uit die hemel moes voldoen het. Hulle het geglo dat Hy volkome by magte was om dit te doen en dat so ‘n teken Sy vyande sou stilmaak. Hulle het nie die skynheiligheid van hierdie haarklowers onderskei nie. DKvDE 440.1
Maande daarna, “...toe duisende van die skare ondertussen saamkom, sodat hulle mekaar vertrap het...” het Jesus dieselfde les herhaal. Hy het aan sy dissipels gesê: “Pas veral op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is geveinsdheid.” (Lukas 12:1). DKvDE 440.2
Die suurdeeg wat in die meel geplaas word, werk onsigbaar in en verander die hele massa na sy eie aard. So deursuur skynheiligheid wat in die hart toegelaat word, die karakter en die lewe. Christus het reeds ‘n opvallende voorbeeld van die geveinsdheid van die Fariseërs bestraf, deur die gebruik van die “korban”, waardeur pligsversuim onder die voorwendsel van liberaliteit aan die tempel verswyg word, aan die kaak te stel. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het bedrieglike beginsels geïnsinueer. Hulle het die werklike strekking van hul leerstellings verberg en elke geleentheid uitgebuit om dit met lis in die gedagtes van hul hoorders in te boesem. Hierdie valse beginsels, wanneer dit eers aanvaar is, het soos suurdeeg in die meel gewerk en die karakter deurdring en omvorm. Dit was hierdie misleidende lering wat dit vir die volk so moeilik gemaak het om die woorde van Christus te aanvaar. DKvDE 440.3
Dieselfde invloede is vandag steeds aan die werk onder diegene wat poog om die wet van God op so wyse te verklaar, dat dit met hul praktyke ooreenstem. Hierdie klas val nie die wet openlik aan nie, maar voer spekulatiewe teorieë aan wat die beginsels daarvan ondermyn. Hulle verduidelik dit op so wyse dat dit die krag daarvan vernietig. DKvDE 441.1
Die geveinsdheid van die Fariseërs was die resultaat van selfsug. Die doelwit van hul lewens was Selfverheerliking. Dit was wat hulle daartoe genoop het om die Skrif te verdraai en verkeerd toe te pas en wat hulle vir die doel van Christus se sending verblind het. Selfs die dissipels, hoewel hulle uiterlik alles ter wille van Jesus verlaat het, het gevaar geloop om hierdie subtiele dwaling te koester. Diegene wat hulself onder die volgelinge van Jesus geklassifiseer het, maar wat nie alles verlaat het om Sy dissipels te word nie, is in ‘n groot mate deur die redenasie van die Fariseërs beïnvloed. Hulle het dikwels tussen geloof en ongeloof gewankel en het nie die skatte van wysheid wat in Christus geborge was, raakgesien nie. Selfs die dissipels, hoewel hulle uiterlik alles ter wille van Jesus verlaat het, het nie opgehou om in hul harte grootsheid vir hulself te koester nie. Dit was hierdie gees wat aanleiding gegee het tot die geskil oor wie die grootste is. Dit was wat tussen hulle en Christus gekom het en wat veroorsaak het dat hulle so min meegevoel met Sy sending van selfopoffering gehad het en so traag was om die verborgenheid van verlossing te begryp. Soos suurdeeg korrupsie en verval sal veroorsaak as dit toegelaat word om ongehinderd voort te gaan, so bewerkstellig die selfsugtige gees, as dit gekoester word, die besoedeling en ondergang van die siel. DKvDE 441.2
Hoe wydverspreid is hierdie subtiele, misleidende sonde nie vandag, net soos in die ou dae, onder die volgelinge van ons Here nie! Hoe dikwels word ons diens aan Christus, ons gemeenskap met mekaar, deur ‘n geheime begeerte tot selfverheffing beskaam! Hoe gereed die gedagte vir self-verheerliking en verlange na menslike goedkeuring! Dit is die liefde vir self, die begeerte na ‘n makliker weg as wat God beskik het, wat lei tot die vervanging van die Goddelike voorskrifte met menslike teorieë en tradisies. Aan Sy eie dissipels word die woorde van waarskuwing gerig: “Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs.” DKvDE 441.3
Die godsdiens van Christus is opregtheid vanself. Ywer tot eer van God is die motief wat deur die Heilige Gees ingegee word; en slegs die effektiewe werking van die Gees kan hierdie motief by ons inplant. Slegs die krag van God kan selfverheerliking en geveinsdheid verdryf. Hierdie verandering is die teken van Sy werking. Wanneer die geloof wat ons aanneem selfsug en huigelary vernietig en wanneer dit daartoe lei dat ons God se eer soek en nie ons eie nie, kan ons weet dat dit van die regte orde is. “Vader, verheerlik u Naam...” (Johannes 12:28), was die hoofrede van die lewe van Christus en as ons Hom volg, sal dit die hoofrede van ons lewe wees. Hy beveel ons om “...self ook so te wandel soos Hy gewandel het...” (1 Johannes 2:6) en “...hieraan weet ons dat ons Hom ken, as ons Sy gebooie bewaar.” (1 Johannes 2:3). DKvDE 442.1