Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 42—Tradisie *
Die skrifgeleerdes en Fariseërs wat verwag het om Jesus tydens die Pasga te sien, het ‘n lokval vir Hom gestel. Maar Jesus het geweet wat hulle doel was en het van die byeenkoms weggebly. “Toe kom daar skrifgeleerdes en Fariseërs van Jerusalem na Jesus.” Aangesien Hy nie na hulle gegaan het nie, het hulle na Hom toe gekom. Vir ‘n tyd lank het dit gelyk asof die mense van Galiléa Jesus as die Messias sou ontvang en dat die mag van die hiërargie in daardie streek verbreek sou word. Die sending van die Twaalf wat op die uitbreiding van Christus se werk gedui en die dissipels meer direk in konflik met die rabbi’s gebring het, het die jaloesie van die leiers in Jerusalem opnuut ontketen. Die spioene wat hulle vroeg in Sy bediening na Kapérnaum gestuur het en wat ‘n klag van Sabbatskending teen Hom aanhangig probeer maak het, is in verwarring gebring; maar die rabbi’s was vasberade om hul doel te bereik. Nou is ‘n ander afvaardiging gestuur om Sy bewegings dop te hou en ‘n beskuldiging teen Hom te vind. DKvDE 422.1
Soos voorheen was die gronde van die klag dat Hy die tradisionele voorskrifte, wat die wet van God belas het, verontagsaam het. Na bewering was die tradisionele voorskrifte ontwerp om die nakoming van die wet te beskerm, maar dit was meer heilig as die wet self beskou. Wanneer dit met die gebooie wat vanaf Sinai gegee was gebots het, is voorkeur aan die voorskrifte van die rabbi’s gegee. DKvDE 422.2
Die nakoming van die insettinge wat die strengste toegepas was, was die seremoniële reiniging. ‘n Verontagsaming van die rituele wat voor ete waargeneem moes word, was as ‘n afskuwelike sonde beskou wat in hierdie wêreld, sowel as die toekomstige wêreld gestraf sou word; en dit was as ‘n deug beskou om die oortreder te vernietig. DKvDE 422.3
Die reëls ten opsigte van reiniging was ontelbaar. ‘n Leeftyd was skaars lank genoeg vir iemand om alles te leer. Die lewe van diegene wat die rabbynse vereistes probeer nakom het, was ‘n lang stryd teen seremoniële verontreiniging, ‘n eindelose kringloop van was en reiniging. Terwyl die mense besig was met onbeduidende onderskeidings en waarnemings wat God nie vereis het nie, is hulle aandag van die groot beginsels van Sy wet weggedraai. DKvDE 423.1
Christus en Sy dissipels het hierdie seremoniële wassery nie nagekom nie en die spioene het hierdie verontagsaming die grondslag van hul aanklag gemaak. Hulle het egter nie ‘n direkte aanval op Christus geloods nie, maar het na Hom met kritiek teen Sy dissipel gekom. In die teenwoordigheid van die menigte het hulle gevra: “Waarom oortree U dissipels die oorlewering van die ou mense? Want hulle was nie hulle hande as hulle brood eet nie.” DKvDE 423.2
Telkens wanneer die boodskap van die waarheid met besondere krag by siele tuisgebring word, roep Satan sy verteenwoordigers op om ‘n dispuut oor ‘n beuselagtigheid te ontketen. So wil hy die aandag van die hoofsaak weglei. Wanneer daar ‘n goeie werk aangevoor word, is daar haarklowers wat gereed is om in ‘n dispuut oor vorms en tegniese aspekte betrokke te raak, om die aandag weg van die lewende realiteite te lei. As dit blyk dat God op die punt is om op ‘n besondere wyse vir Sy volk te werk, moet hulle hul nie tot ‘n geskil wat slegs die ondergang van siele tot gevolg sal hê, uitgelok word nie. Die belangrikste vrae vir ons is: Glo ek met ‘n reddende geloof in die Seun van God? Is my lewe in harmonie met die Goddelike wet? “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie.” (Johannes 3:36). “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons Sy gebooie bewaar” (1 Johannes 2:3). DKvDE 423.3
Jesus het geen poging aangewend om Homself of Sy dissipels te verdedig nie. Hy het nie na die aanklagte teen Hom verwys nie, maar Hy het voortgegaan deur aan hulle die gees wat die aanhangers van hierdie menslike rituele geaktiveer het, te toon. Hy het aan hulle ‘n voorbeeld gegee van wat hulle herhaaldelik doen en gedoen het, net voordat hulle Hom kom opsoek het. “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit...” het Hy gesê, “...en so julle oorlewering te onderhou. Want Moses het gesê: Eer jou vader en jou moeder; en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe. Maar julle sê: As ‘n mens aan vader of moeder sê: Enige voordeel wat u van my mag geniet, is korban, dit is ‘n offergawe-dan laat julle hom nie meer toe om iets vir sy vader of sy moeder te doen nie.” Hulle het die vyfde gebod tersyde gestel asof dit van geen belang was nie, maar was baie presies in die uitvoering van die tradisies van die ouderlinge. Hulle het die mense geleer dat die toewyding van hul eiendom aan die tempel, ‘n plig is wat heiliger as selfs die ondersteuning van hul ouers was; en dat dit, hoe groot die nood ook al, heiligskending was om aan vader of moeder enige deel van wat aldus toegewy was, oor te dra. ‘n Onbesorgde kind, kon maar net die woord “korban” oor sy eiendom uitspreek en dit so aan God wy en hy kon dit gedurende sy leeftyd vir sy eie gebruik behou en na sy dood moes dit aan die tempeldiens toegeskryf word. Dit het hom dus vrygestaan om sy ouers sowel in die lewe as in die dood te onteer en te bedrieg, onder die dekmantel dat dit aan God toegewy is. DKvDE 424.1
Nooit het Jesus deur woord of daad die mens se verpligting om gawes en offers aan God te bring, geringgeskat nie. Dit was Christus wat al die voorskrifte van die wet aangaande tiendes en offergawes gegee het. Toe Hy op aarde was, het Hy die arm weduwee geprys wat alles wat sy gehad het in die tempelskatkis gegooi het. Maar die oënskynlike ywer van die priesters en rabbi’s vir God, was net ‘n voorwendsel om hul begeerte na selfverheerliking te verberg. Die mense is deur hulle mislei. Hulle het swaar laste, wat God nie opgelê het nie, gedra. Selfs die dissipels van Christus was nie heeltemal vry van die juk wat deur oorgeërfde vooroordeel en rabbynse gesag op hulle gelê is nie. Deur die ware gees van die rabbi’s te openbaar, het Jesus gepoog om almal wat God graag wou dien, van die bande van tradisie te bevry. DKvDE 424.2
“Geveinsdes...” het Hy die sluwe spioene aangespreek, “...tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” Die woorde van Christus was ‘n aanklag teen die hele stelsel van Fariseïsme. Hy het verklaar dat die rabbi’s, deur hul vereistes bo die Goddelike voorskrifte te stel, hulself bo God gestel het. DKvDE 425.1
Die afvaardiging uit Jerusalem was met woede vervul. Hulle kon Christus nie as ‘n oortreder van die wet van Sinai beskuldig nie, want Hy het as die Verdediger daarvan teen hul tradisies gepraat. Die groot voorskrifte van die wet wat Hy voorgehou het, het ‘n treffende kontras met die beuselagtige reëls wat die mens versin het, gevorm. DKvDE 425.2
Aan die skare en later meer volledig aan Sy dissipels, het Jesus verduidelik dat verontreiniging nie van buite kom nie, maar van binne. Reinheid en onreinheid het betrekking op die siel. Dit is die bose daad, die bose woord, die bose gedagte, die oortreding van die wet van God en nie die verwaarlosing van die uiterlike, mensgemaakte seremonies nie, wat ‘n mens verontreinig. DKvDE 425.3
Die dissipels het die woede van die spioene, toe hulle valse leringe blootgelê is, opgemerk. Hulle het die verergde gesigte gesien en die half-gemompelde woorde van ontevredenheid en wraak gehoor. Omdat hulle vergeet het hoe dikwels Christus bewys het dat Hy die hart soos ‘n oop boek lees, het hulle Hom van die effek van Sy woorde vertel. In die hoop dat Hy die woedende amptenare se woede sou kon versoen, het hulle vir Jesus gesê: “Weet U dat die Fariseërs, toe hulle die woord hoor, aanstoot geneem het?” DKvDE 425.4
Hy het geantwoord: “Elke plant wat My hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word.” Die gewoontes en tradisies waaraan die rabbi’s soveel waarde geheg het, was van hierdie wêreld en nie uit die hemel nie. Hoe groot hulle gesag ook al onder die mense was, kon hulle die toets van God nie weerstaan nie. Elke menslike versinsel wat in die plek van die gebooie van God gestel word, sal waardeloos bevind word op die dag wanneer “...God elke werk [sal] bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.” (Prediker 12:14). DKvDE 426.1
Die vervanging van die gebooie van God met die voorskrifte van die mens het nie opgehou nie. Selfs onder Christene word daar instellings en gebruike gevind wat geen beter grondslag het as die tradisies van die vaders nie. Sulke instellings wat slegs op menslike gesag berus, het die gebooie wat deur God ingestel is vervang. Die mensdom kleef vas aan hul tradisies en eerbiedig hulle gewoontes en koester haat teenoor diegene wat poog om hulle op hul dwaling te wys. Deesdae, wanneer ons die taak opgedra word om die aandag op die gebooie van God en die getuienis van Jesus te vestig, ondervind ons dieselfde vyandigheid wat in die tyd van Christus geopenbaar is. Van die oorblyfselvolk van God staan geskryf: “En die draak was vertoornd op die vrou en hy het weggegaan om oorlog te voer met haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.” (Openbaring 12:17). DKvDE 426.2
Maar “...elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word.” In die plek van die gesag van die sogenaamde kerkvaders, beveel God ons om die Woord van die ewige Vader, die Here van hemel en aarde, aan te neem. Alleenlik hierin is die onvervalste waarheid. Dawid het gesê: “Ek is verstandiger as al my leermeesters, want U getuienisse is my bepeinsing. Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar U bevele.” (Psalm 119:99,100). Laat almal wat die gesag van die mens, die gebruike van die kerk, of die tradisies van die vaders aanvaar, ag gee op die waarskuwing wat in die woorde van Christus oorgedra word: “Tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” DKvDE 426.3