Die Koning van die Eeue

42/88

Hoofstuk 41—Die Krisis in Galiléa *

Toe Christus die volk belet het om Hom tot koning te verklaar, het Hy geweet dat ‘n keerpunt in Sy geskiedenis bereik is. Menigtes wat Hom op daardie dag tot koning wou verhef, sou die volgende dag teen Hom draai. Die teleurstelling van hul selfsugtige ambisie sou hul liefde in haat en hul lof in vervloeking verander. Maar tog het Hy niks gedoen om die krisis te voorkom nie. Hy het van die begin af geen hoop op wêreldse loon aan Sy volgelinge voorgehou nie. Aan een wat gekom het en begeer het om Sy dissipel te word, het Hy gesê: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy Sy hoof kan neerlê nie.” (Mattheus 8:20). As die mens die wêreld saam met Christus kon gehad het, sou menigtes trou aan Hom gesweer het; maar sulke diens kon Hy nie aanvaar nie. Baie van diegene wat tans aan Hom gebonde was, was aangetrokke tot die hoop op ‘n wêreldse koninkryk. Hulle moes nie mislei word nie. Hulle het nie die diep geestelike les in die vermenigvuldiging van die brode begryp nie. Dit moes duidelik aan hulle gemaak word. En hierdie nuwe openbaring sou ‘n groter toets meebring. DKvDE 406.1

Die wonderwerk van die brode is wyd en syd verkondig en vroeg die volgende oggend het mense na Betsáida gestroom om Jesus te sien. Hulle het in groot getalle oor land en see gekom. Diegene wat Hom die vorige aand verlaat het, het teruggekom in die verwagting dat hulle Hom nog daar sou vind; want daar was geen boot waarmee Hy na die anderkant kon oorvaar nie. Maar hul soektog was tevergeefs en baie het na Kapérnaum vertrek, steeds op soek na Hom. DKvDE 406.2

Intussen het Hy, na ‘n afwesigheid van slegs een dag, in Gennésaret aangekom. Toe dit bekend word het dat Hy aangekom het, het die mense “...in daardie hele omtrek rondgeloop en die wat ongesteld was, op bedde begin ronddra na die plek waar hulle hoor dat Hy is.” (Markus 6:55) DKvDE 406.3

Na ‘n tyd het Hy na die sinagoge gegaan en daar het diegene wat van Betsáida af gekom het, Hom gevind. Hulle het van Sy dissipels verneem hoe Hy oor die see gekom het. Die geweld van die storm, die baie ure van vergeefse geroei teen ongunstige winde, die verskyning van Christus wat op die water loop, hulle vrees, Sy gerusstellende woorde, die avontuur van Petrus en die gevolg daarvan, die skielike stilte van die storm en die landing van die boot, is alles getrou aan die verwonderde skare vertel. Baie was egter nie hiermee tevrede nie en het om Jesus saamgedrom en gevra: “Rabbi, wanneer het U hier gekom?” Hulle het gehoop om uit Sy eie mond meer van die wonderwerk te verneem. DKvDE 407.1

Jesus het nie hul nuuskierigheid bevredig nie. Hy het bedroef gesê: “Julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het.” Hulle het nie na Hom as gevolg van enige waardige motief gesoek nie; maar omdat hulle met die brode gevoed is, het hulle steeds gehoop om, deur by Hom te bly, stoflike voordele te ontvang. “Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe...” het die Heiland voortgegaan. Moenie net materiële voordele soek nie. Laat die hoofdoel nie wees om vir die huidige lewe te voorsien nie, maar strewe na geestelike voedsel; die wysheid wat tot die ewige lewe lei. Dit kan net die Seun van God gee; “...want Hom het God, die Vader, verseël.” DKvDE 407.2

Vir die oomblik was die belangstelling van die gehoor aangewakker. Hulle het uitgeroep: “Wat moet ons doen om die werke van God te volbring?” Hulle het baie en swaar werke uitgevoer om hulself by God aan te beveel; en hulle was gereed om van enige nuwe nakoming, waardeur hulle groter verdienste kon bekom, te hoor. Hulle vraag het beteken: Wat kan ons doen om die hemel te verdien? Wat is die prys wat ons moet betaal om die toekomstige lewe te verkry? DKvDE 407.3

“Jesus antwoord en sê vir hulle: Dit is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.” Die prys van die hemel is Jesus. Die weg na die hemel is deur geloof in “...die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Johannes 1:29). DKvDE 408.1

Maar die volk was nie geneë om hierdie verklaring van Goddelike waarheid te aanvaar nie. Jesus het die werk, wat deur die profesieë voorspel is, gedoen; maar hulle het nie die werk wat hulle, deur hul selfsugtige hoop as Sy werk voorgestel het, gesien nie. Christus het die skare inderdaad een keer met garsbrode gevoed; maar in die dae van Moses was Israel veertig jaar lank met manna gevoed en baie groter seëninge is van die Messias verwag. Hulle ontevrede harte wou weet waarom, as Jesus soveel wonderwerke kon verrig soos wat hulle aanskou het, Hy nie krag, gesondheid en rykdom aan Sy ganse volk kon gee, hulle van hul onderdrukkers bevry en hulle tot mag en eer verhef nie? Die feit dat Hy beweer het dat Hy die Gestuurde van God was en tog geweier het om Israel se koning te wees, was ‘n raaisel wat hulle nie kon begryp nie. Sy weiering is verkeerd vertolk. Baie mense het tot die gevolgtrekking gekom dat Hy nie Sy aansprake wou laat geld nie, omdat Hy self aan die Goddelike aard van Sy sending twyfel. So het hulle hul harte vir ongeloof oopgestel en die saad wat Satan gesaai het, het die vrugte in soort, in misverstand en afvalligheid gedra. DKvDE 408.2

Toe het ‘n rabbi half spottend gevra: “Watter teken doen U dan, sodat ons kan sien en U glo? Wat werk U? Ons vaders het manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet.” DKvDE 408.3

Die Jode het Moses as die gewer van die manna geëer, die lof aan die middelaar toegeskryf en Hom, deur wie die werk verrig is, uit die oog verloor. Hulle vaders het teen Moses gemurmureer en sy Goddelike sending betwyfel en ontken. In dieselfde gees het die kinders van Israel die Een wat die boodskap van God aan hulle oorgedra het, verwerp. “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie.” Die Gewer van die manna het tussen hulle gestaan. Dit was Christus self wat die Hebreërs deur die woestyn gelei en hulle daagliks met brood uit die hemel gevoed het. Daardie voedsel was ‘n tipe van die ware Brood uit die hemel. Die lewegewende Gees, wat uit die oneindige volheid van God voortvloei, is die ware manna. Jesus het gesê: “Die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.” DKvDE 408.4

Nog onder die waan dat dit stoflike voedsel was waarna Jesus verwys het, het sommige van Sy toehoorders uitgeroep: “Here, gee ons altyd hierdie brood.” Toe het Jesus duidelik gesê: “Ek is die brood van die lewe.” DKvDE 409.1

Die beeld wat Christus gebruik het, was aan die Jode bekend. Moses het onder die besieling van die Heilige Gees gesê dat “...die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.” (Deuteronomium 8:3). En die profeet Jeremia het geskryf: “Toe U woorde gevind is, het ek hulle opgeëet en U woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart.” (Jeremia 15:16). Die rabbi’s het self ‘n gesegde gehad dat die eet van brood in die geestelike betekenis daarvan, die bestudering van die wet was en die beoefening van goeie werke; en daar is dikwels gesê dat die hele Israel met die koms van die Messias gevoed sou word. Die leringe van die profete het die diep geestelike les van die wonderwerk met die brode duidelik gemaak. Dit was die les wat Christus in die sinagoge by sy toehoorders wou tuisbring. As hulle die Skrif verstaan het, sou hulle Sy woorde verstaan het toe Hy gesê het: “Ek is die brood van die lewe.” Slegs die dag vantevore was die groot menigte, toe hulle moeg en honger was, met die brood wat Hy gegee het gevoed. Soos hulle van daardie brood fisiese krag en verkwikking ontvang het, kan hulle geestelike krag en die ewige lewe van Christus ontvang. “Wie na My toe kom...” het Hy gesê, “...sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. Maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het en tog glo julle nie.” DKvDE 409.2

Hulle het Christus deur die getuienis van die Heilige Gees gesien, deur die openbaring van God aan hul siele. Die lewende bewyse van Sy mag was dag na dag voor hulle, maar tog het hulle nog ‘n teken gevra. Al sou Hy dit gegee het, sou hulle net so ongelowig soos voorheen gebly het. As hulle nog nie oortuig was deur wat hulle gesien en gehoor het nie, was dit nutteloos om nog wonderwerke aan hulle te toon. Ongeloof sal altyd ‘n verskoning vir twyfel vind en sal die mees positiewe bewys daarvan wegredeneer. DKvDE 410.1

Weereens het Christus ‘n beroep op daardie hardnekkige harte gedoen: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” Almal wat Hom in geloof ontvang het, het Hy gesê, sal die ewige lewe hê. Nie een sal verlore raak nie. Dit was nie vir die Fariseërs en Sadduseërs nodig om oor die hiernamaals te twis nie. Dit was nie vir mense nodig om langer in hopelose smart oor hul dooies te treur nie. “Dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” DKvDE 410.2

Maar die leiers van die volk het aanstoot geneem “...en hulle sê: Is Hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe sê Hy dan: Ek het uit die hemel neergedaal?” Hulle het vooroordeel probeer aanwakker deur minagtend na die nederige afkoms van Jesus te verwys. Hulle het neerhalend op Sy lewe as ‘n Galilese arbeider gesinspeel en Sy nederige, arm familie. Die aansprake van hierdie onopgeleide skrynwerker was volgens hulle, hul aandag onwaardig. En weens Sy geheimsinnige geboorte het hulle geïnsinueer dat Hy van twyfelagtige afkoms was en het sodoende die menslike omstandighede rondom Sy geboorte as ‘n klad op Sy geskiedenis voorgehou. DKvDE 410.3

Jesus het nie die geheim van Sy geboorte probeer verklaar nie. Hy het geen antwoord op hul vrae aangaande die feit dat Hy uit die hemel neergedaal het gegee nie, net soos wat Hy geen antwoord op die vrae oor hoe Hy die see oorgesteek gegee het nie. Hy het nie hul aandag op die wonderwerke wat Sy lewe gekenmerk het, gevestig nie. Hy het Hom vrywilliglik geledig en die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem. Maar Sy woorde en werke het Sy karakter geopenbaar. Almal wie se harte vir Goddelike lig oopgestel was, sou Hom as die “...Eniggeborene wat van die Vader kom-vol van genade en waarheid...” (Johannes 1:14) herken het. DKvDE 411.1

Die vooroordeel van die Fariseërs het dieper gelê as wat hul vrae aangedui het; die wortel daarvan was in die verdorwenheid van hul harte. Elke woord en daad van Jesus het antagonisme by hulle gewek; want die gees wat hulle gekoester het, kon geen weerklank in Hom vind nie. DKvDE 411.2

“Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe.” Niemand sal ooit na Christus kom nie, behalwe diegene wat op die Vader se liefde wat hulle nader trek reageer. Maar God trek alle harte na Hom en slegs diegene wat die aangetrokkenheid tot Hom weerstaan, sal weier om na Christus te kom. DKvDE 411.3

Met die woorde: “Hulle sal almal deur God geleer wees...” het Jesus na die profesie van Jesaja verwys: “En al jou kinders sal deur die Here geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.” (Jesaja 54:13). Die Jode het hierdie Skriftuur aan hulself toegeëien. Hulle het daarop geroem dat God hul Leermeester was. Maar Jesus het aan hulle getoon hoe ydel hierdie bewering was; want Hy het gesê: “Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe.” Slegs deur Christus kon hulle kennis van die Vader opdoen. Die mensdom kon die visie van Sy heerlikheid nie verduur nie. Diegene wat van God geleer het, het na die stem van Sy Seun geluister en in Jesus van Nasaret sou hulle Hom, wat deur Sy natuur en openbaring die Vader verklaar het, herken het. DKvDE 411.4

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.” Die Heilige Gees het deur die geliefde Johannes, wat na hierdie woorde geluister het, aan die gemeentes verklaar: “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en die lewe is in Sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe.” (1 Johannes 5:11,12). En Jesus het gesê: “Ek sal hom opwek in die laaste dag.” Christus het een in vlees met ons geword, sodat ons een in gees met Hom kon word. Dit is op grond van hierdie vereniging dat ons uit die graf sal voortkom, nie bloot as ‘n manifestasie van die mag van Christus nie, maar omdat Sy lewe deur ons geloof ons lewe geword het. Diegene wat Christus in Sy ware karakter sien en Hom in die hart ontvang, het die ewige lewe. Dit is deur die Gees dat Christus in ons woon; en die Gees van God, wat deur geloof in die hart ontvang is, is die begin van die ewige lewe. DKvDE 412.1

Die mense het Christus na die manna verwys wat hul vaders in die woestyn geëet het, asof die verskaffing van daardie voedsel ‘n groter wonderwerk was as wat Jesus gedoen het; maar Hy het aan hulle getoon hoe gering daardie gawe was in vergelyking met die seëninge wat Hy gegee het. Die manna kon net die aardse lewe onderhou; dit kon nie die naderende dood afweer of onsterflikheid verseker nie; maar die Brood uit die hemel sou die siel tot die ewige lewe voed. Die Heiland het gesê: “Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe. Dit is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende Brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie Brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid.” By hierdie beeld het Christus nog een bygevoeg. Slegs deur te sterwe kon Hy lewe aan die mens gee en in die woorde wat daarop gevolg het, het Hy op Sy dood as die middel tot verlossing gewys: Hy het gesê: “En die brood wat Ek sal gee, is My vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.” DKvDE 412.2

Die Jode was op die punt om die Pasga in Jerusalem ter herdenking van die nag van Israel se bevryding, toe die doodsengel die huise van Egipte getref het, te vier. In die paaslam wou God dat hulle die Lam van God moes aanskou en Hom, wat Homself vir die lewe van die wêreld gegee het, deur hierdie simbool moes ontvang. Maar die Jode het gekom om die simbool die belangrikste te maak en het die betekenis daarvan misgekyk. Hulle het nie die Here se liggaam onderskei nie. Dieselfde waarheid wat in die Paasfees gesimboliseer was, was in die woorde van Christus vervat. Maar hulle het dit steeds nie onderskei nie. DKvDE 413.1

Die rabbi’s het nou woedend uitgeroep: “Hoe kan Hy ons Sy vlees gee om te eet?” Hulle het voorgegee dat hulle Sy woorde net so letterlik verstaan soos Nikodemus toe hy gevra het: “Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word?” (Johannes 3:4). Tot ‘n sekere mate het hulle die betekenis van Christus se woorde begryp, maar hulle was nie bereid om dit te erken nie. Deur Sy woorde verkeerd te vertolk, het hulle gehoop om die mense teen Hom te beïnvloed. DKvDE 413.2

Christus het nie Sy simboliese voorstelling afgewater nie. Hy het die waarheid in nog sterker taal herhaal: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat My vlees eet en My bloed drink, het die ewige lewe en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want My vlees is waarlik spys en My bloed is waarlik drank. Wie My vlees eet en My bloed drink, bly in My en Ek in hom.” DKvDE 413.3

Om die vlees van Christus te eet en Sy bloed te drink, is om Hom as persoonlike Verlosser te ontvang, in die geloof dat Hy ons sondes vergewe en dat ons in Hom volkome is. Dit is deur Sy liefde te aanskou, dit te oorpeins en dit in te drink, dat ons Sy natuur deelagtig word. Wat voedsel vir die liggaam is, moet Christus vir die siel wees. Voedsel is van geen nut vir ons tensy ons dit eet, tensy dit deel van ons wese word nie. So is Christus vir ons ook van geen waarde as ons Hom nie as persoonlike Verlosser ken nie. ‘n Teoretiese kennis sal ons niks baat nie. Ons moet ons met Hom voed, Hom in die hart ontvang, sodat Sy lewe ons lewe kan word. Sy liefde en Sy genade, moet opgeneem word. DKvDE 414.1

Maar selfs hierdie beelde slaag nie daarin om die voorreg van die gelowige se verhouding met Christus voor te stel nie. Jesus het gesê: “Soos die lewende Vader My gestuur het en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.” Soos die Seun van God deur geloof in die Vader geleef het, so moet ons deur die geloof in Christus lewe. So volkome het Christus Hom aan die wil van God oorgegee, dat slegs die Vader in Sy lewe sigbaar was. Hoewel Hy in alle opsigte net soos ons versoek was, het Hy onbevlek deur die sonde wat Hom omring het, voor die wêreld gestaan. So moet ons ook oorwin, soos wat Christus oorwin het. DKvDE 414.2

Is jy ‘n volgeling van Christus? Dan is alles wat oor die geestelike lewe geskrywe is, vir jou geskryf en dit word verkry deur jouself met Jesus te verenig. Is jou ywer aan die kwyn? Het jou eerste liefde koud geword? Aanvaar weer die liefde wat Christus aanbied. Eet van Sy vlees, drink van Sy bloed en jy sal een met die Vader en die Seun word. DKvDE 414.3

Die ongelowige Jode het geweier om enigiets anders behalwe die letterlike betekenis in die Heiland se woorde te sien. Volgens die rituele-wet was hulle verbied om bloed te proe en hulle het Christus se taal nou as heiligskennis vertolk en onder mekaar daaroor gestry. Selfs baie van die dissipels het gesê: “Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” DKvDE 414.4

Die Heiland het hulle geantwoord: “Is dit julle tot ‘n aanstoot? Hoe dan as julle die Seun van die mens daarheen sien opvaar waar Hy tevore was? Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.” DKvDE 415.1

Die lewe van Christus wat lewe aan die wêreld gee, is in Sy woord. Deur Sy woord het Jesus siekes genees en demone uitgedryf; deur Sy woord het Hy die see stilgemaak en die dooies opgewek; en die volk het getuig dat daar krag in Sy woord was. Hy het die Woord van God gespreek soos Hy deur al die profete en leraars van die Ou Testament gespreek het. Die hele Bybel is ‘n openbaring van Christus en die Heiland wou die geloof van Sy volgelinge op die woord vestig. Wanneer Sy sigbare teenwoordigheid onttrek word, moet die woord hul bron van krag wees. Soos hul Meester, moet hulle lewe “...van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” (Mattheus 4:4). DKvDE 415.2

Soos ons fisiese lewe deur voedsel onderhou word, word ons geestelike lewe deur die Woord van God onderhou. En elke siel moet die lewe uit God se Woord, vir homself ontvang. Soos ons self moet eet om voedsel in te neem, moet ons die Woord vir onsself inneem. Ons moet dit nie slegs deur middel van ‘n ander se verstand ontvang nie. Ons moet die Bybel noukeurig bestudeer en God vir die hulp van die Heilige Gees vra, sodat ons Sy Woord kan verstaan. Ons moet een teksvers neem en ons daarop toespits om die gedagte wat God in daardie teks vir ons gee, vas te stel. Ons moet daardie gedagte oorpeins totdat dit ons eie word en ons weet wat die Here sê. DKvDE 415.3

Jesus se beloftes en waarskuwings is vir ons bedoel. So lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het sodat ek, deur in Hom te glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Die ervarings wat in die Woord van God weergegee word, moet ons ervarings wees. Gebede en belofte, voorskrif en waarskuwing, is vir ons bedoel. “Ek is met Christus gekruisig en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” (Galasiërs 2:20). Namate geloof dus die beginsels van waarheid opneem, word dit deel van die wese en die dryfkrag van die lewe. Die Woord van God, in die siel ontvang, vorm die denke en ontwikkel die karakter. DKvDE 416.1

Deur voortdurend met die oog van geloof na Jesus op te sien, sal ons versterk word. God sal die kosbaarste openbarings aan Sy honger, dorstige kinders maak. Hulle sal in Christus ‘n persoonlike Verlosser vind. Soos hulle hul met Sy Woord voed, vind hulle dat dit gees en lewe is. Die Woord vernietig die natuurlike aardse karakter en gee nuwe lewe in Christus Jesus. Die Heilige Gees kom as ‘n Trooster tot die siel. Deur die transformerende werking van Sy genade word die beeld van God in die dissipel weergegee; hy word ‘n nuwe wese. Liefde neem die plek van haat in en die hart ontvang die Goddelike gelykenis. Dit is wat dit beteken om te lewe “...van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” Dit is hoe die brood wat uit die hemel neerdaal geëet word. DKvDE 416.2

Christus het ‘n heilige, ewige waarheid aangaande die verhouding tussen Homself en Sy volgelinge gebesig. Hy het die karakter van diegene wat beweer dat hulle Sy dissipels is geken en Sy woorde het hul geloof getoets. Hy het verklaar dat hulle volgens Sy leer sal glo en optree. Almal wat Hom ontvang het, sal sy natuur deelagtig word en gelykvormig aan Sy karakter word. Dit het die versaking van hul gekoesterde ambisies behels en dit het die volle oorgawe van hulself aan Jesus vereis. Hulle is geroep om selfopofferend, sagmoedig en nederig van hart te word. Hulle moet die smal pad waarop die Man van Golgota geloop het volg, indien hulle in die gawe van die lewe en die heerlikheid van die hemel wil deel. DKvDE 416.3

Die toets was te groot. Die geesdrif van diegene wat probeer het om Hom met geweld te neem en koning te maak, het afgekoel. Hierdie gesprek in die sinagoge, het hulle gesê, het hulle oë geopen. Hulle was nou nie meer mislei nie. In hulle gedagtes was Sy woorde ‘n regstreekse belydenis dat Hy nie die Messias was nie en dat geen aardse voordele deur ‘n verbintenis met Hom sou materialiseer nie. Hulle het Sy wonderwerkende krag verwelkom; hulle was gretig om van siektes en lyding bevry te word; maar met Sy selfopofferende lewe wou hulle niks te make hê nie. Hulle het nie omgegee vir die geheimsinnige geestelike koninkryk waarvan Hy gepraat het. Die onopregtes en die selfsugtiges wat Hom gesoek het, het Hom nie langer begeer nie. As Hy nie Sy mag en invloed wou aanwend vir die verkryging van hulle vryheid van die Romeine nie, wou hulle niks met Hom te doen hê nie. DKvDE 417.1

Jesus het duidelik vir hulle gesê: “Daar is sommige van julle wat nie glo nie...” en bygevoeg: “Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur My Vader gegee is nie.” Hy wou hê dat hulle moes verstaan dat as hulle nie tot Hom aangetrokke was nie, was dit omdat hul harte nie oop vir die Heilige Gees was nie. “Die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” (1 Korinthiërs 2:14). Dit is deur geloof dat die siel die heerlikheid van Jesus aanskou. Hierdie heerlikheid is verborge totdat geloof deur die Heilige Gees in die siel opgewek word. DKvDE 417.2

Die openbare teregwysing van hulle ongeloof, het hierdie dissipels nog verder van Jesus vervreem. Hulle was baie ontevrede en met die doel om die Heiland te verwond en die kwaadwilligheid van die Fariseërs te bevredig, het hulle Hom die rug toegekeer en met minagting verlaat. Hulle het hul keuse gemaak-hulle het die vorm sonder die gees aangeneem, die dop sonder die kern. Hulle besluit is nooit weer omgekeer nie; want hulle het nie langer met Jesus gewandel nie. DKvDE 417.3

“Sy skop is in sy hand, en Hy sal Sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en Sy koring in die skuur saambring.” (Mattheus 3:12). Dit was een van die tye van suiwering. Deur die woorde van waarheid is die kaf van die koring geskei. Omdat hulle te ydel en eiegeregtig was om teregwysing te ontvang, te lief vir die wêreld om ‘n lewe van nederigheid te aanvaar, het baie mense Christus verlaat. Baie doen nog steeds dieselfde. Siele word vandag getoets net soos daardie dissipels in die sinagoge in Kapérnaum. Wanneer die waarheid aan die hart tuisgebring word, besef hulle dat hul lewens nie in ooreenstemming met die wil van God is nie. Hulle besef die noodsaaklikheid van ‘n algehele verandering in hul lewens; maar hulle is nie bereid om die self te verloën nie. Daarom word hulle kwaad wanneer hul sondes ontdek word. Hulle neem aanstoot en gaan weg net soos die dissipels Jesus verlaat en gemurmureer het: “Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” DKvDE 418.1

Lof en vleitaal sou aangenaam op hulle ore val; maar die waarheid was onwelkom; hulle wou dit nie hoor nie. Wanneer die skares Hom agtervolg en gevoed word en die uitroepe van triomf gehoor word, verhef hulle hul stem in lof; maar wanneer die deursoekende Gees van God hul sonde openbaar en hulle gebied om dit te versaak, keer hulle die rug op die waarheid en wandel nie meer met Jesus nie. DKvDE 418.2

Toe hierdie ontevrede dissipels van Christus afvallig geword het, het ‘n ander gees beheer van hulle geneem. Hulle kon niks aantreklik in Hom, wat hulle eens so interessant gevind het, vind nie. Hulle het Sy vyande, met wie hulle in harmonie in gees en werk was, opgesoek. Hulle het Sy woorde verkeerd vertolk, Sy verklarings vervals en Sy motiewe betwis. Hulle het met hierdie koers volgehou deur alle inligting wat moontlik teen Hom gebruik kon word op te gaar; en die verontwaardiging wat deur hierdie valse berigte opgewek was, het Sy lewe in gevaar gestel. DKvDE 418.3

Die nuus dat Jesus van Nasaret, deur Sy eie belydenis, nie die Messias was nie, het vinnig versprei. En so het die gety van populêre gevoel in Galiléa teen Hom gedraai, net soos dit ‘n jaar vantevore in Judea was. Helaas vir Israel! Hulle het hul Verlosser verwerp omdat hulle na ‘n oorwinnaar wat aan hulle wêreldse mag sou gee verlang het. Hulle wou die verganklike voedsel hê en nie die ewige lewe nie. DKvDE 419.1

Met ‘n verlangende hart het Jesus diegene wat Sy dissipels was van Hom, die Lewe en die Lig van die mensdom, sien weggaan. Die besef dat Sy ontferming nie waardeer word nie, Sy liefde onbeantwoord is, Sy genade versmaai is en Sy verlossing verwerp word, het Hom met onuitspreeklike hartseer vervul. Dit was sulke verwikkelinge wat Hom ‘n Man van smarte, waarmee Hy bekend was, gemaak het. DKvDE 419.2

Sonder om diegene wat Hom verlaat het te probeer verhinder, het Jesus na die twaalf gedraai en gesê: “Wil julle nie ook weggaan nie?” DKvDE 419.3

Petrus het geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons glo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.” DKvDE 419.4

“Na wie toe sal ons gaan?” Die leraars van Israel was slawe van formalisme. Die Fariseërs en Sadduseërs was voortdurend in stryd met mekaar. Om Jesus te verlaat sou beteken om tussen aanhangers van rituele en seremonies en ambisieuse mans wat hul eie eer gesoek het, te verval. Die dissipels het meer vrede en vreugde gevind sedert hulle Christus aangeneem het, as in hul vorige lewens. Hoe kon hulle terugkeer na diegene wat die Vriend van sondaars geminag en vervolg het? Hulle het lank op die Messias gewag; nou het Hy gekom en hulle kon nie van Sy teenwoordigheid wegdraai na diegene wat jag op Sy lewe gemaak het en hulle vervolg het omdat hulle Sy volgelinge geword het nie. DKvDE 419.5

“Na wie toe sal ons gaan?” Nie weg van die leer van Christus, Sy lesse van liefde en genade, na die duisternis van ongeloof en die goddeloosheid van die wêreld nie. Terwyl die Heiland deur baie mense wat Sy wonderlike werke gesien het, in die steek gelaat was, het Petrus die geloof van die dissipels uitgespreek: “U is die Christus.” Die gedagte om hierdie Anker vir hul siele te verloor, het hulle met vrees en pyn gevul. Om van ‘n Verlosser verlaat te wees, was om weerloos op ‘n donker en stormagtige see rond te dobber. DKvDE 420.1

Baie van die woorde en dade van Jesus kom vir die verganklike verstand geheimsinnig voor, maar elke woord en daad het ‘n bepaalde doel in die werk vir ons verlossing gehad; elkeen was bereken om sy eie resultaat te lewer. As ons Sy voornemens kon begryp, sou dit alles belangrik, volledig en in harmonie met Sy sending vir ons wees. DKvDE 420.2

Hoewel ons nie nou die werke en weë van God kan begryp nie, kan ons Sy groot liefde, wat die grondslag van al Sy handelinge met die mens vorm, begryp. Wie in noue voeling met Jesus leef, sal baie van die verborgenheid van die Godsvrug verstaan. Hy sal die genade wat teregwys herken, wat die karakter toets en die oordenkinge van die hart aan die lig bring. DKvDE 420.3

Toe Jesus die ondersoekende waarheid wat so baie van Sy dissipels laat omdraai het voorgehou het, het Hy geweet wat die uitwerking van Sy woorde sou wees; maar Hy het ‘n doel van genade gehad om te vervul. Hy het voorsien dat elkeen van Sy geliefde dissipels in die uur van versoeking ernstig getoets sou word. Sy foltering in Getsémané, Sy verraad en kruisiging, sou vir hulle ‘n baie groot beproewing wees. Indien daar geen toets vooraf was nie, sou baie mense wat slegs deur selfsugtige beweegredes aangespoor was, aan hulle gebonde gewees het. Toe hulle Here voor die regbank veroordeel is; toe die spottende skare wat Hom as hul koning toegejuig het, Hom uitgejou en beledig het; toe die skreeuende skare roep: “Kruisig Hom!”; toe hulle wêreldse ambisies teleurgestel is, het hierdie selfsugtige volgelinge, deur hul trou aan Jesus te verloën, ‘n bittere, hartseer-belaaide smart oor die dissipels gebring, bo en behalwe hul hartseer en teleurstelling oor die vernietiging van hul hoogste verwagtinge. In daardie uur van duisternis kon die voorbeeld van diegene wat van Hom weggedraai het, moontlik ander saam met hulle geneem het. Maar Jesus het hierdie krisis teweeggebring terwyl Hy nog deur Sy persoonlike teenwoordigheid, steeds die geloof van Sy ware volgelinge kon versterk. DKvDE 420.4

Barmhartige Heiland, wat met die volle wete van die verskriklike lot wat op Hom gewag het, met deernis die pad vir die dissipels gelykgemaak, hulle hul vir die kroon van beproewing voorberei en hulle vir die finale toets versterk het! DKvDE 421.1