Die Koning van die Eeue

41/88

Hoofstuk 40—'n Nag op die Meer *

Die mense het op die grasvlakte, in die skemer van die lente-aand, die voedsel wat Christus voorsien het, gesit en eet. Die woorde wat hulle dié dag gehoor het, het soos die stem van God na hulle gekom. Die werke van genesing wat hulle aanskou het, kon slegs deur Goddelike krag verrig word. Maar die wonder van die brode het elkeen in daardie groot menigte aangespreek. Almal was deelagtig in die weldadigheid daarvan. In die dae van Moses het God Israel met manna in die woestyn gevoed; en wie was dit wat hulle vandag hier gevoed het anders as Hy aangaande Wie Moses voorspel het? Geen menslike mag kon uit vyf garsbrode en twee klein vissies voedsel skep wat voldoende was om duisende honger mense te voed nie. En hulle het vir mekaar gesê: “Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom.” DKvDE 398.1

Hierdie oortuiging het deur die dag toegeneem. Hierdie kroondaad was die versekering dat die langverwagte Verlosser in hulle midde is. Die hoop van die mense het al hoër gestyg. Dit is Hy wat Judea in ‘n aardse paradys sal omskep, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Hy kan elke begeerte bevredig. Hy kan die mag van die gehate Romeine verbreek. Hy kan Juda en Jerusalem bevry. Hy kan die soldate wat in die geveg gewond is, genees. Hy kan hele leërs van voedsel voorsien. Hy kan die nasies verower en aan Israel die langverwagte heerskappy gee. DKvDE 398.2

In hul geesdrif was die volk dadelik gereed om Hom tot koning te kroon. Hulle het gesien dat Hy geen poging aanwend om aandag op Homself te vestig of eer te soek nie. In hierdie opsig het Hy wesenlik van die priesters en owerstes verskil en hulle het gevrees dat Hy nooit sy aanspraak op die troon van Dawid sal opeis nie. Hulle het saam beraadslaag en ooreengekom om Hom met geweld te neem en tot koning van Israel aan te proklameer. Die dissipels het die skare ondersteun deur die troon van Dawid as die regmatige erfdeel van hul Meester te verklaar. Volgens hulle was dit die beskeidenheid van Christus wat veroorsaak het dat Hy hierdie eer weier. Laat die volk dan hul Verlosser verhef. Laat die arrogante priesters en owerstes gedwing word om Hom, wat met die gesag van God beklee is, te eer. DKvDE 398.3

Hulle het gretig gereël om hul doel te verwesenlik; maar Jesus het gesien wat aan die gang is en besef, soos hulle nie kon nie, wat die gevolg van so ‘n stap sou wees. Selfs op daardie oomblik het die priesters en owerstes Sy lewe gesoek. Hulle het Hom beskuldig dat Hy die volk van hulle af weggelok het. Geweld en opstand sou op ‘n poging om Hom op die troon te plaas volg en die werk van die geestelike koninkryk sou belemmer word. Hierdie beweging moes sonder vertraging onder beheer gebring word. Toe het Jesus Sy dissipels geroep en hulle gebied om die boot te neem en dadelik na Kapernaum terug te keer en Hom agter te laat om die mense weg te stuur. DKvDE 399.1

Nog nooit het dit so onmoontlik geblyk om ‘n opdrag van Christus uit te voer nie. Die dissipels het lank op ‘n populêre beweging gehoop om Jesus op die troon te plaas; hulle kon die gedagte dat al hierdie geesdrif tevergeefs was, nie aanvaar nie. Die menigtes wat bymekaargekom het om die Pasga te vier, was angstig om die nuwe Profeet te sien. Vir Sy volgelinge was dit die gulde geleentheid om hul geliefde Meester op die troon van Israel te vestig. In die gloed van hierdie nuwe ambisie, was dit moeilik vir hulle om weg te gaan en Jesus alleen op daardie verlate oewer agter te laat. Hulle het begin om protes aan te teken, maar Jesus het nou met gesag gepraat wat Hy nog nooit vantevore teenoor hulle geopenbaar het nie. Hulle het geweet dat verdere teëstand nutteloos sou wees en in stilte weggedraai na die see. DKvDE 399.2

Toe het Jesus die skare beveel om uiteen te gaan; en Sy houding was so beslis dat hulle dit nie durf waag het om nie te gehoorsaam nie. Die woorde van lof en verheffing het op hul lippe gesterf. Hulle is in hul poging om nader te kom en Hom vas te gryp in hul voetspore gestuit en die blye, gretige uitdrukkings op hul gesigte het verdwyn. Tussen die skare was daar manne met ‘n sterk wil en vasberadenheid; maar Jesus se vorstelike houding en Sy paar stille woorde van gesag, het die opskudding tot bedaring gebring en hulle planne is verydel. Hulle het Hom as ‘n Mag bo alle aardse gesag erken en sonder teenkanting het hulle hul onderwerp. DKvDE 400.1

Nadat Jesus alleen agtergebly het, het Hy “...na die berg gegaan om te bid.” Hy het ure lank by God gepleit, nie vir Homself nie, maar die gebede was vir die mense. Hy het vir krag om die Goddelike aard van Sy sending aan die mense te openbaar gebid, sodat Satan nie hul begrip mag verblind en hul oordeel sou verdraai nie. Die Heiland het geweet dat die dae van Sy persoonlike bediening op aarde byna verstreke was en dat min mense Hom as hul Verlosser sou aanvaar. Met foltering en sielestryd het Hy vir Sy dissipels gebid. Hulle sou swaar beproef word. Hulle lank-gekoesterde hoop wat op ‘n gewilde dwaling gebaseer was, sou op die mees pynlikste en vernederendste wyse verydel word. In stede van Sy verheffing tot die troon van Dawid, sou hulle Sy kruisdood aanskou. Dit sou inderwaarheid Sy kroning wees. Maar hulle het dit nie besef nie en daarom sou hulle onder hewige versoekings, wat vir hulle moeilik sou wees om as sulks te erken, kom. Sonder die Heilige Gees om die verstand te verlig en die begrip te verbreed, sou die dissipels hulle geloof versaak. Dit was pynlik vir Jesus dat hul opvattings van Sy koninkryk tot so ‘n mate tot wêreldse selfverheerliking en eer beperk was. Hulle het swaar op Sy hart gelê en Hy het Sy smeekgebede met bittere foltering en trane uitgestort. DKvDE 400.2

Die dissipels het nie dadelik weggevaar soos Jesus hulle beveel het nie. Hulle het ‘n rukkie gewag in die hoop dat Hy na hulle sou kom. Maar toe hulle sien dat dit vinnig besig was om donker te word, het hulle in die skuit geklim en “...oor die see gevaar na Kapérnaum.” Hulle het Jesus met ontevrede gemoedere agtergelaat, meer ongeduldig met Hom as ooit tevore sedert hulle Hom as hul Here erken het. Hulle het gemurmureer omdat hulle nie toegelaat was om Hom tot koning te verklaar nie. Hulle het hulself verkwalik omdat hulle so geredelik aan Sy opdrag toegegee het. Hulle het geredeneer dat indien hulle meer volhard het, hulle moontlik hul doel sou bereik het. DKvDE 401.1

Ongeloof het van hulle verstand en harte besit geneem. Eersug het hulle verblind. Hulle het geweet dat die Fariseërs Jesus haat en hulle was gretig om Hom verhef te sien, soos hulle gedink het Hy moes wees. Om met ‘n Leermeester wat magtige wonderwerke kon verrig verenig te wees en steeds as misleiers beledig word, was ‘n beproewing wat hulle nie kon verduur nie. Moes hulle altyd as volgelinge van ‘n valse profeet beskou word? Sou Christus nooit Sy gesag as koning laat geld nie? Waarom het Hy, wat oor sulke mag beskik, dan nie Sy ware karakter openbaar en die weg vir hulle minder pynlik gemaak nie? Waarom het Hy Johannes die Doper nie van ‘n gewelddadige dood gered nie? So het die dissipels geredeneer totdat hulle groot geestelike duisternis oor hulself gebring het. Hulle het gevra: Kan Jesus dalk ‘n bedrieër wees, soos die Fariseërs beweer? DKvDE 401.2

Die dissipels het daardie dag die wonderlike werke van Christus aanskou. Dit het gelyk asof die hemel op die aarde neergedaal het. Die herinnering aan daardie kosbare, glorieryke dag moes hulle met geloof en hoop gevul het. As hulle uit die oorvloed van hul harte aangaande hierdie dinge met mekaar gesels het, sou hulle nie in versoeking gekom het nie. Maar hul teleurstelling het hul gedagtes oorheers. Die woorde van Christus: “Maak die brokstukke bymekaar ... sodat niks verlore gaan nie...” is verontagsaam. Dit was ure van groot seën vir die dissipels, maar hulle het dit alles vergeet. Hulle het te midde van onstuimige waters verkeer. Hul gedagtes was stormagtig en onredelik en die Here het hulle iets anders gegee om hul siele te teister en hul gedagtes in beslag te neem. God doen dit dikwels as mense laste en moeilikhede vir hulself skep. Dit was nie vir die dissipels nodig om probleme te skep nie. Die gevaar was alreeds voor die deur. DKvDE 401.3

'n Hewige storm het hulle oorval en hulle was nie daarop voorbereid nie. Dit was ‘n skielike kontras, want die dag was volmaak; en toe die storm hulle tref, was hulle bang. Hulle het van hul ontevredenheid, hul ongeloof en ongeduld vergeet. Almal het geworstel om te verhoed dat die boot sink. Dit was net ‘n kort afstand oor die see van Betsáida af na die plek waar hulle verwag het om Jesus te ontmoet en in gewone weer sou die reis maar ‘n paar uur geduur het; maar hulle het nou al hoe verder van hul doelwit weggedryf. Hulle het tot die vierde nagwaak met die roeispane geworstel. Toe het die moeë mans die stryd gewonne gegee. In storm en duisternis het die see hulle hul eie hulpeloosheid laat besef en hulle het verlang na die teenwoordigheid van hul Meester. DKvDE 402.1

Jesus het nie van hulle vergeet nie. Die Wag op die oewer het gesien hoe die vreesbevange manne teen die storm worstel. Hy het Sy dissipels nie vir ‘n oomblik uit die oog verloor nie. Met die grootste sorg het Sy oë die stormgeteisterde boot met sy kosbare vrag dopgehou; want hierdie manne sou die lig van die wêreld word. Soos ‘n moeder haar kind met tere liefde dophou, so het die deernisvolle Meester Sy dissipels dopgehou. Toe hul harte in bedwang gebring is, hul onheilige ambisie getemper is en hulle in nederigheid om hulp gebid het, is dit aan hulle geskenk. DKvDE 402.2

Op dieselfde oomblik wat hulle geglo het dat hulle verlore was, het ‘n ligstraal ‘n geheimsinnige figuur wat op die water na hulle toe aankom geopenbaar. Maar hulle het nie geweet dat dit Jesus was nie. Hulle het die Een wat hulle tot hulp gekom het, vir ‘n vyand aangesien. Skrik het hulle oorweldig. Die hande wat die spane met spiere van yster vasgeklem het, het hul greep verloor. Die boot is weerloos deur die golwe rondgeslinger; alle oë was op hierdie visioen van ‘n man wat op die wit bedekte kruin van die golwe van die skuimende see aangeloop kom, gevestig. DKvDE 402.3

Hulle het gedink dit was ‘n spook wat hul ondergang voorspel en het bevrees geskreeu. Jesus het voorgegee dat Hy verby hulle gaan; maar hulle het Hom herken en uitgeroep en Hom om hulp gesmeek. Hul geliefde Meester het Hom na hulle gedraai en Sy stem het hulle vrees gestil: “Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie.” DKvDE 403.1

Toe hulle hierdie wonderlike feit besef, was Petrus byna buite homself van vreugde. Asof hy dit nog skaars kon glo, het hy uitgeroep: “Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom.” En Hy sê: “Kom!” DKvDE 403.2

Terwyl sy oë op Jesus gevestig was, het Petrus veilig op die water geloop; maar toe hy met selfvoldaanheid na sy metgeselle in die boot terugkyk, was sy oë van die Heiland afgewend. Die wind het geloei. Die golwe was hoog en het direk tussen hom en die Meester gekom; en hy het bang geword. Vir ‘n oomblik was Christus vir sy sig verberg en sy geloof het geswig. Hy het begin sink. Maar terwyl die golwe die dood uitspel, het Petrus sy oë van die onstuimige waters afgewend, sy blik op Jesus gevestig en geroep: “Here, red my!” Onmiddellik het Jesus die uitgestrekte hand vasgegryp en gesê: “Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” DKvDE 403.3

Sy aan sy, met Petrus se hand in dié van sy Meester, het hulle saam in die boot geklim. Maar Petrus was nou ingetoë en stil. Hy het geen rede gehad om oor sy metgeselle te roem nie, want deur ongeloof en selfverheffing het hy byna sy lewe verloor. Toe hy sy oë van Jesus afgewend het, het hy gestruikel en in die golwe weggesink. DKvDE 403.4

Hoe dikwels, wanneer ons in die moeilikheid verkeer, is ons soos Petrus! Ons kyk na die golwe, in plaas daarvan om ons oë op die Verlosser gevestig te hou. Ons voete gly en die trotse waters vloei oor ons siele. Jesus het nie vir Petrus gesê om na Hom te kom sodat hy moes vergaan nie; Hy roep ons nie om Hom te volg en laat ons dan in die steek te nie. “Wees nie bevrees nie...” sê Hy, “...want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere-hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland.” (Jesaja 43:1-3). DKvDE 404.1

Jesus het die karakter van sy dissipels geken. Hy het geweet hoe swaar hul geloof beproef sou word. Met hierdie voorval op die see wou Hy aan Petrus sy eie swakheid openbaar-om aan hom te toon dat sy veiligheid voortdurend van Goddelike mag afhanklik was. Te midde van die storms van versoeking sou hy slegs veilig kon loop indien hy homself volkome wantrou en op die Heiland staatmaak. Dit was toe Petrus gedink het dat hy sterk was, dat hy swak was; en eers toe hy sy swakheid raakgesien het, kon hy sy behoefte aan afhanklikheid van Christus besef. As hy die les geleer het wat Jesus hom met daardie ervaring op die see wou leer, sou hy nie, toe die groot toets oor hom gekom het, gefaal het nie. DKvDE 404.2

Dag vir dag onderrig God Sy kinders. Deur hul daaglikse lewensomstandighede, berei Hy hulle voor om hul rol op die groter verhoog waartoe Hy hulle in Sy voorsienigheid geroep het, te speel. Dit is die uitvloeisel van die daaglikse toets wat hul oorwinning of nederlaag in die lewe se groot krisis bepaal. DKvDE 404.3

Diegene wat nie hul voortdurende afhanklikheid van God besef nie, sal deur versoeking oorkom word. Ons mag dink dat ons voete tans op veilige grond staan en dat ons nooit sal struikel nie. Ons mag met vertroue sê: Ek weet in Wie ek glo; niks kan my geloof in God en Sy Woord laat wankel nie. Maar Satan beplan om van ons oorerflike en gekultiveerde karaktereienskappe gebruik te maak en ons oë vir ons eie behoeftes en gebreke te verblind. Slegs deur ons eie swakheid te besef en ons oë onwrikbaar op Jesus gevestig te hou, kan ons veilig wandel. DKvDE 404.4

Jesus het skaars in die boot geklim, of die wind het gaan lê, “...en dadelik het die skuit by die land aangekom waar hulle na toe gaan.” Die nag van verskrikking is deur die lig van die dagbreek opgevolg. Die dissipels en ander wat ook aan boord was, het met dankbare harte voor die voete van Jesus gekniel en gesê: “Waarlik, U is die Seun van God!” DKvDE 405.1