Die Koning van die Eeue

40/88

Hoofstuk 39—“Gee Julle vir Hulle lets om te Eet” *

Christus het met Sy dissipels na ‘n afgesonderde plek onttrek, maar hierdie seldsame oomblikkie van rustige stilte is spoedig verbreek. Die dissipels het gedink dat hulle hul na ‘n plek onttrek het waar hulle nie gesteur sou word nie; maar onmiddellik nadat die skare die Goddelike Leermeester vermis het, het hulle gevra: “Waar is Hy?” Sommige van hulle het gesien in watter rigting Christus en Sy dissipels gevaar het. Baie is oor land om Hom daar te ontmoet, terwyl ander in hul bote oor die water gevolg het. Die Pasga was op hande en van heinde en verre het groepe pelgrims op pad na Jerusalem bymekaargekom om Jesus te sien. Hul getalle het toegeneem totdat daar vyfduisend mans byeen was, afgesien van vroue en kinders. Voordat Christus die oewer bereik het, het ‘n skare Hom reeds ingewag. Maar Hy het ongemerk aan wal gegaan en ‘n kort tydjie saam met die dissipels deurgebring. DKvDE 388.1

Vanaf die heuwel het Hy op die malende menigte neergekyk en Sy hart is met deernis gevul. Al was Hy onderbreek en van Sy rus beroof, was Hy nie ongeduldig nie. Hy het ‘n groter nood raakgesien wat Sy aandag vereis het toe Hy die mense steeds sien aankom. “Hy het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was.” Hy het Sy skuilplek verlaat en ‘n geskikte plek gevind vanwaar Hy hulle kon bedien. Hulle het geen hulp van die priesters en owerstes ontvang nie; maar die helende waters van die lewe het uit Christus gevloei terwyl Hy die skare die weg van die verlossing geleer het. DKvDE 388.2

Die mense het na die woorde van genade wat so vrylik oor die lippe van die Seun van God gevloei het geluister. Hulle het die genadige woorde, so eenvoudig en so duidelik dat dit soos die balsem van Gilead vir hulle siel was, aangehoor. Sy Goddelike hand het aan die sterwendes vreugde en lewe gebring en verligting en gesondheid vir diegene wat siek was. Hierdie dag was vir hulle soos hemel op aarde en hulle was heeltemal onbewus van hoe lank dit was vandat hulle laas iets te ete gehad het. DKvDE 388.3

Uiteindelik was die dag ver heen. Die son het in die weste gesak en steeds het die mense getalm. Jesus het die hele dag sonder voedsel of rus gewerk. Hy was bleek van moegheid en honger en die dissipels het by Hom aangedring om te rus. Maar Hy kon Homself nie van die menigte wat om Hom saamgedrom het onttrek nie. DKvDE 389.1

Die dissipels het uiteindelik na Hom gekom en daarop aangedring dat die mense ter wille van hulleself weggestuur word. Baie het van ver af gekom en het sedert die oggend niks geëet nie. Hulle kon moontlik in die omliggende stede en dorpe voedsel koop. Maar Jesus het gesê: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” En terwyl Hy hom na Filippus wend, vra hy: “Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet?” Dit het Hy gesê om die geloof van die dissipel te toets. Filippus het oor die see van koppe heen gekyk en gedink hoe onmoontlik dit was om voedsel te voorsien om in die behoeftes van so ‘n menigte te voldoen. Hy het geantwoord dat tweehonderd pennings se brood nie naastenby genoeg sou wees om onder hulle te verdeel sodat elkeen ‘n ietsie kry nie. Jesus het toe gevra hoeveel kos daar onder die skare gevind kon word. Andreas het geantwoord: “Hier is ‘n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir so baie mense?” Jesus het beveel dat dit na Hom gebring moet word. Toe beveel Hy die dissipels om die mense, om orde te handhaaf, in groepe van vyftig of honderd op die gras te laat sit en sodat almal kon getuig van wat Hy nou gaan doen. Nadat dit gedoen is, het Jesus die voedsel geneem en “...nadat Hy opgekyk het na die hemel, seën Hy dit en breek dit en gee dit aan die dissipels om dit aan die skare voor te sit.” “En hulle het geëet en is almal versadig, en van wat vir hulle van die brokstukke oorgebly het, is daar twaalf mandjies vol opgetel.” DKvDE 389.2

Hy wat die volk die weg na vrede en geluk geleer het, was net so begaan oor hul fisiese behoeftes as oor hul geestelike behoeftes. Die mense was moeg en swak. Daar was moeders met babas in hul arms en klein kindertjies wat aan hul rokke vasgeklou het. Baie het ure lank gestaan. Hulle het so intens in Christus se woorde belanggestel dat hulle nie eens daaraan gedink het om te gaan sit nie en die skare was so groot dat daar gevaar was dat hulle mekaar sou vertrap. Jesus wou hulle kans gee om te rus en het hulle beveel om te gaan sit. Daar was baie gras op die plek en almal kon gemaklik rus. DKvDE 390.1

Christus het nooit ‘n wonderwerk verrig behalwe om in ‘n ware noodsaaklike behoefte te voorsien nie en elke wonderwerk was van so ‘n aard dat dit die mense na die Boom van die lewe gelei het, waarvan die blare vir die genesing van die nasies is. Die eenvoudige voedsel wat deur die dissipels se hande uitgedeel is, het baie kosbare lesse bevat. Dit was eenvoudige voedsel wat voorsien is; die visse en garsbrode was die daaglikse voedsel van die vissersvolk rondom die see van Galiléa. Christus kon ‘n feesmaal aan die volk voorgesit het, maar voedsel wat slegs tot bevrediging van eetlus sou dien, sou vir hulle geen les ten goede meegebring het nie. Deur hierdie les het Christus hulle geleer dat die natuurlike dinge wat God vir die mens voorsien het, verdorwe was. En nog nooit het mense enige luukse feesmaal wat vir die bevrediging van verdorwe smaak voorberei is, so geniet soos wat hierdie volk die rus en die eenvoudige voedsel wat Christus so ver van die woongebiede af aan hulle voorsien het, geniet het nie. DKvDE 390.2

As mense vandag eenvoudige gewoontes, in ooreenstemming met die natuurwette, soos Adam en Eva in die begin, sou volg, sou daar oorvloedige voorsiening vir al die behoeftes van die ganse mensdom wees. Daar sou minder denkbeeldige begeertes gewees het en meer geleentheid om volgens God se weë te werk. Maar selfsug en toegewing aan onnatuurlike smaak het sonde en ellende, weens oordadigheid aan die een kant en gebrek aan die ander kant, in die wêreld ingebring. DKvDE 390.3

Jesus het nie mense na Hom getrek deur hul begeerte na weelde te bevredig nie. Vir daardie groot menigte, moeg en honger na ‘n lang, opwindende dag, was die eenvoudige spys nie net ‘n versekering van Sy mag nie, maar ook van Sy tere sorg vir hulle in die alledaagse behoeftes van die lewe. Die Heiland het nie aan Sy volgelinge die weelde van die wêreld belowe nie; hul voedsel kan eenvoudig en gering wees; hulle lot mag dalk deur armoede beperk wees; maar Hy het Sy woord gegee dat in hulle behoeftes voorsien sal word en Hy het dít belowe wat oneindig beter as wêreldse goed is, naamlik die blywende vertroosting van Sy eie teenwoordigheid. DKvDE 391.1

Deur die vyfduisend te voed, het Jesus die sluier van die natuur gelig en die mag wat voortdurend tot ons beswil uitgeoefen word geopenbaar. In die opbrengs van die oeste van die aarde, verrig God elke dag ‘n wonderwerk. Deur natuurlike middele word dieselfde werk verrig soos wat vir die voeding van die menigte bewerk is. Mense berei die grond voor en saai die saad, maar dit is lewe van God wat die saad laat ontkiem. Dit is God se reën en lug en sonskyn wat veroorsaak dat “...eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die volle koring in die aar...” (Markus 4:28) groei. Dit is God wat elke dag miljoene uit die oeslande van die aarde voed. Mense word opgeroep om saam met God in die versorging van die graan en die voorbereiding van die brood te werk en as gevolg hiervan verloor hulle die Goddelike bemiddeling uit die oog. Hulle gee nie aan God die eer van Sy heilige Naam nie. Die werking van Sy mag word aan natuurlike oorsake of menslike bemiddeling toegeskryf. Die mens word in die plek van God verheerlik en Sy genadegawes word tot selfsugtige gebruike verdraai en word ‘n vervloeking in plaas van ‘n seën. God wil dit alles verander. Hy wil hê dat ons afgestompte sintuie opgewek sal word om Sy barmhartige goedhartigheid te onderskei en Hom vir die werking van Sy krag te verheerlik. Dit is Sy wil dat ons Hom in Sy gawes moet erken, sodat dit vir ons, soos wat Hy beoog het, ‘n seën kan wees. Dit was om hierdie doel te bereik dat die wonderwerke van Christus verrig is. DKvDE 391.2

Nadat die skare gevoed was, was daar ‘n oorvloed van voedsel oor. Maar Hy wat al die middele van oneindige mag tot Sy bevel gehad het, het gesê: “Maak die brokstukke bymekaar wat oorgeskiet het, sodat niks verlore gaan nie.” Hierdie woorde het meer beteken as slegs die versameling van die brokstukke in die mandjies. Die les was tweërlei. Niks moes vermors word nie. Ons moet geen fisiese voordeel deur die vingers laat glip nie. Ons moet niks verwaarloos wat tot voordeel van ‘n mens kan strek nie. Laat alles wat die nood van die hongeres van die aarde sal verlig bymekaar gemaak word. En dieselfde versigtigheid moet in geestelike dinge aan die dag gelê word. Toe die mandjies met die brokstukke bymekaar gemaak is, het die mense aan hul vriende tuis gedink. Hulle wou hulle in die brood wat Christus geseën het, laat deel. Die inhoud van die mandjies is onder die gretige skare uitgedeel en is na die omliggende streke weggedra. Diegene wat op die fees was, moes dus die brood wat uit die hemel neergedaal het aan ander gee om die honger van die siel te bevredig. Hulle moes die wonderlike dinge wat hulle van God geleer het oorvertel. Niks moes verlore gaan nie. Nie een woord aangaande hul ewige verlossing, moes nutteloos op die grond val nie. DKvDE 392.1

Die wonderwerk van die brode leer aan ons ‘n les van afhanklikheid van God. Toe Christus die vyfduisend gevoed het, was daar nie voedsel byderhand nie. Hy het oënskynlik oor geen middele beskik nie. Hier was Hy, met vyfduisend mans, behalwe die vroue en kinders, in die wildernis. Hy het nie die groot menigte genooi om Hom te volg nie; hulle het sonder uitnodiging of opdrag gekom; maar Hy het geweet dat nadat hulle vir so lank na Sy onderrig geluister het, hulle honger en moeg sou wees; want Hy het saam met hulle ‘n behoefte aan voedsel gehad. Hulle was ver van die huis af en die nag was aan die kom. Baie van hulle het nie die middele gehad om voedsel te koop nie. Hy wat, ter wille van hulle, veertig dae in die woestyn gevas het, sou hulle nie toelaat om honger na hul huise terug te keer nie. Die voorsienigheid van God het Jesus geplaas waar Hy was; Hy was van Sy hemelse Vader afhanklik vir die middele om die nood te verlig. DKvDE 392.2

En wanneer ons in die nood is, moet ons op God vertrou. Ons moet wysheid en oordeelkundigheid in elke lewensdaad aan die dag lê, sodat ons nie deur ons roekelose optredes onsself in moeilike omstandighede plaas nie. Ons moet ons nie in moeilikheid begeef deur die middele wat God voorsien het te verwaarloos en die vermoëns wat Hy aan ons gegee het te misbruik nie. Christus se werkers moet sy opdragte stiptelik gehoorsaam. Die werk is van God en as ons ander wil seën, moet Sy planne gevolg word. Die eie-ek kan nie die middelpunt wees nie; die eie-ek kan geen eer ontvang nie. As ons volgens ons eie idees beplan, sal die Here ons aan ons eie foute oorlaat. Maar wanneer ons, deur Sy aanwysings te volg, in die nood beland, sal Hy ons verlos. Ons moenie moed verloor nie, maar moet in elke noodgeval by Hom, wat oor onuitputlike hulpbronne beskik, hulp soek. Ons sal dikwels deur moeilike omstandighede omring word en dan moet ons met die volste vertroue op God staatmaak. Hy sal elke siel wat in verwarring gebring word deur die weg van die Here te probeer bewandel, bewaar. DKvDE 393.1

Christus het ons deur die profeet beveel “...dat jy jou brood breek vir hom wat honger het...” en die “...neergeboë siel versadig...” “...as jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee...” en “...ellendiges, swerwelinge in die huis inbring.” (Jesaja 58:7¬10). Hy het ons beveel: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.” (Markus 16:15). Maar hoe dikwels sak ons moed en laat ons geloof ons in die steek wanneer ons sien hoe groot die behoefte en hoe gering die middele in ons hande is. Soos Andreas wat na die vyf garsbrode en twee vissies gekyk het, roep ons uit: “Maar wat is dit vir so baie mense?” Dikwels aarsel ons en is nie bereid om alles te gee wat ons het nie, bevrees om te bestee en self uitgeput te raak. Maar Jesus het ons beveel: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Sy opdrag is ‘n belofte; en dit word deur dieselfde mag wat die menigte langs die see gevoed het gerugsteun. DKvDE 393.2

In Christus se daad om in die fisiese behoeftes van ‘n honger skare te voorsien, word ‘n diep geestelike les vir al Sy werkers vervat. Christus het van die Vader ontvang; Hy het aan die dissipels gegee; hulle het aan die skare uitgedeel; en die volk het onder mekaar gedeel. So sal almal wat met Christus verenig is, die Brood van die Lewe, die hemelse voedsel van Hom ontvang en dit aan ander oordra. DKvDE 394.1

In volkome vertroue op God het Jesus die klein hoeveelheid brode geneem; en hoewel daar slegs ‘n geringe porsie vir Sy eie familie van dissipels was, het Hy hulle nie genooi om te eet nie, maar het Hy aan hulle uitgedeel en gesê dat hulle die volk moes bedien. Die voedsel het in Sy hande vermeerder; en die hande van die dissipels wat na Christus, self die Brood van die Lewe, uitgesteek was, was nooit leeg nie. Die klein hoeveelheid was vir almal voldoende. Nadat in die behoeftes van die mense voorsien is, is die brokke bymekaargemaak en het Christus en sy dissipels saam van die kosbare voedsel, deur die hemel voorsien, geëet. DKvDE 394.2

Die dissipels was die kanaal van kommunikasie tussen Christus en die mense. Dit behoort ‘n groot aanmoediging vir Sy dissipels van vandag te wees. Christus is die groot Middelpunt, die Bron van alle krag. Sy dissipels moet hul voorrade van Hom ontvang. Die mees intelligentste en mees geestelike, kan slegs skenk namate hy ontvang. Vanself kan hulle niks vir die behoefte van die siel voorsien nie. Ons kan slegs dít wat ons van Christus ontvang gee; en ons kan slegs ontvang namate ons aan andere uitdeel. As ons aanhou om te gee sal ons aanhou om te ontvang; hoe meer ons gee, hoe meer sal ons ontvang. Ons kan dus voortdurend glo, vertrou, ontvang en meedeel. DKvDE 394.3

Die werk om die koninkryk van God uit te brei sal voortgaan, al wil dit voorkom asof dit stadig vorder en getuig dit van onmoontlikhede wat die weg versper. Die werk is van God en Hy sal die middele voorsien en die helpers, opregte ernstige dissipels stuur, wie se hande ook met voedsel vir die hongerige menigte gevul sal word. God vergeet nie van diegene wat in liefde arbei om die woord van die lewe aan verlore siele uit te deel en wat op hulle beurt hul hande uitsteek vir voedsel vir ander honger siele nie. DKvDE 395.1

In ons werk vir God bestaan die gevaar dat ons grootliks sal staatmaak op wat die mens met sy talente en vermoë kan uitrig. Sodoende verloor ons die een Meesterwerker uit die oog. Te dikwels slaag die werker van Christus nie daarin om sy persoonlike verantwoordelikheid te besef nie. Hy loop gevaar om sy las op organisasies te plaas, in stede daarvan om op Hom wat die bron van alle krag is staat te maak. Dis ‘n groot fout om in die werk van God, op menslike wysheid of getalle te vertrou. Suksesvolle werk vir Christus hang nie soseer van getalle of talent af nie, maar van die suiwerheid van doel, die ware eenvoud van opregte, afhanklike geloof. Persoonlike verantwoordelikhede moet gedra word, persoonlike pligte opgeneem en persoonlike pogings moet vir diegene wat Christus nie ken nie, aangewend word. Werk volgens jou vermoë in plaas daarvan om die verantwoordelikheid op iemand af te skuif wat na jou mening, ryker bedeeld is as jy. DKvDE 395.2

Indien die vraag in jou hart opkom: “Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet?” laat jou antwoord nie uit ongeloof spruit nie. Toe die dissipels die opdrag van die Verlosser hoor, “Gee julle vir hulle iets om te eet...” het al die struikelblokke voor hulle opgedoem. Sal ons na die dorpe gaan om voedsel te koop, het hulle gevra. So ook vandag, wanneer die kinders van die Here behoefte aan die Brood van die Lewe het, vra hulle: Sal ons iemand van ver af ontbied om hulle te kom voed? Maar wat het Jesus gesê? “Laat die mense gaan sit...” en Hy het hulle daar gevoed. Wanneer jy dus deur siele in nood omring word, weet dan dat Christus daar is. Hou gemeenskap met Hom. Bring jou garsbrode na Jesus toe. DKvDE 395.3

Die middele tot ons beskikking mag dalk nie toereikend vir die werk wees nie; maar as ons in geloof voortgaan en in die algenoegsame krag van God glo, sal oorvloedige hulpbronne voor ons oopgaan. As die werk van God is, sal Hy self die middele vir die uitvoering daarvan voorsien. Hy sal opregte, eenvoudige vertroue in Hom beloon. Die bietjie wat verstandig en oordeelkundig in diens van die Here van die hemel aangewend word, sal in die daad van die uitdeling daarvan toeneem. In die hand van Christus het die geringe hoeveelheid voedsel nie afgeneem voordat die honger van die menigte versadig was nie. As ons na die Bron van alle krag gaan, met ons hande van geloof uitgestrek om te ontvang, sal ons in ons werk onderskraag word, selfs in die mees formidabele omstandighede en sal ons in staat gestel word om die Brood van die lewe aan ander te gee. DKvDE 396.1

Die Here sê: “Gee, en aan julle sal gegee word.” (Lukas 6:38). “Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai... En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk. Soos geskrywe is: DKvDE 396.2

“Hy het uitgestrooi, Hy het aan die armes gegee, Sy geregtigheid bly tot in ewigheid. DKvDE 396.3

“En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem, sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk.” (2 Korinthiërs 9:6-11). DKvDE 397.1