Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 38—Kom Rus ‘n Bietjie *
Met die terugkeer van hul sendingreis, het die apostels, “...by Jesus saamgekom en Hom alles vertel wat hulle gedoen sowel as wat hulle geleer het. En Hy sê vir hulle: Kom julle self in die eensaamheid na ‘n verlate plek en rus ‘n bietjie. Want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie.” DKvDE 381.1
Die dissipels het na Jesus gekom en Hom alles vertel. Hul intieme verhouding met Hom het hulle die vrymoedigheid gegee om gunstige asook ongunstige ervarings, hul vreugde om die vrugte van hul arbeid te sien en hul hartseer oor hul mislukkings, hul foute en hul swakhede aan Hom oor te dra. Op hul eerste sendingtog as evangeliste het hulle foute begaan en terwyl hulle Christus openlik van hul wedervarings vertel het, het Hy besef dat hulle nog baie onderrig nodig het. Hy het ook opgelet dat hul arbeid hulle uitgeput gelaat het en dat hulle rus nodig het. DKvDE 381.2
Maar waar hulle nou was, het hulle nie oor die nodige privaatheid beskik nie “...want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie.” Die mense het agter Christus aan gestroom, gretig om genees te word en gretig om na Sy woorde te luister. Baie het tot Hom aangetrokke gevoel, want Hy was vir hulle soos die Fontein van alle seëninge. Baie wat om Jesus saamgedrom het om genees te word, het Hom as hul Verlosser aangeneem. Baie ander, wat op daardie stadium weens die Fariseërs bang was om Hom te bely, het met die uitstorting van die Heilige Gees tot bekering gekom en het Hom voor woedende priesters en owerstes as die Seun van God erken. DKvDE 381.3
Maar nou het Christus na stille afsondering verlang waar Hy met Sy dissipels kon verkeer; want daar was baie wat Hy vir hulle wou sê. Op hul sending het hulle die toets van konflik ondergaan en weerstand in verskillende vorms teëgekom. Tot dusver het hulle Christus oor alles geraadpleeg; maar hulle was vir ‘n geruime tyd alleen en soms was hulle baie onseker oor wat hulle te doen staan. Hulle het baie aanmoediging in hul werk gevind; want Christus het hulle nie sonder Sy Gees uitgestuur nie en deur geloof in Hom het hulle wonderwerke verrig; maar nou het hulle die Brood van die Lewe nodig gehad. Hulle het nodig gehad om na ‘n plek van afsondering te onttrek waar hulle gemeenskap met Jesus kon hê en onderrig vir hul toekomstige werk kon ontvang. DKvDE 382.1
“En Hy sê vir hulle: Kom julle self in die eensaamheid na ‘n verlate plek en rus ‘n bietjie.” Christus is vol teerheid en medelye teenoor almal in Sy diens. Hy wou aan Sy dissipels toon dat God nie opoffering verlang nie, maar barmhartigheid. Hulle het met hulle hele hart vir die mense gewerk en dit het hul liggaamlike en geestelike krag uitgeput. Dit was hul plig om te rus. DKvDE 382.2
Omdat die dissipels die sukses van hul arbeid gesien het, het hulle gevaar geloop om die krediet daarvoor vir hulself toe te eien en geestelike hoogmoed te koester en sodoende onder die versoekings van Satan te swig. ‘n Groot werk het op hulle gewag en eerstens moes hulle leer dat hul krag nie in hulself nie, maar in God gesetel was. Soos Moses in die woestyn van Sinai, soos Dawid in die heuwels van Judea, of Elia by die spruit Krit, moes die dissipels van die toneel van hul aktiwiteite wegkom om gemeenskap met Christus, met die natuur en met hul eie harte te hê. DKvDE 382.3
Terwyl die dissipels op hul sendingreis weg was, het Jesus ander stede en dorpe besoek en die evangelie van die koninkryk verkondig. Dit was ongeveer hierdie tyd dat Hy tyding van die dood van Johannes die Doper ontvang het. Hierdie gebeurtenis het die uiteinde van waarheen Hyself op pad was, weer helder onder Sy aandag gebring. Die skaduwees het dig oor Sy pad geval. Priesters en rabbi’s was op die uitkyk om Sy dood te bewerkstellig, spioene het op Sy spoor gebly en van alle kante het die komplotte vir Sy ondergang toegeneem. Die nuus aangaande die apostels se prediking deur die hele Galiléa het Herodes bereik en sy aandag op Jesus en Sy werk gevestig. “Hierdie man is Johannes die Doper...” het hy gesê, “...hy het uit die dode opgestaan...” en hy het ‘n begeerte uitgespreek om Jesus graag te sien. Herodes het voortdurend gevrees dat ‘n opstand heimlik uitgevoer kon word met die doel om hom te onttroon en die Romeinse juk van die Joodse nasie te verbreek. Onder die mense was daar ‘n wydverspreide gees van ontevredenheid en opstand. Dit was duidelik dat Christus se openbare werk in Galiléa nie langer sou kon voortgaan nie. Die tonele van Sy lyding het nader gekom en Hy het verlang om vir ‘n rukkie van die gedrang van die skare weg te kom. DKvDE 382.4
Met bedroefde harte het die dissipels van Johannes sy verminkte lyk na die graf gedra. Toe het hulle “...gegaan en dit aan Jesus vertel.” Hierdie dissipels was afgunstig op Christus toe dit blyk asof Hy die mense van Johannes af weglok. Hulle het Hom saam met die Fariseërs beskuldig toe Hy saam met die tollenaars by Mattheus se fees aangesit het. Hulle het aan Sy Goddelike sending getwyfel, omdat Hy Johannes die Doper nie bevry het nie. Maar noudat hul leraar dood was en hulle in hul groot hartseer na vertroosting verlang het en na leiding aangaande hul toekomstige werk gesoek het, het hulle na Jesus gekom en hul belange by Syne ingewerp. Hulle het ook ‘n verposing van stille gemeenskap met die Verlosser nodig gehad. DKvDE 383.1
Naby Betsáida, aan die noordelike oewer van die meer, was ‘n eensame streek, nou in volle prag met die groen lower van die lente, wat ‘n welkome toevlug vir Jesus en Sy dissipels gebied het. Hulle het met hul boot oor die water na hierdie plek gevaar. Hier sou hulle weg wees van die besige paaie en die rustelose gewoel van die stad. Die natuurtonele op sigself het rus gebied; ‘n verandering wat goed vir die sintuie was. Hier kon hulle na die woorde van Christus luister sonder die woedende onderbrekings, tussenwerpsels en beskuldigings van die skrifgeleerdes en Fariseërs. Hier kon hulle ‘n kort rukkie van kosbare gemeenskap met hul Here geniet. DKvDE 383.2
Die verposing van Christus en Sy dissipels, was nie vir selfbevrediging nie. Hulle het nie die tyd van afsondering aan plesier gewy nie. Hulle het oor die werk van God gesels en die moontlikheid om die werk met groter effektiwiteit te verrig. Die dissipels was saam met Christus en het Hom verstaan; Hy het nie nodig gehad om met hulle in gelykenisse te praat nie. Hy het hulle foute reggestel en die regte wyse om die volk te nader aan hulle verduidelik. Hy het die kosbare skatte van Goddelike waarheid vir hulle meer volledig uiteengesit. Hulle is deur Goddelike krag aangevuur en met hoop en moed besiel. DKvDE 384.1
Hoewel Jesus wonderwerke kon verrig en Sy dissipels ook bemagtig het om dieselfde te doen, het Hy Sy uitgeputte diensknegte beveel om uit die stad te gaan en te gaan rus. Hy het nie die noodsaaklikheid van onophoudelike arbeid op Sy dissipels afgedwing toe Hy gesê het dat die oes groot is maar die arbeiders min nie, maar gesê: “Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in Sy oes mag uitstuur.” (Mattheus 9:38). God het aan elkeen sy taak, na gelang van sy vermoë, aangewys (sien Efesiërs 4:11-13) en Hy wou nie hê dat ‘n paar mense onder swaar verantwoordelikheid gebuk moes gaan, terwyl andere geen las vir siele gedra het nie. DKvDE 384.2
Christus se woorde van medelye word vandag net so seker soos destyds aan Sy dissipels, aan Sy werkers gerig,. “Kom julle self in die eensaamheid ... en rus ‘n bietjie...” sê Hy aan diegene wat uitgeput en vermoeid is. Dit is nie verstandig om altyd onder die spanning van werk en opgewondenheid te verkeer nie, selfs nie eers om in die geestelike behoeftes van mense te voorsien nie; want op hierdie wyse word persoonlike vroomheid verwaarloos en word die krag van verstand, siel en liggaam ooreis. Selfverloëning word van die dissipels van Christus vereis en opofferings moet gemaak word; maar daar moet ook sorg gedra word dat Satan nie voordeel uit menslike swakheid trek en die werk van God skade ly nie. DKvDE 384.3
Volgens die rabbi’s het die som van godsdiens daarop neergekom dat hulle voortdurend bedrywig moes wees. Hulle het op uiterlike aktiwiteite staatgemaak om hul voortreflike vroomheid te betoon. Sodoende het hulle hul siele van God geskei en selfgenoegsaam geword. Dieselfde gevare bestaan steeds. Namate aktiwiteite toeneem en die mens op enige wyse sukses vir God behaal, bestaan die gevaar om op menslike planne en metodes te vertrou. Daar is ‘n neiging om minder te bid en minder geloof te hê. Soos die dissipels, loop ons dan die gevaar om ons afhanklikheid van God uit die oog te verloor en poog ons om deur ons aktiwiteite gered te word. Ons moet voortdurend na Jesus opsien en besef dat dit Sy krag is wat die werk verrig. Terwyl ons ernstig vir die verlossing van verlorenes moet arbei, moet ons ook tyd neem vir oordenking, gebed en die bestudering van die Woord van God. Slegs die werk wat met baie gebed verrig word en deur die verdienste van Christus geheilig is, sal uiteindelik bewys dat dit effektief ten goede was. DKvDE 385.1
Geen ander lewe was ooit so volgepak met arbeid en verantwoordelikheid as dié van Jesus nie; maar hoe dikwels het Hy in gebed verkeer! Hoe konstant was Sy gemeenskap met God nie! In die geskiedenis van Sy aardse lewe, word die volgende verslae telkens gevind: “En vroeg in die more, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ‘n eensame plek vertrek en daar gebid.” (Markus 1:35). “En groot menigtes het bymekaargekom om te luister en deur Hom van hulle siektes genees te word. Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid.” (Lukas 5:15, 16). “En Hy het daardie dae uitgegaan na die berg om te bid en die nag in die gebed tot God deurgebring.” (Lukas 6:12) DKvDE 385.2
In ‘n lewe wat geheel en al tot die voordeel van ander gewy was het die Verlosser dit nodig gevind om Hom van die hoofweë en die menigte wat Hom elke dag gevolg het, te onttrek. Hy moes wegkom van ‘n lewe van onophoudelike bedrywighede en kontak met menslike behoeftes, om na afsondering en ononderbroke gemeenskap met sy Vader te soek. As een met ons, wat in ons behoeftes en swakhede gedeel het, was Hy geheel en al van God afhanklik en op ‘n afgesonderde plek van gebed, het Hy na Goddelike krag gesoek sodat Hy versterk met Sy plig en beproewings kon voortgaan. In ‘n sondige wêreld het Jesus sieleworsteling en stryd geken. In gemeenskap met God kon Hy die smarte wat Hom neergedruk het uitstort. Hier het Hy vertroosting en vreugde gevind. DKvDE 386.1
Deur Christus het die uitroep van die mensdom die Vader van oneindige ontferming bereik. As mens het Hy Hom met smeekbede na die troon van God gewend, totdat Sy mensheid met ‘n hemelse stroom gelaai was wat die menslike met die Goddelike verbind het. Deur voortdurende gemeenskap het Hy lewe van God ontvang, sodat Hy lewe aan die wêreld kon gee. Sy ervaring moet ook ons s'n wees. DKvDE 386.2
“Kom julle self in die eensaamheid...” sê Hy aan ons. As ons op Sy woord ag slaan, behoort ons sterker en nuttiger te wees. Die dissipels het Jesus opgesoek en Hom alles vertel; Hy het hulle aangemoedig en onderrig. As ons vandag tyd sou neem om na Jesus te gaan en Hom van ons behoeftes te vertel, sal Hy ons nie teleurstel nie; Hy sal aan ons regterhand wees om ons te help. Ons het meer eenvoud en meer vertroue in ons Verlosser nodig. Hy wat genoem word: “Sterke God, Ewige Vader, Vredevors...” Hy van wie geskryf is: “Die heerskappy is op Sy skouer...” (Jesaja 9:5); Hy is die wonderbare Raadsman. Ons word uitgenooi om wysheid van Hom te vra. Hy sal “...aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt.” (Jakobus 1:5) DKvDE 386.3
Almal wat deur God opgelei word, sal ‘n lewe wat nie by die wêreld, sy gewoontes of sy gebruike inpas nie openbaar; almal moet persoonlik ervaar wat dit is om ‘n kennis van die wil van God op te doen. Ons moet Hom afsonderlik tot die hart hoor praat. Wanneer elke ander stem stil is en ons in stilte voor Hom wag, word die stem van God duideliker in die stilte. Hy sê vir ons: “Laat staan en weet dat Ek God is.” (Psalm 46:11). Alleenlik hier kan ware rus gevind word. En dit is die effektiewe voorbereiding vir almal wat vir God arbei. Te midde van die haastige gedrang en die spanning van die intensiewe aktiwiteite van die lewe, sal die siel wat só verkwik is, met ‘n atmosfeer van lig en vrede omring word. Die lewe sal ‘n geur versprei en ‘n Goddelike krag, wat die harte van mense sal bereik, openbaar. DKvDE 387.1