Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 5—Die Toewyding*
Ongeveer veertig dae na die geboorte van Christus, het Josef en Maria Hom na Jerusalem geneem om Hom aan die Here toe te wy en ‘n offer te bring. Dit was die gebruik volgens die Joodse wet en as plaasvervanger vir die mens moes Christus in alle opsigte aan die wet voldoen. Hy was alreeds besny as gelofte van sy gehoorsaamheid aan die wet. DKvDE 29.1
As offerande vir die moeder het die wet ‘n jaaroud lam as brandoffer voorgeskryf en ‘n jong duif of tortelduif vir ‘n sondoffer. Maar die wet het voorsiening gemaak dat indien die ouers te arm was om ‘n lam te bring, ‘n paar tortelduiwe of twee jong duiwe, een vir die brandoffer en die ander vir die sondoffer, aanvaarbaar sou wees. DKvDE 29.2
Die offers aan die Here moes sonder gebrek wees. Hierdie offers het Christus verteenwoordig en hieruit is dit duidelik dat Jesus self sonder enige liggaamlike gebrek was.Hy was die “...lam sonder gebrek en vlekkeloos.” (1 Petrus 1:19). Liggaamlik is Hy deur geen gebrek misvorm nie; Sy liggaam was sterk en gesond. En regdeur Sy lewe het Hy in ooreenstemming met die wette van die natuur geleef. Fisies, sowel as geestelik, was Hy ‘n voorbeeld van wat God vir die mens deur gehoorsaamheid aan Sy wet beplan het. DKvDE 29.3
Die toewyding van die eersgeborene het sy ontstaan in die vroegste tye gehad. God het belowe om die Eersgeborene van die hemel te gee om sondaars te red. Hierdie geskenk moes in elke huis deur die toewyding van die eersgebore seun erken word. Hy moes aan die priesterskap, as verteenwoordiger van Christus onder die mense toegewy word. DKvDE 29.4
Met die verlossing van Israel uit Egipte is die toewyding van die eersgeborene weer voorgeskryf. Terwyl die kinders van Israel in Egipte in slawerny verkeer het, het die Here aan Moses opdrag gegee om na Farao, die koning van Egipte, te gaan en te sê: “So spreek die Here: My eersgebore seun is Israel. Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe.” (Exodus 4:22,23). DKvDE 30.1
Moses het die boodskap oorgedra; maar die trotse koning se antwoord was: “Wie is die Here na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie.” (Exodus 5:2). Die Here het deur wonderwerke en tekens vir sy volk opgetree en verskriklike oordele oor Farao laat kom. Uiteindelik is die engel van die vernietiging beveel om die eersgeborene van mens en dier onder die Egiptenaars te dood. Om die Israeliete te spaar, het hulle opdrag gekry om die bloed van ‘n geslagte lam aan hul deurposte te smeer. Elke huis moes so gemerk word, sodat wanneer die engel op sy sending van dood kom, hy die huise van die Israeliete sou oorslaan. DKvDE 30.2
Na Sy oordeel oor Egipte het die Here aan Moses gesê: “Heilig vir My al die eersgeborenes ... van mense en van diere, dit is myne.” (Exodus 13:2) “Want ... op die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek al die eersgeborenes in Israel vir My geheilig, mense sowel as diere; hulle moet Myne wees. Ek is die Here.” (Numeri 3:13). Na die instelling van die tabernakeldiens het die Here die stam van Levi in die plek van die eersgeborenes van die hele Israel gekies om in die heiligdom te dien. Maar die eersgeborenes moes nog steeds as die Here se eiendom beskou word en moes deur ‘n losprys teruggekoop word. DKvDE 30.3
So is besondere betekenis aan die wet vir die aanbieding van die eersgeborenes gegee. Terwyl dit ‘n herdenking van die Here se wonderbaarlike verlossing van die kinders van Israel was, was dit ‘n voorafskaduwing van ‘n groter verlossing wat deur die eniggebore Seun van God bewerkstellig sou word. Soos die bloed aan die deurposte die eersgeborenes van Israel gered het, so het die bloed van Christus krag om die wêreld te red. DKvDE 30.4
Watter groot betekenis het die toewyding van Christus dus nie gehad nie! Maar die priester het nie deur die voorhangsel gesien nie; hy kon nie die verborgenheid daaragter lees nie. Die toewyding van babas was ‘n alledaagse gebeurtenis. Dag na dag het die priester die loskoopgeld van kindertjies wat aan die Here voorgestel is ontvang. Dag na dag het hy die roetine van sy werk gevolg, terwyl hy min aandag aan die ouers en kinders geskenk het, tensy hy ‘n aanduiding van rykdom of hoë aansien by die ouers bespeur het. Josef en Maria was arm; en toe hulle met hul kindjie gekom het, het die priesters slegs ‘n man en ‘n vrou gesien, geklee soos Galileërs, in die eenvoudigste drag. Daar was niks aan hulle voorkoms wat die aandag getrek het nie en hulle het slegs die offer van die armer klasse gebring. DKvDE 31.1
Die priester het die plegtige seremonie van sy amptelike plig uitgevoer. Hy het die Kind in sy arms geneem en Hom voor die altaar opgehou. Nadat hy Hom aan sy moeder teruggegee het, het hy die naam “Jesus” in die register van eersgeborenes opgeteken. Min het hy geweet, toe die Baba in sy arms gelê het, dat dit die Majesteit van die hemel, die Erekoning, was. Die priester het nie geweet dat hierdie Baba die Een was van wie Moses geskryf het: “Die Here julle God sal vir julle ‘n profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek.” (Handelinge 3:22) Hy het nie geweet dat hierdie Kindjie die Een was van Wie Moses gevra het om Sy heerlikheid te aanskou nie. Maar Een groter as Moses het in die priester se arms gelê; en toe hy die naam van die Kind ingeskryf het, het hy die Naam van die Een wat die grondslag van die hele Joodse offerstelsel was opgeteken. Daardie Naam sou die doodvonnis vir daardie stelsel wees, want die stelsel van offerandes en offergawes het uitgedien geraak; die tipe het byna die anti-tipe bereik, die skaduwee die voorwerp. DKvDE 31.2
Die heerlikheid van God het uit die heiligdom verdwyn, maar die heerlikheid voor Wie engele hulle neerbuig is in die Kind van Betlehem versluier. Hierdie Baba was onbewustelik die beloofde saad na wie die eerste altaar voor die poort van Eden verwys het. Dit was Silo, die Vredevors. Dit was Hy wat Homself aan Moses as die EK IS verklaar het. Dit was Hy wat in die wolk-en vuurkolom die Leidsman van Israel was. het. Dit was Hy van Wie die profete lankal voorspel het. Hy was die Begeerte van alle nasies, die Spruit en die nageslag van Dawid, die Skittering en Mórester. Die naam van hierdie hulpelose Baba, wat op die rol van Israel ingeskryf is en Hom as ons broer verklaar het, was die Hoop vir die gevalle mensdom. Die kind vir wie die loskoopgeld betaal is, was Hy wat die losprys vir die sondes van die hele wêreld sou betaal. Hy was die ware “...Priester oor die huis van God...” (Hebreërs 10:21), die hoof van “...'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie” (Hebreërs 7:24), die Voorspraak “...aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte.” (Hebreërs 1:3) DKvDE 32.1
Geestelike dinge word geestelik beoordeel. In die tempel is die Seun van God aan die werk waarvoor Hy gekom het gewy.Die priester het Hom soos enige ander kind gesien. Maar hoewelhy niks ongewoon gesien of ervaar het nie, is die daad van God om sy Seun aan die wêreld te bied, erken. Hierdie geleentheid het nie verbygegaan sonder enige erkenning van Christus nie:“En daar was ‘n man in Jerusalem met die naam van Simeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom. En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie.” DKvDE 32.2
Toe Simeon die tempel binnekom, sien hy ‘n gesin wat hul eersgebore Seun voor die priester gebring het. Hul voorkoms was armoedig; maar Simeon het die influisteringe van die Gees verstaan en was diep onder die indruk dat die Baba wat aan die Here voorgestel word, die Troos van Israel is, die Een wat hy verlang het om te sien. Vir die verbaasde priester het Simeon soos iemand in verrukking gelyk. Die Kind was reeds aan Maria teruggegee en toe neem hy Hom in sy arms en wy Hom aan God terwyl ‘n ongekende vreugde sy siel vervul. Terwyl hy die Baba na die hemel oplig, sê hy: “Nou laat U, Here, U dienskneg gaan in vrede volgens U woord, omdat my oë U heil gesien het, wat U berei het voor die oë van al die volke-'n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van U volk Israel.” DKvDE 32.3
Die gees van die profesie was vaardig oor hierdie man van God en terwyl Josef en Maria daar staan, verwonderd oor sy woorde, het hy hulle geseën en aan Maria gesê: “Kyk, hierdie Kind is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word-ja, ‘n swaard sal deur jou eie siel gaan-sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.” DKvDE 33.1
Anna, ‘n profetes, het ook binnegekom en Simeon se getuienis aangaande Christus bevestig. Terwyl Simeon gepraat het, is haar gelaat met die heerlikheid van God verlig en sy het haar innige dank betuig dat dit aan haar gegun was om Christus die Here te sien. DKvDE 33.2
Hierdie nederige aanbidders het die profesieë nie tevergeefs bestudeer nie. Maar hoewel diegene wat posisies as owerstes en priesters in Israel beklee het, ook die kosbare profesieë voor oë gehad het, het hulle nie in die weë van die Here gewandel nie en hul oë was nie oop om die Lig van lewe te aanskou nie. DKvDE 33.3
So is dit steeds. Gebeurtenisse waarop die aandag van die ganse hemel toegespits is, gaan ongemerk vir die godsdienstige leiers en aanbidders in die huis van God verby. Die mens erken die geskiedkundige Christus, terwyl hulle van die lewende Christus wegdraai. Christus, wat ons in Sy Woord tot selfopoffering roep, word in die arme en lydende wat om hulp smeek en in die regverdige saak wat armoede en geswoeg en smaad behels, vandag nie meer geredelik as wat Hy tweeduisend jaar gelede aanvaar is nie. DKvDE 33.4
Maria het oor die omvattende en verreikende profesie van Simeon gepeins. Toe sy so na die Kindjie in haar arms kyk en terugdink aan die woorde van die herders van Betlehem, was sy met dankbare vreugde en heerlike hoop vervul. Simeon se woorde het haar herinner aan die profetiese woorde van Jesaja: “Daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isaï, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here... En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.” (Jesaja 11:1-5). “Die volk wat in duisternis wandel, het ‘n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ‘n lig geskyn ... Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.” (Jesaja 9:1-5). DKvDE 34.1
Tog het Maria nie die sending van Christus begryp nie. Simeon het van Hom geprofeteer as ‘n Lig om die heidene te verlig sowel as ‘n heerlikheid vir Israel. So het die engele die Heiland se geboorte as ‘n boodskap van vreugde vir alle volke aangekondig. God wou die eng Joodse opvatting van die Messias se werk regstel. Hy het begeer dat die mensdom Hom nie net as die Redder van Israel sou aanskou nie, maar as die Verlosser van die wêreld. Maar baie jare sou verbygaan voordat selfs die moeder van Jesus Sy sending sou verstaan. DKvDE 34.2
Maria het na die regering van die Messias op die troon van Dawid uitgesien, maar sy het nie die doop van lyding waardeur dit gewin moes word, gesien nie. Deur Simeon is geopenbaar dat die Messias geen onbelemmerde toegang in die wêreld sou hê nie. In sy woorde aan Maria: “...'n swaard sal deur jou eie siel gaan...” het God in Sy tere ontferming aan die moeder van Jesus 'n aanduiding van die angs wat sy reeds om sy onthalwe begin ervaar het, gegee. DKvDE 34.3
“Kyk...” het Simeon gesê, “...hierdie Kind is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word.” Wie weer wil opstaan, moet eers val. Ons moet op die Rots val en gebreek word voordat ons in Christus opgehef kan word. Die eie ek moet onttroon en die hoogmoed verneder word voordat ons die heerlikheid van die geestelike koninkryk kan bekom. Die Jode wou nie die eer wat deur vernedering bereik word aanvaar nie. Daarom wou hulle nie hul Verlosser aanvaar nie. Hy was ‘n teken wat hulle weerspreek het. DKvDE 35.1
“Sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.” In die lig van die Verlosser se lewe word die hart van almal, van die Skepper tot die vors van duisternis, geopenbaar. Satan het God as selfsugtig en onderdrukkend voorgestel, as Een wat alles eis en niks teruggee nie, wat die diens van Sy skepsele vir Sy eie heerlikheid vereis en geen opoffering tot hul voordeel maak nie. Maar die gawe van Christus openbaar die Vader se hart. Dit getuig dat die gedagtes wat God teenoor ons koester “...gedagtes van vrede en nie van onheil... ” (Jeremia 29:11) is nie. Dit verklaar dat hoewel God se haat vir sonde so sterk soos die dood is, Sy liefde vir die sondaar sterker as die dood is. Hy het onderneem om ons te verlos en sal niks, hoe kosbaar ook al, wat vir die voleinding van Sy werk benodig word ontsien nie. Geen waarheid wat vir ons redding nodig is, word weerhou nie, geen wonderwerk van genade word nagelaat en geen Goddelike hulpmiddel word onaangewend gelaat nie. Guns op guns en gawe op gawe word vir ons opgehoop. Die hele hemelse skatkamer is oop vir diegene wat Hy soek om te red. Hy het die rykdom van die heelal bymekaargemaak en al die hulpbronne van oneindige mag oopgestel en alles in die hande van Christus geplaas en gesê: “Dit is alles vir die mens. Gebruik hierdie gawes om hom te oortuig dat daar geen groter liefde as Myne in die hemel of op aarde is nie. Hy sal sy hoogste geluk vind deur My lief te hê.” DKvDE 35.2
By die kruis van Golgota het liefde en selfsug lynreg teenoor mekaar gestaan. Dit was die hoogtepunt van hul manifestasie. Christus het slegs gelewe om te troos en te seën en deur Hom om die lewe te bring, het Satan die kwaadwilligheid van sy haat jeens God geopenbaar. Hy het duidelik bewys dat die ware doel van sy rebellie was om God te onttroon en Hóm te vernietig deur wie God sy liefde geopenbaar het. DKvDE 36.1
Deur die lewe en dood van Christus word ook die gedagtes van die mense na vore gebring. Van die krip tot die kruis was die lewe van Jesus ‘n oproep tot selfverloëning en gemeenskap in lyding. Dit het die motiewe van die mens onthul. Jesus het met die hemelse waarheid gekom en almal wat na die stem van die Heilige Gees geluister het, is na Hom getrek. Die aanbidders van self het aan Satan se koninkryk behoort. In hul houding teenoor Christus sou aan almal toon aan wie se kant hulle staan. En so oordeel elkeen oor homself. DKvDE 36.2
Op die dag van die finale oordeel sal elke verlore siel die aard van sy eie verwerping van die waarheid besef. Die kruis sal voorgehou word en die ware betekenis daarvan sal deur elke hart wat deur oortreding verblind was, gesien word.Voor die visie van Golgota met sy raaiselagtige Slagoffer, sal sondaars veroordeel staan. Elke leuenagtige verskoning sal weggevee word. Menslike afvalligheid sal in sy afskuwelike karakter verskyn. Mense sal sien wat hul keuse was. Elke vraag oor waarheid en dwaling in die lang uitgerekte stryd sal duidelik gemaak word. In die oordeel van die heelal sal God vry van alle aanspreeklikheid vir die ontstaan of voortbestaan van die bose wees. Daar sal getoon word dat die Goddelike verordeninge nie medepligtig aan sonde was nie. Daar was geen defek in God se regering nie, geen rede vir ontevredenheid nie. Wanneer die gedagtes van alle harte geopenbaar word, sal sowel die getroues en die opstandiges verenig deur te verklaar: “Regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges! Wie sal U nie vrees nie, Here, en U Naam nie verheerlik nie? ... omdat U regverdige dade openbaar geword het.” (Openbaring 15:3,4). DKvDE 36.3