Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 37—Die Eerste Evangeliste *
Die apostels was lede van die familie van Jesus en hulle het Hom vergesel terwyl Hy te voet deur Galiléa gereis het. Hulle het die moeite en ontberinge wat hulle oorval het met Hom gedeel. Hulle het na Sy preke geluister, saam met die Seun van God gewandel en gesels en daagliks deur Sy onderrig geleer hoe om vir die opheffing van die mensdom te werk. Terwyl Jesus die groot menigtes wat om vergader het bedien het, was Sy dissipels by Hom teenwoordig, gretig om Sy wil te doen en Sy werk ligter te maak. Hulle het gehelp om die skare te hanteer, die geteisterdes na die Heiland te bring en na almal se gerief om te sien. Hulle het die belangstellende toehoorders dopgehou, die Skrif aan hulle verduidelik en op verskillende wyses gewerk tot hul geestelike voordeel. Hulle het geleer wat hulle van Jesus geleer het en elke dag ‘n ryke ervaring opgedoen. Maar hulle het ook ervaring nodig gehad om alleen te werk. Hulle het nog baie onderrig, baie geduld en deernis nodig gehad. En nou, terwyl Hy nog persoonlik by hulle was, om hul foute aan te dui en hulle raad te gee en te korrigeer, het die Verlosser hulle as Sy verteenwoordigers uitgestuur. DKvDE 368.1
Terwyl hulle by Hom was, was die dissipels dikwels verward deur die leer van die priesters en Fariseërs, maar hulle het hul verwarring na Jesus gebring. Hy het die waarhede van die Skrif in teenstelling met tradisie aan hulle voorgehou. So het Hy hul vertroue in die Woord van God versterk en hulle tot ‘n groot mate van hul vrees vir die rabbi’s en hul slawerny aan tradisie bevry. In die opleiding van die dissipels was die voorbeeld van die Heiland se lewe veel meer effektief as enige leerstelling. Nadat hulle van Hom geskei was, het elke blik, intonasie en woorde na hulle teruggekeer. Wanneer hulle met die vyande van die evangelie in stryd verkeer het, het hulle Sy woorde herhaal en hulle was verheug om die uitwerking daarvan op die volk sien. DKvDE 368.2
Jesus het die Twaalf na Hom geroep en hulle aangesê om twee-twee deur die stede en dorpies te gaan. Niemand is alleen gestuur nie, maar broer is met broer en vriend met vriend gestuur. Sodoende kon hulle mekaar help en bemoedig, saam raad gee en bid, terwyl elkeen se krag die ander se swakheid aanvul. Op dieselfde wyse is die Sewentig agterna uitgestuur. Dit was die Redder se doel dat die boodskappers van die evangelie op hierdie wyse geassosieer word. In ons eie tyd sou die werk van evangelisasie baie meer suksesvol wees indien hierdie voorbeeld meer noukeurig gevolg sou word. DKvDE 369.1
Die dissipels se boodskap was dieselfde as dié van Johannes die Doper en van Christus self: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Hulle moes in geen geskil met die mense betrokke raak oor die vraag of Jesus van Nasaret die Messias was nie; maar in Sy naam moes hulle dieselfde werke van barmhartigheid doen as wat Hy gedoen het. “Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit...” het Hy beveel. “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” DKvDE 369.2
Gedurende Sy bediening het Jesus meer tyd aan die genesing van siekes gewy as aan prediking. Sy wonderwerke het van die waarheid van Sy woorde getuig; dat Hy nie gekom het om te oordeel nie, maar om te red. Sy geregtigheid het voor Hom uitgegaan en die heerlikheid van die Here was Sy agterhoede. Waar Hy ook al gegaan het, het die tyding van Sy genade Hom voorafgegaan. Waar Hy verbygegaan het, was die ontvangers van Sy medelye verheug oor hul gesondheid en die beoefening van hul nuutgevonde krag. Menigtes het rondom hulle vergader om van die werke van die Here uit hul mond te verneem. Sy stem was die eerste geluid wat baie gehoor het, Sy Naam die eerste woord wat hulle ooit gespreek het en Sy gesig die eerste wat hulle ooit gesien het. Waarom sou hulle Jesus nie liefhê en Sy lof besing nie? Terwyl Hy deur die dorpe en stede gegaan het, was Hy soos ‘n lewensbelangrike stroom wat oral waar Hy gegaan het, lewe en vreugde gebring het. DKvDE 369.3
Die volgelinge van Christus moet werk soos Hy gewerk het. Ons moet die wat honger is voed, die wat naak is klee en die lydendes en geteisterdes vertroos. Ons moet die wanhopiges bedien en hoop by die hopeloses skep. En aan ons sal die belofte ook vervul word: “Jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die Here jou agterhoede wees.” (Jesaja 58:8). Die liefde van Christus, wat in onbaatsugtige bediening geopenbaar word, sal effektiewer as die swaard of die geregshof wees om die kwaaddoener te hervorm. Dit is nodig om diegene wat die wet verbreek af te skrik, maar die liefdevolle sendeling kan meer as dit uitrig. Dikwels word die hart onder teregwysing verhard; maar onder die liefde van Christus sal dit smelt. Die sendeling kan nie slegs fisiese siektes genees nie, maar hy kan die sondaar na die Groot Geneesheer lei wat die siel van melaatsheid en sonde kan reinig. Deur Sy diensknegte beoog God dat die siekes, ongelukkiges en hulle wat deur bose geeste beset is, Sy stem sal hoor. Deur Sy menslike verteenwoordigers wil Hy ‘n Trooster wees, soos wat die wêreld nie ken nie. DKvDE 370.1
Die dissipels moes op hul eerste sendingreis slegs na “...die verlore skape van die huis van Israel...” gaan. Indien hulle op hierdie stadium die evangelie aan die heidene of Samaritane verkondig het, sou hulle hul invloed onder die Jode verloor het. Deur die vooroordeel van die Fariseërs op te wek, sou hulle in ‘n stryd betrokke geraak het wat hulle met die aanvang van hul arbeid sou ontmoedig. Selfs die apostels was traag om te begryp dat die evangelie aan alle nasies verkondig moes word. Totdat hulle self hierdie waarheid sou begryp, was hulle nie gereed om onder die heidene te werk nie. As die Jode die evangelie sou aanneem, was God van plan om hulle Sy boodskappers vir die heidene te maak. Daarom moes hulle eerste die boodskap hoor. DKvDE 370.2
Regdeur Christus se arbeidsveld was daar siele wat opgewek is vir hulle nood en honger en dors na die waarheid. Die tyd het aangebreek om die boodskap van Sy liefde aan hierdie verlangende harte oor te dra. In al hierdie dinge moes die dissipels as Sy verteenwoordigers optree. Die gelowiges moes dus gelei word om hulle as Goddelik-aangestelde leraars te beskou en wanneer die Heiland van hulle weggeneem sou word, sou hulle nie sonder instrukteurs agterbly nie. DKvDE 371.1
Op hulle eerste sending moes die dissipels slegs gaan waar Jesus reeds gegaan en vriende gemaak het. Hulle voorbereiding vir die reis moes eenvoudig van aard wees. Niks moes toegelaat word om hul gedagtes van hul groot werk af te trek nie, of op enige wyse teëstand uit te lok en die deur vir verdere arbeid te sluit nie. Hulle moes nie die kleredrag van die godsdienstige leiers navolg of enige klere wat hulle van die nederige plattelanders sou onderskei nie. Hulle moes nie in die sinagoges ingaan en die mense vir openbare dienste bymekaar roep nie; hulle moes slegs van huis tot huis arbei. Hulle moes nie tyd mors met onnodige begroetings, of om van huis tot huis gaan om onthaal te word nie. Maar op elke plek moes hulle die gasvryheid van diegene wat waardig was, wat hulle hartlik verwelkom het asof hulle Christus self ontvang, aanvaar. Hulle moes die woning met die volgende groet betree: “Vrede vir hierdie huis.” (Lukas 10:5). Daardie huis sou deur hul gebede, hul lofliedere en die opening van die Skrif in die familiekring geseën word. DKvDE 371.2
Hierdie dissipels moes die aankondigers van die waarheid wees en die weg vir die koms van hul Meester voorberei. Die boodskap wat hulle moes uitdra, was die woord van die ewige lewe en die lot van mense het van hul aanneming of verwerping daarvan afgehang. Om die mense met die plegtigheid daarvan te beïndruk, het Jesus vir Sy dissipels gesê: “En almal wat julle nie ontvang of na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof onder julle voete af tot ‘n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.” DKvDE 371.3
Die Heiland het ‘n blik op die toekoms gewerp; Hy het die wyer velde waarin die dissipels ná Sy dood getuies vir Hom moes wees, aanskou. Sy profetiese oog het die ervaring van Sy dienaars deur al die eeue heen, tot met Sy wederkoms, waargeneem. Hy het aan Sy volgelinge die stryd wat op hulle wag getoon; Hy het die aard en plan van die stryd onthul. Hy het die gevare wat hulle sou tegemoetkom en die selfverloëning wat nodig sou wees, voor hulle blootgelê. Hy wou hê dat hulle die koste moes bereken, sodat hulle nie deur die vyand onkant betrap sou word nie. Hul stryd sou nie teen vlees en bloed wees nie, maar teen “...die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Efesiërs 6:12). Hulle sou met bonatuurlike magte moes worstel, maar hulle was van bonatuurlike hulp verseker. AI die magte van die hemel is in hierdie leërmag. En meer as engele is in hul geledere. Die Heilige Gees, die Verteenwoordiger van die Leërowerste van die HERE, daal neer om die stryd aan te voer. Ons swakhede mag baie wees, ons sondes en foute ernstig; maar die genade van God is vir almal wat dit met ‘n berouvolle hart soek. Die krag van die Almagtige word ten behoewe van diegene wat op God vertrou ingeroep. DKvDE 372.1
“Kyk...” het Jesus gesê “...Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.” Christus self het nie een woord van waarheid weerhou nie, maar het dit altyd met liefde uitgespreek. Hy het die grootste takt en bedagsame, vriendelike belangstelling in Sy omgang met die mense uitgeoefen. Hy was nooit onbeleefd, het nooit onnodig ‘n streng woord geuiter nie en het ook nooit aan ‘n sensitiewe siel onnodige pyn veroorsaak nie. Hy het nie die menslike swakheid veroordeel nie. Hy het vreesloos skynheiligheid, ongeloof en ongeregtigheid aan die kaak gestel, maar daar was trane in Sy stem wanneer Hy streng bestraf het. Hy het oor Jerusalem geween, die stad wat Hy liefgehad het, maar wat geweier het om Hom, die weg, die waarheid en die lewe, aan te neem. Hulle het Hom, die Verlosser, verwerp, maar Hy het hulle innig, met ‘n hartseer so diep, dat dit Sy hart gebreek het, jammer gekry. Elke siel was kosbaar in Sy oë. Terwyl Hy Homself met Goddelike waardigheid gedra het, het Hy met deernisvolle agting voor elke lid van die gesin van God neergebuig. In elke mens het Hy ‘n gevalle siel, wat Sy missie was om te red, gesien. DKvDE 372.2
Die diensknegte van Christus moet nie volgens die voorskrifte van hul natuurlike hart optree nie. Hulle het nodig om in noue gemeenskap met God te verkeer, sodat die eie-ek nie onder provokasie na vore kom en ‘n stortvloed van woorde uiter wat onvanpas is en wat nie soos dou of ‘n sagte reënbui is wat die verwelkende plante verkwik nie. Dit is wat Satan wil hê hulle moet doen; want dit is sy metodes. Dit is die draak wat vertoornd is; dit is die gees van Satan wat in woede en beskuldiging openbaar word. Maar die diensknegte van God moet Sy verteenwoordigers wees. Hy wil hê dat hulle net in die geldeenheid van die hemel moet handel; die waarheid wat Sy eie beeld en opskrif dra. Die mag waarmee hulle die bose moet oorwin, is die mag van Christus. Die heerlikheid van Christus is hul krag. Hulle moet hul oë op Sy lieflikheid vestig. Dan kan hulle die evangelie met Goddelike takt en deernis aanbied. En die gees wat sagmoedig onder provokasie kan bly, sal meer effektief vir die waarheid getuig as die sterkste argument, hoe dwingend ook al. DKvDE 373.1
Diegene wat in konflik met die vyande van die waarheid gebring word, sal nie net met mense nie, maar ook met Satan en sy verteenwoordigers te doen kry. Laat hulle dus die woorde van die Heiland onthou: “Kyk, Ek stuur julle soos lammers onder die wolwe in.” (Lukas 10:3). Laat hulle in die liefde van God rus en die gees sal kalm bly, selfs onder persoonlike belediging. Die Here sal hulle met Goddelike wapenrusting beklee. Sy Heilige Gees sal die gees en hart beïnvloed, sodat hul stemme nie die note van die wolwe se getjank sal opvang nie. DKvDE 373.2
Jesus het met Sy opdrag aan Sy dissipels voortgegaan en gesê: “Pas op vir die mense.” Hulle moes nie implisiete vertroue stel in diegene wat God nie geken het nie en hulself vir hulle raad oopstel nie; want dit sou aan Satan se verteenwoordigers ‘n voordeel verleen. Die mens se versinsels werk dikwels die planne van God teë. Diegene wat die tempel van die Here bou, moet bou volgens die patroon wat op die berg getoon is-die Goddelike gelykenis. God word oneer aangedoen en die evangelie word verraai wanneer Sy dienaars op die raad van mense wat nie onder leiding van die Heilige Gees is nie, vertrou. Wêreldse wysheid is dwaasheid by God. Diegene wat daarop vertrou, sal beslis fouteer. DKvDE 374.1
“Hulle sal jul oorlewer aan regbanke ... en ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot ‘n getuienis vir hulle en vir die heidene.” (Mattheus 10:17,18). Vervolging sal die lig versprei. Die diensknegte van Christus sal voor die groot manne wat, as dit nie hiervoor was nie, dalk nooit die evangelie sou hoor nie, gebring word. Die waarheid is verdraaid aan hierdie manne voorgestel. Hulle het geluister na valse aanklagte aangaande die geloof van Christus se dissipels. Dikwels was die enigste wyse waarop hulle die ware aard daarvan kon leer, die gevolg van die getuienis van diegene wat vir hulle geloof aangekla is. Gedurende die ondersoek word van hulle verwag om te antwoord en die regters moet na die getuienis luister. God se genade om in nood te voorsien, sal aan Sy diensknegte gegee word. “Dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek...” het Jesus gesê, “...want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.” Soos die Gees van God die verstand van Sy diensknegte verlig, sal die waarheid in Sy Goddelike mag en kosbaarheid aangebied word. Diegene wat die waarheid verwerp, sal die dissipels beskuldig en onderdruk. Maar te midde van verlies en lyding tot die dood toe, moet die kinders van die Here die sagmoedigheid van hul Goddelike Voorbeeld openbaar. So sal die kontras tussen Satan se verteenwoordigers en die verteenwoordigers van Christus gesien word. Die Verlosser sal voor die owerhede en volk verhef word. DKvDE 374.2
Die dissipels was nie met die moed en vasberadenheid van die martelare toegerus voordat sulke genade nodig was nie. Eers toe is die Heiland se belofte vervul. Toe Petrus en Johannes voor die Raad van die Sanhedrin getuig het, was die mense verwonderd en is “...hulle as metgeselle van Jesus herken.” (Handelinge 4:13). Van Stefanus staan daar geskrywe: “Terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van ‘n engel was.” (Handelinge 6:15). “Hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie.” (Handelinge 6:10). En Paulus, wat aangaande sy eie verhoor voor die hof van die keiser geskryf het, sê: “In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat. Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor; en ek is uit die bek van die leeu verlos.” (2 Timotheus 4:16,17). DKvDE 375.1
Die diensknegte van Christus moes geen voorbereide toespraak lewer wanneer hulle verhoor is nie. Hulle voorbereiding moes dag vir dag in die bestudering van die kosbare waarhede van die Woord van God gedoen word en deur gebed wat hul geloof versterk. Wanneer hulle verhoor sou word, sal die Heilige Gees die waarhede wat nodig sou wees, by hulle in herinnering roep. DKvDE 375.2
'n Daaglikse, ernstige strewe om God en Jesus Christus wat Hy gestuur het te ken, sal aan die siel krag en doeltreffendheid verskaf. Die kennis wat deur noukeurige studie van die Skrif verkry is, sal op die regte oomblik die geheue binneskiet. Maar indien iemand versuim het om hom van die woorde van Christus te vergewis en hulle nooit die krag van Sy genade in beproewing getoets het nie, kan hulle nie verwag dat die Heilige Gees Sy woorde in hul gedagtes sal oproep nie. Hulle moet God daagliks met onverdeelde liefde dien en Hom dan vertrou. DKvDE 375.3
Die vyandigheid teenoor die evangelie sal so bitter wees, dat selfs die teerste aardse bande verontagsaam sal word. Die dissipels van Christus sou deur die lede van hul eie huishoudings tot die dood verraai word. “Julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam...” het Hy gesê, “...maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Markus 13:13). Maar Hy het hulle vermaan om hulself nie onnodig aan vervolging bloot te stel nie. Hy het self dikwels een arbeidsveld vir ‘n ander verlaat om van diegene wat Sy lewe gesoek het te ontsnap. Toe Hy in Nasaret verwerp was is en Sy eie inwoners Hom probeer doodmaak het, het Hy na Kapérnaum gegaan en daar was die mense verbaas oor Sy leer; “...want Sy woord was met gesag.” (Lukas 4:32). Dus moes Sy knegte nie deur vervolging ontmoedig word nie, maar na ‘n plek soek waar hulle steeds vir die redding van siele kon werk. DKvDE 376.1
Die dienskneg is nie groter as sy meester nie. Die Vors van die hemel is Beëlsebul genoem en Sy dissipels sal op dieselfde wyse valslik voorgestel word. Maar ongeag die gevaar, moet die volgelinge van Christus hul beginsels bely. Hulle moet die verberging daarvan minag. Hulle kan nie onbetrokke bly totdat hulle verseker is van die veiligheid om die waarheid te bely nie. Hulle is as wagte aangestel om die mensdom teen hul gevaar te waarsku. Die waarheid wat van Christus ontvang is, moet vryelik en openlik aan almal oorgedra word. Jesus het gesê: “Wat Ek vir julle in die donker sê, vertel dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit op die dakke.” DKvDE 376.2
Jesus het self nooit vrede deur kompromie bekom nie. Sy hart het van liefde vir die hele mensdom oorgeloop, maar Hy was nooit toegeeflik teenoor hulle sondes nie. Hy was te veel van ‘n vriend vir hulle om te swyg as hulle ‘n rigting sou inslaan wat hul siele sou verwoes-die siele wat Hy met Sy eie bloed gekoop het. Hy het gearbei sodat die mens getrou aan homself kon wees; getrou aan sy hoër en ewige belang. Die diensknegte van Christus word tot dieselfde werk geroep en hulle moet daarop let dat hulle nie die waarheid inboet in ‘n poging om onmin te vermy nie. Hulle moet die dinge najaag “...wat tot vrede en onderlinge stigting dien...” (Romeine 14:19), maar werklike vrede kan nooit, deur beginsels prys te gee, verkry word nie. En geen mens kan beginselvas wees sonder om teëstand uit te lok nie. ‘n Christelikheid wat geestelik is, sal deur die kinders van ongehoorsaamheid teëgestaan word. Maar Jesus het Sy dissipels aangesê: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie.” Diegene wat aan God getrou is, hoef nie die mag van mense of die vyandskap van Satan te vrees nie. Hul enigste vrees moet wees dat hulle dalk die waarheid sal verloën en sodoende die vertroue waarmee God hulle vereer het, sal verraai. DKvDE 377.1
Dit is Satan se werk om twyfel in mense se harte te saai. Hy mislei hulle om God as ‘n streng Regter aan te sien. Hy verlei hulle tot sonde en laat hulle dan glo dat hulle te sondig is om hul hemelse Vader te nader of Sy meegevoel te wek. Die Here verstaan dit alles. Jesus verseker Sy dissipels van God se meegevoel vir hulle in hul behoeftes en swakhede. Daar is geen sug wat geuiter word, geen pyn wat ervaar word, geen hartseer wat die siel deurboor nie, of die trilling bereik die Vader se hart. DKvDE 377.2
Die Bybel toon God aan ons op Sy verhewe en heilige plek, nie in ‘n staat van onaktiwiteit nie, nie in stilte en eensaamheid nie, maar omring deur tienduisend maal tienduisende en duisende der duisende heilige wesens, wat almal wag om Sy wil te doen. Deur kanale wat ons nie kan onderskei nie, is Hy in aktiewe kommunikasie met elke deel van Sy heerskappy. Maar dit is op hierdie spikkeltjie van ‘n wêreld, in die siele waarvoor Hy Sy eniggebore Seun gegee het, waarop Sy belangstelling en die belang van die ganse hemel toegespits is. God buig vanaf Sy troon om die geroep van die onderdruktes te hoor. Op elke opregte gebed antwoord Hy: “Hier is Ek.” Hy hef die noodlydendes en verdruktes op. In al ons beproewings is Hy beproef. In elke versoeking en elke beproewing is die engel van Sy teenwoordigheid naby om te verlos. DKvDE 377.3
Nie eers ‘n mossie val op die grond sonder die Vader se wete nie. Satan se haat jeens God lei daartoe dat hy elke voorwerp wat onder Christus se sorg is haat. Hy streef om die handewerk van God te verbrysel en skep behae daarin om selfs die stomme diere te vernietig. Dit is slegs deur die beskermende sorg van God dat die voëls bewaar word om ons met hul vreugdesang te verbly. Maar Hy vergeet nie eers die mossies nie. “Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.” DKvDE 378.1
Jesus gaan voort: “Soos julle My voor die mense bely, so sal Ek julle voor God en die heilige engele bely. Julle sal My getuies op die aarde wees, kanale waardeur My genade kan vloei vir die genesing van die wêreld. So sal Ek julle Verteenwoordiger in die hemel wees. Die Vader kyk nie na julle gebrekkige karakter nie, maar Hy sien julle met My volmaaktheid beklee. Ek is die middel waardeur die Hemel se seëninge na julle sal kom. En elkeen wat My bely deur My opoffering vir die verlorenes te deel, sal as deelgenoot in die glorie en die vreugde van die verlostes erken word.” DKvDE 378.2
Hy wat Christus bely, moet Hom in sy hart laat inwoon. Hy kan nie kommunikeer wat hy nie ontvang het nie. Die dissipels kan vlot oor die leerstellings uitwei, hulle kan selfs die woorde van Christus herhaal; maar tensy hulle die sagmoedigheid en liefde van Christus besit, het hulle Hom nie bely nie. ‘n Gees wat in stryd met die gees van Christus is, sal Hom verloën, ongeag die belydenis. Die mens kan Christus verloën deur kwaadpratery, ydele praatjies, deur woorde wat onwaar is of onvriendelik is. Hulle kan Hom verloën deur die laste van die lewe te ontduik, deur sondige plesier na te jaag. Hulle kan Hom verloën deur aan die wêreld gelykvormig te wees, deur onvriendelik op te tree, deur beheptheid met hul eie idees, deur selfregverdiging, deur twyfel te koester, hulle onnodig te bekommer en in duisternis te woon. In al hierdie dinge verklaar hulle dat Christus nie in hulle woon nie. En “...elkeen wat My verloën voor die mense...” sê Hy, “...hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” DKvDE 378.3
Die Heiland het sy dissipels aangesê dat hulle nie moet hoop dat die vyandskap van die wêreld teen die evangelie oorwin sal word en dat die weerstand na ‘n tyd sal ophou nie. “Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard...” het Hy gesê. Hierdie skepping van konflik is nie die effek van die evangelie nie, maar van die gevolg van teenkanting daarteen. Van die vervolging wat die moeilikste is om te verdra, is tweespalt in die huis en die vervreemding van dierbare aardse vriende. Maar Jesus verklaar: “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.” DKvDE 379.1
Die sending van Christus se diensknegte is ‘n hoë eerbetoon en ‘n heilige pand. “Wie julle ontvang...” het Hy gesê, “...ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.” Geen daad van goedhartigheid wat in Sy Naam aan hulle bewys word, sal nie erken en beloon word nie. En in dieselfde tere erkenning, sluit Hy die swakste en nederigste in die familie van God in: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker koue water laat drink omdat hy ‘n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.” DKvDE 379.2
So het die Heiland sy onderrig beëindig. In die Naam van Christus is die Twaalf uitgestuur, soos Hy uitgegaan het, “...om die evangelie aan die armes te bring ... om die wat verbrysel van hart is te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes die herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.” (Lukas 4:18,19). DKvDE 379.3