Die Koning van die Eeue

37/88

Hoofstuk 36—Die Aanraking van Geloof *

Toe Jesus van Gádara na die westelike oewer terugkeer, vind Hy dat ‘n menigte bymekaargekom het om Hom te ontvang en hulle het Hom met blydskap begroet. Hy het ‘n tydjie langs die oewer getalm, waar Hy geleer en genees het en daarna na die huis van Levi-Mattheus gegaan om die tollenaars tydens die fees te ontmoet. Hier het Jaïrus, die owerste van die sinagoge, Hom gevind. DKvDE 362.1

Hierdie ouderling van die Jode het in groot nood na Jesus gekom, hom voor sy voete neergewerp en uitgeroep: “My dogtertjie is op haar uiterste; kom lê haar die hande op, sodat sy gesond kan word en sy sal lewe.” DKvDE 362.2

Jesus het dadelik saam met die owerste na sy huis vertrek. Alhoewel die dissipels so baie van Sy werke van barmhartigheid aanskou het, was hulle verbaas oor die toegewing aan die smekinge van die hoogmoedige rabbi; tog het hulle hul Meester vergesel en die volk het gretig en afwagtend gevolg. DKvDE 362.3

Die owerste se huis was nie ver daarvandaan nie, maar Jesus en sy gevolg het stadig gevorder, want die skare het van alle kante om Hom saamgedrom. Die angstige vader was ongeduldig oor die vertraging; maar Jesus, wat die mense jammer gekry het, het so nou en dan gaan stilstaan om iemand se lyding te verlig of ‘n ontstelde hart te vertroos. DKvDE 362.4

Terwyl hulle nog onderweg was, het ‘n boodskapper deur die skare gedruk en die nuus aan Jaïrus meegedeel dat sy dogtertjie gesterf het en dat dit nutteloos was om die Meester verder lastig te val. Jesus het dit gehoor gesê: “Moenie vrees nie, glo net en sy sal gered word.” DKvDE 362.5

Jaïrus het nader aan die Verlosser gebeur en saam het hulle hul na die owerste se huis gehaas. Die gehuurde roubeklaers en fluitspelers was reeds daar en die lug met hulle roubeklag gevul. Die teenwoordigheid van die skare en die oproer het op die gees van Jesus gewerk. Hy het probeer om hulle stil te maak deur te sê: “Waarom gaan julle so te kere en ween julle? Die kind is nie dood nie, maar slaap.” Hulle was verontwaardig oor die woorde van die Vreemdeling. Hulle het die kind in die doodsgreep gesien en hulle het Hom uitgelag. Jesus het hulle almal versoek om die huis te verlaat en die vader en moeder van die meisie saamgeneem en saam het hulle die vertrek waar die afgestorwene was binnegegaan. DKvDE 363.1

Jesus het die bed genader, die kind se hand in Sy eie geneem en saggies in die bekende huistaal gesê: “Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!” DKvDE 363.2

Onmiddellik het daar ‘n trilling deur haar bewustelose liggaam gegaan. Die pols van lewe het weer begin klop. Die lippe het in ‘n glimlag ontplooi. Die oë het wyd oopgegaan asof uit ‘n diep slaap en die meisie het verwonderd na die groep langs haar gekyk. Sy het opgestaan en haar ouers het haar in hul arms vasgehou en van vreugde gehuil. DKvDE 363.3

Onderweg na die owerste se huis, het Jesus ‘n arme vrou in die skare teëgekom wat twaalf jaar lank aan ‘n siekte gely het wat haar lewe ‘n las gemaak het. Sy het al haar middele aan dokters en geneesmiddels bestee, net om ongeneeslik verklaar te word. Maar haar hoop het weer opgevlam toe sy hoor van die genesings wat Christus verrig het. Sy was seker dat indien sy net by Hom kon uitkom, sy genees sou word. In swakheid en lyding het sy by die strand waar Hy geleer het gekom en probeer om deur die skare te beur, maar tevergeefs. Sy het Hom weereens van die huis van Levi-Mattheus gevolg, maar kon nog steeds nie by Hom uitkom nie. Sy het begin wanhopig raak, toe Hy deur die skare dring en naby die plek kom waar sy was. DKvDE 363.4

Haar gulde geleentheid het aangebreek. Sy was in die teenwoordigheid van die Groot Geneesheer! Maar te midde van die gedrang kon sy nie met Hom praat of selfs ‘n verbygaande glimp van Sy figuur kry nie. Uit vrees dat sy haar een kans op verligting kon verloor, het sy vorentoe gebeur en vir haarself gesê: “As ek maar net Sy klere kan aanraak, sal ek gesond word.” Toe Hy verbykom, het sy vorentoe geleun en daarin geslaag om net-net die soom van Sy kleed aan te raak. Maar op daardie oomblik het sy geweet dat sy genees was. In een aanraking was die geloof van haar lewe gekonsentreer en haar pyn en swakheid het onmiddellik plek gemaak vir die lewenskrag van volkome gesondheid. DKvDE 364.1

Met ‘n dankbare hart het sy haar uit die skare probeer onttrek, maar skielik het Jesus gaan staan asook die skare om Hom. Hy het omgedraai en rondgekyk en in ‘n stem wat duidelik bo die gewoel van die skare gehoor kon word, gevra: “Wie is dit wat My aangeraak het?” Die mense het met verbasing op hierdie vraag gereageer. Van alle kante af rondgestamp en rof heen en weer gestoot soos Hy was, was dit vir hulle ‘n eienaardige vraag. DKvDE 364.2

Petrus, altyd oorgehaal om te praat, het gesê: “Meester, die skare druk en verdring U, en U sê: Wie is dit wat My aangeraak het?” Jesus antwoord: “Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat krag van My uitgegaan het.” Die Heiland kon die aanraking van geloof onderskei van die toevallige kontak van die onverskillige skare. Sulke geloof kon Hy nie onopgemerk laat verbygaan nie. Hy sal hierdie nederige vrou met woorde van troos aanspreek wat vir haar ‘n bron van vreugde sal wees-woorde wat tot die einde van die tyd ‘n seën vir Sy volgelinge sou wees. DKvDE 364.3

Jesus het na die vrou gekyk en daarop aangedring om te weet wie Hom aangeraak het. Toe sy vind dat dit nodeloos was om dit te verberg, het sy bewend na vore gekom en haar voor sy voete neergewerp. Met trane van dankbaarheid het sy die verhaal van haar lyding vertel en hoe sy verligting gevind het. Jesus het sagkens geantwoord: “Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” Hy het geen geleentheid geskep vir bygeloof om aanspraak op genesende krag in die blote aanraking van Sy klere te maak nie. Dit was nie die uiterlike kontak met Hom nie, maar geloof wat Sy Goddelike mag vasgegryp het wat genesing bewerkstellig het. DKvDE 365.1

Die verwonderde skare wat dig om Christus saamgedrom het, het geen toetreding van lewenskrag ervaar nie. Maar toe die lydende vrou haar hand uitsteek om Hom aan te raak, in die geloof dat sy genees sal word, het sy die genesende krag ervaar. So is dit in die geestelike dinge. Om op ‘n ligte trant oor godsdiens te praat en sonder sielehonger en ‘n lewende geloof te bid, beteken niks. ‘n Oppervlakkige geloof in Christus, wat Hom slegs aanvaar as die Verlosser van die wêreld, kan nooit die siel genees nie. Geloof wat tot redding dien, is nie bloot ‘n intellektuele erkenning van die waarheid nie. Wie op volle kennis wag voordat hy geloof beoefen kan nie die seën van God ontvang nie. Dit is nie genoeg om aangaande Christus te glo nie; ons moet in Hom glo. Die enigste geloof waarby ons baat sal vind, is geloof wat Hom as ‘n persoonlike Verlosser aanneem; wat Sy verdienste vir onsself toe-eien. Baie beskou geloof as ‘n sienswyse. Reddende geloof is ‘n transaksie waardeur diegene wat Christus ontvang, hulself in ‘n verbondsverhouding met God verbind. Ware geloof is lewe. ‘n Lewende geloof beteken ‘n toename in lewenskrag, ‘n belydende vertroue waardeur die siel ‘n oorwinnende mag word. DKvDE 365.2

Nadat Jesus die vrou genees het, wou Jesus hê sy moet die seën wat sy ontvang het, erken. Die gawes wat die evangelie aanbied, moet nie skelm verkry of in die geheim geniet word nie. Daarom vereis die Here dat ons Sy goedheid bely. “Julle is my getuies, spreek die Here en Ek is God.” (Jesaja 43:12) DKvDE 365.3

Ons belydenis van Sy getrouheid is die hemel se gekose middel om Christus aan die wêreld te openbaar. Ons moet Sy genade erken, soos deur die heilige manne van ouds geopenbaar; maar die doeltreffendste is die getuienis van ons eie ervaring. Ons is getuies van God wanneer ons in onsself die werking van ‘n Goddelike krag openbaar. Elke individu het ‘n lewe wat van alle ander verskil en ‘n ervaring wat wesenlik van hulle s'n verskil. God begeer dat ons lof, gekenmerk deur ons eie individualiteit, tot Hom sal opstyg. Hierdie kosbare erkennings tot lof vir die heerlikheid van Sy genade, wanneer dit deur ‘n Christelike lewenswyse ondersteun word, het ‘n onweerstaanbare mag wat tot redding van siele werk. DKvDE 366.1

Toe die tien melaatses na Jesus gekom het om genees te word, het Hy hulle beveel om hulself aan die priester te wys. Onderweg is hulle gereinig, maar net een van hulle het teruggedraai om aan Hom eer te gee. Die ander het hul gang gegaan en van Hom, wat hulle genees het, vergeet. Hoeveel doen dieselfde! Die Here werk voortdurend tot voordeel van die mensdom. Hy gee altyd uit Sy oorvloed. Hy laat siekes uit hul siekbed opstaan, Hy verlos mense van gevare waarvan hulle nie bewus is nie, Hy gee opdrag aan hemelse engele om hulle van rampspoed te red, om hulle teen “...die pes wat in die donker wandel...” en teen “...die siekte wat op die middag verwoes...” (Psalm 91:6) te beskerm, maar hulle harte is nie beïndruk nie. Hy het al die rykdom van die hemel gegee om hulle te verlos en tog is hulle onaangeraak deur Sy groot liefde. Deur hul ondankbaarheid sluit hulle hul harte vir die genade van God. Soos die heide in die woestyn, weet hulle nie wanneer die goeie kom nie en hul siele bewoon die dor plekke van die woestyn. DKvDE 366.2

Dit strek tot ons eie voordeel om elke gawe van God vars in ons geheue te bewaar. Sodoende word geloof versterk om meer en meer te vereis en te ontvang. Daar is groter aanmoediging vir ons in die geringste seën wat ons self van God ontvang, as wat ons in al die verslae van die geloof en ervaring van ander kan lees. Die siel wat op die genade van God reageer, sal wees soos ‘n tuin wat besproei is. “Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uitgaan, die heerlikheid van die Here jou agterhoede wees.” (Jesaja 58:8). Laat ons dan die liefderyke goedhartigheid van die Here en Sy veelvuldige deernisvolle genade onthou. Laat ons, soos die volk van Israel, ons gedenkstene oprig en die kosbare verhaal van wat God vir ons gedoen het daarop skryf. En soos ons Sy handelinge met ons in ons pelgrimstog herdenk, laat ons harte versmelt van dankbaarheid en verklaar: “Wat sal ek die Here vergeld vir al sy weldade aan my? Ek sal die beker van verlossing opneem en die Naam van die Here aanroep. My geloftes sal ek aan die Here betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk.” (Psalm 116:12-14). DKvDE 366.3