Die Koning van die Eeue

36/88

Hoofstuk 35—“Swyg, Wees Stil” *

Dit was ‘n gebeurtenisvolle dag in die lewe van Jesus. Langs die See van Galiléa het Hy Sy eerste gelykenisse deur bekende illustrasies gegee, wat weereens aan die volk die aard van Sy koninkryk en die wyse waarop dit tot stand sou kom, verduidelik het. Hy het Sy eie werk met dié van die saaier vergelyk; die ontwikkeling van Sy koninkryk met die groei van die mosterdsaad; en die uitwerking van suurdeeg in ‘n maat meel. Die groot finale skeiding tussen die regverdiges en goddeloses het Hy in die gelykenisse van die koring en onkruid en die visnet uitgebeeld. Die kosbaarhede van die waarheid wat Hy geleer het, is deur die verborge skat en kosbare pêrel geïllustreer, terwyl Hy in die gelykenis van die huisheer, Sy dissipels geleer het hoe hulle as Sy verteenwoordigers moes arbei. DKvDE 351.1

Hy het die hele dag geleer en genees; toe dit aand word, het die skare steeds om Hom saamgedrom. Dag na dag het Hy hulle bedien en skaars ‘n verposing geneem om te eet of te rus. Die kwaadwillige kritiek en wanvoorstelling waarmee die Fariseërs Hom voortdurend agtervolg het, het Sy arbeid baie hewiger en teisterend gemaak; en nou het die einde van die dag Hom so vermoeid gevind, dat Hy besluit het om Homself na een of ander plek aan die anderkant van die meer te onttrek. DKvDE 351.2

Die oostelike oewer van Gennésaret was nie onbewoon nie, want plek-plek langs die meer was daar stede; tog was dit, vergeleke met die westekant, ‘n verlate streek. Die bevolking was meer heidens as Joods en het weinig kommunikasie met Galiléa gehad. Dit het aan Jesus die afsondering waarna Hy verlang het gebied en het Hy Sy dissipels beveel om Hom daarheen te vergesel. DKvDE 351.3

Nadat Hy die skare weggestuur het, het hulle Hom, “...net soos Hy was...” in die skuit geneem en haastig vertrek. Maar hulle sou nie alleen vertrek nie. Daar het ander vissersbote naby die oewer gelê, wat spoedig met mense gevul was wat Jesus gevolg het, gretig om Hom te sien en te hoor. DKvDE 352.1

Die Heiland was uiteindelik van die druk van die menigte verlos en, oorkom deur moegheid en honger, het Hy agter in die skuit gaan lê en spoedig aan die slaap geraak. Die aand was rustig en aangenaam en die meer was kalm; maar skielik het die lug toegetrek, die wind het verwoed deur die bergklowe langs die oostelike oewer begin waai en ‘n hewige storm het oor die meer losgebars. DKvDE 352.2

Die son was onder en die stikdonkerte van die nag het oor die stormagtige see gesak. Die verwoede golwe, opgesweep deur die loeiende winde, het meedoënloos oor die boot van die dissipels gebreek en gedreig om dit te verswelg. Daardie geharde vissermanne het hulle lewe op die meer deurgebring en het hul vaartuig veilig deur menige storm geloods; maar nou het hulle krag en vaardigheid hulle niks gebaat nie. Hulle was hulpeloos in die greep van die storm en toe hulle sien hoe hul boot met water gevul word, het hulle moed hulle begewe. DKvDE 352.3

Hulle was so opgeneem in hul pogings om hulself te red, dat hulle vergeet het dat Jesus aan boord was. En toe hulle besef dat hul arbeid tevergeefs was en dat hulle die dood in die gesig staar, het hulle onthou op Wie se bevel hulle uitgevaar het. In Jesus was hulle enigste hoop. In hul hulpeloosheid en wanhoop het hulle uitgeroep: “Meester, Meester!” Maar die digte duisternis het Hom vir hul oë verberg. Hul stemme is in die gedruis van die storm uitgedoof en daar was geen antwoord nie. Twyfel en vrees het hulle beetgepak. Het Jesus hulle in die steek gelaat? Was Hy wat siekte en demone en selfs die dood oorwin het, nou magteloos om te help? Of was Hy onaangeraak deur hulle nood? DKvDE 352.4

Weereens het hulle geroep, maar behalwe vir die geloei van die kwaai wind, was daar geen antwoord nie. Hul boot was reeds besig om te sink. Net ‘n oomblik en hulle sou waarskynlik deur die honger waters verswelg word. DKvDE 353.1

Skielik het ‘n weerligstraal die duisternis deurklief en hulle het Jesus gesien wat vas aan die slaap gelê het, ongesteurd deur die lawaai. Toe het hulle, verstom en wanhopig, uitgeroep: “Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?” Hoe kon Hy so vreedsaam rus terwyl hulle in gevaar verkeer en met die dood worstel? DKvDE 353.2

Hul geroep het Jesus gewek. Toe die glans van die weerlig Hom verlig, sien hulle die hemelse vrede op Sy gelaat; om Sy blik het hulle die onselfsugtige, tere, liefde gesien en terwyl hulle harte na Hom draai, roep hulle uit: “Here, red ons, ons vergaan!” DKvDE 353.3

Nog nooit is daardie kreet geuiter en daar nie gehoor aan gegee nie. Terwyl die dissipels na hul roeispane gryp om ‘n laaste poging aan te wend, het Jesus opgestaan. Hy het te midde van Sy dissipels gestaan, met die storm wat voortwoed, die golwe wat daaroor breek en die weerlig wat sy gelaat verlig. Hy het Sy hand, wat so dikwels in dade van barmhartigheid gebruik word, opgehef en die stormagtige see beveel: “Swyg, wees stil!” DKvDE 353.4

Die storm het bedaar. Die golwe het gaan lê. Die wolke het weggerol en die sterre het begin skyn. Die boot het op ‘n kalm see gedryf. Toe wend Jesus Hom na Sy dissipels en vra bedroef: “Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?” (Markus 4:40). DKvDE 353.5

Stilte het oor die dissipels neergesak. Selfs Petrus het nie oor die ontsag wat sy hart gevul het gepraat nie. Die bote wat saam met Jesus uitgetrek het, was in dieselfde gevaar as die van die dissipels. Vrees en wanhoop het die insittendes oorweldig; maar deur die opdrag van Jesus, het die stormagtige toneel bedaar. Die woedende storm het die bote naby aan mekaar gedryf en almal aan boord het die wonderwerk aanskou. In die kalmte wat gevolg het, is die vrees vergeet. Die mense het onder mekaar gefluister: “Wat vir ‘n mens is Hy, dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is?” DKvDE 353.6

Toe Jesus tydens die storm wakker gemaak is, was Hy volkome vreedsaam. Daar was geen sweem van vrees in woord of voorkoms nie, want daar was geen vrees in Sy hart nie. Maar Hy het nie op Sy almag berus nie. Dit was nie as “...Meester van aarde en see en lug...” wat Hy so rustig gestem was nie. Daardie mag het Hy neergelê. Hy het gesê: “Ek kan uit Myself niks doen nie.” (Johannes 5:30). Hy het op die mag van die Vader vertrou. Dit was in geloof in die liefde en sorg van God wat Jesus berus het en die mag van die woord wat die storm stilgemaak het, was die krag van God. DKvDE 354.1

Soos Jesus deur geloof in die sorg van die Vader gerus het, moet ons in die sorg van ons Verlosser rus. As die dissipels Hom vertrou het, sou hulle vrede gehad het. Hulle vrees tydens gevaar het hulle ongeloof geopenbaar. In hul pogings om hulself te red, het hulle van Jesus vergeet; en dit was eers toe hulle, in die wanhoop van hulle self-afhanklikheid, hulle tot Hom gewend het, wat Hy aan hulle hulp kon verleen. DKvDE 354.2

Hoe dikwels beleef ons dieselfde ervaring as die dissipels! Wanneer die storms van versoeking saampak, die hewige weerligstrale flits en die golwe oor ons breek, veg ons alleen teen die storm en vergeet daar Een is wat ons kan help. Ons vertrou op ons eie krag totdat ons moed verloor en gereed is om te vergaan. Dan dink ons aan Jesus en as ons tot Hom roep om ons te red, sal ons geroep nie tevergeefs wees nie. Alhoewel Hy ons ongeloof en selfvertoue met droefheid bestraf, versuim Hy nooit om die hulp wat ons benodig te bied nie. Of dit nou op die land of op die see is, as ons die Verlosser in ons hart het, hoef ons nie te vrees nie. ‘n Lewende geloof in die Verlosser sal die see van die lewe kalm maak en ons van die gevaar, op die wyse wat Hy weet die beste is, verlos. DKvDE 354.3

Daar is ‘n verdere geestelike les in hierdie wonderwerk van die stilmaak van die storm. Elke mens se ervaring getuig van die waarheid van hierdie woorde in die Skrif: “Die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie... Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie!” (Jesaja 57:20,21). Sonde het ons vrede vernietig. Terwyl die eie-ek nie onderdruk word nie, kan ons geen rus vind nie. Geen menslike krag kan die oorheersende hartstogte beheer nie. In hierdie opsig is ons net so magteloos soos wat die dissipels was om die storm stil te maak. Maar Hy wat vrede oor die storm op die meer van Galiléa gespreek het, het die woord van vrede oor elke siel gespreek. Hoe fel die storm ook al is, diegene wat hul tot Jesus wend en uitroep: “Here, red ons...” sal redding vind. Sy genade, wat die siel met God versoen, maak die stryd van menslike drifte stil en in Sy liefde kom die hart tot rus. “Hy het die storm ‘n gesuis gemaak, hulle golwe het stil geword. Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte.” (Psalm 107:29, 30). “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus.” (Romeine 5:1). “En die werking van die geregtigheid sal vrede wees en die voortbrengsel van geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid.” (Jesaja 32:17). DKvDE 355.1

In die vroeë oggend, het die Heiland en Sy metgeselle na die oewer gegaan en die lig van die opkomende son het land en see aangeraak soos met ‘n seëning van vrede. Maar skaars het hulle aan wal gestap, of hulle is deur ‘n toneel, veel erger as die woede van die storm, begroet. Vanuit een of ander skuilplek tussen die grafte, het twee besetenes op hulle afgestorm asof hulle hul wou verskeur. Dele van die kettings wat hulle in hul ontsnapping gebreek het, het om hulle gehang. Hulle vlees was stukkend en het gebloei waar hulle hulself met skerp klippe gesny het. Hul oë het onder hul lang, gekoekte hare uit gegluur, asof die demone wat van hulle besit geneem het, die laaste greintjie menslikheid in hulle uitgewis het; hulle het meer soos wilde diere as mense gelyk. DKvDE 355.2

Die dissipels en hul metgeselle het vreesbevange op die vlug geslaan; maar toe hulle sien dat Jesus nie by hulle was nie, het hulle omgedraai om na Hom te soek. Hy het gestaan waar hulle Hom gelaat het. Hy, wat die storm stilgemaak het en wat Satan voorheen ontmoet en oorwin het, het nie voor hierdie demone gevlug nie. Toe die manne met ‘n gekners van tande en skuimende monde naderkom, het Jesus dieselfde hand wat die golwe laat bedaar het, opgehef en die mans kon nie nader kom nie. Hulle het woedend, maar hulpeloos voor Hom gestaan. DKvDE 356.1

Met gesag het Hy die onreine geeste beveel om uit hulle uit te gaan. Sy woorde het deur die verduisterde verstande van die ongelukkige mans gedring. Hulle het dofweg besef dat Een naby was wat hulle van die teisterende demone kon red. Hulle het voor die Heiland se voete neergeval om Hom te aanbid; maar toe hulle hul monde oopmaak om Hom om genade te smeek, het die demone deur hulle heftig uitgeroep: “Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie.” DKvDE 356.2

“Wat is jou naam?” het Jesus gevra en die antwoord was: “Legio is my naam, want ons is baie.” Deur die geteisterde manne wat hulle as mediums gebruik het, het hulle Jesus gesmeek om hulle nie uit die land uit te stuur nie. Op die berghelling nie ver daarvandaan nie, het ‘n groot trop varke gewei. Die demone het gevra om toegelaat te word om in hulle in te vaar en Jesus het dit toegelaat. Onmiddellik het daar paniek onder die trop varke uitgebreek. Hulle het waansinnig teen die krans afgestorm, nie in staat om hulself te keer voordat hulle in die meer gestort en vergaan het nie. DKvDE 356.3

Intussen het ‘n wonderbaarlike verandering by die besetenes ingetree. Hul verstand is verlig. Hul oë het intelligent geglinster. Hul gelaat, so lank deur die beeld van Satan misvorm, het skielik versag, die bloedbevlekte hande was stil en met blymoedige stemme het hulle God vir hul verlossing geprys. DKvDE 357.1

Vanaf die krans het die wagters van die varke alles wat plaasgevind het aanskou en hulle het vinnig weggegaan om die nuus aan hul werkgewers en al die mense te verkondig. In vrees en verbasing het die hele bevolking Jesus tegemoetgekom. Die twee besetenes was die skrik van die omgewing. Niemand kon veilig by die plek waar hulle was verbygaan nie; want hulle het op elke reisiger met demoniese woede afgestorm. Maar hierdie manne was nou by hul volle verstand en het by die voete van Jesus gesit en na Sy woorde geluister en die Naam van Hom wat hulle genees het, verheerlik. Maar die mense wat hierdie wonderbaarlike toneel aanskou het, was nie verheug nie. Die verlies van die varke het swaarder by hulle geweeg as die bevryding van hierdie gevangenes van Satan. DKvDE 357.2

Dit was in genade dat hierdie verlies vir die eienaars toegelaat is om oor hulle te kom. Hulle was behep met wêreldse dinge en het nie groot belangstelling in die geestelike lewe gehad nie. Jesus wou die betowering van selfsugtige onverskilligheid verbreek, sodat hulle Sy genade sou aanneem. Maar spyt en verontwaardiging oor hul aardse verlies het hul oë vir die genade van die Heiland verblind. DKvDE 357.3

Die manifestasie van bonatuurlike mag het die bygelowe van die mense opgewek en hul vrees ontketen. Verdere rampe kon moontlik uit die feit dat hierdie Vreemdeling onder hulle was, voortspruit. Hulle het finansiële ondergang in die vooruitsig gesien en het besluit om van Sy teenwoordigheid ontslae te raak. Diegene wat saam met Jesus op die meer was, het van alles wat die vorige nag gebeur het vertel, van hul gevaar in die storm en hoe die wind en die see stilgemaak is. Maar hul woorde het geen uitwerking gehad nie. In vrees het die mense om Jesus saamgedrom en Hom gesmeek om van hulle weg te gaan en Hy het ingewillig en dadelik met die skuit na die oorkantste oewer gevaar. DKvDE 357.4

Die inwoners van Gádara het die lewende getuienis van die krag en genade van Christus voor hulle gehad. Hulle het gesien hoe die besetenes genees is, maar hulle was so bang om hul aardse belange in gevaar te stel, dat hulle Hom, wat die vors van die duisternis voor hul oë oorwin het, soos ‘n indringer behandel het en die Gawe van die hemel het voor hulle deure omgedraai. Ons het nie die geleentheid om van die persoon van Christus weg te draai soos die Gádareners gehad het nie; maar tog is daar baie wat weier om Sy Woord te gehoorsaam, omdat gehoorsaamheid die opoffering van een of ander aardse belang kan behels. Omdat Sy teenwoordigheid geldelike verliese vir hulle kan veroorsaak, sal baie Sy genade verwerp en Sy Gees van hulle verdryf. DKvDE 358.1

Maar die gesindheid van die herstelde besetenes was baie anders. Hulle het gemeenskap met hul Verlosser begeer. Sy teenwoordigheid het hulle geborge laat voel teen die demone wat hul lewens geteister het en hul manlikheid vermors het. Toe Jesus op die punt was om in die boot te klim, het hulle aan Sy sy gebly, aan sy voete gekniel en Hom gesmeek om hulle naby Hom te hou, waar hulle altyd na Sy woorde sou kon luister. Maar Jesus het hulle opdrag gegee om huis toe te gaan en te vertel watter groot dinge die Here vir hulle gedoen het. DKvDE 358.2

Hier was vir hulle ‘n werk, naamlik om na ‘n heidense huis te gaan en te vertel van die seën wat hulle van Jesus ontvang het. Dit was vir hulle moeilik om van die Heiland geskei te word. Hulle sou gewis groot probleme ondervind in die gemeenskap van hul heidense landgenote. En dit wou voorkom asof hul lang isolasie uit die samelewing hulle onbevoeg gemaak het om die werk wat Hy aan hulle opgedra het te verrig. Maar toe Jesus hulle op hul plig wys, was hulle gereed om te gehoorsaam. Hulle het nie alleen hul eie huishoudings en bure van Jesus vertel nie, maar hulle het regdeur Dekapolis gegaan en oral Sy krag om te red verklaar en beskryf hoe Hy hulle van die demone bevry het. Deur hierdie werk te doen, kon hulle ‘n groter seën ontvang as om net tot voordeel van hulleself in Sy teenwoordigheid te bly. Dit is om die goeie nuus van verlossing te verkondig, dat ons na aan die Verlosser gebring word. DKvDE 358.3

Die twee verloste besetenes was die eerste sendelinge wat Christus gestuur het om die evangelie in die streek van Dekapolis te verkondig. Slegs vir ‘n paar oomblikke was hierdie mans bevoorreg om die leringe van Christus te hoor. Nie een preek wat oor Sy lippe gekom het, het ooit tot hul ore gekom nie. Hulle kon die volk nie onderrig soos die dissipels, wat daagliks by Jesus was, kon doen nie. Maar in hul eie persoon het hulle die getuienis dat Jesus die Messias was, gedra. Hulle kon vertel wat hulle weet; wat hulle self gesien, gehoor en ervaar het van die mag van Christus. Dit is wat elkeen wie se hart deur die genade van God aangeraak is, kan doen. Johannes, die geliefde dissipel, het geskryf: “Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe ... wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle.” (1 Johannes 1:1-3). As getuies van Christus moet ons vertel wat ons weet, wat ons self gesien, gehoor en ervaar het. As ons Jesus stap vir stap gevolg het, sal ons iets bepaald hê om te vertel van die wyse waarop Hy ons gelei het. Ons kan vertel hoe ons Sy belofte op die proef gestel het en gevind het dat die belofte waar was. Ons kan getuig van wat ons aangaande die genade van Christus ervaar het. Dít is die getuienis wat ons Here vra en waarvan die gebrek daaraan, die wêreld vergaan. DKvDE 359.1

Alhoewel die bevolking van Gádara Jesus nie ontvang het nie, het Hy hulle nie aan die duisternis wat hulle gekies het oorgelaat nie. Toe hulle Hom versoek het om van hulle weg te gaan, het hulle nie Sy woorde gehoor nie. Hulle was onkundig aangaande dit wat hulle verwerp nie. Daarom het Hy die lig weer na hulle gestuur en dit deur diegene na wie hulle nie sou weier om te luister nie. DKvDE 359.2

Die doel van Satan met die vernietiging van die varke, was om die mense van die Verlosser weg te draai en die prediking van die evangelie in daardie streek te voorkom. Maar juis hierdie gebeurtenis het die hele streek opgewek soos niks anders kon doen nie en die aandag op Christus gevestig. Alhoewel die Verlosser self weggegaan het, het die mans wat Hy genees het, as getuies van Sy mag agtergebly. Diegene wat mediums van die vors van die duisternis was, het kanale van lig geword, boodskappers van die Seun van God. Die mense was verwonderd terwyl hulle na die wonderbaarlike nuus geluister het. ‘n Deur vir die evangelie het in die hele streek oopgegaan. Toe Jesus na Dekapolis teruggekeer het, het die mense om Hom vergader en vir drie dae lank het nie net die inwoners van die een stad nie, maar duisende mense uit die hele omgewing die boodskap van verlossing gehoor. Selfs die mag van duiwels is onder die beheer van ons Verlosser en die werke van die bose word ten goede omvergewerp. DKvDE 360.1

Die ontmoeting met die besetenes van Gádara het ‘n les vir die dissipels ingehou. Dit het die diepte van die agteruitgang waartoe Satan die hele mensdom wil aftrek en die sending van Christus om die mens van sy mag te bevry, getoon. Daardie ellendige wesens wat tussen die grafte gewoon het, wat deur duiwels beset was, verslaaf aan onbeheerste hartstogte en walglike begeertes, verteenwoordig dit wat van die mensdom sou word indien hulle aan sataniese jurisdiksie oorgegee word. Satan se invloed word voortdurend op mense uitgeoefen om die aandag af te trek, die verstand ter kwade te beheer en tot geweld en misdaad aan te spoor. Hy verswak die liggaam, verdof die intellek en verlaag die siel. Wanneer mense die uitnodiging van die Heiland van die hand wys, onderwerp hulle hulself aan Satan. Menigtes in elke faset van die lewe, in die huis, in die sakewêreld en selfs in die kerk, doen dit vandag. Dit is om hierdie rede dat die aarde vol geweld en misdaad is en morele duisternis soos ‘n doodskaduwee die mensdom omvou. Deur sy bedrieglike verleidings, lei Satan die mens tot erger en erger euwels, totdat volslae verdorwenheid en ondergang die gevolg is. Die enigste beskerming teen sy mag is die teenwoordigheid van Jesus. Voor die mense en engele is Satan as die vyand en vernietiger van die mens aan die kaak gestel; en Christus as die mens se Vriend en Verlosser. Sy Gees sal in die mens alles wat die karakter sal veredel, ontwikkel en die natuur met waardigheid sal beklee. Dit sal die mens in liggaam, siel en gees tot eer van God opbou. “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (2 Timotheus 1:7). Hy het ons geroep “...om die heerlikheid van onse Here Jesus Christus te verkry...” (2 Thessalonicense 2:14), die karakter van Jesus en “...om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun.” (Romeine 8:29) DKvDE 360.2

En siele wat tot ‘n instrument van Satan afgetakel is, word steeds deur die krag van Christus in boodskappers van geregtigheid omskep en deur die Seun van God uitgestuur om te vertel “...watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.” DKvDE 361.1