Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 34—Die Uitnodiging *
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” DKvDE 345.1
Hierdie trooswoorde is aan die menigte wat Jesus gevolg het, gerig. Die Heiland het gesê dat mense slegs deur Hom ‘n kennis van God kan verkry. Hy het van Sy dissipels gepraat as diegene aan wie ‘n kennis van hemelse dinge gegee is. Maar Hy het niemand laat voel dat hulle van Sy liefde en sorg uitgesluit was nie. Almal wat vermoeid en belas is, mag na Hom kom. DKvDE 345.2
Skrifgeleerdes en rabbi’s, met hul nougesette aandag aan vormgodsdiens, het ‘n gevoel van gebrek, wat nie deur rituele boetedoening bevredig kon word nie, ervaar. Tollenaars en sondaars kon wel voorgee dat hulle tevrede met hul sinlike aardse lewe was, maar in hul harte was daar vrees en wantroue. Jesus het die noodlydendes en die swaarmoediges van hart, wie se hoop vernietig was en wat met wêreldse vreugde die verlange van die siel probeer stilmaak het aanskou en Hy het almal uitgenooi om rus in Hom te vind. DKvDE 345.3
Met deernis het Hy aan die wat swaarkry gesê: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart; en julle sal rus vind vir julle siele.” DKvDE 345.4
Met hierdie woorde spreek Christus tot elke mens. Of hulle dit weet of nie, almal is uitgeput en belas. Almal gaan gebuk onder laste wat net Christus kan wegneem. Die swaarste las wat ons dra, is die sondelas. As ons hierdie las alleen moes dra, sou dit ons verpletter. Maar die Sondelose het ons plek ingeneem. “Die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom...” (Jesaja 53:6). Hy het die las van ons skuld gedra. Hy sal die las van ons moeë skouers afneem. Hy sal ons rus gee. Die las van sorge en droefheid sal Hy ook dra. Hy nooi ons om al ons sorge op Hom te werp; want Hy dra ons op die hart. DKvDE 345.5
Die ouer Broer van ons menseras is by die ewige troon. Hy sien elke siel wat sy aangesig na Hom as Verlosser wend. Hy weet uit ervaring wat die swakhede van die mensdom is, wat ons behoeftes is en waar die krag van ons versoekings Iê; want Hy is in alle opsigte net soos ons versoek, maar sonder sonde. Hy waak oor jou, bewende kind van God. Word jy versoek? Hy sal verlos. Is jy swak? Hy sal versterk. Is jy onkundig? Hy sal jou lig gee. Is jy gewond? Hy sal genees. Die Here “...bepaal die getal van die sterre....” (Psalm 147:4), tog genees Hy “...die wat gebroke is van hart en Hy verbind hul wonde.” (Psalm 147:3). “Kom na My toe...” is Sy uitnodiging. Wat ook al jou bekommernisse en beproewinge, stel jou saak aan die Here. Jou gees sal versterk word om dit te verduur. Die weg sal vir jou oopgestel word om jou uit verleentheid en probleme los te wikkel. Hoe swakker en hulpeloser jou besef van jouself, hoe sterker sal jy in Sy krag word. Hoe swaarder jou laste, hoe groter die seën van rus deur dit op die Lasdraer te werp. Die rus wat Christus aanbied, berus op voorwaardes en hierdie voorwaardes word duidelik uiteengesit. Almal kan daaraan voldoen. Hy vertel ons presies hoe Sy rus gevind kan word. DKvDE 346.1
“Neem my juk op julle...” sê Jesus. Die juk is ‘n instrument van diens. Osse word gejuk vir arbeid en die juk is noodsaaklik om doeltreffend te kan werk. Deur hierdie illustrasie leer Christus ons dat ons geroep is om te dien vir solank die lewe voortduur. Ons moet Sy juk op ons neem, sodat ons saam met Hom medewerkers kan word. DKvDE 346.2
Die juk wat ons vir diens inspan, is die wet van God. Die groot wet van liefde wat in Eden geopenbaar is, vanaf Sinai verkondig is en in die nuwe verbond op die hart geskrywe is, is wat die menslike arbeider aan die wil van God bind. As ons oorgelaat word om ons eie neigings te volg en net te gaan waar ons wil ons lei, sal ons in Satan se geledere beland en besitters van sy eienskappe word. Daarom beperk God ons tot Sy wil, wat hoog en edel en verheffend is. Hy wil hê dat ons geduldig en verstandig ons diensplig sal opneem. Christus het self as mens die juk van diens gedra. Hy het gesê: “Ek het lus, o my God, om U welbehae te doen en U wet is binne-in my ingewande.” (Psalm 40:9). “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om My wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” (Johannes 6:38). Liefde vir God, ywer vir Sy heerlikheid en liefde vir die gevalle mensdom, het Jesus na die aarde gebring om te ly en sterf. Dit was die beherende mag van Sy lewe. Hy gebied ons om hierdie beginsel aan te neem. DKvDE 346.3
Daar is baie wie se harte onder ‘n vrag sorge ineenkrimp omdat hulle die wêreld se standaard nastreef. Hulle het die diens daarvan gekies, die verwarring aanvaar en die gebruike daarvan aangeneem. Sodoende word hul karakter geskend en hul lewe ‘n vermoeienis gemaak. Ten einde die ambisie en wêreldse begeertes te bevredig, skend hulle die gewete en bring hulle ‘n ekstra las van berou oor hulleself. Die voortdurende bekommernis verswak die lewenskrag. Ons Here wil hê dat hulle hierdie juk van slawerny moet aflê. Hy nooi hulle uit om Sy juk op hulle te neem. Hy sê: “My juk is sag en my las is lig.” Hy gebied hulle om eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid te soek, met die belofte dat alles wat hulle nodig het, vir hulle bygevoeg sal word. Kommer is blind en kan nie die toekoms onderskei nie; maar Jesus sien die einde van die begin af. Vir elke probleem is Hy bereid om verligting te bring. Ons hemelse Vader het ‘n duisend maniere, waarvan ons niks weet nie, om vir ons te voorsien. Diegene wat die een beginsel om die diens en eer van God bo alles te stel aanvaar, se radeloosheid sal verdwyn en ‘n gelyk pad voor hul voete vind. DKvDE 347.1
“Leer van My... ” sê Jesus, “...want Ek is sagmoedig en nederig van hart en julle sal rus vind vir julle siele.” Ons moet die skool van Christus bywoon om sagmoedigheid en nederigheid by Hom te leer. Verlossing is die proses waardeur die siel vir die hemel opgelei word. Hierdie opleiding beteken ‘n kennis van Christus. Dit beteken bevryding van idees, gewoontes en praktyke wat in die skool van die vors van die duisternis opgedoen is. Die siel moet van alles wat in stryd met lojaliteit teenoor God is, verlos word. DKvDE 347.2
In die hart van Christus, waar volkome harmonie met God geheers het, was daar volmaakte vrede. Hy was nooit deur applous weggevoer en ook nie deur kritiek of teleurstelling ontmoedig nie. Te midde van die felste opposisie en wreedste mishandeling, was Hy steeds moedig. Maar baie wat bely dat hulle Sy volgelinge is, het ‘n angstige, onrustige hart, omdat hulle bang is om hulself aan God toe te vertrou. Hulle onderwerp hulself nie volkome aan Hom nie, omdat hulle terugdeins vir die gevolge wat so ‘n oorgawe kan meebring. Tensy hulle hierdie oorgawe maak, kan hulle nie vrede vind nie. DKvDE 348.1
Dit is die liefde vir self wat onrus meebring. As ons van Bo gebore word, sal ons dieselfde gesindheid hê wat Jesus gehad het, die gesindheid wat Hom daartoe gelei het om Homself te verneder sodat ons gered kan word. Dan sal ons nie die hoogste posisie soek nie. Ons sal begeer om aan die voete van Jesus te sit en van Hom te leer. Ons sal verstaan dat die waarde van ons werk nie uit ‘n vertoon en ophef in die wêreld bestaan, of deur aktief en ywerig in ons eie krag te wees nie. Die waarde van ons werk is in verhouding met die mate waarmee ons met die Heilige Gees vervul is. Vertroue in God bring heiliger eienskappe van denke, sodat ons met geduld ons siel kan bewaar. DKvDE 348.2
Die juk word op osse geplaas om hulle te help om die vrag te trek, om die las ligter te maak. So ook met die juk van Christus. Wanneer ons wil in die wil van God verswelg word en ons Sy gawes gebruik om ander te seën, sal ons die lewenslas lig vind. Hy wat op die weg van die gebooie van God wandel, wandel in die geselskap van Christus en in Sy liefde kom die hart tot rus. Toe Moses gebid het: “Maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken...” het die Here hom geantwoord: “Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?” (Exodus 33:13,14). En deur die profete is die boodskap gegee: “So spreek die Here: Staan op die weë en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.” (Jeremia 6:16). En Hy sê: “Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ‘n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see.” (Jesaja 48:18). DKvDE 348.3
Diegene wat Christus op Sy woord neem, hul siele aan Sy sorg oorgee en hul lewens aan Sy voorskrifte toevertrou, sal rus en vrede vind. Niks ter wêreld kan hulle droewig stem as Jesus hulle hulself met Sy teenwoordigheid verbly nie. In volmaakte berusting heers volmaakte vrede. Die Here sê: “U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.” (Jesaja 26:3). Ons lewens mag na ‘n warboel lyk; maar as ons onsself aan die Meesterwerker verbind, sal Hy die patroon van die lewe en karakter na vore bring wat tot Sy eie eer sal wees. En die karakter wat die heerlikheid-karakter-van Christus uitdruk, sal in die Paradys van God ontvang word. ‘n Hernude geslag sal saam met Hom in wit wandel, want hulle is dit waardig. DKvDE 349.1
Soos ons deur Jesus die rus betree, begin die hemel hier op aarde. Ons reageer op Sy uitnodiging: Kom, leer van My; en sodoende begin ons die ewige lewe. Die hemel is ‘n eindelose nadering tot God deur Christus. Hoe langer ons in die hemelse saligheid verkeer, hoe meer en meer heerlikheid sal aan ons geopenbaar word; en hoe meer ons van God weet, hoe meer intens sal ons geluk wees. As ons in hierdie lewe met Jesus wandel, kan ons met Sy liefde gevul wees, tevrede met Sy teenwoordigheid. Alles wat die menslike natuur kan verdra, kan ons hier ontvang. Maar wat is dit in vergelyking met die hiernamaals? Daar is hulle “...voor die troon van God en dien Hom dag en nag in Sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal Sy tent oor hulle oopspan. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei en God sal alle trane van hulle oë afvee.” (Openbaring 7:15-17). DKvDE 349.2