Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 33—“Wie Is My Broers?” *
Josef se seuns het glad nie simpatiek teenoor Jesus in Sy werk gestaan nie. Die berigte wat hulle aangaande Sy lewe en arbeid bereik het, het hulle met verbasing en ontsteltenis gevul. Hulle het gehoor dat Hy hele nagte aan gebed gewy het, dat Hy gedurende die dag deur groot skares omring was en Homself nie eers tyd gegun het om te eet nie. Sy vriende het gevoel dat Hy Homself deur Sy onophoudelike arbeid uitput; hulle kon nie Sy houding teenoor die Fariseërs verantwoord nie en daar was sommige wat gevrees het dat Hy besig was om Sy rede kwyt te raak. DKvDE 336.1
Sy broers het dit te hore gekom en ook van die beskuldiging wat deur die Fariseërs gebring is dat Hy duiwels deur die mag van Satan uitgedryf het. Hulle het die verwyte wat, as gevolg van hulle verwantskap met Jesus oor hulle gebring is, terdeë ervaar. Hulle het geweet watter opskudding Sy woorde en werke ontketen het en was nie net verontrus oor Sy blatante uitlatings nie, maar ook verontwaardig oor sy veroordeling van die skrifgeleerdes en Fariseërs. Hulle het besluit dat Hy oorgehaal of gedwing moes word om hierdie werkswyse te staak en hulle het Maria oorreed om haar by hulle te skaar, met die gedagte dat hulle deur Sy liefde vir haar, die oorhand sou verkry. DKvDE 336.2
Kort tevore het Jesus vir die tweede keer ‘n wonderwerk verrig deur ‘n man wat van die duiwel besete, blind en doof was, te genees en die Fariseërs het die beskuldiging herhaal: “Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit.” (Mattheus 9:34). Christus het duidelik vir hulle gesê dat, deur die werk van die Heilige Gees aan Satan toe te skryf, hulle hulself van die Bron van seën afsny. Diegene wat teen Jesus self gepraat het en nie Sy Goddelike karakter onderskei het nie, kan nog vergifnis ontvang; want deur die Heilige Gees kan hulle gelei word om hul dwaling te sien hulle te bekeer. Wat ook al die sonde mag wees, as die siel berou het en glo, word die skuld in die bloed van Christus afgewas; maar hy wat die werk van die Heilige Gees verwerp, plaas homself op ‘n plek waar berou en geloof nie tot hom kan deurdring nie. Dit is deur die Gees dat God in die hart werk; wanneer ‘n mens die Gees opsetlik verwerp en verklaar dat dit van Satan afkomstig is, sluit hy die kanaal waardeur God met hom kan kommunikeer af. Wanneer die Gees finaal verwerp word, is daar niks meer wat God vir die siel kan doen nie. DKvDE 336.3
Die Fariseërs aan wie Jesus hierdie waarskuwing gerig het, het self nie die aanklag wat hulle teen Hom gebring het geglo nie. Daar was nie een van hierdie hooggeplaastes wat nie tot die Heiland aangetrokke gevoel het nie. Hulle het die Gees se stem in hul eie harte gehoor verklaar dat Hy die Gesalfde van Israel is en hulle aangespoor het om hulself as Sy dissipels te bely. In die lig van Sy teenwoordigheid het hulle hul onheiligheid besef en na ‘n geregtigheid wat hulle nie self kon skep nie, verlang. Maar na hulle verwerping van Hom, sou dit te vernederend vir hulle wees om Hom as die Messias te aanvaar. Nadat hulle hul voete op die weg van ongeloof geplaas het, was hulle te trots om hul dwaling te erken. En ten einde te verhoed dat hulle die waarheid erken, het hulle met desperate geweld probeer om die leringe van die Heiland te betwis. Die getuienis van Sy mag en barmhartigheid het hulle ergerlik gemaak. Hulle kon die Heiland nie belet om wonderwerke te verrig nie en hulle kon nie Sy leringe stilmaak nie; maar hulle het alles in hul vermoë gedoen om Hom in ‘n slegte lig te stel en Sy woorde te verdraai. Nogtans het die oortuigende Gees van God hulle gevolg en moes hulle baie hindernisse oprig om die krag daarvan te weerstaan. Die magtigste Invloed wat die menslike hart kan bereik, het met hulle gestrewe, maar hulle wou nie toegee nie. DKvDE 337.1
Dit is nie God wat die oë van mense verblind of hulle harte verhard nie. Hy stuur aan hulle die lig om hul foute reg te stel en hulle op veilige paaie te lei; deur die verwerping van hierdie lig word die oë verblind en die hart verhard. Dikwels is die proses geleidelik en amper onopmerklik. Lig kom na die siel deur die Woord van God, deur Sy dienaars, of die regstreekse invloed van Sy Gees; maar as een ligstraal buite rekening gelaat word, is daar ‘n gedeeltelike gevoelloosheid vir geestelike gewaarwording en die tweede openbaring van lig word minder duidelik onderskei. So neem die duisternis toe totdat nag in die siel heers. So was dit met hierdie Joodse leiers. Hulle was oortuig dat ‘n Goddelike mag in Christus werksaam was, maar om die waarheid te weerstaan, het hulle die werk van die Heilige Gees aan Satan toegeskryf. Sodoende het hulle doelbewus misleiding gekies; hulle het hulself aan Satan onderwerp en voortaan is hulle deur sy mag beheer. DKvDE 338.1
Nou verwant aan Christus se waarskuwing ten opsigte van die sonde teen die Heilige Gees, was ‘n waarskuwing teen ydele en sondige woorde. Woorde is ‘n aanduiding van wat in die hart omgaan. “Uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.” (Lukas 6:45). Maar die woorde is meer as ‘n aanduiding van die karakter; hulle besit die mag om ook op die karakter te reageer. Mense word deur hulle eie woorde beïnvloed. Dikwels gee hulle, onder ‘n skielike ingewing wat deur Satan aangevoer is, uiting aan jaloesie of boosaardige oortuigings en spreek uit wat hulle nie werklik glo nie; maar die uitdrukking reageer op die gedagtes. Hulle word deur hul eie woorde mislei en glo dat wat hulle deur Satan se ingewing uitgespreek het, waar is. Nadat hulle een keer ‘n mening of besluit uitgespreek het, is hulle dikwels te trots om dit terug te trek en probeer hulself reg bewys totdat hulle glo dat hulle werklik reg is. Dit is gevaarlik om ‘n woord van twyfel uit te spreek, gevaarlik om Goddelike lig te bevraagteken en te kritiseer. Die gewoonte van onverskillige en oneerbiedige kritiek reageer op die karakter in die bevordering van oneerbiedigheid en ongeloof. Baie mense wat hierdie gewoonte aanhang, het, onbewus van die gevaar, voortgegaan totdat hulle gereed was om die werk van die Heilige Gees te kritiseer en te verwerp. Jesus het gesê: “Elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word en uit jou woorde sal jy veroordeel word.” DKvDE 338.2
Toe voeg Hy ‘n waarskuwing by vir diegene wat onder die indruk van Sy woorde verkeer het, wat graag na Hom geluister het, maar wat hulself nie aan die inwoning van die Heilige Gees oorgegee het nie. Dit is nie net deur weerstand nie, maar ook deur verwaarlosing dat die siel vernietig word. “Wanneer ‘n onreine gees uit die mens uitgegaan het...” het Jesus gesê, “...gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie. Dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het.’ En hy kom en vind dit leeg, uitgevee en versier. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar.” DKvDE 339.1
Daar was baie in die tyd van Christus, soos ook vandag, oor wie die beheer van Satan tydelik skynbaar verbreek is; deur die genade van God is hulle van die bose geeste wat oor die siel geheers het bevry. Hulle het hulle in die liefde van God verheug; maar soos die hardkoppige toehoorders van die gelykenis, het hulle nie in Sy liefde gebly nie. Hulle het hulle nie daagliks aan God onderwerp sodat Christus in die hart kon woon nie; en toe die bose gees terugkeer met “...sewe ander geeste slegter as hy self...” is hulle volkome deur die mag van die Bose oorheers. DKvDE 339.2
Wanneer die siel hom aan Christus oorgee, neem ‘n nuwe mag van die nuwe hart besit. ‘n Verandering vind plaas wat die mens nooit self kan vermag nie. Dit is ‘n bonatuurlike werk wat ‘n bonatuurlike element in die menslike natuur inbring. Die siel wat aan Christus onderwerp word, word Sy eie vesting wat Hy in ‘n opstandige wêreld verdedig en Hy is van voorneme dat geen ander gesag as Sy eie daarin geken sal word nie. ‘n Siel wat so deur hemelse magte bewaar word, is ondeurdringbaar vir die aanvalle van Satan. Maar tensy ons onsself aan die beheer van Christus oorgee, sal die bose ons oorheers. Dit is onvermydelik dat ons onder die beheer van die een of die ander van die twee groot moondhede, wat om die oppergesag van die wêreld meeding, sal wees. Dit is nie nodig vir ons om doelbewus die diens van die koninkryk van die duisternis te kies om onder sy heerskappy te kom nie. Ons moet slegs nalaat om ons met die koninkryk van die lig te verbind. As ons nie met die hemelse magte saamwerk nie, sal Satan die hart in besit neem en dit sy woonplek maak. Die enigste verdediging teen die Bose is die inwoning van Christus in die hart deur geloof in Sy geregtigheid. Tensy ons lewenskragtig met God verbind word, kan ons die onheilige gevolge van selfliefde, selfbevrediging en versoeking tot sonde nooit weerstaan nie. Ons sal moontlik baie slegte gewoontes laat vaar terwyl ons tydelik van Satan wegbreek; maar sonder ‘n lewensbelangrike verbintenis met God, deur onsself van oomblik tot oomblik aan Hom oor te gee, sal ons oorwin word. Sonder ‘n persoonlike ontmoeting en voortdurende gemeenskap met Christus, is ons aan die genade van die vyand oorgelaat en sal ons uiteindelik sy wil doen. DKvDE 339.3
“Die laaste van daardie mens word erger as die eerste. So sal dit ook wees...” het Jesus gesê, “...met hierdie bose geslag.” Daar is niemand wat so verhard is, soos diegene wat die uitnodiging van genade geminag het en die Gees van genade bedroef het nie. Die mees algemene manifestasie van sonde teen die Heilige Gees is om die uitnodiging tot bekering voortdurend te minag. Elke stap in die verwerping van Christus, is ‘n stap in die rigting van verwerping van verlossing en in die rigting van die sonde teen die Heilige Gees. DKvDE 340.1
Deur Christus te verwerp, het die Joodse volk die onvergeeflike sonde gepleeg; en deur die uitnodiging van genade te weier, kan ons dieselfde fout begaan. Ons beledig die Vors van die lewe en maak Hom beskaamd voor die sinagoge van Satan en voor die hemelse heelal wanneer ons weier om na Sy aangewese boodskappers te luister en eerder na die verteenwoordigers van Satan luister, wat die siel van Christus weglok. Solank as wat iemand dit doen, kan hy geen hoop, of vergifnis vind nie en hy sal uiteindelik alle begeerte verloor om met God versoen te raak. DKvDE 340.2
Terwyl Jesus die mense geleer het, het Sy dissipels die boodskap aan Hom gebring dat sy moeder en broers buite was en Hom wou sien. Hy het geweet wat in hulle harte was en het geantwoord: “Wie is my moeder? en wie is my broers? En Hy steek sy hand oor sy dissipels uit en sê: Daar is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, die is my broer en suster en moeder.” DKvDE 341.1
Almal wat Christus deur geloof aanneem, is aan Hom verbind met ‘n hegter band as die van ‘n menslike verwantskap. Hulle sal een met Hom word, soos Hy een met die Vader is. As ‘n gelowige en dader van Sy woorde, was Sy moeder nader en meer tot redding aan Hom verwant as deur haar natuurlike verwantskap. Sy broers het geen voordeel uit hul verbintenis met Hom getrek nie, tensy hulle Hom as hul persoonlike Verlosser sou aanvaar. DKvDE 341.2
Wat se ondersteuning sou Christus nie in sy aardse familielede gehad het, as hulle in Hom as Een uit die hemel geglo het en saam met Hom gewerk het om die werk van God te doen nie! Hul ongeloof het ‘n skaduwee oor die aardse lewe van Jesus gewerp. Dit was deel van daardie beker van wee wat Hy vir ons moes ledig. DKvDE 341.3
Die vyandigheid wat in die menslike hart teen die evangelie ontketen is, is skerp deur die Seun van God ervaar en dit was vir Hom die mees pynlikste in Sy huis; want Sy hart was vol goedhartigheid en liefde en Hy het ‘n deernis vir familieverhoudings gehad. Sy broers wou hê dat Hy aan hulle idees moes toegee, terwyl sulke optrede in stryd met Sy Goddelike sending sou wees. Hulle het Hom vanuit hulle menslike oogpunt beoordeel en gemeen dat indien Hy net dinge sou uiter wat vir die skrifgeleerdes en Fariseërs aanvaarbaar sou wees, Hy die onaangename getwis wat Sy woorde ontlok het, kon vermy. Hulle het geglo dat Hy Homself te buite gegaan het deur aanspraak op Goddelike gesag te maak en deur Homself as ‘n Teregwyser van hul sondes oor die rabbi’s te aan te stel. Hulle het geweet dat die Fariseërs ‘n geleentheid gesoek het om Hom aan te kla en hulle was van mening dat Hy voldoende geleentheid aan hulle geskenk het. DKvDE 341.4
Met hul kort meetsnoer kon hulle nie die sending wat Hy kom vervul het peil nie en het dus nie meegevoel met Hom in sy beproewings gehad nie. Hul growwe, onwaarderende woorde het getoon dat hulle geen ware persepsie van Sy karakter gehad nie en nie gesien het dat die Goddelike met die mens verenig is nie. Hulle het Hom dikwels met hartseer gevul gesien, maar in plaas daarvan om Hom te vertroos, het hul gees en woorde slegs Sy hart gewond. Sy sensitiewe geaardheid is gefolter, Sy motiewe verkeerd vertolk en Sy werk misken. DKvDE 342.1
Sy broers het dikwels die filosofie van die Fariseërs, wat verslete en grys van ouderdom was, opgehaal en hulle aangematig om te dink dat hulle Hom, wat alle waarheid verstaan en alle verborgenhede begryp, kon leer. Wat hulle nie kon begryp nie, het hulle vryelik veroordeel. Hulle verwyte het Hom tot in Sy siel gekrenk en Hy was uitgeput en ontsteld. Hulle het geloof in God bely en gedink dat hulle God regverdig, terwyl God in die vlees by hulle was en hulle Hom nie geken het nie. DKvDE 342.2
Hierdie dinge het van Sy pad ‘n netelige weg gemaak om op te reis. Christus was so diep bedroef deur die misverstande in Sy eie huis, dat dit vir Hom ‘n verligting was om daarvan weg te kom. Daar was een huis wat Hy graag besoek het, die huis van Lasarus, Maria en Martha; want in hierdie atmosfeer van geloof en liefde het Sy gees rus gevind. Tog was daar niemand op aarde wat sy Goddelike sending kon begryp of die las wat Hy ten behoewe van die mensdom gedra het, geken het nie. Dikwels kon Hy slegs verligting vind deur alleen te wees en met Sy hemelse Vader te kommunikeer. DKvDE 342.3
Diegene wat geroep is om ter wille van Christus te ly, wat wanbegrip en wantroue, selfs in hul eie huis moet verduur, kan vertroosting in die gedagte dat Jesus dieselfde verduur het vind. Hy is met medelye vir hulle gevul. Hy sê hulle aan om in gemeenskap met Hom te verkeer en verligting te vind waar Hy dit, in gemeenskap met die Vader, gevind het. DKvDE 343.1
Diegene wat Jesus as hul persoonlike Verlosser aanneem, word nie as wese agtergelaat om die beproewinge van die lewe alleen te trotseer nie. Hy ontvang hulle as lede van die hemelse gesin; Hy bied aan dat hulle Sy Vader hulle Vader noem. Hulle is sy “kindertjies”, wat na aan die hart van God lê, aan Hom verbind met die teerste en standhoudendste bande. Hy voel ‘n buitengewone teerheid teenoor hulle, wat die liefde wat ons vader of moeder vir ons in ons hulpeloosheid gevoel het so ver, as wat die Godheid bo die menslike verhewe is, oortref. DKvDE 343.2
Van Christus se verhouding tot Sy volk is daar ‘n pragtige illustrasie in die wette wat aan Israel gegee is. As ‘n Hebreër weens armoede gedwing was om afstand van sy erfdeel te doen en homself as slaaf verkoop het, het die plig om hom en sy erfenis af te los, op die naaste familielid geval. (Sien Levitikus 25:25,47-49 en Rut 2:20). So het die werk om ons en ons erfenis, wat ons as gevolg van sonde verloor het, af te los, op Hom, wat ons “naasbestaande” is, geval. Dit was om ons te verlos dat Hy ons naasbestaande geword het. Die Here ons Verlosser, is nader as vader, moeder, broer, vriend of minnaar. “Wees nie bevrees nie...” sê Hy, “...want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is Myne!” (Jesaja 43:1). “Omdat jy kostelik is in My oë, hooggeag is en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe.” (Jesaja 43:4). DKvDE 343.3
Christus is lief vir die hemelse wesens wat Sy troon omring; maar hoe sal ons die groot liefde wat Hy vir ons gehad het kan verklaar? Ons kan dit nie begryp nie, maar ons kan dit as waarheid in ons eie ervaring ondervind. En as ons ‘n verhouding van verwantskap met Hom het, met hoeveel teerheid moet ons die broeders en susters van ons Here beskou! Moet ons nie sonder verwyl die aansprake van ons Goddelike verhouding erken nie? Moet ons nie ons Vader en ons familie eer as ons in die familie van God opgeneem is nie? DKvDE 344.1