Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 32—Die Romeinse Offisier *
Christus het aan die edelman, wie se seun Hy genees het, gesê: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie.” (Johannes 4:48). Hy was bedroef dat Sy eie nasie hierdie uiterlike tekens van Sy Messiasskap vereis het. Hulle ongeloof het Hom telkens verbaas. Maar Hy was verwonderd oor die geloof van die hoofman oor honderd wat na Hom gekom het. Hierdie hoofman het nie die mag van die Heiland bevraagteken nie. Hy het Hom nie eers versoek om persoonlik te kom om die wonderwerk te verrig nie. “Spreek net ‘n woord...” het hy gesê, “...en my kneg sal gesond word.” DKvDE 329.1
Die offisier se dienskneg was verlam en het op sterwe gelê. Onder die Romeine, was die diensknegte slawe wat op die markte gekoop en verkoop is en hulle is misbruik en mishandel; maar hierdie hoofman was geheg aan sy dienskneg en wou baie graag sien dat hy genees word. Hy het geglo dat Jesus hom kon genees. Hy het die Heiland nog nie gesien nie, maar die verslae wat hy van Hom gehoor het, het hom met geloof geïnspireer. Ondanks die formalisme van die Jode, was hierdie Romein oortuig dat hulle godsdiens verhewe bo sy eie was. Hy het reeds deur die mure van nasionale vooroordeel en haat, wat die veroweraars van die verowerde volk geskei het, gebreek. Hy het respek vir die diens van God geopenbaar en het goedhartigheid aan die Jode as Sy aanbidders betoon. In die leer van Christus, soos dit aan hom berig is, het hy gevind dat dit aan die behoefte van die siel voldoen. Alles wat geestelik in hom was, het op die Heiland se woorde gereageer. Maar hy het onwaardig gevoel om in die teenwoordigheid van Jesus te kom en het ‘n beroep op die Joodse ouderlinge gedoen om Jesus te versoek om sy dienskneg te genees. Hulle was bekend met die Groot Leraar, het hy gedink en hulle sou weet hoe om Hom te nader om Sy guns te wen. DKvDE 329.2
Toe Jesus Kapérnaum binne gegaan het, was Hy deur ‘n afvaardiging van ouderlinge ontmoet, wat die begeerte van die hoofman aan Hom meegedeel het. “Hy is dit werd dat U dit vir hom doen...” het hulle gesê, “...want hy het ons volk lief en het self die sinagoge vir ons gebou.” DKvDE 330.1
Jesus het dadelik na die offisier se huis vertrek, maar omdat Hy deur ‘n skare omring was, het Hy maar stadig gevorder. Tyding van Sy koms het Hom vooruitgeloop en die hoofman het, in sy wantroue in homself, hierdie boodskap na Hom gestuur: “Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie.” Maar die Heiland het op Sy weg voortgegaan en uiteindelik het die hoofman dit gewaag om Hom te nader en die boodskap voltooi: “Daarom het ek my ook nie waardig geag om na U te gaan nie; sê dit maar met ‘n woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is ook ‘n man wat aan gesag onderworpe is en ek het soldate onder my; en vir hierdie een sê ek: ‘Gaan!’ en hy gaan; en vir ‘n ander een: ‘Kom!’ en hy kom; en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit. Soos ek die mag van Rome verteenwoordig en my soldate my oppergesag erken, so verteenwoordig U die mag van die Oneindige God en alle geskape dinge gehoorsaam U woord. U kan ‘n siekte beveel om pad te gee, en dit sal U gehoorsaam. U kan U hemelse boodskappers ontbied en hulle sal die krag van genesing bring. Spreek net die woord, en my kneg sal gesond word.” DKvDE 330.2
“Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonderd en Hy draai Hom om en sê vir die skare wat Hom volg: Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so groot ‘n geloof nie gevind nie. En aan die hoofman sê Hy toe: Laat dit vir jou wees soos jy geglo het. En sy kneg het gesond geword in daardie uur.” DKvDE 330.3
Die Joodse leiers wat die hoofman oor honderd by Christus aanbeveel het, het getoon hoe ver hulle daarvan verwyder was om die gees van die evangelie te ontvang. Hulle het nie besef dat ons groot behoefte ons enigste aanspraak op die genade van God is nie. In hul eiegeregtigheid het hulle die offisier aanbeveel weens die guns wat hy “...ons volk...” bewys het. Maar die offisier het van homself getuig: “Ek is dit nie werd nie....” Sy hart was aangeraak deur die genade van Christus. Hy het sy eie onwaardigheid besef; tog het hy nie gevrees om hulp te vra nie. Hy het nie op sy eie goedheid vertrou nie; sy rede was sy groot behoefte. Sy geloof het Christus in Sy ware karakter aangeneem. Hy het nie bloot in Hom as ‘n verrigter van wonderwerke geglo nie, maar as die Vriend en Verlosser van die mensdom. DKvDE 330.4
So kan elke sondaar na Christus kom. “Nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na Sy barmhartigheid het Hy ons gered.” (Titus 3:5). Wanneer Satan vir jou sê dat jy ‘n sondaar is en geen hoop het om die seën van God te ontvang nie, sê aan hom dat Christus na die wêreld gekom het om sondaars te red. Ons het niks om ons by God aan te beveel nie; maar die pleidooi wat ons nou en altyd op kan aandring, is ons volkome hulpelose toestand wat Sy verlossende krag ‘n noodsaaklikheid maak. As ons van ons afhanklikheid van onsself afsien, kan ons na die kruis van Golgota kyk en sê: DKvDE 331.1
“Ledig, slegs met sondelas, hou ek aan die kruishout vas.” DKvDE 331.2
Die Jode is van kleins af oor die werk van die Messias ingelig. Die geïnspireerde uitsprake van die patriarge en profete en die simboliese lering van die offerdiens was in hulle besit. Maar hulle het die lig verwerp; en nou het hulle niks begeerlik in Jesus gesien nie. Maar die hoofman, gebore in die heidendom, opgelei in die afgodediens van keiserlike Rome as ‘n soldaat, blykbaar van die geestelike lewe deur sy opvoeding en omgewing afgesny en steeds deur die grootpratery van die Jode en die vervolging van sy landgenote van die volk Israel uitgesluit, het hierdie man die waarheid waarvoor die kinders van Abraham verblind was, aangeneem. Hy het nie gewag om te sien of die Jode self die Een wat beweer dat Hy hul Messias is, sou aanvaar nie. Soos die “...lig wat elke mens verlig...” (Johannes 1:9). op hom geskyn het, het hy, alhoewel van ver af, die heerlikheid van die Seun van God onderskei. DKvDE 331.3
Vir Jesus was dit die erns van die werk wat die evangelie onder die heidene moes verrig. Hy het met vreugde uitgesien na die versameling van siele uit alle nasies vir Sy koninkryk. Met diepe hartseer het Hy vir die Jode die gevolge van hul verwerping van Sy genade uitgebeeld: “Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van die ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van tande.” Helaas, hoeveel is steeds besig om hulle vir hierdie selfde noodlottige teleurstelling voor te berei! Terwyl siele in die heidense duisternis Sy genade aanneem, hoeveel is daar in Christenlande op wie die lig skyn, net om verontagsaam te word. DKvDE 332.1
Meer as dertig kilometer van Kapérnaum af, op ‘n plato wat uitkyk oor die wye, skilderagtige vlakte van Esdraelon lê die dorpie Nain en daarheen het Jesus volgende Sy skrede gewend. Baie van sy dissipels en ander was by Hom en mense wat verlang het na Sy woorde van liefde en medelye het gekom en hulle siekes vir Sy genesing gebring, altyd met die hoop dat Hy, wat sulke wonderbaarlike mag uitoefen, Homself as die Koning van Israel bekend sou maak. ‘n Menigte het om Hom saamgedrom en dit was ‘n blye, afwagtende groep wat Hom op die rotsagtige pad na die poort van die bergdorpie gevolg het. DKvDE 332.2
Terwyl hulle die dorp genader het, het daar ‘n begrafnisstoet uit die poort gekom. Met langsame, droewige voetstappe het hulle na die plek van die begrafnis beweeg. Met die lyk op ‘n oop draagbaar, het die draers voor geloop, gevolg deur die roubeklaers wat die lug met hul geween gevul het. Dit het voorgekom asof al die inwoners van die dorp bymekaargekom het om hul respek vir die dode en hul meegevoel met die bedroefdes te betoon. DKvDE 332.3
Dit was ‘n gesig wat bejammering ontketen het. Die oorledene was die enigste seun van sy moeder en sy was ‘n weduwee. Die eensame moeder het nou haar enigste aardse steun en troos na die graf gevolg. “En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel.” Terwyl sy blindelings voortbeweeg en geween het sonder om op Sy teenwoordigheid te let, het Hy haar genader Hy saggies gesê: “Moenie ween nie!” Jesus was op die punt om haar smart in vreugde te omskep, maar tog kon Hy nie hierdie tere meegevoel onderdruk nie. DKvDE 333.1
“Hy het nadergegaan en die baar aangeraak...”; selfs kontak met die dood kon Hom nie verontreinig nie. Die draers het gaan staan en die geweeklaag van die roubeklaers het opgehou. Die twee groepe het met hoop teen hoop om die baar saamgedrom. Daar was Een aanwesig wat siektes verban het en demone verslaan het; was die dood ook aan Sy mag onderworpe? DKvDE 333.2
In ‘n helder, gesaghebbende stem, is die woorde uitgespreek: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” Daardie stem het tot die ore van die afgestorwene deurgedring. Die jongman het sy oë oopgemaak. Jesus het hom aan sy hand geneem en hom opgehelp. Sy blik het op haar, wat langs hom gehuil het, geval en moeder en seun is in ‘n lang, innige en vreugdevolle omhelsing verenig. Die menigte het sprakeloos toegekyk, asof betower. “Vrees het almal aangegryp.” Gedemp en eerbiedig het hulle ‘n rukkie stilgestaan, asof hulle in die teenwoordigheid van God self was. Toe het hulle God verheerlik en gesê: “‘n Groot profeet het onder ons opgestaan...” en “...God het Sy volk besoek.” Die begrafnisstoet het in ‘n triomftog na Nain teruggekeer. “En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Judea en in die hele omtrek.” DKvDE 333.3
Hy wat langs die bedroefde moeder by die poort van Nain gestaan het, waak oor elke treurende langs die kis. Hy word met meegevoel vir ons droefheid aangeraak. Sy hart, wat vol liefde en meegevoel is, is ‘n hart van onveranderlike sagmoedigheid. Sy woord, wat die dode opgewek het, is vandag nie minder effektief as toe dit die jongman van Nain aangespreek het nie. Hy sê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” (Mattheus 28:18). Daardie krag word nie minder met die verloop van jare nie en raak ook nie uitgeput deur die onophoudelike werkinge van Sy oorvloedige genade nie. Hy is nog steeds ‘n lewende Verlosser vir almal wat in Hom glo. DKvDE 334.1
Jesus het die moeder se droefheid in vreugde verander toe Hy haar seun aan haar teruggegee het; tog is die seun net na sy aardse lewe teruggeroep om smarte, moeite en gevare te verduur en dan weer die mag van die dood te ervaar. Maar Jesus vertroos ons in ons droefheid oor die afgestorwenes met ‘n boodskap van ewige hoop: “Ek is ... die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid ... En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.” (Openbaring 1:17,18). “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het-dit is die duiwel-en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.” (Hebreërs 2:14,15). DKvDE 334.2
Satan kan die dode nie in sy greep hou as die Seun van God hulle tot lewe roep nie. Hy kan nie een enkele siel wat in geloof op die kragtige woord van Christus reageer, in die geestelike dood gevange hou nie. God sê aan almal wat in sonde dood is: “Ontwaak, jy wat slaap en staan op uit die dode.” (Efesiërs 5:14). Daardie Woord is die ewige lewe. Soos die Woord van God wat die eerste mens in die lewe geroep het, nog steeds lewe aan ons skenk; soos Christus se woord: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op,” weer lewe aan die jongman van Nain gegee het, so is die woord “Staan op uit die dode...” lewe vir die siel wat dit ontvang. God het ons verlos “...uit die mag van die duisternis en oorgebring ... in die koninkryk van die Seun van Sy liefde.” (Kolossense 1:13). Dit word alles in Sy Woord aangebied. As ons die Woord ontvang, het ons verlossing. DKvDE 334.3
“En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewendig maak deur sy Gees wat in julle woon.” (Romeine 8:11). “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” (1 Thessalonicense 4:16,17). Dit is die woord van vertroosting waarmee Hy ons aansê om mekaar te vertroos. DKvDE 335.1