Die Koning van die Eeue

32/88

Hoofstuk 31—Die Bergpredikasie *

Christus het selde Sy dissipels alleen om Hom versamel om Sy woorde te ontvang. Hy het nie slegs diegene wat die weg van die lewe geken het vir Sy gehoor gekies nie. Dit was Sy werk om die menigtes te bereik wat in onkunde en dwaling verkeer het. Hy het Sy lesse van waarheid verkondig waar dit die verduisterde begrip kon bereik. Hyself was die Waarheid; Hy het met lendene omgord en hande wat altyd uitgestrek was om te seën, gestaan en in woorde van waarskuwing, smeking en bemoediging, daarna gestreef om almal wat na Hom sou kom, op te hef. DKvDE 308.1

Hoewel die Bergpredikasie hoofsaaklik vir die dissipels bedoel was, was dit ten aanhore van die menigtes geuiter. Nadat Hy die apostels georden het, het Jesus saam met hulle na die strand gegaan. Hier het die mense vroegoggend begin vergader. Benewens die gewone skare uit die stede van Galiléa, was daar mense van Judea en selfs vanuit Jerusalem; van Perea, van Dekapolis, van Idumea tot in die suide van Judea; en vanaf Tirus en Sidon, die Feniciese stede aan die Middellandse See. “Toe hulle hoor wat Hy alles doen...” (Markus 3:8), het hulle gekom “...om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word ... omdat krag van Hom uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak.” (Lukas 6:17-19). DKvDE 308.2

Die smal strand het nie eers staanplek vir almal wat Hom wou aanhoor, binne bereik van Sy stem gebied nie en Jesus het die pad terug na die berghelling gelei. Toe Hy ‘n gelyk-spasie, wat ‘n aanvaarbare vergaderplek vir die groot skare gebied het, bereik het, het Hy op die gras gaan sit en die dissipels en die skare het Sy voorbeeld gevolg. DKvDE 308.3

Die dissipels se plek was altyd aan Jesus se sy. Die mense het voortdurend om Hom saamgedrom, maar die dissipels het besef dat hulle nie weg van Sy teenwoordigheid verdring moes word nie. Hulle het by Hom gesit, sodat hulle nie ‘n woord van Sy lering sou mis nie. Hulle was aandagtige luisteraars, gretig om die waarhede wat hulle aan alle lande en vir alle eeue bekend moes maak, te begryp. DKvDE 309.1

Met buitengewone afwagting het hulle nader aan hul Meester geskuif. Hulle het geglo dat die koninkryk binnekort gevestig sou word en die oggend se gebeure het hulle oortuig dat ‘n aankondiging daaroor gemaak sou word. Die menigte is ook met ‘n gevoel van afwagting oorval en gretige gesigte het diepe belangstelling getoon. Terwyl die mense teen die groen hange van die heuwel gesit en wag het op die woorde van die Goddelike Leraar, was hulle harte met gedagtes van toekomstige glorie gevul. Daar was skrifgeleerdes en Fariseërs, wat uitgesien het na die dag wanneer hulle oor die gehate Romeine sou heers en die rykdom en glorie van die wêreld se grootste ryk sou besit. Die arm boere en vissermanne het op ‘n bevestiging gehoop dat hul armoedige krotte, hul skraps voedsel, die lewe van swoeg en vrees vir gebrek, verruil sou word vir herehuise van oorvloed en dae van gemak. In die plek van die een growwe kleed wat as hul kleding bedags en hul kombers snags gedien het, het hulle gehoop dat Christus aan hulle die ryk en duur gewaad van hul veroweraars sou gee. Alle harte was verheug oor die trotse hoop dat Israel binnekort voor die nasies as die uitverkorenes van die Here vereer sou word en dat Jerusalem as die hoofstad van ‘n wêreldryk verhef sou word. DKvDE 309.2

Christus het hierdie hoop op wêreldse grootheid ontnugter. In die Bergpredikasie wou Hy die werk wat deur valse onderrig teweeggebring is, ongedaan maak en Sy toehoorders ‘n korrekte begrip van Sy koninkryk en van Sy eie karakter gee. Tog het Hy nie ‘n direkte aanval op die dwalinge van die volk geloods nie. Hy het die ellende van die wêreld as gevolg van die sonde gesien, tog het Hy nie ‘n duidelike skets van hul ellendige toestand aan hulle voorgehou nie. Hy het hulle iets geleer wat oneindig beter was as wat hulle geken het. Sonder om hul idees van die koninkryk van God te bekamp, het Hy aan hulle die voorwaardes vir toegang tot die koninkryk verduidelik en dit aan hulle oorgelaat om hul eie gevolgtrekkings oor die aard daarvan te maak. Die waarhede wat Hy verkondig het, is nie minder belangrik vir ons as wat dit vir die menige wat Hom gevolg het was nie. Ons het, geensins in ‘n geringer mate as hulle, nodig om die grondbeginsels van die koninkryk van God te leer. DKvDE 309.3

Christus se eerste woorde aan die mense op die berg was woorde van seën. Gelukkig is hulle, het Hy gesê, wat hul geestelike armoede erken en hul behoefte aan verlossing besef. Die evangelie moet aan die armes verkondig word. Nie aan die geestelike hoogmoediges wat beweer dat hulle ryk is en aan niks gebrek het, sal dit geopenbaar word nie, maar aan diegene wat nederig en berouvol is. Alleenlik een fontein is vir die sonde geopen, ‘n fontein vir die armes van gees. DKvDE 310.1

Die trotse streef daarna om verlossing te verdien; maar aanspraak op die hemel sowel as geskiktheid daarvoor, word in die geregtigheid van Christus gevind. Die Here kan niks doen vir die herstel van die mens, totdat hy, oortuig van sy eie swakheid en van alle selfgenoegsaamheid ontneem is, hom oorgegee het aan die beheer van God nie. Dan kan hy die gawe, wat God wag om te gee, ontvang. Niks word van die siel wat sy behoefte besef, weerhou nie. Hy het onbeperkte toegang tot Hom in wie alle volheid woon. “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” (Jesaja 57:15). DKvDE 310.2

“Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.” Deur hierdie woorde leer Christus nie dat droefheid op sigself die mag het om sondeskuld weg te neem nie. Hy verleen ook geen goedkeuring aan voorgee of vrywillige nederigheid nie. Die rou waarna Hy verwys, bestaan nie uit weemoed en geweeklaag nie. Terwyl ons hartseer is oor die sonde, moet ons ons in die kosbare voorreg om kinders van God te wees, verheug. DKvDE 311.1

Ons treur dikwels omdat ons bose dade onaangename gevolge vir ons inhou; maar dit is nie berou nie. Ware droefheid oor sonde is die gevolg van die werking van die Heilige Gees. Die Gees openbaar die ondankbaarheid van die hart wat die Heiland geminag en bedroef het en bring ons in ootmoed na die voet van die kruis. Deur elke sonde word Jesus opnuut verwond; en as ons Hom, wat ons deurboor het aanskou, treur ons oor die sonde wat Hom gefolter het. Dit is die berou wat lei tot die verloëning van sonde. DKvDE 311.2

Die wêreldgesinde kan hierdie smart ‘n swakheid noem; maar dit is die krag wat die boetvaardige aan die Oneindige bind met skakels wat nie verbreek kan word nie. Dit toon dat die engele van God die deugde wat deur die hardheid van die hart en oortreding verlore gegaan het, na die siel terugbring. Die trane van die boetvaardige is slegs die reëndruppels wat die sonskyn van heiligheid voorafgaan. Hierdie droefheid lui ‘n vreugde in wat ‘n lewende fontein in die siel sal wees. “Alleenlik, ken jou ongeregtigheid, dat jy teen die Here jou God oortree het...” (Jeremia 3:13) “...want Ek is goedertieren, spreek die Here; Ek sal die toorn nie vir ewig behou nie.” (Jeremia 3:12). “Om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugdeolie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees.” (Jesaja 61:3). DKvDE 311.3

En vir diegene wat in beproewing en hartseer treur is daar vertroosting. Die bitterheid van hartseer en vernedering is beter as toegewing aan sonde. Deur beproewing toon God aan ons die geteisterde plekke in ons karakters, sodat ons, deur Sy genade, ons foute kan oorkom. Onbekende hoofstukke aangaande onsself word voor ons oopgestel en dan kom die toets of ons die teregwysing en raad van God sal aanneem. Wanneer beproewing oor ons gebring word, moet ons ons nie daaroor verknies en kla nie. Ons moet nie opstandig raak of ons onder die hand van Christus uit kwel nie. Ons moet ons siel voor God verootmoedig. Die weë van die Here is duister vir hom wat dinge in ‘n lig wil sien wat homself behaag. Dit lyk donker en vreugdeloos vir ons menslike natuur. Maar die weë van God is weë van genade en die einde is redding. Elia het nie geweet wat hy doen toe hy in die woestyn gesê het dat hy genoeg van die lewe gehad het en gebid het dat hy kan sterf nie. In Sy genade het die Here hom nie op Sy woord geneem nie. Daar was nog ‘n groot werk vir Elia om te doen; en nadat sy werk afgehandel was, sou hy nie moedeloos en alleen in die woestyn omkom nie. Hy sou nie in die stof van die aarde in die graf neerdaal nie, maar sou in heerlikheid, met ‘n geleide van hemelse strydwaens, na die hemelse troon opstyg. DKvDE 311.4

Die Woord van God vir die bedroefde is: “Ek het hulle weë gesien en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle weer vertroosting skenk, naamlik aan hulle treuriges.” (Jesaja 57:18). “Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer.” (Jeremia 31:13). DKvDE 312.1

“Salig is die sagmoediges.” Die probleme wat ons ervaar, kan baie deur die sagmoedigheid wat in Christus geborge is, versag word. As ons die nederigheid van ons Meester besit, sal ons bo die beledigings, die afjakke en die ergernisse waaraan ons daagliks blootgestel word, uitstyg en sal hulle nie langer ‘n somberheid oor die gees werp nie. Die hoogste bewys van Christelike adelikheid is selfbeheersing. Hy wat te midde van mishandeling of wreedheid versuim om ‘n kalme en ‘n gees van vertroue te handhaaf, beroof God van Sy reg om Sy eie volmaaktheid van karakter in hom te openbaar. Nederigheid van hart is die krag wat aan die volgelinge van Christus die oorwinning besorg; dit is die teken van hul verbintenis met die hemelse howe. DKvDE 312.2

“Want die Here is verhewe; nogtans sien Hy die nederige aan.” (Psalm 138:6). Diegene wat die sagmoedige en nederige gees van Christus openbaar, word met teerheid deur God bejeën. Hulle mag deur die wêreld met minagting bejeën word, maar hulle is van groot waarde in Sy oë. Nie alleenlik die wyse, die grootse, of die weldoener sal ‘n paspoort na die hemelse howe verkry nie; nie net die besige werker, vol ywer en onrustige aktiwiteite nie. Nee; die armes van gees, wat na die teenwoordigheid van ‘n blywende Christus hunker, die nederiges van hart wie se grootste ambisie dit is om die wil van God te doen-hulle sal oorvloedige toegang verkry. Hulle sal onder diegene wat hul klere wit gewas het in die bloed van die Lam tel. “Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in Sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal Sy tent oor hulle oopspan.” (Openbaring 7:15). DKvDE 313.1

“Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid.” Die besef van onwaardigheid sal die hart laat honger en dors na geregtigheid en hierdie begeerte sal nie teleurgestel word nie. Diegene wat in hul harte plek vir Jesus maak, sal Sy liefde ervaar. Almal wat verlang om die ewebeeld van die karakter van God te ontvang, sal bevredig word. Die Heilige Gees laat die siel wat sy oog op Jesus vestig, nooit sonder hulp nie. Hy neem die dinge van Christus en toon dit aan hom. As die aandag op Christus gerig word, hou die werk van die Gees nie op voordat die siel aan Sy beeld gelykvormig is nie. Die suiwer element van liefde sal die siel verruim en aan dit die vermoë tot hoër prestasies verleen, om meer kennis van hemelse dinge te verkry, sodat hy nie sal rus voordat volheid bereik is nie. “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” DKvDE 313.2

Aan die barmhartiges sal barmhartigheid bewys word en die rein van hart sal God sien. Elke onreine gedagte besoedel die siel, benadeel die sedelike begrip en neig om die indrukke van die Heilige Gees uit te wis. Dit verdof die geestelike insig, sodat die mens nie vir God kan aanskou nie. Die Here mag en sal die boetvaardige sondaar vergewe; maar hoewel hy vergewe is, is die siel verdorwe. Alle onreinheid van woorde of gedagtes moet deur diegene wat ‘n helder insig in geestelike waarheid verlang, vermy word. DKvDE 313.3

Maar die woorde van Christus dek meer as sensuele onreinheid, meer as vryheid van daardie seremoniële ontreiniging wat die Jode so nougeset vermy het. Selfsug verhinder ons om God te aanskou. Die selfsugtige gees beskou God geheel en al as Een wat dieselfde is as hyself. Voordat ons dit nie afgelê het nie, kan ons Hom, wat liefde is, nie verstaan nie. Slegs die onselfsugtige hart, die nederige en vertrouende gees, sal God as ‘n “...barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou...” sien. (Exodus 34:6) DKvDE 314.1

“Salig is die vredemakers.” Die vrede van Christus word uit waarheid gebore. Dit is in harmonie met God. Die wêreld is vyandiggesind teenoor die wet van God; sondaars verkeer in vyandskap met hul Maker; en gevolglik is hulle vyandig teenoor mekaar. Maar die psalmdigter sê: “Die wat U wet liefhet, het groot vrede en vir hulle is daar geen struikelblok nie.” (Psalm 119:165). ‘n Mens kan nie vrede bewerkstellig nie. Menslike planne vir die reiniging en opheffing van individue of die samelewing, sal nie slaag om vrede te bewerkstellig nie, omdat dit nie die hart bereik nie. Die enigste mag wat ware vrede kan skep en handhaaf, is die genade van Christus. Wanneer dit in die hart ingeplant word, sal dit die bose passies, wat twis en onenigheid veroorsaak, verdryf. “Vir ‘n doringboom sal ‘n sipres opgaan; vir ‘n distel sal ‘n mirteboom opgaan;” (Jesaja 55:13; en die woestyn van die lewe “...sal bly wees ... en bloei soos ‘n narsing.” (Jesaja 35:1). DKvDE 314.2

Die skare was verbaas oor hierdie leer, wat só van die voorskrifte en die voorbeeld van die Fariseërs verskil het. Die mense het begin glo dat geluk uit die dinge van hierdie wêreld bestaan en dat die roem en eer van mense baie begeerlik was. Dit was aangenaam om “rabbi” genoem te word en om as wys en godsdienstig geag te word terwyl hulle deugde voor die publiek geparadeer was. Dit was as die kroon van geluk beskou. Maar in die teenwoordigheid van hierdie groot menigte het Jesus verklaar dat wêreldse wins en eer al die beloning was wat sulke persone ooit sou ontvang. Hy het met sekerheid gepraat en ‘n oortuigende krag het Sy woorde vergesel. Die mense het stil geraak en ‘n gevoel van vrees het oor hulle gekruip. Hulle het met twyfel na mekaar gekyk. Wie van hulle sou gered kan word as die leer van hierdie Man waar is? Baie was oortuig daarvan dat hierdie merkwaardige Leraar deur die Gees van God besiel is en dat die sentimente wat Hy uitgespreek het, Goddelik was. DKvDE 315.1

Nadat Jesus verduidelik het wat ware geluk behels en hoe dit verkry kan word, het Hy die plig van Sy dissipels, as leraars wat deur God gekies is om ander op die pad van geregtigheid en die ewige lewe te lei, meer duidelik uitgewys. Hy het geweet dat hulle dikwels teleurgestel en ontmoedig sou word, dat hulle met besliste weerstand te doen sou kry, dat hulle beledig en hul getuienis verwerp sou word. Hy het goed geweet dat hierdie nederige manne wat so aandagtig na Sy woorde geluister het, in die vervulling van hul sending, belediging, marteling, gevangenisskap en die dood tegemoet sou kom en Hy het voortgegaan: DKvDE 315.2

“Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.” DKvDE 315.3

Die wêreld het sonde lief en haat geregtigheid en dit was die oorsaak van die vyandigheid teenoor Jesus. Vir almal wat Sy oneindige liefde verwerp, sal die Christendom ‘n hinderlike element wees. Die lig van Christus verdryf die duisternis wat hul sondes bedek en die behoefte aan hervorming word duidelik gemaak. Terwyl diegene, wat aan die invloed van die Heilige Gees toegee, met hulself oorlog voer, veg diegene wat aan die sonde vaskleef teen die waarheid en die verteenwoordigers daarvan. DKvDE 316.1

So word onmin veroorsaak en word die volgelinge van Christus as beroerders van die volk beskuldig. Maar dit is gemeenskap met God wat die vyandskap van die wêreld oor hulle bring. Hulle dra die smaad van Christus. Hulle betree die weg wat deur die edelste van die aarde bewandel is. Hulle sal vervolging, nie met hartseer nie, maar met blydskap tegemoet gaan. Elke vuurproef is God se middel om hulle te louter. Elkeen rus hulle toe as medewerkers van Hom. Elke konflik het sy plek in die groot stryd om geregtigheid en elkeen dra by tot die vreugde van hul finale triomf. Met die oog hierop sal hulle die toets van hul geloof en geduld met blymoedigheid aanvaar, eerder as iets wat gevrees en vermy moet word. Sy dienaars is angstig om hul verpligting teenoor die wêreld na te kom, begerig om die goedkeuring van God te verkry en elke plig, ongeag die vrees of guns van mense, na te kom. DKvDE 316.2

“Julle is die sout van die aarde...” het Jesus gesê. Moet julle nie van die wêreld onttrek om vervolging te vermy nie. Julle moet tussen die mense bly, sodat die geur van die Goddelike liefde soos sout kan wees om die wêreld van korrupsie te bewaar. DKvDE 316.3

Harte wat op die invloed van die Heilige Gees reageer, is die kanale waardeur God se seën vloei. As diegene wat God dien van die aarde verwyder sou word en Sy Gees aan die mensdom onttrek sou word, sou die wêreld aan verwoesting en vernietiging oorgelaat word, die vrug van Satan se heerskappy. Alhoewel die goddelose dit nie besef nie, het hulle selfs die seëninge van hierdie lewe te danke aan die teenwoordigheid van die volk van God, wie hulle op hierdie aarde verag en verdruk. Maar as Christene dit slegs in naam is, is hulle soos sout wat laf geword het. Hulle het geen invloed ten goede in die wêreld nie. Deur hul wanvoorstelling van God, is hulle erger as ongelowiges. DKvDE 316.4

“Julle is die lig van die wêreld.” Die Jode het gedink om die voordele van die redding tot hul eie nasie te beperk; maar Christus het aan hulle getoon dat verlossing soos die sonskyn is. Dit behoort aan die hele wêreld. Die godsdiens van die Bybel mag nie tussen die omslag van ‘n boek of binne die mure van ‘n kerk beperk word nie. Dit moet nie af en toe tot ons eie voordeel uitgehaal en dan weer versigtig eenkant gesit word nie. Dit is om die daaglikse lewe te heilig, om in elke besigheidstransaksie en in al ons sosiale verhoudings gemanifesteer te word. DKvDE 317.1

Ware karakter word nie buite onsself gevorm en aangetrek nie; dit straal van binne uit. As ons ander op die pad van geregtigheid wil rig, moet die beginsels van geregtigheid in ons eie harte vasgelê word. Ons geloofsbeleidenis verkondig miskien die teorie van godsdiens, maar dit is ons praktiese vroomheid wat die woord van die waarheid voorhou. Die bestendige lewe, die heilige gesprek, die onwrikbare integriteit, die aktiewe, welwillende gees, die Goddelike voorbeeld, dit is die medium waardeur lig aan die wêreld oorgedra word. DKvDE 317.2

Jesus het nie by die spesifikasies van die wet stilgestaan nie, maar Hy het Sy toehoorders nie onder die indruk gelaat dat Hy gekom het om die vereistes daarvan tersyde te stel nie. Hy het geweet dat spioene gereed staan om elke woord wat teen Hom gebruik kan word aan te gryp om hul doel te dien. Hy was bewus van die vooroordeel wat by baie van Sy toehoorders bestaan het en Hy het niks gesê om hul geloof in die godsdiens en instellings wat deur Moses aan hulle oorgelewer was te ontwrig nie. Christus het self die morele en seremoniële wette gegee. Hy het nie gekom om die vertroue in Sy eie voorskrifte te vernietig nie. Dit was vanweë Sy groot eerbied vir die wet en die profete wat Hy gepoog het om deur die muur van die tradisionele vereistes wat die Jode ingeperk het, te breek. Terwyl Hy hulle wanvertolkings van die wet opsy gesit het, het Hy Sy dissipels noukeurig daarteen bewaar om nie die lewensbelangrike waarhede wat aan die Hebreërs toevertrou was, te laat vaar nie. DKvDE 317.3

Die Fariseërs het hulself op hul gehoorsaamheid aan die wet geroem; tog het hulle so min van die beginsels van die alledaagse toepassing daarvan geken, dat die woorde van die Heiland vir hulle soos kettery geklink het. Toe Hy die puin waaronder die waarheid begrawe is wegvee, het hulle gedink dat Hy die waarheid self wegvee. Hulle het vir mekaar gefluister dat Hy die wet gering ag. Hy het hul gedagtes gelees en geantwoord: DKvDE 318.1

“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” Hier weerlê Jesus die beskuldiging van die Fariseërs. Sy sending in die wêreld is om die heilige aansprake van die wet, waarvan hulle Hom van oortreding beskuldig, te bevestig. As die wet van God verander of afgeskaf kon word, sou Christus nie nodig gehad het om vir die gevolge van ons oortredings te ly nie. Hy het gekom om die verhouding van die wet tot die mens te verduidelik en om die voorskrifte daarvan deur Sy eie gehoorsaamheid te illustreer. DKvDE 318.2

God het ons Sy heilige voorskrifte gegee omdat Hy die mensdom liefhet. Hy openbaar die beginsels van geregtigheid om ons teen die gevolge van oortreding te beskerm. Die wet is ‘n uitdrukking van die denke van God; wanneer dit in Christus ontvang word, word dit ons denke. Dit lig ons uit bo die krag van natuurlike begeertes en neigings, bo versoekings wat tot sonde lei. Dit is God se wil dat ons gelukkig moet wees en Hy het aan ons die voorskrifte van die wet gegee sodat ons, as ons daaraan gehoorsaam is, vreugde kan ervaar. Toe die engele met Jesus se geboorte gesing het: DKvDE 318.3

“Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die
mense ‘n welbehae”
DKvDE 319.1

(Lukas 2:14),

het hulle die beginsels van die wet, wat Hy gekom het om te verhoog en eerbaar te maak, verklaar. DKvDE 319.2

Toe die wet vanaf Sinai afgekondig is, het God die heiligheid van Sy karakter aan die mense bekend gemaak, sodat hulle, in teenstelling daarmee, hul eie sondigheid kon raaksien. Die wet is gegee om hulle van sonde te oortuig en om hul behoefte aan ‘n Verlosser te openbaar. Dit sou geskied namate die beginsels deur die Heilige Gees op die hart toegepas word. Hierdie werk moet steeds verrig word. In die lewe van Christus word die beginsels van die wet duidelik gemaak; en terwyl die Heilige Gees van God die hart aanraak en terwyl die lig van Christus aan die mens hul behoefte aan Sy reinigende bloed en Sy regverdige geregtigheid openbaar, is die wet nog steeds ‘n middel om ons na Christus te bring, sodat ons deur geloof geregverdig kan word. “Die wet van die Here is volmaak: dit verkwik die siel.” (Psalm 19:8). DKvDE 319.3

“Voordat die hemel en die aarde verbygaan...” het Jesus gesê, “...sal nie een jota of titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.” Die son wat in die hemel skyn, die vaste aarde waarop ons woon, is getuies van God dat Sy wet onveranderlik en ewig is. Al sou dit verbygaan, sal die Goddelike voorskrifte bly voorbestaan. “Dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val.” (Lukas 16:17). Die stelsel van tipes wat vooruit na Jesus as die Lam van God gewys het, sou by Sy dood afgeskaf word; maar die voorskrifte van die Dekaloog is so onveranderlik soos die troon van God. DKvDE 319.4

Aangesien “...die wet van die Here...” volmaak is (Psalm 309 19:8), is elke afwyking daarvan boos. Diegene wat aan die gebooie van God ongehoorsaam is en ander so leer, word deur Christus veroordeel. Die Heiland se lewe van gehoorsaamheid het die aansprake van die wet gehandhaaf; dit het bewys dat die wet in die mensheid onderhou kan word en het die uitnemendheid van die karakter wat gehoorsaamheid sou ontwikkel, getoon. Almal wat gehoorsaam is soos Hy, verklaar eweneens dat die wet “...heilig en regverdig en goed...” is (Romeine 7:12). Aan die ander kant, handhaaf almal wat God se gebooie oortree, die aanspraak van Satan dat die wet onregverdig is en nie gehoorsaam kan word nie. So ondersteun hulle die misleiding van die groot teëstander en doen God oneer aan. Hulle is kinders van die bose een, wat die eerste rebel teen die wet van God was. Om hulle in die hemel op te neem, sou weer die elemente van onenigheid en opstand tot gevolg hê en die welstand van die heelal in gevaar stel. ‘n Mens wat net één beginsel van die wet opsetlik verontagsaam, sal nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie. DKvDE 320.1

Die rabbi’s het hul geregtigheid as ‘n paspoort na die hemel beskou; maar Jesus het dit ontoereikend en onwaardig verklaar. Uiterlike seremonies en ‘n teoretiese kennis van die waarheid was Fariseïstiese geregtigheid. Die rabbi’s het beweer dat hulle deur hul eie pogings om die wet te onderhou heilig is; maar hul werke het geregtigheid van godsdiens geskei. Hoewel hulle die rituele stiptelik nagekom het, was hulle lewens immoreel en afgetakel. Hul gewaande geregtigheid sou nooit in die koninkryk van die hemel kon ingaan nie. DKvDE 320.2

Die grootste misleiding van die menslike verstand in Christus se tyd, was dat ‘n blote erkenning van die waarheid geregtigheid uitmaak. In alle menslike ervarings, is bewys dat ‘n teoretiese kennis van die waarheid ontoereikend vir die redding van die siel is. Dit lewer nie die vrugte van geregtigheid nie. ‘n Jaloerse beskouing van wat teologiese waarheid genoem word, gaan dikwels gepaard met ‘n haat vir die reine waarheid soos in die lewe geopenbaar. Die donkerste hoofstukke van die geskiedenis is belaai met die misdade van godsdienstige dwepers. Die Fariseërs het beweer dat hulle kinders van Abraham is en daarop geroem dat hulle die besitters van die Godspraak is; tog het hierdie voordele hulle nie van selfsug, kwaadwilligheid, hebsug en die grootste skynheiligheid gevrywaar nie. Hulle het hulself as die grootste godsdienstiges ter wêreld beskou, maar hul sogenaamde ortodoksie het daartoe gelei dat hulle die Here van heerlikheid gekruisig het. DKvDE 320.3

Hierdie gevaar bestaan steeds. Baie beskou dit as vanselfsprekend dat hulle Christene is, bloot omdat hulle die teologiese leerstellings onderskryf. Maar hulle het nie die waarheid in die praktiese lewe ingebring nie. Hulle het dit nie geglo en liefgehad nie en daarom het hulle nie die krag en genade ontvang wat deur die heiliging van die waarheid kom nie. Mense kan geloof in die waarheid bely; maar as dit hulle nie opreg, vriendelik, geduldig, verdraagsaam en hemelsgesind maak nie, is dit ‘n vloek vir die belyer en deur sy invloed, is dit ‘n vloek vir die wêreld. DKvDE 321.1

Die geregtigheid wat Christus geleer het, is die gelykvormigheid van die hart en lewe aan die geopenbaarde wil van God. Die sondige mens kan slegs geregverdig word omdat hulle op God vertrou en ‘n lewensbelangrike verbintenis met Hom handhaaf. Dan sal ware godsaligheid die gedagtes verhef en die lewe veredel. Dan stem die uiterlike vorms van godsdiens ooreen met die Christen se innerlike reinheid. Dan is die seremonies wat in diens van God voorgeskryf word, nie sinlose rituele soos dié van die skynheilige Fariseërs nie. DKvDE 321.2

Jesus neem die gebooie een vir een op en verduidelik die diepte en breedte van die vereistes daarvan. In plaas daarvan om die mag daarvan van selfs een jota te beroof, wys Hy hoe verreikend die beginsels daarvan is en stel Hy die noodlottige fout van die Jode in hul uiterlike vertoon van gehoorsaamheid bloot. Hy verklaar dat slegs ‘n bose gedagte, of ‘n wellustige blik, reeds ‘n oortreding van die wet van God is. Die een wat deel uitmaak van die geringste onregverdigheid, oortree die wet en verlaag sy eie morele aard. Moord ontstaan eerstens in die gemoed. Wie haat ‘n plek in sy hart gee, betree die pad van die moordenaar; en sy offers is vir God ‘n gruwel. DKvDE 321.3

Die Jode het ‘n gees van vergelding gekweek. In hul haat vir die Romeine het hulle kras veroordelings geuiter en die bose behaag deur sy eienskappe te openbaar. So het hulle hulself ingeoefen om die verskriklike dade waartoe hy hulle gelei het, te pleeg. In die godsdienstige lewe van die Fariseërs was daar niks wat vroomheid vir die heidene kon aanbeveel nie. Jesus het hulle gebied om hulself nie met die idee te mislei, dat hulle in hul harte teen hul onderdrukkers kan opstaan en die begeerte koester om hul onreg te wreek nie. DKvDE 322.1

Daar is weliswaar ‘n verontwaardiging wat geregverdig is, selfs by die volgelinge van Christus. Wanneer hulle sien dat God ‘n oneer aangedoen en Sy diens in oneer gebring word, wanneer hulle die onskuldiges verdruk sien word, ontstaan ‘n regverdige verontwaardiging in die siel. Sulke woede, gebore uit sensitiewe sedes, is nie sonde nie. Maar diegene wat met enige vermeende provokasie meen dat hy die vryheid het om aan woede of wrewel toe te gee, stel sy hart vir Satan oop. Bitterheid en vyandigheid moet uit die siel verban word as ons in harmonie met die hemel wil wees. DKvDE 322.2

Die Heiland gaan verder as dit: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.” Baie neem ywerig aan godsdienstige plegtighede deel terwyl daar ongelukkige geskille tussen hulle en hul broeders heers, wat versoen kon word. God verwag van hulle om alles in hul vermoë te doen om eensgesindheid te herstel. Totdat hulle dit doen, kan Hy nie hul dienste aanvaar nie. Die Christen se plig in hierdie saak word duidelik aangedui. DKvDE 322.3

God stort Sy seëninge op almal uit. “Hy laat Sy son opgaan oor slegtes en goeies en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges ... Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.” (Lukas 6:35). Hy gebied ons om soos Hy wees. “Seën die wat vir julle vervloek...” het Jesus gesê, “...doen goed aan die wat vir julle haat ... sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is.” Dit is die beginsels van die wet en dit is die fonteine van die lewe. DKvDE 323.1

God se ideaal vir Sy kinders is hoër as wat die hoogste menslike denke kan bereik. “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” Hierdie bevel is ‘n belofte. Die verlossingsplan beoog ons volkome redding uit die mag van Satan. Christus skei altyd die berouvolle siel van sonde. Hy het gekom om die werke van die duiwel te vernietig en Hy het voorsiening gemaak dat die Heilige Gees aan elke boetvaardige siel gegee sal word om hom van die sonde te bewaar. DKvDE 323.2

Die verleier se optrede moet nie as verskoning vir ‘n enkele wandaad aangevoer word nie. Satan verheug hom as hy hoor dat beweerde volgelinge van Christus verskonings vir hul gebrekkige karakter aanvoer. Dis hierdie verskonings wat tot sonde lei. Daar is geen verskoning vir sonde nie. ‘n Heilige gesindheid, ‘n lewe soos Christus s'n, is binne bereik van elke berouvolle, gelowige kind van God. DKvDE 323.3

Die ideale Christelike karakter is in harmonie met dié van Christus. Soos die Seun van die mens volmaak in Sy lewe was, so moet sy volgelinge volmaak in hulle lewe wees. Jesus was in alle opsigte gelyk aan sy broeders. Hy het vlees geword, net soos ons. Hy het honger en dors en moeg geword. Hy is deur voedsel versterk en deur slaap verkwik. Hy het die mens se lot gedeel; tog was Hy die vlekkelose Seun van God. Hy was God in die vlees. Sy karakter moet ons s'n word. Die Here sê van diegene wat in Hom glo: “Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” (2 Korinthiërs 6:16). DKvDE 323.4

Die leer wat Jakob gesien het was Christus, met die onderpunt wat op die aarde rus en die bopunt wat tot aan die poorte van die hemel reik, tot aan die drumpel van heerlikheid. Indien daardie leer net een sport ontbreek het om die aarde te bereik, was ons verlore. Maar Christus bereik ons waar ons is. Hy het ons natuur oorgeneem en oorwin, sodat ons deur Sy natuur aan te neem, kan oorwin. In “...die gelykheid van die sondige vlees...” (Romeine 8:3). het Hy ‘n sondelose lewe gelei. Nou, deur Sy Goddelikheid, hou Hy die troon van die hemel vas, terwyl Hy, deur Sy mensheid, na ons reik. Hy gebied ons om deur geloof in Hom, die heerlikheid van die karakter van God te bekom. Daarom moet ons volmaak wees, net soos ons “...Vader in die hemele volmaak is.” DKvDE 324.1

Jesus het getoon wat geregtigheid is en het God as die Bron daarvan aangewys. Nou het Hy Hom tot praktiese pligte gewend. In die gee van aalmoese, in gebed en vas, het Hy gesê, laat niks gedoen word wat die aandag op onsself vestig en lof vir onsself aantrek nie. Gee in opregtheid tot voordeel van die lydende behoeftiges. Laat die siel in die gebed met God verkeer. Wanneer jy vas, laat dit nie met geboë hoof wees terwyl jou hart met gedagtes van jouself gevul is nie. Die hart van die Fariseër is onvrugbare en armoedige grond waarin geen saad van die Goddelike lewe kan floreer nie. Dit is hy wat hom mees onvoorwaardelik aan God onderwerp, wat die aanneemlikste diens aan Hom sal lewer. Want deur gemeenskap met God word mense medewerkers saam met Hom deur Sy karakter in menslikheid te verteenwoordig. DKvDE 324.2

Diens wat in opregtheid van hart gelewer word, hou groot beloning in. “Jou Vader wat in die verborge sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.” Deur die lewe wat ons deur die genade van Christus lewe, word die karakter gevorm. Die oorspronklike lieflikheid begin om in die siel herstel te word. Die eienskappe van die karakter van Christus word aan ons oorgedra en die beeld van die Goddelike begin uit ons straal. Die gelaat van manne en vroue wat saam met God werk en wandel, weerspieël die hemelse vrede. Hulle word deur die hemelse atmosfeer omring. Die koninkryk van God het vir hierdie siele begin. Hulle besit Christus se vreugde, die vreugde om ‘n seën vir die mensdom te wees. Hulle het die eer om vir die diens van die Meester aanvaar te word; hulle word vertrou om Sy werk in Sy Naam te verrig. DKvDE 324.3

“Niemand kan twee here dien nie.” Ons kan God nie met ‘n verdeelde hart dien nie. Bybelse godsdiens is nie een invloed tussen baie nie; die invloed daarvan moet oorheersend wees en alle ander deurtrek en beheer. Dit moenie soos ‘n bietjie kleur wees wat hier en daar op die doek aangewend word nie, maar moet die hele lewe deurdring, asof die doek in daardie kleur geweek is, totdat elke draad van die materiaal in ‘n diep, kleurvaste tint gekleur is. DKvDE 325.1

“As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees.” Reinheid en standvastigheid van doel is die voorwaardes om die lig van God te ontvang. Hy wat die waarheid wil ken, moet gewillig wees om dit wat daardeur geopenbaar word, te aanvaar. Hy mag geen toegewing aan dwaling maak nie. Om twyfelagtig en halfhartig op die waarheid te vertrou, is om die duisternis van dwaling en sataniese misleiding te kies. DKvDE 325.2

Wêreldse beleid en die onversetlike beginsels van geregtigheid vloei nie ongemerk ineen soos die kleure van die reënboog nie. Die ewige God trek ‘n breë, duidelike skeidslyn tussen die twee. Die beeld van Christus in teenstelling met die van Satan, is so opvallend soos die middag in teenstelling met middernag. En slegs diegene wat die lewe van Christus lewe, is Sy medewerkers. Indien een sonde in die siel gekoester word, of een verkeerde praktyk in die lewe behoue bly, word die hele wese besoedel. Hierdie mens word ‘n werktuig van ongeregtigheid. DKvDE 325.3

Almal wat die diens van God gekies het, moet in Sy sorg rus. Christus het na die voëls wat in die hemel vlieg en die blomme van die veld gewys en Sy hoorders gebied om hierdie voorwerpe van God se skepping te oorweeg. “Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Mattheus 6:26) het Hy gevra. Die maatstaf van Goddelike aandag wat aan enige voorwerp bestee word, is in verhouding tot sy rang op die skaal van sy bestaan. Die klein bruin mossie word deur die Voorsienigheid bewaak. Die blomme van die veld, die gras wat die aarde soos ‘n tapyt bedek, alles deel in die sorg van ons hemelse Vader. Die groot Meester-Kunstenaar het sorg aan die lelies gewy en hulle met soveel skoonheid beklee, dat hulle bo die glorie van Salomo uitstyg. Hoeveel te meer gee Hy om vir die mens, wat die beeld van die heerlikheid van God is. Hy verlang daarna om te sien dat Sy kinders ‘n karakter na Sy gelykenis openbaar. Soos die sonstraal aan die blomme hul variërende tinte verleen, so gee God die skoonheid van Sy eie karakter aan die siel. DKvDE 326.1

Almal wat die koninkryk van Christus, van liefde en geregtigheid en vrede kies en die belang daarvan bo alle ander dinge belangriker ag, is aan die hemel verbind en elke seën wat vir hierdie lewe benodig word, behoort aan hulle. In die boek van God se voorsienigheid, die boek van die lewe, word ‘n bladsy aan elkeen toegeken. Daardie bladsy bevat elke besonderheid van ons geskiedenis; selfs die hare op ons hoof is getel. God se kinders is nooit uit Sy gedagtes nie. DKvDE 326.2

“Kwel julle dus nie oor more nie.” Ons moet Christus dag vir dag volg. God skenk nie hulp vir more nie. Hy gee sy kinders nie al die voorligting vir hulle lewensreis gelyktydig nie, sodat hulle nie verward raak nie. Hy vertel aan hulle net soveel as wat hulle kan onthou en uitvoer. Die krag en wysheid wat gegee word, is vir die huidige behoefte. “As iemand van julle wysheid kortkom...”-vir vandag-“...laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” (Jakobus 1:5). DKvDE 326.3

“Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” Moenie jouself hoër as ander ag nie en moenie jouself as regter oor hulle aanstel nie. Omdat jy nie die motief kan onderskei nie, is jy nie in staat om ander te oordeel nie. Deur hom te kritiseer, vel jy ‘n oordeel oor jouself; want jy toon dat jy ‘n deelgenoot van Satan is, die aanklaer van die broeders. Die Here sê: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef.” (2 Korinthiërs 13:5). Dit is ons werk. “Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.” (1 Korinthiërs 11:31). DKvDE 327.1

Die goeie boom sal goeie vrugte lewer. As die vrugte onsmaaklik en waardeloos is, is die boom sleg. Die vrug wat dus in die lewe gedra word, getuig van die toestand van die hart en die uitnemendheid van die karakter. Goeie werke kan nooit ons redding bekom nie, maar dit is ‘n bewys van die geloof wat in liefde optree en die siel reinig. En hoewel die ewige beloning nie op grond van ons verdienste toegeken word nie, sal dit in verhouding tot die werk wat deur die genade van Christus verrig is, wees. DKvDE 327.2

So het Christus die beginsels van Sy koninkryk voorgehou en hulle getoon as die groot lewensreël. Om die les verder tuis te bring, het Hy dit met ‘n illustrasie toegelig. Dit is nie genoeg dat julle My woorde te hoor nie, het Hy gesê. Deur gehoorsaamheid moet julle dit die grondslag van jul karakter maak. Die eie-ek is slegs dryfsand. As julle op die teorieë en versinsels van mense bou, sal jul huis ineenstort. Dit sal deur die winde van versoeking en die storms van beproewing weggevoer word. Maar hierdie beginsels wat Ek julle gegee het, sal standhou. Ontvang My; bou voort op My woorde. DKvDE 327.3

“Elkeen wat dan na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.” DKvDE 327.4