Die Koning van die Eeue

1/88

Die Koning van die Eeue

Voorwoord

In die harte van alle mense, afgesien van ras of stand, heers ‘n onuitspreeklike verlange na iets wat hulle nie tans besit nie. Hierdie verlange is deur ‘n genadige God in die wese van die mens ingeplant, sodat die mens nie met sy huidige toestand of prestasies, of dit goed of sleg is, tevrede moet wees nie. God wil hê dat die mens na die beste sal streef en dit tot ewige heil vir sy siel sal vind. DKvDE .0

Satan het hierdie verlange, deur geslepe beplanning en vernuf, by die mens verdraai. Hy laat die mens glo dat hierdie begeerte met plesier, rykdom, gemak, roem, of mag bevredig kan word; maar diegene wat hierdeur mislei is (en hulle is talryk), vind dat al hierdie dinge die sinne walg en die siel net so verlate en onbevredig soos tevore laat. DKvDE .0

God beoog dat hierdie verlange in die mens se hart hom na die enigste Een wat in staat is om dit te bevredig moet lei. Die verlange kom van Hom sodat dit na Hom, die volheid en vervulling van daardie begeerte, kan lei. Daardie volheid word in Jesus Christus, die Seun van die Ewige God gevind. “Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon.” (Kolossense 1:19)( “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik.” (Kolossense 2:9) En dit is ook waar dat ons “volheid in Hom” het met betrekking tot elke begeerte wat Goddelik ingeplant is en normaalweg nagestreef word. DKvDE .0

Haggai noem Hom “...die skatte van al die nasies...” (Haggai 2:7) en ons kan Hom tereg “die Begeerte van alle eeue” noem, net soos Hy ook die “Koning van die Eeue” is. DKvDE .0

Die doel van hierdie boek is ook om Jesus Christus as die Een in Wie elke verlange bevredig kan word, voor te hou. Daar is baie boeke oor die lewe van Christus geskryf, uitstekende boeke, vol inligting, uitgebreide essays oor kronologie en die geskiedenis, eietydse geskiedenis, gewoontes en gebeurtenisse, met vele leerstellings en grepe uit die veelsydige lewe van Jesus van Nasaret. Tog kan tereg gesê word: “Die helfte is nog nie vertel nie.” DKvDE .0

Dit is egter nie die doel van hierdie werk om ‘n harmonie van die evangelies uiteen te sit, met mekaar te rym, of om selfs die belangrike gebeure en merkwaardige lesse in die lewe van Christus in streng kronologiese orde weer te gee nie; die doel is om die liefde van God, soos in sy Seun geopenbaar en die Goddelike skoonheid van die lewe van Christus waaraan almal deel kan hê, voor te hou en nie om die begeertes van bloot nuuskieriges of die vrae van kritici te bevredig nie. Maar net soos Jesus deur Sy eie goedheid van karakter die dissipels tot Homself aangetrek het en deur Sy persoonlike teenwoordigheid, Sy simpatieke aanraking en meegevoel met al hul swakhede en behoeftes en deur Sy voortdurende gemeenskap, hul karakters van die aardse na die hemelse, van selfsug na opoffering, van kleingeestige onkunde en vooroordeel na groothartige kennis en ‘n innige liefde vir die siele van alle nasies en rasse verander het, net so streef hierdie boek daarna om die salige Verlosser só voor te stel dat die leser daardeur gehelp sal word om Hom van aangesig tot aangesig, van hart tot hart te ontmoet en om, net soos die dissipels van ouds, in Hom, Jesus die Magtige, wat “...volkome red...” te vind en almal wat deur Hom tot God kom, in Sy eie Goddelike beeld te omskep. En tog, hoe onmoontlik is dit om Sy lewe te openbaar! Dit is net so moeilik soos om die lewende reënboog op doek aan te bring; of in note van swart en wit die soetste musiek weer te gee. DKvDE .0

Op die volgende bladsye het die outeur, ‘n vrou met groot, diep en lang ervaring in die dinge van God, nuwe skoonhede uit die lewe van Jesus uiteengesit. Sy het baie nuwe juwele uit die kosbare skatkis gebring. Sy stel voor die leser ongekende rykdomme uit hierdie onuitputlike skatkamer oop. Nuwe en heerlike lig straal uit menige oorbekende teksgedeeltes, die diepte waarvan die leser veronderstel het dat hy dit lank tevore gepeil het. Om dit kortliks te stel, word, Jesus Christus as die Volheid van die Godheid geopenbaar, die oneindige genadige Verlosser van sondaars, die Son van Geregtigheid, die barmhartige Hoëpriester, die Geneesheer van alle menslike kwale en siektes, die deernisvolle, medelydende Vriend, die voortdurende, immer-teenwoordige en hulpvaardige Metgesel, die Vors uit die Huis van Dawid, die Skild van Sy volk, die Vredevors, die Komende Koning, die Ewige Vader, die voleindiging en verwesenliking van die begeertes en hoop van al die eeue. DKvDE .0

Met die seën van God word hierdie boek aan die wêreld gegee, met ‘n gebed dat die Here deur Sy Gees die woorde van hierdie boek, vir baie siele wie se verlangens en begeertes steeds onbevredig is, woorde van lewe sal maak; dat hulle “...Hom kan ken en die krag van Sy opstanding en die gemeenskap aan Sy lyde...” (Filippense 3:10) en dat hulle eindelik, deur ‘n salige ewigheid aan Sy regterhand, kan deel in daardie “...volheid van vreugde...” en ewige saligheid wat die ryp-geworde vrug sal wees van almal wat in Hom, alles in alles vind, die Een wat “...uitnemender as tienduisend...” (Hooglied 5:10) en “...geheel en al die lieflikheid self...” is. (Hooglied 5:16) DKvDE .0

DIE UITGEWERS