Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 30—“Hy Het Twaalf Aangestel” *
“En Hy het op die berg geklim en na Hom geroep die wat Hy wou hê en hulle het na Hom gekom. En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek.” DKvDE 298.1
Dit was onder die beskutting van die bome teen die berghelling, ‘n entjie van die See van Galilea af, wat die twaalf tot apostelskap geroep is en die Bergpredikasie gelewer is. Die velde en heuwels was Jesus se gunsteling plekke en baie van Sy leringe is in die ope lug gegee, eerder as in die tempel of in sinagoges. Geen sinagoge kon die skare wat Hom gevolg het bevat nie; maar dit was nie alleenlik om hierdie rede dat Hy verkies het om in die veld en bosse onderrig te gee nie. Jesus was lief vir die natuur. Vir Hom was elke stille toevlug ‘n heilige tempel. DKvDE 298.2
Dit was onder die bome van Eden wat die eerste bewoners van die aarde hul heiligdom gekies het. Daar het Christus met die vader van die mensdom gemeenskap gehad. Nadat ons eerste ouers uit die Paradys verban is, het hulle nog steeds in die veld en bosse aanbid en daar het Christus hulle met die evangelie van Sy genade ontmoet. Dit was Christus wat onder die eike van Mamre met Abraham gepraat het; met Isak toe hy in die aand in die veld uitgegaan het om te bid; met Jakob teen die heuwel by Bet-El; saam met Moses te midde van die berge van Midian; en saam met die seun Dawid terwyl hy sy kuddes opgepas het. Dit was onder leiding van Christus dat die Hebreeuse volk vir vyftien eeue, jaarliks een week lank hul huise verlaat het en in hutte, wat uit die groen takke “...van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers...” gevorm is, gaan woon het. (Levitikus 23:40). DKvDE 298.3
Met die opleiding van Sy dissipels het Jesus verkies om Hom uit die woelinge van die stad na die stilte van veld en heuwels te onttrek, wat meer gepas was vir die lesse van selfverloëning wat Hy hulle wou leer. En in Sy bediening het Hy graag die volk onder die blou hemel, teen ‘n grasbedekte heuwel, of op die strand langs die meer om Hom vergader. Hier, omring deur die werke van Sy eie skepping, kon Hy die gedagtes van Sy gehoor van die kunsmatige na die natuurlike rig. Die beginsels van Sy koninkryk word in die groei en ontwikkeling van die natuur geopenbaar. Terwyl die mense hul oë na die berge van God opgehef en die wonderbare werke van Sy hande aanskou het, kon Hy hulle kosbare lesse van Goddelike waarheid leer. Christus se lering sou in die dinge van die natuur aan hulle herhaal word. So is dit ook vir diegene wat, met Christus in hul harte, die veld ingaan. Hulle sal hulself omring voel met ‘n heilige invloed. Die dinge van die natuur neem die gelykenisse van ons Here op en herhaal sy onderrig. Deur gemeenskap met God in die natuur word die gees opgehef en vind die hart rus. DKvDE 299.1
Die eerste stap moes nou in die organisasie van die kerk geneem word, wat ná Christus se vertrek, Sy verteenwoordiger op aarde sou wees. Daar was geen duur tempel tot hulle beskikking nie, maar die Verlosser het Sy dissipels na die toevlugsoord wat Hy liefgehad het, gelei en in hulle gedagtes was die heilige ervarings van daardie dag vir altyd aan die skoonheid van die berg en dal en see gekoppel. DKvDE 299.2
Jesus het sy dissipels geroep om hulle as Sy getuies uit te stuur om aan die wêreld te verkondig wat hulle van Hom gesien en gehoor het. Hulle amp was die belangrikste waartoe die mens nog ooit geroep is en was slegs ondergeskik aan Christus self. Hulle moes medewerkers van God vir die redding van die wêreld wees. Soos die twaalf stamvaders in die Ou Testament as verteenwoordigers van Israel staan, so sou die twaalf apostels as verteenwoordigers van die evangeliekerk staan. DKvDE 299.3
Die Verlosser het die karakter van die manne wat Hy gekies het geken; al hul swakhede en dwalinge was oop voor Hom; Hy het geweet deur watter gevare hulle sou moes gaan, die verantwoordelikheid wat op hulle sou rus; en Sy hart het na hierdie gekose manne uitgegaan. Alleen op ‘n berg naby die see van Galiléa, het Hy die hele nag in gebed vir hulle deurgebring, terwyl hulle aan die voet van die berg geslaap het. Toe die eerste daglig aanbreek, het Hy hulle na Hom geroep; want Hy het iets van belang gehad om aan hulle oor te dra. DKvDE 300.1
Hierdie dissipels was al ‘n geruime tyd saam met Jesus besig om aktief te arbei. Johannes en Jakobus, Andreas en Petrus, saam met Filippus, Natanael en Mattheus, was nouer aan Hom verbind as die ander en het meer van Sy wonderwerke gesien. Petrus, Jakobus en Johannes het in ‘n nog nader verhouding met Hom gestaan. Hulle was byna voortdurend by Hom en het Sy wonderwerke gesien en Sy woorde gehoor. Johannes het ‘n nog nouer intimiteit met Jesus gehad, sodat hy onderskei is as die een vir wie Jesus lief was. Die Verlosser het hulle almal liefgehad, maar Johannes het die ontvanklikste gees gehad. Hy was jonger as die ander en het sy hart met ‘n meer kinderlike vertroue vir Jesus oopgestel. So het hy meer in voeling met Christus gekom en deur hom is die diepste geestelike leringe van die Heiland aan Sy volk meegedeel. DKvDE 300.2
Aan die hoof van een van die groepe waarin die apostels opgedeel was, staan die naam van Filippus. Hy was die eerste dissipel aan wie Jesus die uitdruklike bevel gerig het: “Volg My.” Filippus was van Betsáida, die stad van Andreas en Petrus. Hy het na die prediking van Johannes die Doper geluister en het gehoor hoe hy Christus as die Lam van God aankondig. Filippus het opreg na die waarheid gesoek, maar het nie maklik geglo nie. Alhoewel hy hom by Christus aangesluit het, het sy woorde aan Natanael getoon dat hy nie heeltemal van die Goddelikheid van Jesus oortuig was nie. Hoewel Christus deur die stem uit die hemel as die Seun van God aangekondig is, was Hy vir Filippus “Jesus, die seun van Josef van Nasaret.” (Johannes 1:46). En weereens, toe die vyfduisend gevoed is, is Filippus se gebrek aan geloof geopenbaar. Dit was om hom op die proef te stel dat Jesus gevra het: “Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet?” Filippus se antwoord het gebrek aan geloof verraai: “Brood vir tweehonderd pennings sal nie genoeg wees vir hulle, sodat elkeen van hulle ‘n stukkie kan kry nie.” (Johannes 6:5,7). Jesus was bedroef. Alhoewel Filippus Sy werke aanskou het en Sy mag ervaar het, het hy steeds nie geloof gehad nie. Toe die Grieke by Filippus aangaande Jesus navraag gedoen het, het hy nie van die geleentheid gebruik gemaak om hulle aan die Verlosser voor te stel nie, maar het hy dit aan Andreas gaan vertel. En in die laaste ure voor die kruisiging was die woorde van Filippus weer van so aard dat dit geloof ontmoedig het. Toe Thomas aan Jesus gesê het: “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?” het die Verlosser geantwoord: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe... As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.” Filippus se reaksie was een van ongeloof: “Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” (Johannes 14:5-8). So traag van hart, so swak in die geloof, was hierdie dissipel wat drie jaar lank by Jesus was. DKvDE 300.3
In verblydende kontras met Filippus se ongeloof, was die kinderlike vertroue van Natanael. As mens was hy intens ernstig, iemand wie se geloof die onsienlike werklikhede aangegryp het. Tog was Filippus ‘n student in die skool van Christus en die Goddelike Leraar het sy ongeloof en traagheid met geduld verdra. Nadat die Heilige Gees op die dissipels uitgestort is, het Filippus ‘n leraar na die Goddelike orde geword. Hy het geweet waarvan hy praat en het met ‘'n vaste oortuiging onderrig gegee, wat vertroue by sy gehoor ingeboesem het. DKvDE 301.1
Terwyl Jesus die dissipels vir hul ordening voorberei het, het een wat nie geroep is nie, homself aan hulle opgedring. Dit was Judas Iskariot, ‘n man wat beweer het dat hy ‘n navolger van Jesus is. Hy het nou na vore gekom en ‘n plek in hierdie binnekring van die dissipels gesoek. Met groot erns en oënskynlike opregtheid het hy verklaar: “Meester, ek sal U volg waar U ook mag gaan.” Jesus het hom nie weggewys of verwelkom nie, maar net die bedroefde woorde geuiter: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.” (Mattheus 8:19,20). Judas het geglo dat Jesus die Messias was; en deur by die apostels aan te sluit, het hy gehoop om ‘n hoë posisie in die nuwe koninkryk te verseker. Deur die verklaring van Sy armoede, wou Jesus wou hom in hierdie hoop ontmoedig. DKvDE 301.2
Die dissipels was angstig dat Judas een van hulle moes word. Hy het ‘n imponerende voorkoms gehad, met ‘n skerp onderskeidingsvermoë, insig en uitvoerende gesag en hulle het hom by Jesus aanbeveel as iemand wat Hom baie in Sy werk behulpsaam kon wees. Hulle was verbaas dat Jesus hom so koel ontvang het. DKvDE 302.1
Die dissipels was baie teleurgesteld omdat Jesus nie die samewerking van die leiers van Israel probeer verseker het nie. Hulle het gemeen dat dit ‘n fout was om nie Sy saak te versterk deur die ondersteuning van hierdie invloedryke mense te bekom nie. As Hy Judas weggewys het, sou hulle die wysheid van hul Meester bevraagteken het. Die toekomstige geskiedenis van Judas sou hulle die gevaar laat insien van enige wêreldse oorweging om die geskiktheid van mense vir die werk van God te bepaal. Die samewerking van sulke mense soos die wat die dissipels graag wou bekom, sou die werk in die hande van Sy ergste vyande verraai het. DKvDE 302.2
Tog, toe Judas hom by die dissipels gevoeg het, was hy nie onsensitief vir die skoonheid van karakter van Christus nie. Hy het die invloed van die krag wat siele na die Verlosser getrek het, ervaar. Hy, wat nie gekom het om die geknakte riet te breek of die rokende lamppit te blus nie, sou hierdie siel nie verwerp indien daar slegs een begeerte by hom bestaan het om na die lig te reik nie. Die Heiland het die hart van Judas gelees; Hy het geweet tot watter laagtes, tensy hy deur die genade van God verlos sou word, Judas sou sink. Deur hierdie man met Homself te verbind, het Hy hom op ‘n plek geplaas waar hy dag vir dag in aanraking met die uitvloei van Sy eie onselfsugtige liefde kon kom. As hy sy hart vir Christus sou oopstel, sou die Goddelike genade die demoon van selfsug verdryf en selfs Judas sou ‘n onderdaan van die koninkryk van God word. DKvDE 302.3
God neem mense soos hulle is, met die menslike elemente van hul karakter en lei hulle op vir Sy diens, indien hulle gedissiplineerd sou wees om van Hom te leer. Hulle word nie gekies omdat hulle volmaak is nie, maar dat hulle, ondanks hul tekortkominge, deur die kennis en beoefening van die waarheid, deur die genade van Christus, na Sy beeld omskep kan word. DKvDE 303.1
Judas het dieselfde geleenthede as die ander dissipels gehad. Hy het na dieselfde kosbare lesse geluister. Maar die beoefening van die waarheid wat Christus vereis het, was in stryd met die begeertes en voornemens van Judas en hy wou nie sy idees prysgee om hemelse wysheid te bekom nie. DKvDE 303.2
Met hoeveel teerheid het die Verlosser met hom, wat Sy verraaier sou wees, gewerk! In sy leringe het Jesus by die beginsels van welwillendheid, wat die wortel van hebsug getref het, stilgestaan. Hy het die afskuwelike karakter van hebsug aan Judas voorgehou en die dissipel het baie keer besef dat dit sy karakter uitgebeeld en sy sonde uitgewys het; maar hy wou nie sy ongeregtigheid bely en versaak nie. Hy was selfgenoegsaam en in plaas van versoeking te weerstaan, het hy voortgegaan om sy bedrieglike praktyke te volg. Christus was voor hom, ‘n lewende Voorbeeld van wat hy sou word as hy voordeel uit die Goddelike bemiddeling en bediening sou trek; maar les na les is deur Judas verontagsaam. DKvDE 303.3
Jesus het hom nie skerp oor sy hebsug tereggewys nie, maar het met Goddelike geduld hierdie dwalende man verduur, selfs nadat Hy aan hom laat blyk het dat Hy sy hart soos ‘n oop boek lees. Hy het die hoogste aansporings om goed te doen aan hom voorgehou; en in die verwerping van die hemelse lig, sou Judas sonder verskoning wees. DKvDE 304.1
In plaas daarvan om in die lig te wandel, het Judas verkies om sy gebreke te behou. Bose begeertes, wraakgierige hartstogte, donker en sombere gedagtes is gekoester, totdat Satan volle beheer oor die man gehad het. Judas het ‘n verteenwoordiger van die vyand van Christus geword. DKvDE 304.2
Toe Hy met Jesus in verbinding getree het, het hy enkele goeie eienskappe gehad wat tot ‘n seën vir die kerk sou kon wees. Indien hy gewillig was om die juk van Christus te dra, sou hy moontlik een van die vernaamste apostels geword het; maar toe sy gebreke uitgewys is, het hy sy hart verhard en in sy trotsheid en rebellie het hy sy eie selfsugtige ambisies gekies en hom sodoende ongeskik gemaak vir die werk wat God aan hom sou opgedra het. DKvDE 304.3
Al die dissipels het ernstige tekortkominge gehad toe Jesus hulle tot Sy diens geroep het. Selfs Johannes, wat in die nouste voeling met die Sagmoedige gekom het, was nie van nature sagmoedig en toegeeflik nie. Hy en sy broer was “...die seuns van die donder...” genoem. Terwyl hulle saam met Jesus was, het enige minagting wat aan Hom betoon is, hul verontwaardiging en veglus ontketen. ‘n Slegte humeur, wraaklus, kritieke gees, was alles by die geliefde dissipel gevind. Hy was trots en ambisieus om eerste in die koninkryk van God te wees. Maar elke dag, in teenstelling met sy eie gewelddadige gees, het hy die sagmoedigheid en verdraagsaamheid van Jesus aanskou en Sy lesse van nederigheid en geduld aangehoor. Hy het sy hart vir die Goddelike invloed oopgestel en het nie net ‘n hoorder nie, maar ook ‘n dader van die Heiland se woorde geword. Die eie-ek was in Christus geborge. Hy het geleer om die juk van Christus op te neem en sy las te dra. DKvDE 304.4
Jesus het sy dissipels tereggewys, hulle vermaan en gewaarsku; maar Johannes en sy broers het Hom nie verlaat nie; hulle het Jesus, ongeag die teregwysings, gekies. Die Heiland het Hom nie as gevolg van hul foute en tekortkominge van hulle onttrek nie. Hulle het tot aan die einde voortgegaan om in Sy beproewinge te deel en die lesse van Sy lewe te leer. Deur Christus te aanskou, het hulle van karakter verander. DKvDE 305.1
Die apostels het baie verskil in gewoontes en gesindheid. Daar was die tollenaar, Levi-Mattheus en die vurige yweraar, Simon, die onversetlike hater van die Romeinse gesag; die groothartige, impulsiewe Petrus en die gemene Judas; Thomas, opreg maar skugter en vreesagtig, Filippus, traag van hart en geneig tot twyfel en die ambisieuse, uitgesproke seuns van Sebedeus en hul broers. Hierdie manne is, met hulle verskillende foute, almal met oorgeërfde en aangekweekte neigings tot die kwade, saamgebring; maar in en deur Christus sou hulle in die familie van God woon en leer om een in geloof, in leer en in gees te word. Hulle sou hul beproewinge, hul griewe, hul meningsverskille hê; maar terwyl Christus in hul harte woon, sou daar geen verdeeldheid wees nie. Sy liefde sou tot liefde vir mekaar lei; die lesse van die Meester sou tot die bylegging van alle geskille lei, wat die dissipels in ‘n eenheid sou saambind, totdat hulle een van denke en oordeel sou wees. Christus is die groot Middelpunt en hulle sou, in verhouding, nader aan mekaar beweeg tot dieselfde mate waarin hulle nader aan die Middelpunt beweeg. DKvDE 305.2
Toe Jesus Sy onderrig aan die dissipels beëindig het, het Hy die klein groepie om Hom vergader en terwyl Hy tussen hulle neergekniel het en Sy hande op hul hoofde neergelê het, het Hy 'n gebed gedoen om hulle vir Sy heilige sending toe te wy. So is die dissipels van die Here vir die evangeliebediening georden. DKvDE 305.3
As Sy verteenwoordigers onder die mense, kies Christus nie engele wat nooit geval het nie, maar mense, met dieselfde hartstogte as diegene wat hulle wil red. Christus het self mens geword sodat Hy die mensdom kon bereik. Die Goddelike het die mensheid nodig gehad; want dit het die Goddelike sowel as die mens vereis om verlossing aan die wêreld te bring. Die Goddelike het die mensheid nodig gehad, sodat die mensheid ‘n kanaal van kommunikasie tussen God en mens sou kon bied. So is dit ook met die dienaars en boodskappers van Christus. Die mens het ‘n mag buite en bo homself nodig om weer na die beeld van God herstel te word en hom in staat te stel om die werk van God te doen; maar dit maak die menslike werktuig nie minder belangrik nie. Die mens hou aan die Goddelike mag vas, Christus woon deur geloof in die hart; en in samewerking met die Goddelike, word die krag van die mens effektief vir die goeie. DKvDE 306.1
Hy wat die vissers van Galiléa geroep het, roep steeds mense tot Sy diens. En Hy is net so gewillig om Sy krag deur ons te openbaar, soos deur die eerste dissipels. Hoe onvolkome en sondig ons ook al mag wees, hou die Here ‘n vennootskap met Homself aan ons voor, ‘n vakleerlingskap onder Christus. Hy nooi ons om Goddelike onderrig te ontvang, sodat, deur met Christus te verenig, ons die werke van God kan verrig. DKvDE 306.2
“Ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.” (2 Korinthiërs 4:7). Dit is waarom die verkondiging van die evangelie aan onvolmaakte mense, eerder as aan die engele opgedra is. Dit is duidelik dat die krag wat deur die swakheid van die mensdom werk, die krag van God is; en daarom word ons aangemoedig om te glo dat die krag wat andere help wat net so swak soos ons is, ons ook kan help. En diegene wat self “...met swakheid bevange is...” moet in staat wees om te “...kan saamvoel met die onwetendes en dwalendes.” (Hebreërs 5:2). Omdat hulle self gevaar geken het, is hulle vertroud met die gevare en probleme op die weg en daarom word hulle geroep om na andere wat in dieselfde gevaar verkeer, uit te reik. Daar is siele wat deur twyfel in verwarring verkeer, belas met swakhede, swak in die geloof en nie in staat om die Onsienlike te begryp nie; maar ‘n vriend wat hulle kan sien, wat in die plek van Christus na hulle toe kom, kan die bindende skakel wees wat hul wankelende geloof aan Christus vasbind. DKvDE 306.3
Ons moet saam met die hemelse engele arbeiders wees om Jesus aan die wêreld voor te hou. Die engele wag met byna ongeduldige gretigheid op ons samewerking; want die mens moet die kanaal wees waardeur met die mens gekommunikeer kan word. En wanneer ons onsself in heelhartige toewyding aan Christus oorgee, is die engele verheug dat hulle deur ons stemme kan praat om die liefde van God te openbaar. DKvDE 307.1