Die Koning van die Eeue

30/88

Hoofstuk 29—Die Sabbat

Die Sabbat is met die skepping geheilig. Soos vir die mens bepaal, het dit sy oorsprong gehad toe “...die móresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het.” (Job 38:7). Vrede het oor die wêreld geheers; want die aarde was in harmonie met die hemel. “Toe sien God alles wat Hy gemaak het en-dit was baie goed.” (Genesis 1:31); en Hy het gerus in die vreugde van Sy voltooide werk. DKvDE 287.1

Omdat Hy op die Sabbat gerus het, het God ...”die sewende dag geseën en dit geheilig...” (Genesis 2:3) dit afgesonder vir heilige gebruik. Hy het dit as ‘n rusdag aan Adam gegee. Dit was ‘n gedenkteken van die skeppingswerk en dus ‘n teken van God se mag en Sy liefde. Die Skrif sê: “Hy het vir Sy wonders ‘n gedagtenis gestig.” (Psalm 111:4). “Sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in Sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik Sy ewige krag en goddelikheid.” (Romeine 1:20). DKvDE 287.2

Alle dinge is deur die Seun van God geskape. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God... Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” (Johannes 1:1-3). En aangesien die Sabbat ‘n gedenkteken van die skeppingswerk is, is dit ‘n teken van die liefde en krag van Christus. DKvDE 287.3

Die Sabbat roep ons gedagtes na die natuur en bring ons in gemeenskap met die Skepper. In die voëlgesang, die geruis van die bome en die musiek van die see, kan ons steeds Sy stem hoor wat in die koelte van die dag met Adam in die Tuin gepraat het. En terwyl ons Sy krag in die natuur aanskou, vind ons vertroosting, want die Woord wat alle dinge geskape het, is die Woord wat lewe tot die siel spreek. “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn-dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.” (2 Korinthiërs 4:6). DKvDE 287.4

Dit was hierdie gedagte wat die lied geïnspireer het: DKvDE 288.1

“Want U het my bly gemaak, HERE, deur U dade;
ek jubel oor die werke van U hande. Hoe groot is U werke, o
Here; baie diep is U gedagtes!”
DKvDE 288.2

(Psalm 92:5,6).

En die Heilige Gees verklaar deur die profeet Jesaja: “By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?... Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie? Hy sit bo die kring van die aarde en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos ‘n dun doek en sprei dit uit soos ‘n tent om in te woon...By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is: daar word nie een gemis nie. Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die Here verborge, en my reg gaan by my God verby? Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie... Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.” (Jesaja 40:18-29). “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.” (Jesaja 41:10). “Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! want Ek is God, en daar is geen ander nie.” (Jesaja 45:22). Dit is die boodskap wat in die natuur geskryf staan, waarvoor die Sabbat ingestel is om dit in herinnering te roep. Toe die Here Israel beveel het om sy Sabbatte te heilig, het Hy gesê: “Hulle sal ‘n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek die Here julle God is.” (Esegiël 20:20). DKvDE 288.3

Die Sabbat word in die wet wat vanaf Sinai gegee is vergestalt; maar dit was nie eers op daardie stadium as ‘n rusdag bekend gemaak nie. Die volk van Israel het kennis daarvan gehad voordat hulle by Sinai aangekom het. Op pad daarheen is die Sabbat onderhou. Toe sommige dit ontheilig het, het die Here hulle bestraf en gesê: “Hoe lank weier julle om my gebooie en my wette te onderhou?” (Exodus 16:28). DKvDE 289.1

Die Sabbat was nie net vir Israel nie, maar vir die wêreld. Dit is in Eden aan die mens bekend gemaak en soos die ander voorskrifte van die dekaloog, is dit onverganklik. Aangaande die wet, waarvan die vierde gebod deel is, verklaar Christus: “Voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan ... nie.” (Mattheus 5:18). Vir so lank as wat die hemel en die aarde bestaan, sal die Sabbat voortduur as ‘n teken van die mag van die Skepper. En wanneer Eden weer op aarde sal blom, sal God se heilige rusdag deur almal onder die son eerbiedig word. “Elke week op die Sabbat...” sal die bewoners van die verheerlikte nuwe aarde “...kom om te aanbid voor My aangesig, sê die Here.” (Jesaja 66:23). DKvDE 289.2

Geen ander instelling wat aan die Jode toevertrou was, was so geneig om hulle van die omliggende nasies te onderskei, soos die Sabbat nie. God het beplan dat die onderhouding daarvan hulle as aanbidders van Hom sou onderskei. Dit moes ‘n teken van hul afsondering van afgodery en hul verbintenis met die ware God wees. Maar om die Sabbat heilig te hou, moes hulle self heilig wees. Deur geloof moes hulle deelgenote van die geregtigheid van Christus word. Toe die bevel aan Israel gegee is: “Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig...” (Exodus 20:8), het die Here ook aan hulle gesê: “Julle moet vir My heilige mense wees.” (Exodus 22:31). Slegs so kon die Sabbat Israel as die aanbidders van God onderskei. DKvDE 289.3

Namate die Jode van God afgewyk en nie die geregtigheid van Christus deur geloof hul eie gemaak het nie, het die Sabbat die betekenis daarvan vir hulle verloor. Satan het gepoog om homself te verhoog deur mense van Christus weg te draai deur die Sabbat te vervals, want dit was die teken van die mag van Christus. Die Joodse leiers het die wil van Satan volbring deur die rusdag van God met swaar vereistes te belas. In die dae van Christus het die Sabbat so verdraaid geraak, dat die onderhouding daarvan die karakter van selfsugtige en willekeurige mense weerspieël het, eerder as die karakter van ‘n liefdevolle hemelse Vader. Die rabbi’s het God feitlik voorgestel as Een wat wette maak wat vir die mens onmoontlik was om te gehoorsaam. Hulle het die volk gelei om God as ‘n tiran te sien en om te dink dat die onderhouding van die Sabbat, soos Hy dit verlang het, mense hardvogtig en wreed gemaak het. Dit was die werk van Christus om hierdie wanopvattings uit die weg te ruim. Alhoewel die rabbi’s Hom met genadelose vyandigheid agtervolg het, het Hy nie eens die skyn probeer wek dat Hy hul voorskrifte eerbiedig nie, maar Hy het reguit voortgegaan om die Sabbat volgens die wet van God te onderhou. DKvDE 290.1

Toe die Verlosser en Sy dissipels een Sabbat van hul plek van aanbidding teruggekeer het, het hulle deur ‘n landery met rypwordende graan gestap. Jesus het tot laat gearbei en terwyl hulle deur die landery stap, het sy dissipels van die rypwordende are begin pluk en die graan geëet nadat hulle dit in hul hande uitgevryf het. Op enige ander dag sou hierdie daad geen kommentaar uitgelok het nie, want iemand wat deur ‘n graanland, of boord of wingerd stap, was daarop geregtig om te pluk en te eet. (Sien Deuteronomium 23:24,25). Maar om dit op die Sabbat te doen, was as ‘n daad van ontheiliging beskou. Nie alleen was die insameling van die graan ‘n soort oes nie, maar die vryf daarvan in die hande was ‘n soort dorswerk. Volgens die rabbi’s was dit dus ‘n dubbele oortreding. DKvDE 290.2

Die spioene het dadelik by Jesus gekla en gesê: “Kyk, U dissipels doen wat nie geoorloof is om op die Sabbat te doen nie.” (Mattheus 12:2) DKvDE 291.1

Toe Jesus van Sabbatskending in Betesda beskuldig was, het Hy Homself verdedig deur te bevestig dat Hy die Seun van God is en verklaar dat Hy in harmonie met die Vader werk. Noudat die dissipels aangeval word, noem Hy voorbeelde uit die Ou Testament van dade wat op die Sabbat uitgevoer was deur diegene wat in diens van God was. DKvDE 291.2

Die Joodse leraars was trots op hul kennis van die Skrif en in die antwoord van die Heiland, was daar ‘n geïmpliseerde teregwysing oor hul onkunde aangaande die Heilige Skrifte. “Het julle dan nie dit gelees...” het Hy gesê, “...wat Dawid gedoen het nie-toe hy honger gehad het, hy en die wat by hom was-hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geneem en geëet het ... wat hulle nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen?” (Lukas 6:3 4). “En Hy sê vir hulle: Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Sabbat nie.” (Markus2:27,28). “Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die Sabbat in die tempel die Sabbat ontheilig en onskuldig is nie? En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier... Die Seun van die mens is Here ook van die Sabbat.” (Mattheus 12:5,6,8). DKvDE 291.3

As dit reg was vir Dawid as om sy honger te bevredig deur die brood te eet wat vir heilige gebruik afgesonder was, dan was dit reg dat die dissipels in hul behoefte voorsien deur die graan op die heilige ure van die Sabbat te pluk. Meer nog, die priesters in die tempel het op die Sabbat meer arbeid verrig as op ander dae. Dieselfde arbeid in sekulêre sake sou sondig gewees het; maar die werk van die priesters was in diens van God. Hulle het rituele uitgevoer wat op die verlossende krag van Christus gewys het en hul arbeid was in ooreenstemming met die doel van die Sabbat. Maar nou het Christus self gekom. Die dissipels was besig met die werk van Christus en in diens van God en dit wat nodig vir die uitvoering van hierdie werk was, was op die Sabbatdag geoorloof. DKvDE 291.4

Christus sou Sy dissipels en Sy vyande leer dat die diens van God voorrang geniet. Die doel van God se werk in hierdie wêreld is die verlossing van die mensdom; daarom is dit wat op die Sabbat gedoen moet word om hierdie werk te verrig, in ooreenstemming met die Sabbatswet. Jesus het sy argument daarop bekroon deur Homself as die “...Here van die Sabbat...” te verklaar-Een wat bo alle ondervraging en bo alle wetgewing is. Hierdie ewige Regter spreek die dissipels vry van alle blaam deur Hom op die gebooie, waarkragtens hulle beskuldig word, te beroep. DKvDE 292.1

Jesus het die saak nie laat verbygaan sonder om Sy vyande tereg te wys nie. Hy het verklaar dat hulle hulself in hul blindheid, met die doel van die Sabbat misgis het. “Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie...” het Hy gesê, “...sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie.” (Mattheus 12:7). Hul talle hartelose rituele kon nie in die gebrek aan die waarheidsgetroue integriteit en tere liefde voorsien wat die ware aanbidder van God kenmerk nie. DKvDE 292.2

Weer het Christus die waarheid herhaal, dat die offers op sigself van geen waarde was nie. Hulle was ‘n middel en nie ‘n doel nie. Hul doel was om mense na die Verlosser te lei en sodoende hulle in harmonie met God te bring. Dit is die liefdesdiens wat God waardeer. As dit ontbreek, is die blote seremonie ‘n aanstoot vir Hom. So ook met die Sabbat. Dit is bedoel om mense in gemeenskap met God te bring; maar toe die verstand deur vermoeiende rituele in beslag geneem is, is die doel van die Sabbat verydel. Die blote uiterlike onderhouding daarvan was ‘n bespotting. DKvDE 292.3

Op ‘n ander Sabbat, toe Jesus die sinagoge binnegaan, sien Hy daar ‘n man met ‘n verdorde hand. Die Fariseërs het Hom dopgehou, gretig om te sien wat Hy sou doen. Die Verlosser het goed geweet dat indien Hy op die Sabbat genees, Hy as ‘n oortreder beskou sou word, maar Hy het nie gehuiwer om die muur van oorleweringe wat die Sabbat belemmer het, af te breek nie. Jesus het die geteisterde man beveel om na vore te kom en toe vra Hy: “Is dit geoorloof om op die Sabbat goed of kwaad te doen, ‘n lewe te red of dood te maak?” Dit was ‘n grondbeginsel onder die Jode dat versuim om goed te doen indien die geleentheid hom voordoen, net so goed was as om kwaad te doen; dat om te versuim om ‘n lewe te red, was dieselfde as om ‘n lewe te neem. So het Jesus die rabbi’s op hul eie terrein ontmoet. “Maar hulle het stilgebly. En nadat Hy hulle rondom met toorn aangekyk het, en tegelykertyd bedroef was oor die hardheid van hul hart, sê Hy vir die man: ‘Steek jou hand uit!’ En hy het dit uitgesteek, en sy hand is herstel, gesond soos die ander een.” (Markus 3:4,5) DKvDE 293.1

Toe Hy gevra het: “Is dit geoorloof om op die Sabbat gesond te maak?” het Jesus geantwoord: “Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het en as dit op die Sabbat in ‘n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie? Hoeveel meer is ‘n mens dan nie werd as ‘n skaap nie? So is dit dan geoorloof om op die Sabbat goed te doen.” (Mattheus 12:10-12). DKvDE 293.2

Die spioene het dit nie gewaag om Christus in die teenwoordigheid van die skare te antwoord nie, uit vrees dat hulle hulself in moeilike omstandighede sou bevind. Hulle het geweet dat Hy die waarheid gepraat het. Hulle sou eerder ‘n mens laat ly, as om hul tradisies te skend, terwyl hulle ‘n dier sou red om verlies, as gevolg van verwaarlosing deur die eienaar, te voorkom. Daar was dus groter sorg betoon vir ‘n stomme dier as vir ‘n mens wat na die beeld van God gemaak is. Dit illustreer die werkinge van alle valse godsdienste. Dit spruit uit die mens se begeerte om homself bo God te verhef, maar het tot gevolg om die mens laer as ‘n dier te degradeer. Elke godsdiens wat teen die soewereiniteit van God veg, beroof die mens van die heerlikheid wat hy met die skepping ontvang het en wat in Hom, deur Christus, herstel moet word. Elke valse godsdiens leer sy aanhangers om onverskillig ten opsigte van menslike behoeftes, lyding en regte te wees. Die evangelie plaas ‘n hoë waarde op die mensdom, as duur gekoop met die bloed van Christus en dit leer ‘n tere respek vir die behoeftes en wee van die mens. Die Here sê: “Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir.” (Jesaja 13:12) DKvDE 293.3

Toe Jesus Hom na die Fariseërs wend met die vraag of dit op die Sabbat geoorloof was om goed te doen of kwaad, om lewe te red of om dood te maak, het Hy hulle met hul eie goddelose voornemens gekonfronteer. Hulle het Sy lewe met ‘n bittere haat agtervolg, terwyl Hy die lewe van menige gered het en aan hulle geluk besorg het. Was dit beter om, soos hulle van plan was om te doen, op die Sabbat dood te maak, of om die geteisterdes te genees, soos Hy gedoen het? Was dit regverdiger om op God se heilige dag moord in die hart, of liefde in die hart, wat uiting in dade van barmhartigheid vind, vir alle mense te koester? DKvDE 294.1

In die genesing van die verdorde hand, het Jesus die gebruik van die Jode veroordeel en die vierde gebod gelaat soos God dit gegee het. “So is dit dan op die Sabbat geoorloof om goed te doen...” het Hy gesê. Deur die sinlose beperkings van die Jode weg te vee, het Christus die Sabbat eerbiedig, terwyl sy aanklaers God se heilige dag oneer aangedoen het. DKvDE 294.2

Diegene wat van mening is dat Christus die wet afgeskaf het, leer dat Hy die Sabbatsgebod verbreek het en Sy dissipels geregverdig het om dieselfde te doen. Hulle neem dus dieselfde stelling in as die vitterige Jode. Hierin weerspreek hulle die getuienis van Christus self, wat verklaar het: “...net soos Ek die gebooie van My Vader bewaar en in Sy liefde bly.” (Johannes 15:10). Nie die Verlosser of Sy volgelinge, het die wet van die Sabbat verbreek nie. Christus was ‘n lewende Verteenwoordiger van die wet. Geen skending van Sy heilige voorskrifte is in Sy lewe opgemerk nie. Deur na ‘n nasie van getuies, wat na ‘n geleentheid gesoek het om Hom te veroordeel te kyk, kon Hy onbetwisbaar sê: “Wie van julle oortuig My van sonde?” (Johannes 8:46) DKvDE 294.3

Die Heiland het nie gekom om dit wat die patriarge en profete gesê het tersyde te stel nie; want Hy het self deur hierdie verteenwoordigende manne gepraat. Al die waarhede van God se Woord het van Hom gekom. Maar hierdie kosbare edelgesteentes is in valsheid gemonteer. Hul kosbare lig is aangewend om dwaling te dien. God wou dat hulle uit hul foutiewe montering verwyder word en in die raamwerk van die waarheid vervang moes word. Hierdie werk kon slegs deur ‘n Goddelike hand verrig word. Deur die verbintenis met dwaling, het die waarheid die saak van die vyand van God en die mens gedien. Christus het gekom om dit te plaas waar dit God sou verheerlik en die redding van die mensdom sou bewerkstellig. DKvDE 295.1

“Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Sabbat nie...” het Jesus gesê. Die insettinge van God is tot voordeel van die mensdom. “Dit is alles om julle ontwil.” (2 Korinthiërs 4:15). “Of dit Paulus is of Apollos of Cefas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” (1 Korinthiërs 3:22,23). God het die tien gebooie, waarvan die Sabbat deel uitmaak, tot ‘n seën aan Sy volk gegee. “Die Here het ons beveel...” het Moses gesê, “...om al hierdie insettinge te volbring, om die Here onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is.” (Deuteronomium 6:24). En deur die psalmdigter is die volgende boodskap aan Israel gegee: “Dien die Here met blydskap; kom voor Sy aangesig met gejubel. Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak, en ons is Syne, Sy volk en die skape van Sy weide.” (Psalm 100:2,3). En van almal “...wat die Sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie...” sê die Here: “Hulle sal Ek bring na My heilige berg en Ek sal hulle vreugde laat smaak in My huis van gebed.” (Jesaja 56:6,7). DKvDE 295.2

“Daarom is die Seun van die mens Here ook van die Sabbat.” Hierdie woorde is vol lering en vertroosting. Omdat die Sabbat vir die mens gemaak is, is dit die dag van die Here. Dit behoort aan Christus. Want “...alle dinge het deur Hom ontstaan en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” (Johannes 1:3). Aangesien Hy alle dinge gemaak het, het Hy die Sabbat gemaak. Dit is deur Hom as ‘n gedenkdag van die skeppingswerk afgesonder. Dit wys op Hom as die Skepper, sowel as Heiligmaker. Dit verklaar dat Hy wat alle dinge in die hemel en op die aarde geskape het en deur Wie alle dinge in stand gehou word, die Hoof van die kerk is en dat ons deur Sy krag met God versoen word. Want aangaande Israel het Hy gesê: “Daarby het Ek ook my Sabbatte aan hulle gegee om ‘n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die Here, is wat hulle heilig.” (Esegiël 20:12). Die Sabbat is dus ‘n teken van Christus se mag om ons heilig te maak. En dit word aan almal wat deur Christus geheilig word, geskenk. As ‘n teken van sy heiligmakende krag, word die Sabbat aan almal gegee wat deur Christus deel van die Israel van God word. DKvDE 296.1

En die Here sê: “As jy jou voet terughou van die Sabbat-om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die Sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die Here hooghou ... dan sal jy jou verlustig in die Here.” (Jesaja 58:13,14). Vir almal wat die Sabbat as ‘n teken van Christus se skeppende en verlossende krag aanneem, sal dit ‘n verlustiging wees. Deur Christus daarin te sien, sal hulle hul in Hom verlustig. Die Sabbat vestig hul aandag op die skeppingswerk as bewys van Sy mag om te verlos. Terwyl dit die verlore vrede van Eden in herinnering roep, verkondig dit die vrede wat deur die Heiland herstel is. En elke voorwerp in die natuur herhaal Sy uitnodiging: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Mattheus 11:28). DKvDE 296.2