Die Koning van die Eeue

29/88

Hoofstuk 28—Levi-Mattheus *

Van al die Romeinse amptenare in Palestina was niemand meer gehaat as die tollenaars nie. Die feit dat belasting deur ‘n vreemde mag opgelê is, was vir die Jode ‘n voortdurende irritasie, omdat dit hulle knaend daaraan herinner het dat hulle hul onafhanklikheid verloor het. En die tollenaars was nie slegs instrumente van die Romeinse onderdrukking nie; hulle was afpersers vir hul eie rekening en het hulself ten koste van die volk verryk. ‘n Jood wat hierdie amp uit die hand van die Romeine aanvaar het, is as ‘n verraaier van sy eie volk beskou. Hy is as ‘n afvallige verag en onder die laagste van die samelewing geklassifiseer. DKvDE 275.1

Levi-Mattheus het tot hierdie klas behoort wat, ná die vier dissipels te Gennésaret, die volgende was om tot die diens van Christus geroep te word. Die Fariseërs het Mattheus volgens sy beroep beoordeel, maar Jesus het in hierdie man ‘n hart gesien wat oop was om die waarheid te ontvang. Mattheus het na die Heiland se leer geluister. Namate die oortuigende Gees van God sy sondigheid openbaar het, het hy verlang om na die hulp van Christus te soek; maar hy was gewoond aan die eksklusiwiteit van die rabbi’s en het nie gedink dat hierdie Groot Leraar hom sou raaksien nie. DKvDE 275.2

Terwyl die tollenaar eendag by sy tolhokkie gesit het, het hy Jesus sien naderkom. Groot was sy verbasing om die woorde te hoor wat tot homself gerig is: “Volg My.” DKvDE 275.3

Mattheus “...het alles verlaat en opgestaan en Hom gevolg.” Daar was geen huiwering nie, geen twyfel nie, geen gedagte aan die winsgewende besigheid wat vir armoede en swaarkry verruil moes word nie. Dit was vir hom genoeg om by Jesus te wees, sodat hy na Sy woorde kon luister en met Hom in Sy werk kon verenig. DKvDE 275.4

So was dit ook met die dissipels wat voorheen geroep is. Toe Jesus vir Petrus en sy metgeselle beveel het om Hom te volg, het hulle dadelik hul bote en nette gelos. Sommige van hierdie dissipels het vriende gehad wat afhanklik van hulle vir hul ondersteuning was; maar toe hulle die uitnodiging van die Heiland ontvang, het hulle nie gehuiwer en gevra, hoe sal ek lewe en my gesin onderhou nie. Hulle was gehoorsaam aan die oproep; en toe Jesus daarna vir hulle vra: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en reissak en skoene, het julle iets kortgekom?” kon hulle antwoord: “Niks nie.” (Lukas 22:35). DKvDE 276.1

Aan Mattheus in sy rykdom en aan Andreas en Petrus in hul armoede, is dieselfde toets opgelê; dieselfde toewyding is deur elkeen aan die dag gelê. In die oomblik van sukses, toe hulle nette vol vis was en die neiging na die ou lewe op sy sterkste was, het Jesus die dissipels by die see gevra om alles ter wille van die werk van die evangelie te laat vaar. Aldus word elke siel getoets om vas te stel wat weeg die swaarste: Die begeerte na tydelike dinge; of die begeerte na gemeenskap met Christus. DKvDE 276.2

Die beginsel is altyd veeleisend. Geen mens kan in die diens van God slaag, tensy sy hele hart in die werk is en alles as nietig beskou word vir die uitnemendheid van die kennis van Christus nie. Niemand wat enigiets terughou, kan ‘n dissipel van Christus en nog minder Sy medewerker wees nie. Wanneer die mense die groot verlossing waardeer, sal die selfopoffering wat in Christus se lewe gesien word, ook in hulle lewe gesien word. Hulle sal met blymoedigheid volg waarheen Hy ook al lei. DKvDE 276.3

Die roeping van Mattheus as een van Christus se dissipels, het groot verontwaardiging uitgelok. Vir ‘n godsdienstige leraar om ‘n tollenaar as een van sy onmiddellike dienaars te kies, was ‘n oortreding teen die godsdienstige, sosiale en nasionale gebruike. Deur hulle op die vooroordeel van die volk te beroep, het die Fariseërs gehoop om die heersende stroom van gewilde gevoelens teen Jesus te draai. DKvDE 276.4

Onder die tollenaars is groot belangstelling gewek. Hulle harte was aangetrokke tot die Goddelike Leraar. In die vreugde van sy nuwe dissipelskap het Mattheus daarna verlang om sy voormalige medewerkers na Jesus bring. Daarom het hy ‘n maaltyd in sy eie huis aangebied en sy familielede en vriende byeengebring. Nie net tollenaars nie, maar ook baie ander van twyfelagtige aansien, wat deur hul meer nougesette bure misken was, was daarby ingesluit. DKvDE 277.1

Die onthaal is ter ere van Jesus aangebied en Hy het nie geaarsel om hierdie hoflikheid te aanvaar nie. Hy het goed geweet dat dit die party van die Fariseërs aanstoot sou gee en Hom ook in die oë van die volk in ‘n slegte lig sou stel. Maar geen kwessie van beleid kon Sy optrede beïnvloed nie. Uiterlike onderskeid het by Hom geen gewig gedra nie. Dit wat Sy hart aangespreek het, was ‘n siel wat na die water van die lewe dors. DKvDE 277.2

Jesus het as geëerde gas by die tafel van die tollenaars aangesit en deur Sy simpatie en sosiale vriendelikheid, getoon dat Hy die waardigheid van die mens erken; en mense wou graag Sy vertroue waardig wees. Sy woorde het met geseënde, lewegewende krag op hul dorstige harte geval. Nuwe neigings is ontketen en die moontlikheid van ‘n nuwe lewe is vir hierdie uitgeworpenes van die samelewing geopen. DKvDE 277.3

By sulke byeenkomste soos hierdie, het baie, wat Hom nie tot ná Sy Hemelvaart erken het nie, onder die indruk van die Heiland se leringe gekom. Toe die Heilige Gees uitgestort is en drie-duisend op een dag tot bekering gekom het, was daar baie onder hulle wat die waarheid die eerste keer aan die tafel van die tollenaars gehoor het en sommige van hulle het boodskappers vir die evangelie geword. Vir Mattheus self was die voorbeeld van Jesus tydens dié feesmaal ‘n voortdurende les. Die veragte tollenaar het een van die mees toegewyde evangeliste geword en in sy eie bediening kort in sy Meester se voetstappe gevolg. DKvDE 277.4

Toe die rabbi’s van die teenwoordigheid van Jesus tydens die feesmaal van Mattheus verneem het, het hulle die geleentheid aangegryp om Hom te beskuldig. Maar hulle het verkies om deur die dissipels te werk. Deur hul vooroordele aan te wakker, het hulle gehoop om hulle van hul Meester te vervreem. Dit was hulle beleid om Christus by die dissipels aan te kla en die dissipels by Christus en hul pyle te rig waar dit die beste sou tref. Dit is die wyse waarop Satan sedert die onmin in die hemel, te werk gaan; almal wat poog om onenigheid en vervreemding te veroorsaak, word deur sy gees aangehits. DKvDE 278.1

“Waarom eet julle Meester saam met tollenaars en sondaars?” het die afgunstige rabbi’s gevra. DKvDE 278.2

Jesus het nie op Sy dissipels gewag om die aanklag te beantwoord nie, maar het self geantwoord: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Maar gaan leer wat dit beteken: ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie; want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.’” Die Fariseërs het beweer dat hulle geestelik heel is en daarom geen geneesheer nodig gehad het nie, terwyl hulle die tollenaars en heidene as verlore beskou het as gevolg van siekte van die siel. Was dit dan nie Sy taak as geneesheer om juis na dié klas te gaan wat Sy hulp nodig het nie? DKvDE 278.3

Maar hoewel die Fariseërs hulself so hoog geag het, was hulle in werklikheid in ‘n slegter toestand as diegene wat hulle geminag het. Die tollenaars was minder bevooroordeeld en selfvoldaan en was dus meer oop vir die invloed van die waarheid. Jesus het vir die rabbi’s gesê: “Gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie.” So het Hy getoon dat hoewel hulle beweer het dat hulle die Woord van God vertolk, hulle totaal onkundig oor die gees daarvan was. DKvDE 278.4

Die Fariseërs is tydelik die swye opgelê, maar het meer vasberade in hul vyandskap geraak. Vervolgens het hulle die dissipels van Johannes die Doper opgesoek om hulle teen die Verlosser te draai. Die Fariseërs het nie die sending van die Doper aanvaar nie. Hulle het met minagting na sy lewe van onthouding, sy eenvoudige leefwyse, sy growwe klere verwys en hom as ‘n fanatikus verklaar. Omdat hy hulle skynheiligheid aan die kaak gestel het, het hulle sy woorde verwerp en gepoog om die mense teen hom op te stook. Die Gees van God het die harte van hierdie spotters geroer en hulle van sonde oortuig; maar hulle het die raad van God verwerp en verklaar dat Johannes van die duiwel besete was. DKvDE 279.1

Toe Jesus gekom het en met die mense gemeng en aan hul tafels geëet en gedrink het, het hulle hom beskuldig dat Hy ‘n wyndrinker en ‘n vraat is. Diegene wat hierdie aanklag gemaak het, was self skuldig. Soos God verkeerd voorgestel word en deur Satan met sy eie eienskappe beklee word, was die boodskappers van die Here deur hierdie bose mense vals beskuldig. DKvDE 279.2

Die Fariseërs wou nie aanvaar dat Jesus saam met tollenaars en sondaars geëet het om die lig van die hemel na diegene wat in die duisternis was, te bring nie. Hulle wou nie insien dat elke woord wat deur die Goddelike Leraar geuiter was, lewende saad was wat sou ontkiem en vrugte dra tot eer van God nie. Hulle het besluit om die lig te verwerp; en hoewel hulle die sending van die Doper teëgestaan het, was hulle nou bereid om ‘n vriendskap met sy dissipels aan te gaan, in die hoop om hul samewerking teen Jesus te verkry. Hulle het voorgestel dat Jesus die ou tradisies as nietig afmaak; en hulle het die strawwe vroomheid van die Doper gekontrasteer met die optrede van Jesus, wat saam met tollenaars en sondaars eet. DKvDE 279.3

Die dissipels van Johannes het op hierdie stadium in groot droefheid verkeer. Dit was voor hulle besoek aan Jesus met Johannes se boodskap. Hul geliefde leraar was in die gevangenis en hulle het hulle dae in rou deurgebring. En Jesus het geen poging aangewend om Johannes te bevry nie en dit het selfs geblyk asof Hy sy lering minag. As Johannes deur God gestuur was, waarom het Jesus en Sy dissipels dan so ‘n wyd-uiteenlopende koers gevolg? DKvDE 279.4

Die dissipels van Johannes het nie ‘n duidelike begrip van Christus se werk gehad nie; hulle was van mening dat daar moontlik gronde vir die aanklagte van die Fariseërs kon wees. Hulle het baie van die reëls wat deur die rabbi’s voorgeskryf is nagekom en selfs gehoop om deur die werke van die wet geregverdig te word. Om te vas is deur die Jode as verdienstelikheid beoefen en die mees rigiede onder hulle het elke week vir twee dae gevas. Die Fariseërs en Johannes se dissipels het gevas toe laasgenoemde by Jesus gekom het met die vraag: “Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas nie?” DKvDE 280.1

Jesus het hulle met teerheid geantwoord. Hy het nie hul wanopvatting van die vas probeer regstel nie, maar net om Sy eie sending aan hulle te verduidelik. En Hy het dit gedoen deur dieselfde beeld te gebruik as wat die Doper self in sy getuienis van Jesus getuig het. Johannes het gesê: “Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome.” (Johannes 3:29). Johannes se dissipels kon nie anders as om die woorde van hul leraar te onthou nie, toe Jesus dieselfde beeld gebruik en sê: “Kan die bruilofsgaste dan treur so lank as die bruidegom by hulle is?” DKvDE 280.2

Die Vors van die hemel was onder Sy volk. God se grootste gawe is aan die wêreld gegee. Vreugde vir die armes; want Christus het gekom om hulle erfgename van Sy koninkryk te maak. Vreugde vir die rykes; want Hy sou hulle leer hoe om ewige rykdom te verseker. Vreugde vir die onkundiges; Hy sou hulle wys maak tot redding. Vreugde aan die geleerdes; Hy sou dieper geheimenisse aan hulle openbaar as wat hulle ooit deurgrond het; waarhede wat van die grondlegging van die wêreld af verborge was, sou deur die Heiland se sending aan mense geopenbaar word. DKvDE 280.3

Johannes die Doper was verheug om die Verlosser te sien. Wat ‘n geleentheid vir vreugde het die dissipels gehad, wat bevoorreg was om met die Majesteit van die hemel te wandel en te praat! Dit was nie ‘n tyd vir hulle om te treur en te vas nie. Hulle moes hul harte oopmaak om die lig van Sy heerlikheid te ontvang, sodat hulle lig op diegene wat in duisternis en in die skadu van die dood sit, kon werp. DKvDE 281.1

Die woorde van Christus het ‘n helder beeld opgeroep, maar ‘n skaduwee wat Sy oog alleen kon onderskei het daaroor gelê. “Maar daar sal dae kom...” het Hy gesê, “...wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.” Wanneer hulle sou aanskou dat hul Here verraai en gekruisig word, sou die dissipels treur en vas. In sy laaste woorde aan hulle in die bovertrek het Hy gesê: “‘n Klein tydjie en julle sal My nie sien nie; en weer ‘n klein tydjie en julle sal My sien. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle sal ween en rou bedryf, maar die wêreld sal bly wees. En julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander.” (Johannes 16:19,20). DKvDE 281.2

Wanneer Hy uit die graf sou voortkom, sou hul droefheid in vreugde verander. Ná Sy Hemelvaart, sou Hy persoonlik afwesig wees; maar deur die Trooster sou Hy nog steeds met hulle wees en hulle moes nie hul tyd in rou deurbring nie. Dit was wat Satan wou hê. Hy wou hê dat hulle die wêreld onder die indruk moes bring dat hulle mislei en teleurgestel was; maar in geloof moes hulle na die hemelse heiligdom kyk, waar Jesus vir hulle sou intree. Hulle moes hul harte vir die Heilige Gees, Sy Verteenwoordiger, oopstel en hulle in die lig van Sy teenwoordigheid verheug. Tog sou daar dae van versoeking en beproewing kom, wanneer hulle in konflik met die heersers van hierdie wêreld en die leiers van die koninkryk van die duisternis sou kom; dit sou meer gepas wees om te vas wanneer Christus nie persoonlik by hulle sou wees nie en hulle nie daarin sou slaag om die Trooster te onderskei nie. DKvDE 281.3

Die Fariseërs het gepoog om hulself te verhef deur hul streng formalisme, terwyl hul harte met afguns en twisgierigheid gevul was. “Kyk...” sê die Skrif, “...om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie. Is dit die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos ‘n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en ‘n dag wat die Here welgevallig is?” (Jesaja 58:4,5) DKvDE 282.1

Die ware vas is nie bloot ‘n formele diens nie. Die Skrif beskryf die vas wat God verkies het, soos volg: “Dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek;” (Jesaja 58:6) “...en jou siel laat uitgaan na die hongerige en die neergeboë siel versadig.” (Jesaja 58:10). Hier word die gees en karakter van die werk van Christus uiteengesit. Sy hele lewe was selfopoffering vir die redding van die wêreld. Of hy nou in die woestyn van versoeking gevas het, of saam met die tollenaars by Mattheus se fees aangesit het, Hy het sy lewe vir die verlossing van die verlorenes gegee. Die ware gees van toewyding word nie in nuttelose rou of blote liggaamlike vernedering en veelvuldige offers geopenbaar nie, maar dit word in die oorgawe van self in gewillige diens aan God en die mens geopenbaar. DKvDE 282.2

Jesus het voortgegaan in Sy antwoord aan die dissipels van Johannes met ‘n gelykenis en gesê: “Niemand sit ‘n lap van ‘n nuwe kleed op ‘n ou kleed nie; anders skeur dit die nuwe ook, en die lap wat van die nuwe afkom, pas nie by die oue nie.” Die boodskap van Johannes die Doper moes nie met tradisie en bygeloof verweef word nie. ‘n Poging om die huigelary van die Fariseërs met die toewyding van Johannes te meng, sou die gaping tussen hulle net meer opsigtelik maak. DKvDE 282.3

Die beginsels van die leer van Christus kon ook nie met die vorms van Fariseïsme verenig word nie. Christus sou nie die breuk wat deur die lering van Johannes gemaak is toemaak nie. Hy sou die skeiding tussen oud en nuut duideliker maak. Jesus het hierdie feit verder toegelig deur te sê: “Niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke skeur en dit sal uitloop en die sakke sal vergaan.” Die leersakke wat as houers vir die nuwe wyn gebruik is, het na ‘n tyd droog en bros geword en was dan waardeloos vir hierdie doel. Met hierdie bekende beeld het Jesus die toestand van die Joodse leiers voorgestel. Priesters en skrifgeleerdes en owerstes was in ‘n groef van seremonies en oorlewerings vasgevang. Hulle harte het saamgetrek, soos die verdroogde wynsakke waarmee Hy hulle vergelyk het. Terwyl hulle met hul wettiese godsdiens tevrede was, was dit vir hulle onmoontlik om bewaarders vir die lewende waarheid van die hemel te word. Hulle het hul eie geregtigheid voldoende geag en wou nie hê dat ‘n nuwe element in hul godsdiens ingebring moes word nie. Die goedheid van God teenoor die mens het hulle nie as iets buite hulself aanvaar nie. Hulle het dit met hul eie verdienste weens hul goeie werke verbind. Die geloof wat deur liefde werk en die siel reinig, kon geen plek vir vereniging met die godsdiens van die Fariseërs vind nie, wat uit seremonies en die gebooie van mense bestaan het. ‘n Poging om die leer van Jesus met die gevestigde godsdiens te verenig, sou tevergeefs wees. Die lewensbelangrike waarheid van God sou, soos gissende wyn, die ou, vervalle leersakke van die Farisese tradisie laat bars. DKvDE 283.1

Die Fariseërs het hulself as te wys vir onderrig geag, te regverdig om verlossing te benodig, te hoog geëerd om die eer wat van Christus kom nodig te hê. Die Heiland het Hom van hulle afgewend na ander wat die hemelse boodskap sou aanneem. In die onopgeleide visserman, in die tollenaar op die markplein, in die Samaritaanse vrou, in die gewone mense wat graag na Hom geluister het, het Hy nuwe houers vir die nuwe wyn gevind. Die werktuie wat benodig word in die werk van evangelisasie, is daardie siele wat die lig wat God aan hulle stuur, aanneem. Hulle is Sy werktuie om die kennis van die waarheid aan die wêreld oor te dra. As Sy volk, deur die genade van Christus nuwe leersakke word, sal Hy dit met nuwe wyn vul. DKvDE 283.2

Die leer van Christus, alhoewel dit deur nuwe wyn voorgestel word, was nie ‘n nuwe leer nie, maar ‘n openbaring van dit wat van die begin af geleer is. Maar vir die Fariseërs het die waarheid van God sy oorspronklike betekenis en skoonheid verloor. Vir hulle was die leer van Christus in byna elke opsig nuut, onherkenbaar en nie erken nie. DKvDE 284.1

Jesus het die mag van valse lering, om waardering van en die begeerte na waarheid te vernietig, uitgewys. “Niemand wat ou wyn gedrink het...” het Hy gesê, “...wil dadelik nuwe hê nie; want hy sê: Die oue is beter.” Al die waarhede wat deur die patriarge en profete aan die wêreld gegee is, het in die woorde van Christus met nuwe skoonheid uitgestraal. Maar die skrifgeleerdes en Fariseërs wou nie die kosbare nuwe wyn hê nie. Totdat hulle van die ou tradisies, gewoontes en gebruike geledig was, het hulle geen plek in gedagte of hart vir die leerstellings van Christus gehad nie. Hulle het aan die dooie vorms vasgekleef en van die lewende waarheid en die krag van God weggedraai. DKvDE 284.2

Dit was die oorsaak van die Jode se ondergang en sal die oorsaak van die ondergang van baie siele in ons tyd wees. Duisende begaan dieselfde fout as die Fariseërs wat tydens Mattheus se fees deur Christus bestraf is. Baie sal eerder die waarheid wat van die Vader van lig kom, verwerp as om van ‘n gekoesterde idee of ‘n sienswyse wat verafgod word, af te sien. Hulle vertrou op hulleself en maak op hul eie wysheid staat en besef nie hul geestelike armoede nie. Hulle dring daarop aan om op ‘n wyse gered te word waarin hulle ‘n belangrike rol kan speel. As hulle sien dat hulle nie die eie-ek in hul werk kan laat geld nie, verwerp hulle die verlossing wat voorsien word. DKvDE 284.3

'n Wettiese godsdiens kan siele nooit na Christus lei nie; want dit is ‘n liefdelose godsdiens sonder Christus. Vas en gebed wat deur ‘n gees van selfregverdiging aangedryf word, is ‘n gruwel in die oë van God. Die plegtige samekoms vir aanbidding, die godsdienstige seremonies, die uiterlike verootmoediging, die indrukwekkende offergawe, verkondig dat die een wat hierdie dinge doen, homself as regverdig ag en op die hemel geregtig is; maar dit alles is ‘n misleiding. Ons eie werke kan nooit verlossing verdien nie. DKvDE 285.1

Soos in die dae van Christus, so is dit nou; die Fariseërs besef nie hul geestelike verlatenheid nie. Vir hulle is die boodskap: “Want jy sê: ‘Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie;’ en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie.” (Openbaring 3:17,18). Geloof en liefde is die goud wat in die vuur gelouter is. Maar by baie het die goud verdof en die ryk skat het verlore gegaan. Die geregtigheid van Christus is vir hulle soos ‘n kleed wat nie gedra word nie, ‘n fontein waaruit nie geput word nie. Aan hulle is die vermaning: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.” (Openbaring 2:4,5). DKvDE 285.2

“Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:19). Die mens moet van self geledig word voordat hy in die volle sin ‘n gelowige in Jesus kan wees. Wanneer self verloën word, kan die Here van die mens ‘n nuwe skepsel maak. Nuwe sakke kan die nuwe wyn bevat. Die liefde van Christus sal die gelowige met nuwe lewe besiel. Die karakter van Christus sal in hom, wat na die Outeur en Voleinder van ons geloof opsien, sigbaar wees. DKvDE 285.3