Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 27—“U Kan My Reinig” *
Van al die siektes wat in die Ooste bekend was, was melaatsheid die mees gevreesde. Die ongeneeslike en hoogs aansteeklike karakter en die afskuwelike uitwerking daarvan op die slagoffers, het die dapperste met vrees vervul. Onder die Jode was dit as ‘n oordeel as gevolg van sonde beskou en is daarna verwys as “...die plaag... ” “...die vinger van God...”. Diepgewortel, onuitwisbaar, dodelik, was dit as ‘n simbool van sonde beskou. Volgens die rituele-wet was die melaatse as onrein verklaar. Soos een wat reeds dood was, was hy uit die samelewing verban. Alles wat hy aangeraak het, was onrein. Die lug was deur sy asem besoedel. Iemand wat daarvan verdink was dat hy hierdie siekte onder lede gehad het, moes hom voor die priesters vertoon het, wat sy saak sou ondersoek en ‘n oordeel vel. Indien hy as melaats verklaar was, is hy van sy gesin afgesonder en uit die samelewing van Israel verban, gedoem tot gemeenskap met diegene wat net soos hy geteister was. Die wet was onbuigsaam in sy vereiste. Selfs konings en heersers was nie vrygestel nie. ‘n Monarg wat hierdie verskriklike siekte opgedoen het, moes die septer afstaan en uit die samelewing vlug. DKvDE 262.1
Weg van sy vriende en familie, moes die melaatse die vloek van sy kwaal dra. Hy was verplig om sy eie ellende uit te roep, sy klere te skeur en alarm te maak en almal te waarsku om van sy besoedelende teenwoordigheid weg te vlug. Die uitroep: “Onrein! onrein!” in ‘n droewige toon van die eensame banneling, was ‘n sein wat met vrees en afsku aangehoor is. DKvDE 262.2
In die omgewing van Christus se bediening, was daar baie van hierdie lyers en die tyding van Sy werk het hulle bereik en 'n flikkering van hoop by hulle ontketen. Maar sedert die dae van die profeet Elisa was die reiniging van iemand met hierdie siekte onbekend. Hulle het nie durf waag om van Jesus te verwag om vir hulle te doen wat Hy nog nooit vir iemand gedoen het nie. Daar was egter een in wie se hart geloof begin opwel het. Maar, die man het nie geweet hoe om hoe om Jesus te bereik nie. Verban, soos hy was uit die gemeenskap, hoe sou hy homself onder die Meester se aandag bring? En hy het bevraagteken of Christus hom sou kon genees. Sou Hy Hom neerbuig na iemand wat oënskynlik onder die oordeel van God ly? Sou Hy nie, soos die Fariseërs en selfs die geneeshere, ‘n vloek oor hom uitspreek en hom waarsku om uit die teenwoordigheid van mense te vlug nie? Hy het aan alles wat aan hom van Jesus vertel is gedink. Nie een wat Sy hulp gevra het is van die hand gewys nie. Die ellendige man was vasbeslote om die Heiland te vind. Hoewel hy uit die stede verban was, mag dit dalk gebeur dat hy op een of ander bergpad paaie met Hom sou kruis, of Hom dalk vind terwyl Hy buite die stede onderrig het. Dit was ‘n groot probleem, maar dit was sy enigste hoop. DKvDE 262.3
Die melaatse is na die Verlosser gelei. Jesus het langs die meer onderrig gegee en die mense het om Hom geskaar. Die melaatse, wat op ‘n afstand gestaan het, het ‘n paar woorde uit die Redder se lippe gehoor. Hy het gesien hoe Hy Sy hande op die siekes lê. Hy het gesien hoe kreupeles, blindes, verlamdes en sterwendes van verskillende siektes, in gesondheid opstaan en God loof vir hul verlossing. Geloof het sy hart versterk. Hy het nader en nader aan die skare wat bymekaargekom het beweeg. Die beperkings wat hom opgelê is, die veiligheid van die volk en die vrees waarmee almal hom bejeën het, was vergete. Hy het net aan die geseënde hoop van genesing gedink. DKvDE 263.1
Hy was ‘n afskuwelike skouspel. Die siekte het vreesaanjaend toegeneem en sy vervalle liggaam was aaklig om te aanskou. Toe die oog van die skare op hom val, het hulle verskrik teruggedeins. Hulle het mekaar verdring in hul gretigheid om kontak met hom te vermy. Sommige het probeer verhoed dat hy Jesus nader, maar tevergeefs. Hy het hulle nie gesien of gehoor nie. Hulle uitroepe van afkeer was vir hom verlore. Hy het net die Seun van God gesien. Hy het net die Stem wat lewe aan die sterwendes gee, gehoor. Hy het tot by Jesus deurgedruk en homself aan Sy voete gewerp met die uitroep: “Here, as U wil, kan U my reinig.” DKvDE 263.2
“Daarop steek Jesus die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil; word gereinig!” (Mattheus 8:3). DKvDE 264.1
Onmiddellik het daar ‘n verandering oor die melaatse gekom. Sy vlees het gesond geword, die senuwees het sensitief geword en die spiere was ferm. Die ruwe, skubberige oppervlak van die vel wat eie aan melaatsheid was, het verdwyn en ‘n sagte gloed, soos die vel van ‘n gesonde kind, het dit vervang. DKvDE 264.2
Jesus het die man beveel om nie die wonderwerk wat verrig was bekend te maak nie, maar om dadelik ‘n offer na die tempel te bring. So ‘n offer kon nie aanvaar word voordat die priesters hom ondersoek het en die man heeltemal vry van die siekte verklaar het nie. Hoe onwillig hulle ook al was om hierdie diens te verrig, kon hulle nie die ondersoek en beslissing van die saak ontduik nie. DKvDE 264.3
Die woorde van die Skrif toon duidelik met watter dringendheid Christus die man tot stilswye en vinnige optrede gemaan het. “En nadat Hy hom ernstig aangespreek het stuur Hy hom dadelik weg en sê vir hom: Pas op dat jy aan niemand iets vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging wat Moses voorgeskryf het, tot ‘n getuienis vir hulle.” (Markus 1:43,44). Indien die priesters die feite aangaande die genesing van die melaatse sou ken, sou hulle haat vir Jesus daartoe aanleiding gegee het dat hulle ‘n oneerlike uitspraak sou lewer. Jesus wou dat die man hom aan die priesters moes toon voordat enige gerugte aangaande die wonderwerk hulle ore kon bereik. Sodoende sou ‘n onpartydige beslissing verkry word en die geneesde melaatse weer toegelaat word om met sy familie en vriende te verenig. DKvDE 264.4
Daar was ook ander doelwitte wat Christus voor oë gehad het deur die man die swye op te lê. Die Verlosser het geweet dat Sy vyande steeds gepoog het om Sy werk aan bande te lê en om die mense van Hom weg te keer. Hy het geweet dat indien die genesing van die melaatse verder bekend gemaak sou word, ander lyers aan hierdie verskriklike siekte om Hom sou saamdrom en dan sou daar beweer word dat die mense deur kontak met hulle besmet sou word. Baie van die melaatses sou die gawe van gesondheid nie tot seën vir hulself en vir ander aanwend nie. En deur die melaatses na Hom te trek, sou Hy aanleiding gee tot die beskuldiging dat Hy die beperkings van die rituele wet verbreek. Sodoende sou Sy werk om die evangelie te verkondig bemoeilik word. DKvDE 265.1
Die gebeurtenis het Christus se waarskuwing geregverdig. ‘n Menigte mense het die genesing van die melaatse aanskou en hulle was gretig om die priesters se besluit hieroor te wete te kom. Toe die man na sy vriende terugkeer, was daar groot opgewondenheid. Ondanks Jesus se waarskuwing, het die man geen verdere poging aangewend om die feit van sy genesing te verberg nie. Dit sou inderdaad onmoontlik gewees het om dit te verberg, maar die melaatse het dit wyd en syd verkondig. Onder die indruk dat dit slegs deur Jesus se beskeidenheid was wat hierdie beperking hom opgelê is, het hy die mag van hierdie Groot Geneesheer verkondig. Hy het nie besef dat al hierdie manifestasies die priesters en ouderlinge meer vasbeslote gemaak het om Jesus te vernietig nie. Die geneesde man het gevoel dat die seën van sy gesondheid baie kosbaar was. Hy het hom in sy nuwe lewenskragtigheid en manlikheid en sy hereniging met sy gesin verheug en dit was vir hom onmoontlik om homself daarvan te weerhou om eer aan Hom te gee wat hom genees het. Maar sy optrede om sy herstel oral oor te verkondig het die Verlosser se taak verhinder. Dit het die mense in sulke menigtes na Hom toe laat stroom, dat Hy gedwing was om Sy arbeid ‘n tyd lank te staak. DKvDE 265.2
Elke daad van Christus se bediening het verreikende gevolge gehad. Dit het meer behels as wat uit die daad self geblyk het. So was dit ook in die geval van die melaatse. Hoewel Jesus almal wat na Hom toe gekom het, bedien het, was Sy begeerte om diegene wat nie gekom het nie, te seën. Terwyl Hy die tollenaars, die heidene en Samaritane na Hom getrek het, wou Hy graag die priesters en leraars wat deur vooroordeel en tradisie afgesluit was, bereik. Hy het geen wyse waardeur hulle bereik kon word, onbeproef gelaat nie. Deur die geneesde melaatse na die priesters te stuur, het Hy hulle ‘n getuienis gegee wat bereken was om hulle van hul vooroordele te ontwapen. DKvDE 266.1
Die Fariseërs het beweer dat die lering van Christus in stryd was met die wet wat God deur Moses gegee het; maar Sy opdrag aan die gereinigde melaatse om volgens die wet ‘n offer te bring, het hierdie aanklag weerlê. Dit was voldoende getuienis vir almal wat bereid was om hulle te laat oortuig. DKvDE 266.2
Die leiers in Jerusalem het spioene gestuur om ‘n voorwendsel om Christus dood te maak, te vind. Hy het daarop gereageer deur aan hulle bewys van Sy liefde vir die mensdom te lewer, Sy respek vir die wet en Sy krag om van sonde en dood te verlos. Hy het van hulle getuig: “En hulle het My kwaad vir goed opgelê en haat vir my liefde.” (Psalm 109:5). Hy wat op die berg die gebod gegee het: “Julle moet jul vyande liefhê...” (Mattheus5:44), het self die beginsel uitgeleef om nie “...kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde...” te vergeld nie, maar te seën. DKvDE 266.3
Dieselfde priesters wat die melaatse tot verbanning veroordeel het, het sy genesing bevestig. Hierdie uitspraak wat in die openbaar uitgespreek geregistreer was, was ‘n vaste getuienis vir Christus. En toe die geneesde man weer, met die priesters se eie versekering dat daar geen smet van die siekte op hom was nie, in die gemeente van Israel opgeneem is, was hy self ‘n lewende getuie vir sy Weldoener. Hy het sy offer met blydskap gebring en die Naam van Jesus verhoog. Die priesters was oortuig van die Goddelike krag van die Verlosser. Hulle is geleentheid gebied om die waarheid te ken en deur die lig geseën te word. Indien dit verwerp sou word, sou dit verlore gegaan het, om nooit weer terug te keer nie. Baie het die lig verwerp; tog was dit nie tevergeefs gegee nie. Baie harte is aangeraak, wat vir ‘n tyd geen teken laat blyk het nie. Gedurende die lewe van die Heiland, het dit voorgekom asof Sy sending min reaksie van liefde by die priesters en leraars opgewek het; maar na Sy Hemelvaart het “...'n groot menigte van priesters ... gehoorsaam geword aan die geloof.” (Handelinge 6:7). DKvDE 266.4
Die werk van Christus om die melaatse van sy verskriklike siekte te reinig, is ‘n illustrasie van Sy werk om die siel van sonde te reinig. Die man wat na Jesus gekom het, was “...vol van melaatsheid...” Die dodelike kwaad het sy liggaam deurtrek. Die dissipels het probeer voorkom dat hul Meester aan hom raak; want wie aan ‘n melaatse geraak het, het self onrein geword. Maar Jesus is nie besoedel deur Sy hand op die melaatse te lê nie. Sy aanraking het lewegewende krag verleen. Die melaatsheid is genees. So is dit ook met die melaatsheid van sonde-diepgewortel, dodelik en onmoontlik om deur menslike krag gereinig te word. “Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank. Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe.” (Jesaja 1:5,6). Maar Jesus wat in die mens kom woon, raak nie besoedel nie. Sy teenwoordigheid besit genesende krag vir die sondaar. Elkeen wat aan Sy voete kom neerval en in geloof uitroep: “Here, as U wil kan U my reinig...” sal die antwoord hoor: “Ek wil, word gereinig!” DKvDE 267.1
In sommige gevalle van genesing het Jesus nie dadelik die verlangde seën verleen nie. Maar in die geval van melaatsheid is die versoek skaars geuiter, of dit is toegestaan. Wanneer ons om aardse seëninge vra, kan die antwoord op ons gebed vertraag word, of God kan ons iets anders gee as waarvoor ons gevra het, maar nie wanneer ons om verlossing van sonde bid nie. Dit is Sy wil om ons van sonde te reinig, om ons Sy kinders te maak en ons in staat te stel om ‘n heilige lewe te lei. Christus het “...Homself gegee ... vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader.” (Galasiërs 1:4). “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens Sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.” (1 Johannes 5:14,15). “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:9). DKvDE 268.1
Met die genesing van die verlamde te Kapérnaum het Christus weer dieselfde waarheid tuisgebring. Dit was om Sy mag om sondes te vergewe te openbaar. En die genesing van die verlamde illustreer ook ander kosbare waarhede. Dit is vol hoop en bemoediging en vir die twisgierige Fariseërs, was dit ‘n les van waarskuwing. DKvDE 268.2
Soos die melaatse, het hierdie verlamde alle hoop op herstel verloor. Sy siekte was die gevolg van ‘n lewe van sonde en sy lyding is deur selfverwyt verbitter. Hy het lank tevore ‘n beroep op die Fariseërs en geneeshere gedoen in die hoop op verligting van geestelike lyding en liggaamlike pyn. Maar hulle het hom met kilheid ongeneeslik verklaar en hom aan die toorn van God oorgelaat. Die Fariseërs het beproewing as ‘n bewys van Goddelike misnoeë beskou en het hulself afsydig van siekes en behoeftiges gehou. Maar dit was juis hierdie mense, wat hulself as heilig verhef het, wat skuldiger as die lyers wat hulle veroordeel het, was. DKvDE 268.3
Die verlamde man was totaal hulpeloos en aangesien hy geen vooruitsig op enige hulp gesien het nie, het hy in wanhoop verval. Toe hoor hy van die wonderdade van Jesus. Hy is meegedeel dat ander wat net so sondig en hulpeloos was, genees is; selfs melaatses is gereinig. En die vriende wat hierdie dinge aan hom vertel het, het hom aangemoedig om te glo dat hy ook genees sou word as hy na Jesus gedra sou word. Maar sy hoop het verflou toe hy onthou hoe die siekte oor hom gekom het. Hy was bang dat die rein Geneesheer hom nie in Sy teenwoordigheid sou verdra nie. DKvDE 269.1
Tog was dit nie fisiese genesing wat hy so graag begeer het nie, as verligting van die las van sy sonde. As hy Jesus kon sien, die versekering van vergifnis en vrede met die hemel kon ontvang, sou hy volgens God se wil tevrede wees om te lewe of te sterf. Die uitroep van die sterwende man was: Ag, dat ek maar net in Sy teenwoordigheid kan kom! Daar was geen tyd om te verloor nie; sy vlees het reeds tekens van verval getoon. Hy het sy vriende gesmeek om hom op sy bed na Jesus te dra en hulle het dit geredelik gedoen. Maar die skare wat in die huis was waar Jesus was, was so dig saamgedrom, dat dit onmoontlik vir die siek man en sy vriende was om Hom te bereik of om Sy stem te hoor. DKvDE 269.2
Jesus het in die huis van Petrus onderrig. Volgens hulle gebruik het Sy dissipels naby Hom gesit en ook “...Fariseërs en wetgeleerdes wat gekom het uit elke dorp van Galiléa en Judea en uit Jerusalem, het daar gesit.” Laasgenoemde het as spioene gekom om ‘n aanklag teen Jesus te soek. En rondom hierdie amptenare het die losbandiges, die gretiges, die eerbiediges, die nuuskieriges en die ongelowiges saamgedrom. Verskillende nasionaliteite van alle klasse van die samelewing is verteenwoordig. “En daar was krag van die Here om hulle te genees.” Die Gees van die Lewe was in die vergadering teenwoordig, maar die Fariseërs en wetgeleerdes het Sy teenwoordigheid nie gewaar nie. Hulle het geen behoefte ervaar nie en die genesing was nie vir hulle nie. “Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.” (Lukas 1:53). DKvDE 269.3
Die draers van die verlamde het telkens probeer om deur die skare te dring, maar tevergeefs. Die siek man het met onuitspreeklike angs om hom heen gekyk. Hoe kon hy nou hoop opgee, wanneer die hulp so naby is? Op sy versoek het sy vriende hom tot bo-op die huis se dak gelig, dit oopgebreek en hom voor die voete van Jesus laat neersak. Die gesprek is onderbreek. Die Heiland het na die treurige gelaat en in die pleitende oë wat op Hom gerig was gekyk. Hy het die smeking verstaan; Hy het daardie radelose en twyfelende gees na Hom getrek. Toe die verlamde nog tuis was, het die Verlosser sy gewete van sy sondes oortuig. Eers toe hy berou oor sy sondes gehad en in die krag van Jesus om hom gesond te maak geglo het, het die lewegewende barmhartigheid van die Verlosser sy verlangende hart geseën. Jesus het gesien hoe die eerste opflikkering van geloof gegroei het tot ‘n oortuiging dat Hy die sondaar se enigste Helper is en gesien hoe dit sterker groei met elke poging om in Sy teenwoordigheid te kom. DKvDE 270.1
Nou, in woorde wat soos musiek op die oor van die lyer geval het, het die Verlosser gesê: “Seun, hou goeie moed, jou sondes is jou vergewe.” DKvDE 270.2
Die las van wanhoop het uit die siel van die siek man gewyk; die vrede van vergifnis het op sy gees gerus en uit sy gelaat gestraal. Sy fisiese pyn was weg en sy hele wese was getransformeer. Die skuldige sondaar was vergewe! DKvDE 270.3
In eenvoudige geloof het hy die woorde van Jesus as die seën van nuwe lewe aangeneem. Hy het geen verdere versoek gehad nie, maar in salige stilte gelê, te bly vir woorde. Die lig van die hemel het uit sy gelaat gestraal en die mense het die toneel met ontsag aanskou. DKvDE 270.4
Die rabbi’s het gespanne gewag om te sien wat Christus se ingesteldheid in hierdie geval sou wees. Hulle het onthou hoe die man by hulle om hulp gepleit het en dat hulle hom hoop en meegevoel geweier het. En nie tevrede hiermee nie, het hulle ook verklaar dat hy die vloek van God vir sy sondes moes verduur. Al hierdie dinge het by hulle opgekom toe hulle die siek man voor hulle sien. Hulle het die belangstelling waarmee almal die toneel gadegeslaan het gesien en was uiters bevrees om hul eie invloed op die mense te verloor. DKvDE 271.1
Die hooggeplaastes het nie woorde met mekaar gewissel nie, maar het dieselfde gedagtes op mekaar se gesigte gelees-dat iets gedoen moet word om hierdie gety van gevoel te keer. Jesus het verklaar dat die verlamde se sondes hom vergewe is. Die Fariseërs het hierdie woorde as godslasterlik aangegryp en was van mening dat hulle dit, as ‘n sonde wat die dood verdien, sou kon voorhou. Hulle het in hul harte gesê: “Waarom praat hierdie man so godslasterlik? Wie kan sondes vergewe behalwe Een, naamlik God?” DKvDE 271.2
Jesus het Sy blik, wat hulle ineen laat krimp het, op hulle gerig, sodat hulle teruggedeins het en gesê het: “Waarom bedink julle slegte dinge in julle harte? Want wat is makliker, om te sê: Die sondes is jou vergewe! of om te sê: Staan op en loop? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe...” het Hy Hom tot die verlamde man gewend en sê: “Staan op, neem jou bed op, en gaan na jou huis toe.” DKvDE 271.3
Toe het hy wat op ‘n draagbaar na Jesus gebring is, met die buigsaamheid en krag van die jeug opgespring. Die lewensbloed het deur sy are gebruis. Elke orgaan van sy liggaam was skielik aktief. Die blos van gesondheid het die bleekheid van die naderende dood verdring. “En dadelik staan hy op en neem sy bed op en gaan voor die oë van almal uit, sodat almal verbaas was en God verheerlik en sê: So iets het ons nog nooit gesien nie!” DKvDE 271.4
O, die wonderbaarlike liefde van Christus, wat Hom neerbuig om die skuldiges en ellendiges te genees! Goddelikheid wat medelye het en die kwale van die lydende mensdom verlig! O, wonderbare mag wat aldus aan die mensekinders geopenbaar word! Wie kan die boodskap van verlossing betwyfel? Wie kan die barmhartigheid van ‘n medelydende Verlosser versmaai? DKvDE 272.1
Dit het niks minder as skeppende krag geverg om daardie vervalle liggaam te genees nie. Dieselfde stem wat die mens uit die stof van die aarde geskep het en in die lewe geroep het, het lewe aan die sterwende verlamde gebring. En dieselfde krag wat lewe aan die liggaam gebring het, het die hart vernuwe. Hy wat met die skepping gespreek het “...en dit was...” en gebied het “...en dit staan” (Psalm 33:9), het lewe tot die siel, wat dood in sonde en oortreding was, gespreek. Die genesing van die liggaam was ‘n bewys van die mag wat die hart vernuwe het. Christus het die verlamde beveel om op te staan en te loop, “...dat julle kan weet...” het Hy gesê, “...dat die Seun van die mens mag het om op die aarde sondes te vergewe.” DKvDE 272.2
Die verlamde het in Christus genesing vir siel en liggaam gevind. Die geestelike genesing is deur fisiese herstel opgevolg. Hierdie les moet nie misgekyk word nie. Daar is vandag duisende wat aan fisiese siektes ly en hulle verlang, net soos die verlamde, na die boodskap: “Jou sondes is jou vergewe.” Die las van die sonde met sy onrus en onbevredigde begeertes, is die grondslag van hul siektes. Hulle kan geen verligting vind voordat hulle by die Geneesheer van die siel uitkom nie. Die vrede wat Hy alleen kan gee, sal lewenskrag aan die gees en gesondheid aan die liggaam verleen. DKvDE 272.3
Jesus het gekom om “...die werke van die duiwel te verbreek.” (1 Johannes 3:8). “In Hom was lewe...” (Johannes 1:4) en Hy het gesê: “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” (Johannes 10:10). Hy is “...'n lewendmakende Gees...” (1 Korinthiërs 15:45). En Hy het nog steeds dieselfde lewegewende krag as toe Hy die siekes op aarde genees en aan die sondaars vergifnis geskenk het. Hy “Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees.” (Psalm 103:3). DKvDE 273.1
Die uitwerking wat die genesing van die verlamde op die mense gehad het, was asof die hemele oopgegaan en die heerlikheid van ‘n beter wêreld geopenbaar is. Soos die man wat genees is deur die skare beweeg het en God met elke tree verheerlik en sy bed gedra het asof dit so lig soos ‘n veer was, het die mense teruggeval om hom deur te laat en vol ontsag na hom gekyk en sag onder mekaar gefluister: “So iets het ons nog nooit gesien nie.” DKvDE 273.2
Die Fariseërs was stom van verbasing en oorweldig deur hul nederlaag. Hulle het gesien dat hier geen geleentheid was om die skare met hul jaloesie op te sweep nie. Die wonderwerk wat vir die man, wat hulle aan die toorn van God oorgegee het, gedoen was, het die mense so beïndruk, dat die rabbi’s vir ‘n tyd lank vergete was. Hulle het nou gesien dat Christus oor ‘n krag beskik wat hulle aan God alleen toegeskryf het; tog was die sagte waardigheid van Sy optrede in duidelike kontras met hul eie hooghartigheid. Hulle was ontsteld en verontwaardig deur die besef, wat hulle nie wou erken nie, dat hier ‘n superieure Wese voor hulle staan. Hoe sterker die bewyse dat Jesus die mag op aarde het om sondes te vergewe, des te meer het hulle hulself in ongeloof verskans. Hulle het uit die huis van Petrus waar hulle gesien het hoe die verlamde deur Sy woord genees is gegaan, om nuwe skemas uit te dink oor hoe om die Seun van God stil te maak. DKvDE 273.3
Liggaamlike siektes, hoe kwaadaardig of diepgesetel dit ook al is, is deur die krag van Christus genees; maar die siekte van die siel het ‘n sterker greep op diegene wat hul oë vir die lig gesluit het, gehad. Melaatsheid en verlamming was nie so verskriklik soos dweepsug en ongeloof nie. DKvDE 274.1
Daar was groot blydskap in die huis van die verlamde wat genees was, toe hy teruggekeer het en die bed waarop hy ‘n kort ruk tevore uit hul teenwoordigheid uitgedra is, met gemak gedra het. Hulle het met trane van vreugde om hom geskaar en kon skaars hul eie oë glo. Hy het in die volle krag van manlikheid voor hulle gestaan. Die arms wat hulle sonder lewe gesien het, het onmiddellik op sy wil gehoorsaam. Die vervalle, loodkleurige vlees, was nou fris en gesond van kleur. Hy het met ‘n vaste, veerkragtige tred gestap. Vreugde en hoop was op elke gelaatstrek geskrywe; ‘n uitdrukking van reinheid en vrede het die merktekens van sonde en lyding vervang. Blymoedige danksegging het uit hierdie huis opgeklink en God is deur Sy Seun verheerlik, wat hoop aan die hopelose en krag aan die geteisterde gebring het. Hierdie man en sy gesin was gereed om hul lewens vir Jesus af te lê. Geen twyfel het hul geloof laat wankel en hul trou aan Hom wat lig in hul donker huis gebring het, geskend nie. DKvDE 274.2