Die Koning van die Eeue

27/88

Hoofstuk 26—By Kapérnaum

Tussen sy reise heen en weer het Jesus in Kapérnaum tuisgegaan en dit het as “...Sy eie stad...” bekend geword. Dit was aan die oewer van die See van Galiléa en naby, indien nie binne, die grense van die pragtige vlakte van Gennésaret. DKvDE 249.1

Omdat die meer so laag geleë was, het dit aan die vlakte wat sy oewers omring die aangename klimaat van die suide verleen. In Christus se dae het palms en olywe, boorde en wingerde, groen velde en kleurvolle blomme in ryk weelde hier gegroei, benat deur die lewende strome wat vanuit die kranse neerstroom. Die oewers van die meer en die heuwels wat dit omring het, was vol stede en dorpe. Die meer was vol vissersbote. Oral was die opwinding van ‘n besige, aktiewe lewe. DKvDE 249.2

Kapérnaum self was goed aangepas as die middelpunt vir die Heiland se werk. Omdat dit op die hoofweg van Damaskus na Jerusalem en Egipte en na die Middellandse See was, was dit ‘n besige deurpad vir reisigers. Mense het uit baie lande deur die stad gereis, of daar vertoef om te rus van hul reise heen en weer. Hier kon Jesus mense van alle range of nasies ontmoet, die rykes en gesienes, sowel as die armes en nederiges en Sy lesse sou na ander lande en in baie huishoudings uitgedra word. Ondersoeke na die profesieë sou dus aangewakker, die aandag na die Heiland toe gelei en Sy sending aan die wêreld voorgehou word. DKvDE 249.3

Ondanks die optrede van die Sanhedrin teenoor Jesus, het die mense gretig op die ontwikkeling van Sy sending gewag. Die ganse hemel was met opgewonde belangstelling gevul. Engele het die weg vir Sy bediening voorberei, mense se harte beweeg en hulle na die verlosser getrek. DKvDE 249.4

In Kapérnaum was die seun van die edelman wat Christus genees het, ‘n getuie van Sy mag. En die hofbeampte en sy gesin het met blydskap van hul geloof getuig. Toe dit bekend word dat die Leraar self onder hulle is, was die hele stad aangevuur. Menigtes het na Sy teenwoordigheid gestroom. Op die Sabbat het soveel mense by die sinagoge saamgedrom, dat groot getalle wat nie toegang kon verkry nie, moes wegdraai. DKvDE 250.1

Almal wat die Verlosser gehoor het, “...was verbaas oor Sy leer, want Sy woord was vol gesag.” (Lukas 4:32). “Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie.” (Mattheus 7:29). Die onderrig van die skrifgeleerdes en ouderlinge was koud en formeel, soos ‘n les wat meganies geleer word. Vir hulle het die Woord van God geen lewenskrag gehad nie. Hul eie idees en tradisies het die onderrig daarvan vervang. In die gebruiklike roetines het hulle die wet verklaar, maar geen inspirasie van God het hul eie harte of die harte van hulle toehoorders geroer nie. DKvDE 250.2

Jesus het Hom nie met die meningsverskille oor verskillende onderwerpe tussen die Jode bemoei nie. Dit was Sy taak om die waarheid aan te bied. Sy woorde het ‘n vloed van lig op die leringe van die patriarge en profete gewerp en die Skrif het mense soos ‘n nuwe openbaring getref. Sy toehoorders het nog nooit so ‘n diepte van betekenis in die Woord van God gesien nie. DKvDE 250.3

Jesus het die volk op gelyke voet ontmoet, soos Een wat met hul beproewinge bekend is. Hy het die waarheid veraangenaam deur dit op die mees direkte en eenvoudigste, wyse aan te bied. Sy taal was suiwer, verfynd en helder soos ‘n vloeiende stroom. Sy stem was soos musiek vir diegene wat gewoond aan die eentonige toon van die rabbi’s was. En hoewel Sy leringe eenvoudig was, het Hy soos Een met gesag gepraat. Hierdie kenmerk het Sy onderrig in teenstelling met dié van alle ander gestel. Die rabbi’s het met twyfel en huiwering gepraat, asof die Skrifte vertolk kon word om óf een ding, óf presies die teengestelde te beteken. Die toehoorders was daagliks meer onseker. Maar Jesus het die Skrif as die onbetwisbare gesag geleer. Wat ook al Sy onderwerp, was dit met krag aangebied, sodat Sy woorde nie weerspreek kon word nie. DKvDE 250.4

Tog was Hy ernstig, eerder as heftig. Hy het gepraat soos Een wat ‘n bepaalde doel gehad het om te vervul. Hy het die werklikheid van die ewige wêreld onder oë gebring. In elke tema is God geopenbaar. Jesus het probeer om die begogeling van mense wat deur aardse dinge geabsorbeer was, te verbreek. Hy het dinge van hierdie lewe in hul ware perspektief, as ondergeskik aan dié van ewige belang geplaas; maar Hy het die belangrikheid daarvan nie onderskat nie. Hy het geleer dat hemel en aarde met mekaar verbind is en dat kennis van Goddelike waarheid mense beter voorberei om die pligte van die alledaagse lewe uit te voer. Hy het gepraat soos Een wat met die hemele vertroud is, bewus van Sy verwantskap met God, maar tog Sy eenheid met elke lid van die menslike geslag erken. DKvDE 251.1

Sy boodskappe van genade was uiteenlopend om by Sy gehoor aan te pas. Hy het geweet hoe om “...die vermoeide te verkwik met woorde...” (Jesaja 50:4) want genade het oor Sy lippe gekom, sodat Hy die skatte van die waarheid op die aantreklikste wyse aan mense kon oordra. Hy het bevooroordeeldes met takt hanteer en hulle met illustrasies wat hul aandag getrek het, verras. Hy het die hart deur verbeeldingskrag bereik. Sy illustrasies is uit die daaglikse dinge geneem en hoewel dit eenvoudig was, het dit ‘n wonderlike diepte in betekenis gehad. Die voëls van die lug, die lelies van die veld, die saad, die herders en die skape-met hierdie voorwerpe het Jesus onsterflike waarhede geïllustreer; en telkens daarna, wanneer sy toehoorders ‘n kans gehad het om hierdie dinge in die natuur waar te neem, het dit hulle aan Sy woorde herinner. Christus se lesse is voortdurend in Sy illustrasies herhaal. DKvDE 251.2

Christus het mense nooit gevlei nie. Hy het nooit dinge gesê wat hulle fantasieë en verbeelding sou verhoog nie en Hy het hulle ook nie vir hul slim uitvindings geprys nie; maar diep, onbevooroordeelde denkers het Sy lering ontvang en gevind dat dit hul wysheid uitgedaag het. Hulle was verwonderd oor die geestelike waarheid wat in die eenvoudigste taal geuiter is. Die mees hoogs opgeleide is deur Sy woorde bekoor en die onopgeleide was altyd bevoordeel. Hy het ‘n boodskap vir ongeletterdes gehad; en Hy het selfs die heidene laat besef dat Hy ‘n boodskap vir hulle gehad het. DKvDE 252.1

Sy deernisvolle medelye het ‘n aanraking van genesing aan moeë en ontstelde gemoedere gebring. Selfs te midde van die onstuimigheid van kwaadaardige vyande was Hy met ‘n atmosfeer van vrede omring. Die skoonheid van Sy gelaat, die lieflikheid van Sy karakter en bowenal, die liefde wat op Sy gelaat en in Sy toon weerspieël was, het almal wat nie deur ongeloof verhard was nie tot Hom aangetrek. Was dit nie vir die aangename, simpatieke gees wat uit elke blik en woord gestraal het nie, sou Hy nie die groot gehore kon aantrek soos wat Hy gedoen het nie. Die geteisterdes wat na Hom gekom het, het gemeen dat Hy Sy belange met hulle s'n, as ‘n getroue en deernisvolle vriend, gekoppel het en hulle wou meer van die waarhede wat Hy geleer het weet. Die hemel het binne hul bereik gekom. Hulle het begeer om in Sy teenwoordigheid te vertoef, sodat die vertroosting van Sy liefde hulle voortdurend sou bybly. DKvDE 252.2

Jesus het met diepe erns die veranderende voorkoms van Sy toehoorders gadegeslaan. Die gesigte wat belangstelling en vreugde uitgedruk het, het aan Hom groot tevredenheid besorg. Soos die pyle van die waarheid die siel deurboor het, deur die hindernisse van selfsug gedring het en ootmoediging en uiteindelik dankbaarheid bewerk het, het dit die Verlosser verheug. Wanneer Hy Sy blik oor die skare gewerp en gesigte herken het wat Hy voorheen gesien het, het Sy gelaat met vreugde opgehelder. Hy het in hulle hoopvolle onderdane vir Sy koninkryk gesien. Wanneer die waarheid regstreeks verkondig is en ‘n gekoesterde afgod aangeraak het, het Hy die verandering van gelaat opgemerk, die kille, verbode blik wat getoon het dat die lig onwelkom is. Wanneer Hy opgemerk het dat Sy boodskap van vrede verwerp word, is Sy hart ten diepste deurboor. DKvDE 252.3

In die sinagoge het Jesus oor die koninkryk wat Hy gekom het om te vestig gepraat en van Sy sending om die gevangenes van Satan te bevry. Hy is deur ‘n vreesaanjaende gil onderbreek. ‘n Besetene het uit die skare na vore gestorm en uitgeroep: “Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasarener? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!” (Lukas 4:34) DKvDE 253.1

Alles was nou in rep en roer. Die volk se aandag is van Christus afgetrek en Sy woorde het op dowe ore geval. Dit was Satan se doel om sy slagoffer na die sinagoge te lei. “En Jesus het hom en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit! En die duiwel het hom tussen hulle neergegooi en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak.” (Lukas 4:35). DKvDE 253.2

Die verstand van hierdie ellendige geteisterde is deur Satan verduister, maar in die Verlosser se teenwoordigheid het ‘n ligstraal die somberheid deurboor. ‘n Verlange het in hom posgevat om van Satan se beheer bevry te word, maar die demoon het die mag van Christus weerstaan. Toe die man probeer om ‘n beroep op Jesus te doen, het die bose gees woorde in sy mond gesit en hy het angsbevange uitgeroep. Die besetene het gedeeltelik besef dat hy in die teenwoordigheid van Een was wat hom kon bevry; maar toe hy probeer om na daardie magtige Hand te reik, het ‘n ander se wil hom teëgehou en die woorde van ‘n ander het deur hom gespreek. Die konflik tussen die mag van Satan en sy eie begeerte na vryheid was verskriklik. DKvDE 253.3

Hy wat Satan in die woestyn oorwin het, is weer van aangesig tot aangesig met Sy vyand gebring. Die demoon het al sy mag ingespan om beheer oor sy slagoffer te behou. Om hier veld te verloor, sou wees om aan Jesus ‘n oorwinning te gee. Dit wou voorkom asof die gemartelde man sy lewe in die stryd met die vyand, wat die ondergang van sy manlikheid was, sou verloor. Maar die Verlosser het met gesag gepraat en die gevangene vrygemaak. Die besete man het voor die verwonderde mense gestaan, verheug oor sy vryheid van besetenheid. DKvDE 254.1

Die man het God vir Sy verlossing geprys. Die oë wat so onlangs met die vuur van waansin gegluur het, het nou van intelligensie gestraal, terwyl trane van dankbaarheid daaruit gevloei het. Die mense was stom van verbasing. Nadat hulle hul spraak herwin het, het hulle tot mekaar uitgeroep: “Wat is dit? Watter nuwe leer is dit, dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom gehoorsaam is?” (Markus 1:27). DKvDE 254.2

Die geheime oorsaak van die beproewing wat van hierdie man ‘n vreesaanjaende skouspel vir sy vriende en ‘n las vir homself gemaak het, was aan sy eie lewe te danke. Hy was gefassineer met die plesier van sonde en het een groot karnaval van die lewe gemaak. Hy het nie daarvan gedroom dat hy ‘n verskrikking vir die wêreld en ‘n verwyt vir sy familie kon word nie. Hy het gedink hy kon sy tyd aan onskuldige dwaasheid deurbring. Maar eenmaal op die afdraandpad, was sy voete spoedig afwaarts gedwing. Onmatigheid en ligsinnigheid het die edele eienskappe van sy geaardheid verdraai en Satan het volkome besit van hom geneem. DKvDE 254.3

Berou het te laat gekom. Toe hy rykdom en plesier sou opoffer om sy verlore manlikheid te herwin, was hy hulpeloos in die greep van die bose. Hy het homself op vyandelike terrein begeef en Satan het van al sy vermoëns besit geneem. Die versoeker het hom met baie bekoorlike aanbiedings gelok; maar nadat die ellendige eenmaal in sy mag was, het die vyand meer meedoënloos in sy wreedheid geword en ‘n verskrikking in sy kwaadaardige aanvalle. So sal dit wees met almal wat aan die bose toegee; die betowerende plesier van hul vroeë loopbaan eindig in die duisternis van wanhoop of die waansin van ‘n verdorwe siel. DKvDE 254.4

Dieselfde bose gees wat Christus in die woestyn versoek en die besetene van Kapérnaum besit het, het die ongelowige Jode beheer. Maar met hulle het hy die skyn van vroomheid aangeneem om te poog om hulle te mislei aangaande hul beweegredes om die Verlosser te verwerp. Hulle toestand was meer hopeloos as dié van die besetene, want hulle het geen behoefte aan Christus ervaar nie en is derhalwe in die mag van Satan vasgevang. DKvDE 255.1

Die tydperk van Christus se persoonlike bediening onder die mense was die tydperk van die grootste aktiwiteite vir die magte van die koninkryk van die duisternis. Vir eeue het Satan en sy bose engele gepoog om die liggame en siele van mense te beheer, om sonde en lyding oor hulle te bring; en dan het hy al hierdie ellende aan God toegeskryf. Jesus het die karakter van God aan die mense geopenbaar. Hy was besig om Satan se mag te verbreek en sy gevangenes vry te stel. Nuwe lewe, liefde en krag uit die hemel het die harte van mense beweeg en die vors van die bose is aangevuur om te veg vir die oppergesag van sy koninkryk. Satan het al sy magte saamgesnoer en het die werk van Christus met elke stap teëgewerk. DKvDE 255.2

So sal dit in die groot finale konflik van die stryd tussen geregtigheid en sonde wees. Terwyl nuwe lewe, lig en mag van bo af op die dissipels van Christus neerdaal, spruit daar nuwe lewe van onder af op om die verteenwoordigers van Satan te versterk. Intensiteit neem besit van elke aardse element: Met die geveinsdheid wat deur eeue van konflik verkry is, werk die prins van die bose onder ‘n vermomming. Hy beklee hom as ‘n engel van lig en menigtes gee ag op die “...verleidende geeste en leringe van duiwels.” (1 Timotheus 4:1). DKvDE 255.3

In die dae van Christus was die leiers en leraars van Israel magteloos om die werk van Satan te weerstaan. Hulle het die enigste middel waarmee hulle die bose sou kon weerstaan verwaarloos. Dit was deur die Woord van God dat Christus die goddelose oorwin het. Die leiers van Israel het beweer dat hulle die vertolkers van God se Woord was, maar hulle het dit slegs bestudeer om hul tradisies te handhaaf en hul mensgemaakte onderhouding daarvan af te dwing. Deur hul interpretasie het hulle menings daaraan toegedaan wat God nooit daaraan gegee het nie. Hul misterieuse samestelling daarvan het dit wat Hy duidelik gemaak het, onduidelik gemaak. Hulle het oor onbeduidende tegniese aspekte getwis en het feitlik die mees essensiële waarhede ontken. So is ontrouheid uitgesaai. Die Woord van God is van sy krag beroof en bose geeste het hulle wil laat geskied. DKvDE 256.1

Die geskiedenis herhaal homself. Met die oop Bybel voor hulle en hulle bewerings dat hulle die leerstellings eerbiedig, vernietig baie van die godsdienstige leiers van ons tyd die geloof dat dit die Woord van God is. Hulle ontleed die woord, verhef hul eie menings bo die duidelikste uitsprake. In hul hande verloor die Woord van God sy vernuwende krag. Dit is die rede waarom ongeloof buitensporig raak en ongeregtigheid hoogty vier. DKvDE 256.2

Wanneer Satan die geloof in die Bybel ondermyn het, lei hy die mens na ander bronne vir lig en krag. So insinueer hy homself. Diegene wat hulle weg van die duidelike leer van die Skrif en die oortuigende krag van God se Heilige Gees wend, stel hulself oop vir die beheer van demone. Kritiek en bespiegelinge rakende die Skrif, het die weg vir spiritisme en teosofie geopen-daardie gemoderniseerde vorms van die antieke heidendom-om selfs in die belydende kerke van ons Here Jesus Christus vastrapplek te verkry. DKvDE 256.3

Saam met die verkondiging van die evangelie is daar magte aan die werk wat die medium van leuenagtige geeste is. Baie mense peuter uit blote nuuskierigheid daarmee en wanneer hy die getuienis van die werking van ‘n bomenslike mag sien, word hy voortdurend gelok totdat hy deur ‘n mag sterker as hyself beheer word. Hy kan nie aan dié geheimsinnige mag daarvan ontkom nie. DKvDE 257.1

Die skanse van die siel word afgebreek. Hy het geen versperring teen sonde nie. Wanneer die beskerming van die Woord van God en sy Gees eenmaal verwerp word, weet niemand tot watter dieptes van degradering hy kan daal nie. ‘n Geheime sonde of beherende passie kan van hom net so ‘n hulpelose gevangene as die besetene van Kapérnaum maak. Tog is sy toestand nie hopeloos nie. DKvDE 257.2

Die wyse waarop ons die bose kan oorwin, is die wyse waarop Christus oorwin het-die krag van die Woord. God beheer nie ons gedagtes sonder ons toestemming nie; maar as dit ons wil is om Sy wil te ken en doen, geld sy belofte vir ons: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” (Johannes 8:32). “As iemand gewillig is om Sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet.” (Johannes 7:17). Deur geloof in hierdie beloftes kan elkeen van die strikke van dwaling en die beheer van sonde verlos word. DKvDE 257.3

Dit staan elke mens vry om te kies watter mag oor hom moet heers. Niemand het so laag gedaal, of is so sondig, dat hulle nie verlossing in Christus kan vind nie. Die besetene kon slegs die woorde van Satan in die plek van gebed uiter; tog is die hart se onuitgesproke oproep gehoor. Geen uitroep van ‘n siel in nood, alhoewel hy dit nie in woorde kan uitspreek nie, sal nie verhoor word nie. Diegene wat instem om in ‘n verbondsverhouding met die God van die hemel te tree, word nie aan die mag van Satan of aan die swakheid van hul eie aard oorgelaat nie. Die Verlosser nooi hulle: “Hulle moet my beskutting aangryp, vrede met My maak.” (Jesaja 27:5). Die magte van duisternis sal veg vir die siel wat eers onder hul beheer was, maar engele van God sal met oorheersende mag vir daardie siel veg. Die Here sê: “Sal van ‘n held die buit afgeneem word? Of sal die gevangenes van ‘n regverdige ontvlug? ... so sê die Here: Ja, die gevangenes van die held sal afgeneem word, en die buit van die tiran sal ontvlug; en jou bestryder sal Ek bestry en jou kinders sal Ek verlos.” (Jesaja 49:24,25). DKvDE 257.4

Terwyl die gemeente in die sinagoge nog steeds stom van verbasing was, het Jesus Hom na die huis van Petrus onttrek vir ‘n bietjie rus. Maar ook hier het ‘n skaduwee geval. Petrus se skoonmoeder het siek gelê, met ‘n “...hewige koors.” Jesus het die siekte bestraf en die sieke het opgestaan en die Meester en sy dissipels bedien. DKvDE 258.1

Tyding van die werke van Christus het vinnig deur die hele Kapérnaum versprei. Uit vrees vir die rabbi’s het die volk dit nie gewaag om op die Sabbat vir genesing te kom nie; maar die son het skaars agter die horison verdwyn, of daar was ‘n groot toeloop. Vanuit die huise, die winkels, die markpleine, het die inwoners van die stad op die nederige woning wat Jesus geherberg het, toegesak. Die siekes is op draagbare gebring, het op kieries geleun, of die swakkes, deur vriende ondersteun, het in die teenwoordigheid van die Heiland aangesukkel. DKvDE 258.2

Uur na uur het hulle gekom en gegaan; want niemand kon weet of hulle die Geneesheer more nog onder hulle sou vind nie. Nog nooit het Kapérnaum ‘n dag soos hierdie beleef nie. Die lug was gevul met stemme; die stemme van triomf en uitroepe van verlossing. Die Heiland het Hom verheug in die vreugde wat Hy gewek het. Toe Hy die lyding van diegene wat na Hom gekom het, aanskou het, was Sy hart met medelye gevul en Hy was verheug oor Sy krag om hulle weer tot gesondheid en geluk te herstel. DKvDE 258.3

Eers toe die laaste lydende genees is, het Jesus Sy werk gestaak. Dit was reeds laatnag toe die skare vertrek en stilte oor die huis van Simon neergedaal het. Die lang, opwindende dag was verby en Jesus het na rus gesoek. DKvDE 259.1

Maar terwyl die stad nog in slaap gewikkel was, het die Heiland “...vroeg in die more, nog diep in die nag ... opgestaan en uitgegaan en na ‘n eensame plek vertrek en daar gebid.” (Markus 1:35). DKvDE 259.2

So het Jesus sy dae gedurende Sy lewe op aarde deurgebring. Hy het dikwels Sy dissipels weggestuur om hul huise te besoek en te rus; maar Hy het hul pogings om Hom van sy arbeid weg te neem, sagkens van die hand gewys. Hy het die hele dag gearbei, die onkundiges geleer, die siekes genees, blindes laat sien en die skares gevoed; en in die aand of in die vroeë oggend het Hy na ontvlugting in die berge gesoek vir gemeenskap met Sy Vader. Dikwels het hy die hele nag in gebed en oordenking deurgebring en teen dagbreek na Sy werk onder die volk teruggekeer. DKvDE 259.3

Vroeg in die more het Petrus en sy metgeselle na Jesus toe gekom en gesê dat die mense van Kapérnaum Hom reeds soek. Die dissipels was bitter teleurgesteld oor die ontvangs wat Christus sover gehad het. Die owerhede in Jerusalem het probeer om Hom te vermoor; selfs Sy eie dorpsmense het probeer om Sy lewe te neem; maar in Kapérnaum is Hy met blye geesdrif verwelkom en die hoop van die dissipels het opnuut opgevlam. Dit mag dalk wees dat ondersteuners vir die nuwe koninkryk onder die vryheidsliewende Galileërs te vinde was. Maar met verbasing het hulle Christus hoor sê: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.” (Lukas 4:43). DKvDE 259.4

In die opwinding wat tans in Kapérnaum geheers het, was daar gevaar dat die doel van Sy sending uit die oog verloor kon word. Jesus was nie tevrede om slegs die aandag op Hom te vestig as Een wat wonderwerke doen of fisiese siektes genees nie. Hy het gepoog om die mense na Hom as hul Verlosser te trek. Terwyl die volk gretig was om te glo dat Hy as koning gekom het om ‘n aardse regering te vestig, wou Hy hul gedagtes van die aardse na die geestelike afwend. Blote wêreldse sukses sou met Sy werk inmeng. DKvDE 260.1

En die verwondering van die onverskillige skare het teen Sy gees ingedruis. In sy lewe was daar geen plek vir selfhandhawing nie. Die hulde wat deur die wêreld aan rang of rykdom of talent gebring word, was vir die Seun van die mens vreemd. Jesus het nie gebruik gemaak van enige van die middele wat mense gebruik om lojaliteit of eerbied af te dwing nie. Eeue voor Sy geboorte is daar van Hom voorspel: “Hy sal nie skreeu of uitroep of Sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring. Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie.” (Jesaja 42:2-4). DKvDE 260.2

Die Fariseërs wou hulle onderskei deur die stiptelike uitvoering van die seremonies en die pretensieuse vertoon van hul aanbidding en liefdadigheid. Hulle het hul ywer vir godsdiens getoon deur dit die onderwerp van bespreking te maak. Geskille tussen opponerende sektes was luidkeels en uitgerek en dit was nie ongewoon om op straat die stemme van verwoede teenstrydighede tussen geleerde doktors van die wet te hoor nie. DKvDE 260.3

Die lewe van Jesus was in skrille kontras hiermee. In Sy lewe was daar nooit enige tekens van ‘n lawaaierige getwis, geen godsdienstige vertoon en geen daad om applous te ontlok nie. Christus was in God geborge en God is in die karakter van Sy Seun geopenbaar. Dit was tot hierdie openbaring wat Jesus begeer het om die gedagtes van die volk te rig en waaraan hulde gebring moes word. DKvDE 260.4

Die Son van Geregtigheid het nie met prag en praal in die wêreld verskyn om die sintuie met Sy heerlikheid te verblind nie. Daar staan van Christus geskryf: “Sy opgang is so seker soos die dagbreek...” (Hosea 6:3). Die daglig breek saggies en stil oor die aarde, verdryf die skadu’s van die duisternis en laat die wêreld ontwaak. So het die Son van Geregtigheid opgegaan, met “...genesing onder sy vleuels.” (Maleagi 4:2). DKvDE 261.1