Die Koning van die Eeue

26/88

Hoofstuk 25—Die Roeping by die See *

Die dag het oor die See van Galiléa gebreek. Die dissipels, moeg van ‘n nag van vrugtelose geswoeg, was nog in hul vissersbote op die meer. Jesus het gekom om ‘n rustige uur langs die water deur te bring. In die vroeë oggend het Hy op ‘n klein verposing van die menigte wat Hom dag vir dag gevolg het, gehoop. Maar weldra het die mense om Hom begin vergader. Hul getalle het vinnig toegeneem, sodat Hy van alle kante vasgedruk was. Intussen het die dissipels aan wal gekom. Om die druk van die skare te ontkom, het Jesus in Petrus se boot geklim en hom gevra om ‘n entjie van die oewer af te vaar. Hier kon Jesus beter deur almal gesien en gehoor word en Hy het die menigte op die strand van die boot af geleer. DKvDE 241.1

Wat ‘n toneel was dit vir die engele om te aanskou; hul glorieryke Bevelvoerder, wat in ‘n vissersboot sit, heen en weer gewieg deur die rustelose golwe, besig om die goeie tyding van verlossing aan die skare, wat na die rand van die water beweeg het, te verkondig! Hy, die Geëerde van die hemel, het die groot dinge van Sy koninkryk in die buitelug aan gewone mense verkondig. Tog kon daar nie ‘n meer geskikte toneel vir Sy arbeid gewees het nie. Die meer, die berge, die uitgestrekte velde, die sondeurdrenkte aarde, alles voorwerpe wat voorsien is om Sy lesse te illustreer en die gedagtes te beïndruk. En geen les van Christus was vrugteloos nie. Elke boodskap van Sy lippe het een of ander siel as die woord van die ewige lewe bereik. DKvDE 241.2

Elke oomblik het die menigte op die strand toegeneem. Bejaardes wat op hul kieries leun, geharde boere vanaf die heuwels, vissermanne uitgeput van hul geswoeg op die meer, handelaars en rabbi’s, rykes en geleerdes, oud en jonk wat hul siekes en lydendes saamgebring het, het saamgedrom om die Goddelike Leraar te hoor. Dit was sulke tonele wat die profete vooruit gesien het toe hulle geskryf het: DKvDE 241.3

“Die land Sébulon en die land Náftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galiléa van die heidene-die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan.” DKvDE 242.1

Benewens die skare op die oewer van Gennésaret, het Jesus in Sy preek langs die see ook ander gehore in gedagte gehad. Hy het deur die eeue heen gekyk en Sy getroues in die gevangenes en hofsale gesien, in versoeking, eensaamheid en verdrukking. Elke toneel van vreugde en konflik en verwarring was oop voor Hom. In die woorde wat aan diegene wat om Hom versamel was gerig is, het Hy ook aan hierdie ander siele die woorde geuiter wat na hulle sou kom as ‘n boodskap van hoop in beproewing, van vertroosting in hartseer en hemelse lig in duisternis. Deur die Heilige Gees sou die stem wat vanaf die vissersboot op die See van Galiléa gepraat het, tot aan die einde van die tyd gehoor word, wat vrede tot menslike harte spreek. DKvDE 242.2

Nadat Hy klaar gepraat het, het Jesus Hom tot Petrus gewend en hom versoek om die see in te vaar en sy net neer te laat vir ‘n vangs. Maar Petrus was moedeloos. Hy het die hele nag niks gevang nie. In die eensame ure het hy aan die lot van Johannes die Doper gedink wat nou alleen in sy kerker wegkwyn. Hy het aan die vooruitsig vir Jesus en sy volgelinge gedink, aan die mislukking van die sending in Judea en die kwaadwilligheid van die priesters en rabbi’s. Selfs sy eie beroep het hom in die steek gelaat; en terwyl hy na die leë nette gesit en kyk het, het die toekoms donker en ontmoedigend gelyk. “Meester...” het hy gesê, “...ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op U woord sal ek die net laat sak.” DKvDE 242.3

Die nag was die enigste gunstige tyd om met nette in die helder water van die meer te hengel. Nadat hulle die hele nag sonder sukses geswoeg het, het dit hopeloos gelyk om die net in die daglig te laat sak; maar Jesus het die opdrag gegee en liefde vir hul Meester het die dissipels beweeg om te gehoorsaam. Simon en sy broer het saam die net laat sak. Toe hulle probeer om dit in te trek, was daar so baie visse in die net dat dit begin skeur het. Hulle was verplig om Jakobus en Johannes se hulp in te roep. Toe die vangs aan boord gebring is, was albei bote so swaar gelaai dat hulle gevaar geloop het om te sink. DKvDE 243.1

Maar Petrus het nie nou aan bote of vangste gedink nie. Hierdie wonderwerk, bo enige ander wat hy ooit aanskou het, was vir hom ‘n manifestasie van Goddelike krag. In Jesus het hy Een gesien wat beheer oor die ganse natuur het. Die teenwoordigheid van Goddelikheid het sy eie onheiligheid ontbloot. Liefde jeens sy Meester, skaamte oor sy eie ongeloof, dankbaarheid vir die neerbuigende liefde van Jesus en bo alles, die besef van sy onreinheid in die teenwoordigheid van oneindige reinheid, het hom oorweldig. Terwyl sy metgeselle die inhoud van die net bewerk het, het Petrus aan die Heiland se voete neergeval en uitgeroep: “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man!” DKvDE 243.2

Dit was hierdie selfde teenwoordigheid van die Goddelike heiligheid wat die profeet Daniël soos ‘n dooie voor die engel van God laat neerval het. “Geen krag het in my oorgebly nie...” het hy gesê “...en my gesonde kleur het aan my verander en verdwyn.” (Daniël 10:8). So het Jesaja, toe hy die heerlikheid van God aanskou het, uitgeroep: “Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die Here van die leërskare, gesien!” (Jesaja 6:5). Die mensdom met sy swakheid en sonde, vorm ‘n kontras met die volmaaktheid van Goddelikheid en hy het heeltemal gebrekkig en onheilig gevoel. So was dit met almal aan wie ‘n blik van God se grootheid en majesteit gegun was. DKvDE 243.3

Petrus het uitgeroep: “Gaan weg van my ... want ek is ‘n sondige man...” tog het hy aan Jesus se voete vasgehou en gevoel dat hy nie van Hom geskei kon word nie. Die Heiland het geantwoord: “Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang.” Nadat Jesaja die heiligheid van God en sy eie onwaardigheid besef het, is die Goddelike boodskap aan hom toevertrou. Nadat Petrus gelei is tot selfverloëning en afhanklikheid van Goddelike krag, het hy die oproep tot sy werk vir Christus ontvang. DKvDE 244.1

Tot op hede was nie een van die dissipels ten volle medewerkers saam met Jesus nie. Hulle het baie van Sy wonderwerke aanskou en na sy leer geluister; maar hulle het nog nie hul vorige beroep volkome laat vaar nie. Die gevangenskap van Johannes die Doper was vir hulle almal ‘n bittere teleurstelling. As dit die gevolge van Johannes se sending was, het hulle min hoop vir hul Meester gekoester met al die godsdienstige leiers teen Hom geskaar. Onder hierdie omstandighede was dit vir hulle ‘n verligting om vir ‘n kort tydjie na hul visvang terug te keer. Maar nou het Jesus hulle geroep om hul vorige lewe te laat vaar en hul belange by Syne in te werp. Petrus het die oproep aanvaar. Toe Hy die oewer bereik, het Jesus die drie ander dissipels geroep: “Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Hulle het dadelik alles laat vaar en Hom gevolg. DKvDE 244.2

Voordat Jesus hulle gevra het om hul nette en vissersbote te verlaat, het Hy hulle die versekering gegee dat God in al hul behoeftes sou voorsien. Die gebruik van Petrus se boot vir die werk van die evangelie is ryklik beloon. Hy wat “...ryk [is] oor almal wat Hom aanroep...” (Romeine 10:12) het gesê: “Gee en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is.” (Lukas 6:38). Met hierdie maatstaf het Hy die diens van die dissipel beloon. En elke opoffering wat in Sy bediening gemaak word, sal volgens die “...uitnemende rykdom van sy genade...” vergoed word. (Efesiërs 2:7) DKvDE 244.3

Gedurende die droefgeestige nag op die meer, terwyl hulle van Christus geskei was, het ongeloof swaar op die dissipels gedruk en hulle was uitgeput van hulle vrugtelose geswoeg. Maar Sy teenwoordigheid het hul geloof versterk en vreugde en sukses vir hulle gebring. So gaan dit ook met ons; sonder Christus is ons werk vrugteloos en is dit maklik om te wantrou en te murmureer. Maar as Hy naby is en ons onder Sy leiding werk, vind ons vreugde in die getuienis van Sy mag. Dit is Satan se werk om die siel te ontmoedig; dit is Christus se werk om met geloof en hoop te besiel. DKvDE 245.1

Die dieper betekenis van die les wat die wonderwerk vir die dissipels ingehou het, is ook vir ons ‘n les; dat Hy, wie se woord die visse uit die see kon versamel, ook menseharte kan beïndruk en hulle met bande van Sy liefde trek, sodat Sy diensknegte “...vissers van mense... ” kan word. DKvDE 245.2

Hulle was nederige en ongeleerde manne, hierdie vissers van Galilea; maar Christus, die Lig van die wêreld, was meer as in staat om hulle vir die taak waarvoor Hy hulle gekies het te kwalifiseer. Die Heiland het nie geleerdheid geminag nie; want wanneer dit deur die liefde van God beheer en aan Sy diens toegewy word, is intellektuele kultuur ‘n seën. Maar Hy het die wyse mense van Sy tyd oorgesien, omdat hulle so seker van hulself was dat hulle nie met die lydende mensdom kon simpatiseer en met die Man van Nasaret kon saamwerk nie. In hul dwepery het hulle neergesien om deur Christus geleer te word. Die Here Jesus soek die samewerking van mense wat onbelemmerde kanale kan wees om Sy genade oor te dra. Die eerste les wat elkeen wat ‘n medewerker van God wil word moet leer, is wantroue in hulself; dan is hulle gereed om die karakter van Christus te ontvang. Dit kan nie deur onderrig in die beste wetenskaplike skole verkry word nie. Dit is die vrug van wysheid wat van die Goddelike Leraar alleen verkry kan word. DKvDE 245.3

Jesus het ongeleerde vissermanne gekies omdat hulle nie in die tradisies en verkeerde gebruike van hul tyd onderrig was nie. Hulle was manne met ingebore vermoëns en hulle was nederig en bereid om te leer-manne wat Hy vir Sy werk kon oplei. In die algemene lewenswandel, is daar baie mense wat geduldig die daaglikse geswoeg deurworstel, onbewus van die feit dat hulle oor krag beskik wat, indien dit tot aksie geroep word, dit hulle op ‘n gelyke vlak met die mees geëerde mense sal verhef. Die aanraking van ‘n bekwame Hand is nodig om daardie sluimerende vermoëns aan te wakker. Dit was manne soos hierdie wat Jesus geroep het om Sy medewerkers te wees; en Hy het aan hulle die voordeel van gemeenskap met Homself gegee. Die wêreld se groot manne het nooit so ‘n Onderwyser gehad nie. Toe die dissipels klaar deur die Heiland onderrig is, was hulle nie meer onkundig en onbeskaaf nie. In gees en karakter het hulle soos Hy geword; en dit het mense opgeval dat hulle by Jesus was. DKvDE 246.1

Dit is nie die hoogste taak van opvoeding om slegs kennis oor te dra nie, maar om daardie lewensbelangrike energie oor te dra wat ontvang word deur kontak van verstand met verstand en siel met siel. Dit is slegs lewe wat lewe kan wek. Watter voorreg was dit dus om vir drie jaar lank in daaglikse kontak met daardie Goddelike lewe te wees, waaruit elke lewegewende impuls wat die wêreld geseën het, gevloei het. Meer as al sy metgeselle, het Johannes, die geliefde dissipel, homself aan die krag van daardie wonderbare lewe oorgegee. Hy het gesê: “Die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.” (1 Johannes 1:2). “En uit Sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.” (Johannes 1:16). DKvDE 246.2

In die apostels van ons Here, was daar niks om hulself te verheerlik nie. Dit was duidelik dat die sukses van hul arbeid alleenlik aan God te danke was. Die lewens van hierdie manne, die karakters wat hulle ontwikkel het en die magtige werk wat God deur hulle verrig het, is ‘n getuienis van wat Hy vir almal wat leerbaar en gehoorsaam is, sal doen. DKvDE 247.1

Hy wat Christus die meeste liefhet, sal die grootste hoeveelheid goedheid beoefen. Daar is geen perke aan die bruikbaarheid van iemand wat homself verloën en toelaat dat die Heilige Gees op sy hart inwerk en ‘n lewe wat volkome aan God toegewy is, lei nie. As mense die nodige tug sal verduur sonder om te murmureer of uit te sak, sal God hulle uur na uur, dag na dag onderrig. Hy verlang om Sy genade te openbaar. As Sy volk die hindernisse uit die weg sal ruim, sal Hy die waters van verlossing deur die menslike kanale laat vloei. As mense in nederige lewensomstandighede aangemoedig kon word om al die goeie waartoe hulle in staat is te doen en as daar nie ‘n hand was wat hul ywer demp nie, sou daar ‘n honderd werkers vir Christus wees, waar daar nou net een is. DKvDE 247.2

God aanvaar mense soos hulle is en lei hulle op tot Sy diens, as hulle hulself aan Hom sal onderwerp. Die Gees van God wat in die siel ontvang word, sal alle vermoëns aanwakker. Onder leiding van die Heilige Gees ontwikkel die verstand wat onvoorwaardelik aan God gewy word harmonieus en word versterk om die vereistes van God te begryp en te vervul. Die swak, weifelende karakter verander in sterkte en standvastigheid. Voortdurende toewyding bring so ‘n hegte verhouding tussen Jesus en sy dissipel tot stand dat die Christen in gedagte en karakter soos Hy word. Deur ‘n verbintenis met Christus, sal hy ‘n helderder en breër siening hê. Sy onderskeidingsvermoë sal meer deurdringend wees en sy oordeel beter gebalanseerd. Wie verlang om diensbaar aan Christus te wees, word só lewend deur die lewegewende krag van die Son van Geregtigheid gemaak, dat hy in staat sal wees om baie vrugte tot die verheerliking van God te dra. DKvDE 247.3

Mense met die hoogste opleiding in die kunste en wetenskap, het kosbare lesse van Christene in nederige lewensomstandighede, wat deur die wêreld as ongeletterd bestempel is, geleer. Maar hierdie onbekende dissipels het hul opleiding in die hoogste skool ontvang. Hulle het aan die voete van Hom gesit wat gespreek het soos geen mens ooit gespreek het nie. DKvDE 248.1