Die Koning van die Eeue

25/88

Hoofstuk 24—“Is Hy nie die timmerman se seun nie?” *

Daar het een skaduwee oor die helder dae van Christus se bediening in Galiléa gehang. Die mense van Nasaret het Hom verwerp. “Is Hy nie die timmerman se seun nie?” het hulle gevra. DKvDE 231.1

Gedurende Sy kinderjare en jeug het Jesus saam met Sy broers in die sinagoge in Nasaret aanbid. Sedert die aanvang van sy bediening was Hy van hulle afwesig, maar hulle was nie onbewus van Sy doen en late nie. Toe Hy weer tussen hulle verskyn, het hul belangstelling en verwagting ‘n hoogtepunt bereik. Hier was die bekende gedaantes en gesigte wat Hy van kleins af geken het. Hier was sy moeder, sy broers en susters en alle oë was op Hom gerig toe Hy op die Sabbatdag die sinagoge binnegaan en Sy plek tussen die aanbidders inneem. DKvDE 231.2

Tydens die diens was dit die gewoonte dat die ouderling uit die profete voorgelees en die volk aangemoedig om steeds te bly hoop op die Een wat moes kom, wat Sy glorieryke bewind sou instel en alle onderdrukking sou verban. Hy het gepoog om sy toehoorders aan te moedig deur die getuienis aan te haal dat die koms van die Messias naby is. Dan het hy die heerlikheid van Sy koms beskryf en die gedagte beklemtoon dat Hy aan die hoof van Sy leërs sou verskyn om Israel te bevry. DKvDE 231.3

Wanneer daar ‘n rabbi in die sinagoge was, was daar van hom verwag om ‘n preek te lewer en enige Israeliet kon uit die profete voorlees. Op hierdie Sabbat was Jesus versoek om aan die diens deel te neem en Hy “...staan op om te lees. En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig.” Die skrifgedeelte wat Hy voorgelees het, is algemeen aangeneem as ‘n verwysing na die Messias. DKvDE 231.4

“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.” DKvDE 232.1

“En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig ... En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom.” DKvDE 232.2

Jesus het voor die volk as ‘n Lewende Vertolker van die profesieë aangaande Homself gestaan. In die verklaring van die woorde wat Hy gelees het, het Hy van die Messias gepraat as, ‘n Verlosser van die onderdruktes, ‘n Bevryder van gevangenes, ‘n Geneesheer vir die ellendiges, wat die blindes laat sien en die lig van die waarheid aan die wêreld openbaar. Sy indrukwekkende houding en die wonderlike betekenis van Sy woorde het Sy toehoorders met ‘n mag ontroer wat hulle nog nooit tevore ervaar het nie. Die gety van Goddelike invloed het elke versperring afgebreek; soos Moses, het hulle die Onsigbare gesien. Soos hul harte deur die Heilige Gees beweeg is, het hulle met vurige amens en lofbetuigings aan die Here gereageer. DKvDE 232.3

Maar toe Jesus aankondig: “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul...” het hul gedagtes skielik tot hulself teruggekeer en na die aansprake van Hom wat hulle toegespreek het. Hulle, die Israeliete, kinders van Abraham, word verteenwoordig dat hulle in slawerny verkeer. Hulle is aangespreek as gevangenes wat uit die mag van die Bose verlos moet word; dat hulle in duisternis verkeer en die lig van die waarheid nodig het. Hul trots is gekrenk en hul vrese aangewakker. Die woorde van Jesus het aangedui dat Sy werk vir hulle totaal anders as wat hulle begeer het dit sou wees. Hul dade mag dalk te noukeurig ondersoek word. Ondanks hul gesteldheid op uiterlike seremonies, het hulle teruggedeins van ‘n ondersoek deur daardie helder, deurdringende oë. DKvDE 232.4

Wie is hierdie Jesus? wou hulle weet. Hy wat die heerlikheid van die Messias vir homself geëis het, was die seun van ‘n timmerman en het saam met Sy vader Josef Sy vak beoefen! Hulle het gesien hoe Hy op en af teen die heuwels geswoeg het en het Sy broers en susters en Sy lewe en arbeid geken. Hulle het Hom sien ontwikkel van kleintyd tot jeug en van jeug tot volwasse man. Hoewel Sy lewe vlekkeloos was, wou hulle nie aanvaar dat Hy die Beloofde was nie. DKvDE 233.1

En wat ‘n kontras was daar tussen Sy leer aangaande die nuwe koninkryk en dit wat hulle van hul ouderling gehoor het! Jesus het niks gesê oor hul verlossing van die Romeine nie. Hulle het van Sy wonderwerke gehoor en gehoop dat Sy mag tot hul voordeel aangewend sou word, maar hulle het geen aanduiding hiervan gesien nie. DKvDE 233.2

Toe hulle die deur vir twyfel oopmaak, het hulle hul harte soveel te meer verhard omdat hulle tydelik versag het. Satan was vasberade dat blinde oë nie daardie dag moes oopgaan nie en dat siele wat in slawerny gebonde was, nie vrygestel sou word nie. Hy het met intense energie gewerk om hulle in ongeloof gebonde te hou. Hulle het geen ag geslaan op die teken wat reeds gegee was, toe hulle deur die oortuiging dat dit hul Verlosser was wat hulle toegespreek het, ontroer was nie. DKvDE 233.3

Maar Jesus het nou aan hulle ‘n bewys van Sy Goddelikheid gegee, deur hul geheime gedagtes te openbaar. “En Hy antwoord hulle: Julle sal My ongetwyfeld hierdie spreekwoord toevoeg: Geneesheer, genees uself! Alles wat ons hoor wat in Kapernaum gebeur het, doen dit hier in u vaderstad ook. En Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, geen profeet is aangenaam in sy vaderland nie. Maar Ek sê vir julle met waarheid, daar was baie weduwees in Israel in die dae van Elia toe die hemel toegesluit was drie jaar en ses maande lank, toe daar ‘n groot hongersnood gekom het in die hele land, en na nie een van hulle is Elia gestuur nie, behalwe na Sarfat in Sidon, na ‘n weduwee. En daar was baie melaatse in Israel in die tyd van Elisa, die profeet, en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Naaman, die Síriër.” DKvDE 233.4

Deur hierdie onthulling van die gebeure in die lewens van die profete, het Jesus die vrae van sy toehoorders beantwoord. Die diensknegte wat God vir ‘n besondere taak uitgekies het, was nie toegelaat om vir ‘n hardvogtige, ongelowige volk te arbei nie. Maar diegene met harte wat kon voel en geloof om te glo, is met bewyse van Sy mag deur die profete bevoordeel. In die dae van Elia het Israel van God afgewyk. Hulle het hul sondes aangekleef en het die waarskuwings van die Gees deur die boodskappers van die Here verwerp. So het hulle hulself van die kanaal waardeur God se seën hulle kon bereik afgesny. Die Here het by die huise van Israel verbygegaan en vir sy dienskneg in ‘n vreemde land herberg gevind by ‘n vrou wat nie aan die uitverkore volk behoort het nie. Maar hierdie vrou is begunstig omdat sy die lig wat sy ontvang het, gevolg het en haar hart ontvanklik was vir die groter lig wat God deur sy profeet aan haar gestuur het. DKvDE 234.1

Dit was om dieselfde rede dat die melaatses van Israel in die tyd van Elisa oorgeslaan is. Maar Naaman, ‘n heidense edelman, was getrou aan sy oortuiging van wat reg was en het sy groot behoefte aan hulp besef. Hy was gereed om die gawes van God se genade te ontvang. Hy is nie net van sy melaatsheid gereinig nie, maar is ook met ‘n kennis van die ware God geseën. DKvDE 234.2

Ons stand voor God hang nie af van die hoeveelheid lig wat ons ontvang het nie, maar van die gebruik wat ons maak van dít wat ons het. Dus verkeer selfs die heidene wat kies vir wat reg is, vir sover hulle kan onderskei, in ‘n gunstiger toestand as diegene wat groot lig gehad het en beweer dat hulle God dien, maar wat die lig verontagsaam het en deur hul daaglikse lewe hul belydenis weerspreek het. DKvDE 234.3

Die woorde van Jesus aan Sy toehoorders in die sinagoge het tot die kern van hul eiegeregtigheid deurgedring en die bittere waarheid by hulle tuisgebring dat hulle van God afgewyk het en hul reg om Sy volk genoem te word verbeur het. Elke woord het soos ‘n mes gesny toe hul ware toestand voor hulle blootgestel is. Hulle het die geloof waarmee Jesus hulle aanvanklik geïnspireer het, nou verag. Hulle sou nie erken dat Hy wat uit armoede en nederigheid kom, anders as ‘n gewone mens was nie. DKvDE 235.1

Hulle ongeloof het kwaadwilligheid gekweek. Satan het hulle beheer en hulle het hul woede teen die Heiland gelug. Hulle het van Hom, wie se sending dit was om te genees en te herstel, weggedraai; hulle het nou die eienskappe van die vernietiger geopenbaar. DKvDE 235.2

Toe Jesus na die seëninge wat aan die heidene geskenk is verwys het, is die fel nasionale trots van Sy hoorders ontketen en Sy woorde is in ‘n rumoer van stemme uitgedoof. Hierdie mense het daarop geroem dat hulle die wet onderhou; maar noudat hulle vooroordele beledig is, was hulle gereed om moord te pleeg. Die vergadering is opgebreek en hulle het hul hande op Jesus gelê en Hom uit die sinagoge en uit die stad gewerp. Almal was gretig vir Sy vernietiging. Hulle het Hom na die rand van ‘n afgrond gehaas met die doel om Hom daar af te gooi. ‘n Geskreeu en vervloekings het die lug gevul. Sommige het Hom met klippe bestook, toe Hy skielik onder hulle uit verdwyn. Die hemelse boodskappers wat in die sinagoge aan Sy sy was, was saam met Hom te midde van hierdie besete skare. Hulle het Hom van sy vyande afgesluit en Hom na ‘n veilige plek gelei. DKvDE 235.3

So het engele Lot beskerm en hom veilig uit Sodom gelei. So het hulle Elisa in die klein bergstad beskerm. Toe die omliggende heuwels met die perde en strydwaens van die koning van Sirië en die groot leër van sy gewapende manne omring was, het Elisa die nabygeleë berghange, wat met die leërs van God bedek was gesien-perde en vurige strydwaens rondom die dienskneg van die Here. DKvDE 236.1

So was engele deur al die eeue naby Christus se getroue volgelinge. Die groot konfederasie van boosheid is teen almal wat oorwin saamgetrek, maar Christus wil dat ons die onsienlike moet raaksien, die hemelse leërskare wat almal omvou wat God liefhet, om hulle te verlos. Van watter gevare, sienlik en onsienlik, ons deur die bemiddeling van engele gered is, sal ons nooit weet totdat ons in die lig van die ewigheid, die voorsienigheid van God aanskou nie. Dan sal ons weet dat die ganse familie van die hemel in die familie hieronder belanggestel het en dat die boodskappers van die troon van God dag vir dag ons skrede bewaar het. DKvDE 236.2

Toe Jesus in die sinagoge uit die profesie voorgelees het, het Hy kort voor die laaste omskrywing van die Messias se opdrag opgehou. Nadat Hy die woorde “...om die aangename jaar van die Here aan te kondig...” gelees het, het Hy die sinsnede “...en ‘n dag van die wraak van onse God...” weggelaat. (Jesaja 61:2). Dit was net soseer die waarheid as die eerste gedeelte van die profesie maar Jesus het nie die waarheid ontken deur dit te verswyg nie, want dit was in hierdie laaste sinsnede waarin Sy toehoorders hulle verlustig het en wat hulle graag vervul wou sien. Hulle het die oordeel oor die heidene gevel en nie besef dat hul eie skuld selfs groter was as dié van ander nie. Hulle het self die genade wat hulle so gereed was om die heidene te ontsê, baie nodig gehad. Toe Jesus daardie dag in die sinagoge tussen hulle gestaan het, het hulle die geleentheid gehad om die roepstem uit die hemel te gehoorsaam. Hy wat ‘n “...welbehae in goedertierenheid...” het, (Miga 7:18) sou hulle graag wou verlos het van die ondergang wat hul sondes ontlok het. DKvDE 236.3

Hy kon hulle nie aan hulself oorlaat sonder nog een oproep tot bekering nie. Teen die einde van Sy bediening in Galiléa het Hy weer die tuiste van sy kinderjare besoek. Sedert Sy verwerping daar, het die roem van Sy prediking en wonderwerke, deur die hele land getrek. Niemand kon nou meer ontken dat Hy meer as menslike krag besit het nie. Die inwoners van Nasaret het geweet dat Hy oral rondgegaan en goed gedoen het en almal wat deur Satan verdruk was genees het. Rondom hulle was daar hele dorpies waar daar in geen huis die gekreun van ‘n sieke gehoor is nie; want Hy het daar deurgetrek en al hul siekes genees. Die barmhartigheid wat in elke daad van Sy lewe geopenbaar is, het getuig van Sy Goddelike salwing. DKvDE 237.1

Terwyl die Nasareners weer na Sy woorde geluister het, was hulle deur die Gees van God ontroer. Maar selfs nou sou hulle nie erken dat hierdie Man, wat onder hulle grootgeword het, anders of groter as hulleself was nie. Die bittere herinnering het steeds aan hulle geknaag, dat Hy, hoewel Hy beweer het dat Hy die Beloofde is, hulle weliswaar ‘n plek in Israel ontsê het; want Hy het getoon dat hulle God se guns minder as ‘n heidense man en vrou verdien. Howel hulle Hom dus gevra het: “Waar kry Hy hierdie wysheid en krag vandaan?” wou hulle Hom nie as die Christus van God aanvaar nie. As gevolg van hul ongeloof, kon die Verlosser nie baie wonderwerke onder hulle doen nie. Slegs ‘n paar harte was vir Sy seën ontvanklik en Hy het onwillig daarvandaan vertrek om nooit weer terug te keer nie. DKvDE 237.2

Toe ongeloof eers eenmaal gekoester is, het dit voortgegaan om die mense van Nasaret te beheer. Dit het dus die Sanhedrin en die volk beheer. By priesters en mense was die eerste verwerping van die openbaring van die Heilige Gees die begin van die einde. Om hulle eerste weerstand te regverdig, het hulle voortgegaan om Christus se woorde te betwis. Hul verwerping van die Gees het uitgeloop op die kruis van Golgota, die vernietiging van hul stad en die verstrooiing van die nasie na die winde van die hemel. DKvDE 237.3

Hoe het Christus nie daarna verlang om die kosbare skatte van die waarheid voor Israel oop te maak nie! Maar hul geestelike blindheid was sodanig dat dit onmoontlik was om die waarhede aangaande Sy koninkryk aan hulle te openbaar. Hulle het aan hul dogma en nuttelose seremonies bly kleef terwyl die hemelse waarheid op hul aanvaarding gewag het. Hulle het hul geld aan kaf en doppe bestee toe die brood van die lewe binne hul bereik was. Waarom het hulle hul nie na die Woord van God gewend en ywerig ondersoek ingestel of hulle nie moontlik verkeerd was nie? Die Ou-Testamentiese geskrifte het elke besonderheid van die bediening van Christus duidelik uiteengesit en keer op keer het Hy uit die profete aangehaal en verklaar: “Vandag is hierdie Skrif in jul ore vervul.” Indien hulle die Skrif eerlik ondersoek het en hul teorieë aan die Woord van God getoets het, sou dit nie vir Jesus nodig gewees het om oor hul onboetvaardigheid te treur nie; Hy sou nie nodig gehad het om te verklaar: “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat...” (Lukas 13:35) nie. Dan sou hulle moontlik met die tekens van Sy Messiasskap vertroud gewees het en die ramp wat hul trotse stad in puin gelê het, sou moontlik afgeweer gewees het. Maar die Jode se gedagtes het deur hul onredelike dweepsug verkramp geraak. Die lesse van Christus het hul tekortkominge geopenbaar en bekering geëis. Indien hulle Sy leringe aangeneem het, sou hulle hul lewens moes verander en hul gekoesterde hoop prysgee. Om deur die hemel geëer te word, moes hulle die eer van mense opoffer. Indien hulle die woorde van hierdie nuwe Rabbi sou gehoorsaam, sou hulle teenstrydig met die menings van die groot denkers en destydse leraars wees. DKvDE 238.1

Die waarheid was in die tyd van Christus ongewild. Dit is ook in ons tyd ongewild. Dit was ongewild sedert Satan die eerste keer die mens se weerstand daarteen ontketen het met fabels wat tot selfverheffing lei. Kry ons nie vandag met teorieë en leerstellings te doen wat geen grondslag in die Woord van God het nie? Mense klou net so hardnekkig daaraan vas soos wat die Jode aan hul tradisies vasgeklou het. DKvDE 238.2

Die Joodse leiers was gevul met geestelike hoogmoed. Hul begeerte vir selfverheerliking het selfs in die diens van die heiligdom gemanifesteer. Hulle het graag die voorste sitplekke in die sinagoges ingeneem. Hulle het daarvan gehou om op die markplein begroet te word en dit het hulle ego gestreel om die klank van hul titels op die lippe van mense te hoor. Namate ware vroomheid afgeneem het, het hulle meer jaloers op hul tradisies en seremonies geword. DKvDE 239.1

Omdat hul begrip deur selfsugtige vooroordeel afgestomp was, kon hulle nie die krag van Christus se oortuigende woorde met die nederigheid van Sy lewe laat rym nie. Hulle het nie die feit waardeer dat ware grootsheid geen uiterlike vertoon nodig het nie. Hierdie Man se armoede het totaal en al nie met Sy aanspraak dat Hy die Messias is gestrook nie. Hulle het gevra: As Hy is wie Hy beweer Hy is, waarom is Hy dan so sonder pretensies? En as Hy tevrede was om sonder wapenkrag te wees, wat sou van hulle volk word? Hoe kon die mag en heerlikheid wat so lank verwag was, die nasies as onderdane na die stad van die Jode bring? Het die priesters nie geleer dat Israel oor die hele aarde moes heers nie? En kan dit moontlik wees dat die groot godsdienstige leraars verkeerd was? DKvDE 239.2

Maar dit was nie bloot die afwesigheid van uiterlike glorie in Sy lewe wat daartoe gelei het dat die Jode Jesus verwerp het nie. Hy was die beliggaming van reinheid en hulle was onrein. Hy het onder die mense gewoon, ‘n toonbeeld van vlekkelose integriteit. Sy onberispelike lewe het lig in hul harte geflits. Sy opregtheid het hul onopregtheid openbaar. Dit het die holheid van hul pretensieuse vroomheid aan die lig gebring en die haatlike karakter van ongeregtigheid aan hulle geopenbaar. Hierdie tipe van lig was onwelkom. DKvDE 239.3

Indien Christus die aandag op die Fariseërs sou vestig en hulle geleerdheid en vroomheid sou aanprys, sou hulle Hom met vreugde begroet het. Maar toe Hy van die koninkryk van die hemel praat as ‘n bedeling van barmhartigheid vir die hele mensdom, het Hy ‘n fase van godsdiens aangebied wat hulle nie kon duld nie. Hul eie voorbeeld en lering was nog nooit van so aard wat dit wenslik gemaak het om God te dien nie. Toe hulle sien hoe Jesus aandag bestee aan diegene wat hulle gehaat en verafsku, het dit die ergste hartstogte van hul trotse harte ontketen. Ondanks hul roem dat Israel onder die “...Leeu uit die stam van Juda...” (Openbaring 5:5) oor al die nasies verhef sou word, sou hulle die teleurstelling van hul ambisieuse hoop beter kon verduur as wat hulle die teregwysing van Christus oor hul sondes en die skuldbesef wat hulle in die teenwoordigheid van Sy reinheid ervaar het, kon verduur. DKvDE 240.1