Die Koning van die Eeue

24/88

Hoofstuk 23—“Die Koninkryk van God het naby gekom”

Jesus het “...in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom: bekeer julle en glo die evangelie.” (Markus 1:15) DKvDE 225.1

Die koms van die Messias is die eerste keer in Judea aangekondig. In die tempel in Jerusalem is die geboorte van die voorloper aan Sagaria voorspel terwyl hy voor die altaar gedien het. Op die heuwels van Betlehem het engele die geboorte van Jesus aangekondig. Die wyse manne het na Jerusalem gekom op soek na Hom. In die tempel het Simeon en Anna van sy Godheid getuig. “Jerusalem en die hele Judea...” het na die prediking van Johannes die Doper geluister; en die afvaardiging van die Sanhedrin het saam met die skare sy getuienis aangaande Jesus gehoor. In Judea het Christus Sy eerste dissipels ontvang. Hier het baie van Sy vroeë bediening plaasgevind. Die uitstraling van Sy Godheid in die reiniging van die tempel, Sy wonderwerke van genesing en die Goddelike waarhede wat oor Sy lippe gekom het, alles het dit verkondig wat Hy ná die genesing by Betesda aan die Sanhedrin verklaar het-dat Hy die Seun van die Ewige God is. DKvDE 225.2

As die leiers in Israel Christus ontvang het, sou Hy hulle as Sy boodskappers geëer het om die evangelie na die wêreld uit te dra. Aan hulle is die eerste geleentheid gegee om verkondigers van die koninkryk en genade van God te word. Maar Israel het nie die tyd van haar besoeking geken nie. Die jaloesie en wantroue van die Joodse leiers het in openlike haat ontaard en die harte van die mense is van Christus weggekeer. DKvDE 225.3

Die Sanhedrin het Christus se boodskap verwerp en was vasbeslote om Hom te dood; daarom het Jesus Jerusalem, die priesters, die tempel, die godsdienstige leiers en die mense wat in die wet onderrig is, verlaat en Hom tot ‘n ander klas gewend om sy boodskap te verkondig en om diegene wat die evangelie aan alle nasies sou verkondig, te versamel. DKvDE 225.4

Soos die lig en die lewe van mense deur die kerklike owerhede in die dae van Christus verwerp is, so was dit ook in elke daaropvolgende geslagte verwerp. Die geskiedenis van Christus se onttrekking uit Judea word telkens herhaal. Toe die Hervormers die Woord van God verkondig het, het hulle geen gedagte gehad om hulself van die gevestigde kerk te skei nie; maar die godsdienstige leiers het die lig nie geduld nie en diegene wat die lig gedra het, moes hulle noodgedwonge na ‘n ander klas wend wat na die waarheid verlang het. Vandag word min van die beweerde volgelinge van die Hervormers deur hul gees besiel. Min mense luister na die stem van God en is bereid om die waarheid aan te neem, in watter vorm dit ook al aangebied word. Dikwels word diegene wat in die voetstappe van die Hervormers volg, gedwing om weg te draai van die kerke wat hulle liefhet, om die duidelike leer van die Woord van God te verkondig. En dikwels word diegene wat na lig soek, deur dieselfde leer verplig om die kerk van hul vaders te verlaat, sodat hulle God kan gehoorsaam. DKvDE 226.1

Die mense van Galilea is deur die rabbi’s van Jerusalem verag as onbeskof en ongeletterd, maar tog was hulle ‘n gunstiger veld vir die werk van die Heiland. Hulle was meer ernstig en meer opreg; minder onder die beheer van dweepsug; hulle gedagtes was meer ontvanklik vir die waarheid. Toe Jesus na Galiléa gegaan het was dit nie om afsondering te soek of Homself te isoleer nie. Die provinsie was op daardie stadium die tuiste van ‘n oorvol bevolking, met ‘n veel groter mengsel van mense van ander nasies as wat in Judea die geval was. DKvDE 226.2

Terwyl Jesus deur Galiléa gereis het en onderrig gegee en genees het, het menigtes uit die stede en dorpe na Hom gestroom. Baie het selfs uit Judea en aangrensende provinsies gekom. Dikwels was Hy verplig om Homself vir die mense te verberg. Die geesdrif het so hoog geloop dat voorsorg getref moes word om nie vrees vir ‘n opstand by die Romeinse owerhede te laat ontstaan nie. Daar was nog nooit voorheen ‘n tydperk soos hierdie in die wêreld nie. Die hemel is na die mens afgebring. Honger en dorstige siele wat lank op die verlossing van Israel gewag het, het nou die genade van ‘n barmhartige Verlosser ingedrink. DKvDE 226.3

Die hooftema van Christus se prediking was: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” So is die evangelie-boodskap wat deur die Heiland self verkondig is, op die profesieë gebaseer. Die “tyd” wat Hy verklaar het wat vervul was, was die tydperk wat deur die engel Gabriël aan Daniël bekend gemaak is. “Sewentig sewetalle...” het die engel gesê, “...is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.” (Daniël 9:24). ‘n Dag in profesie verteenwoordig ‘n jaar (Sien Numeri 14:34; Esegiël 4:6). Die sewentig weke, of vierhonderd-en-negentig dae, verteenwoordig vierhonderd-en-negentig jaar. ‘n Uitgangspunt vir hierdie tydperk word verstrek: “Nou moet jy weet en verstaan; van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle-nege-en-sestig weke, of vierhonderd-drie-en-tagtig jaar.” (Daniël 9:25). Die bevel om Jerusalem te herstel en op te bou, soos deur die dekreet van Artasasta Longimanus voltooi, (Esra 6:14; 7:1, 9) het in die herfs van 457 vC in werking getree. Van hierdie tyd af strek vierhonderd-drie-en-tagtig jaar tot in die herfs van 27 nC. Volgens die profesie sou hierdie tydperk tot by die Messias, die Gesalfde, strek. In 27 nC het Jesus met Sy doop die salwing van die Heilige Gees ontvang en kort daarna met Sy bediening begin. Toe is die boodskap verkondig: “Die tyd is vervul.” DKvDE 227.1

“Dan sou Hy...” het die engel gesê, “...een week lank [sewe jaar] met baie ‘n sterk verbond sluit.” Sewe jaar nadat die Heiland sy bediening betree het, is die evangelie hoofsaaklik aan die Jode verkondig; vir drie en ‘n half jaar deur Christus self en daarna deur die apostels. “Gedurende die helfte van die week sal Hy slagoffer en spysoffer laat ophou.” (Daniël9:27). In die lente van 31 nC is Christus, die ware Offer op Golgota geoffer. Toe is die voorhangsel van die tempel in twee geskeur, om te toon dat die heiligheid en geldigheid van die offerstelsel weggeval het. Die tyd het aangebreek dat die aardse offer en spysoffer gestaak word. DKvDE 228.1

Die een week-sewe jaar-het in 34 nC ten einde geloop. Toe, deur die steniging van Stefanus, het die Jode hul verwerping van die evangelie finaal verseël; die dissipels wat deur vervolging verstrooi is “...het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig”; kort daarna het Saulus, die vervolger, tot bekering gekom en het hy Paulus, die apostel vir die heidene geword. DKvDE 228.2

Die tyd van Christus se koms, Sy salwing deur die Heilige Gees, Sy dood en die verkondiging van die evangelie aan die heidene, is duidelik uitgewys. Dit was die voorreg van die Joodse volk om hierdie profesieë te verstaan en die vervulling daarvan in die sending van Jesus te herken. Christus het die belangrikheid van die profetiese studies by Sy dissipels beklemtoon. Met verwysing na die profesie wat aan Daniël aangaande hulle tyd gegee is, het Hy gesê: “Laat hy wat lees, oplet.” (Mattheus 24:15). Na Sy opstanding het Hy van “...al die profete af ... die dinge wat op Hom betrekking het...” aan die dissipels verduidelik. (Lukas 24:27). Die Heiland het deur al die profete gepraat. “Die Gees van Christus wat in hulle was...” het “...vooruit getuig ... van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna.” (1 Petrus 1:11). DKvDE 228.3

Dit was die engel Gabriël, volgende in rang na die Seun van God, wat die Goddelike boodskap aan Daniël gebring het. Dit was Gabriël, “...Sy engel...” wat Christus gestuur het om die toekoms aan die geliefde Johannes te openbaar; en ‘n seën word oor hulle wat die woorde van die profesie leer en hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, uitgespreek. (Sien Openbaring 1:3). DKvDE 228.4

“Die Here Here doen niks tensy Hy Sy raadsbesluit aan Sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.” (Amos 3:7) Terwyl die “...verborge dinge... ” vir die Here onse God is, is die “...geopenbaarde dinge ... vir ons en ons kinders tot in ewigheid.” (Deuteronomium 29:29). God het hierdie dinge aan ons gegee en Sy seën sal op die eerbiedige en biddende bestudering van die profetiese geskrifte rus. DKvDE 229.1

Soos die boodskap van Christus se eerste koms die koninkryk van Sy genade aangekondig het, so kondig die boodskap van Sy wederkoms die koninkryk van Sy heerlikheid aan. En die tweede boodskap, soos die eerste, is op die profesieë gebaseer. Die woorde van die engel aan Daniël met betrekking tot die laaste dae, sou in die tyd van die einde verstaan word. In daardie tyd sal “...baie ... dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.” (Daniël 12:4) “Die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan.” (Daniël 12:10) Die Heiland het self die tekens van Sy koms gegee en Hy het gesê: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.” (Lukas 21:31). “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.” (Lukas 21:34). “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” (Lukas 21:36). DKvDE 229.2

Ons het die tydperk wat in hierdie skrifgedeeltes voorspel word, bereik. Die tyd van die einde het aangebreek, die visioene van die profete is nie meer verseël nie en hul plegtige waarskuwings wys ons dat die koms van ons Here in heerlikheid naby is. Die Jode het die Woord van God verkeerd vertolk en verkeerd toegepas en hulle het nie die dag van hul besoeking geken nie. Die jare van die bediening van Christus en Sy apostels-die kosbare laaste jare van genade vir die uitverkore volk-het hulle aan sameswerings om die boodskappers van die Here te vernietig, bestee. Wêreldse ambisies het hulle aandag in beslag geneem en die geestelike koninkryk het tevergeefs tot hulle gekom. Ook vandag neem die koninkryk van hierdie wêreld mense se gedagtes in beslag en hulle neem geen notisie van die spoedige vervulling van die profesieë en tekens van die spoedige koms van die koninkryk van God nie. DKvDE 229.3

“Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.” Alhoewel ons nie die uur van ons Here se wederkoms ken nie, weet ons wel dat dit naby is. “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.” (1 Thessalonicense 5:4-6) DKvDE 230.1