Die Verhaal Van Profete en Konings

20/69

Hoofstuk 16—Die Val van die Huis van Agab*

Die bose invloed wat Isébel vanuit die staanspoor oor Agab uitgeoefen en wat gedurende die later jare van sy lewe voortgeduur het, het vrugte in dade van skande en geweld, soos selde in die heilige geskiedenis geëwenaar is, gedra. “Waarlik, daar was niemand soos Agab wat homself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE nie, omdat sy vrou Isébel hom verlei het.” (1 Kon 21:25). DVvPEk 154.1

Van nature hebsugtig van aard, wat versterk en in bose werke deur Isébel aangehits is, het hy die voorskrifte van sy bose hart gevolg totdat hy ten volle deur die gees van selfsug beheer is. Hy sou geen weiering van sy wense duld nie; die dinge wat hy begeer het, het volgens sy mening, na regte aan hom behoort. DVvPEk 154.2

Hierdie oorheersende eienskap van Agab, wat so ‘n nadelige invloed op die voorspoed van die koninkryk in die bewind van sy opvolgers gehad het, is openbaar in ‘n voorval wat plaasgevind het terwyl Elia nog ‘n profeet in Israel was. Reg langs die koning se paleis, was ‘n wingerd wat aan Nabot, die Jisreëliet, behoort het. Agab het sy hart op die besit van hierdie stuk grond gehad en het hom voorgeneem om dit te koop, of dit vir ‘n ander stuk grond te verruil. “En Agab het met Nabot gespreek en gesê: Gee my jou wingerd, dat dit my groentetuin kan word, want dit is naby, langsaan my huis; dan sal ek jou in die plek daarvan ‘n wingerd gee wat beter is; of as dit goed is in jou oë, sal ek jou die koopprys daarvan in silwer gee.” DVvPEk 154.3

Nabot het hoë waarde aan hierdie wingerd geheg, want dit het aan sy voorvaders behoort en hy het geweier om daarvan afstand te doen. “Mag die HERE my daarvoor bewaar dat ek die erfdeel van my vaders aan u sou gee!” (1 Kon 21:3) Volgens die Levitiese kode kon geen grond permanent verkoop of verruil word nie; elkeen van die kinders van Israel moes “...elkeen die erfdeel van die stam van sy vaders vashou.” (Num 36:7) DVvPEk 154.4

Nabot se weiering het die selfsugtige heerser letterlik siek gemaak. “Toe kom Agab in sy huis, verbitterd en toornig oor die woord wat Nabot, die Jisreëliet, met hom gespreek het ... En hy het op sy bed gaan lê en sy gesig omgedraai en geen brood geëet nie.” (Vers 4) DVvPEk 155.1

Isébel het spoedig die besonderhede uitgevind en was verontwaardig dat enigiemand die versoek van die koning geweier het; sy het Agab verseker dat hy hom nie langer moet ontstel nie. “Toe sê sy vrou Isébel vir hom: Oefen jy nou die koningskap oor Israel uit? Staan op, eet brood en laat jou hart vrolik wees: ek sal jou die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, gee.” (Vers 7) DVvPEk 155.2

Agab het nie omgegee hoe sy vrou hierdie begeerlike doel sou bereik nie en Isébel het onmiddellik haar bose plan in werking gestel. Sy het briewe in die naam van die koning geskryf, dit met sy seël verseël en dit na die ouderlinge en hooggeplaastes van die stad waar Nabot gewoon het, gestuur met die volgende opdrag: “Roep ‘n vasdag uit en sit Nabot vooraan onder die volk; en sit twee manne, deugniete, teenoor hom, wat teen hom getuig en sê: Jy het God en die koning gevloek! Lei hom dan uit en stenig hom, dat hy sterwe.” (Verse 9, 10) DVvPEk 155.3

Die bevel is gehoorsaam. “Die manne van sy stad, die oudstes en die edeles ... maak toe soos Isébel hulle laat weet het, soos geskrywe was in die briewe wat sy aan hulle gestuur het.” (Vers 11) Daarna het Isébel na die koning gegaan en hom gebied om op te staan en die wingerd oor te neem. En Agab, ongeag die gevolge, het haar raad blindelings gevolg en afgegaan en die begeerde eiendom in besit geneem. DVvPEk 155.4

Die koning was nie toegelaat om dít wat hy deur bedrog en bloedvergieting bekom het, ongestraf te benut nie. “Maar die woord van die HERE het tot Elía, die Tisbiet, gekom en gesê: Maak jou klaar, gaan af Agab, die koning van Israel, wat in Samaría is, tegemoet; kyk, hy is in die wingerd van Nabot, waarheen hy afgegaan het om dit in besit te neem. En jy moet met hom spreek en sê: So sê die HERE: Het jy doodgeslaan en ook in besit geneem?” (Verse 17,18) Verder is Elia deur God opdrag gegee om ‘n skrikwekkende oordeel oor Agab te vel. DVvPEk 156.1

Die profeet het hom gehaas om die Goddelike opdrag uit te voer. Die skuldige heerser, wat die streng boodskapper van Jehova van aangesig tot aangesig in die wingerd ontmoet het, het sy verskrikte vrees in die volgende woorde geuiter: “Het jy my gekry, my vyand?” DVvPEk 156.2

Sonder huiwering het die HERE se boodskapper geantwoord: “Ek het u gekry, omdat u uself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE! Kyk, Ek gaan onheil bring oor jou” (Verse 20,21) Geen genade is betoon nie. Die huis van Agab is geheel en al verwoes “...soos die huis van Jeróbeam, die seun van Nebat en soos die huis van Baésa, die seun van Ahía; weens die geterg waarmee jy My geterg het en dat jy Israel laat sondig het.” (Vers 22) DVvPEk 156.3

En aangaande Isébel het die HERE verklaar: “Die honde sal Isébel eet by die voorskans van Jísreël. Die een wat van Agab in die stad sterwe, hom sal die honde eet en wie in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet.” (Verse 23, 24) DVvPEk 156.4

Toe die koning hierdie verskriklike boodskap hoor, “...het hy sy klere geskeur en -'n roukleed om sy lyf gebind en gevas; hy het ook met die roukleed geslaap en stadig rondgeloop.” DVvPEk 156.5

“Toe kom die woord van die HERE tot Elía, die Tisbiet en sê: Het jy gesien dat Agab hom voor my aangesig verneder het? Omdat hy hom voor my aangesig verneder het, sal Ek die onheil in sy dae nie bring nie; in die dae van sy seun sal Ek die onheil oor sy huis bring.” (Verse 28,29) DVvPEk 156.6

Dit was minder as drie jaar later dat Koning Agab in die hande van die Arameërs gesneuwel het. Sy opvolger, Ahasia, “...het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE — hy het gewandel in die weg van sy vader en in die weg van sy moeder en in die weg van Jeróbeam ... En hy het Baal gedien en voor hom neergebuig en die HERE, die God van Israel, geterg, net soos sy vader gedoen het” (1 Kon 22:52,53) Maar die oordele het kort op die sondes van die opstandige koning gevolg. ‘n Noodlottige oorlog teen Moab en daarna ‘n ongeluk waardeur sy eie lewe bedreig was, het getuig van God se toorn teen hom. DVvPEk 157.1

Nadat hy “...deur die tralievenster in sy bo-kamer, in Samaria, geval en siek geword [het] ... stuur hy boodskappers uit en sê vir hulle: Gaan raadpleeg Baal-Sebub, die god van Ekron, of ek van hierdie siekte gesond sal word.” Die god van Ekron was veronderstel om, deur middel van die priesters, aan hom inligting aangaande toekomstige gebeure te verskaf. Mense het in groot getalle gegaan om daaroor navraag te doen; maar die voorspellings wat gemaak is en die inligting wat verskaf is, was van die prins van die duisternis afkomstig. DVvPEk 157.2

Ahasia se diensknegte is deur ‘n man van God ontmoet wat hulle beveel het om na die koning terug te keer met die boodskap: “Gaan julle, omdat daar glad geen God in Israel is nie, om Baal-Sebub, die god van Ekron, te raadpleeg? Daarom dan, so sê die HERE: Van die bed waar jy op geklim het, sal jy nie afkom nie, want jy sal sekerlik sterwe.” (2 Kon 1:3,4) Nadat Elía die boodskap gelewer het, het hy vertrek. DVvPEk 157.3

Die verbaasde boodskappers het haastig na die koning teruggekeer en aan hom die woorde van die man van God herhaal. Die koning het gevra: “Hoe was die voorkoms van die man wat opgekom het julle tegemoet?” Hulle het geantwoord: “‘n Man met ‘n harige mantel en omgord met ‘n leergord om sy heupe.” “Toe sê hy: Dit is Elía, die Tisbiet!” Hy het geweet dat indien die vreemdeling met wie sy boodskappers ontmoet het in der waarheid Elia was, die woorde van verdoemenis wat uitgespreek is, verseker sou plaasvind. Angstig om, indien moontlik, die dreigende oordeel te voorkom, het hy besluit om te stuur vir die profeet. DVvPEk 157.4

Ahasia het twee keer sy soldate na Elia gestuur om die profeet te intimideer en twee keer het die oordeel van die toorn van God oor hulle gekom. Die derde afdeling soldate het hulle voor God verneder en hul kaptein het, toe hy die boodskapper van die HERE nader, “...op sy knieë voor Elía gebuig en hom gesmeek en vir hom gesê: Man van God, laat tog my lewe en die lewe van u dienaars, hierdie vyftig, kosbaar wees in u oë!” (2 Kon 1:13) DVvPEk 158.1

“Toe sê die Engel van die HERE vir Elía: Gaan saam met hom af; wees nie bevrees vir hom nie. En hy het opgestaan en saam met hom na die koning afgegaan en met hom gespreek: So sê die HERE: Omdat jy boodskappers gestuur het om Baal-Sebub, die god van Ekron, te raadpleeg — is dit omdat daar glad geen God in Israel is om sy woord te raadpleeg nie? — daarom sal jy van die bed waar jy op geklim het, nie afkom nie, want jy sal sekerlik sterwe.” (Verse 14,15) DVvPEk 158.2

Gedurende sy vader se bewind het Ahasia die wonderwerke van die Allerhoogste gesien. Hy het die verskriklike bewyse wat God aan afvallige Israel gegee het van hoe Hy diegene ag wat die bindende eise van Sy wet verontagsaam, gesien. Ahasia het gehandel asof hierdie werklikhede slegs fabels was. In stede daarvan dat hy sy hart voor die HERE verootmoedig, het hy Baal gevolg en uiteindelik het hy hierdie, sy waaghalsigste daad van goddeloosheid gewaag. Opstandig en onwillig om hom te bekeer, het Ahasia “...gesterwe volgens die woord van die HERE wat Elía gespreek het.” (Vers 17) DVvPEk 158.3

Die geskiedenis van koning Ahasia se sonde en die gevolglike straf, bevat ‘n waarskuwing wat deur niemand, strafloos, verontagsaam kan word nie. Mense mag vandag nie noodwendig eer aan heidense afgode betoon nie, maar tog aanbid duisende net so seker by Satan se heiligdomme as wat die koning van Israel gedoen het. Die gees van afvalligheid kom tans algemeen voor, alhoewel dit onder die invloed van wetenskap en opleiding ‘n meer verfynde en aantreklike vorm aangeneem het as in die dae toe Ahasia die god van Ekron opgesoek het. Elke dag is die tragiese bewyse dat geloof in die seker woord van die profesieë aan die afneem is en dat bygeloof en sataniese heksery in die plek daarvan die gedagtes van baie mense betower. DVvPEk 158.4

Vandag word die misterie van heidense aanbidding vervang met geheime organisasies en kontak met die dode, die onbekende en wonderwerke van spiritistiese mediums. Die onthullings van hierdie mediums word gretig deur duisende, wat weier om die lig uit die woord van God of deur Sy Gees aan te neem, aanvaar. Diegene wat in spiritisme glo, mag neerhalend van die towenaars van ouds praat, maar die groot verleier lag in oorwinning wanneer hulle aan sy towerkunste in ‘n ander vorm toegee. DVvPEk 159.1

Daar is diegene wat sidder by die gedagte om geeste deur mediums te raadpleeg, maar wat deur meer aangename vorms van spiritisme aangetrek word. Ander dwaal af deur die leer van Christian Science en deur die misterie van teosofie en ander Oosterse godsdienste. DVvPEk 159.2

Die apostels van feitlik alle vorms van spiritisme, beweer dat hulle oor die mag beskik om te genees. Hulle skryf hierdie eienskappe toe aan elektrisiteit, magnetisme, die sogenaamde “simpatieke geneesmiddels”; of aan latente magte in die verstand van die mens. En dis nie ‘n geringe aantal wat, selfs in hierdie Christen-era, na hierdie genesers gaan in stede van te vertrou op die mag van die lewende God en die vaardighede van goed-gekwalifiseerde geneeshere. Die moeder wat by die siekbed van haar kind waak, roep uit: “Ek kan nie meer nie. Is daar geen dokter wat by magte is om my kind te help nie?” Sy word vertel van die wonderlike genesing wat deur ‘n heldersiende of magnetiese geneser gedoen word en sy vertrou haar geliefde aan sy oordeel toe en plaas haar kind so seker in die hand van Satan asof hy langs haar staan. In baie gevalle word die toekomstige lewe van hierdie kind deur ‘n sataniese mag beheer wat blyk of dit onmoontlik is om te verbreek. DVvPEk 159.3

God het rede gehad om ontevrede met Ahasia se goddeloosheid te wees. Wat het Hy nie alles gedoen om die harte van die mense van Israel te wen en hulle te inspireer om hulle vertroue in Hom te stel nie? Vir lank het Hy aan sy volk manifestasies van ongeëwenaarde bewyse van welwillendheid en liefde gelewer. Van die begin af het Hy getoon dat “...My verlustiginge was met die mensekinders.” (Spr 8:31) Hy was ‘n immer teenwoordige Hulp vir almal wat opreg na Hom gesoek het. Maar nou het die koning van Israel, wat van God weggedraai het om hulp by die grootste vyand van Sy volk te soek, aan die heidene verklaar dat hy meer vertroue in hulle afgode as in die God van die hemel het. Op dieselfde wyse onteer manne en vroue Hom wanneer hulle van die Oorsprong van krag en wysheid wegdraai om hulp of raad by die magte van die duisternis te soek. As God se toorn deur Ahasia se optrede opgevlam het, hoe beskou Hy diegene wat groter lig het, maar verkies om dieselfde weg te volg? DVvPEk 160.1

Diegene wat hulself aan die towerkunste van Satan oorgegee het, mag spog met die groot voordeel wat hulle daaruit getrek het; maar bewys dit dat die koers wat hulle volg wys of veilig is? Wat daarvan as die lewe verleng sou word? Wat daarvan as tydelike wins verkry word? Sal dit op die ou einde lonend wees om die wil van God te verontagsaam? Al sulke skynbare voordele sal uiteindelik bewys ‘n onherstelbare verlies te wees. Ons kan nie sonder straf ‘n enkele skans wat God opgerig het om sy volk teen die mag van Satan te beskerm, afbreek nie. DVvPEk 160.2

Aangesien Ahasia nie ‘n seun gehad het nie, is hy deur Joram, sy broer, opgevolg, wat twaalf jaar lank oor die tien stamme regeer het. Tydens hierdie jare het sy moeder, Isébel, nog geleef en sy het voortgegaan om haar bose invloed op die land se sake uit te oefen. Afgodiese praktyke is steeds deur baie mense beoefen. Joram self het “...gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, maar nie soos sy vader en sy moeder nie, want hy het die klippilaar van Baal verwyder wat sy vader gemaak het. Maar hy het die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het, aangekleef sonder om daarvan af te wyk.” (2 Kon 3,2,3) DVvPEk 161.1

Dit was gedurende die regering van Joram oor Israel dat Josafat gesterf het en die seun van Josafat, wat ook Joram geheet het, die troon van Juda bestyg het. Deur sy huwelik met die dogter van Agab en Isébel, was Joram van Juda nou verwant aan die koning van Israel en gedurende sy heerskappy het hy Baal nagevolg “...soos die huis van Agab gedoen het.” “Hy het ook hoogtes op die berge van Juda gemaak en die inwoners van Jerusalem laat hoereer en Juda verlei.” (2 Kron 21:6,11) DVvPEk 161.2

Die koning van Juda was nie toegelaat om sonder bestraffing met sy afgryslike afvalligheid voort te gaan nie. Die profeet Elia was nog nie in die hemel opgeneem nie en hy het stilswyend toekyk hoe die koninkryk van Juda dieselfde weg, wat die noordelike koninkryk tot op die rand van ondergang gebring het, volg. Die profeet het aan Joram van Juda ‘n skrywe gestuur waarin die bose koning die volgende skrikwekkende woorde gelees het : DVvPEk 161.3

“So spreek die HERE, die God van u vader Dawid: Omdat u in die weë van u vader Jósafat en in die weë van Asa, die koning van Juda, nie gewandel het nie, maar gewandel het in die weg van die konings van Israel en Juda en die inwoners van Jerusalem laat hoereer het volgens die hoererye van die huis van Agab en selfs u broers, die huis van u vader, vermoor het, wat beter was as u — kyk, die HERE sal ‘n groot plaag stuur onder u volk en onder u seuns en onder u vroue en onder al u goed en u self sal aan baie siektes ly, aan ‘n siekte van u ingewande, totdat u ingewande vanweë die siekte uitkom, jare lank.” (2 Kron 21:12-15) DVvPEk 161.4

Ter vervulling van hierdie profesie: “...toe verwek die HERE teen Joram die gees van die Filistyne en van die Arabiere wat langsaan die Hussiete is — hulle het teen Juda opgetrek en dit verower en al die goed weggevoer wat in die huis van die koning te vinde was, selfs ook sy seuns en sy vroue, sodat daar vir hom geen seun oorgebly het nie, behalwe Jóahas, die jongste van sy seuns.” DVvPEk 162.1

“En ná dit alles het die HERE hom in sy ingewande aangetas met ‘n siekte waar geen genesing voor was nie. En ná enige tyd, naamlik teen die einde van die tweede jaar... [het] hy onder hewige pyne gesterf.” “En sy seun Ahásia het in sy plek koning geword.” (2 Kron 21:16-19;2 Kon 8:24) DVvPEk 162.2

Joram, Agab se seun, het steeds oor die koninkryk van Israel regeer toe sy neef, Ahasia, die troon van Juda bestyg het. Ahasia het slegs een jaar regeer en is gedurende hierdie tyd deur sy moeder, Atalia, beïnvloed wat “...sy raadgeefster om goddeloos te handel [was].” “En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE soos die huis van Agab.” (2 Kron 22:3,4;2 Kon 8:27) Isébel, sy ouma, het nog geleef en hy het homself met vrymoedigheid met sy oom, Joram van Israel, vereenselwig. DVvPEk 162.3

Ahasia van Juda het spoedig tot ‘n tragiese einde gekom. Die oorlewende lede van die huis van Agab was inderdaad “...sy raadgewers ná die dood van sy vader, hom tot ‘n verderf.” (2 Kron 22:4) Terwyl Ahasia besoek afgelê het by sy oom in Jisreël, is die profeet Elisa deur Goddelike bemiddeling aangesê om een van die seuns van die profete na Ramot-Gilead te stuur om Jehu as koning oor Israel te salf. Die gekombineerde magte van Juda en Israel was destyds besig met ‘n militêre veldtog teen die Arameërs van Ramot-Gilead. Joram is in die geveg gewond en het na Jisreël teruggekeer en Jehu in bevel van die koninklike magte gelaat. DVvPEk 162.4

Met die salwing van Jehu het Elisa se boodskapper verklaar: “So spreek die HERE, die God van Israel: Ek salf jou as koning oor die volk van die HERE, oor Israel.” En hy het plegtig aan Jehu ‘n spesiale opdrag vanuit die hemel gegee: “En jy sal die huis van Agab, jou heer, verwoes, sodat Ek die bloed van My knegte, die profete en die bloed van al die knegte van die HERE op Isébel kan wreek; en die hele huis van Agab sal omkom.” (2 Kon 9:6¬8) DVvPEk 163.1

Nadat die leër hom as koning verklaar het, het Jehu hom na Jisreël gehaas waar hy met die werk begin het om diegene wat doelbewus gekies het om in sonde voort te gaan en ander in sonde te lei, tereg te stel. Joram van Israel, Ahasia van Juda en Isébel, die koninginmoeder, het “...Jehu almal dood [geslaan] van die huis van Agab wat in Jísreël oor was en al sy grotes en sy vertroudes en sy priesters ... Al die profete van Baal, al sy dienaars en al sy priesters...” wat te midde van Baal-aanbidding naby Samaria woonagtig was, het hy om die lewe gebring. Die afgodsbeelde is afgebreek en verbrand en die tempel van Baal is in puin gelê. “So het Jehu dan Baal uit Israel uit verdelg.” (2 Kon 10:11,19,28) DVvPEk 163.2

Tydings van hierdie teregstelling het Atalia, Isébel se dogter, wat steeds ‘n hoë posisie in die koninkryk van Juda beklee het, bereik. Toe sy sien dat haar seun, die koning van Juda, dood was “...het sy haar gereedgemaak en die hele koninklike geslag van die huis van Juda omgebring.” In hierdie massamoord is Dawid se hele nageslag wat opvolgers van sy troon was omgekom, behalwe ‘n baba genaamd Joas wat deur die vrou van die hoëpriester, Jojada, binne die tempel versteek is. “En hy was by hulle in die huis van God ses jaar lank verborge, terwyl Atália oor die land regeer.” (2 Kron 22: 10,12) DVvPEk 163.3

Aan die einde van hierdie periode het “...die Leviete en die hele Juda ... gedoen net soos die priester Jójada beveel het...” (2 Kron 23:8) en met Jojada, die hoëpriester verenig om die kind Joas as hul koning te salf. “En hulle het hom koning gemaak en hom gesalf en met die hande geklap en gesê: Mag die koning lewe!” (2 Kon 11:12) DVvPEk 163.4

“En toe Atália die stem van die mense hoor wat toestroom en die koning toejuig, het sy na die volk in die huis van die HERE gekom.” (2 Kron 23:12) “En toe sy die koning sien staan op sy verhoog by die ingang en die owerstes en die trompetblasers by die koning en dat die hele volk van die land bly is en op die trompette blaas ... skeur Atália haar klere en roep uit: Verraad, verraad!” (Vers 13) Maar Jojada het die offisiere beveel om Atalia en haar volgelinge te gryp en hulle uit die tempel na ‘n plek waar hulle tereggestel sou word, te neem. DVvPEk 164.1

So het die laaste lid van die huis van Agab omgekom. Die afskuwelike boosheid wat deur sy verbintenis met Isébel gepleeg is, het voortgeduur totdat die laaste van sy nageslag vernietig is. Selfs in die land van Juda, waar die aanbidding van die ware God nooit formeel verontagsaam is nie, het Atalia daarin geslaag om baie te mislei. Onmiddellik na die teregstelling van die onberouvolle koningin, het “...die hele volk in die tempel van Baal ingegaan en dit afgebreek en sy altare en sy beelde stukkend geslaan en Mattan, die priester van Baal, voor die altare gedood.” (Vers 17) DVvPEk 164.2

'n Hervorming het hierop gevolg. Diegene wat deel was van die goedkeuring van Joas as koning, het plegtig onderneem “...dat hulle ‘n volk van die HERE sou wees.” En noudat die bose invloed van Isébel se dogter uit die koninkryk van Juda verwyder is en die Baalpriesters om die lewe gebring en hul tempel vernietig is, was “...die hele volk van die land ... bly en die stad was rustig.” (2 Kron 23:16,21) DVvPEk 164.3