Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 17—Die Roeping van Elisa
God het Elia gebied om ‘n ander profeet in sy plek te salf. “Elísa, die seun van Safat ... moet jy salf as profeet in jou plek...” (1 Kon 19:16), het God gesê en gehoorsaam aan die bevel, het Elia gegaan om Elisa te vind. Soos hy noordwaarts gereis het, het hy opgemerk hoe anders die toneel daar uitgesien het in vergeleke met hoe dit ‘n kort tydperk vantevore was! Toe was die grond uitgedroog en die landerye onbewerk, want dou en reën het drie en ‘n half jaar lank nie geval nie. Nou het die plantegroei oral heen opgekom, asof om te vergoed vir die tyd van droogte en hongersnood. DVvPEk 165.1
Elisa se vader was ‘n welgestelde boer, ‘n man wie se huishouding onder die getal was wat in ‘n tyd van byna universele afvalligheid, nie die knie voor Baal gebuig het nie. Hulle huis was ‘n tuiste waar God vereer is en waar die geloof van antieke Israel die daaglikse reël was. In sodanige omgewing het Elisa sy vroeëre jare deurgebring. In die stilte van die natuur, onder die onderrig van God en die natuur en die dissipline van nuttige werk, is hy in eenvoudige gewoontes en gehoorsaamheid aan sy ouers en aan God, wat gehelp het om hom toe te rus vir die verhewe posisie wat hy later sou vul, opgelei. DVvPEk 165.2
Die profetiese roeping het tot Elisa gekom terwyl hy saam met sy vader se diensknegte besig was om te ploeg. Hy het die werk naaste aan hom opgeneem. Hy het oor beide die eienskappe van ‘n leier onder mense, asook die nederigheid van een wat bereid was om te dien, beskik. Met ‘n stil en sagte geaardheid, was hy desnieteenstaande energiek en standvastig. Integriteit, getrouheid en die liefde en vrees vir God was eie aan hom en in die nederige roetine van daaglikse werk het hy krag en doelgerigtheid van karakter verwerf en voortdurend gegroei in genade en kennis. Terwyl hy, in samewerking met sy vader, die huislike pligte verrig het, het hy geleer om met God saam te werk. DVvPEk 165.3
Deur getrouheid in die klein dingetjies, het Elisa homself vir meer gewigtige verantwoordelikhede voorberei. Dag vir dag, deur praktiese ondervinding, het hy bekwaamheid opgedoen vir ‘n breedvoeriger, hoër taak. Hy het geleer om te dien; en daardeur het hy ook geleer hoe om te onderrig en te lei. Die les geld vir almal. Niemand weet wat God se doel vir ‘n persoon in Sy dissipline is nie; maar almal kan seker wees dat getrouheid in klein dingetjies, die bewys van geskiktheid vir groter verantwoordelikhede is. Elke daad in die lewe is ‘n openbaring van karakter en slegs hy wat homself in die geringe pligte bewys “...as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie...” kan deur God vereer word met hoër diens. (2 Tim 2:15). DVvPEk 166.1
Hy wat meen dat die wyse waarop hy geringe takies verrig van geen belang is nie, is ongeskik vir ‘n meer geërde posisie. Hy mag dink dat hy ten volle bevoeg is om groter take te verrig, maar God kyk dieper as die oppervlakte. Na toetse en beproewings word die volgende reël op hom van toepassing: “U is op die weegskaal geweeg en te lig bevind.” (Dan 5:27). Sy ontrouheid keer terug na homself. Hy versuim om die genade, krag en sterkte van karakter wat deur onvoorwaardelike oorgawe verkry word, te verwerf. DVvPEk 166.2
Omdat hulle nie aan werk, wat met ‘n direkte godsdienstige taak verband hou, gekoppel word nie, voel baie dat hul lewens nutteloos is en dat hulle niks doen vir die bevordering van die koninkryk van God nie. As hulle een of ander groot taak kon verrig, sou hulle dit met graagte onderneem! Maar omdat hulle slegs in die klein geringe takies dien, dink hulle hulle is geregverdig om niks te doen nie. Dit is ‘n verkeerde opvatting. DVvPEk 166.3
'n Mens kan steeds, terwyl hy besig is met gewone, alledaagse take, soos die afkap van bome, skoonmaak van die grond, of die omploeg van landerye, in aktiewe diens vir die HERE betrokke wees. Die moeder wat haar kinders vir Christus opvoed, is net so werksaam vir God soos die predikant op die preekstoel. DVvPEk 166.4
Baie verlang ‘n spesiale talent waarmee hulle ‘n wonderlike werk kan verrig, terwyl die take wat byderhand is uit die oog verloor word, die uitvoer waarvan kleur aan die lewe gegee word. Laat diesulkes die take onderneem wat direk op hulle pad lê. Sukses hang nie noodwendig van die talent af nie, maar van die energie en gewilligheid. Dit is nie die besit van uitsonderlike talente wat ons in staat stel om diens te lewer nie, maar die pligsgetroue uitvoer van daaglikse pligte, die tevrede gees, die ongedwonge, opregte belangstelling in die welstand van ander. In die nederigste omstandighede kan ware uitnemendheid gevind word. Die algemeenste take wat met liefdevolle getrouheid uitgevoer word, is aanneemlik in God se oë. DVvPEk 167.1
Terwyl Elia, in Goddelike opdrag op soek was na ‘n opvolger en verby die landery waar Elisa geploeg het beweeg het, het hy die mantel van toewyding op die jong man se skouers gewerp. Tydens die hongersnood het die familie van Safat vertroud met die werk en missie van Elia geraak en nou het die Gees van God Elisa se hart beïndruk aangaande die betekenis van die profeet se optrede. Vir hom was dit die teken dat God hom geroep het om Elia se opvolger te wees. DVvPEk 167.2
“Daarop het hy die osse verlaat en agter Elia aan geloop en gesê: Laat ek tog my vader en my moeder soen; daarna sal ek u volg.” Elia antwoord hom: “Gaan terug, want wat het ek aan jou gedoen?” Hierdie was nie ‘n wegwysing nie, maar wel ‘n geloofstoets. Elisa moes die koste beraam - vir homself besluit om die oproep te aanvaar of te verwerp. As sy begeertes aan sy tuiste en die gepaardgaande voordele verknog was, was hy vry om daar te bly. Maar Elisa het die betekenis van die oproep begryp. Hy het geweet dat dit van God afkomstig was en het nie gehuiwer om te gehoorsaam nie. Vir geen wêreldse voordeel sou hy die geleentheid om God se boodskapper te word verbeur, of die voorreg van samewerking met sy dienskneg opoffer nie. “Hy draai toe agter hom om en neem die paar osse en slag dit; en met die osse se trekgoed het hy hulle vleis gekook en aan die mense gegee en hulle het geëet; daarna het hy hom klaargemaak en Elía gevolg en hom gedien.” (2 Kon 19:19,20) DVvPEk 167.3
Indien Elisa vir Elia sou gevra het wat van hom verwag word — wat sy werk sou behels — sou die antwoord gewees het: God weet; Hy sal dit aan jou bekend maak. As jy op die HERE wag sal Hy jou elke vraag beantwoord. Jy kan jy saam met my gaan as jy daarvan oortuig is dat God jou geroep het. Weet net dat God agter my staan en dat dit Sy stem is wat jy hoor. Indien jy alles as nietig kan beskou sodat jy die guns van God kan wen, kom dan. DVvPEk 168.1
Soortgelyk aan die oproep wat na Elisa gekom het, was die antwoord wat Christus aan die jong heerser gegee het wat Hom gevra het: “Watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?” waarop Christus geantwoord het: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes en jy sal ‘n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.” (Matt 19:16,21) DVvPEk 168.2
Elisa het die oproep tot diens, sonder ‘n terugblik op die plesiere en geriewe wat hy agterlaat het, aanvaar. Die ryk jong heerser, toe hy die Verlosser se woorde hoor, het “...bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad.” (Vers 22) Hy was nie gewillig om die opoffering te maak nie. Sy liefde vir besittings was groter as sy liefde vir God. Deur sy weiering om alles vir Christus op te offer, het hy homself as onwaardig vir ‘n plek in die Meester se diens bewys. DVvPEk 168.3
Die oproep om alles op die altaar van diens te offer, word aan elkeen gerig. Ons word nie almal gevra om te dien soos Elisa gedien het nie en ook nie versoek om alles wat ons besit te verkoop nie, maar God vra dat ons die eerste plek in ons lewens aan Sy diens sal gee; om nie toe te laat dat ‘n enkele dag verbygaan sonder om iets te doen wat Sy werk op die aarde sal bevorder nie. Hy verwag nie van almal dieselfde tipe van diens nie. Die een mag opgeroep word tot ‘n bediening in ‘n vreemde land; van ‘n ander mag gevra word om van sy middele te skenk vir evangelisasiewerk. God aanvaar elkeen se offer. Dit is die toewyding van die lewe en alle belange, wat nodig is. Diegene wat hierdie toewyding maak, sal die oproep van die Hemel hoor en dit gehoorsaam. DVvPEk 168.4
Elkeen wat ‘n deelgenoot van Sy genade word, sal die Here aanstel om vir ander te werk. Individueel moet ons in ons omstandighede staan en sê: “Hier is ek, stuur my.” Of die persoon ‘n bedienaar van die Woord of ‘n geneesheer, ‘n handelaar of ‘n boer, ‘n professionele persoon of ‘n werktuigkundige is, die verantwoordelikheid rus op hom. Dit is sy werk om aan ander die evangelie van hulle verlossing te openbaar. Elke onderneming waarby hy betrokke is, moet dien as ‘n middel tot die einddoel. DVvPEk 169.1
Aanvanklik was daar nie van Elisa verwag om enige groot take uit te voer nie; sy dissipline het steeds uit gewone pligte bestaan. Daar word van hom melding gemaak dat hy water oor die hande van Elia, sy meester, uitgegooi het. Hy was gewillig om enigiets wat die Here aan hom voorgeskryf het, te doen en met elke stap het hy lesse van nederigheid en diens geleer. As die profeet se persoonlike assistent, het hy getrou voortgegaan in die geringe takies, terwyl hy met ‘n daagliks versterkende doelwit, homself toegewy het aan die sending waarvoor God hom aangestel het. DVvPEk 169.2
Elisa se lewe nadat hy met Elia verenig het, was nie sonder versoekings nie. Hy het beproewings in oorvloed gehad; maar in elke noodsituasie het hy op God vertrou. Hy was versoek om aan die huis wat hy verlaat het terug te dink, maar het geen ag op hierdie versoeking geslaan nie. Nadat hy sy hand aan die ploeg geslaan het, was hy vasbeslote om nie terug te draai nie en deur toets en beproewing het hy bewys dat hy getrou aan sy gelofte was. DVvPEk 169.3
Die bediening behels veel meer as net die prediking van die woord. Dit behels die opleiding van jong manne, soos wat Elia vir Elisa opgelei het, deur hulle weg te neem van hul gewone take en aan hulle verantwoordelikhede in God se werk te gee - aanvanklik geringe verantwoordelikhede en later groter verantwoordelikhede soos wat hulle in krag en ondervinding toeneem. In die bediening is daar manne van geloof en gebed, manne wat kan sê: “Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe ... wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle.” (1 Joh 1:1-3). Jong onervare werkers moet deur werklike arbeid wat verband hou met hierdie ervare dienaars van God, opgelei word. Sodoende sal hulle leer hoe om laste te dra. DVvPEk 170.1
Diegene wat hierdie opleiding van jong werkers onderneem, doen ‘n edele werk. Die HERE self is werk saam met hulle pogings. En hierdie jong manne, oor wie die woorde van toewyding uitgespreek is, wie se voorreg dit is om in noue samewerking met opregte, Goddelike werkers te werk, behoort ten volle van hierdie geleentheid gebruik te maak. God het hulle vereer deur hulle vir Sy diens uit te kies; en deur hulle te plaas waar hulle meer bekwaamheid kan bekom, behoort hulle nederig, getrou, gehoorsaam en gewillig te wees om op te offer. Indien hulle hul aan God se dissipline onderwerp, Sy leiding volg en Sy dienaars as hul raadgewers aanneem, sal hulle tot regverdige, standvastige manne met hoë standaarde ontwikkel, aan wie God verantwoordelikhede kan toevertrou. DVvPEk 170.2
Soos wat die evangelie in al sy suiwerheid verkondig word, sal manne agter die ploeg en uit algemene besigheidspraktyke wat hoofsaaklik deur die verstand in beslag geneem word, geroep word en hulle sal opgevoed word deur manne met ervaring. Algaande hulle leer om effektief te werk, sal hulle die waarheid kragtig verkondig. Deur die wonderbaarlike werkinge van Goddelike voorsienigheid, sal berge van probleme versit en in die see gewerp word. Die boodskap, wat soveel vir die bewoners van die aarde beteken, sal gehoor en verstaan word. Mense sal weet wat die waarheid is. Die werk sal steeds verder en verder uitbrei totdat die hele aarde gewaarsku is en dan sal die einde kom. DVvPEk 170.3
Vir etlike jare nadat Elisa geroep is, het hy en Elia saamgewerk, terwyl die jonger man daagliks meer vir sy werk voorberei is. Elia was God se instrument vir die omverwerping van reusagtige euwels. Die afgodery wat deur Agab en die heidense Isébel ondersteun is en die volk verlei het, is onversetlik gestuit. Baal se profete is gedood. Die ganse volk van Israel was diep geraak en baie het teruggekeer na die aanbidding van God. As Elia se opvolger, moes Elisa deur versigtige en geduldige instruksie, strewe om Israel op veilige weë te lei. Sy verbintenis met Elia, die grootste profeet sedert die dae van Moses, het hom voorberei vir die taak wat hy spoedig op sy eie moes onderneem. DVvPEk 171.1
Gedurende hierdie jare van gesamentlike bediening is Elia van tyd tot tyd opgeroep om opvallende euwels met ernstige teregwysing aan te spreek. Toe die bose Agab Nabot se wingerd afgeneem het, was dit die stem van Elia wat sy verdoemenis, asook die verdoemenis van sy hele huis geprofeteer het. En toe Ahasia, na die dood van sy vader Agab, van die aanbidding van die lewende God ten gunste van Beëlsebub, die god van Ekron, weggedraai het, was dit Elia se stem wat weereens in ernstige protes gehoor is. DVvPEk 171.2
Die skole van die profete wat deur Samuel gestig is, het gedurende Israel se jare van afvalligheid in verwaarlosing verval. Elia het hierdie skole weer opgerig en voorsiening vir jong manne gemaak om opleiding te ontvang, wat daartoe sou lei dat hulle die wet sou hoog hou en dit eerbaar sou maak. Daar word melding gemaak van drie van hierdie skole: Een by Gilgal, een by Bet-El en een by Jerigo. Kort voordat Elia in die hemel opgeneem is, het hy en Elisa hierdie opleidingsentrums besoek. Die lesse wat die profeet van God hulle op vorige besoeke geleer het, het hy nou herhaal. Hy het hulle veral onderrig aangaande die groot voorreg om getrou die toewyding aan die God van die hemel te onderhou. Hy het ook nadruk gelê op die feit dat eenvoud elke faset van hul opvoeding moet kenmerk. Slegs op hierdie wyse kon hulle die afdruk van die hemel ontvang en voortgaan om in die weë van die HERE te werk. DVvPEk 171.3
Elia se hart het gejubel toe hy sien wat deur hierdie skole bereik is. Die werk van hervorming was nog nie voltooi nie, maar hy kon regdeur die koninkryk ‘n bevestiging van die woord van die HERE opmerk: “Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baal gekniel ... het nie” (1 Kon 19:18) DVvPEk 172.1
Soos Elisa die profeet op sy rondte van diens van skool tot skool vergesel het, is sy geloof en standvastigheid weer getoets. By Gilgal en ook by Bet-El en Jerigo, het die profeet hom weer genooi om terug te draai. “En Elía het vir Elísa gesê: Bly tog hier, want die HERE stuur my na Bet-el.” (2 Kon 2:2) Maar deur sy vroeëre arbeid agter die ploeg, het Elisa geleer om nie op te gee of moedeloos te raak nie en nou dat hy sy hand aan die ploeg van ‘n ander lyn van diens geslaan het, sou hy nie van sy doel afwyk nie. Hy sou nie van sy meester geskei word terwyl daar nog geleentheid was om verder vir diens opgelei te word nie. Elia was onbewus daarvan, maar dat hy in die hemel opgeneem sou word, is aan sy dissipels in die skole van die profete en Elisa geopenbaar. En nou het die beproefde dienaar van die man van God dig aan sy sy gebly. So dikwels as wat die uitnodiging om terug te draai aan om gerig was, was die antwoord: “So waar as die HERE leef en u siel leef, ek sal u nie verlaat nie!” DVvPEk 172.2
“En hulle twee het gegaan ... en by die Jordaan [ge]staan. Toe neem Elía sy mantel en rol dit op en slaan op die water; en dit is na weerskante verdeel, sodat hulle twee op droë grond deurgegaan het. En nadat hulle deur was, sê Elía vir Elísa: Begeer wat ek vir jou moet doen, voordat ek van jou af weggeneem word.” (Verse 8, 9) DVvPEk 172.3
Elisa het nie vir wêreldse eer of vir ‘n verhewe pos onder die belangrike mense van die aarde gevra nie. Dit waarna hy gesmag het, was ‘n groot mate van die Gees wat God so mildelik oor die een wat binnekort in die hemel opgeneem sou word, uitgestort is. Hy het geweet dat niks anders as die Gees wat op Elia gerus het, hom sou kon toerus om die plek wat hy in Israel, waarheen God hom geroep het, te vul nie. Daarom het hy geantwoord: “Laat dan tog ‘n dubbele deel van u gees op my kom.” DVvPEk 173.1
In antwoord hierop het Elia gesê: “Jy het ‘n harde saak begeer. As jy my sien wanneer ek van jou af weggeneem word, laat dit dan so met jou wees. Maar so nie, dan sal dit nie wees nie. En terwyl hulle aldeur loop en spreek, kom daar meteens ‘n wa van vuur met perde van vuur wat skeiding tussen hulle twee maak; en Elía het in die storm na die hemel opgevaar.” (Verse 10,11) DVvPEk 173.2
Elia was ‘n tipe van die heiliges wat in die laaste dae, tydens die wederkoms, nog in die lewe sal wees en wat “...almal verander [sal] word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin” (1 Kor 15:51,52), sonder om die dood te smaak. Dit was as verteenwoordiger van diegene wat sodanig in die hemel opgeneem sal word, dat Elia, teen die einde van Christus se aardse bediening, toegelaat was om saam met Moses langs die Verlosser op die berg van verheerliking te staan. In hierdie verheerlikte wesens het die dissipels ‘n miniatuur voorstelling van die koninkryk van die verlostes aanskou. Hulle het Jesus, met die lig van die hemel beklee, gesien; hulle het die “...stem uit die wolk...” (Luk 9:35) wat Hom as Seun van God erken het, gehoor; hulle het Moses, wat diegene verteenwoordig wat by die wederkoms uit die dood opgewek sal word, gesien; en Elia het ook daar gestaan, verteenwoordigend van diegene wat aan die einde van die aarde se geskiedenis, van sterflik na onsterflik verander sal word en in die hemel opgeneem sal word sonder om die dood te smaak. DVvPEk 173.3
In die woestyn, eensaam en mismoedig, het Elia verklaar dat hy moeg is vir die lewe en gebid dat hy mag sterwe. Maar die HERE het, in Sy genade hom nie op sy woord geneem nie. Daar was nog ‘n groter werk vir Elia om te doen; en nadat sy werk voltooi was, sou hy nie mismoedig en alleen te sterwe kom nie. Om in die graf neer te daal was nie vir hom beskore nie, maar om met God se engele tot in die teenwoordigheid van Sy heerlikheid opgeneem te word. DVvPEk 174.1
“En Elisa het dit gesien en geroep: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters! En toe hy hom nie meer sien nie, het hy sy klere gegryp en dit in twee stukke geskeur. Daarna tel hy die mantel van Elia op wat van hom afgeval het en hy draai om en gaan op die wal van die Jordaan staan; en hy neem die mantel van Elia wat van hom afgeval het en slaan op die water en sê: Waar is die HERE, die God van Elia, ja, Hy? En toe hy op die water slaan, is dit na weerskante verdeel en Elisa het deurgegaan. En die profete-seuns wat in Jérigo was, het dit op ‘n afstand gesien en gesê: Die gees van Elia rus op Elisa! En hulle het hom tegemoetgekom en voor hom na die aarde gebuig.” (2 Kon 2:12-15) DVvPEk 174.2
Wanneer God in Sy voorsienigheid dit goed dink om diegene aan wie Hy wysheid geskenk het, van hulle werk vry te stel, sal Hy hulle opvolgers, indien hulle Hom om hulp vra en hulle bereid is om in Sy weë te wandel, help en versterk. Hulle mag selfs meer wysheid as hul voorgangers bekom, aangesien hulle deur hul ondervinding gebaat en wysheid deur hul foute opgedoen het. DVvPEk 174.3
Voortaan het Elisa in Elia se plek gestaan. Hy wat, in dit wat as die geringste beskou was, getrou was, sou homself ook as getrou in vele bewys. DVvPEk 174.4