Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 15—Josafat
Totdat Josafat op die ouderdom van vyf-en-dertig die troon bestyg het, het hy die voorbeeld van die goeie koning Asa voor hom gehad, wat in byna elke krisis gedoen het “...wat reg was in die oë van die HERE.” Gedurende ‘n voorspoedige bewind van vyf-en-twintig jaar het Josafat “...geheel en al in die weg van sy vader Asa gewandel — daarvan het hy nie afgewyk nie.” (1 Kon 22:43) DVvPEk 143.1
In sy pogings om met wysheid te regeer, het Josafat daarna gestreef om sy onderdane te oorreed om sterk standpunt teen afgodiese praktyke in te neem. Baie van die mense in sy koninkryk het “...nog op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan.” (Vers 44) Die koning het nie hierdie heiligdomme onmiddellik vernietig nie, maar het Juda uit die staanspoor probeer beskerm teen die sondes wat kenmerkend was van die noordelike koninkryk onder die bewind van Agab, wat jare lank ‘n tydgenoot was. Josafat self was getrou aan God. Hy het “...die Baals nie gesoek nie, maar die God van sy vader gesoek en in Sy gebooie gewandel en nie gedoen soos Israel nie. Daarom het die HERE die koningskap in sy hand bevestig.” (2 Kron 17:3-5) DVvPEk 143.2
“Die hele Juda het aan Jósafat geskenke gegee, sodat hy rykdom en eer in oorvloed gehad het. En sy hart het moedig geword in die weë van die HERE.” Met verloop van tyd het hervormings plaasgevind en “...het hy die hoogtes en die heilige boomstamme uit Juda verwyder.” (Verse 5,6) “Ook die skandseuns wat uit die dae van sy vader Asa nog oor was, het hy uit die land uitgeroei.” (1 Kon 22:47) Sodoende het hy gaandeweg die inwoners van Juda van die gevare wat gedreig het om hul geestelike ontwikkeling ernstig te vertraag bevry. DVvPEk 143.3
Dwarsdeur die koninkryk het die mense ‘n behoefte aan onderrig in die Wet van God gehad. In die verstaan van hierdie wet was hulle veiligheid geanker; deur hul lewens volgens die wet se vereistes in te pas, sou hulle lojaal aan beide God en die mens word. Bewus hiervan, het Josafat stappe geneem om onderrig in die Heilige Skrifte vir sy volk te verseker. Die prinse in beheer van die verskillende afdelings van sy ryk is versoek om te reël vir die getroue bediening van leraars. Deur ‘n koninklike opdrag, het hierdie instrukteurs wat onder toesig van die prinse was, “...in al die stede van Juda rondgegaan en onder die volk onderrig gegee.” (2 Kron 17:7-9) En vir soveel as wat daarna gestreef het om God se vereistes te verstaan en weg te draai van sonde, is ‘n herlewing bewerkstellig. DVvPEk 143.4
Josafat was baie van sy voorspoed as heerser te danke aan hierdie wyse voorsiening vir die geestelike behoeftes van sy onderdane. Daar is groot voordeel in gehoorsaamheid aan die wet van God. In onderwerping aan die Goddelike vereistes, is daar ‘n transformerende krag wat vrede en welwillendheid aan mense verskaf. Indien die leringe van die woord van God die bepalende invloed in die lewe van elke man en vrou gemaak word en as die hart en die verstand onder die beheersende krag daarvan gebring word, sal die euwels wat tans in die nasionale en sosiale lewe bestaan geen plek vind nie. Vanuit elke huis sou ‘n invloed uitgaan wat mans en vrouens met geestelike insig en morele krag versterk en sou nasies en individue daardeur bevoordeel word. DVvPEk 144.1
Josafat het vir baie jare in vrede, sonder die bedreiging van omliggende nasies, geleef. “En ‘n skrik vir die HERE het gekom oor al die koninkryke van die lande wat rondom Juda was.” (2 Kron 17:10) Uit Filistea het hy huldeblyke en geskenke ontvang; uit Arabië, groot troppe skape en bokke. “So het Jósafat dan aldeur groter geword, buitengewoon groot en in Juda forte en voorraadstede gebou ... Krygsmanne, dapper helde ... was in die diens van die koning, behalwe die wat die koning in die versterkte stede deur die hele Juda geplaas het.” (Verse 12-19) Ryklik geseën met rykdom en eer, is hy in staat gestel om ‘n magtige invloed vir waarheid en geregtigheid uit te oefen. DVvPEk 144.2
Etlike jare nadat hy die troon bestyg het, het Josafat, nou op die hoogtepunt van sy voorspoed, toegestem tot die huwelik van sy seun, Joram, met Atalia, die dogter van Agab en Isébel. Deur hierdie verbintenis is daar ‘n alliansie tussen die koninkryke van Juda en Israel gevorm, wat nie in ooreenstemming met God se wil was nie en wat in ‘n krisistyd, ernstige gevolge vir die koning en baie van sy onderdane tot gevolg gehad het. DVvPEk 145.1
By een geleentheid het Josafat die koning van Israel in Samaria besoek. Daar is besondere eer aan die koninklike gas uit Jerusalem getoon en voor die einde van sy besoek is hy oorreed om saam met die koning van Israel in ‘n oorlog teen Sirië te verenig. Agab het gehoop dat hy Ramot, een van die ou vrystede wat, volgens hom, regmatig aan die Israeliete behoort, sou kon herwin deur sy kragte met Juda s'n saam te snoer. DVvPEk 145.2
Hoewel Josafat in ‘n oomblik van swakheid oorhaastig beloof het om by die koning van Israel aan te sluit in die oorlog teen Sirië, het sy beter oordeel hom genoop om tog die wil van God aangaande hierdie onderneming te raadpleeg. “Raadpleeg tog eers die woord van die HERE...” het hy aan Agab voorgestel. In antwoord hierop het Agab vierhonderd valse profete byeengeroep en hulle gevra: “Sal ons teen Ramot in Gilead trek om te veg, of sal ek dit laat staan? En hulle antwoord: Trek op en God sal dit in die hand van die koning gee.” (2 Kron 18:4,5) DVvPEk 145.3
Josafat was nie hiermee tevrede nie en het gepoog om met sekerheid die wil van God te verneem: “Is hier nie nog ‘n profeet van die HERE, dat ons deur hom kan raadpleeg nie?” (Vers 6) Agab het geantwoord: “Daar is nog een man om die HERE deur hom te raadpleeg; maar ék haat hom, want hy profeteer oor my niks goeds nie, maar altyd onheil.” (Vers 7) Josafat was vasbeslote in sy versoek dat die man van God geroep word; en toe hy voor hulle verskyn en deur die Agab beveel is om “...niks as die waarheid in die Naam van die HERE tot my moet [te] spreek nie...” het Miga gesê: “Ek het die hele Israel gesien, verstrooid op die berge soos skape wat geen wagter het nie. En die HERE het gesê: Hulle het geen heer nie; laat hulle elkeen in vrede teruggaan na sy huis.” (2 Kron 18:15, 16) DVvPEk 145.4
Die profeet se woorde moes aan die konings as genoegsame bewys gedien het dat hulle voorgenome onderneming nie die Hemel se goedkeuring wegdra nie, maar nie een van die heersers was geneig om aan die waarskuwing gehoor te gee nie. Agab het sy koers uitgemerk en hy was vasbeslote om dit volg. Josafat het sy erewoord gegee: “Ons sal saam met u in die oorlog wees” (2 Kron 18:3) en nadat hy hierdie belofte gemaak het, was hy teësinnig om sy magte te onttrek. “En die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, het opgetrek na Ramot in Gilead.” (1 Kon 22:29) DVvPEk 146.1
In die geveg wat gevolg het, is Agab met ‘n pyl deurboor en teen die aand het hy gesterf. “En teen sonsondergang gaan ‘n geskreeu deur die leër: Elkeen na sy stad en elkeen na sy land toe!” (Vers 36) So is die woord van die profeet bewaarheid. DVvPEk 146.2
Na hierdie rampspoedige geveg, het Josafat na Jerusalem teruggekeer. Terwyl hy die stad genader het, het die profeet, Jehu, hom met die volgende teregwysing tegemoetgekom: “Moet ‘n mens die goddelose help en het u lief die wat die HERE haat? Daarom kom daar nou ‘n toorn op u van die HERE. Tog is daar goeie dinge by u gevind, want u het die heilige boomstamme uit die land uitgeroei en u hart daarop gerig om God te soek.” (2 Kron 19:2,3) DVvPEk 146.3
Die laaste jare van Josafat se heerskappy is hoofsaaklik aan 197 die versterking van die nasionale en geestelike verdediging van Juda gewy. Hy “...het weer uitgegaan onder die volk, van Berséba af tot by die gebergte van Efraim en hulle laat terugkeer tot die HERE, die God van hulle vaders.” (Vers 4) DVvPEk 146.4
Een van die belangrike stappe wat die koning geneem het, was die instelling en onderhouding van effektiewe geregshowe. Hy “...het regters aangestel in die land, in al die versterkte stede van Juda, in elke stad. En hy het aan die regters gesê: Kyk wat julle doen, want julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir die HERE; en Hy is by julle in die regspraak. Mag die skrik vir die HERE dan nou op julle wees; handel nougeset, want by die HERE onse God is geen onreg of partydigheid of aanneming van geskenke nie.” (Verse 5-7) DVvPEk 147.1
Die regstelsel is deur die stigting van ‘n appelhof in Jerusalem vervolmaak, waar Josafat “...sommige van die Leviete en van die priesters en van die familiehoofde uit Israel aangestel [het] vir die gereg van die HERE en vir regsake.” (Vers 8) DVvPEk 147.2
Die koning het die regters gemaan om getrou te bly. “So moet julle handel in die vrees van die HERE, met getrouheid en met ‘n volkome hart. En by al die regsake wat voor julle kom vanweë julle broers wat in hulle stede woon, oor moord, oor wette en gebooie en insettinge en verordeninge, moet julle hulle waarsku, sodat hulle hul nie skuldig maak teen die HERE en ‘n toorn oor julle en oor julle broers kom nie; so moet julle handel, dat julle jul nie skuldig maak nie.” DVvPEk 147.3
“En kyk, Amárja, die hoof priester, is oor julle vir enige saak van die HERE en Sebádja, die seun van Ismael, die bevelhebber van die huis van Juda, vir enige saak van die koning en as opsigters staan die Leviete tot julle beskikking; julle moet sterk wees en dit doen ... En mag die HERE met die goeies wees!” (Verse 9-11) DVvPEk 147.4
Deur hierdie sorgvuldige beskerming van die regte en vryhede van sy onderdane, het Josafat klem gelê op die oorweging wat aan elke lid van die menslike gesin van die God van geregtigheid, wat oor alles regeer, verskuldig is. “God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode.” En diegene wat as regters onder Hom aangestel is, is gemaan: “Doen reg aan die swakke en die wees; gee aan die ellendige en die arme sy reg...” en “...bevry hulle uit die hand van die goddelose mense.” (Ps 82:1,3,4) DVvPEk 147.5
Teen die einde van Josafat se regering, is die koninkryk van Juda deur ‘n leër binnegeval, voor wie die inwoners van die land rede gehad het om te bewe. “En daarna het die kinders van Moab en die kinders van Ammon en saam met hulle ‘n deel van die Meuniete teen Jósafat gekom om te veg.” Berigte van hierdie inval het die koning deur middel van ‘n boodskapper bereik: “Daar kom ‘n groot menigte teen u van anderkant die see, van Edom af en kyk, hulle is al in Háseson-Tamar — dit is Éngedi.” (2 Kron 20:1,2) DVvPEk 148.1
Josafat was ‘n man van moed en durf. Jare lank het hy sy leërs en stede versterk. Hy was voorbereid om bykans enige vyand aan te durf; maar in hierdie krisis het hy nie sy vertroue in die arm van vlees gestel nie. Nie deur gedissiplineerde leërs en die versterkte stede nie, maar deur ‘n lewende geloof in die God van Israel, sou hy kon hoop om die oorwinning oor hierdie heidene, wat gespog het met hul mag om Juda voor die oë van die nasies te verneder, te behaal. DVvPEk 148.2
“Jósafat [het] bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek en hy het oor die hele Juda ‘n vasdag uitgeroep. En Juda het byeengekom om van die HERE hulp te soek; selfs uit al die stede van Juda het hulle gekom om die HERE te soek.” DVvPEk 148.3
“Toe gaan Jósafat in die vergadering van Juda en Jerusalem staan, in die huis van die HERE, voor die nuwe voorhof; en hy sê: HERE, God van ons vaders, is U nie God in die hemel nie en is U nie Heerser oor al die koninkryke van die nasies nie? Ja, in U hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan standhou nie. Het U, onse God, nie die inwoners van hierdie land voor U volk Israel uit verdrywe en dit vir altyd aan die nageslag van Abraham, U vriend, gegee nie? En hulle het daarin gaan woon en daarin vir U ‘n heiligdom tot eer van u Naam gebou, met die gedagte: As daar oor ons onheil kom — swaard, straf of pes of hongersnood — sal ons voor hierdie huis en voor u aangesig gaan staan; want U Naam is in hierdie huis; en ons sal U aanroep uit ons benoudheid, dat U kan hoor en verlos.” DVvPEk 148.4
“En hier is nou die kinders van Ammon en Moab en die mense van die gebergte Seïr, onder wie U Israel nie toegestaan het om te trek by hulle koms uit Egipteland nie; want hulle het van hulle weggedraai en hulle nie verdelg nie. Ja, kyk, hulle vergeld ons dit deur te kom om ons uit U besitting te verdrywe wat U aan ons as -'n eiendom gegee het. Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U.” (Verse 3-12) DVvPEk 149.1
Met vertroue kon Josafat vir die HERE sê: “Ons oë is op U.” Vir jare het hy die volk geleer om op die Een, wat in die vorige eeue so gereeld ingetree het om Sy uitverkorenes van totale vernietiging te red, te vertrou; en nou, toe die koninkryk in gevaar was, het Josafat nie alleen gestaan nie: “...en die hele Juda het voor die HERE gestaan, ook hulle kinders, hulle vroue en hulle seuns.” (Vers 13) Verenig het hulle gevas en gebid en verenig het hulle by die HERE gepleit om hulle vyande in verwarring te bring, sodat die naam van Jehova verhoog kon word. DVvPEk 149.2
“O God, hou U nie stil nie,
Swyg nie en rus nie, o God!
Want kyk, U vyande maak rumoer,
En U haters steek die hoof op.
Teen U volk smee hulle listig ‘n plan
En hou onder mekaar raad teen U verborgenes.
Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig,
Dat hulle geen volk meer is nie,
Sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.
Want hulle het van harte saam raad gehou;
Teen U sluit hulle ‘n verbond: Die tente van Edom en die Ismaeliete,
Moab en die Hagareners,
Gebal en Ammon en Amalek...
Maak met hulle soos met Mídian, soos met Sísera,
soos met Jabin by die spruit Kison...
Laat hulle beskaamd staan en verskrik wees vir ewig,
En laat hulle rooi van skaamte word en omkom;
Sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam HERE is,
Alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.”
DVvPEk 149.3
(Psalm 83)
Soos wat die volk saam met hulle koning in verootmoediging voor God verenig het en by Hom om hulp gepleit het, het die Gees van die HERE op Jahásiël, “...die Leviet uit die kinders van Asaf...” gekom “...en hy het gesê: Luister, almal wat uit Juda is en inwoners van Jerusalem en u, koning Jósafat! So sê die HERE aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God. Trek môre af teen hulle: kyk, hulle kom op met die hoogte Hassis en julle sal hulle aantref aan die kant van die dal voor die woestyn Jerúel. Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit en die HERE sal met julle wees.” DVvPEk 150.1
“Toe buig Jósafat hom met die aangesig na die aarde toe en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die aangesig van die HERE neergeval om die HERE te aanbid. En die Leviete uit die kinders van die Kehatiete en uit die kinders van die Koragiete het opgestaan om die HERE, die God van Israel, met ‘n baie groot stem te prys.” DVvPEk 150.2
Hulle het die môre vroeg verrys en na die woestyn van Tekóa uitgetrek; en terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die HERE julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan Sy profete, dan sal julle voorspoedig wees. En hy het met die volk beraadslaag en tot eer van die HERE sangers opgestel wat, in heilige sieraad, moes lofsing.” (2 Kron 20:14-21) Hierdie sangers het voor die leër uitgegaan, hulle stemme in lof opgehef vir die belofte van ‘n oorwinning. DVvPEk 150.3
Dit was ‘n uitsonderlike manier om teen die leër van die vyand oorlog te voer - om die HERE te prys met sang en die God van Israel te verhoog. Dit was hulle strydlied. Hulle het die sieraad van heiligheid besit. Indien daar deesdae meer lofprysing aan God gebring word, sou hoop, moed en geloof toeneem. En sou dit nie die hande van die dapper soldate, wat vandag in die voorste linies vir die waarheid staan, versterk nie? DVvPEk 151.1
“Die HERE [het] ‘n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is. Die kinders van Ammon en Moab het naamlik opgetree teen die inwoners van die gebergte Seïr om uit te roei en te verdelg; en toe hulle met die inwoners van Seïr klaar was, het hulle mekaar in die verderf gehelp.” DVvPEk 151.2
“En toe Juda op die wagkop by die woestyn kom en hulle na die menigte kyk, lê hulle daar dood op die grond; en niemand het vrygeraak nie” (Verse 22-24) DVvPEk 151.3
In hierdie krisis was God Juda se krag en net so is Hy vandag die sterkte van Sy volk. Ons moenie op prinse vertrou of mense in die plek van God stel nie. Ons moet onthou dat mense feilbaar is en foute begaan en dat Hy wat oor alle krag beskik, ons sterk Toring van verdediging moet wees. Ons moet in elke noodsituasie besef dat die stryd God s'n is. Sy hulpbronne is onbeperk en die skynbaar onmoontlikhede van ‘n saak sal die oorwinning soveel groter maak. DVvPEk 151.4
“Verlos ons, God van ons heil,
En versamel ons
En red ons van die nasies, Dat ons U heilige Naam kan loof
Dat ons beroem in U lof!
DVvPEk 151.5
(1 Kronieke 16:35)
Gelaai met buit, het die leërs van Juda “...met vreugde na Jerusalem terug [ge]gaan; want die HERE het aan hulle vreugde verskaf oor hul vyande. En hulle het Jerusalem ingetrek met harpe en siters en trompette, na die huis van die HERE” (2 Kron 20:27,28) Groot was die oorsaak van hulle vreugde. In gehoorsaamheid aan die bevel “...bly staan en aanskou die redding van die HERE: ... Vrees nie en wees nie verskrik nie”, het hulle hul vertroue volkome in God gestel en Hy het bewys dat Hy hulle Vesting en Verlosser is. (Vers 17). Nou kon hulle met volle begrip die geïnspireerde psalms van Dawid sing: DVvPEk 152.1
“God is vir ons ‘n toevlug en sterkte;
As hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef...
Die boog verbreek en die spies stukkend slaan,
Die strydwaens met vuur verbrand.
Laat staan en weet dat Ek God is;
Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog
Op die aarde.
Die HERE van die leërskare is met ons;
Die God van Jakob is ‘n rotsvesting vir ons.”
DVvPEk 152.2
(Psalm 46).
“Soos u Naam, o God,
So is u roem tot die eindes van die aarde toe;
U regterhand is vol geregtigheid.
Laat die berg Sion bly wees,
Laat die dogters van Juda juig
Oor U oordele.
Hierdie God onse God is, vir ewig en altyd;
Hy sal ons lei tot die dood toe.”
DVvPEk 152.3
(Psalm 48:10-14).
Deur die geloof van Juda se heerser, asook die van sy magte, kon daar getuig word: “En die skrik vir God was op al die koninkryke van die lande toe hulle hoor dat die HERE teen die vyande van Israel gestry het. Verder het die koninkryk van Jósafat gerus en sy God het hom rondom rus verskaf.” (2 Kron 20:29, 30) DVvPEk 152.4