Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 14—“In die Gees en die Krag van Elia”
Gedurende die lang eeue na die tyd van Elia, het die rekord van sy lewenstaak inspirasie en moed verleen aan diegene wat, te midde van afvalligheid, geroep is om te staan vir wat reg is. Vir ons “...op wie die eindes van die eeue gekom het...” (1 Kor 10:11), hou dit spesiale betekenis in. Die geskiedenis word herhaal. Die wêreld het vandag steeds sy Agabs en sy Isébels. Die huidige tyd is, net so seker soos in die dae toe Elia geleef het, een van afvalligheid. Geen uiterlike teken van ‘n heiligdom mag dalk sigbaar wees nie; daar mag dalk geen beeld wees waarop die oog kan rus nie; tog volg duisende die gode van hierdie wêreld - na rykdom, roem, plesier en die aangename fabels wat die mens toelaat om die neigings van hul onbekeerde hart te volg. Menigtes het ‘n verkeerde begrip van God en Sy eienskappe en dien, net so seker as die Baal aanbidders, ‘n valse god. Baie van hulle wat beweer dat hulle Christene is, het hulself met invloede wat onomwonde teen God en Sy waarheid gekant is, verbind. So word hulle gelei om van die Goddelike weg te draai en die mens te vereer. DVvPEk 133.1
Die heersende gees van ons tyd is een van ontrouheid en afvalligheid — ‘n gees van uitgesproke lig as gevolg van ‘n kennis van die waarheid, maar in werklikheid, is dit ‘n verblindende aanname. Menslike teorieë word uitgelig en geplaas waar God en Sy wet behoort te wees. Satan versoek manne en vroue om ongehoorsaam te wees, met die belofte dat hulle in ongehoorsaamheid, vryheid sal vind wat hulle soos gode sal maak. Daar is ‘n gees van opstandigheid teen die eenvoudige woord van God, ‘n afgodiese verheffing van menslike wysheid bo Goddelike openbaring. Mense het hulle gedagtes toegelaat om so verduister en verward deur gelykvormigheid aan wêreldse gebruike en invloede te raak, dat dit wil voorkom asof hulle die vermoë om tussen lig en donker, tussen waarheid en valsheid te onderskei, verloor het. Hulle het so ver van die regte pad afgedwaal dat hulle die opinies van enkele sogenaamde filosowe hoër ag as Bybelse waarheid. Die versoeke en beloftes van die Bybel, die bedreigings teen ongehoorsaamheid en afvalligheid, blyk magteloos te wees om hul harte te versag. ‘n Geloof soos die wat Paulus, Petrus en Johannes gehandhaaf het, word as outyds, mistiek en onwaardig vir die intelligensie van moderne denkers beskou. DVvPEk 133.2
In die begin het God Sy Wet aan die mensdom gegee as ‘n wyse om geluk en ewige lewe te verwerf. Satan se enigste hoop om die doel van God te stuit, is om manne en vroue te lei om ongehoorsaam aan hierdie wet te wees en sy voortdurende strewe was om die leringe daarvan te verdraai en die belangrikheid daarvan gering te maak. Sy troefkaart was ‘n poging om die wet self te wysig, sodat die mens gelei word om die voorskrifte te oortree terwyl hulle daarvan oortuig is dat hulle dit onderhou. DVvPEk 134.1
Een skrywer het die poging om die wet van God te verander vergelyk met ‘n antieke onheilspellende praktyk om rigtingaanwysers by -'n belangrike aansluiting op die pad te draai om in die verkeerde rigting te wys. Hierdie praktyk het dikwels groot moeite en verwarring veroorsaak. DVvPEk 134.2
'n Rigtingaanwyser is deur God opgerig vir diegene wat deur hierdie wêreld reis. Die een arm van die padteken wys na gewillige gehoorsaamheid aan die Skepper as die pad van geluk en lewe, terwyl die ander arm ongehoorsaamheid as die pad van ellende en dood aandui. Die weg na geluk was net so duidelik aangewys soos die pad na ‘n vrystad onder die Joodse bedeling. Maar in -'n bose uur vir die menseras het die vyand van alles wat goed is, die rigtingwyser omgedraai en menigtes het hulle met die weg misgis. DVvPEk 134.3
God het deur Moses aan die Israeliete opdrag gee: “Julle moet sekerlik my Sabbatte onderhou, want dit is -'n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig. Onderhou dan die Sabbat, want dit moet vir julle heilig wees. Hy wat dit ontheilig, moet sekerlik gedood word; want elkeen wat ... op die Sabbatdag werk doen, moet sekerlik gedood word. En die kinders van Israel moet die Sabbat onderhou deur die Sabbat te vier in hulle geslagte as ‘n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.” (Ex 31:13-17) DVvPEk 134.4
Met hierdie woorde het die HERE dit duidelik gemaak dat gehoorsaamheid die weg na die Stad van God is; maar die man van sonde het die padwyser omgedraai sodat dit in die verkeerde rigting wys. Hy het ‘n valse sabbat ingestel en manne en vroue onder die indruk geplaas dat deur op hierdie sabbat te rus, hulle die bevel van die Skepper gehoorsaam. DVvPEk 135.1
God het verklaar dat die sewende dag die Sabbat van die Here is. “So is dan voltooi die hemel en die aarde...” Hy het hierdie dag verhef as ‘n gedenkdag van Sy skeppingswerk. Deur “...op die sewende dag te rus van al Sy werk ... het God “...die sewende dag geseën en dit geheilig.” (Gen 2:1-3) DVvPEk 135.2
Ten tye van die uittog uit Egipte, was die instelling van die Sabbat baie prominent aan God se volk voorgehou. Terwyl hulle nog in slawerny was, het die slawedrywers gepoog om hulle te dwing om op die Sabbat te werk deur hul werkslading te verhoog. Keer op keer is die arbeidsvoorwaardes moeiliker en meer veeleisend gemaak. Maar die Israeliete is uit die slawerny bevry na ‘n plek waar hulle ongehinderd al die voorskrifte van Jehova kon nakom. Die wet is by Sinaï uitgespreek en ‘n afskrif daarvan is op twee kliptafels, wat met die vinger van God geskryf, is aan Moses oorhandig. (Ex 31:18) En gedurende bykans veertig jaar van rondswerf is die Israeliete voortdurend aan God se vasgestelde rusdag herinner deur die weerhouding van manna op die sewende dag en die wonderbaarlike bewaring van die dubbele porsie wat op die dag van voorbereiding geval het. DVvPEk 135.3
Voordat hulle die Beloofde Land binnegegaan het, is die Israeliete deur Moses vermaan: “Onderhou die Sabbatdag, dat jy dit heilig.” (Deut 5:12) Die HERE se doel was dat, deur die getroue onderhouding van die Sabbatsgebod, Israel voortdurend herinner sou word aan hulle verantwoordelikheid teenoor Hom as hul Skepper en hul Verlosser. Terwyl hulle die Sabbat met die regte gesindheid onderhou het, kon afgodery nie bestaan nie; maar sou die vereistes van die bevele van hierdie voorskrif van die Dekaloog as nie langer bindend opsy geskuif word, dan sou die Skepper vergeet word en die mens sou ander gode aanbid. “Daarby het Ek ook my Sabbatte aan hulle gegee om ‘n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die HERE, is wat hulle heilig.” DVvPEk 136.1
Maar “...hulle [het] My verordeninge verwerp ... en in My insettinge nie gewandel nie ... en My Sabbatte ontheilig ... ; want hulle hart het agter hul drekgode aan geloop.” En in Sy oproep op hulle om tot Hom terug te keer, het Hy hulle aandag opnuut op die belangrikheid om die Sabbat heilig te hou gevestig. “Ek is die HERE julle God; wandel in My insettinge en onderhou My verordeninge en doen dit. En heilig My Sabbatte; en hulle sal ‘n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is heilig.” (Eseg 20:12,16,19,20) DVvPEk 136.2
Toe die HERE aan Juda hul sondes, wat tot die Babiloniese Gevangenskap gelei het, uitgewys het, het Hy verklaar: “My heilige dinge het jy geminag en My Sabbatte ontheilig.” “Daarom het Ek my toorn oor hulle uitgegiet; deur die vuur van My grimmigheid het Ek hulle verteer; hulle wandel het Ek op hulle hoof laat neerkom.” (Eseg 22:8,31) DVvPEk 136.3
Tydens die herbouing van Jerusalem, in die dae van Nehemia, is Sabbatskending sterk aangespreek: “Het julle vaders nie so gehandel, sodat onse God oor ons en oor hierdie stad al hierdie onheil gebring het nie? Ja, julle vermeerder die toorngloed oor Israel deur die Sabbat te ontheilig!” (Neh 13:18) DVvPEk 136.4
Christus het, gedurende Sy aardse bediening, klem gelê op die bindende eise van die Sabbat en het in al Sy leringe eerbied getoon vir die instelling wat Hy self ingestel het. In Sy tyd is die Sabbat so verdraai dat die karakter van selfsugtige en arbitrêre mense, eerder as die karakter van God, in die nakoming daarvan gereflekteer is. Christus het die valse leringe van diegene wat beweer dat hulle God ken, maar ‘n wanvoorstelling van Hom verkondig het, ter syde gestel. Alhoewel Hy met genadelose vyandigheid deur die rabbi’s agtervolg is, het Hy nie in die minste voorgegee om aan hulle vereistes te voldoen nie, maar het voortgegaan en die Sabbat volgens God se wet onderhou. DVvPEk 137.1
In ondubbelsinnige taal het Hy getuig van Sy eerbied vir Jehova se wet. “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Matt 5:17-19) DVvPEk 137.2
Gedurende die Christelike bedeling het die groot vyand van die mens se geluk, die Sabbat van die vierde gebod sy spesiale teiken gemaak. Satan sê: “Ek sal teen God werk. Ek sal my volgelinge bemagtig om God se gedenkdag, die Sewendedag- Sabbat ter syde te stel. So sal ek aan die wêreld wys dat die dag wat deur God geseën en geheilig is, verander het. Daardie dag sal nie meer in die gedagtes van die mense bestaan nie. Ek sal die herinnering daaraan verdelg. Ek sal in die plek daarvan, ‘n dag plaas wat nie die geloofsbriewe van God dra nie, ‘n dag wat nie as ‘n teken tussen God en Sy volk kan dien nie. Ek sal diegene wat hierdie dag aanvaar, lei om die heiligheid wat God op die sewende dag geplaas het, daarop te plaas.” DVvPEk 137.3
“Deur my verteenwoordiger, sal ek myself verhef. Die eerste dag sal verheerlik word en die Protestante wêreld sal hierdie valse sabbat as die ware sabbat aanvaar. Deur die nie- onderhouding van die Sabbat wat God ingestel het, sal ek Sy wet veragtelik maak. Die woorde, ‘'...'n Teken tussen My en julle in julle geslagte...” sal ek vir my sabbat aanwend.” DVvPEk 138.1
“Sodoende sal die wêreld myne word. Ek sal heerser van die aarde wees, die prins van die wêreld. Ek sal die verstande wat onder my beheer is sodanig beheer, dat God se Sabbat ‘n spesiale voorwerp van veragting sal wees. ‘n Teken? Ek sal die onderhouding van die sewende dag as teken van dislojaliteit aan die owerhede van die aarde maak. Menslike wette sal so streng toegepas word dat manne en vroue dit nie sal wil waag om die Sewendedag-Sabbat te onderhou nie. Uit vrees vir ‘n tekort aan voedsel en klere, sal hulle by die wêreld aansluit in oortreding van God se wet. Die wêreld sal volkome onder my beheer wees.” DVvPEk 138.2
Deur die daarstelling van ‘n valse sabbat het die vyand gedink om tye en wette te verander. Maar het hy werklik daarin geslaag om God se wet te verander? Die woorde van die een- en-dertigste hoofstuk van Eksodus verskaf die antwoord. Hy wat gister, vandag en vir ewig dieselfde is, het verklaar dat die Sewendedag Sabbat “...'n Teken tussen My en julle in julle geslagte...” is. “Dit is vir ewig ‘n teken.” (Ex 31:13,17) Die padteken wys wel in die verkeerde rigting, maar God het nie verander nie. Hy is steeds die magtige God van Israel. “Kyk, die nasies is soos ‘n druppel aan die emmer en soos ‘n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ‘n stoffie! En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie. Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken.” (Jes 40:15-17) En Hy is steeds net so jaloers op Sy wet as wat Hy in die dae van Agab en Elia was. DVvPEk 138.3
Maar hoe word daardie wet geminag! Aanskou die wêreld in ope rebellie teen God. Hierdie is in der waarheid ‘n “...heeltemal verkeerde geslag...” [Deut 32:20], gevul met ondankbaarheid, vormgodsdiens, onopregtheid, trots en afvalligheid. Die mens verwaarloos die Bybel en haat die waarheid. Jesus sien hoedat Sy wet verwerp, Sy liefde versmaai en Sy ambassadeurs met onverskilligheid behandel word. Hy het deur genade gespreek, maar dit was nie opgemerk nie; Hy het deur Sy waarskuwings gespreek, maar dit was verontagsaam. Die tempelhowe van die menslike siel is verander in plekke van onheilige verkeer. Selfsug, naywer, trots, boosaardigheid — dít alles word gekoester. DVvPEk 139.1
Baie huiwer nie om die woord van God te bespot nie. Diegene wat die woord glo soos dit lees, word belaglik gemaak. Daar is ‘n toenemende minagting vir wet en orde wat direk toegeskryf kan word aan die oortreding van die eenvoudige opdragte van Jehova. Geweld en misdaad is die gevolg van wegdraai van die weg van gehoorsaamheid. Aanskou die ellende en die ongelukkigheid van die menigtes wat by die heiligdom van die afgode aanbid en tevergeefs na geluk en vrede soek. DVvPEk 139.2
Aanskou die byna universele miskenning van die Sabbatsgebod. Aanskou ook die uitdagende oneerbiedigheid van diegene wat, terwyl hulle wette instel om die sogenaamde heiligheid van die eerste dag van die week te verseker, terselfdertyd wette uitvaardig wat die handel van drank wettig.Met wysheid bo dit wat geskryf staan, poog hulle om die gewetes van mense te dwing, terwyl hulle goedkeuring verleen aan ‘n euwel wat die wesens wat na die beeld van God geskape is, afkraak en vernietig. Dit is Satan self wat sulke wetgewing inspireer. Hy is terdeë bewus dat die vloek van God, op diegene wat menslike verordeninge bo die Goddelike verhef, sal rus en hy doen alles in sy mag om mense op die breë weg wat tot vernietiging lei, te mislei. DVvPEk 139.3
Vir so lank word menslike opinies en menslike instellings al aanbid, dat byna die hele wêreld agter afgode aanloop. En hy wat probeer het om die wet van God te verander, gebruik elke misleidende slenter om mans en vrouens te dwing om hulself teen God te stel en teen die teken waardeur die regverdiges geken word. Maar die HERE sal nie vir altyd toelaat dat Sy wet ongestraf verbreek en verag word nie. Daar breek ‘n tyd aan wanneer “Die hoë oë van die mense sal verneder word en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.” (Jes 2:11) Ongelowiges mag oor die eise van God se wet skerts, dit bespot en verloën. Die gees van wêreldgesindheid mag vele besoedel en enkeles beheer; God se saak mag slegs te midde van groot moeite en voortdurende opoffering staande bly, tog sal die waarheid aan die einde glorieryk seëvier. DVvPEk 140.1
In die laaste werke van God op aarde, sal die vaandel van Sy wet weer opgehef word. Valse godsdiens mag seëvier, ongeregtigheid mag in oorvloed heers, die liefde van baie mag afkoel, die kruis van Golgota mag uit die oog verloor word en duisternis soos ‘n doodskleed mag oor die hele wêreld versprei; die ganse mag van gewilde denkwyse mag teen die waarheid draai; sameswering op sameswering mag gevorm word om die volk van God omver te werp; maar in die uur van die grootste gevaar, sal die God van Elia menslike instrumente opwek om ‘n boodskap uit te dra wat nie stilgemaak sal word nie. In die digbevolkte stede van die land en in plekke waar mense tot groot lengtes gegaan het om teen die Allerhoogste te spreek, sal ‘n stem van streng teregwysing gehoor word. Met vrymoedigheid sal manne wat deur God aangestel is, die samesmelting van die kerk met die wêreld veroordeel. Met erns sal hulle ‘n beroep op manne en vroue doen om weg te draai van ‘n mensgemaakte instelling, na die onderhouding van die ware Sabbat. “Vrees God en gee Hom heerlikheid... ” sal aan elke nasie verkondig word, “...want die uur van Sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het ... As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van Sy toorn.” (Op 14:7-10) DVvPEk 140.2
God sal nie sy verbond verbreek nie en ook nie enigiets wat oor Sy lippe gekom het verander nie. Sy woord sal vir ewig vasstaan, so onveranderlik soos Sy troon. Met die oordeel sal hierdie verbond, wat duidelik met die vinger van God geskryf is, uitgelig word en die wêreld sal voor die regbank van Oneindige Geregtigheid staan om hul vonnis aan te hoor. DVvPEk 141.1
Vandag, soos in die tyd van Elia, is die lyn van afbakening tussen God se wetsgehoorsame volk en die aanbidders van valse gode duidelik getrek. “Hoe lank hink julle op twee gedagtes?” het Elia uitgeroep. “As die HERE God is, volg Hom na; en as Baal dit is, volg hom na!” (1 Kon 18:21) Die boodskap vir vandag is soos volg: “Geval, geval het die groot Babilon... Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel en God het haar ongeregtighede onthou.” (Op 18:2,4,5) DVvPEk 141.2
Die tyd is nie meer lank wanneer elke siel getoets gaan word nie. Die onderhouding van die valse sabbat sal op ons afgedwing word. Die stryd sal tussen die wette van God en die wette van die mens wees. Diegene wat stap vir stap aan wêreldse eise toegegee het en voldoen het aan wêreldse gebruike, sal hulle aan die heersende magte oorgee, eerder as om hulself aan bespotting, belediging, bedreigde gevangenisstraf en die dood te onderwerp. Op daardie stadium sal die goud van onsuiwerheid geskei word. Ware godsaligheid sal duidelik onderskei word van die voorkoms en klatergoud daarvan. Menige sterre wat ons vir hul glans bewonder het sal uitgedoof word. Diegene wat die versierings van die heiligdom aangeneem het, maar nie met die geregtigheid van Christus geklee is nie, sal dan in die skande van hul eie naaktheid verskyn. DVvPEk 141.3
Onder die bewoners van die aarde, in elke land versprei, is daar diegene wat nie die knie voor Baal gebuig het nie. Soos die sterre van die hemel, wat net in die nag sigbaar is, sal hierdie getroues skyn wanneer duisternis die aarde en digte donkerheid die volke oordek. In heidense Afrika, in die Katolieke lande van Europa en Suid-Amerika, in Sjina, in Indië, op die eilande van die see en in elke donker uithoek van die aarde, het God ‘n uitspansel van uitverkorenes wat te midde van die duisternis sal skyn en wat die transformerende krag van gehoorsaamheid aan Sy wet duidelik aan ‘n afvallige wêreld sal openbaar. Selfs tans kom hulle in elke land, elke taal en volk voor; en in die uur van diepste afvalligheid, wanneer Satan se uiterste poging aangewend word om te veroorsaak dat “..almal, klein en groot en die rykes en die armes en die vry mense en die slawe...” onder die dreigement van die dood gedwing word om die teken van getrouheid aan die valse rusdag te aanvaar, sal hulle wat “...onberispelik en opreg [is] ... kinders van God sonder gebrek ... skyn soos ligte in die wêreld.” (Op 13:16; Fil 2:5) Hoe donkerder die nag, hoe helderder sal hulle skyn. DVvPEk 142.1
Watter vreemde werk sou Elia verrig het as hy Israel in die tyd toe God se oordele op die afvallige mense geval het, getel het! Hy sou net een aan die HERE se kant tel. Maar toe hy sê: “Ek alleen [het] oorgebly; en hulle soek my lewe om dit weg te neem...” het die HERE hom verras met, “...maar Ek sal [het] sewe duisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baal gekniel...” het nie. (1 Kon 19:14,19) DVvPEk 142.2
Laat niemand dus vandag ‘n poging aanwend om Israel te tel nie, maar laat elkeen ‘n hart van vlees hê, ‘n hart vol tere meegevoel, ‘n hart soos die hart van Christus, wat na die verlossing van ‘n verloregaande wêreld uitreik. DVvPEk 142.3